Hoe gaan dit in die hemel lyk?

“En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is. Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders; en die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik.” (Romeine 8:28-30).

 

(1) God is goed in voorsienigheid (vers 28)

(2) God is goed in verkiesing (vers 29)

(3) God is goed in verlossing (vers 30)

 

Baie mense misverstaan1 Korintiërs 2:9en sê dit beteken dat ons nie ‘n idee het hoe die hemel sal wees nie.  Maar net die volgende vers sê dat die dinge wat niemand hulself voorheen kon indink nie, God nou aan ons geopenbaar het in die Skrif.  Ons het baie lering in die Skrif oor hoe dit in die hemel sal wees.  Ons moenie mislei word deur die wêreld se idee van ‘n groot paleis op wit wolke of van ‘n plek waar alles wit is en dit leeg en vervelig lyk nie.

 

Gelowiges gaan verheerlik word (v.30).  Hoe gaan die verheerlikte staat wees waarin ons as verheerlikte persone sal lewe?  Volgens Petrus sal die aarde en die res van die heelal gesmelt en herskep word:  “Maar die dag van die Here sal kom soos ‘n dief in die nag, waarin die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand.  Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie? – julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas, waardeur die hemele deur vuur sal vergaan en die elemente sal brand en versmelt.  Maar ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en ‘n nuwe aarde waarin geregtigheid woon.” (2 Petrus 3:10-13).  Wanneer dit gedoen is sal die nuwe Jerusalem vanuit die hemel neerdaal.  Dan sal Jesus altyd by ons wees as ons God.  Dit is hoe Johannes dit beskryf:  “En ek het ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan; en die see was daar nie meer nie.  En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ‘n bruid wat vir haar man versier is.  En ek het ‘n groot stem uit die hemel hoor sê:  Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God.” (Openbaring 21:1-3).  Die hemel en aarde in vers 1 verwys nie na die hemel waar gelowiges nou is nie, maar eerder na die nuwe aarde en die hemelruim (vergelykGenesis 1:1).  Die stad is nie al wat daar is nie, maar is net die hoofstad van die nuwe aarde.  Daar is meer as net die stad.  Openbaring 21:13, 24 praat van hekke en sê dat mense in en uit die stad sal beweeg.  Ons kan dit amper met die tuin van Eden vergelyk.  Die tuin van Eden was nie die hele skepping nie, maar net ‘n klein deel. Genesis 1praat van die hele skepping enGenesis 2fokus op een klein deel van daardie skepping, naamlik die tuin van Eden.  Ons lees hoe Adam en Eva na die sondeval uit die tuin weggestuur is.  Hoe kon hulle uitgaan as die tuin die hele skepping was?  En hoe kan mense in Openbaring 21 in en uit die stad beweeg as die nuwe Jerusalem al is wat daar is?

 

Volgens Openbaring 21 is die stad massief.  Dit is 2220 km lank, net so breed, en net so hoog (Openbaring 21:16).  As ons net die lengte en breedte daarvan neem is dit ongeveer 4.9 miljoen km2.  Vergelyk dit met Johannesburg wat maar 1645 km2 is, of die hele Suid-Afrika wat 1.2 miljoen km2 is.  Die stad is asemrowend skoon.  Hebreërs 11:10 sê dat God die stad ontwerp het en gebou het.  Hoe moet ‘n stad lyk waarvan God self die argitek is?  Die stad se muur is omtrent 60 meter hoog (Openbaring 21:17).  Die muur van is jaspis gemaak terwyl die stad van suiwer goud gemaak is (Openbaring 21:18).  Die fondamente van die stadsmuur is bedek met edelstene (Openbaring 21:19-20).  Die hekke is van soliede pêrels gemaak en die strate is van suiwer goud (Openbaring 21:21).  Party mense mag dink dat al hierdie dinge oor die hemel beeldspraak is.  Daar mag wel simboliek in hierdie hoofstukke wees, maar dit beteken nie dat hierdie dinge ook letterlik opgeneem moet word nie.  Waarom al die detail en afmetings as dit net simbolies is en nie bedoel wat dit sê nie?  Vir ‘n meer volledige verduideliking van die letterlike interpretasie van Openbaring 21-22 kan jy Randy Alcorn se bylaag in sy boek Heaven lees.

