Is die Bybel nodig vir redding?

“Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het, en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus.” (2 Timoteus 3:14-15)

 

(1)  Kry ‘n hoë siening van die Skrif (3:14-17)

(2)  Kry ‘n hoë siening van prediking (4:1-5)

 

In 1995 het John Piper ‘n biografie oor die lewe van Charles Spurgeon gepreek.  Deur hierdie biografie beoog Piper om predikante te help om te volhard in ‘n Bybelse bediening – ook wanneer dinge skeefloop en jy die wind van voor kry.  Spurgeon het baie met sy gesondheid gesukkel.  Uit ondervinding het hy geweet wat gout, rumatiek, en inflammasie in die niere is.  Buiten vir sy siekte het Spurgeon ook baie kritiek van verskillende oorde ervaar.  Hier is enkele voorbeelde uit Piper se biografie:  “In April, 1855 the Essex Standard carried an article with these words:  His style is that of the vulgar colloquial, varied by rant…All the most solemn mysteries of our holy religion are by him rudely, roughly and impiously handled.  Common sense is outraged and decency disgusted.  His rantings are interspersed with coarse anecdotes…   …The Sheffield and Rotherham Independent said, He is a nine days’ wonder – a comet that has suddenly shot across the religious atmosphere.  He has gone up like a rocket and ere long will come down like a stick”.  Verder het hy ‘n verskriklike tragedie deurgemaak toe iemand “brand!” geroep het tydens een van sy preke by die Royal Surray Gardens.  Daar was nie ‘n vuur nie, maar toe die paniekbevange gehoor wou ontsnap is sewe mense doodgetrap en verskeie ander beseer.  Op 33 jarige ouderdom het Spurgeon se geliefde vrou bedleênd geword en selde haar man hoor preek in die volgende 27 jaar van sy bediening.  Spurgeon het die aaklige Downgrade Controversy deurgemaak waarin hy byna man alleen teen die liberales in die Baptiste-Unie moes staan.  In 1887 het hy as ‘n gebroke man uit die Unie bedank.  Spurgeon se reaksie word in een sin vasgevat deur Piper:  “In May of 1891 eight months before he died he said to a friend, ‘Good-bye; you will never see me again.  This fight is killing me’.

 

Paulus was vir ‘n laaste keer in die tronk vir die evangelie.  Timoteus was versoek om homself van Paulus te distansieer en skaam te wees vir die evangelie.  Paulus skryf hierdie brief om vir Timoteus aan te spoor en te bemoedig om nie skaam te wees vir die evangelie nie, maar om verdrukking te ly (sien 1:8).  Hy herinner vir Timoteus hoe almal hom verlaat het, en vra dus daardeur dat Timoteus hom nie ook verlaat nie (1:15-17, 4:10, 16).  Timoteus was maar iemand wat teruggetrokke en skaam was.  Paulus moes eenkeer vir die Korintiërs sê:  “En as Timótheüs kom, sorg dat hy sonder vrees by julle is, want hy doen die werk van die Here net soos ek.  Laat niemand hom dan minag nie, maar help hom verder in vrede, dat hy na my toe kan kom; want ek wag vir hom saam met die broeders.” (1 Korintiërs 16:10-11).  Dit is dus in ‘n konteks van vervolging, afvalligheid, en vals lering wat Paulus vir Timoteus aanmoedig om te volhard (3:1-13).  Hoe sal Timoteus dit reg kry om onder sulke druk aan te hou en vas te staan?

 

Timoteus moet heel eerste ‘n hoë siening van die Skrif hê.  Hy moet onthou hoe hy reeds as klein kind die Skrif by sy ma en ouma geleer het (3:14-15, 1:5).  Hy moet onthou watse rol Paulus in sy bekering en geestelike groei gespeel het (3:14-15, 1:2).  Deur terug te kyk na sy fondasie sou hy onwankelbaar kon bly staan in die storm.  Wat moes Timoteus aangaande die Skrif glo om te volhard?  En wat moet jy oor die Skrif glo as jy wil volhard in moeilike tye?  Daar is ten minste vyf dinge wat jy oor die Skrif moet glo.  Vandag sal daar net tyd wees vir twee en volgende keer sal ons verder in hierdie saak delf.  [i] Soos Timoteus moet jy glo dat die Skrif duidelik is.  Die Skrif is duidelik genoeg sodat ‘n kind dit kan leer.  En dit is duidelik genoeg vir ‘n ongelowige om die evangelie daarin te kan verstaan.  Dit is ook duidelik genoeg vir ‘n prediker om dit te kan bestudeer en vir ander te kan leer (sien 3:14-15, 17).  Ek dink hier aan twee jong Shangaan seuns in Elim.  Hulle woon in hutte en leef redelik primitief.  Tog bestudeer altwee van hulle die Skrifte saam met hulle predikant.  Hulle ken teologie, stel belang in eksposerende prediking, en lees boeke van Spurgeon en die Puriteine.  En dít vir arm seuns wat in die village groot word!  Sekerlik is die Skrif duidelik genoeg om te verstaan.  Ja, daar is moeilike verse om te verstaan.  Paulus het sommige dinge geskryf wat moeilik is om te begryp.  Maar volgens Petrus is dit net onstabiele mense wat daardie moeilike verse misverstaan.  Egte gelowiges kan dit bestudeer en verstaan (sien2 Petrus 3:15-16).  Die Skrif sou nie sê dat ons die Skrif met ons kinders moet bespreek en by hulle moet inskerp as dit onmoontlik was om te verstaan nie.  Moses skryf:

