Oor tiendes en offergawes

“Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of uit dwang nie, want God het ‘n blymoedige gewer lief.” (2 Korintiërs 9:7).

Besluit self wat jy wil gee

In ‘n onlangse artikel het iemand geskryf oor die skande dat mense en kerk nie meer hulle tiende vir die Here se kerk gee nie.  Die artikel het gewys hoe die Skrif gelowiges verplig om hulle tiendes te gee.  Ek verskil van hierdie artikel.  Ek glo dit bind ‘n Christen se gewete tot ‘n wet wat die Bybel hom nie beveeel nie.  Die Skrif vereis nooit dat gelowiges in die Nuwe Testament ‘n tiende van al hulle besittings of inkomste vir die kerk of ander Christelike werk moet gee nie.  Die tiende wet was vir God se volk Israel in die Ou Testament.  Die Israeliete moes 10% van al hulle oeste en inkomste gee, sodat die Leviete versorg kon word.  Onthou dat die Leviete nie ‘n erfdeel in die Beloofde Land saam met die ander stamme ontvang het nie.  Hulle is afgesonder om vir die Here te werk in die tempel.  Die res van die volk moes met die Leviete deel (sien Numeri 18:21-32 in hierdie verband).  ‘n Verdere 10% is deur die volk bygedra vir die jaarlikse feeste in Jerusalem.  Uit hierdie bydraes kon daar voorberei word vir almal wat na die feeste toe sou kom (sien Deuteronomium 14:22-27).  Elke derde jaar moes die volk 10% van hulle oeste en inkomste gee vir die versorging van armes, weduwees, en uitlanders (volgens Deuteronomium 14:28-29).  Die volk is ook beveel om nie die buitewyke van hulle lande te oes nie.  Hulle mag nie ‘n tweede maal oor hulle lande gekam het om dit deeglik te oes nie.  Watookal agtergebly het of vergeet is moes daar bly vir die armes, weduwees, weeskinders, en buitelanders.  Buiten hiervoor was daar ook tempel belasting wat betaal moes word.  Nadat al hierdie bedrae bymekaar getel is, het hulle omtrent 25% van hulle inkomste as ‘tiende’ gegee.  Die Ou Testamentiese tiende in die volk Israel was nie gelykstaande aan bydraes in die Nuwe Testamentiese kerk nie, maar eerder aan belasting wat gelowiges (en elke ander persoon) aan die regering moet betaal.

Wanneer dit by ondersteuning van die Here se werk kom, is ons bydraes altyd vrywillig.  Wat jy gee is tussen jou en die Here.  Vers 7 van ons teks wys duidelik dat jy nie uit dwang moet gee nie.  In vers 5 sê Paulus dat dit ‘n dankoffer is en dat niemand afgepers word nie.  In 8:3 lees ons hoe die Macedoniërs volgens hulle eie vermoeë (en meer as dit) gegee het.  In 8:8 wys Paulus dat ons onder geen bevel is om te gee nie.  Volgens 8:12 gaan dit oor bereidwilligheid en nie volgens een of ander wet wat ons dwing nie.  Ook in <st1:bcv_smarttag>1 Korintiërs 16:1-2 was dít die riglyn waarvolgens die vroeë kerk gegee het:  “Wat die insameling vir die heiliges betref, moet julle ook so doen soos ek vir die gemeentes van Galásië gereël het.  Op elke eerste dag van die week moet elkeen van julle self opsy sit en opspaar namate sy voorspoed is, sodat die insamelinge nie eers plaasvind as ek kom nie.”  Selfs in die Ou Testament was dit só:

“Sê aan die kinders van Israel dat hulle aan My ‘n offergawe moet bring; van elkeen wie se hart hom aandrywe, moet julle my offergawe bring.” (Eksodus 25:2).

“Neem van julle besittings ‘n offergawe aan die Here.  Laat elkeen wat gewillig is in sy hart, dit bring, die offergawe van die Here…” (Eksodus 35:5).

“en hulle het met Moses gespreek en gesê:  Die volk bring meer as wat nodig is vir die uitvoering van die werk waarvan die Here die vervaardiging beveel het.  Daarop het Moses bevel gegee, en hulle het ‘n oproep deur die laer laat gaan en gesê:  Laat geen man of vrou verder enige werksaamheid verrig in verband met die offergawe vir die heiligdom nie.  Toe het die volk opgehou om te bring; want die boustof was vir hulle genoeg om die hele werk tot stand te bring; ja, daar het oorgebly.” (Eksodus 36:5-7).

“Dan moet jy die fees van die weke hou vir die Here jou God ooreenkomstig die vrywillige offer van jou hand wat jy sal gee, namate die Here jou God jou sal seën…elkeen volgens die gawe van sy hand ooreenkomstig die seën van die Here jou God wat Hy jou gegee het.” (Deuteronomium 16:10, 17).

