Hoe om te oorleef as jy vir Jesus mis

i-miss-you

Ek het al meer as eenkeer met Christene gepraat wat sê dat dit vir hulle voel of die Here hulle verlaat dit. Selfs wanneer hulle bid voel dit nie of Hy daar is nie.  Wat moet ‘n mens in sulke tye doen?  Jh.13:31-14:14 is in die Bybel opgeteken om ons hiermee te help.

 

Wees lief vir mekaar (13:31-35)

Thys se ma is onlangs oorlede. Hy sukkel om dit te verwerk.  Ten minste is sy vrou, kinders en familie daar om hom te ondersteun.  Hulle liefde maak dat dit vir hom draaglik is.

 

Net so was dit ook toe Jesus die dissipels verlaat het. Hulle was baie hartseer.  Maar as hulle mekaar met sy liefde liefgehad het, kon hulle die hartseer verdra het.  Dit is die sentrale boodskap van 13:31-35.

 

Judas het die vertrek verlaat om die polisie te gaan haal (13:30). Jesus se kruisdood was op hande.  Hierin sou Hy as die Verlosser van die wêreld verheerlik word (13:31).  Die Vader sou Homself ook in Jesus se kruisdood, opstanding en hemelvaart verheerlik het (13:31-32, 17:5).

 

Jesus het geweet dat die dissipels hartseer sou wees, en daarom het Hy hulle vir sy kruisdood en hemelvaart voorberei. Met vertroosting in sy stem het Hy hulle sy kinders genoem (13:33).  Hy sou nog net ‘n klein rukkie by hulle gewees het (13:33).  Hy het dit reeds in 7:34, 8:21 vir die Jode gesê, en het dit nou in sy dissipels se ore herhaal (13:33).  Omdat die Jode Hom verwerp het, kon hulle Hom nie na die hemel toe gevolg het nie (14:6).  En die dissipels het nog werk op die aarde gehad voordat húlle hemel toe kon gaan (13:33).

 

Terwyl hulle nog op die aarde was, moes hulle mekaar liefgehad het (13:34). Dit was Jesus se nuwe gebod aan hulle.  Maar hoe was die gebod nuut as Hy dit reeds in die Ou Testament gegee het (Lv.19:18)?  Dit was nuut omdat hulle dit ná Jesus se kruisdood op ‘n nuwe manier verstaan het.  Hulle moes mekaar dan liefgehad het soos wat Jesus hulle liefgehad het (13:34, 1 Jh.4:10-11).

 

Die wêreld sou die Christene se opofferende liefde gesien het en geweet het hulle is Jesus se dissipels (13:35). Tertullianus het een eeu na Johannes geskryf.  Die heidene van sy tyd was verbaas oor die Christene se onderlinge liefde – veral in tye van vervolging.  ‘Kyk hoe hulle mekaar liefhet!… hoe hulle selfs bereid is om vir mekaar te sterf!’[1]

 

Wanneer dit by onderlinge liefde kom, moet dit nie net in woorde bestaan nie, maar in dade (1 Jh.3:17-18). Christelike liefde is nie maar net ‘n gevoel nie, maar is prakties.  Christelike liefde weet wat dit beteken om geld en besittings met ‘n arm gelowige te deel.  Dit weet hoe om by iemand te sit wat moedeloos of eensaam is.  Dit weet hoe om vir ander te bid en hulle op te volg.  Dit is soos Jesus wat sal opoffer om ander te bevoordeel (1 Jh.3:16).

 

Moenie selfversekerd wees nie (13:36-38)

Ashwell is deel van ‘n bende in die Kaap. Voor sy vriende is hy grootbek en bang vir niemand nie.  Maar as sy vyande hom alleen in die winkel kry, is hy soos ‘n bang hondjie.  Die meeste van ons het so ‘n streek in ons.  As Jesus by ons is, is ons baie dapper.  Maar as ons nie meer sy teenwoordigheid by ons kan voel nie, dan vou ons.  Juis daarom moet ons nie te vol wees van onsself nie, maar eerder by Jesus skuil.  Dit is wat ons Johannes in 13:36-38 vir ons wil leer.

 

Petrus het nie die les oor liefde ter harte geneem nie, maar het gewonder waarheen Jesus oppad was (13:36). Jesus het vir Petrus gesê dat hy nie nou kon saamgaan nie (13:36).  Hy kon nie soos Jesus vir ander gesterf het of vereer word nie.  Hy sou egter later vir die evangelie gesterf het (13:36, 21:18-19, 2 Pt.1:14).

 

‘Hoekom kan ek nie nou volg nie – ek is bereid om my lewe vir U te gee,’ het Petrus gesê (13:37).  Petrus was lojaal, maar hy was ook selfversekerd.  ‘Is jy regtig bereid om jou lewe vir my te gee, Petrus?’ het Jesus gevra.  ‘Die waarheid is dat jy My drie keer sal verloën nog voordat die haan kraai.’ (13:38, 18:27).

 

Sonder Jesus kan ons niks doen nie (15:5). Ons moet dan nie luister wanneer die wêreld vir ons sê ons moet selfversekerd wees nie.  Druk jou ore toe as hulle vir jou sê jy moet in jouself glo en ‘n hoë opinie van jouself hê.  As jy op jouself staatmaak, sal jy vou soos Petrus.  Moet dan nie parmantig raak en dink jy is die kat se snor nie.  Vergeet eerder van jouself en vertrou op Jesus, sodat jy ‘n sterk sekerheid kan hê:  “In die vrees van die Here lê ‘n sterk sekerheid” (Sp.14:26).

 

Dink aan die toekoms (14:1-3)

Danie en sy vrou immigreer Australië toe. Hy begin volgende maand werk, en sy moet vir ses maande agterbly om die huis te verkoop en ‘n ander sake af te handel.  Dit is vir haar erg om van hom af weg te wees, maar wanneer sy daaraan dink dat sy hom binne ‘n paar maande weer gaan sien, dan help dit haar om vas te byt.  En so is dit ook met ons en Jesus:  dit is erg dat ons nie by hom kan wees nie, maar die wete dat Hy ons weer gaan kom haal help ons om te volhard.  Dit is waaroor 14:1-3 gaan.

 

Jesus het geweet dat die dissipels ontsteld was oor sy aankondiging van Judas se verraad en Petrus se verloëning (13:21, 38). Hulle was ook onseker en bang omdat Jesus sou weggaan.  Hy het vir hulle gesê om nie bang en onsteld te wees nie (14:1).  Hulle moes eerder op Hom en sy Vader vertrou het (14:1, 12:44).

 

Jesus het vir hulle vertel dat Hy oppad was na die Vader se huis toe om deur sy kruisdood vir elkeen van hulle ‘n kamer gereed te kry (14:2). Daar was meer as genoeg plek vir hulle almal (14:2).  Hy sou mos nie vir hulle gejok het nie (14:2, 1 Pt.2:22).  Omdat die Vader sy huis in hulle harte gemaak het (14:23), kon hulle ook nou in sy hemelse huis gebly het (14:2).

 

As Jesus klaar die plek voorberei het, sou Hy weer teruggekom het om die dissipels na Hom toe te vat, sodat hulle by Hom kon wees (14:3, 12:26). Wanneer sou dít gewees het?  Ek is nie so seker dat Johannes hier van Jesus se wederkoms praat nie.  Wanneer die Here weer kom gaan ons saam met Hom op die nuwe aarde bly, en nie in die hemel nie (Op.21).  Jesus verwys dan heel moontlik hier na die dag van ‘n gelowige se dood, wanneer hy of sy hemel toe gaan.

 

Hierdie vooruitsig help ons om nie in vrees te lewe vir die dood nie. Dit help ons ook om te volhard wanneer ons bekommerd en bang is (v.1).  Dit gee vir ons ‘n ongekende vrede.  Natuurlik sal jy dit nie hê as jy ‘n verkeerde idee van die hemel het nie.

 

Die hemel is nie ‘n abstrakte of ‘n wasige beeld in Christene se koppe nie. Die hemel is ‘n plek (14:2).  Dit is ‘n stad waarvan God self die argitek en bouer is (Heb.11:10).  Dit is ‘n groot paleis wat baie kamers het.  Dit het nie maar net ‘n duisend kamers soos ‘n vorige president van Romenië se paleis nie.  Daar is genoeg kamers om die ontelbare skare van verlostes te huisves (14:2, Op.7:9).  As dit nié so was nie, sou Jesus dit nie vir ons gesê het nie (14:2).

 

En tog gaan die hemel nie hoofsaaklik oor die pragtige paleis met sy kamers nie. Dit gaan oor Jesus.  Hy kom om ons na Homself toe te neem, en nie primêr na die paleis toe nie (14:3).  Hy wil vir ewig in ‘n verhouding en vrienskap met ons lewe.  Hy wil al die stoorkamers van sy groot genade en liefde vir ons oopsluit (Ef.2:7).  As Jesus nie in die hemel was nie, dan sou dit nie die moeite werd gewees het om soontoe te gaan nie.  Laat die verlange na Hom jou bemoedig.

 

Ken vir Jesus (14:4-11)

Sunel is ‘n Christen. Sy is egter ‘n bietjie lui wanneer dit by persoonlike Bybelstudie en gebed kom.  Sy onderwerp haar nie op ‘n gereelde basis aan die lering en verkondiging van God se Woord nie.  Toe sy deur ‘n moeilike tyd gegaan het, het sy nie geweet watter kant toe nie.  Sy was bang, angstig en kwaad.  Haar flou kennis van die Here het gemaak dat sy Hom nie vertrou het nie, maar probeer het om haarself uit te help.  Jesus wou die dissipels in hulle tyd van moeilikheid gehelp het, en daarom het hulle ‘n groter kennis van Hom nodig gehad.

 

‘Julle ken die pad na die hemel toe,’ het Hy vir sy dissipels gesê (14:4). Pessimistiese Tomas het nie verstaan nie.  ‘Eintlik weet ons nie dan nie eers waarheen U oppad is nie; hoe kan ons die pad ken?’ het hy gevra (14:5).  ‘Moet jou nie kwel nie Tomas: EK IS die ware weg wat na die lewe toe lei,’ is basies wat Jesus in 14:6 vir hom gesê het.  Jesus het nie maar net vooruit geloop en gesê:  ‘Volg die weg wat Ek volg, en julle sal in die hemel uitkom’ nie.  Nee, Hy is die weg.  En omdat Hy die waarheid en die lewe is, was Hy nie ‘n vals weg wat die dissipels sou mislei en na die ewige dood toe lei nie.  As die enigste weg na die hemel toe, kon die dissipels op Hom staatgemaak het (14:6, Hd.4:12).

 

Omdat Jesus dan die enigste weg na die Vader toe was, sou die dissipels die Vader geken het as hulle vir Jesus geken het (14:7). Jesus was die enigste een wat die Vader gesien het (6:46), maar deur Jesus kon húlle nou die Vader geken en gesien het (14:7).  Filippus het nie verstaan nie.  “Wys ons die Vader en dit sal vir ons genoeg wees,’ het hy gesê (14:8).  Vir hom was daar niks groter en beter gewees as om die Vader te sien nie.  Dit sou sommer dadelik sy vrese opgeklaar het.

 

Maar het Filippus na sy drie jaar saam met Jesus nogsteeds nie geweet wie Hy is nie? Het hy nie besef dat Jesus ‘n presiese afskrif van die Vader is nie (14:9, 1:18, 12:45, Kol.1:15, 19, 2:9, Heb.1:3)?  Hoe kon hy dan vir Jesus gevra het om vir hom die Vader te wys?  Het hy dan nie geglo dat Jesus in die Vader is en die Vader in Hom nie; dat Hy en die Vader een is nie (14:10, 10:30)?  Jesus se kragtige woorde en wonderwerke het dit dan bewys (14:10).  Filippus en die res moes die belydenis van Jesus se Godheid geglo het, of ten minste in sy wonderwerke gesien het dat Hy die Seun van God is (14:11, 20:30-31).

 

Hierdie kennis sou hulle in ‘n tyd van hartseer en angs gehelp het. En as ons die Here beter ken sal dit ons ook help.  Wil jy weet hoe om in die hemel te kom?  Jesus is die Weg:  vertrou op Hom, glo in Hom, volg Hom (14:6).  Wil jy weet of Christenskap die ware godsdiens is, en wonder jy miskien hoekom die ander godsdienste nie ook reg kan wees nie?  Jesus is die Waarheid en die enigste Weg na die Vader toe (14:6, Hd.4:12).  Wil jy weet hoe jy seker kan wees dat jy die ewige lewe het?  Jesus is die Lewe en kan daarom die ewige lewe gee aan dié wat in Hom glo (14:6, 1 Jh.5:20).

 

Wonder jy of jy eendag in die hemel die Vader gaan sien, en of jy net vir Jesus gaan sien? Dit is ‘n dom vraag, want wie vir Jesus gesien het, het die Vader gesien (14:9).  As jy die Vader wil ken, moet jy vir Jesus ken (14:9).  Kom ek gee vir jou ‘n paar voorbeelde:

 

  • Soos Jesus, wil die Vader ook hê dat sondaars tot bekering moet kom, en is Hy bedroef as hulle nie na Hom toe wil kom nie (Lk.13:24, 15:10, 19:41).
  • Soos Jesus is die Vader lief vir die grootste sondaars en geniet Hy dit om hulle te red (Mt.9:9-13).
  • Soos Jesus is die Vader lief vir kinders en wil Hy hê dat hulle in sy Seun moet glo (Mk.10:13-16).
  • Soos Jesus voel die Vader jammer vir mense wat swaarkry (Mt.15:32, Lk.7:13).

 

Ek hoop dit help jou.

 

Steun op sy krag (14:12-14)

Jan Pinkster lewe om wonderwerke te sien. Hy is by elke genesingsdiens en tentbyeenkoms.  Toe sy Christen kollega, Konserwatiewe Kobus vir hom gesê het dat die wonderwerke waarin hy glo nie die ware Jakob is nie, het hy Jh.14:12 aangehaal:  “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo – die werke wat Ek doen, sal hy ook doen; en hy sal groter werke doen as dit, omdat Ek na my Vader gaan.”

 

Maar wat beteken hierdie vers? Dit kan tog nie beteken dat Jesus se volgelinge meer wonderwerke as Hy sou doen nie, want “daar is nog baie ander dinge wat Jesus alles gedoen het; maar as hulle een vir een beskrywe moes word, sou die wêreld self, dink ek, die geskrewe boeke nie bevat nie.” (21:25).

 

Dit kan ook nie beteken dat sy volgelinge meer fantasiese wonderwerke as Hy sou doen nie. Ken jy iemand wat op water kan loop of die wind en die see kan stilmaak?  Het jy al iemand ontmoet wat ‘n graf kan oopgrawe en die dooie persoon daarin kan opwek?