 

“En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan.” (Deuteronomium 6:6-7).

 

Let ook op die volgende verse wat vir ons leer dat die Skrif duidelik genoeg is om te verstaan: 

 

“Die wet van die Here is volmaak: dit verkwik die siel; die getuienis van die Here is gewis:  dit gee wysheid aan die eenvoudige.” (Psalm 19:8).  “Die opening van u woorde gee lig; dit maak die eenvoudiges verstandig.” (Psalm 119:130).  Die Skrif kan nie onduidelik wees as eenvoudige mense daardeur wys kan word nie.

 

Ook die Nuwe Testament is moontlik om te verstaan.  Ja, ons moet die Skrif oordink om dit te begryp, maar dit is moontlik dat ons dit kan verstaan.  Vir die Korintiërs sê Paulus:  “Want ons skryf aan julle niks anders as wat julle lees of ook verstaan nie, en ek hoop dat julle dit ook tot die einde toe sal verstaan” (2 Korintiërs 1:13).

 

Maar waarom gebeur dit dan partykeer dat ons nie die Skrif verstaan nie?  Hoekom is daar verse wat ons nie begryp nie?  Hoekom gebeur dit selfs dat slim teoloë van mekaar verskil oor sekere dinge in die Bybel?  Die redes is veelvoudig.  Een rede mag wees dat ons nie met die regte gesindheid na die Skrif toe kom nie.  Jesaja 66:2 sê ons moet met vrees en bewing kom.  Dit mag ook wees dat ons verskil of die Bybel verkeerd interpreteer, omdat ons dit nie goed genoeg bestudeer het nie.  Jesus het vir die Sadduseërs gesê:  “…Julle dwaal, omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie.” (Matteus 22:29).  Paulus skryf vir Timoteus:  “Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ‘n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny.” (2 Timoteus 2:15).

 

Dit mag eenvoudig wees dat mense nie ’n begrip van die Woord het nie, omdat die Heilige Gees nie hulle oë oopgemaak het om dit te verstaan nie.  “En Hy sê vir hulle:  Aan julle is dit gegee om die verborgenheid van die koninkryk van God te ken, maar vir hulle wat buite is, kom alles deur gelykenisse, sodat hulle kan kyk en kyk, en nie sien nie; en hoor en hoor, en nie verstaan nie, dat hulle hul nie miskien bekeer en die sondes hulle vergewe word nie.” (Markus 4:11-12).  Paulus onderstreep wat Jesus sê in1 Korintiërs 2:14:  “Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.”  Iemand wat ongered is (soos liberale teoloë) sal natuurlik die Skrif verkeerd interpreteer.  Hulle het nie die Heilige Gees nie en kán dit nie verstaan nie.  Party mense wil dit eenvoudig nie verstaan nie, en daarom verstaan hulle dit nie (Johannes 8:43).  Ander misverstaan die Skrif omdat hulle nie bereid is om daaraan gehoorsaam te wees nie.  Hulle is soos iemand wat in ’n spieël kyk, omdraai, en dadelik vergeet hoe hulle gelyk het (sien Jakobus 1:23-24).  Dit is heeltemal verstaanbaar dat iemand wat nie die Bybel wil gehoorsaam nie, die verse verkeerd sal interpreteer.  Hy verdraai die Skrif tot sy eie ondergang. 

