Wie het die Bybel saamgestel (watse boeke moet in en watter nie)?

“Die hele Skrif is deur God ingegee…” (2 Timoteus 3:16).

 

Wat sal ‘n prediker met ‘n lae siening van die Skrif doen wanneer hy deur vals leraars bedreig word, of as hy vervolg word?  Hy sal die Skrif kompromeer.  Of hy sal vlug.  Hy sal nie onwrikbaar vasstaan vir iets wat hy nie met sy hele hart glo nie.  Daarom is dit so belangrik dat Timoteus ‘n hoë siening van die Skrif moet hê as hy gaan vasstaan.  En net soos Timoteus moet jy vir dieselfde rede ‘n hoë siening van die Skrif hê.

 

Ons het in die vorige preek gesien dat ‘n hoë siening van die Skrif onder meer sal beteken dat jy glo die Bybel is duidelik en noodsaaklik.  Vandag gaan ons sien hoe belangrik dit is dat jy die regte Skrif moet glo.  ‘n Ander term wat hier gebruik kan word is:  [iii] Die kanon van die Skrif.  Die kanon verwys eenvoudig na die maatstaf waarvolgens ons ons lewens moet inrig.  Maar wat is die boeke waarvolgens ons moet lewe?  Hoe weet ons of ons Bybel die regte boeke in het?  Wat is die Skrif wat deur God ingegee is (3:16)?  In die konteks is Paulus se woord ‘Skrif’ meesal ‘n verwysing na die Ou Testament.  Paulus erken dus hier dat die hele Ou Testament die Woord van God is.  Ons lees dikwels hoe die profete in die Ou Testament hulle sinne sou begin met die frase:  So spreek die Here.  Petrus verduidelik:  “terwyl julle veral dít moet weet, dat geen profesie van die Skrif ‘n saak van eie uitlegging is nie; geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek.” (2 Petrus 1:20-21).  Hieruit is dit duidelik genoeg dat die profete se woorde eintlik Gód se woorde is.  In die Nuwe Testament is daar ongeveer 295 aanhalings uit die Ou Testament.  Nie één keer word die apokriewe (buite-Bybelse boeke wat met die geskiedenis van die antieke Bybelse wêreld te doen het) aangehaal as Skrif nie.  Net een keer word die apokriewe in Judas 14-15 aangehaal, maar dáár word dit as ‘n illustrasie gebruik.  Judas sê nêrens dat die woorde uit Henog Skrif of God se Woord is nie.  Hy sê nie eers:  “Daar staan geskrywe” nie.

 

Verder lees ons hoe Jesus die Ou Testament as Skrif aanvaar het.  In Lukas 11:51 sê Jesus dat die Jode en hul leiers verantwoordelik is vir die dood van God se profete, “van die bloed van Abel af tot op die bloed van Sagaría wat omgekom het tussen die reukaltaar en die huis van God…”  Soos in ons Ou Testament, is Genesis die eerste boek in die Hebreeuse Ou Testament.  Alhoewel die Hebreeuse Bybel al die boeke van óns Ou Testament het, verskil die volgorde.  Die laaste boek in die Hebreeuse Ou Testament is nie Maleagi nie, maar 2 Kronieke.  In Genesis word Abel vermoor en in 2 Kronieke word Sagaria tussen die reukaltaar en die heiligdom vermoor (sien <st1:bcv_smarttag style=””>Genesis 4:8-10, 2 Kronieke 24:20-22).  Wat Jesus dus sê is dat die Jode vir die moord op al die profete – van die begin tot einde van die Ou Testament (Genesis tot 2 Kronieke) – verantwoordelik is.  Jesus erken die Ou Testament soos wat ons dit ken.[1]  Lukas 24:27 sê:  “En Hy het begin van Moses en al die profete af en vir hulle uitgelê in al die Skrifte die dinge wat op Hom betrekking het.”  Moses en profete word hier beskou as ‘n opsomming vir al die Skrifte – die hele Ou Testament.  Volgens die vroeë Joodse geskiedkundige, Josefus, was daar geen ware profete en byvoegings tot die Ou Testament na die tyd van koning Ahasveros nie (Grudem, W; Systematic Theology; Inter-Varsity Press; NOTTINGHAM; 1994, 2000; p.56).  Die laaste van die Ou Testament boeke was om en by teen 435 v.C. klaar geskryf.