 

Wat beteken die groter werke dan? Die teks sê dat Jesus se volgelinge groter werke as Hy sou doen, omdat Hy oppad was na die Vader toe (14:12).  As Jesus by die Vader was, sou Hy die Gees uitgestort het.  Hy het ook ná sy kruisdood en opstanding eers na die Vader toe gegaan.  Sy volgelinge sou dan die Goeie Nuus van Jesus se kruisdood en opstanding (die boodskap van bekering) met groter effek verkondig het as wat Hy dit gedoen het.  Dit klink of ek besig is om te laster, maar dis waar.

 

Hoeveel volgelinge het Jesus gehad toe Hy op die aarde was? ‘n Paar.  Hoeveel mense het tot bekering gekom toe Petrus in die Gees se krag die evangelie van Jesus se kruisdood en opstanding verkondig het?  Drieduisend… op een dag.  Bekering is ‘n baie kragtige wonderwerk.  Volgens Ef.1:19-20, 2:4-5 het God dieselfde krag gebruik om ons uit die graf van ons sonde uit op te wek, as wat Hy gebruik het om vir Jesus uit die dood uit op te wek.

 

Waar kon Jesus se volgelinge die krag gekry het om hierdie groter werke te doen?  In gebed (14:13-14, Mt.17:20, 21:21-22).  Hoe moet ons bid?  In Jesus se Naam.  As ons so bid, sal Hy enigiets doen wat ons van Hom vra (14:13-14).  Om in sy Naam te bid beteken nie dat jy dit as ‘n towerformule aan die einde van jou gebed moet sê nie.

 

Om in sy Naam te bid beteken eerder dat jy op grond van Jesus se Persoon en verlossingswerk aanvaarbaar is voor God. Jy kom deur Jesus na die Vader toe (14:6).  Die Vader antwoord ons gebede omdat Hy tevrede is met Jesus, en nie omdat ons opreg is of goed genoeg gebid het nie.

 

Om in sy Naam te bid beteken ook dat jy volgens die Woord bid. Dit is asof jy sê:  ‘Vader, Jesus het gesê ek moet vra vir…’ en dan die Bybel aanhaal.  Jy moet God dus aan sy Woord en beloftes herinner (Jes.62:6-7).  Prakties beteken dit dat jy nie kan bid vir ‘n Rolls Royce in Jesus se Naam nie.  God se heerlikheid en nie ons selfsugtige begeertes nie, moet die fokus van ons gebede wees (14:13).

 

Dit behoort ons ook te bemoedig dat Jesus enigiets kan doen (13:14).  Die enigste beperking in gebed is Jesus se almag, en daarom is daar geen beperking nie.  Die ding wat ons die meeste beperk is ons eie ongeloof en biddeloosheid (Jk.4:2).

 

In Walt Disney se Lion King sê die klein leeutjie se pa vir hom dat hy altyd by hom sal wees.  Hy was dood toe hy dit gesê het.  Hoe kan ‘n dooie leeu by sy welpie wees om hom op te pas?  Met Jesus is dit anders, omdat Hy nie dood is nie maar lewe.  Deur sy Gees is Hy regtig altyd by ons om ons te versterk en op te pas (14:16-18).  En dit is waar ons volgende keer gaan stilstaan.

 

[1] Aangehaal in D.A. Carson, The Gospel According to John, p.485 n.1

Die moeilikste hoofstuk in Openbaring

witnesses-of-revelation-2

Ek het eenkeer vir iemand gevra of hy koffie, tee, koeldrank of water wil hê. ‘Net wat jy wil,’ het hy gesê.  Ek het vir hom koffie gemaak.  ‘Hoe drink jy jou koffie – sterk, medium of flou?’ het ek gevra.  ‘Net hoe jy dit wil maak is reg,’ het hy geantwoord.  ‘Drink jy suiker en melk?’ het ek gevra.  ‘Watookal jy wil,’ het hy weer geantwoord.

 

As jy jou koffie so wil drink is dit jou keuse. Maar om die Bybel so te benader is verkeerd en gevaarlik.  Ons kan nie maak asof enigiets aanvaarbaar is nie.  En tog moet ons vredeliewend genoeg wees om ander mense se sienings oor die eindtyd te respekteer, veral as ons te doen kry met moeilike tekste soos Op.11:1-14.

 

Die tempel (v.1-2)

Elke dekade of so hoor ‘n mens dat die Jode besig is om materiaal bymekaar te maak om die tempel te herbou. ‘n Mens sien egter nooit die herboude tempel nie.  Die lering oor die nuwe tempel word o.a. gebasseer op Op.11.  Maar is dit regtig wat Op.11 sê?

 

In Esg.40-43 het die profeet gesien hoe ‘n man met ‘n koper skynsel die tempel afmeet. Net so het Johannes in Op.11 ‘n meetstok soos ‘n staf ontvang om die tempel mee af te meet (v.1).  Esegiël het sy visioen na die verwoesting van die tempel in 586 v.C. gesien (Esg.40:1), terwyl Johannes sý visioen voor die verwoesting van die tempel in 70 n.C. gesien het (v.1).

 

Johannes moes die tempel, die altaar en die aanbidders afgemeet het (v.1). Die Griekse woord vir tempel [Gk. naos] praat nie van die hele tempel terrein nie, maar net van die gebou self – die Heilige en die Allerheiligste.  Die altaar verwys dan nie na die brandoffer altaar wat buite die tempel was nie, maar na die goue wierook altaar binne die gebou.  Die aanbidders is die priesters, omdat net húlle binne-in die tempel toegelaat is.

 

Johannes is aangesê om nie die voorhof van die tempel te meet nie (v.2). Soos die Nuwe Jerusalem in 21:15, het Johannes die tempel afgemeet om te wys dat dit onder God se beskerming is (vgl. Sg.2:1-5).  Die voorhof was egter nie onder sy beskerming nie:  Jerusalem sou vir 42 maande, 1260 dae of 3½ jaar lank deur die heidene vertrap word (v.2).

 

Wat beteken hierdie dinge? Die tempelgebou met die goue wierook altaar en aanbidders is simbolies van die gelowiges, van wie elkeen ‘n priester is (v.1, 1:6, 1 Kor.3:16, 1 Pt.2:9).  Tussen die sesde en sewende seël het God hulle as sy eiendom verseël, sodat hulle nie geoordeel sou word nie (7:1-8).  Tussen die sesde en sewende trompet het Hy hulle as sy eiendom afgemeet, sodat hulle nie onder die oordele van v.5-6 sou val nie.

 

Die ongelowige Jode het egter soos heidene geword, omdat hulle die tempel se voorhof met die moddervoete van hulle sonde vertrap het (Jes.1:12, Mt.21:13).  Gevolglik sou die heidene hulle stad vir 42 maande lank vertrap het (v.2).  Dit het gebeur toe die Romeine Jerusalem van 67-70 n.C. vir 42 maande lank beleër het (Lk.21:24).[1]

 

Johannes moes die ware tempel van gelowiges vir God se beskerming afgemeet het, maar die voorhof van ongehoorsame Jode uitgelos het. Die woord vir uitlos [ekballō] word gebruik van Jesus wat die Jode met ‘n sweep uit die tempel uitgedryf het (Mt.21:12, Jh.2:15), asook van die Jode wat uit die koninkryk uitgesluit is, terwyl die heidene dit in besit geneem het (Mt.8:11-12).  Die Jode was godsdienstig (in die tempel se voorhof), maar het nie die Here geken nie (binne die tempel).  Hulle was van die Here se beskerming en guns afgesny [ekballō].

 

Die twee getuies (v.3-14)

Wie is die twee getuies? Ek het een kommentaar gelees wat 13 opsies gee van wie dit moontlik kan wees.[2]  In ‘n preek wat ek oor die hoofstuk gelees het, het die prediker van twee broers in Amerika vertel.  Kort na hulle tot bekering gekom het, het hulle geglo dat húlle die twee getuies is.  Ek verstaan nie alles omtrent Op.11 nie, maar ek is seker dat die twee getuies in hierdie hoofstuk nie die Amerikaanse broers is nie.

 

Wie is die getuies dan? Volgens sommige is Op.11 die moeilikste hoofstuk in die hele boek (sien egter 20:1-6!), en daarom gaan ek nie dogmaties wees en sê dat so-en-so ‘n ketter is, omdat hy nie my siening handhaaf nie.

 

God het vir die twee getuies (Dt.19:15, Mt.18:16) gesag gegee om te profeteer (v.3). Gedurende die 1260 dae of 42 maande wat Jerusalem vertrap is, het hulle geprofeteer (v.2-3).  Hulle klere van sak het gewys dat hulle bedroef was oor die volk se sonde (vgl. Klg.2:10, Jon.3:5).

 

Johannes beskryf hulle as die twee olyfbome en kandelare wat voor die God van die aarde staan (v.4). Ons lees vir die eerste keer in Sg.4 van hulle.  Die Jode was besig om die tempel te herbou.  Serubbabel was hulle leier en Josua was die hoëpriester.  Hulle vyande het probeer om die werk stop te sit (Esr.4:1-6).  God se Gees sou egter die hindernisse verwyder het en hulle met krag gesalf het om die werk te doen en die lig van sy getuienis te skyn (Sg.4:6-7).  Dit was dan in hierdie opsig wat hulle soos olyfbome se salfolie en die kandelare se lig was (Sg.4:11-14).  Net so het God die getuies in Op.11:4 met die olie van sy Gees gesalf om die nuwe tempel te bou en die lig van sy getuienis te skyn (vgl. 1:20, 3:12, Mt.5:16, Ef.2:19-22).

 

Uit Johannes se beskrywing lyk dit of hy van Moses en Elia praat. God se boodskap van oordeel teen die Jode het soos ‘n vuur uit hulle monde uitgekom (v.5, Jer.5:14, 23:29, Nm.16:29, 35, 2 Kon.1).  Soos Elia het hulle vir 1260 dae of 3½ jaar gekeer dat dit reën (v.6, 3, 1 Kon.17:1, Jk.5:17), en soos Moses het hulle die water in bloed verander en ander plae oor die land gebring (v.6, Eks.7-10).

 

Moses en Elia stel die wet en die profete voor (Mt.17:3), en is dus verteenwoordigend van die hele Ou Testament (Mt.5:17, 22:40). Alhoewel Johannes die Doper se bediening in die Nuwe Testament opgeteken is, is hy eintlik die laaste en die grootste van die Ou Testament profete (Mt.11:11, 13).  Volgens Jesus in Mt.11:14 is hy die Elia wat sou kom (Mal.4:5).  En Jesus is die Profeet soos Moses (Dt.18:15-18, Hd.3:22-23).

 

Die twee getuies is dan eintlik simbolies van die Ou Testamentiese profete tot by Johannes die Doper en Jesus. Op.11 wys vir ons hoe die Jode (soms in samewerking met heidene soos Isebel, Herodes en Pilatus) die profete vervolg het (v.7-10, Lk.11:47-51, Hd.7:51-52, 1 Ts.2:14-15).  Volgens v.7 het die dier hulle doodgemaak.  Hierdie dier kom nie uit die see of die aarde nie (13:1, 11), maar uit die bodemlose afgrond (v.7).  Dit is dus die duiwel self (9:1, 11).  Dit is hý wat die Jode, die heidene en hulle konings aangehits het om die profete en die Messias dood te maak (v.7-9, 12:9, 13:2, 11, Dn.7:17, Jh.13:2, Hd.4:27).

 

Al hierdie moorde het in Jerusalem plaasgevind (v.8, Lk.13:33), wat weereens vir ons wys dat die Jode hoofsaaklik hiervoor verantwoordelik was.  Soos wat die heidene met húlle gemaak het, het hulle nou met die profete gemaak en hulle lyke in die straat laat lê (v.9, Ps.79:1-3, vgl. 1 Kon.14:11, 13).  Jerusalem het so goddeloos geword soos Sodom, en so heidens soos Egipte (v.8, 9:20-21, Jes.1:8-10, 3:8-9, Esg.23:3, 8, 19, 21, 27).  Daarom het die Here haar met Sodom se vuur en Egipte se plae getref (v.5-6, Amos 4:10-11).

 

Die Jode en heidene was bly dat God se profete dood was. Toe hulle vir Jesus en Johannes die Doper doodgemaak het (die Messias en die laaste Ou Testament profeet), het dit vir ‘n kort tydjie gelyk of die profete se godsdiens op ‘n einde was.  Hulle was so bly dat hulle fees gevier het en geskenke uitgeruil het (v.10).

 

En tog was dit nie lank voordat hulle met ‘n skok besef het hulle is verkeerd nie. Die profete het opgestaan en na die hemel toe opgevaar (v.11-12, 12:5, Hd.1:9, 2:24, Ef.2:5-6).  Dit was nie die einde soos wat hulle vyande gehoop het nie, maar die begin van ‘n onstuitbare weermag en haar boodskap wat uiteindelik die wêreld sou oorneem.  Die Heilige Gees het die profete en hulle prediking laat herleef (v.11).  Die vyand het rede genoeg gehad om bang te wees (v.11).

 

Ná die profete se opstanding en hemelvaart was daar was ‘n groot aardbewing waarin 7000 mense of ‘n tiende van Jerusalem se inwoners gesterf het (v.13). Dit het daartoe gelei dat die res van die bevolking die Here gevrees het en Hom deur hulle bekering verheerlik het (v.13, kontr. 16:9).

 

Wat beteken dit? David Chilton sê:  ‘In the Old Testament, only “7000” faithful existed [vgl. 1 Kon.19:18, Rm.11:4-5]; in the New Testament, only “7000” are wicked… the overwhelming majority…are converted and saved’.[3]  Die gebeure van Op.11 was die tweede wee (v.14, 8:13, 9:12).  Daar was nog een oppad.

 

Dit is dan hoe ek Op.11 verstaan. Ek verwag nie dat daar in die toekoms ‘n herboude tempel in Jerusalem gaan wees nie, aangesien die tempel met al sy rituele en offers in Christus vervul is (sien Hebreërs).  Ek kan my nie indink dat die geskeurde voorhangsel weer toegewerk gaan word nie; dat die weg wat vir sondaars oopgegaan het weer toe sal wees nie.  Die herboude tempel is in Jesus en die kerk vervul (Jh.2:18-22, 1 Kor.3:16).

 

Ek glo dan nie dat Op.11 vir die verre toekoms bedoel is nie, maar dat dit in Johannes se tyd vervul is. Hy self het tog so gesê (1:1, 3, 22:10).  Dalk dink jy dat ek radikaal verkeerd is, en dat Op.11 nog in die toekoms móét gebeur.  Ek gaan nie met jou stry nie.  ‘We can agree to disagree.’  Ek wil egter vir jou sê om nie in vrees te lewe nie – jy hoef nie bang te wees vir die dinge wat hier beskryf word nie.  As jy binne die tempel van Jesus is, is jy veilig en onder sy beskerming (v.1).  Die oordele en plae van v.5-6 kan jou nie seermaak nie.

