Sê Hebreërs 6 ‘n Christen kan sy redding verloor?

“En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is. Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders; en die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik.” (Romeine 8:28-30).

 

(1) God is goed in voorsienigheid (vers 28)

(2) God is goed in verkiesing (vers 29)

(3) God is goed in verlossing (vers 30)

 

Tydens my studies het ‘n professor ons vertel van sy vriend in die weermag.  Hy het vertel hoe hierdie man definitief gered was en uiteindelik sy vrou verneuk het, na sonde toe teruggedraai het, en sy redding verloor het.  ‘n Ander man het dieselfde vertel van sý vriend wat óók sy redding verloor het.  Beide hierdie mans wat die stories vertel het, het gesê:  “My vriend was definitief gered.”  Hierdeur het hulle met vaste oortuiging die gevolgtrekking gemaak dat hulle vriende gelowiges was wat hulle redding verloor het.  Dalk ken jý so ‘n persoon en laat sulke stories jou bang word dat jý miskien eendag jou redding kan verloor.  Maar geen gelowige hoef ooit te vrees dat hy sy redding kan verloor nie.  Ons het reeds in die vorige twee preke gesien dat ‘n Christen nie sy redding kan verloor nie – die Skrif maak dit duidelik.

 

Maar wat van Hebreërs 6:4-6, 10:26, 29?  ‘n Noukeurige studie van hierdie verse bewys die teendeel.  Hebreërs 6 byvoorbeeld, moet in konteks gelees word.  In Hebreërs 3-4 lees ons van die Jode wat uit Egipte uitgelei is, God se wonders in die woestyn gesien, maar tog nie die Beloofde Land verkry nie.  Net so het party Jode in die Hebreër-kerk die evangelie verstaan, die Heilige Gees se kragtige werke ervaar, en nie waarlik tot bekering gekom nie.  Hulle het God se wonders in die ‘woestyn’ van hierdie wêreld gesien (Hebreërs 2:1-4), maar sal nie die ‘Beloofde Land’ van die hemel ingaan nie (Hebreërs 6:4-6).  Nêrens in hierdie verse gebruik die Hebreërskrywer die gewone ‘verlossings-terme’ wat op ander plekke in die Nuwe Testament gebruik word nie.  Hy gebruik eenvoudig nie terme soos regverdigmaking, aanneming, geloof, verlossing, redding, heiligmaking, ensovoorts nie.  Wat beteken hierdie terme dan?  Kom ons ondersoek hulle een vir een. 

 

Die skrywer sê hierdie mense het verlig geword.  Hierdie term word wel in 10:32 gebruik van die Hebreër-Christene wat verlos is, maar Johannes 1:9 sê ook vir ons dat God elke mens verlig.  Die verligting praat dus van ‘n algemene openbaring asook van ‘n basiese verstaan van Goddelike waarhede.  Die Hebreërskrywer gaan verder en sê dat hierdie mense die hemelse gawe, die goeie Woord van God, en die toekomstige kragte gesmaak het.  Natuurlik kan smaak ‘n verwysing wees na ‘n blywende ondervinding.  Die Psalmis sê dat ons moet smaak en sien dat die Here goed is.  Maar om te smaak beteken nie altyd dat iemand ‘n reddende ondervinding gehad het nie.  Mense kan ‘n egte ondervinding met die Heilige Gees hê sonder dat dit noodwendig ‘n reddende ondervinding was.  In Jesaja 63 sien ons hoe die Heilige Gees sy kragte aan die Israeliete in die woestyn getoon het.  Hulle het manna gehad en God se wonderwerke gesien.  Hulle ondervinding met God was nie skyn nie – dit was eg.  En tog het hulle nie ‘n reddende ondervinding met Hom gehad nie.  Hulle harte is nie verander nie.  Op die berg Sinaï het hulle die wet van God ontvang en die goedheid van sy Woord gesmaak.  Maar steeds het hulle in hulle sondes volhard.  Judas ‘n goeie voorbeeld van een wat die hemelse gawe, die goeie Woord van God, en die toekomstige kragte gesmaak het, maar van die begin af ‘n ongeredde duiwel was.  Wat die voorgenoemde terme betref kan ons sê dat hulle wel van hierdie dinge gesmaak het, maar hulle het dit nie ‘ingesluk’ en blywend deel gehad hieraan nie.  Jesus het byvoorbeeld die dood gesmaak, maar nie blywend deel gehad daaraan nie omdat Hy die dood deur opstanding oorwin het (2:9).

