Die inspirasie van die Bybel – wat is dit?

“Die hele Skrif is deur God ingegee…” (2 Timoteus 3:16).

 

(1)  Kry ‘n hoë siening van die Skrif (3:14-17)

(2)  Kry ‘n hoë siening van prediking (4:1-5)

 

In moderne Afrikaans gebruik ons die woord inspirasie om te verwys na ‘n emosie en determinasie wat ons het na ‘n motiverende toespraak, ‘n goeie film, of ‘n kragtige preek.  Ons sê ook soms dat ons geïnspireer en lus voel om te komponeer, te skryf, te dig, of te skilder.  Maar dit is glad nie wat ons bedoel wanneer ons sê dat die Bybel geïnspireer is nie.  Ek sal nou verduidelik wat met hierdie woord bedoel word.  Om te volhard wanneer vervolging of valsheid in die kerk insluip, moet Timoteus (en jy) glo dat die Skrif duidelik en noodsaaklik is.  Jy moet ook weet wátter Skrif om te glo.  [iv] En dan moet jy ook natuurlik glo dat die Skrif geïnspireer is.  ‘n Letterlike betekenis van hierdie woord (ingegee, geïnspireer) in <st1:bcv_smarttag>1 Timoteus 3:16 is ‘uitgeasem’ [Grieks theopneustos].  Wanneer jy uitasem die lug oor jou stembande beweeg bring dit klank voort.  Dit is agter die gedagte van die Skrif wat geïnspireer of uitgeasem.  Met ander woorde dit is Gód se woorde. 

 

Hoe het die Heilige Gees die Bybel geïnspireer?  Hy het dit nie gedoen soos wat in my graad <st1:bcv_smarttag>3 (standerd 1) klas gebeur het nie.  Die juffrou het op en af geloop in die klas en gesê:  “Jannie het gesê…”.  Ons het dan presies daardie woorde neergeskryf.  “Sarie, sal jy asseblief…” het sy aangegaan.  Ons het woord vir woord geskryf wat sy gesê het.  Dit is nie hoe die Heilige Gees die Skrif geïnspireer het nie.  Die apostels en profete wat die Skrif neergeskryf het is nie masjiene wat sonder persoonlikheid woorde neergeskryf het nie.  Die Skrif is ook nie geïnspireer deur wat in my graad 10 (standerd 8) klas gebeur het nie.  Twee onderwysers het vir mekaar nare boodskappe gestuur deur een van die skoolkinders.  Die kind het nie woord vir woord gesê wat meneer X of juffrou Y gesê het nie.  Hy het egter die basiese boodskap oorgedra – al het hy ook detail foute gemaak.  Die Bybel bevat nie net die basiese boodskap wat die Gees wou oordra nie.  Die Bybel is woord vir woord (sonder enige detail foute) die woorde van God self.  Dan is die Bybel só geïnspireer:  Luciano Pavarotti het een van Bryan Adams se liede gesing, en Adams het een van Pavarotti se liede gesing.  Adams en Pavarotti het woordeliks die ander se liede gesing, maar elkeen het dit in sy eie styl gesing.  So is die Skrif woord vir die woord die Heilige Gees se woorde, maar die outeurs wat dit neergeskryf het, het dit in hulle eie styl gedoen.  Jesus het gesê dat die Heilige Gees die outeurs aan alles sou herinner wat Jesus vir hulle gesê het (Johannes 14:26).  Die Heilige Gees het hulle geheue verfris en helder laat onthou sonder om enige foute te maak.  Ja, in Openbaring <st1:bcv_smarttag>2 en 3 sien ons hoe Jesus vir Johannes dikteer:  “Aan die engel van die gemeente in ______ skryf”.  Maar tog het Johannes met sy eie unieke styl geskryf.  Lukas 1:1-3 wys hoe Lukas noukeurig materiaal versamel en geredigeer het voordat hy sy evangelie geskryf het.  God het op baie maniere met en deur die profete in die Ou Testament gespreek (Hebreërs 1:1) en tog het elke profeet ‘n unieke preek en skryfstyl gehad.

