Sê Hebreërs 6 ‘n Christen kan sy redding verloor?

“En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is. Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders; en die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik.” (Romeine 8:28-30).

 

(1) God is goed in voorsienigheid (vers 28)

(2) God is goed in verkiesing (vers 29)

(3) God is goed in verlossing (vers 30)

 

Tydens my studies het ‘n professor ons vertel van sy vriend in die weermag.  Hy het vertel hoe hierdie man definitief gered was en uiteindelik sy vrou verneuk het, na sonde toe teruggedraai het, en sy redding verloor het.  ‘n Ander man het dieselfde vertel van sý vriend wat óók sy redding verloor het.  Beide hierdie mans wat die stories vertel het, het gesê:  “My vriend was definitief gered.”  Hierdeur het hulle met vaste oortuiging die gevolgtrekking gemaak dat hulle vriende gelowiges was wat hulle redding verloor het.  Dalk ken jý so ‘n persoon en laat sulke stories jou bang word dat jý miskien eendag jou redding kan verloor.  Maar geen gelowige hoef ooit te vrees dat hy sy redding kan verloor nie.  Ons het reeds in die vorige twee preke gesien dat ‘n Christen nie sy redding kan verloor nie – die Skrif maak dit duidelik.

 

Maar wat van Hebreërs 6:4-6, 10:26, 29?  ‘n Noukeurige studie van hierdie verse bewys die teendeel.  Hebreërs 6 byvoorbeeld, moet in konteks gelees word.  In Hebreërs 3-4 lees ons van die Jode wat uit Egipte uitgelei is, God se wonders in die woestyn gesien, maar tog nie die Beloofde Land verkry nie.  Net so het party Jode in die Hebreër-kerk die evangelie verstaan, die Heilige Gees se kragtige werke ervaar, en nie waarlik tot bekering gekom nie.  Hulle het God se wonders in die ‘woestyn’ van hierdie wêreld gesien (Hebreërs 2:1-4), maar sal nie die ‘Beloofde Land’ van die hemel ingaan nie (Hebreërs 6:4-6).  Nêrens in hierdie verse gebruik die Hebreërskrywer die gewone ‘verlossings-terme’ wat op ander plekke in die Nuwe Testament gebruik word nie.  Hy gebruik eenvoudig nie terme soos regverdigmaking, aanneming, geloof, verlossing, redding, heiligmaking, ensovoorts nie.  Wat beteken hierdie terme dan?  Kom ons ondersoek hulle een vir een. 

 

Die skrywer sê hierdie mense het verlig geword.  Hierdie term word wel in 10:32 gebruik van die Hebreër-Christene wat verlos is, maar Johannes 1:9 sê ook vir ons dat God elke mens verlig.  Die verligting praat dus van ‘n algemene openbaring asook van ‘n basiese verstaan van Goddelike waarhede.  Die Hebreërskrywer gaan verder en sê dat hierdie mense die hemelse gawe, die goeie Woord van God, en die toekomstige kragte gesmaak het.  Natuurlik kan smaak ‘n verwysing wees na ‘n blywende ondervinding.  Die Psalmis sê dat ons moet smaak en sien dat die Here goed is.  Maar om te smaak beteken nie altyd dat iemand ‘n reddende ondervinding gehad het nie.  Mense kan ‘n egte ondervinding met die Heilige Gees hê sonder dat dit noodwendig ‘n reddende ondervinding was.  In Jesaja 63 sien ons hoe die Heilige Gees sy kragte aan die Israeliete in die woestyn getoon het.  Hulle het manna gehad en God se wonderwerke gesien.  Hulle ondervinding met God was nie skyn nie – dit was eg.  En tog het hulle nie ‘n reddende ondervinding met Hom gehad nie.  Hulle harte is nie verander nie.  Op die berg Sinaï het hulle die wet van God ontvang en die goedheid van sy Woord gesmaak.  Maar steeds het hulle in hulle sondes volhard.  Judas ‘n goeie voorbeeld van een wat die hemelse gawe, die goeie Woord van God, en die toekomstige kragte gesmaak het, maar van die begin af ‘n ongeredde duiwel was.  Wat die voorgenoemde terme betref kan ons sê dat hulle wel van hierdie dinge gesmaak het, maar hulle het dit nie ‘ingesluk’ en blywend deel gehad hieraan nie.  Jesus het byvoorbeeld die dood gesmaak, maar nie blywend deel gehad daaraan nie omdat Hy die dood deur opstanding oorwin het (2:9).

 

Die skrywer sê dat hierdie mense die Heilige Gees deelagtig geword het.  Is dit nie ‘n duidelike bewys dat hierdie mense gered was nie?  Nee.  Koning Saul en Bileam het ook die Heilige Gees deelagtig geword, want hoe kan iemand profeteer sonder die Heilige Gees (2 Petrus 1:20-21)?  Die Gees het ook die konings van die Ou Testament bekragtig vir hulle werk, maar tog was nie almal wat hulle gered nie.  Die persone in Matteus 7:22 het in Jesus se Naam wonders gedoen, geprofeteer, en duiwels uitgedryf.  En tog sê Jesus dat Hy hulle nooit geken het nie.  In tye van herlewing ondervind baie ongelowiges die Gees se kragtige werkinge voor hulle oë.  Hulle word selfs meegevoer in die magtige werkinge wat Hy doen onder die massas.  Jonathan Edwards praat daarvan in sy boek The Religious Affections.  En tog sê Edwards ook duidelik dat nie al hierdie ondervindinge bewyse van ware redding is nie.  Selfs ongelowiges kan in hierdie sin “die Heilige Gees deelagtig word”.  Net iemand wat end-uit in die geloof volhard het waarlik deelgekry aan Christus en sy Gees.  In God se eie woorde:  “Want ons het deelgenote van Christus geword, as ons net die begin van ons vertroue tot die einde toe onwrikbaar vashou” (Hebreërs 3:14). 

 

Iemand wat dus afvallig word soos vers 6 sê, word nie afvallig van ware reddende geloof in Christus nie.  Hy word eerder afvallig van sy belydenis en van die kerk waarvan hy deel wou wees.  Johannes sê:  “Hulle het van ons uitgegaan, maar hulle was nie van ons nie; want as hulle van ons was, sou hulle by ons gebly het; maar dit moes aan die lig kom dat hulle nie almal van ons is nie.” (1 Johannes 2:19).  Sommige mag wonder:  hoe kan die skrywer praat van mense wat wéér tot bekering kom as hierdie mense nie waarlik gered was nie?  Die antwoord is nie te moeilik nie.  In 12:17 praat die skrywer byvoorbeeld van Esau wat hom wou bekeer.  Hier verwys dit duidelik nie na reddende bekering nie, maar na ‘n begeerte wat hy gehad het om die situasie en die gevolge van sy besluite terug te draai.  In Lukas 17:3-4 sê Jesus dat jy jou broer moet vergewe as hy hom bekeer – al doen hy dit ook sewe keer per dag.  Duidelik verloor hierdie broer nie sewe keer ‘n dag sy redding en bekeer hom elke maal nie.  Hier verwys bekering nie na redding nie.  En so in Hebreërs 6:6 hoef ons nie vanselfsprekend te aanvaar dat hierdie mense wel eens op ‘n tyd gered was nie of dat bekering in hierdie vers gelyk is aan redding nie. 

 

In verse 7-8 gebruik die Hebreërskrywer ‘n illustrasie van die seëninge en prediking van God se Woord wat gereeld op hulle ore en in hulle harte val soos reën.  By party bring hierdie Woord vrug voort, maar by ander is daar net dorings en distels wat opkom.  Waarom die verskil?  Indien daar koring opkom gebeur dit omdat daar koring geplant is.  Waar daar dorings opkom kan ons met sekerheid weet daar was dorings geplant.  Dorings kan nét opkom omdat dit reeds in die sondaar se hart was (sien weer Lukas 6:44-45).  Indien ‘n persoon nie vrug lewer nie, bewys dit dat hierdie persoon ‘n vals gelowige is.  Let ook op dat die skrywer gereeld van ‘hulle’ praat in verse 4-6, maar van ‘julle’ in vers 9.  Die ware gelowiges is dus nie die mense wat hulle rug op die evangelie keer nie.  Die skrywer is nie net oortuig van ‘goeie’ dinge rakende die gelowiges nie (verse 4-6), maar van béter dinge wat spreek van ware redding (verse 9-12). 

 

Hebreërs 10:26, 29 is ook nie te moeilik om te interpreteer nie.  Vers 26 sê:  “Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie”.  Nadat hierdie Jode verstaan het dat die Ou Testament offers in Christus vervul was en dat Hy die finale offer was, wou hulle terugkeer na die Judaïstiese offersisteem.  Die skrywer waarsku hulle dat hierdie offers hulle niks sou help nie en dat dit nie sondes kan wegneem nie.  As hulle opsetlik hulle rug op die evangelie en op Jesus die Offerlam sou draai, sou daar geen hoop vir vergifnis gevind kon word in hulle diereoffers nie.  In vers 29 sê die Hebreërskrywer:  “hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy verdien wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag en die Gees van genade gesmaad het?”  Ons probleem is met die frase “die bloed van die testament waardeur hy geheilig is”.  Kan ‘n persoon wat deur Jesus se bloed geheilig is ongered wees?  En indien iemand die bloed waardeur hy geheilig is vertrap, verwys dit nie duidelik na ‘n persoon wat sy redding verloor nie?  Nee.  Die persoon wat deur die bloed geheilig is verwys nie noodwendig na die sondaar nie.  Dit kan ook na Jesus self verwys.  Hy sê immers van sy kruisdood in Johannes 17:19:  “En Ek heilig Myself vir hulle, sodat hulle ook in waarheid geheilig kan wees.”  Om jouself te heilig beteken nie dat jy jouself van sonde reinig nie, maar eerder dat jy jouself afsonder vir ‘n spesifieke taak of gebruik.  Jesus het Homself afgesonder vir hierdie groot werk aan die kruis.  Dus sê Hebreërs 10:29 dat die sondaar die bloed vertrap waardeur Jesus geheilig is.

