Meer mense in die hemel as in die hel? Waarskynlik…

“En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is. Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders; en die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik.” (Romeine 8:28-30).

 

(1) God is goed in voorsienigheid (vers 28)

(2) God is goed in verkiesing (vers 29)

(3) God is goed in verlossing (vers 30)

 

Een van my dogters het my ‘n tyd gelede gevra hoe groot ‘n olifant en ‘n blouwalvis is.  Ek het op die internet vir haar gewys hoe groot ‘n olifant teen ‘n mens is, en hoe groot ‘n blouwalvis teen ‘n mens is.  Die feit dat ek dit in perspektief vir haar gewys het, het haar laat verstaan hoe groot hierdie diere regtig is.  Wanneer ons sketse van die son of van groot sterre sien, dan waardeer ons dit nie tensy ons dit in vergelyking met die grootte van die aarde sien.  Eers dán besef ons hoe groot die son regtig is; eers dán besef ons dat die aarde nie eers ‘n spikkel is teen die grootste sterre in ons heelal nie.

 

Romeine 8:15-17 sê dat alle gelowiges seuns/kinders van God is.  Maar Jesus is ook die Seun van God (v.29).  Hoe is Hy op ‘n verskillende manier die Seun van God as wat óns is?  Hy is op ‘n unieke manier die Seun van God – die eniggebore (letterlik ‘unieke’) Seun van God soos wat Johannes 3:16 sê.  Daarom kon Jesus in Johannes 20:17 vir Maria Magdalena sê:  “…gaan na my broeders en sê vir hulle:  Ek vaar op na my Vader en julle Vader, en my God en julle God.”  Deur Jesus se kruisdood en ons nou dieselfde God en Vader as Hy.  Maar tog is God nog op ‘n unieke manier die Seun van God.  In Jesus se geval beteken “Seun van God” dat Hy God self is.  So het die Jode dit verstaan (sien Johannes 5:18, 10:33, 36). 

 

God maak ons soos Jesus sodat Hý die eersgeborene kan wees; sodat ons Jesus se heerlikheid en grootheid in perspektief kan sien (v.29).  Hy is soos die magtige blouwalvis en reusagtige sterre wie se grootte nie waardeer word, totdat dit met ‘n mens of die aarde vergelyk word nie.  Jesus se grootheid en heerlikheid word meer waardeer wanneer Jesus met ánder seuns van God vergelyk word.  Ons sal in die hemel sien hoe Jesus se volmaakte heiligheid groter en skoner is as ons s’n (ja, een soort volmaaktheid kan inderdaad wonderliker as ‘n ander soort volmaaktheid wees).

 

Hoekom noem Paulus gelowiges broers?  Hoekom nie broers én susters nie?  Hierdie het niks met chauvinisme te doen nie.  Paulus het niks teen vroue nie.  In die Joodse kultuur was die eersgebore seun as die erfgenaam beskou (ten minste in ‘n groter sin as die jonger broers).  Dogters is nie in die testament ingereken nie (behalwe in uitsonderlike gevalle soos in Numeri 27:1-11).  Jesus as die eersgebore Seun (v.29) beteken nie (soos sommige wil voorgee) dat Hy geskep is nie.  Hy is nie geskep nie.  Die eersgebore reg wys eenvoudig dat Hy die hoofergenaam is (so ook in Kolossense 1:15, 18).  Hy erf alles en ons as sy broers ontvang ons erfenis in Hom (v.29, 17).  Dit is in teen híérdie agtergrond wat ons verse soos Matteus 25:34 en1 Korintiërs 1:21-23moet verstaan:

 

“Dan sal die Koning vir die wat aan sy regterhand is, sê:  Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af.”

 

“Laat niemand dan op mense roem nie, want alles behoort aan julle; of dit Paulus is of Apollos of Céfas of die wêreld of lewe of dood of teenswoordige of toekomstige dinge – alles behoort aan julle; maar julle behoort aan Christus, en Christus aan God.” (1 Korintiërs 3:21-23).

 

Hoe verkry ons hierdie erfdeel?  ‘n Erfporsie kan alleen verkry word indien die een wat die testament opgestel het, sterf.  Dit het inderdaad gebeur.  Jesus (die Testament-maker) het gesterf.  Deur sy kruisdood verkry ons die erfdeel (Hebreërs 9:16-17).  Jy kan slegs erf indien jou naam in die testament geskryf staan; indien jy deur uitverkiesing ‘n erfgenaam is.  Staan jou naam in die testament?  Indien jy in Christus glo kan jy verseker wees dat jou naam in die testament is en dat jy ‘n erfgenaam van die hemel is.  Paulus praat van mense wat saam met hom vir die evangelie stry wie se name in die boek van die lewe is (Filippense 4:3).  Mense wie se name in hierdie boek geskryf is moet daaroor jubel en bly wees (Lukas 10:20).  Jou naam kan immers nooit uit God se boek uitgevee word nie (Openbaring 3:5).  Dié wie se name níé in die boek van die lewe geskryf is nie moet sidder, want “…as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp.” (Openbaring 20:15).

