God se beloftes aan sy kinders

“En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is. Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders; en die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik.” (Romeine 8:28-30).

 


(1) God is goed in voorsienigheid (vers 28)

(2) God is goed in verkiesing (vers 29)

(3) God is goed in verlossing (vers 30)

 

Ek het al in berading mense teëgekom wat volgens hulle gevoel lewe.  As hulle nie soos Christene voel nie, dan betwyfel hulle of hul enigsins Christene is.  As hierdie mense nie die Here se nabyheid voel nie, dan glo hulle met alles in hulle dat die Here hulle verlaat het.  Die meeste mense voel nie die waarheid van God se beloftes wanneer hulle ly nie.  Die Bybel beveel ons dikwels om te leef volgens wat ons wéét en nie volgens wat ons vóél nie.  Let op Paulus se woorde in v.28:  “En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.”  In v.26 sê Paulus dat ons partykeer in ons lyding nie weet hoe en wat ons moet bid nie.  Maar in v.28 leer hy dat ons wel één ding verseker weet:  God sal al hierdie dinge vir ons voordeel uitwerk.  Moet dus nie bekommerd wees omdat jy nie elke klein detail van jou situasie verstaan nie.  Berus jou eerder daarin dat jy weet die uiteinde sal goed wees nie.  Memoriseer, lees, glo, en ken God se kosbare beloftes.  Petrus sê dat God aan “ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het” (2 Pet.1:4).  Ken algemene beloftes soos v.28, Ps.119:68, Matt.7:11.  Hierdie beloftes wys vir ons dat God goed is en goed doen.  Ken ook spesifieke beloftes wat op jou situasie betrekking het.  Dra hierdie beloftes by jou of sit dit op jou yskas.  Hieronder volg verskeie voorbeelde van sulke beloftes wat ons moet ken en weet.

 

Wonder jy soms oor jou verlossing?  God gee hoop en troos in v.28-30:  almal wat in Christus glo en geregverdig word, kan ook verseker weet dat hy uitverkies is en uiteindelik verheerlik sal word.  Omdat Christus die oordeel van sy Vader op Homself geneem het aan die kruis, sal God nooit sy kinders veroordeel nie (v.1).  Die goeie werk wat God in jou begin het sal hy voleindig.  Hy sal jou nooit uitwerp as jy in geloof na Hom toe kom nie, en niemand sal jou ooit uit sy hand uitruk nie.  So leer Fil.1:6, Joh.6:37, 10:28-29.  God verwyder sy kinders se sondes uit hulle harte net so ver soos wat die ooste en die weste van mekaar verwyder is.  God werp ons sondes in die diepste see.  Hy dink nie meer aan ons sondes nie.  Hy reinig ons van hierdie sondes as ons dit aan Hom bely en om vergifnis smeek (Ps.103:10-12, Miga 7:19, Heb.10:17, 1 Joh.1:9). 

 

Is jy benoud of bang oor iets Christen?  God se engel trek ‘n laer om jou.  Roep om aan en Hy sal hulp stuur om jou uit te help.  Hy sal jou ondersteun en bevestig as jy jou sorge op Hom werp.  Hy hou wag oor jou wanneer jy slaap.  Hy is ‘n veilige vesting vir dié wat by Hom skuil.  Hy sal jou met sy sterk arms ondersteun – selfs waar jy deur water en vuur moet gaan.  Jy hoef nie enigiets of iemand te vrees nie.  God sorg selfs vir die mossies.  Hoeveel te meer sal Hy nie vir sy eie kinders sorg nie?  Die duiwel kan nie aan jou raak tensy God nie vir Hom toestemming gee nie.  En selfs dán (soos ons verlede week gesien het) het God iets goed in gedagte vir jou (sien Ps.34:8, 50:15, 55:23, 121:4, Spr.18:10, Jes.41:10, 43:1-2, Matt.10:28-31, Heb.13:6, 1 Joh.5:18). 