 

Maar ‘n beter interpretasie van vers 29 sou wees om te sê dat “geheilig” tog na die sondaar verwys, maar dat dit nie na redding verwys nie.  In 1 Korintiërs 7:14sê Paulus byvoorbeeld dat ‘n ongelowige huweliksmaat en kinders geheilig is deur die gelowige in daardie huisgesin.  Paulus bedoel nie dat die Christen se geloof die ander red nie, maar eerder dat God daardie ongelowiges afgesonder het om in ‘n evangelie atmosfeer te leef sodat ook húlle gered kan word.  So het God die Hebreërs afgesonder en geheilig om in ‘n evangelie atmosfeer te leef en beweeg.  As hulle dit verag en na hulle sondes toe terugkeer, sal hulle ‘n groter straf ontvang as die moordenaar en prostituut.  Die moordenaar en prostituut sondig dikwels uit onkunde.  Die persoon wat die waarheid gesien en verstaan het en dán aanhou in sonde, sondig teen kennis en lig.  Sy straf sal groter wees (sien Lukas 12:47-48).  Dít is wat Hebreërs 10:29 beteken.  Dit het niks daarmee te doen dat ‘n Christen sy redding kan verloor nie.

 

Ten slotte wil ek ‘n paar toepassings maak.  Heel eerste moet ons iets sê vir die persoon wat godsdienstig is en homself mislei oor sy redding.  Moenie jou redding op ‘n vals sekerheid en uiterlike assosiasie met Jesus bou nie.  As jy die waarheid ken maar aanhou om sonde te dien, kan dit wees dat jy teen die Heilige Gees sondig.  Jy is ‘n skynheilige.  God kan jou hart verhard soos Hy met sommige Fariseërs gedoen het, sodat jy nooit weer geestelike lig sal sien nie.  As jy teen die Heilige Gees sondig kan jy nooit vergewe word nie.  Vir die persoon wat dink hy is te sleg sê ek:  Jesus het gekom vir slegte mense.  Jesus het gekom vir mense wat goddeloos is.  Jesus het gekom vir mense wat geestelik siek is (Matteus 9:12-13).  Jesus het vir Paulus gered – die grootste sondaar van almal (1 Timoteus 1:15).  Kan Jesus dan nie ook vir jou red nie?

 

Daar is mense wat vrae het en antwoorde soek.  Hou aan soek.  Die Here belowe dat Hy die soeker sal beloon.  As jy soek sal jy vind.  God sal sy Heilige Gees aan jou gee as jy vra (Lukas 11:9-13).  Is jy ‘n back-slider wat nie baie gepla is dat jy afgedwaal het nie?  Laat Hebreërs 6 en 10 vir jou ‘n waarskuwing wees, want dalk is jý een van dié mense.  As jy in jou sonde volhard sal jy dalk nooit weer ‘n kans kry om jou te bekeer nie.  Maak vandág reg met die Here.  Is jy ‘n back-slider wat bang is die Here sal jou nie terugneem nie?  Die beste wat ek vir jou kan doen is om die Skrif aan te haal en God se eie beloftes vir jou te gee:  “Soek die Here terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is.  Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die Here bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees; en tot onse God, want Hy vergeef menigvuldiglik.” (Jesaja 55:6-7).  “Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die Here, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ‘n hoopvolle toekoms te gee.  Dan sal julle My aanroep en heengaan en tot My bid, en Ek sal na julle luister.  En julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart.” (Jeremia 29:11-13).  Kom soos die verlore seun terug na jou Vader toe.  Hy sal jou tegemoet hardloop, jou omhels, jou seën, en daar sal fees gevier word. 

 

Is jy dalk ‘n persoon wat twyfel en nie weet of jy dalk die Hebreërs 6 en 10tipe persoon is of sal wees nie.  Dis goed om te vrees en van die gevaar af weg te bly.  Maar jy moet ook nie in vrees bly lewe nie.  As God jóú beveel om barmhartig te wees met twyfelaars, kan jy verseker te wees dat Hy geduldig en barmhartig is met jou.  Bloot die feit dat jy oor jou redding twyfel en ‘n verlange het om te weet of God jou Vader is, is ‘n bewys dat jy gered is.  Wie plaas die verlange in jou hart om te weet dat God jou Vader is?  Dis die Heilige Gees (Romeine 8:15, Galasiërs 4:6).  En as jy die Heilige Gees in jou het dan behoort jy aan Christus en dan is God jou Vader (Romeine 8:9).  ‘n Laaste woord moet gesê word vir gelowiges wat goed vorder en mooi groei.  Dank God vir jou redding, maar moenie dink dat jy staan of beter is as ander nie.  Die Skrif waarsku:  “Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.”  Die belangrike ding vir mense uit elkeen van die bogenoemde groepe is om uit ondervinding te weet:  God is goed in verlossing.

Advertisements

Tekste wat bewys ‘n Christen kan sy redding verloor?

“En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is. Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders; en die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik.” (Romeine 8:28-30).

 

(1) God is goed in voorsienigheid (vers 28)

(2) God is goed in verkiesing (vers 29)

(3) God is goed in verlossing (vers 30)

 

‘n Klomp jaar gelede het ‘n paar jong predikante ‘n vriendelike debat gehad oor die volharding van die gelowiges.  Ek het gesê ‘n Christen kan nie sy redding verloor nie.  ‘n Ander predikant het gesê jy kan.  Toe ek met mening op my punt staan en sê:  “’n CHRISTEN KAN NIE SY REDDING VERLOOR NIE”, het ‘n ouer predikant verbygestap en die volgende opmerking gemaak:  “Die sog wat gewas is gaan rol weer in die modder.”  Hierdie woorde kom uit2 Petrus 2:22.  Ek het nie geweet hoe of wat om te antwoord nie.  Het hierdie verse miskien bewys dat ‘n Christen inderdaad sy redding kan verloor?  ‘n Kort tyd later het ek Martyn Lloyd-Jones hieroor gelees en antwoorde gevind.

 

Ons het reeds duidelik uit v.29-30 gesien dat almal wat uitverkies is ook gered word en hemel toe gaan.  Maar wat van mense wat eens op ‘n tyd vurig was oor die Here en dan terugdraai na die wêreld toe?  Een van twee dinge het gebeur.  Òf die persoon is het vir ‘n tyd weggedwaal van die Here af.  In alledaagse terme:  hy is ‘n back-slider.  Gelowiges kan selfs moorde pleeg en gruwelike seksuele sondes pleeg.  Dit is moontlik dat hulle vir maande of selfs langer as ‘n jaar wegdwaal.  Ons sien dit duidelik in die geval van koning Dawid.  Martyn Lloyd-Jones vertel die storie van ‘n man wat vir lank weggedwaal het van die Here.  Hy het egbreuk gepleeg en sy nuwe minares finansieel ingedoen.  Uiteindelik wou hy selfmoord pleeg.  Die Here het hom gekeer, hom laat terugdraai, en hom herstel.

 

Maar dit mag ook wees dat iemand wat uit die kerk wegdraai na die wêreld toe nooit gered was nie (soos die persone in 1 Johannes 2:19).  Daar was ‘n uiterlike verandering sonder dat die hart verander het.  Die persoon het vir ‘n tyd die besmettinge van die wêreld ontvlug (2 Petrus 2:20) sonder dat hy die verdorwenheid ontvlug het (2 Petrus 1:4).  Met ander woorde, die vark keer steeds terug na die modder en die hond na sy uitbraaksel, omdat hul nature nie verander het nie.  Om bloot ‘n vark skoon te spuit of ‘n heining tussen die hond en sy uitbraaksel te span help nie.  Dit is wanneer die vark in ‘n kat verander word dat hy nie meer na die modder sal wil terugkeer nie.  Die persone in 2 Petrus 2:20-22kry kennis van die waarheid sonder dat hulle ‘n nuwe natuur kry.  Daarom draai hulle terug na die sonde toe (sien in Spr.26:11 hoe die dwaas na sy sotheid toe terugkeer juis omdat hy ‘n dwaas is).

 

Maar wat doen ons met 2 Petrus 2:1wat sê dat sekere mense wat deur die Here gekoop is verlore gaan?  Ek kan nie beter antwoord as wat John Gill en Martyn Lloyd-Jones gedoen het nie.  “The word despotes, translated Lord (‘denying the Lord that bought them’), does not designate Christ but God, the Father of Christ.  The only places besides this where this word is used, when applied to a divine person, are Luke 2:29, Acts 4:24, 2 Timothy 2:21, Jude 4, Revelation 6:10, in all which places God the Father is plainly intended, and in most of them manifestly distinguished from Christ.  Nor is there anything in this text or context which obliges us to understand it of the Son of God, nor should this be thought any diminution of the glory of Christ, since the word despotes is properly expressive only of that power which masters have over their servants, whereas the word kurios, which is used whenever Christ is called Lord, signifies that dominion and authority which princes have over their subjects.” (Romans 8:17-39, The Banner of Truth Trust, EDINBURGH, 1975, p.288).

