‘Foute’ in die Bybel beantwoord

“Die hele Skrif is deur God ingegee…” (2 Timoteus 3:16).

 

(1)  Kry ‘n hoë siening van die Skrif (3:14-17)

(2)  Kry ‘n hoë siening van prediking (4:1-5)

 

Op die internet is daar honderde webtuistes en videos wat sê dat die Bybel foute in het.  Ons het tot nou toe gesê dat die Bybel God se Woord is, dat God nie lieg nie, en gevolglik dat die Bybel foutloos is en nie ‘n enkele kontras bevat nie.  In hierdie preek en die volgende wil ek voorbeeld op voorbeeld van sogenaamde foute en kontraste uitwys en beantwoord.  Maar voordat ek dit doen is daar ‘n paar belangrike dinge om te sê.  Eerstens wil ek daarop wys dat daar baie agnostiese webtuistes en boeke is wat sogenaamde foute uitwys wat glad nie eers foute is nie.  Een webtuiste sê byvoorbeeld:  “Daar was nie hoofstukke en verse in die oorspronklike manuskripte nie, maar in moderne Bybels is daar hoofstukke en verse.  Hierdeur sien ons dus dat daar foute in die Bybel is.”  ‘n Ander voorbeeld klink só:  “Markus is voor Matteus geskryf, maar tog staan Matteus heel eerste in die Nuwe Testament.  Dit bewys die Bybel het foute in.”  Sulke logika is verdraaid.  Ek gaan nie eers poog om sulke dwase beskuldigings en aantuigings te beantwoord nie.

 

Nog iets om in gedagte te hou is dat sommige vertalings ou woorde gebruik waarvan die betekenis intussen verander het.  <st1:bcv_smarttag>Genesis 22:1 in die King James Version sê:  “…God did tempt Abraham…”  Skeptici sien dit as ‘n fout en teenstellend met Jakobus 1:13 wat sê dat God niemand versoek nie.  Maar ons moet onthou dat ‘tempt’ in ou Engels ook toets of beproef kon beteken.  Dit is dus geen fout nie.  In Hooglied 2:12 sê die ou King James:  “The flowers appear on the earth; the time of the singing of birds is come, and the voice of the turtle is heard in our land”.  Een ateïs sien dit as ‘n fout omdat skilpaaie volgens hom nie stemme het nie.  Maar in die ou Engels word die woord ‘dove’ nie bygevoeg nie.  Dit is duidelik dat Salomo van ‘n tortelduif praat en nie van ‘n skilpad nie.

 

Dan is daar dinge wat as foute beskou word, maar die antwoorde is voor die hand liggend.  ‘n Jong ateïs het vir my gesê:  “Hoekom sê die Bybel dat die diere twee-twee in die ark in gegaan het, maar op ‘n ander plek sê dit dat daar sewe pare van elke soort dier ingegaan het?  Dit is ‘n fout wat die Bybel verkeerd bewys.”  Nee dit is nie ‘n fout nie.  Hy het waarskynlik hierdie dinge by ander mense gehoor en nooit <st1:bcv_smarttag>Genesis 6-7 vir homself gelees nie.  As hy die teks vir homself gelees het sou hy gesien het dat daar sewe pare van elke soort rein dier en een paar van elke soort onrein dier in die ark ingegaan het.  En selfs met die sewe pare van die rein diere het hulle twee-twee ingekom – mannetjie en wyfie.  Nog ‘n voorbeeld word gevind in <st1:bcv_smarttag>Genesis 2:17.  God het vir Adam gesê dat hy sou sterf die dag as hy van die verbode vrug eet.  Maar volgens <st1:bcv_smarttag>Genesis 5:5 het Adam eers gesterf toe hy 930 jaar oud was.  Volgens ateïste is dit net nog een bewys dat die Bybel foute bevat.  Maar as jy net die teks verder lees sien jy dat God vir Adam en Eva klere van vel gemaak het.  Hy het in sy genade gegee dat diere in Adam en Eva se plek gedood is.  Dit was ‘n heenwysing na Christus wat sou sterf sodat ons kan lewe.  Ek gaan nie poog om dinge te antwoord wat voor die hand liggend is nie.  Die leser kan dit vir homself uitwerk.