 

Is jy depressief?  God het jou lief.  Hy sal nie die geknakte Christen afbreek of sy kersie doodblaas nie.  Hy sal jou bewaar sodat jy nie heeltemal ‘breek’ nie.  Hy sal jou uithelp en uitred uit al jou moeilikhede.  Hy sal die wonde van jou siel verbind en genees (Ps.34:19-21, 147:3, Matt.12:20).  Ook as jy swak is kan jymoed skep, omdat die Here weet hoe broos jy is.  Hy is vol ontferming oor jou.  As jý swak is dan is Hý sterk (Ps.103:13-14, 2 Kor.12:10).  Sukkel jy met jou geldsake?  Die Here sal jou help.  Die Psalmis sê dat hy nog nooit gesien het dat die regverdige se kinders vir brood hoef te bedel nie (Ps.37:25).  God sal sorg dat jy het wat nodig is om te lewe – Hy sal nie van jou vergeet of jou verlaat nie (Fil.4:19, Heb.13:5). 

 

Is daar dinge in jou verlede waarvan jy nie kan vergeet nie?  As jy daardie dinge bely het en ‘n gelowige is, dan is daardie dinge verby – jy hoef nie meer daaroor te bekommer nie.  God hou dit nie teen jou nie.  Die dag sal kom wat jy self ook daarvan vergeet in die hemel (Jes.65:17, 2 Kor.5:17, Heb.8:12).  Ook die toekoms hoef nie vir jou slapelose nagte te bring nie.  God sal vir jou krag gee vir elke dag.  Hy sal jou dra.  Sy genade is elke dag nuut.  Hy is reeds in môre en sal die sorge van môre vir jou dra (Deut.33:25, Ps.68:20, Klaagl.3:22-23, Matt.6:34, Heb.13:8).  Voel jy dalk eensaam of verwerp?  Rom.8:31-39 is goeie medisyne.  Satan mag dalk klagtes teen jou inbring, maar dit help nie omdat God jou reeds geregverdig het.  Niks sal jou van God se liefde kan skei nie. Al verwerp jou familie jou:  God sal jou nooit verwerp nie.  Hy het jou van ewigheid af lief.  Hy sal sorg dat jy mense het wat vir jou lief is en na jou omsien (Ps.27:10, 68:7, Jer.31:3). 

 

In ons besige samelewing voel baie gelowiges uitgeput.  Die Skrif belowe at God vir sy kinders nuwe krag sal gee.  Almal wat moeg en oorlaai is kan vrede en rus vind in Jesus (Jes.40:28-31, Matt.11:28-30).  Vir twyfelaars gee God bemoedigende beloftes.  Waar ons twyfel oor besluite wat geneem moet word sal die Here die rigting aanwys as ons op Hom vertrou (Ps.25:12, 32:8).  Dié wat op Christus vertrou hoef nie te twyfel nie – Hy sal hulle nooit in die steek laat nie (Joh.14:1, Rom.9:33, 2 Tim.2:13). 

 

Wat van versoeking?  Hou goeie moed.  Onderwerp jou aan God en staan vas teen die duiwel.  Hy sal uiteindelik vlug.  God sal nie toelaat dat die versoeking vir jou te groot word nie.  Hy sal ‘n oop deur gee sodat jy kan wegvlug (1 Kor.10:13, Jak.4:7).  Ook vir verslaafdes gelowiges is daar hoop, want as die Seun jou vrygemaak het sal jy waarlik vry wees.  Jy hóéf nie te sondig nie.  Jy is nie sonde se slaaf nie.  God se waarheid maak jou vry (Joh.8:32, 36, Rom.6:14).  Vir die siek gelowiges is daar die wonderlike vooruitsig dat daar in die hemel nooit meer enige siekte sal wees nie (Openb.21:4).  En (laastens) vir die gelowiges wat vrees het vir die dood sê die Bybel:  ons goeie Herder sal by ons wees in die laaste oomblikke van die dood.  Hy sal saam met ons deur die vallei van die dood gaan.  Die dood het geen mag oor dié wat in Christus lewe nie.  Hulle sal lewe al het hulle ook gesterf (Ps.23:4, Joh.11:25). 

