Hoekom gaan ons nie op Saterdae kerk toe nie?

“Sewe weke moet jy tel; vandat die sekel die eerste keer in die ongesnyde graan geslaan word, moet jy sewe weke begin tel.  Dan moet jy die fees van die weke hou vir die Here jou God ooreenkomstig die vrywillige offer van jou hand wat jy sal gee, namate die Here jou God jou sal seën.  En jy moet vrolik wees voor die aangesig van die Here jou God, jy en jou seun en jou dogter en jou slaaf en jou slavin en die Leviet wat in jou poorte is, en die vreemdeling en die wees en die weduwee wat by jou is, op die plek wat die Here jou God sal uitkies om sy Naam daar te laat woon.  En jy moet daaraan dink dat jy ‘n slaaf in Egipte was; en jy moet hierdie insettinge sorgvuldig hou.” (Deuteronomium 16:9-12).

 

(1) Wanneer is die fees gehou? (verse 9-11)

(2) Wat het by die fees gebeur? (verse 10-12)

 

‘n Arm man buite ‘n kafee het vir my vriend gevra:  “Hoekom val paasnaweek elke jaar op ‘n ander naweek?”  My vriend het toe aan my die vraag kom stel. Ek het nie geweet nie.  Ek het ook gewonder:  “Ja, hoekom is paasnaweek nie elke jaar die eerste naweek in April of die laaste naweek in Mei nie.”  Hy het ‘n Google search gedoen en die antwoord gekry.  Ek het in daardie selfde week ‘n DVD gekyk en die antwoord gekry.  Die antwoord is eenvoudig.  As die aarde een keer rondom die son gewentel het sê ons dis ‘n jaar.  Maar die Joodse kalender werk nie volgens die son soos óns s’n nie.  Hulle kalender werk volgens die fases van die maan.  Ons jaar het dus 365 dae in en ‘n paar dae minder as dit skrikkeljaar is.  Die Joodse jaar het 353 tot 355 dae, en tussen 383 en 385 dae in ‘n skrikkeljaar (wat net elke sewende jaar is en nie elke vierde jaar soos óns kalender nie).  Vir ‘n Jood is 1 Januarie nie die begin van die nuwe jaar nie.  Vir hulle val nuwejaarsdag êrens in Maart of April.  Die rede?  Want God het gesê dat die maand waarin hulle uit Egipte bevry is die eerste maand van die jaar sal wees vir hulle (Eksodus 12:2).  Paasfees is dan op die 14de dag van hierdie maand (Nisan) gevier (Eksodus 12:6). 

 

Toe Jesus tydens die paasfees gekruisig is, het die fees (14 Nisan) geval op ‘n Vrydag (party glo Jesus is op ‘n Woensdag gekruisig, maar ons sal later sien dat dit níé so is nie).  Toe Jesus dus as ons Paaslam geslag is het Hy híérdie fees vervul (1 Korintiërs 5:7).  Die dag ná Paasfees het die Fees van Ongesuurde Brode begin (Levitikus 23:6).  Gewoonlik sou die vroue ‘n stukkie deeg afknyp en vir ‘n paar dae eenkant sit sodat dit kon ruis.  Daardie stukkie gegiste deeg sou in die groot bol deeg teruggeknie word, en so sou die hele deeg ruis.  Maar hierdie keer was daar nie tyd nie.  Die Israeliete moes haastig uit Egipte uitgaan.  Farao het hulle as’t ware uitgeskop.  Die brood sonder suurdeeg was plat en smaakloos.  Wanneer hulle jaarliks hierdie fees gevier het, sou hulle onthou dat hulle haastig uit Egipte uit is.  Hulle moes nooit verlang om na slawerny terug te keer nie.  God het hulle uitgered.  Daar was ook ‘n ander simboliek in die ongesuurde brood.  Net soos wat ‘n bietjie gis die hele deeg laat ruis, so sou ‘n bietjie sonde ‘n persoon se hele lewe en die lewe van ander benadeel en beïnvloed.  Jesus het dus deur sy kruisdood ons van slawerny aan sonde bevry, die suurdeeg van sonde verwyder, en só die fees vervul (1 Korintiërs 5:6-8). 

 

Nóg ‘n dag later is die eerste sekel van die seisoen in die garslande gesteek.  Die eerstevrug is vir die priester gebring en in die lug gewaai as ‘n beweegoffer (Levitikus 23:10-11).  Die eerstevrug aan die Here was ‘n waarborg dat daar ‘n verdere oes sou wees.  In die woorde van Salomo:  “Vereer die Here uit jou goed en uit die eerstelinge van al jou inkomste; dan sal jou skure vol word van oorvloed en jou parskuipe oorloop van mos.” (Spreuke 3:9-10).  Jesus vervul ook híérdie Fees van die Eerstevrug deurdat Hy die eerstevrug uit die dood is en so ook óns opstanding (geestelik én liggaamlik) waarborg (1 Korintiërs 15:20, 23).  Vyftig dae of sewe weke ná die Sabbat van Ongesuurde Brode was dit die Fees van  Weke (v.9, Levitikus 23:15-16).  ‘n Ander naam vir die Fees van Weke is die Fees van die Oes of Pinksterfees.  Die naam ‘Pinkster’ kom van die Nederlandse woord ‘Pinksteren’ van ‘Pentecost’ beteken.  Die Engelse naam ‘Pentecost’ kom van die Griekse woord Pentekoste wat ‘vyftigste’ beteken.  As ons sewe weke tel ná Jesus se opstanding op die Sondag, of vyftig dae ná die Saterdag wat Jesus in die graf was (die Fees van Ongesuurde Brode), dan val Pinkster in Handelinge 2 op ‘n Sondag.  Só word die Nuwe Testamentiese kerk dan op ‘n Sondag gebore.  Die Fees van Weke is vervul toe die Heilige Gees op Pinksterdag uitgestort is.

