Wat is weergeboorte en hoe gebeur dit?

“…Hy [het] ons gered deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees” (Titus 3:5).

 

(1)  Goeie werke in die wêreld (verse 1-2)

(2)  Goeie werke in verlossing (verse 3-8)

(3)  Goeie werke in die kerk (verse 9-15)

 

‘n Bekende Britse prediker se broer het vir hom vertel hoe die Heilige Gees in die laaste dae weggeneem sal word, en hoe baie Jode daarna tot bekering sal kom.  Die prediker se vraag aan sy broer was:  “Sal hulle sónder die Heilige Gees tot bekering kom?”  Sy broer het dadelik die dwaasheid van sy eie stelling ingesien en besef dat mense nie sonder die Heilige Gees tot bekering kan kom nie.  Ons het reeds in die vorige preek gesien hoekom dit so nodig is dat ons gered moet word:  ons is verlore sondaars (sien v.3).  Ons het ook gesien wíé dit is wat ons gered het:  die Vader, die Seun, en die Heilige Gees (sien v.4-7).  Verder het ons gesien wat die basis vir ons redding is – God se goedheid en genade en nie ons eie werke nie (sien v.4-5, 7).  Vandag beantwoord ons dan die vraag:  [iv] Hoe red God ons?  Paulus leer vir ons dat die Vader sy Gees uitstort deur Christus (v.6), dat de Heilige Gees ons wederbaar en vernuwe (v.5), en dat God ons regverdig deur geloof in Jesus (v.7). 

 

Wat presies is hierdie wedergeboorte?  Wedergeboorte is ‘n geestelike geboorte wat deur die Heilige Gees in mense se harte bewerk word.  Net soos wat ‘n mens nie self kies om fisies gebore te word nie, net so kies niemand uit sy eie wil om weergebore te word nie.  In v.5 sê Paulus duidelik dat weergeboorte deur die Heilige Gees plaasvind.  Verskeie ander verse in die Nuwe Testament leer hierdie waarheid vir ons.

 

“Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo; wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van ‘n man nie, maar uit God gebore is.” (Johannes 1:12-13).  Ons het wel die Here as ons God aangeneem, maar dit is omdat Hy ons eerste sy kinders gemaak het.  Ons is nie gered uit ons eie of iemand anders se wil nie, maar uit God.

 

“Jesus antwoord:  Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie…Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is.” (Johannes 3:5, 8).  Die Gees werk waar en wanneer Hy wil wanneer dit kom by weergeboorte.  Hy werk volgens sy eie wil en nie volgens enigiets of iemand wat vir Hom sê wat Hy moet doen nie.  Jou weergeboorte is totaal en al sý besluit gewees.

 

“Volgens sy wil het Hy ons voortgebring…” (Jakobus 1:18).  Jakobus leer duidelik dat jy nie weergebore is volgens jou eie wil nie, maar volgens God se wil.

 

“Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het…” (1 Petrus 1:3).  Jy kan nie weergebore word as God nie besluit om dit aan jou te skenk nie.

 

Die Heilige Gees reinig die vuil sondaar innerlik deur die bad van weergeboorte.  Die lelike prentjie van ‘n vuil sondaar in v.3 verander nou in ‘n skoon beeld van ‘n gewaste sondaar in v.5.  Hoe laat die Heilige Gees hierdie weergeboorte in ‘n mens se lewe plaasvind?  Hy doen dit deur die Woord.  Hy doen dit deurdat Hy ‘n blinde sondaar se oë verlig om die waarheid van die Skrif te verstaan.  Wanneer hy die waarheid sien en verstaan plaas hy sy volkome vertroue in Christus vir verlossing.  Let op hoedat die onderstaande verse dit beskryf.

 

“Maar hulle sinne is verhard.  Want tot vandag toe bly by die lesing van die Ou Testament dieselfde bedekking sonder dat dit opgelig word, die bedekking wat in Christus vernietig word.  Ja, tot vandag toe, wanneer Moses gelees word, lê daar ‘n bedekking oor hulle hart; maar wanneer hulle tot die Here bekeer is, word die bedekking weggeneem.  Die Here is die Gees, en waar die Gees van die Here is, daar is vryheid.  En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ‘n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is…Maar as ons evangelie dan nog bedek is, is dit bedek in die wat verlore gaan, naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie.  Want ons verkondig nie onsself nie, maar Christus Jesus as Here, en onsself as julle diensknegte om Jesus wil.  Want God wat gesê het dat daar uit duisternis lig moet skyn – dit is Hy wat in ons harte geskyn het om die verligting te bring van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus.” (2 Korintiërs 3:14-18, 4:3-6).  Ons is blind as gevolg van ons eie sonde en as gevolg van die duiwel wat ons oë verblind.  Die Heilige Gees verlig ons oë sodat ons die evangelie kan verstaan, glo, en gered word.

 

“om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord” (Efesiërs 5:26).  Christus heilig en reinig ons met die waterbad deur die woord.  Volgens <st1:bcv_smarttag style=””>Titus 3:5 reinig die Heilige Gees ons deur die waterbad van wedergeboorte.  Sien dan die duidelike parallel tussen hierdie twee verse.  Ons gevolgtrekking is dan dat die Heilige Gees wedergeboorte en reiniging in ons harte bewerk deur die Woord.

 

“Volgens sy wil het Hy ons voortgebring deur die woord van die waarheid…” (Jakobus 1:18).  Ons het reeds vroeër uit hierdie vers gesien dat dit God is wat wedergeboorte skenk, maar hier sien ons hóé Hy dit doen, naamlik deur die Woord van waarheid.

 

“want julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly.  Want alle vlees is soos gras, en al die heerlikheid van die mens soos ‘n blom van die gras.  Die gras verdor en sy blom val af, maar die woord van die Here bly tot in ewigheid.  En dit is die woord wat aan julle verkondig is.” (1 Petrus 1:23-25).  Die verse spreek vir hulleself.

 

Wanneer die Heilige Gees weergeboorte in iemand se lewe bewerk, verander Hy ook daardie persoon se hart.  Hy vernuwe en reinig die persoon soos wat v.5 sê.  Hierdie persoon word ‘n nuwe persoon met nuwe begeertes, gedagtes, en dade.  Hy is nie meer die goddelose persoon waarvan ons in v.3 lees nie.  Hierdie hele beeld van verandering deur weergeboorte kom uit die Ou Testament.  In Esegiël 36:25-27 sê die Here:  “Dan sal Ek skoon water op julle giet, sodat julle rein kan word; van al jul onreinhede en van al jul drekgode sal Ek julle reinig.  En Ek sal julle ‘n nuwe hart gee en ‘n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ‘n hart van vlees gee.  En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen.”  In die konteks praat Esegiël van Israel wat weggevoer is in ballingskap omdat hulle afgode gedien het.  Nou sal die Here hulle terugbring uit slawerny uit en hulle harte verander.  Hulle sal innerlik gereinig word en ‘n nuwe hart ontvang.  Hulle sal nie bloot ‘n eksterne wet hê wat hulle moet onderhou nie, maar hulle harte sal verander word sodat hulle instaat kan wees om die wet te gehoorsaam.  God sal hulle koue en gevoellose hart van klip verwyder en aan hulle ‘n sensitiewe hart van vlees gee.  Hulle gees sal nie meer teen die Here rebelleer nie, maar sal aan sy Heilige Gees onderdanig en gehorsaam wees.  Hulle sal wil luister en doen wat God sê. 

 

Die beeld van reiniging en sprinkeling met skoon water kom uit die Pentateug (eerste vyf boeke van die Ou Testament).  Ook die beeld van ‘n waterbad wat Paulus in <st1:bcv_smarttag style=””>Titus 3:5 gebruik kom hieruit.  Wanneer melaatses genees is moes hulle met skoon water gesprinkel word voordat hulle seremonieel rein kon wees.  Moses skryf:  “Die priester moet ook bevel gee dat hulle die een voël in ‘n erdepot oor vars water slag.  Die lewendige voël moet hy neem, sowel as die sederhout en die skarlakendraad en die hisop, en dié en die lewendige voël insteek in die bloed van die voël wat oor die vars water geslag is.  En hy moet op hom wat van die melaatsheid gereinig moet word, sewe maal sprinkel en hom reinig, en die lewendige voël moet hy oor die oop veld laat wegvlieg.” (Levitikus 14:5-7).  Ook toe die Leviete hulself vir diens gereinig het moes hulle gebad het en hulself met skoon water gesprinkel het (sien Numeri 8:7).  Dieselfde het gegeld vir iemand wat aan ‘n lyk of ‘n graf geraak het (sien Numeri 19:18-19).  Hierdie seremoniële sprinkeling en wassing is maar ‘n skadu van die innerlike reiniging wat die Heilige Gees deur wedergeboorte in ons harte bewerk.  Dít is die agtergrond van Esegiël 36:25-27 en <st1:bcv_smarttag style=””>Titus 3:5.