 

Noudat jy die bogenoemde beloftes ken en wéét wat God leer, hou Hy jou verantwoordelik (Luk.12:47).  Jy ken v.28 en wéét God is goed en werk alles tot jou voordeel.  Leef dan só.

 

Advertisements

Is God soewerein EN goed in ‘n wêreld vol lyding?

“En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.  Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders; en die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik.” (Romeine 8:28-30).

 

(1) God is goed in voorsienigheid (vers 28)

(2) God is goed in verkiesing (vers 29)

(3) God is goed in verlossing (vers 30)

 

Chuck Templeton was ‘n prediker in die tyd van Billy Graham.  Na ‘n paar jaar in die bediening het hy vir sy vriend gesê:  “Billy, hoe kan jy in ‘n God van goedheid en liefde glo as jy kyk na miljoene Jode wat deur Hitler vermoor is?  Hoe glo jy in ‘n God van liefde as jy na die wêreld oorlog kyk?”  Templeton het die geloof verloën en ‘n pos by ‘n liberale seminarium aanvaar.  Baie ateïste vra dieselfde tipe vraag en ontken God se bestaan.  Maar om dít te doen is soos om te sê:  “Omdat daar goeie dinge in die wêreld gebeur bewys dit vir ons dat daar mense nie sondaars is nie.”  Of erger:  “Omdat daar baie voorregte in hierdie lewe is bewys dit dat daar nie so iets is soos mense nie.”

 

Om só te redeneer sou belaglik wees.  Maar tog kan ons in dieselfde asem sê dat die vraag in ons titel (Is God goed?) nie sommer maar op ‘n non chalante manier beantwoord kan word nie.  Die konteks van Rom.8:28 is ‘n konteks van  oorlog, natuur rampe, uiterste temperature, honger, dors, aborsie, siekte, dodelike diere, gru-moorde, vieslike sonde, baba kissies, die dood, en jou eie lyding (Rom.8:18-27).  Al hierdie verskriklike dinge is God se oordeel as gevolg van die mens se sonde (Rom.8:20).  Alles is nie goed nie, maar ons kan steeds hoop sien (Rom.8:20-25) omdat God alles vir die goeie uitwerk deur die Heilige Gees wat bid (Rom.8:26-28). 

 

Die alles wat God ten goede meewerk sluit onder meer die volgende in:  [i] Versoeking.  Jesus se versoeking het ten goede meegewerk.  Hy is deur die Gees in die woestyn ingelei om deur die duiwel versoek te word, en het in die Gees se krag uitgekom en begin bedien (Luk.4:1-2, 14).  God het nie al die Israeliete se vyande dadelik uit die Beloofde Land verdryf nie.  Hy het van hulle daar gelos sodat die jong Israeliete wat nie oorlog geken het nie, dit kon leer (Rigt.3:1-2, 4).  So verwyder God nie altyd dadelik die oorblywende sonde uit ons harte nie.  Hy wil hê ons moet leer hoe om te veg.  Ons leer nie oorlog in boeke nie.  Ons leer dit op die slagveld.  Skep dan moed wanneer die versoeking nie end kry nie.  God sal dit vir jou voordeel uitwerk. 

 

[ii] Sonde.  Dit is sonde om iemand te steel en as ‘n slaaf te verkoop.  En tog was dit God wat vir Josef vooruit na Egipte toe gestuur het deur sy nare broers wat hom as ‘n slaaf verkoop het (Gen.45:5, 8).  God het geweet dat daar ‘n hongersnood sou kom en Josef was betyds in plek om baie mense se lewens te spaar (Gen.50:20).  Moord is sonde.  Maar die moord op Jesus is vir ons voordeel gewerk sodat ons verlos kon word (Hand.2:23).  Die sondeval self het tot ons voordeel gewerk.  Vóór die sondeval was Adam minder as die engele (so leer Psalm 8).  Maar ná die sondeval is gelowiges met Christus verenig.  In Hóm is ons nou bó die engele verhewe (Heb.2:9, Ef.1:21).  Ons moet die Here loof dat Hy ook ons sonde ten goede laat meewerk.  Maar hierdie feit moenie daartoe lei dat ons genade misbruik nie. 