 

Daarmee probeer ek nie sê dat dinge soos siekte, droogte of ander rampe en verliese nie oor jou pad sal kom nie. Dit sal.  Maar wanneer dit kom kan jy met ‘n geruste hart weet dat dit nie die Here se oordele oor jou is nie.  “Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie” (Rm.8:1).  As dinge dan vir jou verkeerd loop, hoef jy nie agterdog te raak en te dink die Here is teen jou nie.  God is vir jou – ook as die duiwel jou aanval (Rm.8:31).

 

In die Ou Testament het Satan die Israeliete en hulle konings aangehits om die profete dood te maak (v.7-10). Hy het vir Judas en Kajafas, Herodes en Pilatus, die Jode en die Romeine aangehits om vir Jesus dood te maak.  In die geskiedenis het hy die Romeinse keisers en die Katolieke leiers aangehits om die Christene te vermoor.  En in ons dag hits hy die Moslems en Kommuniste aan om Christene te martel en dood te maak.

 

Maar alhoewel hy die Here se boodskappers kan stilmaak, kan hy nie hulle redding wegvat, hulle siele doodmaak, hulle van die Here se liefde skei of keer dat die evangelie versprei nie (v.11-12, Mt.10:28, 16:18, Jh.10:28-29, Rm.8:38-39, 2 Tm.2:9). Inteendeel, hoe meer hy aan hierdie plant se takke sny, hoe meer groei dit.  Die kerk en haar boodskap kan nie uitgeroei word nie (v.11-12).

 

Toe Jesus en Johannes die Doper op die aarde was het dit vir ‘n klein rukkie gelyk of Satan die vuur van die evangelie onder sy sonde-besmette hoewe vertrap het (v.7-10). Maar onder die as het daar ‘n kooltjie gebrand, en met Jesus se opstanding het daar ‘n onblusbare vuur uitgebreek wat die wêreld aan die brand gesteek het.  Die profete en hulle boodskap het herleef (v.11-12).

 

Ja, daar was kere in die geskiedenis toe dit vir die wêreld gelyk het of die kerk en haar boodskap op asemhalingsmasjiene was. Maar omdat Jesus die Hoof van die liggaam is, kan die kerk nie doodgaan nie (al verloor sy ook ‘n arm en ‘n been).

 

Vyande soos Richard Dawkins en die New Atheists beweging glo dat die evangelie kinders negatief beïnvloed.  Hulle werk hard om die kerk se stem in skole stil te maak, sodat hulle hulle evolusionistiese propoganda kan verspei en hulle agenda kan dryf.  In Engeland het hulle selfs plakkers op Londen se publieke busse laat aanbring:  ‘There’s probably no God.  Now stop worrying and enjoy your life.’

 

Maar soos die res van die kerk se vyande sal ook húlle sien dat die evangelie nie kan uitsterf nie. Die kerk se vyande kom en gaan, maar die profete se boodskap bly vir ewig.  Dié wat soos Dawkins probeer om die kerk uit te roei, sal self uitgeroei word (v.13).  Oor dié wat aan die Here behoort sê die profeet:  “wie julle aanraak, raak sy oogappel aan.” (Sg.2:8).

 

Wanneer die Here egter ‘n aardbewing of ‘n ander ramp stuur om sy vyande se oordeel, sal Hy genadig wees en nie al sy vyande uitroei nie (v.13). In sy toorn sal Hy dink aan ontferming (Hab.3:2).  Dit is asof die hel se vlamme vir ‘n oomblik teen die goddelose uitbreek om hulle te waarsku en tot bekering te lei (v.13, Lk.13:1-5).

 

Indien hulle van hulle sondige gedagtes en leefstyle af wegdraai na die Here Jesus Christus toe, sal Hy hulle vergewe. Al het hulle ook die aakligste dinge denkbaar gedoen (soos om die Seun van God te kruisig en Christene dood te maak), sal Hy hulle vergewe en in sy tempel verwelkom.  Met dieselfde intensiteit waarmee Hy teen hulle geveg het, sal Hy hulle beskerm.

 

Dalk is jy ‘n ongelowige wat jouself nie as ‘n vyand van die kerk en haar boodskap beskou nie. Inteendeel, jy gaan redelik gereeld kerk toe en hou nogal van Christene se geselskap.  Jy wil ook graag hê dat jou kinders met Christene se kinders moet speel, omdat hulle ordentlik is.  Of miskien sien jy jouself glad nie as ongelowige nie, maar jy is ook nie heeltemal toewy aan die Here nie.

 

Hoe dit ookal sy, soos die ‘goeie en morele’ ongelowige, is ook jy ‘n vyand van God, want “Wie dan ‘n vriend van die wêreld wil wees, word ‘n vyand van God.” (Jk.4:4). As jy nie met absolute toewyding vir Jesus volg nie, is jy teen Hom.  Jesus het dit gesê:  “Hy wat nie met My is nie, is teen My” (Mt.12:30).  Jy kan nie met een voet in die Here se nuwe tempel staan, en met een voet buite nie.  Kies aan wie sy kant jy wil wees.

 

Iemand wat nie die detail van sy toegepaste wiskunde handboek verstaan nie, kan nie sy ingeneurskursus slaag nie. Dit is egter nie so met Op.11 nie:  al verstaan jy nie noodwendig die fyn detail van hierdie moeilike hoofstuk nie, kan jy nogsteeds die breë prentjie begryp en dit in jou lewe toepas.  Jy kan nogsteeds sorg dat jy deel van Jesus se tempel is.  Jy kan ook seker maak dat die duiwel jou vyand is en nie die Here nie.

 

[1] Sien ook Flavius Josephus, The Wars of the Jews

[2] Jan du Rand, Die A-Z van Openbaring, pp.381-382

[3] Days of Vengeance, p.121

Die boek wat die wêreld verander het

bible-and-key

Die topverkoper-boeke in die geskiedenis sluit onder meer boeke soos die volgende in: A Tale of Two Cities deur Charles Dickens, J.K. Rowling se Harry Potter reeks en The Hobbit deur J.R.R. Tolkien.  Nie een van hulle kom egter naby die Bybel nie wat meer as 5 biljoen kopieë verkoop het nie.  En dan praat ons nie eers van die sagte kopieë op mense se rekenaars, tablette en selfone nie.  Ons tel ook nie die Bybels wat by die tienduisende in die geskiedenis verbrand is nie.

 

Geen ander boek word so gevrees en gehaat nie. Geen boek is lewend en kragtig om deur die werking van die Heilige Gees mense se harte en lewens te verander nie (Heb.4:12).  Geen boek het al ooit so ‘n groot invloed op die geskiedenis van koninkryke, lande en nasies gehad nie.  En dis presies wat die die Here in Op.10 voorspel het.

 

Die engel (v.1-7)

Jan is ‘n biljoenêr. In sy testament staan daar dat sy vrou Riana die geld moet erf wanneer hy doodgaan.  Ongelukkig het sy egbreuk gepleeg en hom vir iemand anders gelos.  Hy het toe met Karen getrou en ‘n ander testament opgestel om te sê dat sý alles moet erf.  Hy het egter vergeet om in die hersiende testament te sê dat hy die vorige een herroep het.  Ná sy dood was daar groot ‘n verwarring.  Riana en Karen het daarop aanspraak gemaak dat die geld hulle s’n is.  Dit was ‘n gemors.

 

Om só ‘n gemors te vermy het die Here eers sy testament met die Jode tot niet gemaak, sodat die testament wat Hy met die kerk gemaak het vas sou wees (Heb.7:12, 8:13, 10:9, 11-12). Die eerste testament met sy tempel, priesterdom en offersisteem moes vernietig word alvorens die Here die nuwe tempel met sy priesterdom en geestelike offers effektief kon bou (1 Pt.2:5, 9).  Dit is eintlik waaroor Op.10 gaan.

 

In hfst.8-9 was daar ses engele wat elkeen op ‘n trompet geblaas het om God se oordele aan te kondig. Voordat die sewende engel in 11:15 op sý trompet geblaas het, het Johannes nog ‘n magtige engel gesien (v.1).  Uit sy beskrywing lyk dit of hierdie engel Eks.3:2 se Engel van die Here is, wat in die brandende bos aan Moses verskyn het.  Ja, die engel of boodskapper [Gk. aggelos] van Op.10:1 was die Here self.  ‘n Vergelyking met die res van die Bybel wys dit vir ons.

 

Hy het in ‘n wolk uit die hemel uit neergedaal, en bene gehad soos kolomme van vuur (v.1, vgl. 1:15, Eks.13:21-22, Dn.10:6). Daar was ‘n reënboog bo sy kop (v.1, vgl. 4:3, Esg.1:26-28).  Sy gesig het soos die son geskyn (v.1, vgl. 1:16, Mt.17:2, Dn.10:6).  Hy het ‘n boekrol in sy hand gehad (v.2, vgl. 5:7).  Die boekrol was oop (v.2, vgl. 5:3-5).  Sy stem het geklink soos ‘n leeu wat brul (v.3, vgl. 5:5, Am.3:8, Hos.11:10).  Dit was soos sewe donderslae (v.3, vgl. Ps.29, Job 37:1-5).  Hy het ‘n boekrol vir Johannes gegee (v.8-10, vgl. Esg.3:1-3).  Soek maar gerus die verwysings op om te sien dat die Engel in Op.10 die Here self is.

 

Wat beteken al hierdie dinge? Die boekrol in sy hand was klein om te wys dat daar nie baie oor was wat vervul moes word nie; die tyd was naby (v.2, 6).  Die boekrol was oop, omdat Hy die seëls gebreek het, sodat die inhoud daarvan vervul kon word (v.2, 6:1-17, 8:1).  Die boekrol was eintlik ‘n testament wat gesê het dat Jesus die erfgenaam van die Koninkryk was; Hy sou die nasies as sy erfdeel verkry het (11:15, Ps.2:8).  Sy voete op die see en die land bevestig dit (v.2, Mt.28:18, Ef.1:22).  Die land en die see is hier ook simbolies van Israel in die Beloofde Land, en die heidene oorkant die see (17:15, Ps.65:8, Jes.17:12-13).  Jesus besit beide.

 

Die sewe donderslae het die storm van God se oordeel oor sy vyande aangekondig (v.3-4). Die Here het vir Johannes gesê om nie die inhoud daarvan neer te skryf nie, maar om dit te verseël (v.4).  Anders as die res van Openbaring, was hierdie dinge nie vir die nabye toekoms bedoel nie (v.6, 1:1, 3, 22:10), maar vir die verre toekoms (v.4, vgl. Dn.8:26, 12:4, 9).  God het besluit dat dit nie vir die kerk nodig was om hierdie dinge te weet nie (Dt.29:29).

 

Die Engel het sy regterhand na die hemel toe uitgestrek en ‘n eed gesweer by Hom wat ewig lewe en alles gemaak het (v.5-6). ‘Kan hierdie Engel dan regtig die Here wees?’ wonder party mense.  Ja.  In Dt.32:40-41 sê die Here:  “Want Ek sal my hand na die hemel ophef en sê:  So waar as Ek ewig leef – as Ek my glinsterende swaard skerp gemaak het en my hand na die strafgerig gryp, sal Ek wraak oefen op my teëstanders en my haters vergelde.” (sien ook hoe die Here in Heb.6:13-18 by Homself sweer).

 

Wat het die Engel gesweer? God sou nie langer sy oordele oor die kerk se Joodse vervolgers uitgestel het nie (v.6, 6:10-11, Hab.2:3).  Die tyd vir die sewende engel om met trompetgeskal die verwoesting van die tempel aan te kondig was ryp (v.7, 11:1-2, 15, 17-18).  Dis wat die Engel in v.7 met die vervulling van God se geheimenis bedoel het.  Die geheimenis was dat die Here nie meer net die God van die Jode was nie, maar van die Jode en die heidene wat in Jesus glo (v.11, 11:15, Rm.11:25, 16:25-26, Ef.3:3-9, 2:11-22, Kol.1:26-27, Mt.10:5-6, 15:24, 28:19).  Om sy nuwe tempel te bou moes Hy eers die ou een verwoes het.  God het die bou van sy nuwe tempel deur die profete voorspel (v.7, Sg.6:12-13, 15).

 

Die boekrol (v.8-11)

Ek het nog net eenkeer in my lewe ‘n heuningkoek geëet. Ek het nie geweet dat ‘n mens die was moet uitspoeg nie.  Ek het dit ingesluk en ‘n verskriklike maagpyn gekry.  Die heuningkoek was soet in my mond, maar bitter in my maag.

 

En dit is hoe die Woord van God vir Esegiël en Johannes was: soet in die mond, maar bitter in die maag (v.8-10, Esg.3:1-3, 14, Ps.19:11, 119:103).  Wat beteken dit?  Dit was vir hulle ‘n vreugde en ‘n voorreg om die Woord van God te verkondig (Jer.15:16).  Hulle droefheid oor die Jode se sonde was egter soos die bitter pyn op iemand se maag as hy te veel groen perskes geëet het (Jer.15:17).

 

Esegiël het die verwoesting van Jerusalem in 586 v.C. deur die Babiloniërs voorspel, terwyl Johannes die verwoesting van Jerusalem in 70 n.C. deur die Romeine voorspel het. As Esegiël sy boodskap aan die heidene verkondig het, sou hulle geluister het (Esg.3:5-6).  Maar die hardkoppige Jode was nie bereid om na hom te luister nie (Esg.3:7).  So was dit ook in die Nuwe Testament:  die Jode wou nie na God se Woord geluister het nie, en dus het Hy sy boodskappers na die heidene toe gestuur (v.11, 5:9, 7:9, 11:15, Mt.21:43, Hd.13:45-48, 18:5-6, 28:28).

 

Ek het reeds geïmpliseer dat die boek wat Johannes geëet het, die evangelie van die Nuwe Testament was. Dít is die boek wat die wêreld verander het, en nogsteeds besig is om dit te doen.  Soos ek nou-net gewys het, was Israel se ongehoorsaamheid grootliks verantwoordelik hiervoor.  Paulus onderstreep dit:  “Ek vra dan:  Het [Israel] miskien gestruikel om te val?  Nee, stellig nie!  Maar deur hulle val het die saligheid tot die heidene gekom” (Rm.11:12).

 

My en jou bekering is die direkte gevolg van die Jode se ongehoorsaamheid: die evangelie het van hulle af weggedraai na ons toe.  Alhoewel dit nie hulle ongehoorsaamheid verskoon nie, het daar deur hulle verwerping en verharding redding vir die wêreld gekom (Rm.11:12, 15, 25).  Dit is ook die boodskap van Op.10.

 

As die Jode se verwerping dan soveel seën vir die wêreld beteken het, sal hulle bekering in die toekoms sekerlik ‘n herlewing ontketen wat soos ‘n onblusbare vuur oor die aarde versprei.  Is dit nie miskien wat Paulus in Rm.11:12, 15 bedoel het nie?

 

“En as [die Jode se] val die rykdom van die wêreld is en hulle [mislukking] die rykdom van die heidene, hoeveel te meer sal hulle volheid dit nie wees nie! … Want as hulle verwerping die versoening van die wêreld is, wat sal hulle aanneming anders wees as lewe uit die dode?”

