Die wie, wat en waarom van verlossing

“Want ons was ook vroeër onverstandig, ongehoorsaam, op ‘n dwaalweg, verslaaf aan allerhande begeerlikhede en singenot; ons het in boosheid en afguns gelewe; ons was haatlik en het mekaar gehaat.  Maar toe die goedertierenheid van God, ons Verlosser, en sy liefde tot die mens verskyn het – nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie, maar na sy barmhartigheid het Hy ons gered…” (Titus 3:3-5).

 

(1)  Goeie werke in die wêreld (verse 1-2)

(2)  Goeie werke in verlossing (verse 3-8)

(3)  Goeie werke in die kerk (verse 9-15)

 

Voordat Paulus tot bekering gekom het, het hy staatgemaak op sy goeie werke.  Hy het gedink dat dié hom in die hemel sal kry.  Maar later het hy besef dat hy geen hoop gehad het sonder die geregtigheid van Jesus Christus.  Nou het goeie werke sy regte plek ingeneem:  dit was die bewys van ware verlossing en nie die vereiste om gered te word nie.  Dieselfde kan gesê word van Martin Luther, John Bunyan, John Wesley, George Whitefield en talle ander.  Luther het byvoorbeeld vir ‘n hele nag op ‘n koue vloer gelê om God se guns te probeer wen.  Whitefield en Wesley het gevas, heilig probeer lewe, godsdiens beoefen, en allerhande ander dinge probeer om regverdig te wees voor God.  Bunyan het gedink dat hy nie heilig genoeg kon wees nie en dat hy moontlik die onvergeeflike sonde gepleeg het.  Hoe kon hierdie mense regverdig wees voor God?  Watse sou die plek wees van goeie werke in hulle verlossing?

 

Miskien kan ons dit só opsom:  niemand sal deur goeie werke gered word nie, maar so ook kan niemand daarsonder gered word nie.  Vers 5 sê dat ons nie deur ons eie werke gered is nie.  Maar vers 8 sê dat die bewys van ware redding gesien word in die feit dat ons goeie werke voorstaan en uitleef.  Paulus bespreek ten minste sewe waarhede omtrent verlossing in verse 3-8.  Vandag sal ons na drie van hierdie waarhede kyk en in die weke wat volg sal ons die res bestudeer.  Hier is dan die eerste drie.  [i] Hoekom het ons redding nodig?  Vers 3 wys duidelik hoekom ons redding nodig het:  want ons is verlore sondaars.  Voor ons bekering was ons moreel onverstandig, roekeloos, en dwaas.  Wat geestelike dinge betref was ons so dwaas dat ons gedink het ons is wys.  Op ‘n ander plek beskryf Paulus dit só:  “Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword” (Romeine 1:22).  Verder sê Paulus in vers 3 dat ons ongehoorsaam was.  Ons was ongehoorsaam aan God en sy wet, asook aan die gesag wat oor ons aangestel was.  Ons was nie gehoorsaam aan die owerhede nie (sien v.1), maar ongehoorsaam.  Reeds van kleins af het ons geleer om teen die gesag van God deur ons ouers te rebelleer.  Van ons kinderjare af het ons weggedwaal van God af (Psalm 58:4).  Ons het gedink dat ons ons eie baas en selfstandig kon wees.  Ons het gedink dat ons in beheer van ons eie lewens was.  Maar ons was op ‘n dwaalweg en was slawe van sonde en Satan.  Die duiwel het ons oë verblind, sodat ons van God af weggedwaal het (2 Korintiërs 4:4).  Ons was soos die verlore seun wat weggedwaal het van sy vader af.  Dít is hoe die Bybel dit op ander plekke beskryf:

 

“Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop…” (Jesaja 53:6).

 

“Jesus antwoord hulle:  Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle dat elkeen wat die sonde doen, ‘n dienskneg van die sonde is.” (Johannes 8:34).

 

“Hulle het almal afgewyk, saam het hulle ontaard…” (Romeine 3:12).

 

“En julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes waarin julle tevore gewandel het volgens die loop van hierdie wêreld, volgens die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk, onder wie ons almal ook vroeër gewandel het in die begeerlikhede van ons vlees toe ons die wil van die vlees en van die sinne gedoen het; en ons was van nature kinders van die toorn net soos ook die ander.” (Efesiërs 2:1-3).  In ons sondige doodsheid het ons agter ons luste, die wêreld, en die duiwel aangeloop.

 

Volgens Paulus het ons gedoen en gedink net wat ons wou.  Ons het vir ons eie begeertes en plesiere gelewe.  ’n Letterlike vertaling van die woord ‘begeertes’ [Gk. epithumia] in vers 3 dui aan dat ons verbode vrugte begeer het.  Ons het allerhande plesiere nagejaag.  Nie almal het dieselfde sondes lief nie.  Elke sondaar se hart het sy eie voorkeur.  Maar watookal ons voorkeur sonde was – ons het dit nagejaag met alles in ons.  Ons was vol van boosheid.  Ons het bose dinge beplan en gedoen.  Daar is diep geheime in jou verlede wat so boos is dat jy skaam sal kry indien enigiemand daarvan sou uitvind.  Ons was afgunstig.  ’n Mooi Engelse woord kan hier gebruik word:  Ons was eenvoudig net nasty.  Ons het ander ingedoen en op hulle getrap om bo uit te kom.  Ons was bitter omdat ander dinge het wat ons nie kon kry nie.  Ons was jaloers. 