 

Weer sê Gill:  “When these persons are said to be bought – denying the Lord God that bought them – the meaning is not that they were redeemed by the blood of Christ, for, as before observed, Christ is not intended.  Besides, whenever redemption by Christ is spoken of, the price is usually mentioned, or some circumstances or another which fully determines the sense of it…here, is not the least hint of anything of this kind.  Add to this that such who are redeemed by Christ are never left to deny him, so as to perish eternally, for could such be lost, or bring on themselves swift destruction, Christ’s purchase would be in vain and the ransom price be paid for nought…the word ‘buying’ regards temporal deliverance, and particularly the redemption of the people of Israel out of Egypt, who are therefore called the people the Lord had purchased.” (p.289-290). Lloyd-Jones lewer kommentaar op Gill se lering:  “…as the Scripture tells us in many different places, all those who came out of Egypt were not truly the children of God.  ‘They are not all Israel that are of Israel.’  They were not all redeemed, but they were all bought out.  In that sense they were all ‘bought’.  But they were not bought in the sense of being redeemed and regenerated and becoming the children of God.  This is the explanation of2 Peter 2:1.” (p.291).

 

Verskeie Nuwe Testamentiese tekste bots op oog af met die lering van die volharding van die gelowiges.  Maar wanneer ons let op die fyn detail in die verse sien ons dat die Skrif deurgaans konsekwent is.  Hier is dan sewe tekste.  [i] In die gelykenis van die saaier ontvang verskillende groepe persone die Woord.  Net één van hierdie groepe groei en dra vrug – die ander val weg.  Is hierdie nie ‘n verwysing na Christene wat hulle redding verloor nie?  Nee.  Dié wat nie vrug dra nie het geen wortels gehad nie (Matteus 13:21).  ‘n Doringbos dra nie druiwe nie en ‘n distel nie vye nie.  Net so is die rede vir slegte vrug in ‘n persoon se lewe eenvoudig dat hy geen hartsverandering ondergaan het nie.  Hy het nog ‘n hart van klip en is ongered (Lukas 6:44-45).  [ii] In Johannes 6:60, 66 lees ons van dissipels wat nie meer met Jesus gewandel het nie.  Is dit ‘n bewys dat gelowiges hulle redding kan verloor?  Nee, want Jesus sê duidelik van hierdie mense dat hulle nie in Hom geglo het nie (Johannes 6:64). 

 

[iii] Paulus kasty sy liggaam en beoefen selfbeheersing.  Hoekom?  Hy doen dit sodat hy nie, nadat hy vir ánder preek, miskien self verwerplik sou wees nie (1 Korintiërs 9:27).  Die konteks van 1 Korintiërs 9laat nie toe dat ons die vers interpreteer om te beteken dat Paulus sy redding kan verloor nie.  Dit beteken eerder dat hy gediskwalifiseer word as ‘n evangelie-bedienaar en dat hy sy hemelse beloning sal verloor.  Sien 1 Korintiërs 3:9-15vir dieselfde gedagte.  In die laasgenoemde teks is dit duidelik dat die persoon wat sleg bedien wel gered word, maar soos deur vuur heen.  Paulus sê dus glad nie dat ‘n Christen sy redding kan verloor nie.  [iv] In Johannes 15:2, 6 praat Jesus van vrugtelose takke wat van die wingerd afgesny word en in die vuur verbrand word.  Jesus sê dat sy dissipels reeds skoon is deur die woorde wat Hy tot hulle gespreek het (Johannes 15:3).  Wanneer Hy hierdie woorde sê is Judas nie daar nie.  Judas het reeds in hoofstuk 13 uitgegaan om Jesus te verraai.  Net voordat Judas weg is het Jesus gesê dat al sy dissipels behalwe vir Judas, skoon is (Johannes 13:10).  Die takke wat van die wingerd (Christus, 15:1) afgesny word is dus mense soos Judas; mense wat ‘n uiterlike assosiasie met Jesus gehad het, maar onrein en ongered was.  Ons kry dieselfde beeld in Romeine 11:17-24 waar takke van die mak olyfboom (Israel) afgebreek word.  Hierdie Jode was wel God se uitverkore volk, maar was nie weergebore nie.  Net so kan God ongeredde mense wat deel is van die kerk afbreek.  Weereens het ons dan nie ‘n teks wat sê ‘n gelowige kan sy redding verloor nie.

 

[v] Die gelykenis van die tien maagde in Matteus 25 praat ook nie van mense wat hulle redding kan verloor nie.  Hier lees ons van vyf wyse en vyf dwase maagde wat gewag het vir die Bruidegom om te kom.  Die vyf wyse maagde het ekstra olie in hulle lampies gehad.  Die dwase maagde het nie.  Toe die Bruidegom op die drumpel van die deur was het die dwase maagde besef hulle het nie genoeg olie in hulle lampies nie.  Hulle moes gou dorp toe gaan om nog olie te koop, maar toe hulle terugkom was die onthaalsaal se deur toe.  Toe hulle klop om in te kom het die Bruidegom vir hulle gesê:  “Ek ken julle nie.”  Hierdie teks praat van mense wat die voordele van Christenskap soek (die hemel), maar nie bereid is om die verantwoordelikhede te neem wat daarmee saamgaan nie.  Buitendien sê Jesus nooit vir een van sy kinders:  “Ek ken jou nie.”

 

[vi] In Openbaring 2:5, 3:16 dreig Jesus die Efesiërs en Laodisense dat Hy hulle kandelaar gaan verwyder; dat Hy hulle uit sy mond gaan uitspoeg.  Hierdie verse het egter niks met die verlies van ‘n persoon se redding te doen nie, maar eerder daarmee dat Jesus ‘n kerk gaan toemaak.  Verloor al die mense van ‘n sekere gemeente hulle redding wanneer Jesus daardie betrokke kerk se deure sluit?  [vii] Jesus belowe in Openbaring 3:5:  “Wie oorwin, sal beklee word met wit klere, en Ek sal sy naam nooit uitwis uit die boek van die lewe nie, en Ek sal sy naam bely voor my Vader en voor sy engele.”  Party mense sê hierdie teks impliseer dat Jesus tóg ánder mense se name uit die Boek van die Lewe kan en sal uitvee.  Dit is onwaar.  MacArthur waarsku dat ons nie ‘n belofte in ‘n dreigement moet verander nie.  In Hebreërs 13:5 belowe Jesus dat Hy ons nooit sal begewe en nooit sal verlaat nie.  Moet ons hieruit aflei dat Jesus sê:  “Deur hierdie belofte impliseer Ek dat Ek party van my kinders wel sal begewe en verlaat”?  Sekerlik nie.  Openbaring 3:5 bedoel presies wat dit sê:  Jesus sal nooit ons name uit sy boek uitvee nie.  Wanneer Eksodus 32:33 en Psalm 69:29 praat van mense wat uit God se boek uitgevee word, verwys dit nie na dieselfde Boek van die Lewe as in die Nuwe Testament nie.  Wanneer ons gebore word, plaas die regering ons name op ‘n lys van die lewendes (‘n boek voor die tyd van rekenaars).  Wanneer ‘n persoon sterf verskuif sy naam na die rekord van die dooies.  Wat Moses sê is:  “Here, maak my eerder dood as wat U die Israeliete doodmaak.  Vee my naam uit en los húlle name op die rekord van die lewendes.”  Die Psalmis bedoel dieselfde:  “Here, verwyder asseblief my vyande se name van die boek van die lewendes en verskuif dit na die boek van die dooies.”

 

Martyn Lloyd-Jones gee ‘n paar prinsiepe vir interpretasie van moeilike tekste.  Ek het ook ‘n paar van my eie prinsiepe by syne bygevoeg.  As jy in die toekoms met moeilike verse vashak, kan jy hierdie prinsiepe gebruik.  Heel eerste moet jy die bid en die Heilige Gees se hulp vra om die vers te verstaan.  Vertrou dat die Heilige Gees jou sal help wanneer jy die vers oordink.  Verder is dit belangrik dat jy by die Skrif alleen bly en nie waarhede weggooi omdat dit nie logies sin maak vir jou nie.  Sodra jy in die realm van filosofie probeer beweeg gaan jy vasbrand.  Vergelyk Skrif met Skrif.  Indien jy op ‘n teks afkom wat lyk of dit sê ‘n Christen kan sy redding verloor, moet jy dit vergelyk met die ander honderd verse wat sê ‘n Christen kan nie sy redding verloor nie.  Die Bybel kan homself nie weerspreek nie.  Jy moet vir jouself oor die een moeilike vers sê:  “Hierdie vers KAN NIE beteken ‘n gelowige kan sy redding verloor nie, want die res van die Skrif sal nie so ‘n interpretasie toelaat nie.  Die vers móét dus iets anders beteken.”  Interpreteer dus die moeilike verse in die lig van die duidelike verse.  Moenie ‘n lering probeer bou op een enkele moeilike teks nie.  Dit is gewoonlik hoe kultusse tot stand kom.  Doen eksegese.  Haal uit die teks wat daar staan.  Doen woordstudie.  Let op die detail van ‘n bepaalde Skrifgedeelte.  En dan is dit ook belangrik dat jy die konteks bestudeer.  Moenie ‘n vers buite konteks probeer interpreteer nie.  Wat sê die omliggende verse?  Aan wie is hierdie verse geskryf?  Waaroor handel die hoofstuk en die boek?  Antwoorde op sulke vrae behoort jou te help om die vers reg te interpreteer.  Ek hoop jy is oortuig dat ‘n Christen nie sy redding kan verloor nie, en dat God goed is in verlossing.