 

Jesus sê dat daar huise en kamers in die hemel sal wees (Johannes 14:2-3).  In die voorgenoemde verse praat Jesus van ‘n plek en weereens hoef ons dus nie te dink dat die Skrif net simbolies praat oor die hemel nie.  In die hemel sal daar tuine, bome, vrugte, strate, riviere, mere, skepe, strande, diere, en baie meer wees.  Jesaja praat van leeus en skape en bere en wolwe en luiperds en bokke en slange in God se heilige berg; in die nuwe hemel en die nuwe aarde (sien Jesaja 11:6-9, 65:25).  Hierdie verse verwys waarskynlik na ‘n aardse millenium, maar die verwysing na die nuwe aarde verseker dat ons ook hierdie dinge sal sien wanneer ons vir altyd by Jesus is.  Al die diere op die nuwe aarde sal herbivore wees.  Jesaja 60:11 gebruik dieselfde taal as Openbaring 21 wanneer dit sê dat die poorte van die nuwe Jerusalem nooit gesluit sal wees nie.  Jesaja 60 verwys dus na die nuwe aarde.  In hierdie hoofstuk lees ons van riviere, strande, en skepe (Jesaja 60:9).  In Openbaring 22 lees ons van die boom van die lewe, asook van vrugte en ‘n rivier.  Openbaring 21 praat van ‘n berg.  Die blare van die boom van die lewe in Openbaring 22:2 bring genesing vir die nasies.  Maar hoe kan dit genesing bring as niemand siek is nie?  Daar is medisinale waarde in hierdie blare soos wat daar selfs nou in baie plante is.  Hierdie blare sal nie siek mense genees nie, omdat daar geen siekte in die hemel is nie (Openbaring 21:4).  Maar die blare sal gesondheid en vitaliteit en lewe gee, sodat niemand ooit sal siek word nie.  God bepaal nie net die uiteinde nie (gesondheid), maar ook die middele om dit so te hou (die boom van die lewe se blare).

 

Volgens Openbaring 21:23-25, 22:5 is dit nie nodig vir enige son of maan in die stad nie, omdat God self die lig is.  Daar is geen nag meer in die stad self nie, maar dit beteken nie dat daar nie buite die stad enige nag sal wees nie.  Ons lees ook nie dat daar geen son of maan meer sal bestaan nie.  Openbaring 21:1 sê immers dat God ‘n nuwe hemel en aarde maak.  Buite die stad mag daar wel ‘n son, maan, sterre, en planete wees.  Openbaring 4:8 praat immers van dag en nag in die hemel.  Dit mag wees dat dié vers slegs na die huidige hemel verwys en nie na die nuwe aarde nie.

 

Sal daar tyd wees in die hemel?  Ja.  Soos reeds hierbo gewys praat Openbaring 4:8 van dag en nag.  Ons sien dieselfde in Openbaring 7:15.  In Openbaring 6:9-11 praat die martelare in die huidige hemel van tyd wanneer hulle uitroep:  “Hoe lank nog?”  Die antwoord kom:  “Nog ‘n bietjie langer.”  In Openbaring 8:1 gaan daar ‘n halfuur in die hemel verby.  In Openbaring 21:26 is daar nasies wat in die hemelse stad inkom.  Om van een plek na ‘n ander te beweeg of selfs woorde na mekaar te sê, impliseer dat daar tyd sal wees.  Ons sal wel vir ewig aanhou lewe in die hemel, maar net God is ewig in sy wese.  God alleen is buite tyd.