 

[iii] Swaarkry.  Vóór Job se lyding het hy ‘n intieme verhouding met God gehad.  Maar ná sy lyding het hy God met nuwe oë gesien (Job 42:4).  Deur ons lyding leer ons om nie af te dwaal nie en sien ons ook kosbare dinge in God se Woord wat ons nie andersins sou sien nie (Ps.119:67, 71).  Deur lyding het Paulus God se genade op ‘n hoër vlak beleef en gesmaak en ook God se krag gesien (2 Kor.12:7-10).  Volgens Jakobus en Paulus gebruik God lyding om ons te toets en om ons geloof te versterk (Jak.1:2-4, Rom.5:3-5).  Lyding dryf ons ook weg van sonde af ná Jesus toe (1 Pet.4:1-2).  Gelowiges leer dus hieruit om God te vertrou in lyding – Hy sal ook dít vir ons voordeel werk. 

 

[iv] Elke skepsel.  In die tien plae het God paddas, sprinkane, haal, duisternis, muggies, steekvlieë, siekte, en water vir die voordeel van sy volk Israel gebruik.  Tydens die 40 jaar in die woestyn is rotste, water, wolke, vuur, manna, kwartels, en die see deur God gebruik om sy volk te bevoordeel.  God het perdebye gebruik om die Israeliete se vyande uit Kanaän te verdryf (Eks.23:28).  Selfs die son en maan het stilgestaan om die Israeliete te help in hulle stryd teen hul vyande (sien Josua 10).  Hoekom moes Dawid teen bere en leeus veg?  Om hom voor te berei vir sy stryd teen Goliat (1 Sam.17:34-37).  In1 Konings 17se begin het kraaie (gewoonlik gulsige voëls) brood en vleis gebring vir Elia.  Daniël se vriende het nie gebrand toe hulle in die vuuroond gegooi is nie.  Die leeus het nie vir Daniël gebyt toe hy in die leeukuil was nie.  God het ‘n vis gestuur om vir Jona te help toe hy besig was om te verdrink.  Hy het ook ‘n plant oor sy kop laat groei toe die son warm skyn.  Ook die sterre is onder God se beheer, sodat een ster vir die wyse manne gewys het waar die baba Jesus was.  Op Jesus se woord sou Petrus ‘n vis vang wat ‘n muntstuk in sy mond gehad het.  Daarmee kon hy sy eie en Jesus se belasting betaal (Matt.17:27).

 

[v] Konings.  Die koning se gedagtes is soos ‘n stroompie water in die Here se hande – Hy lei dit waarheen hy wil (Spr.21:1).  In die geskiedenis het God selfs ongelowige konings gebruik om sy volk te bevoordeel (Jes.45:1, Esra 1:1, 6:22, 7:27).  God is die Een wat konings aansteel en weer neerwerp (Dan.2:21).  Die mag wat hulle besit kom van Hom af (Joh.19:10-11).  Gelowiges hoef dus nie te vrees vir diktators nie, want GOD is in beheer.  [vi]  Toeval.  Daar bestaan nie iets soos toeval nie.  Was dit toevallig dat Rut in Boas se koringlande aangekom het en die Messias uit haar lyn gebore is (Rut 2:3)?  Was dit toevallig dat die koeie wat die ark gesleep het nie links of regs afgedraai het nie, maar reguit aangehou loop het (1 Sam.6:7-12)?  Was dit toevallig dat die ‘swerf pyl’ vir koning Agab getref het (1 Kon.22:34)?  Is dit toevallig dat iemand by Emperors Palace se dobbelsteen op twee en vier val en nie op een en ses nie (Spr.16:33)?  Puritein John Flavel vertel die volgende staaltjie om te wys hoe God ‘toeval’ tot die gelowige se voordeel gebruik:

 

There was a good woman who felt that God had left her.  She ended up in such a state of despair that she refused all comfort.  One day, a Minister of the Gospel went to see her. She took a glass from the table and said:  “I am as sure to be damned as this glass is to be broken.”  She threw the glass to the ground with all her strength, but, to the surprise of both of them the glass didn’t break!  The Minister showed her that this was te work of providence and from that time her state of mind greatly improved. (God Willing, Grace Publications, p.12).

