Is my baba in die hemel?

Wat sê jy vir ‘n ma wat dít vir jou vra?  Vir ‘n ma wat ‘n miskraam of stilgeboorte gehad het?  Vir ‘n ma wat ‘n aborsie gehad het en nou spyt is?  Vir ‘n ma wie se baba vroeg in sy of haar jong lewetjie dood is?  Na baie studie, bepeinsing, en bespreking met ander is my antwoord eenvoudig:  “Waarskynlik…baie waarskynlik.”  Daar is nie ‘n enkele teks wat sê dat hierdie kinders in die hemel is nie.  Maar daar is genoegsame Bybelse data wat my dwing om te sê:  “Die kanse is nie 50/50 nie.”

 

In homself het ‘n volwassene geen méér potensiaal of bekwaamheid om te glo as ‘n baba nie.  Soos die baba is die volwassene dood in sy sonde en het hy ‘n sondige natuur (Psalm 51:7, Romeine 3:10-12, Efesiërs 2:1-3).  Voordat enige mens kan glo moet God nuwe lewe in sy hart skep; moet God wedergeboorte aan daardie individu skenk (let op die orde van ‘geroep’ en ‘geregverdig’ in Romeine 8:30.  Sien ook in <st1:bcv_smarttag style=””>1 Johannes 5:1 hoe geloof ‘n kenmerk van weergeboorte is).  Geloof self is ‘n gawe van God (Efesiërs 2:8-9, Fillipense 1:29).  Ek glo dus dat die Almagtige God babas kan red deur wedergeboorte en geloof.  Hy red hulle opgrond van sy genade alleen en nie op grond van enige ‘onskuld’ in hulle nie (net soos Psalm 51:7 wys dat babas in sonde gebore is).  Kom ons kyk na ‘n paar verse wat vir ons sal wys dat die moontlikheid vir die redding van ongebore of jong kinders ‘n werklikheid is.  Party van hierdie verse leer nie eksplisiet dat babas weergebore is nie, maar wel implisiet dat dit so kan wees. 

 

“Ja, U is dit wat my uit die moederskoot uitgetrek het, wat my veilig laat rus het aan my moeder se bors.  Aan U is ek oorgegee van die geboorte af; van die skoot van my moeder af is U my God.” (Psalm 22:10-11).  Hierdie Psalm is wel Messiaans, maar tog sê Dawid dit van homself ook.

 

“Op U het ek gesteun van die geboorte af, van die moederskoot af is U my bevryder; oor U is my lof altyddeur.” (Psalm 71:6).

 

“En [Dawid] sê:  Toe die kind nog in die lewe was, het ek gevas en geween, want ek het gedink:  Wie weet – die Here kan my genadig wees, sodat die kind in die lewe bly.  Maar nou is hy dood – waarom sou ek dan vas?  Sal ek hom nog kan terugbring?  Ek gaan na hom, maar hy sal na my nie terugkeer nie.” (2 Samuel 12:23).  Dawid praat hier van sy kind wat dood is en sê dat hy hom weer in die hemel sal sien.  Wayne Grudem skryf oor hierdie vers:  “Someone might object that David is only saying that he would go to the state of death just as his son had.  But this interpretation does not fit the language of the verse:  David does not say, ‘I shall go where he is,’ but rather, ‘I shall go to him.’  This is the language of personal reunion, and it indicates David’s expectation that he would one day see and be with his son.” (Systematic Theology; Inter-Varsity Press; NOTTINGHAM; 1994, 2000; p.501 n.20).

 

“en Hy sê:  Voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie verander en soos die kindertjies word nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemele ingaan nie!…maar elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, laat struikel, dit is vir hom beter dat ‘n meulsteen aan sy nek gehang word en hy wegsink in die diepte van die see.” (Matteus 18:3, 6).

 

Maar toe Jesus dit sien, het Hy hulle dit baie kwalik geneem en vir hulle gesê:  Laat die kindertjies na My toe kom en verhinder hulle nie, want aan sulkes behoort die koninkryk van God.  Voorwaar Ek sê vir julle, elkeen wat die koninkryk van God nie soos ‘n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.” (Markus 10:14-15).

 

“…en [Johannes die Doper] sal vervul word met die Heilige Gees reeds van die skoot van sy moeder af.” (Lukas 1:15).  Weer sê Wayne Grudem:  “We might say that John the Baptist was ‘born again’ before he was born!…God is able to save infants in an unusual way, apart from their hearing and understanding the gospel, by bringing regeneration to them very early, sometimes even before birth.  This regeneration is probably also followed at once by a nascent, intuitive awareness of God and trust in him at an extremely early age, but this is something we simply cannot understand.” (Ibid, p.500).  Grudem sê verder:  “However, we all know that infants almost from the moment of birth show an instinctive trust in their mothers and awareness of themselves as persons distinct from their mothers.  Thus we should not insist that it is impossible that they would also have an intiuitive awareness of God, and if God gives it, an intuitive ability to trust in God as well.” (p.500 n.19).  Let maar op hoe Johannes in die moederskoot van blydskap gespring het toe hy die groet van sy Here se moeder hoor (Lukas 1:41, 44).

 

“In dieselfde uur het Jesus Hom in die gees verheug en gesê:  Ek loof U, Vader, Here van die hemel en die aarde, dat U hierdie dinge verberg het vir wyse en verstandige mense en dit aan kindertjies geopenbaar het.  Ja, Vader, want so was dit u welbehae.  Alles is aan My oorgegee deur my Vader; en niemand weet wie die Seun is nie, behalwe die Vader, en wie die Vader is nie, behalwe die Seun en hy aan wie die Seun dit wil openbaar.” (Lukas 10:21-22).  Hierdie teks mag miskien spreekwoordelik na ‘kindertjies’ verwys, maar tog is dit by die Almagtige moontlik om sy evangelie aan kleintjies bekend te maak.

 

Op grond van die bogenoemde verse glo ek dat babas wel wedergebore kan wees, en dat God net sal doen wat goed en reg is in die geval van babas wat sterf.  Ek hoop dit bied genoeg troos vir gebroke ouers.