 

Dit is ook waar dat ons sondaars is en dat dít die rede is hoekom ons nie oor alles ooreen sal kom in die Skrif nie.  Onvervulde profesie maak dit moeilik om sekere verse te verstaan.  Voor Jesus se kruisdood en opstanding het die dissipels nie mooi verstaan toe Hy hieroor gepreek het nie.  Eers ná sy opstanding het hulle baie Skrifte aangaande Jesus se kruisdood en opstanding verstaan.  En net so is daar baie dinge oor die eindtyd wat ons nie nou begryp nie.  Daniël het selfs siek geword toe hy dit nie verstaan nie.  Ons sal seker van mekaar verskil totdat hierdie dinge plaasvind.  Eers dán sal ons kan terugkyk en sien wat hierdie Skrifte eintlik beteken het.  Party mense verstaan nie die Bybel nie, omdat hulle ’n verkeerde metode van interpretasie (hermeunetiek) volg.  Hulle vergeestelik die Bybel.  Ander wil alles simbolies sien en volg nie ’n letterlike interpretasie nie.  Ander dink poëtiese woorde moet letterlik geïnterpreteer word.  Die spesifieke genre wat ’n Skrifgedeelte moet in ag geneem word.  Is jy besig met poësie, geskiedenis, profesie, apokaliptiek, ’n brief, narratief, wysheidsliteratuur, of wat?

 

Omdat die Skrif duidelik is kan elke gelowige dit vir homself bestudeer en interpreteer.  Dit is nie waar dat leke die Skrif nie kan verstaan sonder ’n priester of dominee nie.  Ons hoef nie te dink dat net akademici die Skrif reg kan interpreteer nie.  Jy hoef nie ja en amen te sê op dit wat die geestelike gurus van ons dag skryf nie.  Jy moet hulle aan die Skrif meet soos die Jode in Berea gedoen het en kyk of dit wat hulle sê ooreenstem met die Bybel (sien Handelinge 17:11).  Hiermee sê ek nie dat ons nie predikers en akademici nodig het nie.  Daar bestaan iets soos die gawe van lering (Efesiërs 4:11-12).  En daar bestaan iets soos eksposerende prediking wat ons kan help om die Bybel beter te verstaan (sien Nehemia 8:9).  En sonder akademici sou ons nie die Bybel in Afrikaans gehad het nie.  Ons kan dus nie die baba met die badwater uitgooi, in ’n groep sit, en vir mekaar sê:  “Wat beteken die verse vir jóú” nie.  Laat ons dit akkuraat interpreteer.  Laat ons na suiwer prediking luister.  En laat ons ons ore spits, en dit wat ons hoor vir onsself aan die Skrifte toets om te sien of dit waar is.

 

[ii] Jy moet ook saam met Timoteus glo dat die Skrif noodsaaklik is.  Dit is noodsaaklik vir redding en vir geestelike groei (3:14-17).  Niemand kan sonder die Bybel gered word nie.  Let op die volgende verse:

 

“Want:  Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.  Hoe kan hulle Hom dan aanroep in wie hulle nie geglo het nie?  En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie?  En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek?  En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie?  Soos geskrywe is:  Hoe lieflik is die voete van die wat die evangelie van vrede verkondig, van die wat die evangelie van die goeie verkondig!  Maar hulle was nie almal gehoorsaam aan die evangelie nie; want Jesaja het gesê:  Here, wie het ons prediking geglo?  Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God.” (Romeine 10:13-17).

 

Volgens sy wil het Hy ons voortgebring deur die woord van die waarheid, sodat ons as eerstelinge van sy skepsele kan wees…Daarom, doen afstand van alle vuiligheid en oorvloed van boosheid, en ontvang met sagmoedigheid die ingeplante woord, wat in staat is om julle siele te red.” (Jakobus 1:18, 21).

 

“want julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly…maar die woord van die Here bly tot in ewigheid.  En dit is die woord wat aan julle verkondig is.” (1 Petrus 1:23, 25).

 

Ek herhaal wat ek vroeër gesê het:  Niemand kan sonder die Bybel gered word nie.  Jy word nie gered omdat jy een of ander sterk emosie ervaar het nie.  Ek glo nie dat Moslems ’n wit skynsel van Jesus in ’n droom sien, sy stem hoor, en gered word nie.  Mense word nie gered omdat hulle ’n visioen van die hemel gehad het en gesien het hoe kinders in ’n rivier van vreugde swem nie.  Mense word nie gered omdat hulle wonderwerke gesien het nie.  Farao het God se kragtige hand in die tien plae gesien, en steeds was hy nie gered nie.  Die Israeliete het God se wonders in die woestyn gesien, en tog het baie van hulle nie ’n hartsverandering ondergaan nie.  Die Fariseërs het voor hulle oë gesien hoe Jesus wonderwerke doen, en tog het hulle dit ontken en nie verander nie.  Al sou hulle ook die opstanding met hulle eie oë aanskou, sou hulle nie weergebore gewees het nie (sien Lukas 16:31).  Die inwoners van Sodom was in ’n oomblik met blindheid getref, en steeds het dit nie hulle bose harte verander nie.  Hulle het die hele nag deur na die ingang van die huis gesoek om hulle sonde te doen.  Geeneen van die voorgenoemde dinge is genoegsaam om geloof in ’n persoon se hart te wek nie.  Hy moet die evangelie-boodskap van die Bybel hoor.