 

Troos vir Christene wat twyfel oor hulle redding

“En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is. Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders; en die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik.” (Romeine 8:28-30).

 

(1) God is goed in voorsienigheid (vers 28)

(2) God is goed in verkiesing (vers 29)

(3) God is goed in verlossing (vers 30)

 

‘n Vriend van my het vir sy kollegas ‘n bladsy uitgetik met tien redes waarom hy die leerstelling van die volharding van die gelowiges haat.  Hy het intussen van opinie verander.  Laat my toe om tien redes te gee waarom hy verkeerd was, en waarom ‘n gelowige nie sy redding kan verloor nie.  [i] Daar is ‘n goue ketting in v.29-30:  almal wat uitverkies is word ook bestem tot Christus-gelykvormigheid, geroep, geregverdig, en verheerlik.  Spurgeon het gevra hoe enigiemand kan glo daar in die hemel spinnerakke op party gelowiges se krone sal wees, omdat hulle dit nie gemaak het nie.  Watse troos bied v.28-30 vir gelowiges wat lyding ondergaan, indien ‘n Christen sy redding kan verloor.  In Albert Barnes se woorde:  “For how would it be a source of consolation to say to them that whom God foreknew he predestinated, and whom he predestinated he called, and whom he called he justified, and whom he justified ‘might fall away and be lost forever?’” (uit sy kommentaar oor v.30 op E-Sword).

 

[ii] Let op dat die woord ‘verheerlik’ in ‘n verledetydsvorm staan.  Hoe kan Paulus ‘n verledetyd gebruik indien gelowiges nog nie verheerlik is nie?  Hy gebruik die profetiese verledetyd (soos die profete gedoen het, bv. Jesaja 53) om te wys hoe seker en vas dit is dat gelowiges verheerlik sal word.  [iii] In v.1 sê Paulus dat daar geen veroordeling oor is vir dié wat in Christus is nie.  Indien ‘n Christen sy redding kan verloor dan is hierdie vers onwaar.  Ook in v.38-39 sê hy dat niks in hierdie skepping die Christen van God se liefde kan skei nie.  Maar indien ‘n gelowige sy redding kan verloor maak hierdie verse nie sin nie.  [iv] Jesus self het geleer dat ‘n Christen nooit sy redding kan verloor nie.  Luister na die volgende verse uit Johannes.

 

“Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe.” (5:24).  Indien ’n Christen sy redding kan verloor moet ons sê:  party van dié wat in Jesus geglo het kom wél in die oordeel en gaan weer terug van die lewe na die dood.

 

“Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie.  Want Ek het uit die hemel neergedaal, nie om my wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het.  En dit is die wil van die Vader wat My gestuur het, dat al wat Hy My gegee het, Ek daarvan nie sal verloor nie, maar dit opwek in die laaste dag.  En dit is die wil van Hom wat My gestuur het, dat elkeen wat die Seun aanskou en in Hom glo, die ewige lewe mag hê; en Ek sal hom opwek in die laaste dag.” (6:37-40).  Jesus doen altyd sy Vader se wil.  Die Vader se wil is dat Hy nie een van dié wat in Hom glo verlore laat gaan nie.  Indien ’n gelowige sy redding kan verloor, dan moet ons sê dat Jesus nie altyd sy Vader se wil doen nie.  Ook moet ons sê dat Jesus ’n leuenaar is, omdat Hy nie almal wat in Hom geglo het opgewek het op die laaste dag nie.

 

“My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My.  En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie.  My vader wat hulle aan My gegee het, is groter as almal; en niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie.” (10:27-29).  My Griekse professor het gesê:  “Niemand kan jou uit God se hand uitruk nie, maar jy kan jouself uitruk.”  Hy was verkeerd.  Die rede hoekom niemand jou uit die Vader se hand kan ruk nie, is omdat die Vader groter is as almal.  Net as jy groter is as die Vader kan jy jouself losruk.

 

In Johannes 17 verwys Jesus na die uitverkorenes as dié wat sy Vader Hom gegee het.  Hy sal hulle bewaar, sodat hulle nooit verlore gaan nie.  “soos U Hom mag oor alle vlees gegee het, sodat Hy aan almal wat U Hom gegee het, die ewige lewe kan gee…Ek het u Naam geopenbaar aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het.  Hulle het aan U behoort, en U het hulle aan My gegee, en hulle het u woord bewaar… Ek bid vir hulle; Ek bid nie vir die wêreld nie, maar vir die wat U My gegee het, omdat hulle aan U behoort…Heilige Vader, bewaar in u Naam die wat U My gegee het, sodat hulle een kan wees net soos Ons.  Toe Ek saam met hulle in die wêreld was, het Ek hulle in u Naam bewaar.  Oor die wat U My gegee het, het Ek gewaak; en nie een van hulle het verlore gegaan nie, behalwe die seun van die verderf, sodat die Skrif vervul sou word…Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose bewaar…Vader, Ek wil dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook saam met My sal wees, sodat hulle my heerlikheid kan aanskou wat U My gegee het, omdat U My liefgehad het voor die grondlegging van die wêreld.” (17:2, 6, 9, 11-12, 15, 24).

 

[v] Jesus voltooi die werk wat Hy in ons begin het (Filippense).  Hy is ook die Begin en Voleinder van ons geloof (Hebreërs 12:2).  ‘n Gelowige wat sy redding verloor is ‘n refleksie van ‘n Verlosser wat nie sy werk kan voltooi nie.  [vi] In Efesiërs 1:13-14 sê die apostel Paulus dat gelowiges “…verseël is met die Heilige Gees van die belofte, wat die onderpand is van ons erfdeel om sy eiendom te verlos tot lof van sy heerlikheid.”  Met ander woorde, die Heilige Gees is die waarborg wat God aan ons gee dat ons hemel toe gaan.  Indien ‘n Christen sy redding kan verloor was die Heilige Gees ‘n slegte waarborg.  Om dít te sê grens aan godslastering om die minste te sê.  [vii] ‘n Christen kan nie sy redding verloor nie, want ons word bewaar deur God self.  God het ons verlos “sodat ons ‘n onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis kan verkry, wat in die hemele bewaar is vir ons wat in die krag van God bewaar word deur die geloof tot die saligheid wat gereed is om geopenbaar te word in die laaste tyd.” (1 Petrus 1:4-5).

 

[viii] Jesus het gesê dat dié wat in Hom glo die ewig lewe het (Johannes 6:47).  En indien iemand die ewige lewe het en sy redding verloor, dan was sy lewe nooit ewig nie.  Efesiërs 2:6 sê God het ons “saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus”.  Deur ons eenheid met Christus sit ons reeds saam met Hom in die hemele.  Kan dit wees dat iemand wat in die hemele sit uitgewerp word en hel toe gaan?  [ix] God het belowe dat almal wat in Jesus glo die ewige lewe het (Titus 1:2,1 Johannes 2:25).  Omdat God nie kan lieg of sy beloftes kan breek nie kan ‘n gelowige nie sy redding verloor nie.  [x] As gelowiges is ons die liggaam van Christus.  Kan dit wees dat die Hoof ‘n gebreklike liggaam het?  Kan dit wees dat die linkerarm geamputeer is?  Is dit moontlik dat die liggaam in die hemel sonder ‘n groottoon is, of dat die liggaam net één nier het?  Sekerlik nie.

 

Iemand maak dalk beswaar en sê:  “Die bogenoemde leerstelling hits sonde aan.  Om te sê dat ‘n gelowige nie sy redding kan verloor nie sal daartoe lei dat mense sê:  ‘Heiligmaking is nie deel van die goue ketting nie en aangesien ek nie my redding kan verloor nie kan ek sondig soos ek wil.’”  O nee my vriend.  God het ons nie bestem om te sondig soos ons wil nie – Hy het ons bestem om soos Jesus te wees (v.29).  En hoe kan iemand wat dood is vir sy sonde nog aanhou om daarin te lewe (6:1-2).  Iemand wat aanhou in sy sonde is nie dood vir sonde nie, en is daarom nie gered nie.  En iemand wat nie die heiligmaking najaag nie, sal nie vir God sien nie (Hebreërs 12:14).  Buitendien is dit nie waar dat heiligmaking nie deel is van die goue ketting nie.  As regverdigmaking die wegspringpunt en verheerliking die wenstreep is, dan is heiligmaking die resiesbaan.  Verheerliking is die voltooing van heiligmaking.  Daarom praat die Nuwe Testament partykeer van heiligmaking as heerlikheid.  “En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ‘n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is.” (2 Korintiërs 3:18).  Ons groei in heiligmaking – van heerlikheid tot heerlikheid.  Die feit dat party mense gewigsprobleme het beteken nie dat die kos skuldig is nie.  En die feit dat party sondig lewe omdat hulle dink hulle kan lewe soos hulle wil, beteken nie dat hierdie leerstelling skuldig is nie.