 

Moenie dat die Sewendedag Adventiste en ander jou flous deur te sê dat die Rooms-Katoliekekerk en Keiser Konstantyn die Sabbat van ‘n Saterdag na ‘n Sondag verander het nie.  Hulle sal sê dat die sewende rusdag ‘n skeppingsorde is, en dat niemand ‘n skeppingsorde kan verander nie.  Maar as gevolg van die mens se sonde het die skepping tot ‘n val gekom.  Deur Jesus se kruisdood oop die Vrydag en sy opstanding op die Sondag, het Gód ‘n nuwe skepping tot stand gebring:  “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.” (2 Korintiërs 5:17, beklemtoning my eie).  Die nuwe skepping is verseker en geseël deurdat Jesus op die eerste dag van die week opgestaan het uit die dood.  Soos reeds gesien vervul Jesus deur sy opstanding die Fees van die Eerstevrug en deur die uitstorting van die Heilige Gees vervul Hy die Fees van Weke.  Beide hierdie Feeste is op ‘n Sondag vervul, en juis daarom ontmoet gelowiges op ‘n Sondag.  Let maar op hoe die vroeë kerk op ‘n Sondag bymekaargekom het.

 

“Maar ná die dae van die ongesuurde brode het ons van Filíppi uitgeseil en binne vyf dae by hulle in Troas gekom waar ons sewe dae deurgebring het.  En op die eerste dag van die week, toe die dissipels vergader het om brood te breek, het Paulus hulle toegespreek, omdat hy die volgende dag sou vertrek en hy het sy rede gerek tot middernag toe.” (Handelinge 20:6-7).  Hoekom sou Paulus ’n hele sewe dae langer in Troas bly as hy haastig oppad was Jerusalem toe (sien Handelinge 20:16)?  Hy het gewag vir die eerste dag van die week.  Hy het Maandag in Troas aangekom en gewag vir Sondag wanneer die gelowiges op die Here se Dag bymekaarkom.  Op daardie Sondag het die dissipels spesifiek vergader om die nagmaal te vier.  Hier het Paulus ook vir hulle gepreek.

 

“Wat die insameling vir die heiliges betref, moet julle ook so doen soos ek vir die gemeentes van Galásië gereël het.  Op elke eerste dag van die week moet elkeen van julle self opsy sit en opspaar namate sy voorspoed is, sodat die insamelinge nie eers plaasvind as ek kom nie.” (1 Korintiërs 16:1-2).  Net soos al die gemeentes in die Galasië-provinsie het ook die Korintiërs op Sondae bymekaargekom.  Dit was ’n algemene patroon in die Nuwe Testamentiese kerk dat gelowiges op Sondae ontmoet het.

 

In die Ou Testament reeds is dit voorspel dat dit só sou wees.  In Psalm 118:24 lees ons:  “Dit is die dag wat die Here gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees.”  Wat is hierdie dag wat deur die Here gemaak is waarin ons moet bly wees?  Die vorige verse sê vir ons:  “Die steen wat die bouers verwerp het, het ‘n hoeksteen geword.  Dit het van die Here gekom; dit is wonderbaar in ons oë.” (Psalm 118:22-23).  Die dag waarin die verwerpte steen die hoeksteen geword het – dít is die dag waarin ons moet bly wees.  Wanneer is die steen verwerp?  Toe Jesus gekruisig is.  En wanneer het Hy die hoeksteen geword?  Toe God Hom op die eerste dag van die week uit die dode opgewek het.  Petrus het dit só verstaan:  “laat dit bekend wees aan julle almal en aan die hele volk van Israel dat deur die Naam van Jesus Christus, die Nasaréner, wat julle gekruisig het, maar wat God uit die dode opgewek het, dat deur Hom hierdie man gesond voor julle staan.  Hy is die steen wat deur julle, die bouers, verag is, wat ‘n hoeksteen geword het.” (Handelinge 4:10-11).  Dan is die Sondag van Jesus se opstanding die dag waarin ons moet bly wees.  En hierdie Sondag vier ons elke week.

 

Baie van die Ou Testamentiese feeste is vervul.  Christene hoef dus nie ‘n kalender te volg om Jesus se geboorte, dood, hemelvaart, die uitstorting van die Heilige Gees, en ander Christelike dae te vier nie.  Ons hoef ook nie begerig te wees om enige Ou Testamentiese feeste in Jerusalem by te woon nie.  Volgens Kolossense 2:16-17 was hierdie feeste net ‘n skadu van die ewige fees van die hemel en verlossing wat ons in Christus vier:  “Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot ‘n fees of nuwemaan of sabbat nie, wat ‘n skaduwee is van die toekomstige dinge; maar die liggaam behoort aan Christus.”  Ons hoef nie eenmaal ‘n jaar aan Jesus se dood te dink op Goeie Vrydag nie, maar ons doen twee keer ‘n maand so by die nagmaaltafel.  Ons hoef nie eenkeer ‘n jaar sy opstanding te vier nie, maar loof Hom elke Sondag hiervoor en vir ons lewe in Hom.  Ons loof Hom nie net eenkeer ‘n jaar vir hemelvaart en die uitstorting van die Heilige Gees nie.  Ons dank Hom elke keer hiervoor wanneer daar ‘n bekering is, wanneer ons ons eie redding onthou, en wanneer ons tot Hóm bid wat nou in die hemel is.  Uiteindelik sal die hemel self ‘n ewige fees wees (Openbaring 19:7-9).  Die groot vraag is:  Sal jy die fees bywoon?  Of sal jy ook sê dat jy ander dinge het om te doen en nie na die fees toe kan kom nie (Matteus 22:1-14)?