 

Hoe moet ons oor al die voorgenoemde waarhede dink met betrekking tot ons daaglikse lewens?  Wat wil God hê moet jy doen as jy nie die teenwoordigheid en werking van die Heilige Gees in jou lewe sien nie?  Dit mag wees dat jy deur een of ander sonde die Heilige Gees bedroef het (sien Efesiërs 4:30).  Of dit mag wees dat jy wel geestelik groei sonder dat jy op hierdie oomblik daarvan bewus is.  In John Bunyan se bekende Pilgrim’s Progress gebeur dit op een stadium dat Christen voor ‘n kaggelvuur staan.  Daar is iemand wat water op die vuur gooi, maar ten spyte daarvan brand die vuur steeds hoër.  Wanneer Christen agter die muur kyk sien hy hoe iemand anders olie op die vuur gooi.  Die les is dat ‘n Christen dikwels tydens versoeking en beproewing meer groei as wat hy besef.  Die duiwel gooi wel water op die vuur van sy hart, maar Christus gooi olie op die vuur.  Ons sien dikwels net die duiwel wat ons versoek en moet soms diep kyk (agter die ‘muur’) om te sien hoe Jesus besig is om groei in ons harte te bewerk.  In Markus 4:26-29 vertel Jesus ‘n gelykenis wat handel oor hoe mense by God se koninkryk bygevoeg word.  Ons sien nie eers altyd die effek van ons prediking nie, en tog red God mense sonder dat ons dit agterkom.  Markus skryf:  “En Hy het gesê:  So is die koninkryk van God, soos wanneer ‘n mens die saad in die grond gooi; en hy gaan slaap en staan op, nag en dag, en die saad spruit uit en word groot – hoe, weet hy self nie.  Want vanself bring die aarde vrug voort, eers ‘n halm, dan ‘n aar, dan die volle koring in die aar.  En wanneer die vrug dit toelaat, steek hy die sekel dadelik in, omdat die oes daar is.”  Hierdie selfde prinsiep kan toegepas word op ons geestelike groei.  Ons besef partykeer nie eers dat daar groei plaasvind nie.  Ons opdrag is eenvoudig om getrou te bly en in Christus en sy Woord te bly.  God sal self die groei laat plaasvind – al voel jy ook niks.

 

Maar die moontlikheid bestaan ook dat jy nog nie weergebore is nie.  Jesus sê jy móét weergebore word om die Koninkryk in te gaan (Johannes 3:3, 5).  Jy moet pleit vir die Gees se verligtende werk in jou hart.  Jy moet smeek om die evangelie te verstaan.  Bestudeer boeke soos Johannes en Romeine en vra dat die Heilige Gees jou oë sal oopmaak om te verstaan.  As gevolg van die feit en waarheid van weergeboorte is daar hoop vir die ergste van sondaars.  Daar is hoop vir prostitute, immorele persone, afgodsdienaars, ontrou huweliksmaats, homoseksuele geliefdes, geldgieriges, drank en dwelmslawe, vloekers en Godslasteraars, rowers en diewe deur weergeboorte.  Die Skrif sê:  “Of weet julle nie dat die onregverdiges die koninkryk van God nie sal beërwe nie?  Moenie dwaal nie!  Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie.  En dit was sommige van julle; maar julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God.” (1 Korintiërs 6:9-11).  “En dit was sommige van julle…”!  Ons is dit nie meer nie.  Ons is nuutgemaak.  Ons is gewas.  Ons is geheilig.  Ons is geregverdig.  In sy tweede brief aan die Korintiërs sê Paulus:  “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.”  (2 Korintiërs 5:17).

 

Ek ken iemand wat aan heroïne verslaaf was en ook ‘n prostituut was.  Sy vertel hoe sy vir ‘n jaar in die tronk was en die dae op haar kalender afgemerk het vir wanneer sy haar volgende ‘fix’ sou kry.  Sy het R1000 per dag op dwelms spandeer.  Die sielkundiges het vir haar gesê:  “Jy sal ‘n heroïne verslaafde doodgaan.”  Hulle was verkeerd.  Toe die Here haar gered het, het alles verander.  Die Seun het haar verlos.  Die waarheid het haar vrygemaak.  Die Heilige Gees het haar gereinig en vernuwe.  Daar is ‘n soortgelyke getuienis in die film Ordinary People.  ‘n Rower beland by ‘n byeenkoms van Angus Buchan (ongeag van sy teologiese foute en die verskille wat baie van my hoorders en lesers met hom sou hê).  Die rower het iemand geword wat die evangelie met ander in die township begin deel het.  ‘n Dronkaard se lewe het verander toe hy die evangelie van verlossing gehoor en geglo het. 

 

Wat is jou taak dan?  Hoe moet jy reageer op hierdie Bybelse waarheid van wedergeboorte?  Jy moet ernstig bid vir die redding van sondaars.  Jy moet die Here smeek en letterlik in ‘n geestelike barensnood wees vir die verlossing van verlore mense.  En omdat mense deur die Skrif weergebore word, moet jy nie nalaat om die lewende en kragtige Woord van God met hulle te deel nie.  Daarsonder kan hulle nie weergebore word en in mense verander wat goeie werke liefhet nie.

Advertisements

Is my baba in die hemel?

Wat sê jy vir ‘n ma wat dít vir jou vra?  Vir ‘n ma wat ‘n miskraam of stilgeboorte gehad het?  Vir ‘n ma wat ‘n aborsie gehad het en nou spyt is?  Vir ‘n ma wie se baba vroeg in sy of haar jong lewetjie dood is?  Na baie studie, bepeinsing, en bespreking met ander is my antwoord eenvoudig:  “Waarskynlik…baie waarskynlik.”  Daar is nie ‘n enkele teks wat sê dat hierdie kinders in die hemel is nie.  Maar daar is genoegsame Bybelse data wat my dwing om te sê:  “Die kanse is nie 50/50 nie.”

 

In homself het ‘n volwassene geen méér potensiaal of bekwaamheid om te glo as ‘n baba nie.  Soos die baba is die volwassene dood in sy sonde en het hy ‘n sondige natuur (Psalm 51:7, Romeine 3:10-12, Efesiërs 2:1-3).  Voordat enige mens kan glo moet God nuwe lewe in sy hart skep; moet God wedergeboorte aan daardie individu skenk (let op die orde van ‘geroep’ en ‘geregverdig’ in Romeine 8:30.  Sien ook in <st1:bcv_smarttag style=””>1 Johannes 5:1 hoe geloof ‘n kenmerk van weergeboorte is).  Geloof self is ‘n gawe van God (Efesiërs 2:8-9, Fillipense 1:29).  Ek glo dus dat die Almagtige God babas kan red deur wedergeboorte en geloof.  Hy red hulle opgrond van sy genade alleen en nie op grond van enige ‘onskuld’ in hulle nie (net soos Psalm 51:7 wys dat babas in sonde gebore is).  Kom ons kyk na ‘n paar verse wat vir ons sal wys dat die moontlikheid vir die redding van ongebore of jong kinders ‘n werklikheid is.  Party van hierdie verse leer nie eksplisiet dat babas weergebore is nie, maar wel implisiet dat dit so kan wees. 

 

“Ja, U is dit wat my uit die moederskoot uitgetrek het, wat my veilig laat rus het aan my moeder se bors.  Aan U is ek oorgegee van die geboorte af; van die skoot van my moeder af is U my God.” (Psalm 22:10-11).  Hierdie Psalm is wel Messiaans, maar tog sê Dawid dit van homself ook.

 

“Op U het ek gesteun van die geboorte af, van die moederskoot af is U my bevryder; oor U is my lof altyddeur.” (Psalm 71:6).