 

Wat sal die effek wees indien ‘n persoon glo ‘n gelowige kán sy of haar redding verloor?  Die persoon sal vrees.  Hy sal gedurig wonder of hy dit tot die einde toe gaan maak.  Hierdie persoon sal ook nie enige sekerheid van redding hê nie, want hy weet nooit of hy dalk sal wegval voor die einde nie.  Indien ‘n persoon dink dat hy op grond van sy vrye wil gered en behou word, moet hy vir homself vra:  “Wat as my vrye wil in die hemel wankel soos wat dit op aarde kan gebeur?  Kan ek nie ook soos die duiwel in die hemel sondig en uitgeskop word nie?”  As jou redding oop aarde nie seker is nie, hoekom moet dit in die hemel seker wees?  Verder is dit so dat die persoon wat glo jy kan jou redding verloor die Skrif weerspreek.  Jesus het gesê die huis op die rots kan nie val nie.  Die persoon wat sê ‘n Christen kan sy redding verloor sê die huis op die rots kán val.  As jy die Skrif op één gebied opponeer, wat verhinder dat jy dit binnekort op ánder gebiede sal teenstaan?  Laastens sal die een wat glo jy kan jou redding verloor trots wees en homself op die skouer klop indien hy volhard het.  Wat is die verskil tussen hom en die persoon wat sy redding verloor het?  Sy sterk wilskrag, volharding, en stamina.  Dit is nou as jy jou redding kan verloor.  “Maar wat van Hebreërs 6:4-6 en soortgelyke verse?  Ek sal in die volgende twee dele hierdie verse uitlê.  Maar vir nou kan ons dít sê:  God is goed in verlossing.

 

Regverdigmaking deur die geloof – die hart van die evangelie

“En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is. Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders; en die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik.” (Romeine 8:28-30).

 

(1) God is goed in voorsienigheid (vers 28)

(2) God is goed in verkiesing (vers 29)

(3) God is goed in verlossing (vers 30)

 

‘n Regter in ‘n hof wat ‘n krimineel veroordeel máák nie die persoon sleg nie, maar wys dat hy sleg is.  ‘n Regter wat ‘n persoon onskuldig of regverdig verklaar máák hom nie goed, maar wys dit.  Ludwig Ott van die Rooms-Katoliekekerk skryf in Fundamentals of Catholic Dogma:  “According to the Council of Trent, justification is ‘sanctifying and renewing of the inner man.’” (aangehaal in Wayne Grudem; Systematic Theology; Inter-Varsity Press; NOTTINGHAM; 1994, 2000; p.728).  Maar regverdigmaking verander niks in ‘n persoon se hart nie.  Dit is eenvoudig (soos in die bogenoemde illustrasie) ‘n verklaring dat iemand onskuldig of regverdig is.  In v.33-34 is dit die teenoorgestelde van veroordeling.  Veroordeling doen tog nie iets in die sondaar se hart nie, maar wys net op iets wat reeds waar is van die persoon.  Dieselfde geld vir regverdigmaking:  dit dui op ‘n verklaring wat oor die persoon gemaak word.  Let op hoe die volgende twee verse my punt bewys:

 

“As daar tussen manne ‘n twis is en hulle na die gereg kom en die regters hulle vonnis en die regverdige regverdig verklaar en die skuldige skuldig verklaar” (Deuteronomium 25:1).  Die regter kan mos nie iets in die persoon se hart verander om hom skuldig of onskuldig te máák nie.  Hy verklaar slegs dat dit so is.  Lukas skryf van die volk wat God geregverdig het (7:29).  Dit kan onmoontlik beteken dat mense iets in God se wese of hart verander het.  Dit beteken duidelik dat hulle verklaar het dat Hy regverdig is.  Dít is die betekenis van regverdigmaking.

 

Spreuke 17:15 sê:  “Hy wat die goddelose regverdig verklaar en die regverdige skuldig verklaar, hulle altwee is vir die Here ‘n gruwel.”  Dit gebeur gereeld in ons eie land.  Kriminele word vrygelaat en die onskuldige slagoffer wat die dief doodskiet word beboet of selfs in die tronk gestop.  Maar is God nie self skuldig nie?  Hy het dan die onskuldige Jesus gestraf en regverdig skuldige sondaars.  In 4:5 praat Paulus van Hom wat die goddelose regverdig.  Hoe kan ons hierdie spanning oplos?  James Kennedy gee ’n behulpsame illustrasie in sy beroemde evangelisasie kursus (EE3).  Garcia was ‘n man wat lank gelede gelewe het.  Tydens ‘n oorlog teen ‘n diktator was die voedsel vooraad maar skaars.  Van sy eie mense het kos begin steel.  Garcia het gewaarsku dat indien enigiemand kos sou steel, die persoon gegesel sou word.  ‘n Tyd later het Garcia se manskappe hom ingelig dat iemand kos gesteel het en gestraf moes word.  Die ‘iemand’ was sy eie ma.  Garcia het geweet dat sy bejaarde ma nie die geseling sou kon verduur nie en dat sy onder die houe sou sterf.  Hy wou ook hê dat geregtigheid moes geskied.  Derhalwe het hy besluit om sy hemp uit te trek en die straf namens sy ma te verduur.  So kon Garcia dus sy skuldige ma vrylaat en terselfdertyd ook regverdig wees.

 

Dit is wat God vir ons gedoen het in Christus.  Ons het God se wet oortree en verdien om gestraf te word.  God het ‘n mens geword en ons sondes op Homself geneem aan die kruis.  Dáár het Hy in ons plek die straf vir ons sondes ontvang.  God beskou sy Seun as ‘skuldig’ omdat Hy ons sondes op Homself geneem het.  Sodoende straf God ons sondes en bly Hy tergelyketyd ook regverdig.  Maar dis nie al nie, want ‘n Jesus se kruisdood was net ons sondes weg en gee dus slegs vir ons ‘n skoon rekord.  Vergifnis van sondes alleen is nie genoeg nie.  Jy gaan miskien nie meer hel toe nie, maar jy gaan ook nie hemel toe nie.  Of erger:  dalk sondig jy môre weer en dan is jou rekord wéér negatief.  Wat jy nodig het is ‘n positiewe geregtigheid, en nie bloot ‘n kanselasie van jou negatiewe rekord van sonde nie.  Maar nie te bekommer nie, want ook dít is deur Jesus voorsien.  Jesus het die wet volmaak kom onderhou.  Die rekord van sy volmaakte wetsonderhouding word gratis aan ons geskenk.  En so gebeur dit dan dat God die goddelose kan regverdig.  Hierdie is die ruiltransaksie waarvan ons in2 Korintiërs 5:21lees:  “Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.”  In moderne Afrikaans:  My sonde word syne en sy geregtigheid word myne. 

 

Hoe ontvang jy hierdie geregtigheid?  Nie deur wetsonderhouding nie, want dan probeer jy om die wel te herontwerp.  Jy kon juis nie die wet volmaak onderhou nie, en daarom het Jesus dit namens jou kom doen.  Paulus sê:  “Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke van die wet.” (Romeine 3:28, beklemtoning myne).  Ons word geregverdig deur geloof alleen (5:1).  En hierdie geloof is nie ‘n werk soos wat sommige meen nie.  Geloof is ‘n vaste en volkome vertroue in wie Jesus is en in wat Hy gedoen het:  Hy is God en mens; Hy is sonder sonde gebore en het die wet volmaak onderhou; Hy het die sonde en straf van miljoene sondaars op Homself geneem aan die kruis; Hy het gesterf en is begrawe; Hy het opgestaan uit die dood op die derde dag.  Dís die evangelie.  Almal wat op híérdie Christus en sy werk vertrou sal gered word.

 

Hoe help hierdie leerstelling van regverdigmaking deur die geloof alleen, gelowiges wat swaarkry of twyfel?  Heel eerste is dit nodig dat ek vir jou sê om nie op jou gevoel te lewe nie.  Moenie dink jy is ‘n verlore sondaar omdat jy nie gered vóél nie.  Moenie in depressie verval of na die duiwel luister wat jou voortdurend wil aankla nie.  Luister weer na die apostel se woorde in 8:33-34:  “Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God?  God is dit wat regverdig maak.  Wie is dit wat veroordeel?  Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree.”  As jy op Christus alleen vertrou het, het God jou onskuldig en regverdig verklaar en kan nie eers die duiwel self jou veroordeel nie.  As die hoogste Hof in die heelal jou onskuldig verklaar het – tot wie die duiwel appélleer om die saak te heropen en te probeer omswaai?  Glo die feite van jou regverdiging.  Glo dat die sonde van jou verlede, hede, en toekoms vasgenael is aan die kruis van Jesus (Kolossense 2:14).  Moenie dat jou emosies van depressie en twyfel jou onderkry nie.  Sal God vir Jesus straf vir jóú sondes en jou dan weer straf vir daardie sélfde sondes in die hel?

 

Jy hoef nie te vrees dat die lyding wat jy tans deurmaak God se straf op jou is nie.  Jy hoef nie te vrees dat jy op die oordeelsdag voor Hom gaan staan en dat Hy jou gaan wegwys en hel toe stuur nie.  “Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie…” (v.1).  Jou sondige rekord is skoongewas deur die bloed van Jesus.  Sy geregtigheid is joune.  God beskou jou so volmaak regverdig soos Jesus self.  God tug ons wel, maar frons nie heeltyd oor ons nie.  Vanoggend toe jy opstaan was daar nie ‘n wolk tussen jou en God nie.  Moet dan nie vir jouself sê:  “Die Here straf my seker vir sondes van die verlede” nie.  Moet ook nie, wanneer jou gelowige kinders seerkry, sê:  “Ja, Here straf jou omdat jy nie luister nie.”  Jy leer hulle verkeerd.  Hulle sal soos jy dink as hulle grootword.  Hulle sal dink die Here frons alewig oor hulle.  Hulle sal slawe van ‘n harde meester wees.  Hulle sal lyding in ‘n verkeerde lig beskou.  Leer eerder vir hulle die volgende rympie wat op v.28 gebasseer is.  Jy kan dit gerus ook vir jouself onthou.

