Die moeilikste leerstelling in die Bybel

“En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is. Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders; en die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik.” (Romeine 8:28-30).

 

(1) God is goed in voorsienigheid (vers 28)

(2) God is goed in verkiesing (vers 29)

(3) God is goed in verlossing (vers 30)

 

‘n Vriend van my het in die verlede oor die verderfleer gesê:  “Ek haat dit meer as enige ander leerstelling in die Bybel.”  Hy het natuurlik intussen wyser geword.  Wat presies is die verderfleer?  Die verderfleer is ‘n leerstelling wat basies sê:  “As God mense vir die hemel uitgekies het, is dit logies dat Hy ander uitverkies het om hel toe te gaan.” 1 Tessalonisense 5:9sê:  “Want God het ons nie bestem tot toorn nie, maar om die saligheid te verkry deur onse Here Jesus Christus”.  Nie almal is bestem tot die ewige lewe nie, en daarom kan ons veilig aflei dat sommige bestem is tot toorn.  Verskeie Bybelverse wys dit.

 

“En as God, al wil Hy sy toorn bewys en sy mag bekend maak, tog met groot lankmoedigheid die voorwerpe van toorn wat vir die verderf toeberei is, verdra het” (Romeine 9:22).

 

“Alles het die Here gemaak vir sy doel, ja, ook die goddelose vir die dag van onheil.” (Spreuke 16:4).

 

“Toe Ek saam met hulle in die wêreld was, het Ek hulle in u Naam bewaar.  Oor die wat U My gegee het, het Ek gewaak; en nie een van hulle het verlore gegaan nie, behalwe die seun van die verderf, sodat die Skrif vervul sou word.” (Johannes 17:12).

 

“vir dié wat hulle daarteen stamp, omdat hulle aan die woord ongehoorsaam is, waarvoor hulle ook bestem is.” (1 Petrus 2:8).

 

“Want sekere mense het ingesluip wat lank tevore al opgeskryf is vir hierdie oordeel, goddelose mense wat die genade van onse God verander in ongebondenheid, en die enigste Heerser, God, en onse Here Jesus Christus verloën.” (Judas 4).

 

Hoe moet ‘n gelowige op die uitverkiesingsleer en die verderfleer reageer?  Ons moet God prys vir die uitverkiesing.  Ons moet Hom dank vir sy liefde en genade; vir sy goedheid om ons uit te kies vir verlossing.  Let op hoe Jesus en Paulus presies dít doen:

 

“In dieselfde uur het Jesus Hom in die gees verheug en gesê:  Ek loof U, Vader, Here van die hemel en die aarde, dat U hierdie dinge verberg het vir wyse en verstandige mense en dit aan kindertjies geopenbaar het.  Ja, Vader, want so was dit u welbehae.  Alles is aan My oorgegee deur my Vader; en niemand weet wie die Seun is nie, behalwe die Vader, en wie die Vader is nie, behalwe die Seun en hy aan wie die Seun dit wil openbaar.” (Lukas 10:21-22).

 

“Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus, soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees, deurdat Hy ons voorbeskik het om ons as sy kinders vir Homself aan te neem deur Jesus Christus, na die welbehae van sy wil, tot lof van die heerlikheid van sy genade waarmee Hy ons begenadig het in die Geliefde.” (Efesiërs 1:3-6).

 

Oor die verderf van sondaars moet ons saam met die apostel Paulus treur.  Dit is nie iets waaroor ons bly is nie.  “Ek spreek die waarheid in Christus, ek lieg nie my gewete getuig saam met my in die Heilige Gees dat dit vir my ‘n groot droefheid is en ‘n onophoudelike smart vir my hart.  Want ek sou self kon wens om ter wille van my broers, my stamgenote na die vlees, ‘n vervloeking te wees, wég van Christus af.” (Romeine 9:1-3).  God self het berou oor die verlorenheid van sondaars.  In Esegiël 18:32 sê die Here:  “Want Ek het geen behae in die dood van hom wat sterwe nie, spreek die Here Here.  Bekeer julle dan en lewe.”  Jesus het getreur oor Jerusalem wat haar nie wou bekeer nie (sien Lukas 19:41).  Ons mag dalk wonder hoe God oor sondaars kan treur as Hý bestem het dat hulle verlore gaan?  John Piper probeer hierdie kwessie in sy boek The Pleasures of God aanspreek.  Piper skryf:

 

“A certain Major André had jeopardized the safety of the young nation through ‘rash and unfortunate’ treasonous acts.  Marshall says of the death warrant, signed by Washington, ‘Perhaps on no occasion of his life did the commander-in-chief obey with more reluctance the stern mandates of duty and of policy.’  Dabney observes that Washington’s compassion for André was ‘real and profound.’  He also had ‘plenary power to kill or to save alive.’  Why then did he sign the death warrant?  Dabney explains, ‘Washington’s volition to sign the death-warrant of André did not arise from the fact that his compassion was slight or feigned, but from the fact that it was rationally counterpoised by a complex of superior judgments…of wisdom, duty, patriotism, and moral indignation.’ 