 

Ons moet ook in gedagte hou dat daar verskillende grondtekste is.  Ouer vertalings gebruik gewoonlik die Textus Receptus as hulle bronteks, terwyl nuwer vertalings ouer en meer betroubare manuskripte gebruik.  Nadat die Bybel 400 jaar gelede in Engels vertaal is, is daar intussen ouer manuskripte ontdek.  Wanneer ‘n vertaling soos die English Standard Version verse het wat nie in die King James staan nie, is dit nie bygevoeg nie.  Eerder:  die ouer manuskripte wat ontdek is het nie daardie verse nie, en dus blyk dit dat latere manuskripte (waarop die King James gebasseer is) hierdie woorde by die teks bygevoeg het.  Verskille tussen vertalings moet dus nie as foute beskou word nie.  Onthou ook dat daar verskillend literatuursoorte in die Bybel is.  Dink maar aan poësie.  As ‘n digter sê dat die bome sing en die riviere handeklap is dit nie omdat hy wetenskaplik onkundig is nie.  Hy gebruik beeldspraak.  Die Bybel gebruik ook sulke taal in poëtiese boeke.  <st1:bcv_smarttag>Job 9:6 en Psalm 75:4 praat van die aarde wat op pilare staan.  Die skrywer dink nie dat die aarde letterlik pilare het nie, maar bedoel eenvoudig dat die aarde stewig en gevestig is.  En wanneer die Bybel praat van die son wat opkom, ondergaan, of stilstaan (Psalm 113:3, Josua 10:13) gebruik dit spreektaal.  Ons praat ook so (selfs die weerman praat van ‘n sonsopkoms).  Selfs as óns so praat bedoel ons nie dat die son beweeg nie.  Ons almal weet die aarde draai om die son en nie andersom nie.  En die Bybelskrywers probeer nie ‘n wetenskaplike stelling maak nie, maar beskryf die saak soos dit lyk (die son kom op, gaan onder, of staan stil).

 

Daar is vertalingsfoute in die Bybel.  C.H. Dodd het byvoorbeeld toegesien dat die woord ‘propitation’ in Romeine 3:25 as ‘expiation’ vertaal word.  Hy het nie in die plaasvervangende soendood van Jesus geglo nie en dus het hy die woord nie reg vertaal nie.  Maar ‘n vertalingsfout verander niks aan die foutloosheid van die Bybel in sy oorspronklike manuskripte nie.  Dit lei my na ‘n volgende punt:  kopieer-foute.  Die oorspronklike skrywers van die Bybel het onder inspirasie van die Heilige Gees geskryf.  Maar die mense wat kopiee van hierdie oorspronklike manuskripte gemaak het was nie geïspireer nie.  Hulle het so akkuraat as moontlik probeer kopieer, maar die moontlikheid is daar dat hulle foute gemaak het.

 

Kom ons kyk dan na ‘n paar sogenaamde foute en probeer om dit te beantwoord.  Fout #1:  “Hase herkou nie hulle kos nie en tog klassifiseer Levitikus 11:6 hase onder diere wat herkou.”  Diere soos beeste sluk hulle kos in en bring dit weer op om verder daaraan te kou en die nodige voedingswaarde uit hulle kos te kry.  Maar hase doen dit nie.  Die Hebreeuse woord vir herkou [Heb. ‘âlâh gêrâh] beteken eenvoudig om die gekoude ding weer te haal.  En hase doen presies dit.  Hulle sluk byna hulle kos heel in.  Dit kom dan weer uit in klein bolletjies wat hulle weer kou om so die maksimale voedingswaarde daaruit te kry.  Net soos beeste kou hase hulle kos weer.  Die verskil is dat hulle dit nie weer opbring nie.  Fout #2:  “Vlermuise is nie voëls nie, maar word in Levitikus 11:13, 19 saam met voëls geklassifiseer.”  Die Hebreeuse woord vir voel in hierdie verse [Heb. ‘ôph] beteken nie net voëls nie, maar verwys na alle skepsels wat vlieg.  Dieselfde Hebreeuse woord word in Levitikus 11:20-23 gebruik van vlieënde insekte.  Wanneer <st1:bcv_smarttag>Genesis 1:20-22 praat van voëls wat op dag 5 gemaak is, praat dit van alle vlieënde skepsels – ook vlermuise.  Vlermuise is vlieënde skepsels en daarom is Levitikus 11:19 nie ‘n fout nie.