 

Lyding werk vir jou voordeel –

Dis nie God se vurige oordeel

 

Die gelowige wat alewig oor sy redding twyfel doen dikwels so omdat hy regverdigmaking en heiligmaking met mekaar verwar.  Hy dink dat hy by God aanvaar word omdat hy opreg en gehoorsaam is.  Hy vergeet dat hy enkel en alleen deur God aanvaar word op grond van Jesus se lewe en dood.  Soms dink twyfelaars ook dat hulle heiligmaking passief is:  God moet alles doen en hulle het geen aandeel in die proses nie.  “Let go and let God” is wat hulle sê.  Sulke mense sal dikwels wetties word (hulle aanvaarding by God is immers gebasseer op hulle ‘performance’).  Óf hulle sal die Keswick-teologie omhels en dink dat dit moontlik is om sondeloos volmaak te wees voordat jy hemel toe gaan (heiligmaking kan ‘n oombliklike verklaring van volmaaktheid wees soos regverdigmaking).

 

‘n Verwarring van die orde van wedergeboorte, regverdigmaking, en heiligmaking kan selfs na openlike kettery lei.  In v.30 sê Paulus duidelik dat wedergeboorte (innerlike roeping) eerste plaasvind in die proses van ons verlossing.  Daarná kan die nuwe lewende skepsel in Christus glo en geregverdig word.  En dáárna begin die proses van heiligmaking totdat hy in die hemel is en verheerlik word.  Ek het al mense teëgekom wat die orde verwar.  Hulle glo dat jy eers geregverdig word deur die geloof en daarna groei in heiligheid.  En as jy heilig genoeg is (God sal besluit wanneer) – dán eers word jy weergebore.  God skenk dus wedergeboorte op grond van ‘n persoon se werke!  Dit is absolute kettery!  Kan jy dink hoe só iemand verward sal wees en twyfel oor sy redding.  Hy sal nooit weet of hy heilig genoeg was om wedergeboorte te verdien nie.  Dit is dus baie belangrik dat ons die orde reg kry en dat ons hierdie leerstelling van regverdigmaking deur geloof alleen REG verstaan.

 

As jy hierdie leerstelling reg verstaan kan jy hoop skep.  Job se vraag in sy lyding was:  “…hoe kan ‘n mens regverdig wees by God?”  Ons het die antwoord:  deur Jesus se volmaakte wetsonderhouding en dood aan die kruis namens ons.  Ons word geregverdig deur geloof in Jesus Christus alleen.  So Christen:  bely dan jou sondes, bekeer jou daarvan, en dank God vir sy goedheid in verlossing.

8 toetse om seker te maak jy’s weergebore

 

“En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is. Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders; en die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik.” (Romeine 8:28-30).

 

(1) God is goed in voorsienigheid (vers 28)

(2) God is goed in verkiesing (vers 29)

(3) God is goed in verlossing (vers 30)

 

Gestel daar is ‘n man wat in ‘n ver land woon.  ‘n Tyd gelede het hy gehoor dat hy moontlik die koning se seun is.  Hy doen alles wat hy kan om sy identiteit vas te stel, want indien hy kan weet die koning is sy pa, kan hy ook weet dat die koninkryk syne is.  Roeping/weergeboorte is die middelste skakel van die goue ketting in Romeine 8:28-30.  As jy kan weet jy’s geroep, kan jy ook weet jy’s uitverkies en gaan hemel toe (v.29-30).  Maar die vraag is:  Hoe weet jy jy’s geroep/weergebore?  1 Johannes is ‘n hele boek wat geskryf is om mense te help met betrekking tot sekerheid oor weergeboorte.  Johannes sê oor die doel van sy skrywe:  “Dit het ek geskrywe aan julle wat glo in die Naam van die Seun van God, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het en kan glo in die Naam van die Seun van God.” (1 Johannes 5:13, beklemtoning my eie).

 

Moet asseblief nie hier ophou lees omdat jy ‘n gelowige is en sekerheid van jou verlossing het nie.  Miskien mislei jy jouself soos die mense in Matteus 7:22-23 van wie Jesus sê:  “Ek het julle nooit geken nie.”  Miskien is jy gereeld in Jesus se teenwoordigheid en ken jy die Bybel, maar raak jy afvallig soos Judas, Demas, of sommige van die Hebreërs (sien Hebreërs 6).  Die Skrif beveel dat jy jouself moet toets om te sien of jy regtig gered is (2 Korintiërs 13:5).  Hier is agt toetse om te sien of jy werklik weergebore is. 

 

Toets #1:  ‘n Persoon wat weergebore is lewe in die lig, bely sy sonde, draai weg van sonde, gehoorsaam die Bybel, leef heilig heilig, en het ‘n skoon gewete.  Hier is die verse wat dit wys.

 

“As ons sê dat ons met Hom gemeenskap het en in die duisternis wandel, dan lieg ons en doen nie die waarheid nie.  Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde.  As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie.  As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.  As ons sê dat ons nie gesondig het nie, dan maak ons Hom tot ‘n leuenaar en is sy woord nie in ons nie.” (1:6-10).

 

“En hieraan weet ons dat ons Hom ken: as ons sy gebooie bewaar.  Hy wat sê:  Ek ken Hom, en sy gebooie nie bewaar nie, is ‘n leuenaar en in hom is die waarheid nie.  Maar elkeen wat sy woord bewaar, in hom het die liefde van God waarlik volmaak geword.  Hieraan weet ons dat ons in Hom is.  Hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het.” (2:3-6).

 

“As julle weet dat Hy regverdig is, dan weet julle dat elkeen wat die geregtigheid doen, uit Hom gebore is.” (2:29).

 

“Elkeen wat in Hom bly, sondig nie.  Elkeen wat sondig, het Hom nie gesien en Hom nie geken nie…Elkeen wat uit God gebore is, doen geen sonde nie, omdat sy saad in hom bly; en hy kan nie sondig nie, want hy is uit God gebore.  Hierin is die kinders van God en die kinders van die duiwel openbaar:  elkeen wat die geregtigheid nie doen nie, is nie uit God nie…” (3:6, 9-10a).

 

“En hieraan weet ons dat ons uit die waarheid is; en ons sal ons harte voor Hom gerusstel, want as ons hart ons veroordeel, God is meer as ons hart, en Hy weet alles.  Geliefdes, as ons hart ons nie veroordeel nie, dan het ons vrymoedigheid teenoor God” (3:19-21).

 

“En hy wat sy gebooie bewaar, bly in Hom, en Hy in hom…” (3:24a).

 

“Ons weet dat elkeen wat uit God gebore is, nie sondig nie…” (5:18).

 

Pla jou gewete jou as gevolg van sonde wat jy wegsteek en vertroetel?  As jy daarmee aanhou gaan dit jou uiteindelik inhaal (Numeri 32:23).  As jy jou sonde wegsteek sal jy nie voorspoedig wees nie, maar as jy dit bely en laat staan sal God barmhartig oor jou wees (Spreuke 28:13).

 

Toets #2:  As jy weergebore is sal jy lief wees vir ander Christene.  Jou liefde sal in praktiese dade gewys word, asook daarin dat jy hulle geselskap geniet.  Johannes skryf:

 

“Hy wat sê dat hy in die lig is en sy broeder haat, is in die duisternis tot nou toe.  Wie sy broeder liefhet, bly in die lig, en in hom is geen oorsaak van struikeling nie.  Maar hy wat sy broeder haat, is in die duisternis en wandel in die duisternis en weet nie waarheen hy gaan nie, omdat die duisternis sy oë verblind het.” (2:9-11).

 

“Hierin is die kinders van God en die kinders van die duiwel openbaar:  elkeen wat die geregtigheid nie doen nie, is nie uit God nie, en hy ook wat sy broeder nie liefhet nie.” (3:10).

 

Ons weet dat ons oorgegaan het uit die dood in die lewe, omdat ons die broeders liefhet.  Hy wat sy broeder nie liefhet nie, bly in die dood.  Elkeen wat sy broeder haat, is ‘n moordenaar; en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe as iets blywends in hom het nie.  Hieraan het ons die liefde leer ken, dat Hy sy lewe vir ons afgelê het; en ons behoort ons lewe vir die broeders af te lê.  Maar wie die goed van die wêreld het en sy broeder sien gebrek ly en sy hart vir hom toesluit, hoe bly die liefde van God in hom?  My kinders, laat ons nie liefhê met woorde of met die tong nie, maar met die daad en in waarheid.” (3:14-18).

 

“Geliefdes, laat ons mekaar liefhê; want die liefde is uit God, en elkeen wat liefhet, is uit God gebore en ken God.  Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde…Niemand het God ooit aanskou nie.  As ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons volmaak geword…En ons het die liefde wat God tot ons het, leer ken en geglo.  God is liefde; en hy wat in die liefde bly, bly in God, en God in hom.” (4:7-8, 12, 16).

 

“Elkeen wat glo dat Jesus die Christus is, is uit God gebore; en elkeen wat die Vader liefhet, het ook die een lief wat uit Hom gebore is.” (5:1).

 

Is jy hard en genadeloos met arm Christene?  Is jy selfsugtig, sodat jy alles vir jouself wil hou?  Het jy ‘n wrok teen iemand?  Weier jy om ‘n sekere broer of suster te vergewe?  Maak reg.  Laat staan jou bitterheid en vergewe hulle soos God in Christus jou ook vergewe het (sien Efesiërs 4:31-32). 