 

Dabney imagines a defender of André, hearing Washington say, ‘I do this with the deepest reluctance and pity.’  Then the defender says, ‘Since you are supreme in this matter and have full bodily ability to throw down that pen, we shall know by your signing this warrant that your pity is hypocritical.’  Dabney responds to this by saying, ‘The petulance of this charge would have been equal to its folly.  The pity was real, but was restrained by superior elements of motive.  Washington had official and bodily power to discharge the criminal, but he had not the sanctions of his own wisdom and justice.’  The corresponding point in the case of divine election is that ‘the absence of a volition in God to save does not necessarily imply the absence of compassion.’  God has ‘a true compassion, which is yet restrained, in the case of the …non-elect, by consistent and holy reasons, from taking the form of a volition to regenerate.’  God’s infinite wisdom regulates his whole will and guides and harmonizes [not suppresses] all its active principles.’

 

In other words, God has a real and deep compassion for perishing sinners.  His expression of pity and his entreaties have heart in them.  There is a genuine inclination in God’s heart to spare those who have committed treason against his kingdom.  But his motivation is complex and not every true element in it rises to the level of effective choice.  In his great and mysterious heart there are kinds of longings and desires that are real – they tell us something true about his character.  Yet not all of these longings govern God’s actions.  He is governed by the depth of his wisdom through a plan that no ordinary human deliberation would ever conceive (Romans 11:33-36;1 Corinthians 2:9).  There are holy and just reasons for why the affections of God’s heart have the nature and intensity and proportion that they do.” (Mentor; ROSS-SHIRE; 2001; pp.147-148).

 

Alhoewel daar so iets soos die verderfleer bestaan, kies sondaars om Jesus te verwerp (sien deel 5 van Is God goed? om die spanning tussen hierdie twee waarhede op te los).  Juis daarom hou God hulle ook verantwoordelik vir hulle sondes.  Jesus self het gesê:  “En julle wil nie na My kom om die lewe te hê nie.” (Johannes 5:40).  Die dryfveer agter God se uitverkiesing is sy liefde en genade.  Die dryfveer agter sy keuse om sondaars te verdoem is sy reg en geregtigheid.  Hierdie kort preek beantwoord nie al die vrae wat ons het nie.  Baie vrae sal nie in hierdie leeftyd beantwoord word nie.  Al wat ons kan doen is om saam met Moses te sê:  “Die verborge dinge is vir die Here onse God; maar die geopenbaarde dinge is vir ons en ons kinders tot in ewigheid, om te doen al die woorde van hierdie wet.” (Deuteronomium 29:29).  Ons taak is nie om aan ongelowiges die uitverkiesingsleer of die verderfleer te verkondig nie, maar Jesus Christus en Hom as gekruisigde.

 

Voor sy bekering het John Bunyan gestry met die vraag of hy uitverkies is of nie.  Ek het al self in my bediening gelowiges ontmoet wat twyfel oor hierdie kwessie:  “Wat as ek nie uitverkies is nie?”, wonder hulle.  Ek het al met ongelowiges te doen gehad wat sê:  “Dit help nie ek glo nie, want dalk is ek nie uitverkies nie.”  My reaksie is eenvoudig dít:  As jy in Jesus glo kan jy seker wees jy is uitverkies.  Handelinge 13:48 sê immers dat almal wat uitverkies is tot geloof sal kom.  Ek wil ook reageer deur vir ongelowiges te sê:  Jy weet nie of jy uitverkies is of nie.  God beveel jou eenvoudig om jou te bekeer en die evangelie te glo; nie om te probeer uitwerk wat in sy ewige gedagtes aangaan nie.  Net gelowiges kan waarlik weet of hulle uitverkies is.  Charles Spurgeon het dit vergelyk met ‘n deur.  Bo die kosyn staan daar:  Bekeer jou en glo in Jesus.  As jy deur die deur gestap het, kan jy omdraai en bokant die ander kosyn kyk.  Daar staan:  uitverkies en tot die ewige lewe bestem.  Slegs dié wat geglo het en hulle bekeer het kan weet dat hulle uitverkies is.  Volgens v.28-30 is roeping (wedergeboorte) en geloof (regverdigmaking) bewyse dat jy deur God verkies is.  2 Petrus 2:10(sien konteks) wys dat gehoorsaamheid die bewys is dat ‘n persoon uitverkies is.  Daarom kan Petrus sê dat ons seker moet maak dat ons uitverkies is.  Die vraag is dan nie of jy die sondaarsgebed gebid het nie, maar of jy nóú die voorgenoemde tekens in jou lewe sien.