 

En het Jesaja nie gesê “die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek” nie (Jes.11:9)?

 

Ons gebede is gans te klein. Wanneer ons bid dink ons net aan vandag, ons eie probleme, en die era waarin ons lewe.  Ons bid selde vir die verspreiding van die evangelie in die wêreld en vir die redding van die geslagte wat nog gebore moet word.  En tog is dit hoe Jesus wil hê ons moet bid:  “laat u koninkryk kom” (Mt.6:10).

 

Ons dink nie genoeg daaraan dat die volgende geslag partykeer eers die vrugte pluk van dit wat ons in gebed gesaai het nie.  William Tyndale is ‘n goeie voorbeeld hiervan.  Hy was verbied om die Bybel in Engels te vertaal, en het met sy lewe geboet.  Sy laaste woorde op die brandstapel was:  ‘Lord, open the king of England’s eyes!’  Die eindste koning Henry VIII wat toegelaat het dat hy verbrand word, het later toestemming gegee dat die Engelse Bybel verkoop en versprei mag word.[1]  Vandag nog eet mense die soet vrugte van Tyndale se vertalingswerk en gebede.

 

Ek wil jou aanspoor om soos hy te bid. Bid vir die verspreiding van die evangelie in ons land.  Bid dat die kerk ‘n effek in die samelewing sal hê.  Bid vir ons regering, sodat ons rustig mag lewe en nie verhinder sal word om die Here te dien nie (1 Tm.2:1-2).  Bid dat jou kinders, kleinkinders en die geslagte wat kom die Here mag ken.

 

Bid dat God se Koninkryk tot aan die eindes van die aarde sal strek: “En hy sal heers van see tot see en van die Rivier tot by die eindes van die aarde.” (Ps.72:8).  Bid dat die Here evangelie-predikers sal opwek en uitstuur (Mt.9:38).  Bid dat die evangelie nie sal uitsterf soos die renosters nie.  Dit kan tog nie gebeur nie.  Jesus se woorde was:  “Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.” (Mt.16:18).

 

Bid dat die Heilige Gees ‘n werk van herlewing sal doen in ons gemeente, land en wêreld. Bid dat Hy ons harte sal deurdrenk soos na ‘n goeie reënbui in die lente.  “Want, voorwaar Ek sê vir julle dat elkeen wat vir hierdie berg sê:  Hef jou op en werp jou in die see – en nie in sy hart twyfel nie, maar glo dat wat hy sê, sal gebeur – hy sal verkry net wat hy sê.  Daarom sê Ek vir julle:  Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit sal ontvang, en julle sal dit verkry.” (Mk.11:23-24).

 

Ek dink nie Jesus sê letterlik ons moet bid vir die Drakensberge om in die see te spring nie. Dit gaan hier oor die vordering van sy werk.  “Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê die HERE van die leërskare.  Wie is jy, groot berg?  Voor Serubbábel sal jy tot ‘n gelykte word!” (Sg.4:6-7).

 

Ek glo dat Bybelse Christenskap uiteindelik die oorheersende godsdiens in die wêreld sal wees. Jesus en die evangelie sal suksesvol wees.  Charles Spurgeon het gesê:  ‘Oh!  Spirit of God, bring back thy Church to a belief in the gospel! … The Gospel must succeed; it shall succeed; it cannot be prevented from succeeding; a multitude that no man can number must be saved.’[2]

 

Toe Jesus op die aarde was het Hy net ‘n handjievol dissipels gehad. Maar dit het nie so gebly nie.  Die piepklein mosterdsaadjie van die Koninkryk is besig om te groei, sodat dit uiteindelik groter sal wees as enige plant in die tuin van die wêreld (Mt.13:31-32).  William Carey het gesê:  ‘[Christ] must reign, till Satan has not an inch of territory.’[3]

 

Die rots van Christus se Koninkryk het alreeds die magtigste wêreldryke verpletter. Waar is die Babiloniërs?  Waar is die Meders en die Perse?  Waar is Aleksander die Grote?  Waar is die Romeine met hulle keisers?  Hulle het verdwyn soos stof wat deur die wind weggewaai word (Dn.2:35).  Maar Christus se Koninkryk sal groei, sodat dit ‘n berg word wat die hele aarde vul (Dn.2:35, 44-45).

 

Moenie pessimisties wees oor die evangelie nie. Die Heilige Gees het dit op verskillende tye in die kerk se geskiedenis gebruik om lande en kontinente om te keer:  Paulus en die twaalf apostels in die eerste eeu, die Kerkvaders in die eeue wat daarop gevolg het, Luther, Calvyn, Latimer, Tyndale, Knox, Zwingli en ander in die 14de eeu, die Puriteine in die 15de eeu, Whitefield, Wesley en Jonathan Edwards in die 1700’s, Spurgeon in die eeu ná hulle.

 

Hoekom het lande soos Engeland, Amerika en selfs Suid-Afrika vir eeue lank voorspoed en sukses geniet? In sy boek How Christianity Changed the World het Alvin Schmidt onteenseglik bewys dat dit die evangelie was wat die wêreld verander het.  Ek glo dat die klein boekrol van Op.10 in die toekoms nog die wêreld sal verander.

 

Maar vir nou moet ek vra of die Heilige Gees al jou hart deur hierdie boek verander het?  Het die evangelie van Jesus se kruisdood vir sondaars enigsins ‘n verskil gemaak in die manier waarop jy vroue behandel, ander mense in ag neem sodat jy hulle besittings, seksuele reinheid en lewens respekteer?  Het dit ‘n verskil gemaak in hoe jy jou vrou liefhet, jou man respekteer, jou kinders grootmaak, jou ouers gehoorsaam, jou baas en onderwyser eer sodat jy jou werk goed doen?

 

Hoe het dit jou gesindheid teenoor ou mense en kinders, die siekes en die armes beïnvloed? Het dit die manier verander hoe jy dink oor geld en vermaaklikheid en ontspanning?  Watse verskil het dit gemaak in jou houding teenoor die regte van die ongeborenes?  Laat hierdie boek so deel word van jou soos die kos wat jy eet.  Lees dit biddend en met ‘n verwagting dat die Here jou hierdeur sal verander.

 

[1] J.H. Merle D’Aubigné, The Reformation in England, pp.347-349

[2] Aangehaal in Iain Murray, The Puritan Hope, p.238

[3] Ibid, p.141

Die vernedering van Kersfees

baby-crying

Geen Kerskaartjie met ‘n prentjie van die krippie, die oulike baba, Josef en Maria, die vriendelike donkies en skape, die wyse manne, die herders en die ster, sal vir jou die idee gee dat Jesus se geboorte eintlik ‘n vernedering was nie. ‘n Mens besef dit eers as jy verstaan dat die baba wat daardie aand in die krippie gelê het, God was.  En vir die ewige God om as ‘n mens gebore te word was ‘n vernedering.  So leer Fil.2:6-7 vir ons.

 

Jesus in die hemel (v.6)

Almal van ons sukkel met hoogmoed – of ons dit nou wil erken of nie. Ons dagdroom oor onsself, wil hê dat dinge op ons manier gedoen moet word, hou daarvan om onsself op fotos te sien, geniet dit as ander mense vir ons vertel hoe wonderlik ons is, word kwaad vir mense as hulle ons swakpunte uitwys, en bestuur asof die pad net vir ons gebou is.

 

Iemand het eenkeer vir my gesê dat hy nie meer met hoogmoed sukkel nie. Ek het vir hom C.J. Mahaney se boek oor nederigheid geleen.  Toe hy dit klaar gelees het was hy vir twee dae depressief.

 

Omdat almal van ons met hoogmoed sukkel, moet ons Paulus se lering oor die onderwerp ter harte neem. In v.6 leer hy vir ons dat Jesus die hemel verlaat het (v.6).  Paulus sê dat Hy in die gestalte van God was (v.6, Jh.1:1, Kol.1:15).  Die verledetyd beteken nie dat Hy opgehou het om God te wees nie.  Die Griekse werkwoord wys eerder vir ons dat Hy in die gestalte van God was en so gebly het (v.6).

 

Die woord gestalte (morphē) het niks te doen met die uiterlike vorm nie – God is immers ‘n onsigbare gees (Jh.4:24).  Dit praat eerder van sy innerlike wese, eienskappe en karakter wat so volkome God is soos die Vader en die Heilige Gees.[1]  Jesus was in elke opsig gelyk met die Vader en die Heilige Gees, soos wat ‘n fotostaat identies soos die oorspronklike dokument lyk (Heb.1:3).

 

Maar t.s.v. hierdie gelykheid het Hy nie gevoel Hy word beroof of ingedoen toe Hy sy hemelse heerlikheid verlaat het om aarde toe te kom nie (v.6). Niemand het Hom gedwing om dit te doen nie; dit was vrywillig.  Hy was nie soos ‘n kind wat styf aan die kar se sitplek vasklou, omdat hy weier om tandarts toe te gaan nie.

 

Jesus op die aarde (v.7)

Almal ken die storie van die prins wat in ‘n ondier of gedrog verander het. Hy het weer ‘n mens geword toe die meisie hom liefgekry en gesoen het.  Tensy jy in evolusie glo, sal jy weet dat daar ‘n baie groot verskil tussen mense en diere is.  Dit is ‘n vernedering vir enige prins om in ‘n dier te verander.

 

Ons weet natuurlik dat dit net ‘n storie is. Maar die menswording van Jesus Christus is nie net ‘n storie nie – dit het regtig gebeur.  Omdat die afstand tussen God en die mens oneindig is, was Jesus se menswording ‘n groter sprong as vir die prins om ‘n ondier te word… of as vir ‘n engel om ‘n wurm te word.

 

Toe Jesus aarde gekom het, het Hy Homself leeg gemaak of ontledig (v.7). Dit beteken nie dat Hy sy Goddelikheid verloor het, of dat Hy sy gelykheid met die Vader prysgegee het nie.  Toe Jesus op die aarde was, was Hy nogsteeds alwetend sodat Hy mense se harte geken het (Jh.2:24-25); Hy was nogsteeds almagtig sodat Hy die wind en die see beheer het (Mt.8:26-27); Hy was nogsteeds volmaak heilig sodat Hy nie sonde gedoen het nie (1 Pt.2:22).  Die volheid van alles wat God is, het in Hom gewoon (Kol.1:19, 2:9).

 

Dat Hy Homself ontledig het beteken eerder dat Hy sy hemelse rykdom en heerlikheid verlaat het (Jh.17:5, 2 Kor.8:9). Hy het sy hemelse troon verruil vir ‘n krip en ‘n kruis.  Verder het Hy ook die onafhanklike gebruik van sy Goddelike eienskappe prysgegee.  Hy het bv. nie sy almag gebruik sonder die Vader se toestemming nie (Mt.4:3-4, Jh.5:19).

 

Die Griekse woord vir ‘ontledig’ [kenoō] kom net op vier ander plekke in die Nuwe Testament voor (Rm.4:14, 1 Kor.1:17, 9:15, 2 Kor.9:3).  Dáár beteken dit om iets waardeloos te maak, sodat dit sy betekenis verloor.  Paulus bedoel dan eintlik dat Jesus Homself niks gemaak het of dat Hy Homself verneder het (v.5, 7, Jes.40:17).

 

Hy het nie as ‘n belangrike koning na die aarde toe gekom nie; Hy het die gestalte (Gk. morphē) van ‘n slaaf aangeneem (v.7).  Mense het Hom verag (Jes.53:3).  Alhoewel Hy die Here en Meester was, het Hy Hom soos ‘n slaaf neergebuig en die dissipels se voete gewas (Jh.13).

 

Sosiaal en ekonomies was Hy ook op die laagste trappie. Hy het nie ‘n huis gehad nie (Mt.8:20).  Wat Hy gehad het was geleen:  die krippie waarin Hy gebore is, die boot waarin Hy gepreek het, die muntstuk wat Hy gebruik het om iets te illustreer, die donkie waarop Hy gery het, die bovertrek waarin Hy die Paasfees gevier het en die graf waarin Hy begrawe is.  Toe Hy dood is het Hy niks gehad nie – selfs sy klere is verdeel.  Hy het inderdaad die gestalte van ‘n slaaf aangeneem (v.7).

 

Hy het nie maar net ‘n menslike liggaam soos ‘n oorpak aangetrek nie, maar het volkome mens geword soos ek en jy. Hy was volkome God en volkome mens in een Persoon.  As mens het Hy soos ons gelyk, sodat Judas Hom met ‘n soen moes uitwys.  Hy was in elke opsig soos ons, behalwe dat Hy nie gesondig het nie (Heb.2:17, 4:15).

 

Hy het gegroei en geleer (Lk.2:52, Heb.5:8). Hy het vaak geword en geslaap (Mk.4:38).  Hy het honger en dors geword (Mt.4:2, Jh.19:28).  Hy het hartseer geword en gehuil (Lk.19:41).  Hy het angstig geword (Mt.26:38).  Hy het gesterf (v.8).  Wat ‘n vernedering moes dit nie vir die sondelose Seun van God gewees het om soos ‘n misdadiger onder sy Vader se vervloeking aan ‘n kruis te sterf nie (v.8, Gal.3:13)?  En tog het Hy dit gedoen uit liefde vir sondaars.

 

As Jesus Homself dan só verneder het, is dit mos nie te veel gevra om iemand anders en sy belange bo jou eie te stel nie? Is dit regtig so erg as dinge nie op jou manier gedoen word nie, of as iemand jou nie erken het nie?  Hoekom pla dit jou so baie as iemand jou nie gegroet het nie, of as hulle nie vir jou dankie gesê het nie?

 

As Christene moet ons mos nie soos die wêreld wees nie, maar soos Jesus. In die wêreld is dit elkeen vir homself en die duiwel vir die res.  In die wêreld gee die baas nie om of die mense wat onder hom werk hulle kinders se skoolfondse kan betaal of nie – solank hy sy BMW X5 kan ry en oorsese vakansies kan hou.

 

In die wêreld hou mense van jou as jy hulle kan bevoordeel. Sodra jy egter in die pad van hulle doelstellings staan, sal hulle van jou ontslae raak.  Die tipiese Hollywood huwelik werk so.  ‘As ek jou kan hê, sal dit my beter laat lyk.’  Dit is hoe hulle dink.  En dan hou die huwelik ook net totdat daar iemand mooier, ouliker, jonger of ryker oor hulle pad kom.

 

Ons moenie so wees nie, maar moet ander mense se belange bo ons eie stel (v.3-5). Ek het vriende wat hulle vakansie prysgegee het om ‘n arm sendeling te help.  Dít is die tipe dinge waarvan Paulus hier praat.  Dit is tog wat Jesus gedoen het (v.6-8, Rm.15:3).  En wie aan Hom behoort moet soos Hy lewe (v.5, 20, 30, 1 Jh.2:6).