 

Nóg ‘n toepassing uit v.29 is dat ons net in Christus broers kan wees (Hy is mos die ‘oudste’ broer).  Net in Hóm kan ons dieselfde Vader hê.  Dit is van Christene wat die Hebreërskrywer sê:  “Want Hy wat heilig maak, sowel as hulle wat geheilig word, is almal uit Een; om hierdie rede skaam Hy Hom nie om hulle broeders te noem nie, wanneer Hy sê:  Ek sal u Naam aan my broeders verkondig, in die midde van die gemeente sal Ek U prys” (Hebreërs 2:11-12).  As dit so is kan ons nie eukumenies, universialisties, of emergent wees nie.  Ons kan nie Moslems en Katolieke en Jehova’s Getuies omhels en hulle ‘broers’ noem nie.  Ons kan nie sê dat ons dieselfde Vader het nie.  Ons kan nie saam met hierdie godsdienste handevat in sending en evangelisasie pogings nie.  Ons kan nie op ‘n godsdienstige vlak saamwerk nie.  ‘n Persoon kan alleen ‘n broer en kind van God word deur weergeboorte; deur aanneming.  In Johannes se woorde:  “Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo; wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van ‘n man nie, maar uit God gebore is.” (Johannes 1:12-13).  Hierdie weergeboorte vind plaas deur die Heilige Gees en deur die Woord van God:  “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het…want julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly…En dit is die woord wat aan julle verkondig is.” (1 Petrus 1:3, 23, 25).

 

Daar is baie mense in die tronke van die wêreld.  Maar in vergelyking met die hele wêreldpopulasie is dié wat in tronke is min.  Tydens Jesus se aardse bediening het Hy min broers gehad (sien Handelinge 8:33, Matteus 7:13-14).  Maar deur Jesus se offer vir baie (Matteus 20:28), sal daar baie broers in die hemel hê (v.29).  Die Koninkryk van Christus is besig om te groei.  Daar is miljoene meer broers as wat daar was toe Jesus die stofpaadjies van Palestina bewandel het.  Let op die volgende verse.

 

“Eis van My, en Ek wil nasies gee as u erfdeel en die eindes van die aarde as u besitting.” (Psalm 2:8).  So sê die Vader aan sy Seun.

 

“En hy sal heers van see tot see en van die Rivier tot by die eindes van die aarde.” (Psalm 72:8).  Hierdie word gesê van die Messias.

 

“Toe is tegelykertyd die yster, die klei, die koper, die silwer en die goud fyngestamp, en dit het soos kaf geword van die dorsvloere in die somer, wat die wind wegneem, sodat daar geen spoor van gevind is nie; maar die klip wat die beeld getref het, het ‘n groot rots geword wat die hele aarde gevul het…Maar in die dae van dié konings sal die God van die hemel ‘n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ‘n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan – net soos u gesien het dat sonder toedoen van mensehande ‘n klip van die berg af losgeraak het wat die yster, die koper, die klei, die silwer en die goud verbrysel het.  Die grote God het aan die koning bekend gemaak wat hierna sal gebeur; en die droom is waar en sy uitlegging betroubaar.” (Daniël 2:35, 44-45).  In Daniël se uitleg van hierdie droom is die yster, klei, koper, silwer, en goud verskillende koninkryke.  Die klip wat die standbeeld in stukke breek is die Koninkryk van Christus.  Let op dat ‘die rots’ van sy Koninkryk groei en groei en groei totdat dit die hele aarde vul.

 

“…Dan sal Hy aan die nasies vrede verkondig, en sy heerskappy sal wees van see tot see, en van die Eufraat tot aan die eindes van die aarde.” (Sagaria 9:10).  Weer verwys hierdie na die Messias se Ryk.

 

‘n Ander gelykenis het Hy hulle voorgehou en gesê:  Die koninkryk van die hemele is soos ‘n mosterdsaad wat ‘n man neem en in sy land saai; wat wel die kleinste is van al die soorte saad, maar as dit gegroei het, groter is as die groentesoorte en ‘n boom word, sodat die voëls van die hemel kom en nes maak in sy takke.  ‘n Ander gelykenis het Hy hulle vertel:  Die koninkryk van die hemele is soos suurdeeg wat ‘n vrou neem en in drie mate meel inwerk totdat dit heeltemal ingesuur is.” (Matteus 13:31-33).  Só het die Koninkryk gegroei van Jesus se tyd tot nou toe – en dit sal nog verder uitbrei.