 

[vii] Engele en demone.  God het stuur sy engele om gelowiges te help en te beskerm (Ps.91:11-12, Matt.18:10-11, Heb.1:14).  In Job se geval is selfs die duiwel deur God gebruik om vir Job te bevoordeel en geestelike verdieping te bewerkstellig (sien Job 1en 2).  In 1 Kor.5:5 gebruik God die duiwel om die afgedwaalde gelowige weer terug te bring en in 2 Kor.12:7 gebruik God hom om te verhoed dat Paulus hoogmoedig word.  Wonderlik né!  Die duiwel sou wou hê dat Paulus moes sondig, maar God gebruik die duiwel om te kéér dat Paulus sondig!  [viii] Die dood.  Jesus het die sleutels van die dood en die doderyk, sodat die dood geen meer angel het om ons te steek nie (Openb.1:18, 1 Kor.15:55).  Wanneer ‘n gelowige sterf gee die dood hom ‘n hupstoot in die hemel in.  Daarom dat Puritein Thomas Watson sê:  “Though the apostle calls death the last enemy (1 Cor.15:26), yet it is the best friend.  ‘To me to die is gain.’ (Phil.1:21).” (A Body of Divinity, Banner of Truth, p.298).  Gelowige hoef dan nie ‘n slaafse vrees vir die dood te hê nie (Heb.2:15). 

 

[ix] Alles.  Let op die volgende tekste:

 

Die Here het sy troon in die hemel gevestig, en sy koninkryk heers oor alles.” (Ps.103:19). 

 

“Alles wat die Here behaag, doen Hy, in die hemel en op die aarde, in die seë en al die dieptes.” (Ps.135:6).

 

“Die Here van die leërskare het gesweer en gesê:  Waarlik, soos Ek gedink het, so gebeur dit; en soos Ek besluit het, kom dit tot stand…want die Here van die leërskare het dit besluit – wie sal dit kan verydel?  En sy hand is uitgestrek – wie sal dit kan afkeer?” (Jes.14:24, 27).

 

“Dink aan die dinge wat tevore was, van ouds af, dat Ek God is, en daar is geen ander nie; Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie; wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê:  My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen” (Jes.46:9-10).

 

“Wie spreek daar, en dit gebeur?  Het die Here dit nie beveel nie?  Gaan uit die mond van die Allerhoogste nie kwaad sowel as goed nie?” (Klaagl.3:37-38).

 

“En al die aardbewoners word as niks geag nie, en na sy wil handel Hy met die leër van die hemel en die bewoners van die aarde, en daar is niemand wat sy hand kan afslaan en vir Hom kan sê:  Wat doen U nie?” (Dan.4:35).

 

 

 

“En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê:  Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde.” (Matt.28:18).

 

“in Hom in wie ons ook ‘n erfdeel ontvang het nadat ons vantevore daartoe verordineer is ooreenkomstig die voorneme van Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil” (Ef.1:11).

 

God beheer mikroskopiese atome en massiewe sterrestelsels tot die gelowige se voordeel.  In die woorde van Jonathan Edwards:  “Every thing is managed by Christ so as to be most to the advantage of the Christian.  Every particle of air, or every ray of the sun; so that he in the other world, when he comes to see it, shall sit and enjoy all this vast inheritance with surprising, amazing joy.” (Works Volume 2, Banner of Truth, p.617).  Beskou jou probleme reg en vra dán vir jouself die vraag:  “Is God goed?”