 

“En [Dawid] sê:  Toe die kind nog in die lewe was, het ek gevas en geween, want ek het gedink:  Wie weet – die Here kan my genadig wees, sodat die kind in die lewe bly.  Maar nou is hy dood – waarom sou ek dan vas?  Sal ek hom nog kan terugbring?  Ek gaan na hom, maar hy sal na my nie terugkeer nie.” (2 Samuel 12:23).  Dawid praat hier van sy kind wat dood is en sê dat hy hom weer in die hemel sal sien.  Wayne Grudem skryf oor hierdie vers:  “Someone might object that David is only saying that he would go to the state of death just as his son had.  But this interpretation does not fit the language of the verse:  David does not say, ‘I shall go where he is,’ but rather, ‘I shall go to him.’  This is the language of personal reunion, and it indicates David’s expectation that he would one day see and be with his son.” (Systematic Theology; Inter-Varsity Press; NOTTINGHAM; 1994, 2000; p.501 n.20).

 

“en Hy sê:  Voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie verander en soos die kindertjies word nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemele ingaan nie!…maar elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, laat struikel, dit is vir hom beter dat ‘n meulsteen aan sy nek gehang word en hy wegsink in die diepte van die see.” (Matteus 18:3, 6).

 

Maar toe Jesus dit sien, het Hy hulle dit baie kwalik geneem en vir hulle gesê:  Laat die kindertjies na My toe kom en verhinder hulle nie, want aan sulkes behoort die koninkryk van God.  Voorwaar Ek sê vir julle, elkeen wat die koninkryk van God nie soos ‘n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.” (Markus 10:14-15).

 

“…en [Johannes die Doper] sal vervul word met die Heilige Gees reeds van die skoot van sy moeder af.” (Lukas 1:15).  Weer sê Wayne Grudem:  “We might say that John the Baptist was ‘born again’ before he was born!…God is able to save infants in an unusual way, apart from their hearing and understanding the gospel, by bringing regeneration to them very early, sometimes even before birth.  This regeneration is probably also followed at once by a nascent, intuitive awareness of God and trust in him at an extremely early age, but this is something we simply cannot understand.” (Ibid, p.500).  Grudem sê verder:  “However, we all know that infants almost from the moment of birth show an instinctive trust in their mothers and awareness of themselves as persons distinct from their mothers.  Thus we should not insist that it is impossible that they would also have an intiuitive awareness of God, and if God gives it, an intuitive ability to trust in God as well.” (p.500 n.19).  Let maar op hoe Johannes in die moederskoot van blydskap gespring het toe hy die groet van sy Here se moeder hoor (Lukas 1:41, 44).

 

“In dieselfde uur het Jesus Hom in die gees verheug en gesê:  Ek loof U, Vader, Here van die hemel en die aarde, dat U hierdie dinge verberg het vir wyse en verstandige mense en dit aan kindertjies geopenbaar het.  Ja, Vader, want so was dit u welbehae.  Alles is aan My oorgegee deur my Vader; en niemand weet wie die Seun is nie, behalwe die Vader, en wie die Vader is nie, behalwe die Seun en hy aan wie die Seun dit wil openbaar.” (Lukas 10:21-22).  Hierdie teks mag miskien spreekwoordelik na ‘kindertjies’ verwys, maar tog is dit by die Almagtige moontlik om sy evangelie aan kleintjies bekend te maak.

 

Op grond van die bogenoemde verse glo ek dat babas wel wedergebore kan wees, en dat God net sal doen wat goed en reg is in die geval van babas wat sterf.  Ek hoop dit bied genoeg troos vir gebroke ouers.

 

Kenmerke van kultusse

Te veel Christene val vir vals lering.  Selfs in Baptiste geledere is ons oningelig.  Christene stap by Christelike boekwinkels in en weet nie dat die boeke wat hulle koop vals lering bevat nie.  Mense koop The Shack en dink dis wonderlike leesstof.  Ander luister na prosperity predikers op TBN en weet nie dat hierdie mense ‘n vals evangelie verkondig nie.  Ander dink dat die vals teologie wat hulle in die koerant lees reg moet wees, omdat ‘n teoloog dit gesê het.  Hoe weet jy wanneer ‘n sogenaamde ‘Christelike’ kerk vals is?  Hoe weet jy wanneer iemand vals lering verkondig?  Wat is sommige kenmerke van vals leraars en hulle kerke?  Hier is ‘n paar.

 

  1. In Galasiërs 1:7, 5:10 sê Paulus dat vals lering gelowiges verwar.  Die woord kan ook ‘omroer, ontstel, onrustig, angstig, benoud, twyfel, en verbouereer’ beteken.  Indien ‘n sekere lering verdeeldheid tussen jou en ander Christene veroorsaak; daartoe lei dat jy innerlik opgestook en omgeroer raak; maak dat jy twyfel, rusteloos, bang, angstig, en verward is; jou van innerlike kalmte beroof – dan is dit waarna jy luister waarskynlik vals lering.  By die vergadering in Jerusalem het die apostels gesien dat die vals leraars presies dít doen met die gelowiges onder die heidene (sien Handelinge 15:24).  God se waarheid sal nie veroorsaak dat jou gedagtes en emosies op hierdie wyse deurmekaar geskommel word nie.  Inteendeel, die ware evangelie bring rustigheid, vrede, ‘n kalm gemoed, sekerheid, geloof, vreesloosheid, en orde.
  2. Vals leraars is outoritêr.  Hulle wil mense se lewens beheer.  As jy aan hulle kerke behoort besluit húlle waar en wanneer jy met vakansie mag gaan.  Húlle skryf vir jou voor wat jy moet eet:  “Net groente en niks anders nie…Jy mag nie koffie of Coke drink nie.”  Hulle skryf mense af as onrein of selfs ongered indien hulle nie ‘n sekere Bybelvertaling gebruik nie.  Hulle wil mense se persoonlike geldsake beheer of daarby inmeng (Lukas 20:47, <st1:bcv_smarttag style=””>Titus 1:11).  Hulle is ‘pleinweg’ geldgierig.  Waarvandaan kom hulle gesag?  Nie van God af nie.  <st1:bcv_smarttag style=””>Titus 1:14 sê hulle beveel dinge wat nie in die Bybel staan nie.  Hulle gebooie kom nie uit die Skrif nie, maar kom uit hulle eie verbeelding.  Moet hulle nie glo wanneer hulle uitroep:  ‘God sê’ terwyl dit wat hulle leer nie in die Bybel staan nie.  Jesus se juk is sag en sy las is lig (Matteus 11:30).  Ook is Sý gebooie nie swaar om te onderhou nie (1 Johannes 5:3).
  3. Die Skrif sê dat ons behoorlik geklee moet wees (sien <st1:bcv_smarttag style=””>1 Timoteus 2:9-10), maar vals leraars vereis dat mense sekere klere moet dra om te wys hulle is godsdienstig.  Dink maar aan die uniforms van die Moslems en die Katolieke.  Ander kultusse vereis dat hulle volgelinge silwer sterre dra.  Ander beveel hulle mense om dasse en sykouse te dra wanneer hulle aan deure klop.  Dit is omdat daar innerlik geen lewe en vrug is nie dat hulle uiterlik moet probeer wys hulle is godsdienstig.
  4. <st1:bcv_smarttag style=””>Titus 1:14 sê die vals leraars draai weg van die waarheid af.  Hulle sê miskien baie ‘oor’ die Bybel of oor dinge wat met die Bybel verband hou, maar preek nie die Bybel nie.  Hulle plaas ook ander dinge op gelyke vlak met die Bybel – of dit nou die apokriewe is, ander geskrifte van sogenaamde profete, die woorde van hulle leier of akademici, die tradisie van die kerk, ‘n verdraaide vertaling of interpretasie van die Bybel, of watookal.
  5. Die Jesus wat hulle verkondig en die Jesus wat in die Bybel beskryf word is nie dieselfde Persoon nie.  Hulle hou vas aan ‘n ander Jesus.  Party sê Hy is nie volkome God nie.  Ander sê Hy is nie die enigste Weg en Middellaar tot die Vader nie.  Nog ander glo ons sal uiteindelik self gode word en gelyk wees met Hom.  Sommige dink Hy is nie uit ‘n maagd gebore nie, het nie liggaamlik uit die dood opgestaan nie, en het nie regte wonderwerke gedoen nie.  Alle valsheid oor Jesus ontken uiteindelik dat Hy volkome God en/of volkome mens is.
  6. Vals leringe word gebou op enkele leerstellings of verse buite konteks.  Sommige valshede waarop hierdie groepe gebou is sluit in:  ‘n verkeerde teologie oor die Sabbat, doping vir die dooies, rykdom en gesondheid op aarde, Jesus is nie God nie, verwerping van Jesus se liggaamlike opstanding, ‘n allegoriese interpretasie (vergeesteliking) van die Bybel, ‘n ontkenning van die Drie-Eenheid, kerklike tradisie.
  7. In hierdie groepe is daar gewoonlik ‘n persoon wat gevolg word.  Wat hy of sy sê is wet.  Indien hulle moet kies tussen die Bybel en hierdie persoon se woorde, sal hulle die Bybel verloën.  En indien jy hierdie persoon se woorde ontken of bevraagteken sal jy as ‘n sondaar of iets erger bestempel word.
  8. Al hierdie groepe glo in redding deur goeie werke.  Party sal sê hulle doen nie.  Maar as jy vir hulle vra:  “Kan ek hemel toe gaan as ek nie daardie gebod onderhou nie” sal hulle sonder om eers te dink ‘nee’ antwoord.  Ware Christenskap sien goeie werke as ‘n bewys van ware redding, terwyl hierdie groepe dit ‘n vereiste vir redding maak.  Ons glo in regverdigmaking uit genade alleen, deur geloof alleen, in Christus alleen.
  9. Volgens die vals leraars is daar geen redding buite hulle kerk nie.  As jy deel is van enige ander groep kan jy nie hemel toe gaan nie.  Mense wat dink ek is verkeerd moet die geloofsbelydenisse van hierdie groepe noukeurig deurlees.

