Is God soewerein EN goed in ‘n wêreld vol lyding?

“En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.  Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders; en die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik.” (Romeine 8:28-30).

 

(1) God is goed in voorsienigheid (vers 28)

(2) God is goed in verkiesing (vers 29)

(3) God is goed in verlossing (vers 30)

 

Chuck Templeton was ‘n prediker in die tyd van Billy Graham.  Na ‘n paar jaar in die bediening het hy vir sy vriend gesê:  “Billy, hoe kan jy in ‘n God van goedheid en liefde glo as jy kyk na miljoene Jode wat deur Hitler vermoor is?  Hoe glo jy in ‘n God van liefde as jy na die wêreld oorlog kyk?”  Templeton het die geloof verloën en ‘n pos by ‘n liberale seminarium aanvaar.  Baie ateïste vra dieselfde tipe vraag en ontken God se bestaan.  Maar om dít te doen is soos om te sê:  “Omdat daar goeie dinge in die wêreld gebeur bewys dit vir ons dat daar mense nie sondaars is nie.”  Of erger:  “Omdat daar baie voorregte in hierdie lewe is bewys dit dat daar nie so iets is soos mense nie.”

 

Om só te redeneer sou belaglik wees.  Maar tog kan ons in dieselfde asem sê dat die vraag in ons titel (Is God goed?) nie sommer maar op ‘n non chalante manier beantwoord kan word nie.  Die konteks van Rom.8:28 is ‘n konteks van  oorlog, natuur rampe, uiterste temperature, honger, dors, aborsie, siekte, dodelike diere, gru-moorde, vieslike sonde, baba kissies, die dood, en jou eie lyding (Rom.8:18-27).  Al hierdie verskriklike dinge is God se oordeel as gevolg van die mens se sonde (Rom.8:20).  Alles is nie goed nie, maar ons kan steeds hoop sien (Rom.8:20-25) omdat God alles vir die goeie uitwerk deur die Heilige Gees wat bid (Rom.8:26-28). 

 

Die alles wat God ten goede meewerk sluit onder meer die volgende in:  [i] Versoeking.  Jesus se versoeking het ten goede meegewerk.  Hy is deur die Gees in die woestyn ingelei om deur die duiwel versoek te word, en het in die Gees se krag uitgekom en begin bedien (Luk.4:1-2, 14).  God het nie al die Israeliete se vyande dadelik uit die Beloofde Land verdryf nie.  Hy het van hulle daar gelos sodat die jong Israeliete wat nie oorlog geken het nie, dit kon leer (Rigt.3:1-2, 4).  So verwyder God nie altyd dadelik die oorblywende sonde uit ons harte nie.  Hy wil hê ons moet leer hoe om te veg.  Ons leer nie oorlog in boeke nie.  Ons leer dit op die slagveld.  Skep dan moed wanneer die versoeking nie end kry nie.  God sal dit vir jou voordeel uitwerk. 

 

[ii] Sonde.  Dit is sonde om iemand te steel en as ‘n slaaf te verkoop.  En tog was dit God wat vir Josef vooruit na Egipte toe gestuur het deur sy nare broers wat hom as ‘n slaaf verkoop het (Gen.45:5, 8).  God het geweet dat daar ‘n hongersnood sou kom en Josef was betyds in plek om baie mense se lewens te spaar (Gen.50:20).  Moord is sonde.  Maar die moord op Jesus is vir ons voordeel gewerk sodat ons verlos kon word (Hand.2:23).  Die sondeval self het tot ons voordeel gewerk.  Vóór die sondeval was Adam minder as die engele (so leer Psalm 8).  Maar ná die sondeval is gelowiges met Christus verenig.  In Hóm is ons nou bó die engele verhewe (Heb.2:9, Ef.1:21).  Ons moet die Here loof dat Hy ook ons sonde ten goede laat meewerk.  Maar hierdie feit moenie daartoe lei dat ons genade misbruik nie. 

 

[iii] Swaarkry.  Vóór Job se lyding het hy ‘n intieme verhouding met God gehad.  Maar ná sy lyding het hy God met nuwe oë gesien (Job 42:4).  Deur ons lyding leer ons om nie af te dwaal nie en sien ons ook kosbare dinge in God se Woord wat ons nie andersins sou sien nie (Ps.119:67, 71).  Deur lyding het Paulus God se genade op ‘n hoër vlak beleef en gesmaak en ook God se krag gesien (2 Kor.12:7-10).  Volgens Jakobus en Paulus gebruik God lyding om ons te toets en om ons geloof te versterk (Jak.1:2-4, Rom.5:3-5).  Lyding dryf ons ook weg van sonde af ná Jesus toe (1 Pet.4:1-2).  Gelowiges leer dus hieruit om God te vertrou in lyding – Hy sal ook dít vir ons voordeel werk. 

 

[iv] Elke skepsel.  In die tien plae het God paddas, sprinkane, haal, duisternis, muggies, steekvlieë, siekte, en water vir die voordeel van sy volk Israel gebruik.  Tydens die 40 jaar in die woestyn is rotste, water, wolke, vuur, manna, kwartels, en die see deur God gebruik om sy volk te bevoordeel.  God het perdebye gebruik om die Israeliete se vyande uit Kanaän te verdryf (Eks.23:28).  Selfs die son en maan het stilgestaan om die Israeliete te help in hulle stryd teen hul vyande (sien Josua 10).  Hoekom moes Dawid teen bere en leeus veg?  Om hom voor te berei vir sy stryd teen Goliat (1 Sam.17:34-37).  In1 Konings 17se begin het kraaie (gewoonlik gulsige voëls) brood en vleis gebring vir Elia.  Daniël se vriende het nie gebrand toe hulle in die vuuroond gegooi is nie.  Die leeus het nie vir Daniël gebyt toe hy in die leeukuil was nie.  God het ‘n vis gestuur om vir Jona te help toe hy besig was om te verdrink.  Hy het ook ‘n plant oor sy kop laat groei toe die son warm skyn.  Ook die sterre is onder God se beheer, sodat een ster vir die wyse manne gewys het waar die baba Jesus was.  Op Jesus se woord sou Petrus ‘n vis vang wat ‘n muntstuk in sy mond gehad het.  Daarmee kon hy sy eie en Jesus se belasting betaal (Matt.17:27).