 

Ek het een keer in bediening met ‘n vrou te doen gekry wat bekommerd was dat haar kinders dalk nie uitverkies is nie.  Volgens die Bybel gebeur dit dikwels dat kinders van gelowige ouers uitverkies is.  God het juis vir jóú daardie kinders gegee, sodat hulle gedurig die evangelie kan sien en hoor.  Hierdie verband word duidelik in die volgende verse:

 

“En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan.  Ook moet jy dit as ‘n teken bind op jou hand, en dit moet as ‘n voorhoofsband tussen jou oë wees.  En jy moet dit op die deurposte van jou huis en op jou poorte skrywe.” (Deuteronomium 6:6-9).

 

“Maar die goedertierenheid van die Here is van ewigheid tot ewigheid oor die wat Hom vrees, en sy geregtigheid vir kindskinders” (Psalm 103:17).

 

“Wie in sy regskapenheid wandel as ’n regverdige – gelukkig is sy kinders ná hom.” (Spreuke 20:7).

 

“En julle vra:  Waarom?  Omdat die Here getuie is tussen jou en die vrou van jou jeug aan wie jy ontrou geword het, terwyl sy tog jou metgesel is en die vrou van jou verbond.  Het Hy dan nie een mens gemaak nie, hoewel Hy gees oorgehad het?  En waarom die een?  Hy het ‘n geslag van God gesoek.  Neem julle dan in ag ter wille van julle gees en wees nie ontrou aan die vrou van jou jeug nie.” (Maleagi 2:14-15).

 

“Die vader merk toe dat dit daardie uur was waarop Jesus vir hom gesê het:  Jou seun lewe!  En hy het self geglo en sy hele huis.” (Johannes 4:53).

 

“Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep.” (Handelinge 2:39).

 

“hy sal woorde tot jou spreek waardeur jy en jou hele huis gered sal word.” (Handelinge 11:14).

 

“En toe sy en haar huisgesin gedoop is, het sy by ons aangedring en gesê:  As u oordeel dat ek in die Here glo, kom dan in my huis en bly daar.  En sy het ons gedwing.” (Handelinge 16:15).

 

“En hulle het aan hom die woord van die Here verkondig en aan almal wat in sy huis was.  En in dieselfde uur van die nag het hy hulle geneem en hulle wonde gewas, en hy is onmiddellik gedoop, hy en al sy mense.  Toe bring hy hulle in sy huis en sit hulle ‘n maaltyd voor; en hy het hom verheug met sy hele huisgesin dat hy tot geloof in God gekom het.” (Handelinge 16:32-34).

 

“En Crispus, die hoof van die sinagoge, het met sy hele huisgesin in die Here geglo; en ook baie van die Korinthiërs het, toe hulle hom hoor, gelowig geword en is gedoop.” (Handelinge 18:8).

 

“Ek het ook nog die huisgesin van Stéfanas gedoop.  Verder weet ek nie of ek iemand anders gedoop het nie.” (1 Korintiërs 1:16).

 

“Want die ongelowige man is geheilig deur die vrou, en die ongelowige vrou is geheilig deur die man; want anders sou julle kinders onrein wees, maar nou is hulle heilig.” (1 Korintiërs 7:14).  Wanneer dié vers sê die kinders is heilig, beteken dit eenvoudig dat hulle deur God afgesonder is om in ‘n evangelie-konteks groot te word.  Ons kan nie hieruit sê dat hierdie kinders gedoop moet word nie, want anders moet ons die vers konsekwent toepas en sê dat die ongelowige vrou wat deur haar gelowige man ‘geheilig’ is, ook gedoop moet word.

 

Die bogenoemde tekste waarborg nie dat alle gelowige ouers se kinders gered sal word nie.  Daar is die gevalle van Esau, Absalom, en sommige konings van Israel wat ten spyte van hulle gelowige ouers nie gered is nie.  Die bogenoemde tekste regverdig ook nie die kinderdoop nie.  Wat die tekste wel doen is om vir ons te wys dat God dikwels ouers en hulle kinders tot redding bring.  Ouers moenie voortdurend bekommer of hulle kinders uitverkies is of nie.  Hulle taak is eerder om vir hulle kinders te bid en die evangelie met hulle te deel.  In beproewinge van enige soort kan hulle verseker weet dat God die seël van sy ewige liefde op hulle geplaas het (v.28-29, 37-39).  Hulle kan Hom waarlik dank vir sy goedheid in verkiesing.