 

Hoe weet ons die Nuwe Testament bestaan uit die regte boeke?  Paulus se woorde in 3:16 verwys nie net na die Ou Testament nie.  Die Skrif hier sluit Paulus se eie briewe in.  2 Timoteus is die laaste van Paulus se briewe.  Die vroeë kerk het reeds Paulus se ander briewe as Skrif erken.  Petrus sê:  “En ag die lankmoedigheid van onse Here as saligheid, soos ons geliefde broeder Paulus ook met die wysheid wat aan hom gegee is, aan julle geskryf het, net soos in al die briewe. Hy spreek daarin oor hierdie dinge, waarvan sommige swaar is om te verstaan, wat die ongeleerde en onvaste mense verdraai, net soos die ander Skrifte, tot hul eie verderf.” (2 Petrus 3:15-16).  Let op dat die ongeleerde mense Paulus se briewe verdraai net soos die ander Skrifte.  Petrus plaas Paulus se briewe op gelyke vlak met die Ou Testamentiese Skrif.  Ons moet ook erken dat die Nuwe Testament Skrif is as ons daaraan dink dat die beloftes van God (Ou Testament) sowel as die vervulling daarvan (Nuwe Testament) geïnspireer is.  Verskeie ander verse wys vir ons dat dít wat die apostels geskryf het die Woord van God is.

 

“maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.” (Johannes 14:26).  Die Heilige Gees het die apostels aan Jesus se woorde herinner.  Wat die apostels dus neergeskryf het was nie bloot hulle eie woorde nie, maar Jesus s’n.

 

“En hulle het volhard in die leer van die apostels…” (Handelinge 2:42).  Die vroeë Christene het die apostels se lering as gesaghebbend aanvaar.

 

“As iemand meen dat hy ‘n profeet of ‘n geestelike mens is, moet hy erken dat wat ek aan julle skrywe, bevele van die Here is.” (1 Korintiërs 14:37).  Wat Paulus in sy Korintiër-brief geskryf het is die bevele van God.  Sy woorde is in effek God se woorde.

 

“aangesien julle ‘n bewys soek van Christus wat in my spreek, en Hy is teenoor julle nie swak nie, maar kragtig onder julle.” (2 Korintiërs 13:3).

 

“gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is” (Efesiërs 2:20).  Die lering van die Ou Testament (die profete) en die Nuwe Testament (die apostels) is dít waardeur die kerk groei en waarop die kerk gebou is.  Hier sien ons duidelik dat die apostels en die profete se woorde Gód se woorde is.

 

“Daarom dank ons God ook sonder ophou dat, toe julle die woord van God ontvang het wat deur ons verkondig is, julle dit aangeneem het nie as die woord van mense nie, maar, soos dit waarlik is, as die woord van God wat ook werk in julle wat glo.” (2 Tessalonisense 2:13).  Weereens sien ons dat Paulus se woorde Gód se woorde is.

 

“Daarom, hy wat dit verwerp, verwerp nie ‘n mens nie, maar God wat ook sy Heilige Gees aan ons gegee het.” (1 Tessalonisense 4:8).  Verwerp ’n apostel se woorde en jy verwerp God se woorde.

 

“Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal vóór wees nie.” (1 Tessalonisense 4:15).  Soos die Ou Testament profete in <st1:bcv_smarttag style=””>2 Petrus 1:21, spreek apostels nie uit hulleself nie maar deur die Here.

 

“sodat julle die woorde kan onthou wat deur die heilige profete tevore gespreek is, en die gebod van ons, apostels van die Here en Verlosser.” (2 Petrus 3:2).  In Petrus se gedagte is die apostels se woorde net so gesaghebbend en bindend soos die profete se woorde.

 

Ons sien dus dat enige kerklike geskrif wat deur ‘n apostel geskryf is as Skrif beskou is.  Ook die apostels se helpers en mede-werkers het briewe geskryf wat as Skrif beskou is.  Markus was ‘n mede-werker van Paulus en Petrus (sien 4:11, <st1:bcv_smarttag style=””>1 Petrus 5:13).  Hy was veral in noue samewerking met Petrus en dit blyk dat hy deur Petrus se prediking tot bekering gekom het.  Geen wonder dat Paulus van hom praat as ‘my seun’ nie (1 Petrus 5:13).  Markus word dus soms as Petrus se evangelie beskou.  Lukas was ‘n mede-werker van Paulus.  Hy het in detail die sendingreise van Paulus opgeteken in die boek Handelinge.  Paulus haal selfs aan uit die Lukas-evangelie en noem dit Skrif:  “Want die Skrif sê:  Jy mag ‘n os wat graan dors, nie muilband nie; en:  Die arbeider is sy loon werd.” (1 Timoteus 5:18 aangehaal uit Deuteronomium 25:4 en Lukas 10:7).