 

Daar is baie vals leringe en leraars.  In ons dag is die bekendste groepe die Rooms Katoliekekerk, die Ou en Nuwe Apostels, die ZCC (Zion Christian Church), die Mormone (Latter Day Saints), Liberale teologie en sy verskillende vertakkings, groepe wat ‘n Prosperity Gospel verkondig, die Jehova’s Getuies, en die Branhamites.  Wees dan waaksaam en pasop vir die wolwe in skaapsklere!

Christene en sigarette

Hoekom op dees aarde ‘n artikel hieroor skryf?  Daar is twee redes.  [1] Min mense sal ‘n artikel lees oor Karl Barth se verstaan van die inspirasie van die Skrif.  ‘n Artikel met die bogenoemde titel sal baie meer lesers se aandag trek, omdat jy dalk self al hieroor gewonder het.  [2] Ek self moes dié saak in my gemoed uitmaak.  Aan die eenkant hoor ek stemme wat sê:  “Rook is nie sonde nie – daar is geen vers in die Bybel wat daarteen praat nie.”  Aan die ander kant hoor ek:  “Iemand wat rook kan nie ‘n Christen wees nie.”  Maar wat sê die Bybel regtig oor rook?

 

Jesus leer duidelik dat niks wat van buite kom jou geestelik onrein kan maak nie (Mark.7:15).  Dit is wat uit ‘n mens se hart kom wat hom onrein maak (Mark.7:21-23).  Paulus gebruik ander woorde, maar leer basies dieselfde:  “Alle dinge is rein vir die reines; vir die besoedeldes en ongelowiges egter is niks rein nie, maar hulle verstand sowel as hulle gewete is besoedel.” (Tit.1:15).  Maar wat van sigarette:  kan rook wat van buite af ingeasem word iemand geestelik onrein maak?  Nee.  Die onreinheid kom uit sy hart uit.  Rook is dus nie inherent sondig nie, maar word so…

 

z      Wanneer jy jou liggaam skend.  Die sesde gebod sê jy mag nie moord pleeg nie.  Jy mag nie ander se lewens beskadig nie, en ook nie jou eie nie.  Die teer en nikotien in sigarette beskadig jou longe.  Indien jy nikotien en teer vrye sigarette (as daar so iets bestaan het) rook, is dit nie sonde nie.  Indien jy bittermin rook is dit waarskynlik nie sonde nie.

z      Wanneer jy ander beskadig.  Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.  ‘n Swanger ma wat rook beskadig haar ongebore kind en kort naasteliefde.  ‘n Man wat gereeld voor sy kinders of ander rook, stel hulle gesondheid in gevaar en kort naasteliefde.

z      Wanneer dit jou baas word en jy verslaaf raak.  Die Skrif sê jy moenie ‘n slaaf wees van enigiets nie (1 Kor.6:12); nét Jesus moet jou baas wees.

z      Wanneer jy nie meer selfbeheersing uitoefen nie.  Laat sigarette jou kalm of geïrriteerd voel?  Het jy bewustelik beplan om só te voel?  Deel van die Gees se vrug is selfbeheersing (Gal.5:22-23).

z      Wanneer dit vir jou ‘n afgod word.  Waarheen wend jy jou wanneer jy stres beleef:  na Jesus of na sigarette?

z      Wanneer jy die wette van ons land breek.  God beveel in Rom.13:1-7 dat ons aan die regering moet onderwerp.  Volgens die wet mag sigarette nie aan persone onder 18 jarige ouderdom verkoop word nie.  Laerskool en hoërskool kinders wat rook sondig summier.

z      Wanneer jy ander laat struikel.  Party Christene glo om enige alkoholiese drank in te neem is sonde.  As jy voor so iemand ‘n bier te drink sal sy gewete beskadig en hom laat struikel.  Daardeur sondig jy.  Dit geld ook vir rook (sien 1 Kor.8:13).

z      Wanneer jy geld wanbestee.  Sigarette is duur.  Indien jy dan kla dat jy nie jou gesin kan voed of petrol in jou kar kan gooi nie, maar R1500 per maand aan sigarette spandeer, het ek nie veel nie simpatie met jou nie.  Word wys.

 

Die prinsiepe wat ons op rook toegepas het, geld ook vir eet, koffie drink, oefen, tuinmaak, modes, en veel meer.  Moet dan nie hiperkrities en selfregverdigend wees, sodat jy sommer uit die hand rokers verdoem nie.  Maar moet ook nie vir jouself sê:  “Waar is die hoofstuk en vers wat sê rook is verkeerd?” nie.  Meet jouself aan die Skrif en doen wat dit sê.  Moet dit nie doen omdat jy deur jou werke geregverdig wil word nie.  Doen dit eerder omdat jy God liefhet met alles in jou en jou naaste soos jouself.

Die wie, wat en waarom van verlossing

“Want ons was ook vroeër onverstandig, ongehoorsaam, op ‘n dwaalweg, verslaaf aan allerhande begeerlikhede en singenot; ons het in boosheid en afguns gelewe; ons was haatlik en het mekaar gehaat.  Maar toe die goedertierenheid van God, ons Verlosser, en sy liefde tot die mens verskyn het – nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie, maar na sy barmhartigheid het Hy ons gered…” (Titus 3:3-5).

 

(1)  Goeie werke in die wêreld (verse 1-2)

(2)  Goeie werke in verlossing (verse 3-8)

(3)  Goeie werke in die kerk (verse 9-15)

 

Voordat Paulus tot bekering gekom het, het hy staatgemaak op sy goeie werke.  Hy het gedink dat dié hom in die hemel sal kry.  Maar later het hy besef dat hy geen hoop gehad het sonder die geregtigheid van Jesus Christus.  Nou het goeie werke sy regte plek ingeneem:  dit was die bewys van ware verlossing en nie die vereiste om gered te word nie.  Dieselfde kan gesê word van Martin Luther, John Bunyan, John Wesley, George Whitefield en talle ander.  Luther het byvoorbeeld vir ‘n hele nag op ‘n koue vloer gelê om God se guns te probeer wen.  Whitefield en Wesley het gevas, heilig probeer lewe, godsdiens beoefen, en allerhande ander dinge probeer om regverdig te wees voor God.  Bunyan het gedink dat hy nie heilig genoeg kon wees nie en dat hy moontlik die onvergeeflike sonde gepleeg het.  Hoe kon hierdie mense regverdig wees voor God?  Watse sou die plek wees van goeie werke in hulle verlossing?