 

Hoe kan jy in hierdie opsig soos Jesus wees? Wees bereid om jou regte en voorregte prys te gee om ander te dien (v.6).  Gee jou tyd, geld, aandag en vaardighede as jy moeg is, nie lus het om nou na ander se probleme te luister nie, uitgesien het om op die bank te lê en TV kyk, van plan was om ‘n Sondagmiddag slapie te vat, ‘n lang dag by die werk gehad het, alleen saam met jou familie wou kuier, jouself wou bederf en vir jou iets lekker wou koop.  As Jesus sy lewe vir ons gegee het, kan ons sekerlik in die middel van die nag opstaan om ‘n huilende kind of ‘n gelowige in nood te help.

 

En tog sal dit nie gebeur as die Here nie eers jou hart verander het nie. Om ander mense met ‘n nederige hart te dien, moet jy jouself eers voor die Here verneder.  Jy moet jouself verloën (Lk.9:23).  Om dit reg te kry moet jy jouself in die lig van God se heiligheid sien, want solank as wat jy jouself aan ander mense meet sal jy dink jy is beter as hulle.  As jy jouself aan God se standaarde meet, sal jy besef dat jou hart vol van hoogmoed, jaloesie, bitterheid, wellus en ander sondes is.  Jy sal besef dat jou beste dade met selfsugtige motiewe besoedel is.  Dus sal jy nie net berou hê oor jou sonde nie, maar ook oor jou goeie dade.

 

As jy dan sien hoe volmaak en vol van goedheid Jesus is, en hoe Hy uit liefde vir sondaars bereid was om hulle straf op Homself te neem aan die kruis, sal jy jammer wees dat jy so teen Hom gesondig het. Jy sal wonder hoekom jy ooit vir jouself gelewe het as Hy so goed was vir jou.  Jy sal van die sonde in jou hart ontslae wil raak en jou rug op jou eie goeie werke en pogings wil draai (Fil.3:4-9).  Uiteindelik sal jy in desperate frustrasie besef dat jy nie van jou sonde ontslae kan raak nie.  Jy sal besef dat Jesus jou enigste hoop is om vergewe te word, en dan sal jy na Hom toe uitroep.  En jy sal nie teleurgesteld wees nie.

 

Nóú kan jy begin om ander bo jouself te stel, omdat jy gesien het dat jy nie so wonderlik is soos wat jy nog altyd gedink het nie. Jy het besef dat Jesus die wonderlikste Persoon in die wêreld is, en daarom wil jy soos Hy wees.  As jy Hom net kan liefhê en verheerlik dan sal dit jou hart bly maak.

 

As jy vir die gemiddelde Afrikaner vra waaroor Kersfees gaan, kan hy vir jou sê dat dit oor die geboorte van Jesus gaan. En tog vier ons dit nie so nie.  Ons is bereid om iets vir iemand te doen, maar nie as dit vir ons ongerieflik is of inmeng met ons planne nie.  Maar gaan Kersfees nie juis oor Jesus wat sy eie gemak prysgegee het om ander te dien nie (v.6-7)?  En moet ons nie soos Hy wees nie?

 

[1] Sien notas op Fil.2:6 in A.T Robertson, Word Pictures in the New Tesament en Marvin Vincent, Vincent’s Word Studies

Jesus ontmasker vir Judas

unmasking

Toe ek op skool was het ons Zorro gekyk. Dié karakter het ‘n swart masker oor sy oë gedra.  Maar sy neus, mond, ken en Meksikaanse snorretjie het uitgesteek.  Ek het altyd gewonder hoekom die mense hom nie sonder sy masker kon uitken nie.  Dieselfde met Superman wat eweskielik anders lyk as hy nie sy bril op het nie.

 

Judas was nie soos hulle nie. Hy het nie net ‘n halwe masker aan gehad nie.  Hy was meer skynheilig en ‘n beter toneelspeler as enige van die Fariseërs.  Nie eers die ander dissipels het hom as die verraaier uitgeken nie.  Maar in Jh.13:18-30 het Jesus hom ontmasker.

 

Die voorspelling (v.18-20)

Iemand het in die week vir my e-pos gestuur wat gesê het dat predestinasie onsin is. ‘Wat is predestinasie?’ wonder iemand.  Mense soos Augustinus, Luther en Calvyn het geglo dat God die loop van die geskiedenis in die ewige verlede bepaal het.  Daar is baie Afrikaners wat dit onbewustelik glo.  As iets sleg met hulle gebeur sê hulle:  ‘Alles gebeur met ‘n doel.’  En tog vra hulle nie vir hulleself wie daardie doel bepaal het nie.

 

Vir die skrywer van die e-pos kan die mens se keuse en God se predestinasie nie albei waar wees nie; een van die twee moet op die altaar van menslike logika geoffer word. Die skrywer het gekies om die mens se vryheid te behou en om predestinasie te verwerp.  In sy gedagtes maak predestinasie dat God die outeur van sonde is (en dat die mens ‘n robot is).

 

Hy het gesê dat die Here dinge in die ewige verlede beplan het, maar nie bepaal het nie; deur sy vrye keuse kan die mens God se ewige raadsplan in die wiele ry.  Vir die skrywer was selfs Jesus se dood nie bepaal nie.  ‘Anders kon dit nie ‘n vrywillige offer van liefde gewees het nie,’ het hy gesê.  Só het die skrywer alle Bybeltekste wat van predestinasie of voorbeskikking praat, verduidelik.

 

Maar is Bybelse profesieë nie ‘n duidelike bewys dat predestinasie waar is nie? Kom ek gee net een voorbeeld:  was dit God of keiser Augustus en Maria wat bepaal het dat Jesus in Betlehem gebore moes word?

 

Jh.13 gee die balans tussen predestinasie en die mens se verantwoordelikheid. Judas het gekies om nie gehoorsaam te wees soos die ander nie, maar om vir Jesus te verraai (v.17-18).  En tog kon dit nie anders gewees het nie, omdat God dit voor die grondlegging wêreld al bepaal het (v.18).  In Lk.22:22 sê Jesus:  “Die Seun van die mens gaan wel heen volgens wat bepaal is, maar wee daardie man deur wie Hy verraai word!”  Paulus sê dat God “alles werk volgens die raad van sy wil” (Ef.1:11).

 

God het reeds in die Ou Testament Judas se verraad voorspel. Soos wat Agitofel, Dawid se vriend en vertroueling, teen hom opgestaan het, het een van Jesus se dissipels Hom in die rug gesteek (v.18, Ps.41:10, 2 Sm.17).  Judas wat Jesus se brood geëet het (v.18, 26), het Hom verraai.  T.s.v. al Jesus se goedheid aan hom, het hy soos ‘n perd sy hakskeen opgelig om vir Jesus te skop (v.18).  “Vir my liefde behandel hulle my vyandig… En hulle het my kwaad vir goed opgelê en haat vir my liefde.” (Ps.109:4-5).

 

Soos Dawid in Ps.41, het Jesus Judas se verraad voorspel (v.19). Sy voorspelling en die vervulling daarvan sou vir die dissipels gewys het dat Hy die Messias en die God van die Ou Testament is (v.19, 14:29, 16:4, Eks.3:14).  Wie anders is daar wat mense se harte ken en die toekoms kan voorspel (Jes.41:23, 42:9)?  Dié wat hierdie getuienis van die apostels m.b.t. Jesus ontvang het, het vir Jesus self ontvang (v.20).  En omdat Jesus God is, het dié wat Hom ontvang het ook die Vader ontvang (v.20).

 

Hoe moet ons op hierdie verse reageer? Moenie predestinasie verwerp net omdat jy nie weet hoe om dit met die mens se keuse en verantwoordelikheid te versoen nie.  Bely eerder saam met Dawid:  “O Here, my hart is nie hoog en my oë nie trots nie; ook wandel ek nie in dinge wat vir my te groot en te wonderbaar is nie.” (Ps.131:1).  Erken dat die Bybel altwee leer, en moenie soos ‘n kind wees wat weier om te aanvaar dat sy ouers beter weet as hy nie.

 

Let gerus op hoe woorde soos bepaal, bestem, verordineer, voorbeskik, ens. in elkeen van die volgende verse voorkom: Ps.139:16, Sp.19:21, Pd.3:1, Jes.14:24, 27, 46:9-10, Jer.15:2, Hd.1:7, 2:23, 4:27-28, 13:48, 17:26, 31, Rm.8:29-30, Ef.1:5, 1 Ts.3:3, 5:9, 1 Pt.2:8.

 

Die gevolgtrekking is dan dat God alle dinge voorbeskik het, maar dat Hy die mens verantwoordelik hou vir sy keuses. Ek kan net hoor hoe iemand sê:  ‘Ek kan dit nie aanvaar nie, omdat dit logies nie sin maak nie.’  Maar maak die Drie-Eenheid logies vir jou sin?

 

Die uitwysing (v.21-26)

William Tyndale was die eerste man wat die Bybel uit die oorspronklike tale uit in Engels vertaal het. Omdat dit onwettig was, het hy van Engeland af na die kontinent toe gevlug om dáár sy werk voort te sit.  Die Britse kroon het mense gestuur om hom te arresteer, maar hulle was onsuksesvol.  Uiteindelik het ‘n sekere Henry Phillips vir Tyndale opgesoek en gemaak of hy aan die kant van die hervorming was.

 

Tyndale het nie die geringste vermoede gehad van wat eintlik aan die gang was nie. Hy het vir Phillips vertrou en sy geheime met hom gedeel.  Phillips het met die Katolieke ooreengekom om vir ‘n som geld die Engelse hervormer aan hulle oor te lewer.  Sy plan het geslaag; William Tyndale het met sy lewe betaal.[1]

 

Soos Tyndale, het die dissipels nie ‘n idee gehad dat Jesus deur een van sy vriende verraai gaan word nie. Jesus daarenteen het presies geweet wat in Judas se hart aan die gang was.

 

Nadat Jesus die verraad aangekondig het, was Hy diep onsteld (v.21). Sy gees was soos ‘n onstuimige rivier (v.21, Gk. tarassō).  ‘Een van julle gaan My verraai,’ het Hy gesê (v.21).  Judas het al vóór die Pasga en die instelling van die nagmaal sy plan aan die owerpriesters voorgelê (Lk.22:1-6, 7-23).  Nou het hy net vir die regte geleentheid gewag om Hom aan hulle oor te lewer.

 

Die dissipels het met verbasing na mekaar gekyk: hulle het nooit gedink dat een van hulle Hom sou verraai het nie (v.22).  Judas was so slinks en skynheilig dat nie een van hulle naastenby vermoed het dat dit hy was nie.  Dus het hulle eerder gevra:  ‘Is dit miskien ek, Here?’ (Mt.26:22).

 

Jesus se geliefde dissipel Johannes was langs Hom aan tafel; teen sy bors (v.23, 21:20, 24, Gk.). Om dit te verstaan moet ons iets van die Jode se kultuur ken.  Joodse tafels in die eerste eeu was laer as ons koffietafels.  Die Jode het op hulle linker elmboë gelê, hulle bene skuins agtertoe uitgestrek en met hulle regterhande geëet.  Johannes se kop sou dus naby Jesus se bors gewees het.  In hulle kultuur sou dit heeltemal normaal en aanvaarbaar gewees het.

 

Petrus het oorkant Johannes gesit en met sy oë of hande vir hom gewys om vir Jesus te vra wie die verraaier was (v.24). Petrus wou seker gemaak het dis nie hy nie.  Johannes het stadig agtertoe geleuen en saggies vir Jesus gevra wie die verraaier was (v.25).  Hy wou ook seker gemaak het dat dit nie hy was nie.  ‘Die een vir wie ek die stukkie ongesuurde brood met bitter kruie gee as ek dit klaar in die dadel-, rosyntjie- en suurwynsous gedoop het, sal my verraai,’ het Jesus geantwoord (v.26, vgl. Rut 2:14).[2]

 

In Jesus se tyd het die gasheer hierdie stukkie brood vir die eregas aan sy linkerkant gegee.[3]  Jesus het dus vir Judas een laaste kans gegee om sy liefde te aanvaar (hoe dít met predestinasie saamwerk kan ek nie verduidelik nie).  Judas was oppad om sy broodjie in die sous in te doop toe Jesus sýne vir hom gegee het (v.26, Mt.26:23, Mk.14:20).  Judas het in ‘n fluistertoon vir Jesus gesê:  ‘Is ek miskien die verraaier, Rabbi?’  ‘Daar het jy dit nou erken,’ het Jesus geantwoord (Mt.26:25).  Maar selfs nadat Jesus hom ontmasker het, het hy nie teruggedraai en om vergifnis gesmeek nie.  Hy het sy sonde liewer gehad as vir Jesus.

 

Die groot les in hierdie verse is dat nie een van ons ‘n ander mens se hart ken nie. Nie een van die dissipels het geweet dat Judas die verraaier was nie (v.22).  Selfs toe die duiwel in hom ingevaar het, het sy gesig so normaal soos voorheen gelyk (v.27).  Moet dan nie dink dat enige van ons nie tot die ergste toe instaat is nie.  Oor die jare het ons gesien dat mense in ons gemeente hulle aan ernstige dinge skuldig gemaak het.  Ek weet ook van twee Baptistekerke in Gauteng wie se lidmate moorde gepleeg het.

 

Die boodskap wat Johannes hier vir ons wil oordra is nie dat ons nie ander mense moet vertrou nie, maar eerder dat ons nie ander mense se harte ken nie. Jy en ek weet nie wat in iemand se gedagtes aangaan nie.  Maar die Here weet, en uiteindelik sal Hy dit aan die lig bring (Lk.12:2-3).  Die ergste is dan nie dat ander mense sal uitvind wie en wat jy regtig is nie, maar dat ons gedagtes en begeertes so hard in God se ore klink soos woorde in ons s’n.

 

Ons dink nie altyd so nie. ‘We think that God is like an idol who takes naps while we secretly pursue our lusts.’[4]  Wees versigtig met wat in jou hart aan die gang is, want dit bepaal jou hele lewe (Sp.4:23).  As jy teen sonde veg kan jy nie net van jou slegte dade ontslae raak nie – jy moet dit op die vlak van die hart doodmaak.  Jy moet van jou sondige gedagtes, motiewe en begeertes ontslae raak.

 

Nie een van ons kan dit op ons eie doen nie. As Jesus se bloed klaar jou sondige rekord deur jou geloof in Hom en sy kruisdood skoon gewas het, moet Hy jou besoedelde hart skoon was.  Bid dan gereeld en vra vir Hom om jou te help in jou stryd met die slegte begeertes en gedagtes wat soos kakkerlakke in jou hart broei.  Oordink die Bybel, bely jou sonde en jaag gehoorsaamheid na.  Kry ‘n vriend of vriendin wat jou aanspreeklik kan hou en getrou vir jou sal bid.  Jesus steek sy hand in liefde uit om jou te help (v.26).  Moet dit nie wegklap nie.