Genesis 1, evolusie, en die Evangelie

Die meeste van ons het in Sondagskool geleer dat God die aarde soos volg gemaak het: 

                  
Dag 1:  Lig en duisternis

Dag 2:  Die uitspansel wat die waters van mekaar skei

Dag 3:  Land, see en plante

Dag 4:  Son, maan en sterre (planete)

Dag 5:  Visse (see diere) en voëls

Dag 6:  Land diere en die mens

 

Ons het dit geglo.  Maar êrens in ons tiener en studentejare het ons die pad byster geraak, sodat ons nou glo Genesis 1is net storie.  Party glo dis maar net ‘n gedig.  Die hoofstuk is goed uiteengesit.  Maar behalwe vir 1:27, kan selfs ‘n teologies-geoefende oog geen beeldspraak, parallelismes, of ander Hebreeuse poësievorme (soos gesien in die Psalms) uitsnuffel nie.  Talle teoloë wil vir ons sê dat Genesis 1nie vir ons probeer sê hóé God geskep het nie, maar eerder dát Hy geskep het.  Dit klink soos die liberale teoloog se stelling:  “If it walks like a duck, looks like duck, and quacks like a duck – it must be a camel in disguise.” Genesis 1 sê vir ons hóé God alles gemaak het en hoe lánk dit Hom geneem het (walks, looks, and quacks like a duck).  Om dan te sê dat die skrywer nie vir ons wil sê hóé God geskep het nie, maar slegs dát Hy geskep het (a camel in disguise), is onsin. Genesis 1 wil júís vir ons sê hoe God alles gemaak het. Genesis 1 is nie poësie nie, maar gedetaileerde geskiedenis (daar is wel enkele persone wat glo dis beide).

 

Maar maak dit regtig saak of jy glo Genesis 1is geskiedenis of nie?  Ja dit maak saak, want as jy nie die eerste hoofstukke van die Bybel kan vertrou nie, hoe kan jy glo dat die 1188 hoofstukke wat volg waar is?  Onthou dat die hele Skrif deur God geïnspireer is – ookGenesis 1.  Ons mag nie die Woord van God vervals nie (2 Kor.4:2).  John MacArthur is reg:  “If you tamper withGenesis 1, you are tampering with God’s Word, and God will seriously deal with you.”  Niemand buiten God het bestaan toe die hemel en aarde geskep is nie.  Hoekom glo ons dan nie net die woorde wat Hy inGenesis 1 vir ons laat opteken het nie?  Hoe kan enigiemand buitendien ‘wetenskaplik’ bewys dat die heelal tot stand gekom het deur ‘n spikkel wat ‘n paar biljoen jaar gelede ontplof het?

 

Mense lol graag met die ratwerk van Genesis 1om plek te probeer maak vir die dinousorusse.  Hulle sê byvoorbeeld dat die dae in Genesis 1lang tydperke was, want in Hebreeus kan die woord dag (yôm) ook “tydperk of periode” beteken.  Maar die waarheid is dat ‘dag’ in Genesis 1 niks anders as ‘n tydperk van ‘aand en môre’ beteken nie (soos die einde van elke skeppingsdag aandui).  Buitendien het God die son en maan geskep om seisoene en dae (yôm) en jare aan te dui.  As dít so is dan is Genesis 1 se dae nie verskillend van 2012 se dae nie.  Let ook op hoe Eks.20:8-11 die Hebreeuse woord yôm gebruik:  “Gedenk die sabbatdag, dat jy dit heilig.  Ses dae [yôm] moet jy arbei en al jou werk doen;  maar die sewende dag [yôm] is die sabbat van die Here jou God;  dan mag jy géén werk doen nie – jy of jou seun of jou dogter, of jou dienskneg of jou diensmaagd, of jou vee of jou vreemdeling wat in jou poorte is nie.  Want in ses dae [yôm] het die Here die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, en op die sewende dag [yôm] het Hy gerus.  Daarom het die Here die sabbatdag geseën en dit geheilig.”  Daar is geen goeie rede hoekom die dae inGenesis 1 enigiets anders as gewone dae hoef te wees nie.