 

Miskien kan ons dit só opsom:  niemand sal deur goeie werke gered word nie, maar so ook kan niemand daarsonder gered word nie.  Vers 5 sê dat ons nie deur ons eie werke gered is nie.  Maar vers 8 sê dat die bewys van ware redding gesien word in die feit dat ons goeie werke voorstaan en uitleef.  Paulus bespreek ten minste sewe waarhede omtrent verlossing in verse 3-8.  Vandag sal ons na drie van hierdie waarhede kyk en in die weke wat volg sal ons die res bestudeer.  Hier is dan die eerste drie.  [i] Hoekom het ons redding nodig?  Vers 3 wys duidelik hoekom ons redding nodig het:  want ons is verlore sondaars.  Voor ons bekering was ons moreel onverstandig, roekeloos, en dwaas.  Wat geestelike dinge betref was ons so dwaas dat ons gedink het ons is wys.  Op ‘n ander plek beskryf Paulus dit só:  “Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword” (Romeine 1:22).  Verder sê Paulus in vers 3 dat ons ongehoorsaam was.  Ons was ongehoorsaam aan God en sy wet, asook aan die gesag wat oor ons aangestel was.  Ons was nie gehoorsaam aan die owerhede nie (sien v.1), maar ongehoorsaam.  Reeds van kleins af het ons geleer om teen die gesag van God deur ons ouers te rebelleer.  Van ons kinderjare af het ons weggedwaal van God af (Psalm 58:4).  Ons het gedink dat ons ons eie baas en selfstandig kon wees.  Ons het gedink dat ons in beheer van ons eie lewens was.  Maar ons was op ‘n dwaalweg en was slawe van sonde en Satan.  Die duiwel het ons oë verblind, sodat ons van God af weggedwaal het (2 Korintiërs 4:4).  Ons was soos die verlore seun wat weggedwaal het van sy vader af.  Dít is hoe die Bybel dit op ander plekke beskryf:

 

“Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop…” (Jesaja 53:6).

 

“Jesus antwoord hulle:  Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle dat elkeen wat die sonde doen, ‘n dienskneg van die sonde is.” (Johannes 8:34).

 

“Hulle het almal afgewyk, saam het hulle ontaard…” (Romeine 3:12).

 

“En julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes waarin julle tevore gewandel het volgens die loop van hierdie wêreld, volgens die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk, onder wie ons almal ook vroeër gewandel het in die begeerlikhede van ons vlees toe ons die wil van die vlees en van die sinne gedoen het; en ons was van nature kinders van die toorn net soos ook die ander.” (Efesiërs 2:1-3).  In ons sondige doodsheid het ons agter ons luste, die wêreld, en die duiwel aangeloop.

 

Volgens Paulus het ons gedoen en gedink net wat ons wou.  Ons het vir ons eie begeertes en plesiere gelewe.  ’n Letterlike vertaling van die woord ‘begeertes’ [Gk. epithumia] in vers 3 dui aan dat ons verbode vrugte begeer het.  Ons het allerhande plesiere nagejaag.  Nie almal het dieselfde sondes lief nie.  Elke sondaar se hart het sy eie voorkeur.  Maar watookal ons voorkeur sonde was – ons het dit nagejaag met alles in ons.  Ons was vol van boosheid.  Ons het bose dinge beplan en gedoen.  Daar is diep geheime in jou verlede wat so boos is dat jy skaam sal kry indien enigiemand daarvan sou uitvind.  Ons was afgunstig.  ’n Mooi Engelse woord kan hier gebruik word:  Ons was eenvoudig net nasty.  Ons het ander ingedoen en op hulle getrap om bo uit te kom.  Ons was bitter omdat ander dinge het wat ons nie kon kry nie.  Ons was jaloers. 

 

Ons was haatlik sê Paulus in vers 3.  Ons was so lelik en aaklig dat ander ons nie kon verdra nie.  En ons het hulle terug gehaat.  As ons nie met ons hande moord gepleeg het nie het ons dit in ons harte gedoen.  Jy wou mense uit jou lewe uitskuif.  Nie almal het dit op dieselfde manier gedoen nie, maar almal het dit gedoen.  Miskien het jy met die vuis of met die tong baklei.  Dalk was jy lief vir konfrontasie en stryery.  Was jy dalk iemand wat ander geïgnoreer het of vir dae stilgebly het om hulle te straf?  Of eerder iemand wat ander wat jou irriteer sou vermy het?  Of erger:  jy was iemand wat skynheilig was.  Vóór mense het jy geglimlag terwyl daar oorlog in jou hart teen hulle was.  Òf jy het gedagdroom en jou verbeel hoe jy van hulle ontslae raak met slegte woorde of dade.  Dalk het jy mense sleggesê, beskinder, of selfs gevloek.  Die punt is jy het ander gehaat net soos wat vers 3 sê.  En omdat jy was soos wat vers 3 beskryf, was dit nodig dat jy gered moes word.

 

[ii] Wie het ons gered?  In een sin kan ons die vraag antwoord:  die Vader, die Seun, en die Heilige Gees – ons Drie-Enige God.  In vers 4 sien ons hoe God die Vader sy goedheid en liefde laat verskyn deur sy Seun aarde toe te stuur.  In verse 5-6 lees ons hoe die Heilige Gees weergeboorte en vernuwing in ons harte bewerk het.  In verse 6-7 sê Paulus dat Jesus ons in sy genade kom red het en die Heilige Gees oor ons uitgestort het.  In 1:1-4 lees ons van die Vader wat ons uitverkies het om die ewige lewe te verkry.  In 2:11-14 lees ons van die Seun van sy lewe vir ons neergelê het aan die kruis om ons van ons sondes te red.  In 3:5-6 sien ons hoe die Heilige Gees die verlossing in ons harte toepas.  Dus is die Drie-Eenheid betrokke in ons redding.  Ander verse in die Bybel leer vir ons dieselfde waarheid.  Volgens Galasiërs 4:4-6 het die Vader sy Seun aarde toe gestuur, het die Seun ons verlos, en het die Heilige Gees ons aangeneem om kinders van God te word.  Efesiërs 1:3-14 wys hoe die Vader ons uitverkies het, hoe die Seun vir ons gesterf het, en hoe die Heilige Gees die ons verseël om die ewige lewe te beërwe.  Soos Paulus leer Petrus ook dat die Vader ons uitverkies het, dat die Heilige Gees ons skoonwas en heiligmaak, en dat die Seun ons reinig deur sy bloed (1 Petrus 1:2).

 

[iii] Hoekom het God ons gered?  God was nie verplig om ons te red nie.  Hy het ons nie gered op grond van enige goedheid wat Hy in ons gesien het nie.  Vers 5 is duidelik daaroor:  “nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie…”  Eerder:  in verse 4-5, 7 sê Paulus dat God ons gered het op grond van sy eie barmhartigheid, goedheid, liefde, en genade.  Die liefde in vers 4 spreek letterlik van God se liefde vir mense [Gk. philantropia].  Daar is seker geen ander vers in die Bybel wat hierdie liefde duideliker uitdruk as Johannes 3:16 nie:  “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”  God se liefde en goedheid vir mense word op geen plek so duidelik gesien as op die kruis van Golgota nie.  Daarom dat Paulus in vers 4 praat an die liefde en goedheid van God wat verskyn het.  Dit is deur Jesus se vleeswording en kruisdood wat God se goedheid aan ons verskyn het (sien 2:11).  Deur die verlossing wat op Golgota bewerk is het ons God se goedheid, liefde, barmhartigheid, en genade leer ken.  God se barmhartigheid verwys daarna dat ons die straf van die hel verdien, maar nie ontvang nie.  Sy genade verwys daarna dat ons nie die heerlikheid van die hemel verdien nie, maar dat ons dit wel ontvang.  Dít is dan hoekom God ons gered het:  nie omdat óns goed is nie, maar omdat goed is!