 

Die bogenoemde verse laat my wonder of daar dalk uiteindelik meer mense sal wees in die hemel as in die hel.  Ek is nie dogmaties hieroor nie, maar ek wonder oor die moontlikheid.  Paulus praat van die hemelse Jerusalem wanneer hy skryf:  “Verbly jou, onvrugbare wat nie baar nie; breek uit en roep, jy wat geen barensnood het nie, want die kinders van die eensame is meer as van haar wat ‘n man het.” (Galasiërs 4:27, beklemtoning my eie).  Paulus haal aan uit Jesaja 54.  Kom ons bekyk die konteks van Jesaja 54 van nader. 

 

Jesaja wys hoe die vrou wat onvrugbaar was en nie in barensnood is nie, uitbreek en roep.  Jesaja 54:1 is geskryf in die konteks van die Messias wat sou sterf om sy volk van hulle sondes te verlos (Jesaja 53, Matteus 1:21).  In die konteks van Jesaja moet ons die vers só verstaan:  Israel het egbreuk gepleeg met afgode en daarom sou God van sy bruid skei (50:1, 54:5-8); hulle sou slawe word in Babilon.  In sy ewige liefde het God Hom oor sy bruid ontferm, haar van haar sondes gereinig, en haar teruggeneem (54:7-8).  Uit ‘n volk wat naby vyf miljoen gedraai het (2 Samuel 24:9), was daar minder as vyftig duisend oor (Esra 2:64).  Maar binnekort sou die bruid wat geen kinders gehad het nie, haar tent se penne verder wegskuif, sodat meer mense kon inpas (54:2a).  Ook die feit dat sy haar penne dieper in die grond inslaan bevestig die idee dat sy nooit weer sou wegtrek nie (54:2b).  God se bruid sou nasies in besit neem (54:1, 3).  In Christus het mense uit alle nasies deel geword van God se volk en is hulle deel van sy bruid (Efesiërs 2:12-13, 19, 5:25).  Deur sy kruisdood het Jesus die prys vir ons sondes betaal (Jesaja 53), en daarom sal God nooit weer sy bruid in slawerny wegstuur nie.  God se verbond is verseël met die bloed van Jesus en kan dus nie gebreek word nie (53:4-12, 54:10).  Die hemelse Jerusalem het vaste fondamente (54:11-12, Openbaring 21:14, 19-20) en is vry van haar sonde en van die vyande wat haar omring (Galasiërs 4:26, Jesaja 53, 54:14, 17, Openbaring 20:9, 21:27).  Die duiwel self kan nie gelowiges se erfdeel wegneem nie.  In die hemel sal daar inderdaad ‘n ontelbare skare wees wat neerbuig voor die Messias wat hulle gekoop het met sy bloed (Galasiërs 4:26-27, Jes.54:1, Openbaring 5:9, 7:9).  Die moontlikheid bestaan dus dat die inwoners van die hemel meer sal wees as dié van die hel.  Loraine Boettner skryf:

 

“Heaven is uniformly pictured as the next world, as a great kingdom, a country, a city; while on the other hand hell is uniformly represented as a comparatively small place, a prison, a lake…a pit…The kingdom of Satan is insignificant in contrast with the kingdom of Christ.  In the immense range of God’s dominion, good is the rule, and evil is the exception.  Sin is a speck upon the azure of eternity; a spot upon the sun.  Hell is only a corner of the universe.” (The Reformed Doctrine of Predestination; WM. B. Eerdmans Publishing Company; GRAND RAPIDS; 1932; p.139).

 

As daar nóú so baie ongelowiges in die wêreld is – hoe sal daar ooit méér kan wees in die hemel as in die hel?  Ek het in ‘n vorige preek gesê dat ek glo babas wat sterf gaan hemel toe.  In baie derde wêreld lande is die baba sterfte enorm.  Ook in die vroeë eeue van die geskiedenis was die sterftesyfer van babas baie hoog.  Verder glo ek dat die evangelie sal verprei, sodat massas tot bekering sal kom voordat Jesus terugkeer.  Maar indien my eskatologie verkeerd is en daar nie meer in die hemel sal wees as in die hel nie, maak dit nie veel van ‘n verskil nie.  Die feit is dat daar tog miljoene in die hemel sal wees (al is daar ook meer mense in die hel).  Die vraag wat nou oorbly is dít:  sal jy deel van die baie wees wat God gekies het om die groot Koning in sy Ryk te sien, en om vir ewige by Hom te woon?  Net as jy een van die persone is sal jy weet God is goed in verkiesing.