 

Sodra mense sien dat die teorie van lang tydperke in Genesis 1nie die toets deurstaan nie, probeer hulle ‘n kontinent vol dinousorusse tussen Gen.1:1 en 1:2 indruk.  Volgens hulle moet Gen.1:2 só vertaal word:  “En die aarde het woes en leeg geword…”.  Met ander woorde, in Gen.1:1 het God ‘n perfekte hemel en aarde geskep.  Tussen verse 1 en 2 het dinosourusse van die planeet af verdwyn, en só het die aarde woes en leeg geword.  In vers 3 herskep God dan die wêreld, sodat Hy in vers 31 kan sê dit is baie goed.  Maar die Hebreeuse vorm “was” in vers 2 beteken in geen ander plek in die Bybel “geword” nie.  Hoekom wil jy Gen.1:2 dan anders hanteer?  En in Openb.21:1 lees ons:  “En ek het ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan…”.  Die geskiedkundige gaping tussen Gen.1:1 en 1:2 bestaan eenvoudig nie.  Hoekom is dit nodig dat ons die teks moet buig om plek te maak vir die dinousorusse?  Hoekom kon hulle nie saam met Adam en Eva in die tuin van Eden geleef het nie? 

 

Vir baie skep die datering en ouderdom van fossiele ‘n probleem, want volgens wetenskaplikes het dinousorusse uitgesterf nog lank voordat die mens op aarde beland het.  Maar is dit waar?  Argeoloog David Down sê:  “I’ve used carbon14 dating.  Frankly, among archaeologists, carbon dating is a big joke.  They send samples to the laboratories to be dated.  If it comes back and agrees with the dates they’ve already decided from the style of pottery, they will say, ‘Carbon14 dating of this sample confirms our conclusions.’  But if it doesn’t agree, they just think the laboratory has got it wrong, and that’s the end of it.  It’s only a showcase.  Archaeologists never (let me emphasize this) never date their finds by carbon14.  They only quote it if it agrees with their conclusions.” (Creation vol.27 no.3, June-August 2005, p.35).  Volgens Creation kan dieselfde kan gesê word van geologie en radiometriese datering.  Dis nogal interessant dat moderne objekte (soos juwele en skoene) al gevind is in rotse wat as oud gedateer is.

 

Wat dan gemaak met dinousorusse en ander ou fossiele?  Die Bybel bied twee antwoorde.  [1] Die aarde het reeds oud gelyk toe dit geskep is (onthou hoe Jesus binne ‘n paar minute water in wyn verander het, sodat dit soos ou wyn geproe het).  Adam en Eva was ‘n paar minute oud toe hulle geskep is, maar het soos volwasse mense gelyk.  Die bome was nie klein spruitjies toe God dit gemaak het nie, maar is as volwasse bome met jaarringe en al geskep.  Ook berge sou oud gelyk het oomblikke nadat dit geskep is.  Sommige sterre se lig neem miljoene jare om die aarde te bereik.  Maar op die vierde skeppingsdag het God nie net die sterre gemaak nie, maar ook in ‘n oomblik die lig wat tussen die ster en die aarde strek (Gen.1:15-16).  [2] Daar was ‘n wêreldwye vloed inGenesis 6-9:  Plate wat skuif, aardbewings, vloedgolwe, water wat deur die aardkors bars, stormsterkte winde, weerlig, en magtige reën vir 40 dae.  Miljoene fossiele sou hierdeur gevorm word.  Die aardoppervlak sou reusagtige verskuiwings ondergaan en gou ‘oud’ lyk. 

 

Buiten vir die ouderdom kwessie, is daar ‘n teologiese kwessie as dinousorusse lank voor die mens uitgesterf het.  Volgens Gen.2:17, 3:17, 21, Rom.5:12, 6:23, 8:20-22 is dood die gevolg van Adam se sonde.  As dood die gevolg van natuurlike prosesse eerder as van God se straf op sonde is, dan was dit onnodig dat Jesus vir ons sonde moes sterf.  Jy sien, uiteindelik het ons dan nie maar net te doen met ‘n keuse tussen Darwin en Moses; tussen die evolusie-teorie enGenesis 1 nie.  Dit word ‘n evangelie kwessie.

Tien bewyse vir Jesus se opstanding

In die verlede was dit net liberale teoloë wat Jesus se liggaamlike opstanding ontken het.  Vandag ontken lidmate en predikante dit.  Hoe antwoord ons die vals leraars en help ons verwarde lidmate reg?  Hier is tien bewyse vir die liggaamlike opstanding van Jesus Christus. 