 

Omdat hierdie bogenoemde dinge waar is, is die belangrike vraag nie of jy ‘n dag en datum het om te bewys dat jy iewers ‘n Christen geword het nie.  Die vraag is eerder of jy ‘n maar in jou lewe het?  Kan jy sê dat jy ‘n slegte persoon was (v.3), maar dat jy ‘n transformasie ondergaan het (v.4)?  Sien jy ‘n verandering in wat jy was en wat jy nou is?  Sien jou familie, vriende, bure, en kollegas dat jy ‘n nuwe mens is; dat jy anders dink en doen as in die verlede?  Steun jy op jou eie goeie werke om hemel toe te gaan?  Hoe sal jy die tipiese EE3 vraag antwoord:  As jy voor die Here staan en Hy vra vir jou, “Hoekom moet Ek jou in my hemel toelaat?”, wat sal jou antwoord wees?  Indien jou antwoord so iets klink:  “Ek het niemand kwaad gedoen nie…Ek het ander mense van God vertel…Ek bid elke dag en vra dat die Here my help…Ek het goed probeer lewe…Ek hoop ek is goed genoeg vir die Here…Ek glo die Here is liefdevol en sal my aanvaar…Ek het nie baie foute gemaak nie…My goeie werke weeg swaarder as my sondes…Ek was my hele lewe lank in die kerk en het in die kerk groot geword…” steun jy op jou eie werke en sal jy nie die Koninkryk van God sien nie. 

 

Jy het die evangelie nodig.  Jy moet besef dat God heilig is en dat Hy nie jou sonde duld nie.  Jy moet verstaan en erken dat jy sy heilige wet gebreek het.  Jou lewe word in vers 3 beskryf.  Jy moet perfek wees om hemel toe te gaan, maar jy is nie.  God het jou hulpelose toestand gesien en self aarde toe gekom om in jou plek volmaak die wet te gehoorsaam.  Hy het toe kruis toe gegaan om die straf vir jou sondes te dra.  Daar het God Hom beskou as al die sondaars in die wêreld en sy Seun gestraf.  Jesus het die straf gedra vir sondaars.  Hy het gesterf, is begrawe, en het op die derde dag opgestaan uit die dood.  Omdat Hy vir ewig lewe kan Hy die ewige lewe gee aan almal wat oop Hom vertrou.  Jy hoef nie self gestraf te word vir jou sondes in die hel nie.  As jy op Christus vertrou en wegdraai van jou sondes, dan sal jy gered word.  Bid tot Hom, bely jou sondes opreg, en vertrou met jou hele hart in wie Hy is en in wat Hy gedoen het in sy lewe, dood, en opstanding.  Elkeen wat sy Naam aanroep sal gered word (Romeine 10:13).

 

As jy reeds ‘n gelowige is, is dit goed om jouself in vers 3 te sien.  Dit is goed om te onthou hoe sleg jy was.  As jy dít onthou sal jy die Vader eer en dank dat Hy jou uitverkies het.  Jy sal die Seun eer en dank dat Hy vir jóú gesterf het aan die kruis.  Jy sal die Heilige Gees eer en dank dat Hy nuwe lewe in jou geskep het.  Vers 3 behoort ook nuwe hoop in jou hart te bring as jy na jou verlore geliefdes kyk.  Al is hulle boos en ver verlore soos wat vers 3 beskryf, kan jy moed skep dat daar ook ‘n vers 4 is in jou Bybel.  God kon jou red en Hy kan hulle ook red en verander in mense wat goeie werke liefhet.  Bid vir hulle.  Paulus sê self in vers 3 dat hy ook so ‘n tipe persoon was (let dat hy van óns praat).  Ons onthou hoe Paulus Jesus en sy kerk gehaat en vervolg het.  En nogtans was God genadig en barmhartig om vir Paulus te red (1 Timoteus 1:13-16).  ‘n Baptiste predikant in Vereeniging het met liberalisme deurmekaar geraak en begin twyfel of die Bybel waar is.  Hy het gebid dat God hom moes help; dat God vir hom sou wys dat die Bybel waar is.  Hy het gebid dat God die slegste sondaar in Vereeniging sou red.  God het dit gedoen en hierdie sondaar verander in iemand wat goeie werke voorstaan.  Só het die predikant sy geloof teruggekry.  John Paton was ‘n Skotse sendeling na die New Hebrides eilande.  Daar het hy die evangelie aan kannibale gepreek.  Na ‘n klompie jare het hy net een bekeerling gehad – Abraham.  Hier is wat Paton oor die verandering in Abraham se lewe gesê het:

 

“When I have read or heard the shallow objections of irreligious scribblers and talkers, hinting that there was no reality in conversions, and that mission effort was but waste, oh, how my heart has yearned to plant them just one week on Tanna, with the ‘natural’ man all around in the person of Cannibal and Heathen, and only the one ‘spiritual’ man in the person of the converted Abraham, nursing them, feeding them, saving them ‘for the love Jesus’ – that I might just learn how many hours it took to convince them that Christ in man was a reality after all!  All the skepticism of Europe would hide its head in foolish shame; and all its doubts would dissolve under one glance of the new light that Jesus, and Jesus alone, pours from the converted Cannibal’s eye.” (uit John Piper se audio biografie oor die lewe van John Paton – beskikbaar in manuskrip vorm op Desiring God se webtuiste).

 

Ek vertrou dat jy nou duidelik die plek van goeie werke in verlossing kan sien en verstaan.

Wie het die Bybel saamgestel (watse boeke moet in en watter nie)?

“Die hele Skrif is deur God ingegee…” (2 Timoteus 3:16).

 

Wat sal ‘n prediker met ‘n lae siening van die Skrif doen wanneer hy deur vals leraars bedreig word, of as hy vervolg word?  Hy sal die Skrif kompromeer.  Of hy sal vlug.  Hy sal nie onwrikbaar vasstaan vir iets wat hy nie met sy hele hart glo nie.  Daarom is dit so belangrik dat Timoteus ‘n hoë siening van die Skrif moet hê as hy gaan vasstaan.  En net soos Timoteus moet jy vir dieselfde rede ‘n hoë siening van die Skrif hê.

 

Ons het in die vorige preek gesien dat ‘n hoë siening van die Skrif onder meer sal beteken dat jy glo die Bybel is duidelik en noodsaaklik.  Vandag gaan ons sien hoe belangrik dit is dat jy die regte Skrif moet glo.  ‘n Ander term wat hier gebruik kan word is:  [iii] Die kanon van die Skrif.  Die kanon verwys eenvoudig na die maatstaf waarvolgens ons ons lewens moet inrig.  Maar wat is die boeke waarvolgens ons moet lewe?  Hoe weet ons of ons Bybel die regte boeke in het?  Wat is die Skrif wat deur God ingegee is (3:16)?  In die konteks is Paulus se woord ‘Skrif’ meesal ‘n verwysing na die Ou Testament.  Paulus erken dus hier dat die hele Ou Testament die Woord van God is.  Ons lees dikwels hoe die profete in die Ou Testament hulle sinne sou begin met die frase:  So spreek die Here.  Petrus verduidelik:  “terwyl julle veral dít moet weet, dat geen profesie van die Skrif ‘n saak van eie uitlegging is nie; geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek.” (2 Petrus 1:20-21).  Hieruit is dit duidelik genoeg dat die profete se woorde eintlik Gód se woorde is.  In die Nuwe Testament is daar ongeveer 295 aanhalings uit die Ou Testament.  Nie één keer word die apokriewe (buite-Bybelse boeke wat met die geskiedenis van die antieke Bybelse wêreld te doen het) aangehaal as Skrif nie.  Net een keer word die apokriewe in Judas 14-15 aangehaal, maar dáár word dit as ‘n illustrasie gebruik.  Judas sê nêrens dat die woorde uit Henog Skrif of God se Woord is nie.  Hy sê nie eers:  “Daar staan geskrywe” nie.