 

[v] Konings.  Die koning se gedagtes is soos ‘n stroompie water in die Here se hande – Hy lei dit waarheen hy wil (Spr.21:1).  In die geskiedenis het God selfs ongelowige konings gebruik om sy volk te bevoordeel (Jes.45:1, Esra 1:1, 6:22, 7:27).  God is die Een wat konings aansteel en weer neerwerp (Dan.2:21).  Die mag wat hulle besit kom van Hom af (Joh.19:10-11).  Gelowiges hoef dus nie te vrees vir diktators nie, want GOD is in beheer.  [vi]  Toeval.  Daar bestaan nie iets soos toeval nie.  Was dit toevallig dat Rut in Boas se koringlande aangekom het en die Messias uit haar lyn gebore is (Rut 2:3)?  Was dit toevallig dat die koeie wat die ark gesleep het nie links of regs afgedraai het nie, maar reguit aangehou loop het (1 Sam.6:7-12)?  Was dit toevallig dat die ‘swerf pyl’ vir koning Agab getref het (1 Kon.22:34)?  Is dit toevallig dat iemand by Emperors Palace se dobbelsteen op twee en vier val en nie op een en ses nie (Spr.16:33)?  Puritein John Flavel vertel die volgende staaltjie om te wys hoe God ‘toeval’ tot die gelowige se voordeel gebruik:

 

There was a good woman who felt that God had left her.  She ended up in such a state of despair that she refused all comfort.  One day, a Minister of the Gospel went to see her. She took a glass from the table and said:  “I am as sure to be damned as this glass is to be broken.”  She threw the glass to the ground with all her strength, but, to the surprise of both of them the glass didn’t break!  The Minister showed her that this was te work of providence and from that time her state of mind greatly improved. (God Willing, Grace Publications, p.12).

 

[vii] Engele en demone.  God het stuur sy engele om gelowiges te help en te beskerm (Ps.91:11-12, Matt.18:10-11, Heb.1:14).  In Job se geval is selfs die duiwel deur God gebruik om vir Job te bevoordeel en geestelike verdieping te bewerkstellig (sien Job 1en 2).  In 1 Kor.5:5 gebruik God die duiwel om die afgedwaalde gelowige weer terug te bring en in 2 Kor.12:7 gebruik God hom om te verhoed dat Paulus hoogmoedig word.  Wonderlik né!  Die duiwel sou wou hê dat Paulus moes sondig, maar God gebruik die duiwel om te kéér dat Paulus sondig!  [viii] Die dood.  Jesus het die sleutels van die dood en die doderyk, sodat die dood geen meer angel het om ons te steek nie (Openb.1:18, 1 Kor.15:55).  Wanneer ‘n gelowige sterf gee die dood hom ‘n hupstoot in die hemel in.  Daarom dat Puritein Thomas Watson sê:  “Though the apostle calls death the last enemy (1 Cor.15:26), yet it is the best friend.  ‘To me to die is gain.’ (Phil.1:21).” (A Body of Divinity, Banner of Truth, p.298).  Gelowige hoef dan nie ‘n slaafse vrees vir die dood te hê nie (Heb.2:15). 

 

[ix] Alles.  Let op die volgende tekste:

 

Die Here het sy troon in die hemel gevestig, en sy koninkryk heers oor alles.” (Ps.103:19). 

 

“Alles wat die Here behaag, doen Hy, in die hemel en op die aarde, in die seë en al die dieptes.” (Ps.135:6).

 

“Die Here van die leërskare het gesweer en gesê:  Waarlik, soos Ek gedink het, so gebeur dit; en soos Ek besluit het, kom dit tot stand…want die Here van die leërskare het dit besluit – wie sal dit kan verydel?  En sy hand is uitgestrek – wie sal dit kan afkeer?” (Jes.14:24, 27).

 

“Dink aan die dinge wat tevore was, van ouds af, dat Ek God is, en daar is geen ander nie; Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie; wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê:  My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen” (Jes.46:9-10).

 

“Wie spreek daar, en dit gebeur?  Het die Here dit nie beveel nie?  Gaan uit die mond van die Allerhoogste nie kwaad sowel as goed nie?” (Klaagl.3:37-38).

 

“En al die aardbewoners word as niks geag nie, en na sy wil handel Hy met die leër van die hemel en die bewoners van die aarde, en daar is niemand wat sy hand kan afslaan en vir Hom kan sê:  Wat doen U nie?” (Dan.4:35).

 

 

 

“En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê:  Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde.” (Matt.28:18).

 

“in Hom in wie ons ook ‘n erfdeel ontvang het nadat ons vantevore daartoe verordineer is ooreenkomstig die voorneme van Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil” (Ef.1:11).

 

God beheer mikroskopiese atome en massiewe sterrestelsels tot die gelowige se voordeel.  In die woorde van Jonathan Edwards:  “Every thing is managed by Christ so as to be most to the advantage of the Christian.  Every particle of air, or every ray of the sun; so that he in the other world, when he comes to see it, shall sit and enjoy all this vast inheritance with surprising, amazing joy.” (Works Volume 2, Banner of Truth, p.617).  Beskou jou probleme reg en vra dán vir jouself die vraag:  “Is God goed?”