Genesis 1, evolusie, en die Evangelie

Die meeste van ons het in Sondagskool geleer dat God die aarde soos volg gemaak het: 

                  
Dag 1:  Lig en duisternis

Dag 2:  Die uitspansel wat die waters van mekaar skei

Dag 3:  Land, see en plante

Dag 4:  Son, maan en sterre (planete)

Dag 5:  Visse (see diere) en voëls

Dag 6:  Land diere en die mens

 

Ons het dit geglo.  Maar êrens in ons tiener en studentejare het ons die pad byster geraak, sodat ons nou glo Genesis 1is net storie.  Party glo dis maar net ‘n gedig.  Die hoofstuk is goed uiteengesit.  Maar behalwe vir 1:27, kan selfs ‘n teologies-geoefende oog geen beeldspraak, parallelismes, of ander Hebreeuse poësievorme (soos gesien in die Psalms) uitsnuffel nie.  Talle teoloë wil vir ons sê dat Genesis 1nie vir ons probeer sê hóé God geskep het nie, maar eerder dát Hy geskep het.  Dit klink soos die liberale teoloog se stelling:  “If it walks like a duck, looks like duck, and quacks like a duck – it must be a camel in disguise.” Genesis 1 sê vir ons hóé God alles gemaak het en hoe lánk dit Hom geneem het (walks, looks, and quacks like a duck).  Om dan te sê dat die skrywer nie vir ons wil sê hóé God geskep het nie, maar slegs dát Hy geskep het (a camel in disguise), is onsin. Genesis 1 wil júís vir ons sê hoe God alles gemaak het. Genesis 1 is nie poësie nie, maar gedetaileerde geskiedenis (daar is wel enkele persone wat glo dis beide).

 

Maar maak dit regtig saak of jy glo Genesis 1is geskiedenis of nie?  Ja dit maak saak, want as jy nie die eerste hoofstukke van die Bybel kan vertrou nie, hoe kan jy glo dat die 1188 hoofstukke wat volg waar is?  Onthou dat die hele Skrif deur God geïnspireer is – ookGenesis 1.  Ons mag nie die Woord van God vervals nie (2 Kor.4:2).  John MacArthur is reg:  “If you tamper withGenesis 1, you are tampering with God’s Word, and God will seriously deal with you.”  Niemand buiten God het bestaan toe die hemel en aarde geskep is nie.  Hoekom glo ons dan nie net die woorde wat Hy inGenesis 1 vir ons laat opteken het nie?  Hoe kan enigiemand buitendien ‘wetenskaplik’ bewys dat die heelal tot stand gekom het deur ‘n spikkel wat ‘n paar biljoen jaar gelede ontplof het?

 

Mense lol graag met die ratwerk van Genesis 1om plek te probeer maak vir die dinousorusse.  Hulle sê byvoorbeeld dat die dae in Genesis 1lang tydperke was, want in Hebreeus kan die woord dag (yôm) ook “tydperk of periode” beteken.  Maar die waarheid is dat ‘dag’ in Genesis 1 niks anders as ‘n tydperk van ‘aand en môre’ beteken nie (soos die einde van elke skeppingsdag aandui).  Buitendien het God die son en maan geskep om seisoene en dae (yôm) en jare aan te dui.  As dít so is dan is Genesis 1 se dae nie verskillend van 2012 se dae nie.  Let ook op hoe Eks.20:8-11 die Hebreeuse woord yôm gebruik:  “Gedenk die sabbatdag, dat jy dit heilig.  Ses dae [yôm] moet jy arbei en al jou werk doen;  maar die sewende dag [yôm] is die sabbat van die Here jou God;  dan mag jy géén werk doen nie – jy of jou seun of jou dogter, of jou dienskneg of jou diensmaagd, of jou vee of jou vreemdeling wat in jou poorte is nie.  Want in ses dae [yôm] het die Here die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, en op die sewende dag [yôm] het Hy gerus.  Daarom het die Here die sabbatdag geseën en dit geheilig.”  Daar is geen goeie rede hoekom die dae inGenesis 1 enigiets anders as gewone dae hoef te wees nie.