 

Maar wat van die onbereikte persone wat nooit die evangelie hoor nie?  Kan hulle nie tot geloof kom op ’n ander manier nie?  Nee.  Daar bestaan iets soos algemene openbaring.  God het in die natuur genoeg bewyse van sy bestaan geplaas.  Hulle kan uit die skepping sien dat God bestaan, dat Hy wys is, dat Hy sterk is, dat Hy goed is, en dat Hy skoon is.  Paulus skryf:  “omdat wat van God geken kan word, in hulle openbaar is, want God het dit aan hulle geopenbaar.  Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie; omdat hulle, alhoewel hulle God geken het, Hom nie as God verheerlik of gedank het nie; maar hulle het dwaas geword in hul oorlegginge, en hul onverstandige hart is verduister.” (Romeine 1:19-21, cf. Psalm 19:1-7).  Die onbereikte persoon het ook ’n gewete waardeur hy weet dat God bestaan en dat daar ’n oordeel kom.  Hy weet dat daar so iets soos reg en verkeerd is, en kan ook deur sy gewete leer wat reg is en wat nie reg is nie.  Weer sê Paulus:  “Want wanneer die heidene, wat geen wet het nie, van nature die dinge van die wet doen, is hulle vir hulleself ‘n wet, al het hulle geen wet nie; omdat hulle toon dat die werk van die wet in hulle harte geskrywe staan, terwyl hulle gewete saam getuienis gee en die gedagtes mekaar onderling beskuldig of ook verontskuldig” (Romeine 2:14-15).  Die Skrif is dus nie noodsaaklik om te weet dat God bestaan en dat Hy goed en sterk en wys is nie.  Ons het nie die Skrif nodig om te wees dat dit verkeerd is om te steel nie.  Maar ons het die Skrif nodig om die boodskap van verlossing te hoor.  Daarsonder kan niemand gered word nie.  Die onbereiktes staan egter skuldig indien hulle hul nie bekeer nie, want hulle het ‘n sekere element van waarheid gehad wat hulle onderdruk en verwerp het.

 

As hierdie bogenoemde dinge waar is (en ek glo dit is), dan is dit belangrik dat ons die Skrif moet gebruik in evangelisasie.  Onthou dat dit nie jou oorredingsvermoeë wat mense se harte verander nie.  Dit is God wat hulle harte verander deur die Bybel.  Hierdie voorgenoemde waarhede behoort ook ons respek vir Bybelvertaling en organisasies soos die Gideons te verdiep.  Hoe belangrik is dit nie dat die kerk sulke groepe moet ondersteun nie?  Die verspreiding van God se Woord is wonderlik en moet aangemoedig word.  Omdat die Skrif ook noodsaaklik si vir geestelike groei (sien1 Petrus 2:2), moet ons die Skrif meer en meer lees, bestudeer, verstaan, en gehoorsaam.  Mense groei nie geestelik deur jou gedagtes leeg te maak en een of ander oosterse meditasie aan te hang nie.  Niemand het nog ook geestelik verryk geword deur yoga nie.  Om kerse te brand sal nie jou geestelike ervaring verbeter nie.  Om koordanse te doen het niks met geestelike groei te doen nie.  Bestudeer die Bybel.  Begeer jy om God se wil te ken?  Jy kan dit nie ken sonder die Bybel nie.  Jy het die Skrif nodig.  Natuurlik moet jy die Skrif reg interpreteer as jy God se wil reg gaan verstaan.  Moenie die verse vergeestelik nie.  Moenie die Bybel oopslaan en dink dat die eerste vers wat jy lees jou na die Here se wil gaan lei nie.  Moenie verse uit konteks lees en dink jy het die Here se wil gevind nie.  Moenie op drome en visioene staatmaak om die Here se wil te ken nie.  Moenie noodwendig dink dat gunstige omstandighede (‘n oop deur) bewys dat jy die regte ding doen nie.  Ook nie vrede in jou hart nie.  Onthou dat Jona ‘n oop deur gehad het én vredevol aan die slaap geraak het in die skip.  En tog was hy heeltemal buite die Here se wil!  Wat van tekens?  Ook nie.  Die manier om God se wil te ken is om die Bybel deeglik te bestudeer en te gehoorsaam.  Daarsonder kan jy nie sy wil ken nie.  Die Skrif is noodsaaklik.  Ten slotte kan ek sê dat jy nooit in hierdie lewe sal volhard deur die moeilike tye sonder ‘n hoë siening van die Skrif nie.