 

[1] Die vroue het vroegoggend gegaan om Jesus se lyk te balsem (Mark.16:1).  Hulle het nie gegaan met die verwagting dat Hy uit die dood uit opgestaan het nie.  Duidelik was dit nie húlle wat die ‘storie’ van Jesus se opstanding uitgedink of opgemaak het nie.  [2] Die dissipels wou nie glo die graf is leeg nie (Luk.24:11).  Dan is dit eenvoudig nie waar om te sê dat hulle die liggaam gesteel het nie.  Buitendien was die grafsteen verseël en is dit deur Romeinse soldate bewaak (Matt.27:66).  [3] Daar was nie ‘n liggaam in die graf nie en die opgevoude grafklere wys dit was nie werk van grafrowers nie (Joh.20:6-7).  ‘n Rower is haastig en wil nie uitgevang word nie, en daarom los hy dinge deurmekaar.  [4] Die dissipels het vasgehou aan die waarheid van die opstanding en was bereid om daarvoor te sterf.  Ek sal dalk sterf vir ‘n valsheid wat ek vas glo, maar ek sal nie sterf vir iets wat ek opgemaak het en weet is onwaar nie. 

 

[5] Daar was meer as 500 ooggetuies van die opstanding (1 Kor.15:6).  Indien die storie opgemaak is sou iemand daarmee uitgekom het.  [6] Oppad Getsemane toe het Jesus vir sy dissipels gesê dat Hy ná die opstanding vooruit sal gaan Galilea toe en hulle daar ontmoet (Matt.26:32).  Die vroue het hierdie selfde boodskap aan die dissipels oorgedra ná die opstanding.  Waar anders kon die vroue dit gehoor het as by die engel en die opgestane Jesus self (Matt.28:7, 10)?  [7] Met diep droefheid het die vroue graf toe gegaan (Joh.20:11).  Met oorweldigende blydskap is hul daar weg (Matt.28:8).  Die radikale verskil in emosie vóór en ná hulle besoek aan die graf wys vir ons iets van die feitlikheid van Jesus se opstanding.  [8] Die ongelowige soldate self het gesien dat die klip weggerol word en dat die graf leeg is; vir ‘n redelike bedrag geld is die storie verdraai (Matt.28:11-15). 

 

[9] In die Naam van die opgestane Jesus het die apostels mense met organiese siektes genees (Hand.3:2, 6-7, 12-16).  Die ongelowiges self kon dit nie ontken nie (Hand.4:14, 16, 22).  Indien Jesus dood was sou sy Naam geen krag gehad het nie, en sou niemand in sy Naam genees kon word nie.  Ook gebede wat in Jesus se Naam gebid word, word beantwoord.  Indien die Jesus tot wie ons bid nog in die graf is, sal ons gebede nie beantwoord word nie.  [10] In die 21ste eeu nog word sondaars wat geestelik dood was opgewek tot ‘n nuwe lewe, sodat mense nie kan glo dis dieselfde persoon nie.  Hoe verander ‘n geharde sondaar binne oomblikke in ‘n liefdevolle en nederige persoon? 

 

Sonder die liggaamlike opstanding is daar geen troos vir gelowiges wat siekte en pyn verduur in hulle liggame nie.  Sonder die liggaamlike opstanding bestaan daar nie iets soos wedergeboorte en bekering (die opstanding van die siel) nie.  Sonder die liggaamlike opstanding sal óns liggame nie opgewek word wanneer Jesus weer kom nie.  Sonder die liggaamlike opstanding is die dood nie oorwin nie en gaan niemand hemel toe nie.  Sonder die liggaamlike opstanding is Jesus dood en is ons sondes nie vergewe nie.  Sonder die liggaamlike opstanding bestaan die evangelie nie en is ons nie Christene nie.  So leer1 Korintiërs 15.  Daarom bely ek met my hele hart saam met Christene in die geskiedenis:  Jesus leef!