 

Ons was haatlik sê Paulus in vers 3.  Ons was so lelik en aaklig dat ander ons nie kon verdra nie.  En ons het hulle terug gehaat.  As ons nie met ons hande moord gepleeg het nie het ons dit in ons harte gedoen.  Jy wou mense uit jou lewe uitskuif.  Nie almal het dit op dieselfde manier gedoen nie, maar almal het dit gedoen.  Miskien het jy met die vuis of met die tong baklei.  Dalk was jy lief vir konfrontasie en stryery.  Was jy dalk iemand wat ander geïgnoreer het of vir dae stilgebly het om hulle te straf?  Of eerder iemand wat ander wat jou irriteer sou vermy het?  Of erger:  jy was iemand wat skynheilig was.  Vóór mense het jy geglimlag terwyl daar oorlog in jou hart teen hulle was.  Òf jy het gedagdroom en jou verbeel hoe jy van hulle ontslae raak met slegte woorde of dade.  Dalk het jy mense sleggesê, beskinder, of selfs gevloek.  Die punt is jy het ander gehaat net soos wat vers 3 sê.  En omdat jy was soos wat vers 3 beskryf, was dit nodig dat jy gered moes word.

 

[ii] Wie het ons gered?  In een sin kan ons die vraag antwoord:  die Vader, die Seun, en die Heilige Gees – ons Drie-Enige God.  In vers 4 sien ons hoe God die Vader sy goedheid en liefde laat verskyn deur sy Seun aarde toe te stuur.  In verse 5-6 lees ons hoe die Heilige Gees weergeboorte en vernuwing in ons harte bewerk het.  In verse 6-7 sê Paulus dat Jesus ons in sy genade kom red het en die Heilige Gees oor ons uitgestort het.  In 1:1-4 lees ons van die Vader wat ons uitverkies het om die ewige lewe te verkry.  In 2:11-14 lees ons van die Seun van sy lewe vir ons neergelê het aan die kruis om ons van ons sondes te red.  In 3:5-6 sien ons hoe die Heilige Gees die verlossing in ons harte toepas.  Dus is die Drie-Eenheid betrokke in ons redding.  Ander verse in die Bybel leer vir ons dieselfde waarheid.  Volgens Galasiërs 4:4-6 het die Vader sy Seun aarde toe gestuur, het die Seun ons verlos, en het die Heilige Gees ons aangeneem om kinders van God te word.  Efesiërs 1:3-14 wys hoe die Vader ons uitverkies het, hoe die Seun vir ons gesterf het, en hoe die Heilige Gees die ons verseël om die ewige lewe te beërwe.  Soos Paulus leer Petrus ook dat die Vader ons uitverkies het, dat die Heilige Gees ons skoonwas en heiligmaak, en dat die Seun ons reinig deur sy bloed (1 Petrus 1:2).

 

[iii] Hoekom het God ons gered?  God was nie verplig om ons te red nie.  Hy het ons nie gered op grond van enige goedheid wat Hy in ons gesien het nie.  Vers 5 is duidelik daaroor:  “nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie…”  Eerder:  in verse 4-5, 7 sê Paulus dat God ons gered het op grond van sy eie barmhartigheid, goedheid, liefde, en genade.  Die liefde in vers 4 spreek letterlik van God se liefde vir mense [Gk. philantropia].  Daar is seker geen ander vers in die Bybel wat hierdie liefde duideliker uitdruk as Johannes 3:16 nie:  “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”  God se liefde en goedheid vir mense word op geen plek so duidelik gesien as op die kruis van Golgota nie.  Daarom dat Paulus in vers 4 praat an die liefde en goedheid van God wat verskyn het.  Dit is deur Jesus se vleeswording en kruisdood wat God se goedheid aan ons verskyn het (sien 2:11).  Deur die verlossing wat op Golgota bewerk is het ons God se goedheid, liefde, barmhartigheid, en genade leer ken.  God se barmhartigheid verwys daarna dat ons die straf van die hel verdien, maar nie ontvang nie.  Sy genade verwys daarna dat ons nie die heerlikheid van die hemel verdien nie, maar dat ons dit wel ontvang.  Dít is dan hoekom God ons gered het:  nie omdat óns goed is nie, maar omdat goed is!