 

Die duisternis (v.27-30)

In die 1500’s was daar ‘n Christen in Engeland met die naam van James Bainham. Hy was baie lief vir die Bybel en ‘n man van gebed.  Om ‘n lang storie kort gemaak:  hy het uiteindelik op die brandstapel beland.  Voor hulle hom aan die brand gesteek het, het hy vir die skare gesê dat hy doodgemaak word vir die evangelie.  ‘Jy lieg!’ het ‘n Katolieke stadsklerk genaamd Pave gesê.  ‘Ons brand jou omdat jy nie glo dat die brood en die wyn letterlik in Jesus se liggaam en bloed verander nie.’

 

Pave het bevel gegee dat hulle die vuur moet aansteek. Bainham het na die hemel toe opgekyk en gesê:  ‘Mag God jou vergewe en meer genade aan jóú bewys as wat jy aan mý bewys het!’  Pave het dit nie vergeet nie; Bainham se laaste woorde het by hom gespook.  Omtrent ‘n jaar later het hy homself gehang.[5]  Ná Bainham se dood het dit nag geword in sy gewete.  En dit is presies wat in hierdie verse met Judas gebeur het.

 

Toe Judas die stukkie brood by Jesus gevat het, het Satan – nie maar net enige demoon nie, maar Satan self! – in hom ingevaar (v.27, 2). Hy het soos ‘n parasiet vasgesuig aan die boosheid en sonde wat alreeds in Judas se hart was (6:70-71, 12:4-6).

 

Jesus het toe vir Judas gesê: ‘Wat jy wil doen moet jy gou doen.’ (v.27).  Jesus en nie Judas of Satan nie, het die uur van sy kruisdood bepaal (v.1, 7:30, 10:18).  Dus het Hy vir hom gesê om gou te maak, aangesien die uur van sy dood op hande was.  Aan die anderkant het Jesus ook geweet dat Judas se voete haastig was om sy bloed te vergiet (Sp.1:16, 6:18).  Jesus het hom as’t ware aan sy sonde oorgegee.  ‘Doen wat jy graag wil doen,’ het Hy in effek vir hom gesê.

 

Die ander dissipels het nie verstaan hoekom Jesus dit vir hom gesê het nie (v.28). Net Johannes het geweet (v.25-26).  Omdat Judas die tesourier was (12:6), het sommige van die dissipels gedink dat Jesus vir hom gesê het om gou iets vir die volgende dag se Fees van Ongesuurde Brode te gaan koop (v.29).  Die winkels sou op daardie Donderdagaand ‘n bietjie later oop gewees het as gewoonlik.  Gedurende die Fees sou daar nie tyd gewees het nie (soos om op Kersdag gou geskenke te wil koop).

 

Gedurende die Paasfees het die Jode (volgens hulle tradisie) die tempel se deure teen middernag oopgemaak, sodat bedelaars kon inkom om geld en geskenke te ontvang.[6]  Dit verduidelik hoekom party van die dissipels gedink het dat Jesus vir Judas gesê het om gou iets vir die armes te gaan gee.

 

Judas het die stukkie brood ontvang en dadelik uitgegaan om vir Jesus te verraai (v.30). Hy het inderdaad gou gemaak soos wat Jesus in v.27 vir hom gesê het – gou, sodat hy sy 30 stukke silwer kon kry!  Judas het nie net uit die vertrek uitgegaan nie; hy het ook eens en vir altyd sy rug op Jesus gedraai.  Hd.1:25 sê dat hy “afgewyk het om heen te gaan na sy eie plek.”

 

Dit was nag toe hy dit gedoen het (v.30). Dit was letterlik nag, maar Judas het ook sy rug op die Lig van die wêreld gedraai, omdat hy die duisternis van sy sonde verkies het (8:12, 3:19-20).  Saam met die duiwel het hy beplan om die lig uit te doof (Lk.22:53).  Die tragedie was dat hy self in die gat geval het wat hy vir Jesus gegrawe het.  Soos vir Saul in 1 Sm.28:25, het dit geestelik nag geword vir Judas.  Hy was teen ‘n nekbreek spoed oppad na die buitenste duisternis toe (Mt.25:30).

 

Die les is duidelik: moenie vir die duiwel ‘n vatplek gee in jou lewe nie.  As jy met sonde speel, dan gee jy vir hom iets om aan vas te gryp.  In Ef.4:26-27 gee Paulus ‘n voorbeeld hiervan:  “Word toornig en moenie sondig nie; laat die son nie ondergaan oor julle toorn nie; en gee aan die duiwel geen plek nie.”  Bely en laat staan die sonde wat jy nog in die donker hoeke van jou hart wegsteek.  Maak reg wat verkeerd is – met God en met ander mense.

 

As jy volstrek weier om dit te doen of traak-my- nie-agtig met jou sonde aanhou, is jy op een van die gevaarlikste plekke wat jy kan wees. Jy is op die randjie van die afgrond.  As die Here die duiwel toelaat om in jou in te vaar, dan is die brieke los.  En wie gaan jou dan keer?  As jy Jesus se liefdevolle aanbod ignoreer, mag dit miskien die laaste keer wees wat jy jou rug op Hom draai.  En as jy van die Lig van die wêreld af wegdraai, sal dit ook vir jou nag word soos vir Judas… vir ewig.

 

Moenie dom wees nie. Los jou sonde en kom na Jesus toe.  Geen sonde is te groot as jy in berou en geloof na Hom toe draai en vir Hom vra om jou te vergewe nie.  “die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde… As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” (1 Jh.1:7, 9).  “In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade” (Ef.1:7).  Johannes sê dat Jesus “ons liefgehad het en ons van ons sondes gewas het in sy bloed” (Op.1:5).  God het ons van ons sonde vrygekoop “deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos” (1 Pt.1:19).

 

As Judas dit maar net geweet het; as hy maar net na Jesus toe gedraai het. Dan sou daar selfs vir hóm genade en vergifnis gewees het.

 

Het jy al mense ontmoet wat maak asof God die vark in die verhaal is, en asof mense die reg het om boos te wees, maar God wreed en verkeerd is om hulle te straf?  Moenie so wees en maak asof Judas die onskuldige slagoffer in hierdie verhaal is, en Jesus die vark nie.  Jesus het sy liefde oor en oor aan Judas bewys, maar hy het nie daarin belanggestel nie.  Daar is nie ‘n mens op die aarde wat so goed is soos Jesus nie… of so sleg soos Judas nie.

 

[1] J.H. Merle d’Aubigné, The Reformation in England: vol.2, pp.188-199, 337-350

[2] D.A. Carson, The Gospel According to John, p.474

[3] Ibid

[4] Edward Welch, Addictions – A Banquet in the Grave, p.176

[5] D’Aubigné, Ibid, pp.97-102

[6] Carson, Ibid, p.475

God se waghond

wolf-growling

Ek het ‘n kort videosnit gesien van hoe ‘n buitelandse polisiemag hulle Duitse Herdershonde oplei. Die hond word geleer om net op sy baas se stem te reageer.  As die baas sê sit, dan sit hy.  As sy baas hom beveel om te lê of in die ronde te draai, dan doen hy dit.  As die baas vir hom sê om aan te val, dan gehoorsaam hy.  Terwyl hy op ‘n persoon afstorm, beveel sy baas hom om te stop.  Hy gaan lê dadelik en wag totdat sy baas weer ‘n bevel gee.

 

Die duiwel is nie ‘n goeie karakter nie, en God het niks sleg in Hom nie. En tog is die duiwel en sy demone soos ‘n gevaarlike waghond, wat niks kan doen totdat die Hemelse Baas sy toestemming gee nie.  Op.9:13-21 sal vir jou wys wat ek bedoel.

 

Die demone se mag (v.13-15)

Wanneer die regter ‘n gevaarlike misdadiger op parool vrylaat, is daar sekere reëls wat geld. Die misdadiger kan nie doen wat hy wil nie.  En tog kan hy die regter minag, die reëls oortree en in die moeilikheid kom.  Maar met demone is dit anders:  as hulle op parool vrygelaat word, kan hulle niks meer doen as wat die Here toelaat nie.  Ja, hulle kan verwoesting saai.  En tog kan hulle nie doen wat hulle wil nie.  Hulle kan net beweeg binne die perke wat God vir hulle stel.  So leer v.13-15 vir ons.

 

Die sesde engel het op sy trompet geblaas om God se oordele oor sy vyande aan te kondig (v.13). Johannes het ‘n stem gehoor tussen die vier horings van die goue altaar wat voor die Here was (v.13).  Die wierook op die altaar was simbolies van die geurige gebede van God se kinders (8:3-4, Ps.141:2).  ‘Neem wraak teen ons vyande wat ons vermoor het!’ het hulle in 6:10 gebid.  Die altaar se horings was simbolies van God se mag om hulle gebede te beantwoord en hulle vyande te oordeel (Eks.30:3, 1 Kon.22:11).

 

Die stem het vir die sesde engel met die trompet gesê om die vier engele wat by die Eufraatrivier was los te laat (v.14). Lg. verwys nie na heilige engele nie, maar na gevalle engele of demone wat weens hulle boosheid en sonde gebind was (vgl. 2 Pt.2:4).  Maar hoekom spesifiek by die Eufraatrivier?

 

Hierdie rivier was die ideale noordelike grens van Israel (Dt.11:24). In die Ou Testament het die Assiriërs en die Babiloniërs oor hierdie rivier gekom om die Israeliete aan te val (Jer.1:14-15).  Dit sal my nie verbaas as die vier gevalle engele van v.14 Israel se vyande teen haar aangehits het nie.  Ons sien in Jes.14, Esg.28 en Dn.10 hoe Satan agter die konings van Babilon, Tirus, Persië en Griekeland gestaan het.  En was dit nie hy en sy demone wat in 66 n.C. die Romeine teen Israel aangehits het nie?  Is dit toevallig dat die Romeine se tiende legioen Israel van die Eufraatrivier af binnegeval het?[1]  En is dit nie presies wat Johannes in v.14 voorspel het nie?

 

Die engel met die sesde trompet het die vier gevalle engele losgelaat op die uur, dag, maand en jaar wat God in sy soewereine raadsplan bepaal het (v.15, Jes.46:10, Ef.1:11). God het die duiwel teen sy ongehoorsame volk losgelaat (v.20-21).  Hy het vir die demone toestemming gegee om nie net die mense te pynig nie (v.5), maar om ‘n derde van hulle dood te maak (v.15, Esg.5:12).  Die feit dat hulle net ‘n derde van die mense kon doodmaak, wys weereens dat hulle sonder God se toestemming nie ‘n vinger kan verroer nie (v.14-15, 1-5, Job 1-2, Lk.8:32-33).

 

Vir gelowiges behoort dit ‘n troos te wees: as God vir jou is, sal Hy selfs die demone tot jou voordeel gebruik (Rm.8:31, 28).  Hy sal vir sy waghond sê om jou vyande te byt.  Is dit nie wat Hy in v.13-15 gedoen het nie?  Die vermoorde Christene het vir die Here gevra om hulle saak te beveg (6:10).  Hy het toe die duiwel en sy demone toegelaat om die kerk se vyande te byt (v.13-21).

 

Hier gaan dit nie oor ‘n persoonlike wrok wat jy teen iemand het, sodat jy vir die Here vra om die duiwel teen hulle los te laat nie. Dit gaan oor mense wat die kerk vervolg.  Ons moet vir hulle bekering bid (v.20-21), maar in dieselfde asem moet ons bid dat geregtigheid sal seëvier (6:10, 8:3-4).  Dit is nie verkeerd om te bid dat die Here sy kinders sal bevry van ‘n regering wat hulle onderdruk en vervolg nie.  Dit is heeltemal reg om te bid dat die Here vals kerke en hulle leraars, Islam, Kommunisme, en ander vals godsdienste soos die Titanic sal laat sink.

 

As die Here die duiwel en demone wil gebruik om dit te doen, is dit sy keuse. Ons moet net sorg dat ons nie self wraak neem soos wat die Westlike Katoliekekerk dit in die Middeleeuse Kruistogte gedoen het toe hulle die Moslems in Jerusalem aangeval het nie.  Ons moet dit in die Here se hande los.  “Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here.” (Rm.12:19).

 

Hoe versoen ons God se werk met die duiwel s’n in hierdie verse: God is tog nie die oorsaak van enige boosheid of sonde nie?  In 2 Sm.24:1 staan daar dat God vir Dawid aangehits het om die volk te tel, en in 1 Kron.21:1 lees ons dat die duiwel hom aangehits het (vgl. 1 Kon.22:19-22, Job 12:16, 2 Ts.2:10-12).  Sit God en Satan dan om dieselfde vuur?

 

Nee. God is soos ‘n goeie regter wat die polisie stuur om ‘n skelm te arresteer.  Die polisiemanne rand die skelm aan voordat hulle hom boei en in die polisiewa gooi.  Die regter is nie verantwoordelik vir die polisiemanne se bose optrede nie.  En so is dit ook met God en die duiwel:  die duiwel voer God se regverdige en goeie opdragte uit, maar hy doen dit met bose intensies (v.13-15, vgl. Jes.10:5-7).

 

Die demone se getal (v.16)

Die getal van die troepe wat deur die vier gevalle engele opgekommandeer was, was 2 x 10 000 x 10 000 (v.16). Dit was te veel om te tel, en daarom het Johannes gesê dat hy die getal gehoor het (v.16).  Dit is heeltemal moontlik dat daar letterlik ‘n weermag van 200 miljoen demone was.  Ek dink egter dat Johannes ‘n simboliese getal in gedagte gehad het.  Kom ek wys vir jou hoekom ek so sê.

 

As ons ‘n groot getal wil uitdruk, gebruik ons ‘n miljoen: ‘Daar was miljoene mense in die mall.’  In die Bybelse tyd het hulle tienduisend gebruik om ‘n onbepaalde getal uit te druk.  Saul het sy duisende doodgemaak het, maar Dawid sy tienduisende (1 Sm.18:7).  God se strydwaens is tienduisende, duisende maal duisende (Ps.68:18).  Die engele voor God se troon is duisende maal duisende, tienduisend maal tienduisend (Dt.33:2, Dn.7:10, Heb.12:22, Jud.14, Op.5:11).  As Johannes dan sê dat daar twee keer 10 000 x 10 000 was, sê hy eintlik dat ‘n ontelbare skare van demone die Romeine aangehits het om die Jode te oorweldig.

 

As jy ‘n gelowige is, hoef v.16 jou nie bang te maak nie. God sal sy engele stuur om jou te beskerm (Ps.91:11, Heb.1:14).  Daar is twee keer soveel engele as wat daar demone is (12:4, 7-9).  Dié wat vir ons is, is meer as dié wat teen ons is (2 Kon.6:16).  God op sy eie is oneindig keer groter en sterker as al die magte van die hel.  As jy aan sy kant is, is jy veilig, “omdat Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is.” (1 Jh.4:4).