 

Maar die outeurs van die Bybelboeke was almal sondaars.  Hoe kan ons sê dat hulle sonder foute God se boodskap neergeskryf het?  Besmet die menslikheid van die Bybelskrywers nie die boeke wat deur hulle geskryf is nie?  Nee.  Jesus is God en mens, en tog besmet sy menslikheid nie sy Goddelike natuur nie.  Jesus is uit ‘n sondige mens gebore (Maria), maar tog was Jesus sonder sonde gebore (sien Lukas 1:25, Hebreërs 7:26).  Job het gewonder of daar iemand is wat reinheid uit onreinheid kan voortbring (Job 14:4).  Ja, daar is iemand wat dit kan doen – God.  En Hy het dit ook gedoen deur die inspirasie van die Skrifte.  Die Bybel is God se woorde.  Meer as 400 keer sê die Ou Testament:  “So spreek die Here”.  Wat die profete gesê het is wat God self gesê het.  Let ook op die volgende tekste:

 

“Die Gees van die Here spreek in my, en sy woord is op my tong.” (2 Samuel 23:2).  Wat Dawid hier gesê het was nie net sy eie woorde nie, maar God s’n.

 

Vir die apostels sê Jesus:  “Maar wanneer hulle jul oorlewer, moenie julle kwel oor hoe of wat julle sal spreek nie, want dit sal julle in daardie uur gegee word wat julle moet spreek; want dit is nie julle wat spreek nie, maar die Gees van julle Vader wat in julle spreek.” (Matteus 10:19-20).

 

“En toe Hy opgestaan het uit die dode, het sy dissipels onthou dat Hy dit vir hulle gesê het; en hulle het die Skrif geglo en die woord wat Jesus gespreek het.” (Johannes 2:22).  Jesus se woorde is Skrif.  Sy woorde is in die Nuwe Testament neergeskryf.

 

“[die evangelie] wat Hy tevore beloof het deur sy profete in die heilige Skrifte” (Romeine 1:2).  God se beloftes kom deur die profete en word in die Skrif neergeskryf.

 

“Want die Skrif sê aan Farao:  Juis hiervoor het Ek jou laat optree, dat Ek in jou my krag kan toon en dat my Naam verkondig kan word op die hele aarde.” (Romeine 9:17).  Het die Skrif hierdie woorde vir Farao gesê of het God dit gesê?  Die punt is duidelik:  Wat die Skrif sê is wat God sê.

 

“Daarom dank ons God ook sonder ophou dat, toe julle die woord van God ontvang het wat deur ons verkondig is, julle dit aangeneem het nie as die woord van mense nie, maar, soos dit waarlik is, as die woord van God wat ook werk in julle wat glo.” (1 Tessalonisense 2:13).  Wat Paulus en die apostels neergeskryf het was nie maar net hulle eie woorde nie, maar God s’n.

 

Wanneer die Hebreërskrywer Psalm 95 aanhaal sê hy:  “…die Heilige Gees spreek…” (Hebreërs 3:7).  Petrus skryf:  “terwyl julle veral dít moet weet, dat geen profesie van die Skrif ‘n saak van eie uitlegging is nie; want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek.” (2 Petrus 1:20-21).  En weer:  “sodat julle die woorde kan onthou wat deur die heilige profete tevore gespreek is, en die gebod van ons, apostels van die Here en Verlosser.” (2 Petrus 3:2).  Wat die apostels en die profete gepreek en geskryf het was Jesus en die Heilige Gees se woorde.

 

Hoe moet ons reageer op die leerstelling van die inspirasie van die Skrif?  Heel eerste moet ons God prys vir hierdie Woord, alles wat daarin geskryf staan glo, en met vrees en bewing daaraan onderwerp.  Dink daaraan dat hierdie woorde is van die God wat met blitse, donderslae, vuur, rook, en ‘n aardbewing neergedaal het op berg Sinaï toe Hy die Tien Gebooie aan sy volk gespreek het.  Hierdie is die woorde van die God wat die Tien Gebooie met sy eie vinger op kliptafels neergeskryf het.  Hierdie is die Woord waarvan die Psalmskrywer sê:  “…you have exalted above all things your name and your word.” (Psalm 138:2 – ESV).  Hierdie is die Woord waaroor die Psalmis 176 verse van lof en dank geskryf het in Psalm 119.  Dié Psalm leer onder andere vir ons om die Woord lief te hê, te oordink, te gehoorsaam, te vrees, en ons hande op te hef tot hierdie Woord.  Jesaja sê God let op die een wat vir sy Woord bewe (Jesaja 66:2).

 

Nóg ‘n reaksie sou wees om dít te weet:  as jy nie na die Skrif luister nie, luister jy ook nie na God nie.  Om die Skrif te verwerp is om God te verwerp.  Toe Saul Samuel se Woord verwerp het, het Samuel vir hom gesê dat Hy God verwerp het (1 Samuel 15:3, 9).  Paulus sê:  “Daarom, hy wat dit [Paulus se brief] verwerp, verwerp nie ‘n mens nie, maar God wat ook sy Heilige Gees aan ons gegee het.” (1 Tessalonisense 4:8).  Moenie die Skrif minag nie maar buig jou knie en jou nek.