 

Sodra mense sien dat die teorie van lang tydperke in Genesis 1nie die toets deurstaan nie, probeer hulle ‘n kontinent vol dinousorusse tussen Gen.1:1 en 1:2 indruk.  Volgens hulle moet Gen.1:2 só vertaal word:  “En die aarde het woes en leeg geword…”.  Met ander woorde, in Gen.1:1 het God ‘n perfekte hemel en aarde geskep.  Tussen verse 1 en 2 het dinosourusse van die planeet af verdwyn, en só het die aarde woes en leeg geword.  In vers 3 herskep God dan die wêreld, sodat Hy in vers 31 kan sê dit is baie goed.  Maar die Hebreeuse vorm “was” in vers 2 beteken in geen ander plek in die Bybel “geword” nie.  Hoekom wil jy Gen.1:2 dan anders hanteer?  En in Openb.21:1 lees ons:  “En ek het ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan…”.  Die geskiedkundige gaping tussen Gen.1:1 en 1:2 bestaan eenvoudig nie.  Hoekom is dit nodig dat ons die teks moet buig om plek te maak vir die dinousorusse?  Hoekom kon hulle nie saam met Adam en Eva in die tuin van Eden geleef het nie? 

 

Vir baie skep die datering en ouderdom van fossiele ‘n probleem, want volgens wetenskaplikes het dinousorusse uitgesterf nog lank voordat die mens op aarde beland het.  Maar is dit waar?  Argeoloog David Down sê:  “I’ve used carbon14 dating.  Frankly, among archaeologists, carbon dating is a big joke.  They send samples to the laboratories to be dated.  If it comes back and agrees with the dates they’ve already decided from the style of pottery, they will say, ‘Carbon14 dating of this sample confirms our conclusions.’  But if it doesn’t agree, they just think the laboratory has got it wrong, and that’s the end of it.  It’s only a showcase.  Archaeologists never (let me emphasize this) never date their finds by carbon14.  They only quote it if it agrees with their conclusions.” (Creation vol.27 no.3, June-August 2005, p.35).  Volgens Creation kan dieselfde kan gesê word van geologie en radiometriese datering.  Dis nogal interessant dat moderne objekte (soos juwele en skoene) al gevind is in rotse wat as oud gedateer is.

 

Wat dan gemaak met dinousorusse en ander ou fossiele?  Die Bybel bied twee antwoorde.  [1] Die aarde het reeds oud gelyk toe dit geskep is (onthou hoe Jesus binne ‘n paar minute water in wyn verander het, sodat dit soos ou wyn geproe het).  Adam en Eva was ‘n paar minute oud toe hulle geskep is, maar het soos volwasse mense gelyk.  Die bome was nie klein spruitjies toe God dit gemaak het nie, maar is as volwasse bome met jaarringe en al geskep.  Ook berge sou oud gelyk het oomblikke nadat dit geskep is.  Sommige sterre se lig neem miljoene jare om die aarde te bereik.  Maar op die vierde skeppingsdag het God nie net die sterre gemaak nie, maar ook in ‘n oomblik die lig wat tussen die ster en die aarde strek (Gen.1:15-16).  [2] Daar was ‘n wêreldwye vloed inGenesis 6-9:  Plate wat skuif, aardbewings, vloedgolwe, water wat deur die aardkors bars, stormsterkte winde, weerlig, en magtige reën vir 40 dae.  Miljoene fossiele sou hierdeur gevorm word.  Die aardoppervlak sou reusagtige verskuiwings ondergaan en gou ‘oud’ lyk. 

 

Buiten vir die ouderdom kwessie, is daar ‘n teologiese kwessie as dinousorusse lank voor die mens uitgesterf het.  Volgens Gen.2:17, 3:17, 21, Rom.5:12, 6:23, 8:20-22 is dood die gevolg van Adam se sonde.  As dood die gevolg van natuurlike prosesse eerder as van God se straf op sonde is, dan was dit onnodig dat Jesus vir ons sonde moes sterf.  Jy sien, uiteindelik het ons dan nie maar net te doen met ‘n keuse tussen Darwin en Moses; tussen die evolusie-teorie enGenesis 1 nie.  Dit word ‘n evangelie kwessie.