 

Niemand weet wie Hebreërs geskryf het nie.  Was dit ‘n apostel?  Ons weet nie.  Ons weet wel dat hy met mense soos Timoteus (Paulus se mede-werker) bekend was (sien Hebreërs 13:23).  En as ons kyk na die skrywer se heerlike beskrywing van Christus, asook sy noukeurige uitleg van die Ou Testament, kan ons nie anders as om te glo dat hierdie brief die Woord van God is nie.  So het ook die vroeë kerk dit beskou.  Jakobus die broer van Jesus was ‘n apostel (sien <st1:bcv_smarttag style=””>1 Korintiërs 15:7, Galasiërs 1:19, 2:9) en daarom hoef ons nie te twyfel dat sy woorde Skrif is nie.  Judas was Jesus se halfbroer en Jakobus se broer.  Daarom word ook sy brief as Skrif aanvaar.  Dit moet duidelik gestel word dat die boeke van die Ou en Nuwe Testament eenvoudig as Skrif aanvaar is.  Geen mens het besluit dat hierdie boeke in ons Bybel moet wees nie.  Jesus en sy apostels (net soos die Joodse leiers) het aanvaar dat die Ou Testament soos ons dit vandag ken die Woord van God is.  Die vroeë kerk in die oostelike deel van die antieke Meditereense wêreld het in 367 n.C. erken dat die 27 boeke van die Nuwe Testament soos ons dit ken die Woord van God is.  Net so het die kerk in die westelike deel van die antieke Meditereense wêreld hierdie boeke in 397 n.C. erken (nie gekies nie).

 

As gelowiges en predikers moet ons die hele Skrif van 66 boeke aanvaar, glo, bestudeer, en preek.  Jy sal nie in die bediening en die Christelike lewe volhard as jy nie in die Skrif volhard nie.  Ook as jy die outeurskap van die Skrifte bevraagteken sal jy vou.  Jy kan nie saam met die liberale teoloë staan wat sê dat die Ou- en Nuwe Testament nie noodwendig (of glad nie!) deur die profete en apostels geskryf is nie.  As ons glo dat die Skrifte deur enige Jan-Rap-en-sy-maat geskryf is, dan is dit logies dat mense dink die Bybel is vol foute en is nie gesaghebbend nie.  Ons het hierbo gesien dat hierdie boeke deur God se verkose ambassadeurs geskryf moet wees om as Woord van God erken te word.  As ‘n gelowige en/of ‘n prediker van God se Woord te volhard kan jy nie die apokriewe of die Nag Hammadi (waarvan ons lees in Dan Brown se boek, The Da Vinci Code) as Skrif erken nie.  Jy kan ook nie soos die Katolieke en ander kultusse jou eie ‘heilige geskrifte’ by die Bybel byvoeg nie.  Moet ook boeke of verse uit die Bybel wil weglaat nie.  Dit wat die profete geskryf het is God se Woord.  En dit wat Jesus deur sy apostels gesê het is God se Woord.  Die Hebreërskrywer het dit só gesê:  “Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun” (Hebreërs 1:1).  God waarsku op ander plekke in die Bybel:

 

“Julle mag by die woord wat ek julle beveel, niks byvoeg nie, en julle mag daar niks van weglaat nie; sodat julle die gebooie van die Here julle God mag onderhou, wat ek julle beveel.” (Deuteronomium 4:2). 

 

“Alles wat ek julle beveel, dit moet julle sorgvuldig hou; jy mag daar niks byvoeg en daar niks van weglaat nie.” (Deuteronomium 12:32).  God het self ná hierdie verse in Deuteronomium nuwe openbaring gegee.  Maar toe die Openbaring aan die apostel Johannes klaar geskryf is het God geen nuwe openbaring gegee nie.