 

Verder lees ons hoe Jesus die Ou Testament as Skrif aanvaar het.  In Lukas 11:51 sê Jesus dat die Jode en hul leiers verantwoordelik is vir die dood van God se profete, “van die bloed van Abel af tot op die bloed van Sagaría wat omgekom het tussen die reukaltaar en die huis van God…”  Soos in ons Ou Testament, is Genesis die eerste boek in die Hebreeuse Ou Testament.  Alhoewel die Hebreeuse Bybel al die boeke van óns Ou Testament het, verskil die volgorde.  Die laaste boek in die Hebreeuse Ou Testament is nie Maleagi nie, maar 2 Kronieke.  In Genesis word Abel vermoor en in 2 Kronieke word Sagaria tussen die reukaltaar en die heiligdom vermoor (sien <st1:bcv_smarttag style=””>Genesis 4:8-10, 2 Kronieke 24:20-22).  Wat Jesus dus sê is dat die Jode vir die moord op al die profete – van die begin tot einde van die Ou Testament (Genesis tot 2 Kronieke) – verantwoordelik is.  Jesus erken die Ou Testament soos wat ons dit ken.[1]  Lukas 24:27 sê:  “En Hy het begin van Moses en al die profete af en vir hulle uitgelê in al die Skrifte die dinge wat op Hom betrekking het.”  Moses en profete word hier beskou as ‘n opsomming vir al die Skrifte – die hele Ou Testament.  Volgens die vroeë Joodse geskiedkundige, Josefus, was daar geen ware profete en byvoegings tot die Ou Testament na die tyd van koning Ahasveros nie (Grudem, W; Systematic Theology; Inter-Varsity Press; NOTTINGHAM; 1994, 2000; p.56).  Die laaste van die Ou Testament boeke was om en by teen 435 v.C. klaar geskryf.

 

Hoe weet ons die Nuwe Testament bestaan uit die regte boeke?  Paulus se woorde in 3:16 verwys nie net na die Ou Testament nie.  Die Skrif hier sluit Paulus se eie briewe in.  2 Timoteus is die laaste van Paulus se briewe.  Die vroeë kerk het reeds Paulus se ander briewe as Skrif erken.  Petrus sê:  “En ag die lankmoedigheid van onse Here as saligheid, soos ons geliefde broeder Paulus ook met die wysheid wat aan hom gegee is, aan julle geskryf het, net soos in al die briewe. Hy spreek daarin oor hierdie dinge, waarvan sommige swaar is om te verstaan, wat die ongeleerde en onvaste mense verdraai, net soos die ander Skrifte, tot hul eie verderf.” (2 Petrus 3:15-16).  Let op dat die ongeleerde mense Paulus se briewe verdraai net soos die ander Skrifte.  Petrus plaas Paulus se briewe op gelyke vlak met die Ou Testamentiese Skrif.  Ons moet ook erken dat die Nuwe Testament Skrif is as ons daaraan dink dat die beloftes van God (Ou Testament) sowel as die vervulling daarvan (Nuwe Testament) geïnspireer is.  Verskeie ander verse wys vir ons dat dít wat die apostels geskryf het die Woord van God is.

 

“maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.” (Johannes 14:26).  Die Heilige Gees het die apostels aan Jesus se woorde herinner.  Wat die apostels dus neergeskryf het was nie bloot hulle eie woorde nie, maar Jesus s’n.

 

“En hulle het volhard in die leer van die apostels…” (Handelinge 2:42).  Die vroeë Christene het die apostels se lering as gesaghebbend aanvaar.

 

“As iemand meen dat hy ‘n profeet of ‘n geestelike mens is, moet hy erken dat wat ek aan julle skrywe, bevele van die Here is.” (1 Korintiërs 14:37).  Wat Paulus in sy Korintiër-brief geskryf het is die bevele van God.  Sy woorde is in effek God se woorde.

 

“aangesien julle ‘n bewys soek van Christus wat in my spreek, en Hy is teenoor julle nie swak nie, maar kragtig onder julle.” (2 Korintiërs 13:3).

 

“gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is” (Efesiërs 2:20).  Die lering van die Ou Testament (die profete) en die Nuwe Testament (die apostels) is dít waardeur die kerk groei en waarop die kerk gebou is.  Hier sien ons duidelik dat die apostels en die profete se woorde Gód se woorde is.

 

“Daarom dank ons God ook sonder ophou dat, toe julle die woord van God ontvang het wat deur ons verkondig is, julle dit aangeneem het nie as die woord van mense nie, maar, soos dit waarlik is, as die woord van God wat ook werk in julle wat glo.” (2 Tessalonisense 2:13).  Weereens sien ons dat Paulus se woorde Gód se woorde is.

 

“Daarom, hy wat dit verwerp, verwerp nie ‘n mens nie, maar God wat ook sy Heilige Gees aan ons gegee het.” (1 Tessalonisense 4:8).  Verwerp ’n apostel se woorde en jy verwerp God se woorde.

 

“Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal vóór wees nie.” (1 Tessalonisense 4:15).  Soos die Ou Testament profete in <st1:bcv_smarttag style=””>2 Petrus 1:21, spreek apostels nie uit hulleself nie maar deur die Here.

 

“sodat julle die woorde kan onthou wat deur die heilige profete tevore gespreek is, en die gebod van ons, apostels van die Here en Verlosser.” (2 Petrus 3:2).  In Petrus se gedagte is die apostels se woorde net so gesaghebbend en bindend soos die profete se woorde.

 

Ons sien dus dat enige kerklike geskrif wat deur ‘n apostel geskryf is as Skrif beskou is.  Ook die apostels se helpers en mede-werkers het briewe geskryf wat as Skrif beskou is.  Markus was ‘n mede-werker van Paulus en Petrus (sien 4:11, <st1:bcv_smarttag style=””>1 Petrus 5:13).  Hy was veral in noue samewerking met Petrus en dit blyk dat hy deur Petrus se prediking tot bekering gekom het.  Geen wonder dat Paulus van hom praat as ‘my seun’ nie (1 Petrus 5:13).  Markus word dus soms as Petrus se evangelie beskou.  Lukas was ‘n mede-werker van Paulus.  Hy het in detail die sendingreise van Paulus opgeteken in die boek Handelinge.  Paulus haal selfs aan uit die Lukas-evangelie en noem dit Skrif:  “Want die Skrif sê:  Jy mag ‘n os wat graan dors, nie muilband nie; en:  Die arbeider is sy loon werd.” (1 Timoteus 5:18 aangehaal uit Deuteronomium 25:4 en Lukas 10:7).

 

Niemand weet wie Hebreërs geskryf het nie.  Was dit ‘n apostel?  Ons weet nie.  Ons weet wel dat hy met mense soos Timoteus (Paulus se mede-werker) bekend was (sien Hebreërs 13:23).  En as ons kyk na die skrywer se heerlike beskrywing van Christus, asook sy noukeurige uitleg van die Ou Testament, kan ons nie anders as om te glo dat hierdie brief die Woord van God is nie.  So het ook die vroeë kerk dit beskou.  Jakobus die broer van Jesus was ‘n apostel (sien <st1:bcv_smarttag style=””>1 Korintiërs 15:7, Galasiërs 1:19, 2:9) en daarom hoef ons nie te twyfel dat sy woorde Skrif is nie.  Judas was Jesus se halfbroer en Jakobus se broer.  Daarom word ook sy brief as Skrif aanvaar.  Dit moet duidelik gestel word dat die boeke van die Ou en Nuwe Testament eenvoudig as Skrif aanvaar is.  Geen mens het besluit dat hierdie boeke in ons Bybel moet wees nie.  Jesus en sy apostels (net soos die Joodse leiers) het aanvaar dat die Ou Testament soos ons dit vandag ken die Woord van God is.  Die vroeë kerk in die oostelike deel van die antieke Meditereense wêreld het in 367 n.C. erken dat die 27 boeke van die Nuwe Testament soos ons dit ken die Woord van God is.  Net so het die kerk in die westelike deel van die antieke Meditereense wêreld hierdie boeke in 397 n.C. erken (nie gekies nie).

 

As gelowiges en predikers moet ons die hele Skrif van 66 boeke aanvaar, glo, bestudeer, en preek.  Jy sal nie in die bediening en die Christelike lewe volhard as jy nie in die Skrif volhard nie.  Ook as jy die outeurskap van die Skrifte bevraagteken sal jy vou.  Jy kan nie saam met die liberale teoloë staan wat sê dat die Ou- en Nuwe Testament nie noodwendig (of glad nie!) deur die profete en apostels geskryf is nie.  As ons glo dat die Skrifte deur enige Jan-Rap-en-sy-maat geskryf is, dan is dit logies dat mense dink die Bybel is vol foute en is nie gesaghebbend nie.  Ons het hierbo gesien dat hierdie boeke deur God se verkose ambassadeurs geskryf moet wees om as Woord van God erken te word.  As ‘n gelowige en/of ‘n prediker van God se Woord te volhard kan jy nie die apokriewe of die Nag Hammadi (waarvan ons lees in Dan Brown se boek, The Da Vinci Code) as Skrif erken nie.  Jy kan ook nie soos die Katolieke en ander kultusse jou eie ‘heilige geskrifte’ by die Bybel byvoeg nie.  Moet ook boeke of verse uit die Bybel wil weglaat nie.  Dit wat die profete geskryf het is God se Woord.  En dit wat Jesus deur sy apostels gesê het is God se Woord.  Die Hebreërskrywer het dit só gesê:  “Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun” (Hebreërs 1:1).  God waarsku op ander plekke in die Bybel:

 

“Julle mag by die woord wat ek julle beveel, niks byvoeg nie, en julle mag daar niks van weglaat nie; sodat julle die gebooie van die Here julle God mag onderhou, wat ek julle beveel.” (Deuteronomium 4:2). 