 

Fout #3:  “Insekte het nie vier bene.  ‘n Laerskool kind weet dit.  Hoekom sê Levitikus 11:20-23 dan verkeerdelik dat insekte vier bene het?”  Hierdie beskuldiging neem aan dat mense in die ou tyd nie kon tel nie.  Natuurlik kon hulle sien dat insekte ses bene het en nie vier nie.  Let op dat die teks nie sê dat insekte vier bene het nie.  Die teks praat van vier bene waarmee hulle loop en ‘n ekstra stel bene waarmee hulle spring (sien vers 21).  Die teks onderskei eenvoudig tussen die vier bene waarmee hulle loop en die ekstra stel bene waarmee hulle spring.  Sprinkane gebruik nie hulle agterbene soveel om te loop as om te spring nie.  Die voorste vier bene word eerder gebruik om mee te klouter en te loop.  Dink maar ook aan ‘n hottentotsgod wat met net vier bene loop, terwyl die ander twee gebruik word om sy prooi mee te vang.  Die voorste twee bene word nie gebruik om mee te loop nie en dus kan ons ook van dié insek praat as een wat op vier bene loop.

 

Fout #4:  “’n Mosterdsaadjie is nie die kleinste van alle sade op aarde nie.  Sade soos die orgidieesaad is kleiner.  Jesus het ‘n fout gemaak toe Hy in Markus 4:31 gesê het ‘n mosterdsaad is die kleinste van alle sade.”  Let op die konteks van die parallele teks in Matteus 13:31.  Dáár praat Jesus van ‘n boer wat saai.  Duidelik dink hy aan die kleinste saad in die land en nie die kleinste saad in die wêreld nie.  Die Griekse woord vir ‘aarde’ in Markus 4:31 beteken ook ‘land’.  Orgidee groei nie natuurlik in die woestyn klimaat nie, en dus sou Jesus reg wees om te sê dat die mosterdsaad die kleinste saad in die land is.  Fout #5:  “Die waarde van Pi (π) is 3.0 nie, maar eerder aan 3.14159…  As jy die omtrek van ‘n boom meet en dit deur Pi deel kan jy die deursnee bepaal en presies weet hoe dik die boom se stam is.  Volgens <st1:bcv_smarttag>1 Konings 7:23 was die bronssee in die tempel 10 el in deursnee en het dit ‘n omtrek van 30 el gehad.  Wiskundig is dit verkeerd, want dit sou beteken dat die waarde van Pi 3.0 in plaas van 3.14159… is.”  Die som is afgerond en is nie ‘n wiskundige fout nie.  Buitendien het die bad volgens <st1:bcv_smarttag>1 Konings 7:26 geronde kante gehad (soos outydse baddens).  Wanneer die deursnee gemeet word sou dit van buiterant tot buiterant gemeet word.  Die vloeistof word egter nie so ver soos die buiterante gehou nie (soos in jou moderne bad), maar aan die binnekant van die rante.  Dit maak op vir die verskil tussen 3.0 en 3.14159…

 