 

Toets #3:  ‘n Weergebore persoon is nie wêrelds nie, maar oorwin die wêreld.  Let op die volgende drie tekste.

 

“Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie.  As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie.  Want alles wat in die wêreld is – die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe – is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld.  En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.” (2:15-17).

 

“Want alles wat uit God gebore is, oorwin die wêreld; en dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin het, naamlik ons geloof.  Wie anders is dit wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is?” (5:4-5).

 

“Ons weet dat ons uit God is en die hele wêreld in die mag van die Bose lê.” (5:19).

 

Is jy lief vir die wêreld se kuierplekke, musiek, modes, films, geselskap, gewoontes, taal, ens.?  Indien wel, dan is God teen jou (Jakobus 4:4).  Keer soos die verlore seun, terug na die Vader toe. 

 

Toets #4:  ‘n Ware gelowige volhard.  “Hulle het van ons uitgegaan, maar hulle was nie van ons nie; want as hulle van ons was, sou hulle by ons gebly het; maar dit moes aan die lig kom dat hulle nie almal van ons is nie.” (2:19).  Iemand wat wegval is nie ‘n Christen wat sy redding verloor nie.  Eerder:  hy was nooit ‘n Christen nie.  Toets #5:  Iemand wat weergebore is glo in die Jesus van die Bybel.  Hy glo dat Jesus volkome God is.  Hy glo dat Jesus volkome mens is.  Hy glo dat Jesus die Messias, Verlosser, en Middelaar is.

 

“Wie is die leuenaar, behalwe hy wat ontken dat Jesus die Christus is?  Dit is die Antichris wat die Vader en die Seun loën.  Elkeen wat die Seun loën, het ook nie die Vader nie.  Wat julle dan van die begin af gehoor het, laat dit in julle bly.  As in julle bly wat julle van die begin af gehoor het, dan sal julle ook in die Seun en in die Vader bly.” (2:22-24).

 

“Elkeen wat bely dat Jesus die Seun van God is – God bly in hom, en hy in God.” (4:15).

 

“Elkeen wat glo dat Jesus die Christus is, is uit God gebore…” (5:1a).

 

“Wie in die Seun van God glo, het die getuienis in homself. Hy wat God nie glo nie, het Hom tot leuenaar gemaak, omdat hy die getuienis nie geglo het wat God aangaande sy Seun getuig het nie.  En dit is die getuienis:  dat God ons die ewige lewe gegee het, en dié lewe is in sy Seun.  Hy wat die Seun het, het die lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie.  Dit het ek geskrywe aan julle wat glo in die Naam van die Seun van God, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het en kan glo in die Naam van die Seun van God.” (5:10-13).

 

Persone wat sê Jesus was net ‘n mens en nie God ook nie, is nie Christene nie.  Iemand wat sê Jesus was nie ‘n mens nie, maar is net ‘n gees, is nie weergebore nie.  Iemand wat sê Jesus is nie die Messias nie, is nie ‘n Christen nie.  Iemand wat sê Jesus is nie die enigste weg nie, is ongered.  Iemand wat deur Maria of voorvader geeste tot God wil bid, is nie nie Christene nie. 

 

Toets #6:  Die gebede van ‘n persoon wat weergebore is, word beantwoord. 

 

“en wat ons ook al bid, ontvang ons van Hom…” (3:22).

 

En dit is die vrymoedigheid wat ons teenoor Hom het, dat Hy ons verhoor as ons iets vra volgens sy wil.  En as ons weet dat Hy ons verhoor, dan weet ons dat, wat ons ook al vra, ons die bedes verkry wat ons van Hom gevra het.” (5:14-15).

 

Het jy konkrete bewyse van antwoorde op gebed? 

 

Toets #7:  Die Heilige Gees woon in iemand wat waarlik weergebore is.

 

“…En hieraan weet ons dat Hy in ons bly aan die Gees wat Hy ons gegee het.” (3:24).

 

“Hieraan weet ons dat ons in Hom bly en Hy in ons, dat Hy ons van sy Gees gegee het.” (4:13).

 

Dra jy die vrug van die Heilige Gees?  Bewys jou liefde, blydskap, vriendelikheid, liefde, selfbeheersing, en ander kwaliteite dat die Heilige Gees in jou is (sien Galasiërs 5:22)?

 

Toets #8:  Een wat waarlik weergebore is glo en aanvaar die Woord wat deur die apostels en profete geskryf is.  “Ons is uit God; hy wat God ken, luister na ons; hy wat nie uit God is nie, luister nie na ons nie.  Hieruit ken ons die Gees van die waarheid en die gees van die dwaling.” (4:6).  Is jy skepties en krities oor die Bybel?  Ek praat nie van opregte verwarring oor sekere dinge in die Bybel nie, maar eerder van mense wat met ‘n spottende oog die Bybel bevraagteken.

 

Net as jy al agt hierdie toetse slaag kan jy weet jy’s weergebore.  En net as jy weergebore is, kan jy weet jy’s gekies en gaan hemel toe.  En net as jy dít weet, kan jy weet God is goed in verlossing.  As jy die toets druip is God genadig:  bekeer jou en glo die evangelie.

Meer mense in die hemel as in die hel? Waarskynlik…

“En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is. Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders; en die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik.” (Romeine 8:28-30).

 

(1) God is goed in voorsienigheid (vers 28)

(2) God is goed in verkiesing (vers 29)

(3) God is goed in verlossing (vers 30)

 

Een van my dogters het my ‘n tyd gelede gevra hoe groot ‘n olifant en ‘n blouwalvis is.  Ek het op die internet vir haar gewys hoe groot ‘n olifant teen ‘n mens is, en hoe groot ‘n blouwalvis teen ‘n mens is.  Die feit dat ek dit in perspektief vir haar gewys het, het haar laat verstaan hoe groot hierdie diere regtig is.  Wanneer ons sketse van die son of van groot sterre sien, dan waardeer ons dit nie tensy ons dit in vergelyking met die grootte van die aarde sien.  Eers dán besef ons hoe groot die son regtig is; eers dán besef ons dat die aarde nie eers ‘n spikkel is teen die grootste sterre in ons heelal nie.

 

Romeine 8:15-17 sê dat alle gelowiges seuns/kinders van God is.  Maar Jesus is ook die Seun van God (v.29).  Hoe is Hy op ‘n verskillende manier die Seun van God as wat óns is?  Hy is op ‘n unieke manier die Seun van God – die eniggebore (letterlik ‘unieke’) Seun van God soos wat Johannes 3:16 sê.  Daarom kon Jesus in Johannes 20:17 vir Maria Magdalena sê:  “…gaan na my broeders en sê vir hulle:  Ek vaar op na my Vader en julle Vader, en my God en julle God.”  Deur Jesus se kruisdood en ons nou dieselfde God en Vader as Hy.  Maar tog is God nog op ‘n unieke manier die Seun van God.  In Jesus se geval beteken “Seun van God” dat Hy God self is.  So het die Jode dit verstaan (sien Johannes 5:18, 10:33, 36). 

 

God maak ons soos Jesus sodat Hý die eersgeborene kan wees; sodat ons Jesus se heerlikheid en grootheid in perspektief kan sien (v.29).  Hy is soos die magtige blouwalvis en reusagtige sterre wie se grootte nie waardeer word, totdat dit met ‘n mens of die aarde vergelyk word nie.  Jesus se grootheid en heerlikheid word meer waardeer wanneer Jesus met ánder seuns van God vergelyk word.  Ons sal in die hemel sien hoe Jesus se volmaakte heiligheid groter en skoner is as ons s’n (ja, een soort volmaaktheid kan inderdaad wonderliker as ‘n ander soort volmaaktheid wees).

 

Hoekom noem Paulus gelowiges broers?  Hoekom nie broers én susters nie?  Hierdie het niks met chauvinisme te doen nie.  Paulus het niks teen vroue nie.  In die Joodse kultuur was die eersgebore seun as die erfgenaam beskou (ten minste in ‘n groter sin as die jonger broers).  Dogters is nie in die testament ingereken nie (behalwe in uitsonderlike gevalle soos in Numeri 27:1-11).  Jesus as die eersgebore Seun (v.29) beteken nie (soos sommige wil voorgee) dat Hy geskep is nie.  Hy is nie geskep nie.  Die eersgebore reg wys eenvoudig dat Hy die hoofergenaam is (so ook in Kolossense 1:15, 18).  Hy erf alles en ons as sy broers ontvang ons erfenis in Hom (v.29, 17).  Dit is in teen híérdie agtergrond wat ons verse soos Matteus 25:34 en1 Korintiërs 1:21-23moet verstaan:

 

“Dan sal die Koning vir die wat aan sy regterhand is, sê:  Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af.”

 

“Laat niemand dan op mense roem nie, want alles behoort aan julle; of dit Paulus is of Apollos of Céfas of die wêreld of lewe of dood of teenswoordige of toekomstige dinge – alles behoort aan julle; maar julle behoort aan Christus, en Christus aan God.” (1 Korintiërs 3:21-23).