 

“Alles wat ek julle beveel, dit moet julle sorgvuldig hou; jy mag daar niks byvoeg en daar niks van weglaat nie.” (Deuteronomium 12:32).  God het self ná hierdie verse in Deuteronomium nuwe openbaring gegee.  Maar toe die Openbaring aan die apostel Johannes klaar geskryf is het God geen nuwe openbaring gegee nie.

 

“Want ek betuig aan elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boek hoor:  As iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is.  En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is.” (Openbaring 22:18-19).  Sommige mense sê dat ‘die woorde van die profesie van hierdie boek’ net na die boek Openbaring verwys.  Alhoewel dit reg is om te sê dit verwys na die boek Openbaring (sien 1:3) verwys dit nie nét na Openbaring nie.  Openbaring het ’n unieke plek in die Skrif – geen boek is hierna deur enige apostel geskryf nie.  Dus mag niemand by Openbaring wegneem of byvoeg nie, en so ook mag niemand by die res van die Skrif byvoeg of wegneem nie.  Indien ons sê dat hierdie vers net na die boek Openbaring verwys, moet ons tot die slotsom kom dat daar geen vers in die Skrif is wat verhoed dat God dalk een of ander tyd nuwe geskrifte by die Bybel sal byvoeg nie.  Dan is die Bybel soos ons dit nou ken onvolledig.

 

Buiten vir hierdie feite moet ek ook by sê dat daar vals lering en foute in die apokriewe is.  Historiese, kronologiese, en aardrykskundige foute is menig.  Leuens en bedrieglikheid word hierin geregverdig.  Die aprokiewe leer redding deur goeie werke.  Dit leer dat die wêreld uit reedsbestaande materie gemaak is.  Dit leer dat bydrae vir die armes versoening kan doen vir sondes.  Dit leer dat God die gebede van die dooies hoor, dat vroue mans moet word om hemel toe te gaan, dat jy die geld in jou hande moet laat sweet totdat jy weet vir wie jy moet gee, dat kos wat aan afgode geoffer is verbode is, dat gelowiges moet vas voordat hulle gedoop word, dat mense is lopende water gedoop moet word, dat Christene verplig is om op Woensdae en Vrydae moet vas en dat dit verbode is om op Maandae en Donderdae te vas, dat Christene beveel word om drie keer per dag die Onse Vader te bid, dat ongedoopte persone nie die nagmaal kan gebruik nie, dat buite-Bybelse gebede as ‘n patroon by die nagmaal gebruik moet word, dat apostels nie vir langer as twee dae in ‘n stad mag bly nie, dat profete wat in die Gees profeteer nie getoets kan word nie, en dat jy volmaak moet wees voor Jesus kom indien jy gered wil word (Ibid, pp.59, 67 n.32). 

 

Maar wat as daar binne die naby toekoms ‘n verlore brief van een vand ei apostels gevind word?  Sal so ‘n brief dan by ons huidige 66 boeke bygevoeg word?  Nee.  God het vir alles gegee wat ons nodig het vir lewe en godsaligheid in die Bybel soos ons dit nou ken (sien <st1:bcv_smarttag style=””><st1:bcv_smarttag style=””>2 Timoteus 3:16-17, 2 Petrus 1:3).  Indien so ‘n brief gevind word beteken dit dat die kerk vir 2000 jaar gebrekkig was en nie alles gehad het wat nuttig was vir die Christleike lewe nie.  God sal nie dat so iets gebeur nie.  Hy is getrou aan Homself, sy Woord, en sy kerk.

 

Die uiteindelike rede hoekom dit so belangrik is dat ons vertroue en ‘n hoë siening van die regte Bybel het, is omdat mense wat ‘n verkeerde Bybel het ook ‘n verkeerde Jesus het.  En as jy ‘n verkeerde Bybel en Jesus het dan kan jy nie geestelik groei nie.  Erger:  jy kan nie gered word nie.  Kry dus ‘n hoë siening van hierdie Skrif wat hierbo beskryf word – van die HELE Skrif indien jy tot die einde toe wil volhard.

 


[1] Ek verstaan dat daar ‘n probleem lê omtrent Sagaria die seun van Beregja (Matteus 23:35).  Die Sagaria in 2 Kronieke 24 is die seun van Jojada.  Sagaria die seun van Beregja is die skrywer van die tweede laaste boek van óns Ou Testament (sien Sagaria 1:1).  Die woorde “seun van Beregja” in Matteus is nie in al die manuskripte nie en mag moontlik ‘n latere byvoeging wees.  Maar indien dit nie is nie maak dit nie veel van ‘n verskil om my punt te bewys nie, omdat Sagaria die seun van Beregja van die laaste Ou Testament profete was, en sekerlik die laaste een wat ‘n martelaar was.

Vrouefederasie DAMESKAMP Skoonheidsterapie

This slideshow requires JavaScript.

Hoekom moet jy gaan?

Voel jy soms moeg en moedeloos? Jy kan nie wag vir die volgende wegbreek kansie nie? Dan is hierdie net die geleentheid waarvoor jy gewag het. Jou siel sal verfris word en in ’n rustige omgewing sal jy weer God se perspektief vir die lewe kry. Hierdie kamp word gehou om dames terug te roep na die Bybelse standaard van wat vrouwees alles behels. 

In ‘n generasie wat nie meer weet wat dit beteken om vrou te wees nie, is dit van uiterste belang dat ons die fakkel hoog sal hou vir die rondom ons. In Paulus se woorde moet ons kan sê: “Volg my na soos ek Christus navolg”. Hoop ons sien jou daar…..

Wanneer:
28 en 29 September 2012
Arriveer Vrydag enige tyd van 14:00 af—vertrek Saterdagmiddag 14:00

Waar:
Olifants River Lodge
««««
Middelburg

Kostes:
Dit beloop R300 per persoon. Alles ingesluit
Registrasie sluit 1 September 2012

Daar sal ’n boektafel van Augustine Bookroom beskikbaar wees.
Bring asb. genoeg kontant (geen debiet en krediet fasiliteite)

Sessies
Skoonheid in jou huis
Hoe kan ‘n 21ste eeu vrou God reflekteer by die huis?

Skoonheid by die werk
Hoe tree ‘n 21ste eeu vrou op in ’n wêreld wat goddeloos is?

Skoonheid in die kerk
Wat is die 21ste eeu vrou se ware rol in die kerk?

Program

Vrydag 14:00 Arriveer
19:00 Aandete
20:00 Sessie 1
21:30 Speletjies vir naguile
——————
Saterdag 08:00 Koffie en verversings
08:45 Sessie 2
11:00 Brunch
12:30 Sessie 3
14:00 Tee en verversings
15:00 Huistoe

Spreker
Melinda Schlehlein (uitgespreek Shlay-line) dien reeds vir vier jaar saam met haar man as ’n sendeling in ’n klein Tsonga ‘village’ in die Limpopo Provinsie van ons land. Hulle bedien die Tsonga stam in hulle eie taal.

Terwyl Melinda in die V.S.A. was het sy vir vier jaar as ’n geregistreerde verpleegster in Intensiewe Sorg Eenhede en Noodgeval afdelings gewerk. Voordat sy Suid-Afrika toe gekom het, het sy haar Meestersgraad in verpleegkunde verwerf.

Melinda is ’n uitstekende pianis en sanger, geniet om te lees en te skryf, en het ’n besondere liefde vir die fyner kuns van tuisteskepping.