Fout #6:  “1 Konings 7:26 sê dat die bronssee 2000 bat gehou het (44 duisend liter).  Maar volgens <st1:bcv_smarttag>2 Kronieke 4:5 kon dit 3000 bat (66 duisend liter) hou.  Wat anders is dit as ‘n kontras?”  Dit is geen kontras nie.  In die een geval mag dit na droë mate verwys en in die ander geval na vloeistof mate (so sê die Joodse Targum).  Enige huisvrou weet dat ‘n ordentlike maatbeker meer as een liter mate het – een vir vloeistof en een vir droë mates soos meel.  Onthou ook dat 2 Kronieke ná die Babiloniese ballingskap geskryf is.  Daar is ‘n verskil tussen ‘n Babiloniese bat en ‘n Joodse bat, net soos daar ‘n verskil tussen Britse perdekrag en Amerikaanse perdekrag is; of soos die verskil tussen Zimbabwe dollars, Nieu-Seeland dollars, en Amerikaanse dollars. 

 

Fout #7:  “Numeri 25:9 sê dat daar 24 duisend mense in die plaag dood is, terwyl Paulus in <st1:bcv_smarttag>1 Korintiërs 10:8 sê dat daar 23 duisend dood is.  Wat ‘n flater!”  Dit is nie ‘n flater nie.  Daar is meer as een moontlikheid om hierdie sogenaamde flater te verduidelik.  Een is dat die getal afgerond is.  As daar <st1:bcv_smarttag>23 500 dood is in die plaag kan ‘n mens sê dat daar 23 duisend of 24 duisend dood is.  Let ook op dat die teks in 1 Korintiërs sê dat daar 23 duisend op een dag dood is.  Dus is die ander duisend eers in die dae wat volg gedood.  Maar die beste verduideliking blyk te wees dat Numeri 25 en <st1:bcv_smarttag>1 Korintiërs 10 nie van dieselfde plaag praat nie.  In Numeri 25 het die Israeliete met Moabitiese vroue geslaap en afgode aanbid.  In <st1:bcv_smarttag>1 Korintiërs 10:7 haal Paulus aan uit Eksodus 32 waar die Israeliete die goue kalf aanbid het.  Daar het die Here ook mense doodgemaak, en dit is met dié teks in gedagte wat Paulus in <st1:bcv_smarttag>1 Korintiërs 10:8 sê dat 23 duisend op een dag gesterf het.  In die volgend esal ons na nog sogenaamde foute en teenstellings kyk en antwoorde bied.

 

As die skeptici dan vir jou sê daar is foute in die Bybel is dit jou plig om vir hulle te vra waar daardie foute is.  In baie gevalle weet hulle nie eers nie.  En indien hulle na foute verwys het hulle dikwels nog nooit die teks gelees nie.  Miskien kon hulle die teks gelees het, maar baie maal het hulle die konteks buite rekening gelaat.  So, indien jy hierdie mense wil antwoord moet jy die teks en omliggende hoofstukke (die konteks) lees.  Lees dit noukeurig.  Let op detail.  Kyk na die definisie van Hebreeuse en Griekse woorde op E-sword of ‘n ander betroubare Bybelprogram.  Jy kan ook Creation Ministries Internationl se webtuiste besoek om antwoorde op sulke kopkrappers te kry.  En indien die ateïste met jou wil stry moet jy nie ‘n twisgierige gees hê nie.  Wees sagmoedig en wys hulle in met hierdie gesindheid tereg.  Wees soos Jesus.  God mag dalk hulle oë oopmaak en hulle bekering skenk (sien <st1:bcv_smarttag>2 Timoteus 2:24-26).  Moenie met hulle stry oor detail nie.  Deel die evangelie met hulle want dit is die krag van God tot redding vir elkeen wat glo.  Om te sê dat die Bybel foute het is lastering teen God en sy Woord.  Jesus is waarheid, die Woord is waarheid, en die Gees is waarheid.  As die geskrewe Waarheid foutief is, dan is die vleesgeworde Waarheid ook foutief.  En as jy glo die Bybel het foute in sal jy nie volhard as jou kop op die spel is vir die evangelie en die Bybel nie.  Jy sal versoek wees om die geloof te verloën, omdat die boek waarop jou geloof gebou is foutief is.