 

Die skrywer sê dat hierdie mense die Heilige Gees deelagtig geword het.  Is dit nie ‘n duidelike bewys dat hierdie mense gered was nie?  Nee.  Koning Saul en Bileam het ook die Heilige Gees deelagtig geword, want hoe kan iemand profeteer sonder die Heilige Gees (2 Petrus 1:20-21)?  Die Gees het ook die konings van die Ou Testament bekragtig vir hulle werk, maar tog was nie almal wat hulle gered nie.  Die persone in Matteus 7:22 het in Jesus se Naam wonders gedoen, geprofeteer, en duiwels uitgedryf.  En tog sê Jesus dat Hy hulle nooit geken het nie.  In tye van herlewing ondervind baie ongelowiges die Gees se kragtige werkinge voor hulle oë.  Hulle word selfs meegevoer in die magtige werkinge wat Hy doen onder die massas.  Jonathan Edwards praat daarvan in sy boek The Religious Affections.  En tog sê Edwards ook duidelik dat nie al hierdie ondervindinge bewyse van ware redding is nie.  Selfs ongelowiges kan in hierdie sin “die Heilige Gees deelagtig word”.  Net iemand wat end-uit in die geloof volhard het waarlik deelgekry aan Christus en sy Gees.  In God se eie woorde:  “Want ons het deelgenote van Christus geword, as ons net die begin van ons vertroue tot die einde toe onwrikbaar vashou” (Hebreërs 3:14). 

 

Iemand wat dus afvallig word soos vers 6 sê, word nie afvallig van ware reddende geloof in Christus nie.  Hy word eerder afvallig van sy belydenis en van die kerk waarvan hy deel wou wees.  Johannes sê:  “Hulle het van ons uitgegaan, maar hulle was nie van ons nie; want as hulle van ons was, sou hulle by ons gebly het; maar dit moes aan die lig kom dat hulle nie almal van ons is nie.” (1 Johannes 2:19).  Sommige mag wonder:  hoe kan die skrywer praat van mense wat wéér tot bekering kom as hierdie mense nie waarlik gered was nie?  Die antwoord is nie te moeilik nie.  In 12:17 praat die skrywer byvoorbeeld van Esau wat hom wou bekeer.  Hier verwys dit duidelik nie na reddende bekering nie, maar na ‘n begeerte wat hy gehad het om die situasie en die gevolge van sy besluite terug te draai.  In Lukas 17:3-4 sê Jesus dat jy jou broer moet vergewe as hy hom bekeer – al doen hy dit ook sewe keer per dag.  Duidelik verloor hierdie broer nie sewe keer ‘n dag sy redding en bekeer hom elke maal nie.  Hier verwys bekering nie na redding nie.  En so in Hebreërs 6:6 hoef ons nie vanselfsprekend te aanvaar dat hierdie mense wel eens op ‘n tyd gered was nie of dat bekering in hierdie vers gelyk is aan redding nie. 

 

In verse 7-8 gebruik die Hebreërskrywer ‘n illustrasie van die seëninge en prediking van God se Woord wat gereeld op hulle ore en in hulle harte val soos reën.  By party bring hierdie Woord vrug voort, maar by ander is daar net dorings en distels wat opkom.  Waarom die verskil?  Indien daar koring opkom gebeur dit omdat daar koring geplant is.  Waar daar dorings opkom kan ons met sekerheid weet daar was dorings geplant.  Dorings kan nét opkom omdat dit reeds in die sondaar se hart was (sien weer Lukas 6:44-45).  Indien ‘n persoon nie vrug lewer nie, bewys dit dat hierdie persoon ‘n vals gelowige is.  Let ook op dat die skrywer gereeld van ‘hulle’ praat in verse 4-6, maar van ‘julle’ in vers 9.  Die ware gelowiges is dus nie die mense wat hulle rug op die evangelie keer nie.  Die skrywer is nie net oortuig van ‘goeie’ dinge rakende die gelowiges nie (verse 4-6), maar van béter dinge wat spreek van ware redding (verse 9-12). 

 

Hebreërs 10:26, 29 is ook nie te moeilik om te interpreteer nie.  Vers 26 sê:  “Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie”.  Nadat hierdie Jode verstaan het dat die Ou Testament offers in Christus vervul was en dat Hy die finale offer was, wou hulle terugkeer na die Judaïstiese offersisteem.  Die skrywer waarsku hulle dat hierdie offers hulle niks sou help nie en dat dit nie sondes kan wegneem nie.  As hulle opsetlik hulle rug op die evangelie en op Jesus die Offerlam sou draai, sou daar geen hoop vir vergifnis gevind kon word in hulle diereoffers nie.  In vers 29 sê die Hebreërskrywer:  “hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy verdien wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag en die Gees van genade gesmaad het?”  Ons probleem is met die frase “die bloed van die testament waardeur hy geheilig is”.  Kan ‘n persoon wat deur Jesus se bloed geheilig is ongered wees?  En indien iemand die bloed waardeur hy geheilig is vertrap, verwys dit nie duidelik na ‘n persoon wat sy redding verloor nie?  Nee.  Die persoon wat deur die bloed geheilig is verwys nie noodwendig na die sondaar nie.  Dit kan ook na Jesus self verwys.  Hy sê immers van sy kruisdood in Johannes 17:19:  “En Ek heilig Myself vir hulle, sodat hulle ook in waarheid geheilig kan wees.”  Om jouself te heilig beteken nie dat jy jouself van sonde reinig nie, maar eerder dat jy jouself afsonder vir ‘n spesifieke taak of gebruik.  Jesus het Homself afgesonder vir hierdie groot werk aan die kruis.  Dus sê Hebreërs 10:29 dat die sondaar die bloed vertrap waardeur Jesus geheilig is.