 

‘n Laaste reaksie is om te onthou dat die Skrif God se absolute waarheid is.  Die Bybel is nie maar net waarheid wat aan ‘n ander standaard gemeet moet word nie, maar dit self is die standaard van alle waarheid:  “…U Woord is DIE waarheid.” (Johannes 17:17).  In ‘n post-moderne kultuur glo baie mense dat daar geen absolute waarheid is nie.  Al wat absoluut is in hulle gedagtes is die opinie dat daar nie absolutes is nie.  Hulle wil net glo daar is absolutes wanneer dit hulle pas.  Probeer om vir jou bankbestuurder te sê daar is nie absolutes nie as jy die bank R100 000 skuld.  Gaan sê vir hóm:  “Wat daardie dokument vir jóú beteken is nie wat dit vir mý beteken nie.”  Probeer vir die wet van aantrekkingskrag sê daar is nie absolutes nie en spring sonder ‘n valskerm by ‘n vliegtuig uit.  Dit is absurd om te sê daar is geen absolute waarhede nie.  Toe Albert Möhler die president van die grootste Seminarium in die wêreld word, het hy gevra dat elke dosent die geloofsbelydenis moet onderteken.  Indien hulle dit nie met ‘n skoon gewete kon onderteken nie, moes hulle loop.  Een liberale dosent het vir Möhler gesê:  “Ek kan daardie dokument interpreteer soos ek wil en dit laat beteken net wat ék wil.  Wat dit vir jóú beteken is nie wat dit vir mý beteken nie.”  Toe Möhler vir haar sê sy’s afgedank was haar reaksie:  “Maar jy kan my nie afdank nie.  My kontrak sê…”.  Möhler het ingespring:  “Ek kan daardie kontrak interpreteer soos ek wil en dit laat beteken net wat ék wil.  Wat dit vir jóú beteken is nie wat dit vir mý beteken nie.”

 

Dit is nie nodig dat jy die Skrif probeer reg bewys deur wetenskap, argeologie, geskiedenis, of enigiets anders nie.  Hoekom nie?  Want sodra jy dít doen dan erken jy dat die Bybel nie jou hoogste gesag is nie.  Jy onderwerp nou die Bybel aan ‘n hoër gesag om dit reg te probeer bewys.  Wanneer ateïste die Skrif probeer aanval moet jy toelaat dat die Skrif homself verdedig.  Dit is soos Spurgeon wat gesê het:  “As ‘n klomp mans met stokke kom om ‘n leeu in ‘n hok aan te val moet jy nie probeer om die leeu te verdedig nie.  Maak net die hok oop – die leeu sal homself verdedig.”  Net so hoef jy nie die Bybel te probeer verdedig nie.  Maak net die Bybel oop – die Skrif sal homself verdedig.  Die hemele is gemaak deur die Woord van God (Psalm 33:6).  Daardie selfde kragtige Woord het ons in geskrewe vorm in ‘n Boek (sien ook Psalm 147:18-19).

 

Een prediker het die storie vertel van ‘n ateïs wat in Christen meisie belanggestel het.  Maar sy wou niks weet nie.  “Ek is ‘n Christen”, het sy gesê, “Ek kan nie met ‘n ateïs trou nie.” Hy was nie afgesit nie.  Hy het besluit om die Nuwe Testament deur te lees en haar verkeerd te bewys.  Hy het vroeg die Sondagmiddag begin.  Die volgende oggend toe die son in Stellenbosch opkom het Gysbert die laaste hoofstuk van Openbaring gelees.  Hy was nie meer ‘n ateïs nie maar ‘n Christen.  Dit is waarlik soos Hebreërs 4:12 sê:  “Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ‘n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart.”  As jy ‘n lae siening het van die geskrewe Woord van God (die Bybel), sal jy ook ‘n lae en verdraaide siening hê van die vleesgeworde Woord van God (Jesus).  En natuurlik kan jy nie ‘n hoë siening van een van die twee hê as jy nie eers die evangelie glo nie.  Eers wanneer jy die evangelie van Jesus Christus glo kan jy ‘n hoë siening van Jesus en sy Woord hê.  So leer die apostel Paulus:  “Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.” (1 Korintiërs 2:14).  Glo die evangelie en kry ’n hoë siening van die Skrif.  Dán kan ons begin praat van hoe om te volhard wanneer jy die wind van voor het.