 

Omdat hierdie bogenoemde dinge waar is, is die belangrike vraag nie of jy ‘n dag en datum het om te bewys dat jy iewers ‘n Christen geword het nie.  Die vraag is eerder of jy ‘n maar in jou lewe het?  Kan jy sê dat jy ‘n slegte persoon was (v.3), maar dat jy ‘n transformasie ondergaan het (v.4)?  Sien jy ‘n verandering in wat jy was en wat jy nou is?  Sien jou familie, vriende, bure, en kollegas dat jy ‘n nuwe mens is; dat jy anders dink en doen as in die verlede?  Steun jy op jou eie goeie werke om hemel toe te gaan?  Hoe sal jy die tipiese EE3 vraag antwoord:  As jy voor die Here staan en Hy vra vir jou, “Hoekom moet Ek jou in my hemel toelaat?”, wat sal jou antwoord wees?  Indien jou antwoord so iets klink:  “Ek het niemand kwaad gedoen nie…Ek het ander mense van God vertel…Ek bid elke dag en vra dat die Here my help…Ek het goed probeer lewe…Ek hoop ek is goed genoeg vir die Here…Ek glo die Here is liefdevol en sal my aanvaar…Ek het nie baie foute gemaak nie…My goeie werke weeg swaarder as my sondes…Ek was my hele lewe lank in die kerk en het in die kerk groot geword…” steun jy op jou eie werke en sal jy nie die Koninkryk van God sien nie. 

 

Jy het die evangelie nodig.  Jy moet besef dat God heilig is en dat Hy nie jou sonde duld nie.  Jy moet verstaan en erken dat jy sy heilige wet gebreek het.  Jou lewe word in vers 3 beskryf.  Jy moet perfek wees om hemel toe te gaan, maar jy is nie.  God het jou hulpelose toestand gesien en self aarde toe gekom om in jou plek volmaak die wet te gehoorsaam.  Hy het toe kruis toe gegaan om die straf vir jou sondes te dra.  Daar het God Hom beskou as al die sondaars in die wêreld en sy Seun gestraf.  Jesus het die straf gedra vir sondaars.  Hy het gesterf, is begrawe, en het op die derde dag opgestaan uit die dood.  Omdat Hy vir ewig lewe kan Hy die ewige lewe gee aan almal wat oop Hom vertrou.  Jy hoef nie self gestraf te word vir jou sondes in die hel nie.  As jy op Christus vertrou en wegdraai van jou sondes, dan sal jy gered word.  Bid tot Hom, bely jou sondes opreg, en vertrou met jou hele hart in wie Hy is en in wat Hy gedoen het in sy lewe, dood, en opstanding.  Elkeen wat sy Naam aanroep sal gered word (Romeine 10:13).

 

As jy reeds ‘n gelowige is, is dit goed om jouself in vers 3 te sien.  Dit is goed om te onthou hoe sleg jy was.  As jy dít onthou sal jy die Vader eer en dank dat Hy jou uitverkies het.  Jy sal die Seun eer en dank dat Hy vir jóú gesterf het aan die kruis.  Jy sal die Heilige Gees eer en dank dat Hy nuwe lewe in jou geskep het.  Vers 3 behoort ook nuwe hoop in jou hart te bring as jy na jou verlore geliefdes kyk.  Al is hulle boos en ver verlore soos wat vers 3 beskryf, kan jy moed skep dat daar ook ‘n vers 4 is in jou Bybel.  God kon jou red en Hy kan hulle ook red en verander in mense wat goeie werke liefhet.  Bid vir hulle.  Paulus sê self in vers 3 dat hy ook so ‘n tipe persoon was (let dat hy van óns praat).  Ons onthou hoe Paulus Jesus en sy kerk gehaat en vervolg het.  En nogtans was God genadig en barmhartig om vir Paulus te red (1 Timoteus 1:13-16).  ‘n Baptiste predikant in Vereeniging het met liberalisme deurmekaar geraak en begin twyfel of die Bybel waar is.  Hy het gebid dat God hom moes help; dat God vir hom sou wys dat die Bybel waar is.  Hy het gebid dat God die slegste sondaar in Vereeniging sou red.  God het dit gedoen en hierdie sondaar verander in iemand wat goeie werke voorstaan.  Só het die predikant sy geloof teruggekry.  John Paton was ‘n Skotse sendeling na die New Hebrides eilande.  Daar het hy die evangelie aan kannibale gepreek.  Na ‘n klompie jare het hy net een bekeerling gehad – Abraham.  Hier is wat Paton oor die verandering in Abraham se lewe gesê het:

 

“When I have read or heard the shallow objections of irreligious scribblers and talkers, hinting that there was no reality in conversions, and that mission effort was but waste, oh, how my heart has yearned to plant them just one week on Tanna, with the ‘natural’ man all around in the person of Cannibal and Heathen, and only the one ‘spiritual’ man in the person of the converted Abraham, nursing them, feeding them, saving them ‘for the love Jesus’ – that I might just learn how many hours it took to convince them that Christ in man was a reality after all!  All the skepticism of Europe would hide its head in foolish shame; and all its doubts would dissolve under one glance of the new light that Jesus, and Jesus alone, pours from the converted Cannibal’s eye.” (uit John Piper se audio biografie oor die lewe van John Paton – beskikbaar in manuskrip vorm op Desiring God se webtuiste).

 

Ek vertrou dat jy nou duidelik die plek van goeie werke in verlossing kan sien en verstaan.