 

Maar ‘n beter interpretasie van vers 29 sou wees om te sê dat “geheilig” tog na die sondaar verwys, maar dat dit nie na redding verwys nie.  In 1 Korintiërs 7:14sê Paulus byvoorbeeld dat ‘n ongelowige huweliksmaat en kinders geheilig is deur die gelowige in daardie huisgesin.  Paulus bedoel nie dat die Christen se geloof die ander red nie, maar eerder dat God daardie ongelowiges afgesonder het om in ‘n evangelie atmosfeer te leef sodat ook húlle gered kan word.  So het God die Hebreërs afgesonder en geheilig om in ‘n evangelie atmosfeer te leef en beweeg.  As hulle dit verag en na hulle sondes toe terugkeer, sal hulle ‘n groter straf ontvang as die moordenaar en prostituut.  Die moordenaar en prostituut sondig dikwels uit onkunde.  Die persoon wat die waarheid gesien en verstaan het en dán aanhou in sonde, sondig teen kennis en lig.  Sy straf sal groter wees (sien Lukas 12:47-48).  Dít is wat Hebreërs 10:29 beteken.  Dit het niks daarmee te doen dat ‘n Christen sy redding kan verloor nie.

 

Ten slotte wil ek ‘n paar toepassings maak.  Heel eerste moet ons iets sê vir die persoon wat godsdienstig is en homself mislei oor sy redding.  Moenie jou redding op ‘n vals sekerheid en uiterlike assosiasie met Jesus bou nie.  As jy die waarheid ken maar aanhou om sonde te dien, kan dit wees dat jy teen die Heilige Gees sondig.  Jy is ‘n skynheilige.  God kan jou hart verhard soos Hy met sommige Fariseërs gedoen het, sodat jy nooit weer geestelike lig sal sien nie.  As jy teen die Heilige Gees sondig kan jy nooit vergewe word nie.  Vir die persoon wat dink hy is te sleg sê ek:  Jesus het gekom vir slegte mense.  Jesus het gekom vir mense wat goddeloos is.  Jesus het gekom vir mense wat geestelik siek is (Matteus 9:12-13).  Jesus het vir Paulus gered – die grootste sondaar van almal (1 Timoteus 1:15).  Kan Jesus dan nie ook vir jou red nie?

 

Daar is mense wat vrae het en antwoorde soek.  Hou aan soek.  Die Here belowe dat Hy die soeker sal beloon.  As jy soek sal jy vind.  God sal sy Heilige Gees aan jou gee as jy vra (Lukas 11:9-13).  Is jy ‘n back-slider wat nie baie gepla is dat jy afgedwaal het nie?  Laat Hebreërs 6 en 10 vir jou ‘n waarskuwing wees, want dalk is jý een van dié mense.  As jy in jou sonde volhard sal jy dalk nooit weer ‘n kans kry om jou te bekeer nie.  Maak vandág reg met die Here.  Is jy ‘n back-slider wat bang is die Here sal jou nie terugneem nie?  Die beste wat ek vir jou kan doen is om die Skrif aan te haal en God se eie beloftes vir jou te gee:  “Soek die Here terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is.  Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die Here bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees; en tot onse God, want Hy vergeef menigvuldiglik.” (Jesaja 55:6-7).  “Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die Here, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ‘n hoopvolle toekoms te gee.  Dan sal julle My aanroep en heengaan en tot My bid, en Ek sal na julle luister.  En julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart.” (Jeremia 29:11-13).  Kom soos die verlore seun terug na jou Vader toe.  Hy sal jou tegemoet hardloop, jou omhels, jou seën, en daar sal fees gevier word. 

 

Is jy dalk ‘n persoon wat twyfel en nie weet of jy dalk die Hebreërs 6 en 10tipe persoon is of sal wees nie.  Dis goed om te vrees en van die gevaar af weg te bly.  Maar jy moet ook nie in vrees bly lewe nie.  As God jóú beveel om barmhartig te wees met twyfelaars, kan jy verseker te wees dat Hy geduldig en barmhartig is met jou.  Bloot die feit dat jy oor jou redding twyfel en ‘n verlange het om te weet of God jou Vader is, is ‘n bewys dat jy gered is.  Wie plaas die verlange in jou hart om te weet dat God jou Vader is?  Dis die Heilige Gees (Romeine 8:15, Galasiërs 4:6).  En as jy die Heilige Gees in jou het dan behoort jy aan Christus en dan is God jou Vader (Romeine 8:9).  ‘n Laaste woord moet gesê word vir gelowiges wat goed vorder en mooi groei.  Dank God vir jou redding, maar moenie dink dat jy staan of beter is as ander nie.  Die Skrif waarsku:  “Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.”  Die belangrike ding vir mense uit elkeen van die bogenoemde groepe is om uit ondervinding te weet:  God is goed in verlossing.

Advertisements