 

Die demone se wapens (v.17-19)

Ek en my vrou het op ‘n tyd dokumentêre oor vliegtuie, die Navy Seals, skerpskutters, ens. gekyk. In een dokumentêr het ons gesien hoe vegvliegtuie ontwikkel het.  In die begin het hulle gewone masjiengewere gebruik.  Later het die gewere groter en beter geword.  Aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog het hulle missiele gebruik.  En vandag kan hulle ‘n onbemande vegvliegtuig in die lug instuur.  Maar t.s.v. die tegnologiese ontwikkeling, kan ‘n mens nog weerstand bied, omdat daar nie net een land is wat tegnologies gevorder het nie.  Wanneer dit egter by demone kom, kan nie eers die mees gevorderde wapens jou help  nie.

 

In 2 Kon.6:17 lees ons van strydwaens en perde van vuur wat die berge omring het om vir Elisa te beskerm. Uit Heb.1:7 weet ons dat dit engele was:  “[God maak] sy dienaars vuurvlamme.”  In Op.9 het Satan ook ‘n weermag van perde.  Johannes se beskrywing van die perde wys baie duidelik dat daar demoniese magte was wat die Romeine aangehits het.

 

Johannes sê dat hy ‘n visioen gesien het, asook dat die perde soos dit en dat was (v.17, 19).  Ons moet dan verstaan dat hy weereens simboliese taal gebruik.  Die demoniese perde se koppe soos leeus s’n het gewys dat hulle gevaarlik is (v.17, 8b, vgl. 1 Kron.12:8, Jes.5:29).  Die ruiters se borsharnasse was rooi-oranje soos vuur, blou soos ‘n saffiersteen, en swawelgeel (v.17).  Dit stem ooreen met die vuur, grysblou rook, en swawel wat uit hulle bekke uitgekom het (v.17, vgl. Jes.30:33).  Elders in Openbaring sien ons dat Johannes vuur, rook en swawel met die hel assosieer (14:10-11, 19:20, 21:8).  Duidelik het ons in v.17 te doen met demone.

 

Die plae van vuur, rook en swawel het ‘n derde van die land se mense doodgemaak (v.18). Toe God vir Sodom geoordeel het was daar vuur, rook en swawel (Gn.19:24, 28).  Die punt is dan dat Jerusalem so goddeloos geword het soos Sodom (v.20-21, 11:8), en daarom het sy Sodom se straf gekry (Dt.29:23-25).  Dit was maar net ‘n voorsmake van die vuur, rook en swawel van die hel (14:10-11).

 

Die demoniese sprinkane se sterte was soos skerpioene s’n, en die demoniese perde s’n soos giftige slange (v.19, 10, 12:9, 14-15, 20:2, Lk.10:17-19).  In v.5-6, 10 het die demoniese sprinkane se sterte die mense seergemaak, maar in v.17-19 het die demoniese perde se bekke en sterte hulle doodgemaak (v.17-19).

 

Wat beteken dit? Ons weet reeds dat Sataniese magte die Romeine teen Jerusalem aangehits het.  Die voorste troepe (die kop) het die hekke en die stadsmure afgebreek om die Jode dood te maak.  Die agterste troepe (die stert) het hulle doodgemaak met enjins wat spiese, pyle en reuse klippe geskiet het.[2]  Die weermag se kop en die stert was dodelik – daar was geen wegkom kans vir die Jode nie.

 

As jy ‘n ongelowige is kan jy nie teen die duiwel en sy demoniese magte veg nie (v.17-19). Jou wapens kan hulle nie seermaak nie; hulle is geeste (Ef.6:12).  In Mk.9:22 lees ons van ‘n demoon wat ‘n seuntjie in water en vuur gegooi het om hom dood te maak.  In Hd.19:13-16 het ‘n man met een bose gees sewe volwasse mans geslaan dat hulle gebloei het.  Die besete man in Mk.5 het ‘n paar duisend demone in hom gehad.  Hy het kettings gebreek soos wat ek en jy papier skeur – niemand was sterk genoeg om hom te boei nie (Mk.5:3-4).

 

Hoe kon die Jode dan teen ‘n weermag van demone gestaan het (v.16)?  Hulle was veral hulpeloos omdat God vir vir die demone toestemming gegee het om die Romeine teen Jerusalem aan te hits.  Jy kan nie eers teen demone wen nie.  Hoe wil jy dan teen die Here wen wat die mag het om vir hulle te sê wat hulle mág en nié mag doen nie?

 

As jy die Here ken hoef jy nie bang te wees nie, omdat God sy eie wapenrusting en krag vir jou gee (Ef.6:10-13, Jes.11:5, 59:17). Jy meer as genoeg toegerus om teen die duiwel en sy bose magte te staan.  Hoe veg ‘n mens teen hom?  Moenie geestelike oorlogvoering verwar met dinge wat nie in die Bybel staan nie:  gebiedsgeeste bind, Sataniese vestings neerwerp voor jy die evangelie in ‘n sekere woonbuurt kan preek, mense se huise met olie salf, vloeke breek, ‘n gees van wellus of skinder in iemand bind, demone se rangorde wil ken om meer effektief te veg, ens.

 

Veg eerder deur nuuskurigheid oor sonde en die okkulte te vermy, asook deur ‘n heilige lewe, ‘n liefde vir die waarheid, evangelisasie, geloof in Jesus, ware verlossing, die Bybel, volhardende gebed, heilige en nugter denke, nederige onderdanigheid aan God, waaksaamheid, weerstand teen versoeking (Mt.4:1-11, 6:13, Mk.9:29, Hd.26:18, Rm.16:20, 2 Kor.10:4-5, Ef.6:10-18, Jk.4:6-7, 1 Pt.5:8-9, Op.12:11).

 

Wees ook bekend met die duiwel se taktiek (2 Kor.2:10-11): hy lieg, saai twyfel, sê dat God nie goed is nie, versoek jou deur dié wat naby jou is, vermom hom as ‘n engel van die lig, werk deur vals lering, haal die Bybel buite konteks aan (Gn.3:1-5, Mt.4:1-11, 2 Kor.11:14, 1 Tm.4:1).  Wees dan op jou hoede.

 

Die demone se versoeking (v.20-21)

Josefus, die Joodse geskiedkundige wat tydens die verwoesting van Jerusalem geleef het, gee vir ons ‘n beskrywing van die hongersnood, die massa moorde, die kannibalisme, die kruisiging van 500 Jode per dag, en baie ander grusame gebeure. Hy vertel dan hoe die Jode t.s.v. al hierdie dinge, die vals profete se profesieë van oorwinning geglo het.[3]  Van sy mede-volksgenote in Jerusalem het hy gesê:  ‘…as though thunderstruck, blind, senseless, [they] paid no heed to the clear warnings of God.’[4]

 

Dit is presies wat Johannes in v.20-21 voorspel het. Alhoewel ‘n derde van die mense doodgemaak is, het die res dit nie ter harte geneem en hulle bekeer nie (v.20).  Hulle het aangehou om die eerste (v.20), sowel as die tweede helfte (v.21) van die Tien Gebooie te oortree.  Hulle het nie opgehou om die mensgemaakte afgode van goud, silwer, koper, klip en hout te aanbid nie (v.20, Dt.31:29, Jer.1:16).  Daardeur het hulle ook die demone aanbid wat agter hierdie gode gestaan het (v.20, 2:9, 3:9, Dt.32:17, Ps.106:37-38, 1 Kor.10:19-20).  Die demone het hulle verblind, sodat hulle nie agtergekom het dat die afgode hulle nie kan sien, hoor of help nie (v.20, Ps.115:4-8, Jer.2:5, Dn.5:23, Hos.9:10).

 

Waar het die Jode afgode aanbid? Hulle het dit dwarsdeur hulle geskiedenis gedoen.  Israel se verwerping van Jesus as die Messias was ook niks anders as afgodery nie (1 Jh.5:20-21).  Die demone het hulle aangehits om daarmee aan te hou (v.20), asook om baie ander sondes te doen (v.21).  Hulle het hulle nie bekeer van die moorde op die profete, die Messias en God se kinders nie (v.21, Lk.11:47-51, Hd.7:52).  Hulle het ook nie opgehou met die heksery en towery waartoe die demone hulle versoek het nie (v.21, Dt.18:9-14).  En dan het hulle ook in allerhande seksuele misdrywe en diefstal volhard (v.21).  Die volk was ryp vir God se ewige oordeel in die hel (21:8, 22:15).

 

Moet dan nie soos hulle wees nie. Ons moenie nog ná die droogte, korrupsie, plaasmoorde, misdaad, studente-chaos, gay kwessie in die NG-Kerk, rasse haat, aborsie, ens. weier om te verander nie.  Moenie vir een oomblik dink dat die mense wat slagoffers van hierdie Goddelike oordele en demoniese aanvalle is, slegter is as die res nie.  As ons ons nie bekeer nie, sal die hele land onder dieselfde verskriklike oordele sterf (Lk.13:1-5).

 

Ons moet dan daarop fokus om ons te bekeer. Ons moet wegdraai van ons afgode af (v.20):  ons materialisme, die malle gejaag na luuksheid, geld en besittings.  Ons moet die Here saam met ander gelowiges aanbid en nie ons eie gemak en begeertes bo sy heilige dag, sy Woord, en sy huis stel nie.  Ons moet ons bekeer van die duisende moorde in ons land – ook die moorde op ongebore babas.  Ons moet ons ook van moordlustige en haatdraende gedagtes bekeer.

 

Ons moet geen aangetrokkenheid tot towery en heksery in ons harte koester nie; nie in die Huisgenoot, die koerant, TV-programme, films, of op die radio nie. Ons moet eens en vir altyd ontslae raak van die idee dat seks nie beperk is tot die huwelik tussen ‘n man en ‘n vrou nie, maar dat elke mens vry is om te kies hoe en wanneer hy dit wil doen.  Ons moet ons van ons diefstal bekeer, en nie verskonings daarvoor maak omdat die regering self korrup is, of omdat hulle ons in elk geval te swaar belas nie.

 

Johannes kon baie ander sondes genoem het, maar hy het genoeg genoem om sy punt te maak. As ons ons bekeer en na Jesus toe draai sal die Here ons genadig wees en ons vergewe.  Jesus het immers gekom om die straf vir sulke sondes aan die kruis te dra, en om dié wat so gelewe het en hulle bekeer, van binne af te reinig (1 Kor.6:9-11).  Het Hy nie juis in die wêreld ingekom om die werke van die duiwel te verbreek nie (1 Jh.3:8)?

 

In Griekse mitologie is daar ‘n duiwelse hond genaamd Cerberus. Hy behoort aan Hades, die god van die onderwêreld, en is veronderstel om te keer dat die dooies ontsnap.  Hy het drie koppe en sy stert is ‘n slang.  Die beelde wat Johannes in Op.9 gebruik klink net so skrikwekkend.  Die groot verskil is natuurlik dat die duiwel en sy demone nie maar net ‘n mite is soos Cerberus nie.  Indien jy dink dat die duiwel ‘n mite is, sal jy sleg tweede kom.

 

[1] Flavius Josephus, The Wars of the Jews, Book VII, 1:3

[2] Wars, Book III, 7:9

[3] David Chilton, Days of Vengeance, p.108

[4] Wars, Book VI, 5:3

Die ware betekenis van voete was

jesus-washing-feet

Ek was eenkeer by ‘n byeenkoms waar ‘n vrou olie gevat het en op ‘n ander vrou se voete gesmeer het. Daarna het sy op ‘n koedoehoring geblaas.  Dit het vir my gelyk of sy opreg was, maar ek weet nie waar in die Bybel sy haar idees vandaan gekry het nie.  Ek vrees soms dat party Christene meer maak van die simboliek as van dít wat gesimboliseer word.  Wanneer ons Jh.13:1-17 bestudeer is dit belangrik dat ons dit nie uit die oog moet verloor nie.

 

Dit illustreer Jesus se liefde (v.1-5)

Om iemand se optrede te verstaan moet jy sy kultuur verstaan. Een van my Amerikaanse vriende was in die afgelope week by ons huis.  ‘Het jy gestem?’ het my vrou vir hom gevra.  ‘Ja’ het hy geantwoord.  ‘Ek wag dat julle vir my vra vir wie ek gestem het,’ het hy gesê.  Ek het vir hom verduidelik dat dit slegte maniere is om in ons kultuur vir iemand te vra vir wie hy gestem het.  ‘In my kultuur wil mense hê jy moet vra vir wie hulle gestem het.’  Kan jy jou indink hoe maklik ‘n Suid-Afrikaner en ‘n Amerikaner in dié verband vir mekaar kan aanstoot gee, net omdat hulle nie mekaar se kulture ken nie?

 

Net so moet ons die Joodse kultuur van die eerste eeu ken om te verstaan hoekom dit so ‘n skok was toe Jesus sy dissipels se voete gewas het. Toe Jesus op die aarde was het mense sandale gedra en op stofpaadjies geloop.  As jy dus by mense gaan eet het, het die gasheer vir jou ‘n skottel water gegee om jou voete te was (Gn.18:4, 19:2, 43:24, Rgt.19:21, Lk.7:44).  Soms het die gasheer vir sy slaaf gesê het om jou voete te was.  Joodse slawe sou dit nie gedoen het nie; heidense slawe moes.[1]  Jesus het dus die laagste posisie ingeneem en só sy liefde vir die dissipels gewys.

 

Jh.13-17 het plaasgevind op die Donderdagaand voor Jesus se kruisiging (v.1). Hy het geweet dat die bepaalde uur van sy kruisdood op hande was (v.1, 12:23).  Hy het ook geweet dat sy tyd om na die Vader toe terug te keer naby was (v.1, 16:28).  En tog het Hy nie aan Homself gedink nie, maar aan ander.  Hy het sy eie mense wat in die wêreld was – die skape wat sy Vader vir Hom gegee het – liefgehad tot die uiterste toe (v.1, 6:37, 39, 10:3-4, 17:2, 6, 9, 24, Gk. telos).  Dit het Hy bewys toe Hy die dissipels se voete gewas het, en meer nog toe Hy aan die kruis gesterf het (1 Jh.3:16).  Die teks impliseer nie dat Jesus nie die ongelowiges liefgehad het nie, maar dat Hy ‘n spesiale liefde vir sy eie mense gehad het (net soos wat jy jou naaste liefhet, maar jou lewensmaat en kinders meer liefhet, vgl. Ef.5:25).

 

Daar was ‘n ongelowige teenwoordig toe Jesus die dissipels se voete gewas het: Judas Iskariot (‘man van Keriot’), die seun van Simon.  Hy was ‘n duiwelse man (6:70-71, 12:4-6).  Satan het sy teiken goed gekies en het vir Judas aangehits om vir Jesus te verraai (v.2, vgl. Hd.5:3).  Dat Jesus Homself verneder het om sy verraaier se voete te was is ‘n bewys van uiterste liefde.

 

Jesus het geweet dat die Vader alles in sy hande oorgegee het (v.3, 3:35, 17:2, Mt.28:18).  Hy het ook geweet dat Hy van God af gekom het en dat Hy weer oppad was hemel toe (v.3).  Maar t.s.v. sy Goddelike mag en heerlikheid, het Hy nie vir Judas uitgewis of sy neus opgetrek vir nederige take nie.  Hy het van die etenstafel af opgestaan en sy bo-kleed uitgetrek; Hy wou nie gehad het dit moes nat word nie (v.4).  Hy het ‘n handdoek om sy middel vasgebind, ‘n skottel volgemaak met water, begin om die dissipels se voete te was, en dit toe afgedroog (v.4-5).  Hy het nie soos ‘n Koning opgetree nie, maar het die werk van ‘n slaaf gedoen (Fil.2:6-7).