 

“Want ek betuig aan elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boek hoor:  As iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is.  En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is.” (Openbaring 22:18-19).  Sommige mense sê dat ‘die woorde van die profesie van hierdie boek’ net na die boek Openbaring verwys.  Alhoewel dit reg is om te sê dit verwys na die boek Openbaring (sien 1:3) verwys dit nie nét na Openbaring nie.  Openbaring het ’n unieke plek in die Skrif – geen boek is hierna deur enige apostel geskryf nie.  Dus mag niemand by Openbaring wegneem of byvoeg nie, en so ook mag niemand by die res van die Skrif byvoeg of wegneem nie.  Indien ons sê dat hierdie vers net na die boek Openbaring verwys, moet ons tot die slotsom kom dat daar geen vers in die Skrif is wat verhoed dat God dalk een of ander tyd nuwe geskrifte by die Bybel sal byvoeg nie.  Dan is die Bybel soos ons dit nou ken onvolledig.

 

Buiten vir hierdie feite moet ek ook by sê dat daar vals lering en foute in die apokriewe is.  Historiese, kronologiese, en aardrykskundige foute is menig.  Leuens en bedrieglikheid word hierin geregverdig.  Die aprokiewe leer redding deur goeie werke.  Dit leer dat die wêreld uit reedsbestaande materie gemaak is.  Dit leer dat bydrae vir die armes versoening kan doen vir sondes.  Dit leer dat God die gebede van die dooies hoor, dat vroue mans moet word om hemel toe te gaan, dat jy die geld in jou hande moet laat sweet totdat jy weet vir wie jy moet gee, dat kos wat aan afgode geoffer is verbode is, dat gelowiges moet vas voordat hulle gedoop word, dat mense is lopende water gedoop moet word, dat Christene verplig is om op Woensdae en Vrydae moet vas en dat dit verbode is om op Maandae en Donderdae te vas, dat Christene beveel word om drie keer per dag die Onse Vader te bid, dat ongedoopte persone nie die nagmaal kan gebruik nie, dat buite-Bybelse gebede as ‘n patroon by die nagmaal gebruik moet word, dat apostels nie vir langer as twee dae in ‘n stad mag bly nie, dat profete wat in die Gees profeteer nie getoets kan word nie, en dat jy volmaak moet wees voor Jesus kom indien jy gered wil word (Ibid, pp.59, 67 n.32). 

 

Maar wat as daar binne die naby toekoms ‘n verlore brief van een vand ei apostels gevind word?  Sal so ‘n brief dan by ons huidige 66 boeke bygevoeg word?  Nee.  God het vir alles gegee wat ons nodig het vir lewe en godsaligheid in die Bybel soos ons dit nou ken (sien <st1:bcv_smarttag style=””><st1:bcv_smarttag style=””>2 Timoteus 3:16-17, 2 Petrus 1:3).  Indien so ‘n brief gevind word beteken dit dat die kerk vir 2000 jaar gebrekkig was en nie alles gehad het wat nuttig was vir die Christleike lewe nie.  God sal nie dat so iets gebeur nie.  Hy is getrou aan Homself, sy Woord, en sy kerk.

 

Die uiteindelike rede hoekom dit so belangrik is dat ons vertroue en ‘n hoë siening van die regte Bybel het, is omdat mense wat ‘n verkeerde Bybel het ook ‘n verkeerde Jesus het.  En as jy ‘n verkeerde Bybel en Jesus het dan kan jy nie geestelik groei nie.  Erger:  jy kan nie gered word nie.  Kry dus ‘n hoë siening van hierdie Skrif wat hierbo beskryf word – van die HELE Skrif indien jy tot die einde toe wil volhard.

 


[1] Ek verstaan dat daar ‘n probleem lê omtrent Sagaria die seun van Beregja (Matteus 23:35).  Die Sagaria in 2 Kronieke 24 is die seun van Jojada.  Sagaria die seun van Beregja is die skrywer van die tweede laaste boek van óns Ou Testament (sien Sagaria 1:1).  Die woorde “seun van Beregja” in Matteus is nie in al die manuskripte nie en mag moontlik ‘n latere byvoeging wees.  Maar indien dit nie is nie maak dit nie veel van ‘n verskil om my punt te bewys nie, omdat Sagaria die seun van Beregja van die laaste Ou Testament profete was, en sekerlik die laaste een wat ‘n martelaar was.