 

Hoe verkry ons hierdie erfdeel?  ‘n Erfporsie kan alleen verkry word indien die een wat die testament opgestel het, sterf.  Dit het inderdaad gebeur.  Jesus (die Testament-maker) het gesterf.  Deur sy kruisdood verkry ons die erfdeel (Hebreërs 9:16-17).  Jy kan slegs erf indien jou naam in die testament geskryf staan; indien jy deur uitverkiesing ‘n erfgenaam is.  Staan jou naam in die testament?  Indien jy in Christus glo kan jy verseker wees dat jou naam in die testament is en dat jy ‘n erfgenaam van die hemel is.  Paulus praat van mense wat saam met hom vir die evangelie stry wie se name in die boek van die lewe is (Filippense 4:3).  Mense wie se name in hierdie boek geskryf is moet daaroor jubel en bly wees (Lukas 10:20).  Jou naam kan immers nooit uit God se boek uitgevee word nie (Openbaring 3:5).  Dié wie se name níé in die boek van die lewe geskryf is nie moet sidder, want “…as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp.” (Openbaring 20:15).

 

Nóg ‘n toepassing uit v.29 is dat ons net in Christus broers kan wees (Hy is mos die ‘oudste’ broer).  Net in Hóm kan ons dieselfde Vader hê.  Dit is van Christene wat die Hebreërskrywer sê:  “Want Hy wat heilig maak, sowel as hulle wat geheilig word, is almal uit Een; om hierdie rede skaam Hy Hom nie om hulle broeders te noem nie, wanneer Hy sê:  Ek sal u Naam aan my broeders verkondig, in die midde van die gemeente sal Ek U prys” (Hebreërs 2:11-12).  As dit so is kan ons nie eukumenies, universialisties, of emergent wees nie.  Ons kan nie Moslems en Katolieke en Jehova’s Getuies omhels en hulle ‘broers’ noem nie.  Ons kan nie sê dat ons dieselfde Vader het nie.  Ons kan nie saam met hierdie godsdienste handevat in sending en evangelisasie pogings nie.  Ons kan nie op ‘n godsdienstige vlak saamwerk nie.  ‘n Persoon kan alleen ‘n broer en kind van God word deur weergeboorte; deur aanneming.  In Johannes se woorde:  “Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo; wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van ‘n man nie, maar uit God gebore is.” (Johannes 1:12-13).  Hierdie weergeboorte vind plaas deur die Heilige Gees en deur die Woord van God:  “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het…want julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly…En dit is die woord wat aan julle verkondig is.” (1 Petrus 1:3, 23, 25).

 

Daar is baie mense in die tronke van die wêreld.  Maar in vergelyking met die hele wêreldpopulasie is dié wat in tronke is min.  Tydens Jesus se aardse bediening het Hy min broers gehad (sien Handelinge 8:33, Matteus 7:13-14).  Maar deur Jesus se offer vir baie (Matteus 20:28), sal daar baie broers in die hemel hê (v.29).  Die Koninkryk van Christus is besig om te groei.  Daar is miljoene meer broers as wat daar was toe Jesus die stofpaadjies van Palestina bewandel het.  Let op die volgende verse.

 

“Eis van My, en Ek wil nasies gee as u erfdeel en die eindes van die aarde as u besitting.” (Psalm 2:8).  So sê die Vader aan sy Seun.

 

“En hy sal heers van see tot see en van die Rivier tot by die eindes van die aarde.” (Psalm 72:8).  Hierdie word gesê van die Messias.

 

“Toe is tegelykertyd die yster, die klei, die koper, die silwer en die goud fyngestamp, en dit het soos kaf geword van die dorsvloere in die somer, wat die wind wegneem, sodat daar geen spoor van gevind is nie; maar die klip wat die beeld getref het, het ‘n groot rots geword wat die hele aarde gevul het…Maar in die dae van dié konings sal die God van die hemel ‘n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ‘n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan – net soos u gesien het dat sonder toedoen van mensehande ‘n klip van die berg af losgeraak het wat die yster, die koper, die klei, die silwer en die goud verbrysel het.  Die grote God het aan die koning bekend gemaak wat hierna sal gebeur; en die droom is waar en sy uitlegging betroubaar.” (Daniël 2:35, 44-45).  In Daniël se uitleg van hierdie droom is die yster, klei, koper, silwer, en goud verskillende koninkryke.  Die klip wat die standbeeld in stukke breek is die Koninkryk van Christus.  Let op dat ‘die rots’ van sy Koninkryk groei en groei en groei totdat dit die hele aarde vul.

 

“…Dan sal Hy aan die nasies vrede verkondig, en sy heerskappy sal wees van see tot see, en van die Eufraat tot aan die eindes van die aarde.” (Sagaria 9:10).  Weer verwys hierdie na die Messias se Ryk.

 

‘n Ander gelykenis het Hy hulle voorgehou en gesê:  Die koninkryk van die hemele is soos ‘n mosterdsaad wat ‘n man neem en in sy land saai; wat wel die kleinste is van al die soorte saad, maar as dit gegroei het, groter is as die groentesoorte en ‘n boom word, sodat die voëls van die hemel kom en nes maak in sy takke.  ‘n Ander gelykenis het Hy hulle vertel:  Die koninkryk van die hemele is soos suurdeeg wat ‘n vrou neem en in drie mate meel inwerk totdat dit heeltemal ingesuur is.” (Matteus 13:31-33).  Só het die Koninkryk gegroei van Jesus se tyd tot nou toe – en dit sal nog verder uitbrei.

 

Die bogenoemde verse laat my wonder of daar dalk uiteindelik meer mense sal wees in die hemel as in die hel.  Ek is nie dogmaties hieroor nie, maar ek wonder oor die moontlikheid.  Paulus praat van die hemelse Jerusalem wanneer hy skryf:  “Verbly jou, onvrugbare wat nie baar nie; breek uit en roep, jy wat geen barensnood het nie, want die kinders van die eensame is meer as van haar wat ‘n man het.” (Galasiërs 4:27, beklemtoning my eie).  Paulus haal aan uit Jesaja 54.  Kom ons bekyk die konteks van Jesaja 54 van nader. 

 

Jesaja wys hoe die vrou wat onvrugbaar was en nie in barensnood is nie, uitbreek en roep.  Jesaja 54:1 is geskryf in die konteks van die Messias wat sou sterf om sy volk van hulle sondes te verlos (Jesaja 53, Matteus 1:21).  In die konteks van Jesaja moet ons die vers só verstaan:  Israel het egbreuk gepleeg met afgode en daarom sou God van sy bruid skei (50:1, 54:5-8); hulle sou slawe word in Babilon.  In sy ewige liefde het God Hom oor sy bruid ontferm, haar van haar sondes gereinig, en haar teruggeneem (54:7-8).  Uit ‘n volk wat naby vyf miljoen gedraai het (2 Samuel 24:9), was daar minder as vyftig duisend oor (Esra 2:64).  Maar binnekort sou die bruid wat geen kinders gehad het nie, haar tent se penne verder wegskuif, sodat meer mense kon inpas (54:2a).  Ook die feit dat sy haar penne dieper in die grond inslaan bevestig die idee dat sy nooit weer sou wegtrek nie (54:2b).  God se bruid sou nasies in besit neem (54:1, 3).  In Christus het mense uit alle nasies deel geword van God se volk en is hulle deel van sy bruid (Efesiërs 2:12-13, 19, 5:25).  Deur sy kruisdood het Jesus die prys vir ons sondes betaal (Jesaja 53), en daarom sal God nooit weer sy bruid in slawerny wegstuur nie.  God se verbond is verseël met die bloed van Jesus en kan dus nie gebreek word nie (53:4-12, 54:10).  Die hemelse Jerusalem het vaste fondamente (54:11-12, Openbaring 21:14, 19-20) en is vry van haar sonde en van die vyande wat haar omring (Galasiërs 4:26, Jesaja 53, 54:14, 17, Openbaring 20:9, 21:27).  Die duiwel self kan nie gelowiges se erfdeel wegneem nie.  In die hemel sal daar inderdaad ‘n ontelbare skare wees wat neerbuig voor die Messias wat hulle gekoop het met sy bloed (Galasiërs 4:26-27, Jes.54:1, Openbaring 5:9, 7:9).  Die moontlikheid bestaan dus dat die inwoners van die hemel meer sal wees as dié van die hel.  Loraine Boettner skryf:

 

“Heaven is uniformly pictured as the next world, as a great kingdom, a country, a city; while on the other hand hell is uniformly represented as a comparatively small place, a prison, a lake…a pit…The kingdom of Satan is insignificant in contrast with the kingdom of Christ.  In the immense range of God’s dominion, good is the rule, and evil is the exception.  Sin is a speck upon the azure of eternity; a spot upon the sun.  Hell is only a corner of the universe.” (The Reformed Doctrine of Predestination; WM. B. Eerdmans Publishing Company; GRAND RAPIDS; 1932; p.139).

 

As daar nóú so baie ongelowiges in die wêreld is – hoe sal daar ooit méér kan wees in die hemel as in die hel?  Ek het in ‘n vorige preek gesê dat ek glo babas wat sterf gaan hemel toe.  In baie derde wêreld lande is die baba sterfte enorm.  Ook in die vroeë eeue van die geskiedenis was die sterftesyfer van babas baie hoog.  Verder glo ek dat die evangelie sal verprei, sodat massas tot bekering sal kom voordat Jesus terugkeer.  Maar indien my eskatologie verkeerd is en daar nie meer in die hemel sal wees as in die hel nie, maak dit nie veel van ‘n verskil nie.  Die feit is dat daar tog miljoene in die hemel sal wees (al is daar ook meer mense in die hel).  Die vraag wat nou oorbly is dít:  sal jy deel van die baie wees wat God gekies het om die groot Koning in sy Ryk te sien, en om vir ewige by Hom te woon?  Net as jy een van die persone is sal jy weet God is goed in verkiesing.