 

Deur dit te doen het Hy sy liefde geïllustreer. En tog twyfel ons so maklik aan sy liefde – veral as ons oud word en eensaam is, nie dadelik antwoorde op ons gebede sien nie, deur ‘n tyd van geestelike droogte gaan, of as ons beproef word.  In sulke tye is ons gou om teen die Here te kla.  Ons versaak sy Woord en gebed, en bly van die gemeentelike samekomste af weg.  Ons vergeet egter dat die tugting juis ‘n bewys van sy liefde is (Heb.12:6).  Ons vergeet ook dat ‘n kind wat seergekry het sy Vader se liefdevolle troos en omhelsing duideliker sal ervaar as ‘n kind wat lekkers eet.

 

As jy ooit die Here se liefde vir jou betwyfel, kyk na die Seun van God wat voor sondaars kniel om hulle voete te was (v.3-5). Meer nog:  kyk na die kruis.  Augustinus het gesê:  ‘The cross was a pulpit in which Christ preached his love to the world.’[2]  Dit is tog wat die Bybel vir ons leer, nie waar nie (3:16, Rm.5:8, Gal.2:20, 1 Jh.3:16, 4:9-10)?

 

God se liefde vir ons is sonder perke (v.1, Ef.3:18-19). “Ek het jou liefgehad met ‘n ewige liefde” (Jer.31:3).  Ef.2:4 praat van “sy grote liefde waarmee Hy ons liefgehad het”.  Jes.43:4 sê dat ons kosbaar is in sy oë, dat Hy ons liefhet, en dat Hy volke in ruil vir ons gee.  Hy het jou so lief soos wat die Vader en die Seun mekaar liefhet, soos wat Hy Homself het (15:9, 17:23)!  Werner, Chantal, Johan, Jeanette, Dewald, Lara, Timothy, Ernie, Andries… die Vader het jou lief, die Seun het jou lief, die Heilige Gees het jou lief (16:27, Ef.5:2, Rm.15:30).  Niks in die hele skepping kan jou van hierdie liefde skei nie (Rm.8:35, 38-39).

 

Dalk sê jy: ‘Ek het te erg gesondig; die Here kan my nie liefhê nie.’  God se liefde vir jou hang nie af van hoe goed of hoe sleg jy is nie, maar van hoe goed is.  Sy liefde is vrywillig (Hos.14:4).  Hy het selfs dié lief wat Hom verwerp (Mk.10:21).  Sal jy ‘n huweliksmaat liefhê wat aanhoudend van jou af wegloop agter ander mans of vroue aan?  Ek sal nie.  En tog is dit hoe die Here vir Israel liefgehad het (Hosea).  En kan Hy jóú nie liefhê nie?  Sal jy dit waag om te sê dat jou sonde groter is as die liefde wat Hy aan die kruis bewys het?

 

Oh, the deep, deep love of Jesus,

vast, unmeasured, boundless, free!

Rolling as a mighty ocean

in its fullness over me!

Underneath me, all around me,

is the current of thy love –

leading onward, leading homeward,

to that glorious rest above!

Oh, the deep, deep love of Jesus –

spread his praise from shore to shore!

How he loves us, ever loves us,

changes never, nevermore!

How he watches o’er his loved ones,

died to call them all his own;

how for them he’s interceding,

watching o’er them from the throne!

Oh, the deep, deep love of Jesus,

love of every love the best!

‘Tis an ocean vast of blessing,

’tis a haven sweet of rest!

Oh, the deep, deep love of Jesus –

’tis a heaven of heavens to me;

and it lifts me up to glory,

for it lifts me up to thee!

–Samuel Trevor Francis–

 

Dit simboliseer Jesus se reiniging (v.6-11)

Een van my kollegas het ‘n konferensie in Amerika bygewoon. Dit het gegaan oor die bekendstelling van ‘n nuwe Studie-Bybel.  Die prediker het die Bybel teen sy bors gehou en gesê hoe lief ons die Woord het, hoe ons dit waardeer en eerbieding.  ‘Maar sommige Christene…’ het hy gesê – en toe sy Bybel tussen die mense ingegooi.

 

Dit het met ‘n slag teen die vloer geland. ‘n Doodse stilte het geheers; die mense was geskok.  Die prediker het van die verhoog afgestap en die Bybel opgetel.  Hy het met groot effek Jh.1:1-14 opgesê.  My vriend se woorde aan my was:  ‘Ek sal dit nooit vergeet nie’ (hy het later uitgevind dat dit ‘n telefoon boek met ‘n swart buiteblad was – dit was spesiaal so gebind vir sy illustrasie).  Die prediker se les was effektief omdat hy nie net maar woorde gebruik het nie, maar dit uitgebeeld het.  Dieselfde kan gesê word van Jesus se les in Jh.13.

 

Jesus het by Simon Petrus gekom. ‘U is die Here; hoe kan Ú mý voete was?’ het hy in effek gevra (v.6).  ‘Jy verstaan nie nou wat Ek doen nie Petrus, maar ná my opstanding sal die Heilige Gees jou help om dit te verstaan,’ is basies wat Jesus in v.7 vir hom gesê het (vgl. 16:12-13).  Maar vir Petrus was dit sosiaal onaanvaarbaar.  ‘U sal nooit my voete was nie,’ het hy vir Jesus gesê (v.8).  ‘As Ek jou nie was nie, het jy nie deel aan My nie,’ het Jesus geantwoord (v.8).  Om vir Jesus te dien moet jy eers deur Hom bedien word (Mt.20:28).  Soos die Ou Testamentiese priesters moet Hy jou reinig voordat jy Hom kan dien; Hy moet jou voete vas (Eks.30:17-21).

 

Skielik het Petrus sy deuntjie verander: ‘Wil U nie dan sommer ook my hande en my kop was nie?’ (v.9).  Hy wou seker gemaak het hy het deel aan Jesus.  Jesus het gesê:  ‘Iemand wat gebad het is heeltemal skoon en hoef nie deur die dag te bad nie.  Maar omdat die stof sy voete vuil maak moet hy dit gedurig was’ (v.10).

 

Jesus wou vir hom ‘n geestelike les geleer het: as jy gered is, is jou sonde heeltemal weggewas en vergewe – jy hoef nie aanhoudend gered te word nie (soos mense wat weekliks op ‘n ‘altar call’ reageer).  Tog word jou voete nog vuil; jy doen nogsteeds sonde.  Daarom moet jy op ‘n gereelde basis jou sonde bely en vergewe word – Jesus moet gereeld jou voete was (Mt.6:12, 1 Jh.1:9).  Jy is eens en vir altyd geregverdig, maar moet daagliks groei in heiligmaking.

 

Petrus en die ander dissipels was alreeds deur die Woord en die Gees in die bad van wedergeboorte gereinig (v.10, 3:5, Ef.5:26, Tit.3:5, 1 Kor.6:11, Heb.10:22). Maar met Judas was dit nie die geval nie.  Jesus het geweet dat sy hart vol van bedrog was en dat hy beplan het om Hom te verraai (v.10-11, 2).  Alhoewel Hy een van Jesus se dissipels was, was Hy nie gered nie (v.11).  Toe Jesus sy voete gewas het, het Hy dit as ‘n daad van liefde vir sy vyand gedoen, en nie om te wys dat Judas hom bekeer het en Hy sy sonde vergewe het nie.  Judas was liewer vir sy geld as vir Jesus.

 

Hoe lyk dit met jou: het Jesus jou al in die bad van wedergebore gewas?  Nee?  Moet dan nie soos die mense wees wat hulle sonde wil bely, maar nog nie tot bekering gekom het nie.  Hulle kom net na Hom toe as hulle skuldig voel of nie van die gevolge van hulle sonde hou nie.  Hulle wil hê Hy moet hulle voete was, maar hulle het nog nie gebad nie.  Hulle bely hulle sonde in die hoop dat Hy hulle sondige rekord sal skoon was, maar nie hulle harte nie.  Hulle is soos smerige seuntjies wat dit verpes om te bad – hulle wíl nie weergebore word en hulle sonde los nie.

 

Miskien sê jy: ‘Ja, Jesus het my al in die bad van wedergeboorte gewas.’  Is jy seker?  Hoe weet jy dit?  Is jy regtig skoongewas, sodat jy ‘n rein en ‘n heilige lewe lei?  Of is jy soos baie mense wat hulle sonde wil los, maar nie nou al nie?  Jy wil dit los, maar jy sal môre begin – jy wil dit nog net een keer doen, vir oulaas.  Jy wil dit los, maar nie alles nie.  Jy wil dit los omdat dit jou lewe misrabel maak, en nie omdat jy heilig wil wees nie.  Jy wil dit los, maar op jou eie terme.  Jy wil dit los omdat jy veronderstel is om dit te doen, en nie omdat jy die Here wil verheerlik nie.  Jy wil dit los, maar nie vir die res van jou lewe nie.  Jy wil dit los, maar die Here moet dit vir jou doen – dit moet jou nie bloed, sweet of trane kos nie.[3]

 

Dalk kan jy met ‘n opregte hart en met ‘n skoon gewete sê dat Jesus jou in die bad van wedergeboorte gewas het. Maar daar is ‘n ander probleem:  jy kom nie gereeld na Hom toe om jou voete te was nie; jy bely nie op ‘n gereelde basis jou sonde nie.  Jy doen dit net nou en dan.  Moenie soos ‘n ongedissiplineerde persoon wees wat hope skuld maak, sodat hy in die gemors beland nie.  Betaal jou skuld sodra jy dit gemaak het; bely dadelik jou sonde en moet dit nie vir ‘n dag of drie laat oorstaan nie.  Jesus is meer as gewillig om jou te vergewe, maar Hy wil hê jy moet Hom vra (1 Jh.1:9).

 

Dit wys Jesus se nederigheid (v.12-17)

Toe ek ‘n student was, was ek by ‘n Bybelstudie waar die leier gesê het ons moet mekaar se voete was. Vandag is daar baie Christene wat dit so doen.  Sommige van hulle doen dit op ‘Maundy Thursday’, op die Donderdagaand voor Goeie Vrydag.  Ek glo nie dat dit sonde is om letterlik mekaar se voete te was nie, maar ek is nie seker dat dit die enigste toepassing van Jesus se woorde is nie.  Die konteks van hierdie verse sal ons help om dit reg toe te pas.

 

Nadat Jesus die dissipels se voete gewas het, het Hy sy bo-kleed aangetrek en sy plek by die tafel ingeneem (v.12). Hy het vir die dissipels verduidelik wat hierdie dinge alles beteken (v.12).  Hulle het Hom Here en Leermeester genoem, en hulle was reg – Hy het dit nie ontken nie (v.13).  As Hý dan die nederige taak van ‘n slaaf gedoen het om hulle voete te was, moes hulle dit ook vir mekaar gedoen het (v.14).  Hulle moes in sy voetstappe gevolg het en nie soos kinders gestry het oor wie die belangrikste is nie (soos wat hulle ongelukkig by hierdie geleentheid gedoen het, vgl. Lk.22:24).

 

Jesus het nie net vir sy dissipels gesê wat om te doen nie; Hy het ook die voorbeeld gestel wat hulle moes navolg (v.15, 1 Jh.2:6, 1 Tm.5:10).  ‘n Slaaf is mos nie groter as sy meester nie, en ‘n boodskapper [Gk. apostolos] is nie groter as die een wat hom gestuur het nie (v.16).  As ons Meester en Here dan ons voete gewas het, moet ons dit ook vir mekaar doen (v.16).  Dit help nie net om hierdie dinge te weet nie – ons moet dit doen (v.17).  Ons bid te maklik:  ‘Here seën my,’ maar ons is nie bereid om te doen wat Hy vir ons sê nie.  Dit is dié wat die Here se wil doen wat gelukkig en geseënd is (v.17, Lk.11:28, Jk.1:25).

 

Wat is sy wil hierdie verband; hoe moet ons sy woorde toepas? Is ons veronderstel om v.14 altyd letterlik toe te pas en mekaar se voete te was?  Jy kan as jy wil – dit sal nie verkeerd wees nie.  En tog dink ek nie noodwendig dat dít die enigste (of altyd eers die regte) manier is om sy woorde toe te pas nie.  Die punt is eerder dat jy die gesindheid van Jesus moet hê, sodat jy ander mense en hulle belange bo jou eie plaas (Fil.2:3-5).  As jy dít doen, dan sal jou dade altyd ‘n toepassing van hierdie verse wees.  Die Here wil veral hê dat die geestelike leiers die voorbeeld hierin moet stel.  Hier is enkele praktiese maniere hoe jy dit kan toepas:

 

[1] Knip ‘n ou mens se toonnaels en verbind sy of haar bedsere.

 

[2] Was die skottelgoed by die kerk of in iemand anders se huis as julle klaar gekuier het.

 

[3] Sny jou vriende se gras terwyl hulle met vakansie is en tel die hondemis op.

 

[4] Pas iemand se kinders op, sodat hulle kan uitgaan of ‘n in die kerk kan sit en die preek kan hoor.

 

[4] Speel met ‘n kind wat soos ‘n hondjie agter jou aanloop en op jou skouers wil sit.

 

[5] Gesels met ‘n ou mens wat niks het om te doen nie, omdat almal te besig is om met hom of haar te kuier.

 

[6] Bied aan om iemand se klere te was as hulle vir ‘n week nie elektrisiteit of water het nie.

 

[7] Ry iemand winkel toe of kerk toe as hulle nie vervoer het nie. Vat ‘n siek persoon dokter toe.

 

[8] Maak vir iemand kos as hulle ‘n siek familielid in die hospitaal het en dit nie self kan doen nie.

 

[9] Vat ‘n mop en vee die vloer op as iemand anders per ongeluk gemors het.

 

[10] Maak koffie vir iemand wat jou ‘mindere’ is.

 

[11] Doen enigiets wat ander mense se fisiese of geestelike welstand sal bevorder, selfs as jy jou persoonlike gemak daarvoor moet opgee.

 

Uiteindelik moet ons nederige dade nie die fokuspunt wees wanneer ons hierdie hoofstuk toepas nie – Jesus moet die middelpunt wees. As ons dit nie só doen nie, is ons soos kinders wat die pop in die buikspreker se hand bewonder, en nie agterkom dat dit eintlik die buikspreker is wat briljant is nie.

 

[1] D.A. Carson, The Gospel According to John, p.462

[2] Aangehaal in Iain Murray, The Old Evangelicalism, p.110

[3] Op hierdie spesifieke punt het Edward Welch se boek my baie gehelp. Die boek se titel is: Addictions – A Banquet in the Grave, pp.215-216