 

Elke gelowige asook die hemel self is maar net ‘n weerspieëling van Jesus se beeldskone reinheid en prag.  In Openbaring 4:3 lees ons dat God se heerlikheid soos Jaspis straal.  In Openbaring 21:11 straal die hemelse Jerusalem met die Jaspis-tipe heerlikheid van God.  Volgens 2 Tessalonisense 1:10sal hierdie selfde heerlikheid van Christus in en deur ons skyn.  Ons is gemaak om hierdie heerlikheid te sien en te weerspieël.  Jesus se versoek aan sy Vader was:  “Vader, Ek wil dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook saam met My sal wees, sodat hulle my heerlikheid kan aanskou wat U My gegee het, omdat U My liefgehad het voor die grondlegging van die wêreld.”  Wanneer jy Jesus se heerlikheid sien sal jy verwonderd staan.  In hierdie wêreld reeds was jy verwonderd oor dinge sodat jy nie kon ophou om te kyk nie.  So sal jy wees met Jesus – jy sal nie wil ophou kyk nie.  En alles anders wat jy sien sal jy in verhouding tot Hom beskou en bewonder.  In Jonathan Edwards se woorde:  “…the foundation of the saints’ love for each other will be their love to the image of God which they see in them.” (Works Volume 2; The Banner of Truth Trust; EDINBURGH; 1974; p.618).

 

Gelowiges hoef nie te wag vir die hemel om die wonder van Jesus in mense en dinge te sien nie.  In hierdie lewe al sien ons Christus en die wonder van sy Persoon in alles.  Ons sien dit in die evangelie, die Skrif, mede-gelowiges se dade van heiligheid en liefde, die sakramente, God se beeld in die feit dat mense kan kommunikeer en verhoudings kan hê en veel meer doen, voorsienigheid, die prag van die skeppings, ensovoorts.  Ons moet Hom vir hierdie dinge prys soos wat ons vir ewig in die hemel sal doen.  Verder moet ons uit hierdie lesse oor die hemel die volgende toepassing maak:  moenie aan hierdie aardse skadu vashou nie, maar strek jou uit na die dinge wat nog voorlê.  Moenie vashou aan geld en vriende en seks en kos en ontspanning en werk en ander aardse dinge nie.  Geniet God se gawes, maar moenie ‘n afgod daarvan maak nie.  Al hierdie dinge is maar net skadus van die hemelse heerlikheid wat ons in Christus sal geniet.  Moet jou dus nie afsloof om skatte vir jouself hier bymekaar te maak nie.  Maak vir jou skatte in die hemel bymekaar deur te gee vir die werk van God se Koninkryk en deur die armes te hou (Matteus 6:19-21, Lukas 12:33).  Gedagtes oor die hemel en die heerlikheid wat kom sal jou help om heiligheid te lewe.  Jy sal onthou dat daar in die hemel net geregtigheid sal wees.  Jy sal ‘n dors en verlange hê daarna.  Petrus sê:  “Maar die dag van die Here sal kom soos ‘n dief in die nag, waarin die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand.  Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie? – julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas, waardeur die hemele deur vuur sal vergaan en die elemente sal brand en versmelt.  Maar ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en ‘n nuwe aarde waarin geregtigheid woon.” (2 Petrus 3:10-13). 

 

Gedagtes aan die hemel help ons ook om lyding te kan verduur.  Ons onthou dat ons net vir ‘n kort tyd sal ly en daarna vir ewig in heerlikheid sal woon saam met Jesus.  Jesus self kon om hierdie rede die pyn en skande van die kruis verduur (sien Hebreërs 12:2).  Paulus skryf in hierdie selfde lyn:  “Daarom gee ons nie moed op nie, maar al vergaan ons uiterlike mens ook, nogtans word die innerlike mens dag ná dag vernuwe.  Want ons ligte verdrukking wat vir ‘n oomblik is, bewerk vir ons ‘n alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid; omdat ons nie let op die sigbare dinge nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.” (2 Korintiërs 4:16-18).  Die konteks van Romeine 8:28-30 wys ook dat gedagtes oor die Here se koms ons help om die teenswoordige lyding te kan deurstaan.  Lees maar verse 18-27 om dit te sien.  Ek kan nie wag om hemel toe te gaan nie.  Ek kan nie wag vir Jesus om weer te kom nie.  Ek sien uit om vir altyd saam met Hom op die nuwe aarde te wees.  Ek hoop elke hoorder en leser van hierdie woorde weet dat God goed is – ook in verlossing.