“En die volk was bly oor hulle gewilligheid, want met ‘n volkome hart het hulle vrywillig aan die Here gegee, en ook koning Dawid was baie bly…Want wie is ek tog, en wat is my volk, dat ons in staat sou wees om sulke vrywillige gawes te skenk?  Want dit kom alles van U, en uit u hand het ons dit aan U gegee.” (1 Kronieke 29:9, 14).

Ons moenie gee omdat ons wil afwys of omdat ons mense se guns soek nie (Matteus 6:3).  Ons moenie ons bydrae aan ander s’n meet en daarvolgens gee nie.  Vers 7 sê duidelik dat ons moet gee soos wat ons in ons harte voorneem om te gee.  Jy is onder geen dwang om te gee nie.  Daar is nie ‘n tiende wet wat jou opgelê is nie.  Jy moenie gee omdat jy wetties is en dink dat jy daardeur God kan beïndruk nie.  Jy moenie uit self-regverdigheid gee en dink dat dit jou ‘n beter Christen maak nie.  Die Israeliete het van die Here af weggedwaal en gedink dat hulle hul ánder sondes kan bedek deur elke drie dae tiendes te gee (in plaas van elke drie jaar – sien <st1:bcv_smarttag>Amos 4:4).  Ons moenie so wees nie.  Jy word nie gedwing om te gee deur ‘n diaken wat by jou huis geld kom kollekteer nie.  Of deur ‘n dominee wat altyd oor geld preek en jou met skuldgevoelens belas omdat jy nie presies 10% gegee het nie.  Jy moet self besluit om te gee, asook wat jy gaan gee.  Jy moet eerste jouself vir die Here gee voordat jy jou geld gee.  Só het die Macedoniërs gedoen in <st1:bcv_smarttag>2 Korintiërs 8:5.  Laat jou bydrae vir die Here se werk ‘n bewys wees van jou liefde vir Hom en nie ‘n uitdrukking van vrees dat iets gaan gebeur as jy níé gee nie.  Onthou sy liefde vir jou en laat dít jou motiveer om te gee:  “Ek sê dit nie as ‘n bevel nie, maar om deur die ywer van ander ook die egtheid van julle liefde op die proef te stel.  Want julle ken die genade van onse Here Jesus Christus, dat Hy, alhoewel Hy ryk was, ter wille van julle arm geword het, sodat julle deur sy armoede ryk kan word.” (2 Korintiërs 8:8-9).  En as jy klaar jouself gegee het, dan kan ons begin praat oor jou finansiële bydra vir die Here en sy werk.

Kyk na jou gesindheid

Die weduwee in Lukas 21:1-4 het twee klein munstukkies in die offerkissie gegooi.  Jesus se aandag is nie getrek deur hoeveel sy ingegooi het nie.  Sy het maar twee lepta ingegooi.  Volgens die voetnota in die English Standard Version is ‘n lepton ‘n Joodse brons of koper muntstuk wat maar 1/128 van ‘n dagloner se betaling (‘n denarius) is.  Jesus kyk na die hart wanneer ons gee.  God het die blymoedige gewer lief (v.7) – nie die een wat die grootste tjek in die offergawe sakkie gooi nie.  Jesus self het geleer dat die Vader die persoon wat só gee sal beloon (Matteus 6:4).  Wanneer jy gee moet jy gee omdat jy die Here en jou naaste liefhet (8:8).  Gee omdat God aan jou genadig is en in jou behoeftes voorsien (8:1).  Gee omdat jy bly is (v.7).  Gee met bereidwilligheid (8:12).  Gee met oorvloedigheid en opregtigheid (Romeine 12:8).  Gee met opoffering (8:2-5).  Die essensie van die Christelike lewe is immers selfverloëning (Lukas 9:23).  Maar wat as jy nie het om te gee nie?  Gaan jy nie jouself indoen as jy vir die Here gee nie?  Nee, want God sal vir jou sorg.  Let maar op hoe Paulus deurgaans in verse 6-15 sê dat God in jou behoeftes sal voorsien.  As jy volop saai sal jy volop oes (9:6).  God is instaat om te gee wat jy nodig het (9:8).  Hy versorg mos die armes (9:9) en sal ook jou fisiese en geestelike behoeftes vervul, sodat jy oorvloed het (9:10-11).  Wees egter versigtig dat jou dit nie jou dóél word wanneer jy gee nie:  om te ontvang.  Só leer Prosperity predikers.  Ek het op ‘n DVD gesien hoe Joyce Meyer sê dat ‘receiving’ eintlik ‘receipting’ beteken.  Met ander woorde, wanneer die Here ons bydrae aan TBN televisie netwerk ontvang (het Meyer gesê) is dit ‘n kwitansie wat ons kan ‘in cash’ en later baie geld van die Here terug ontvang.  Wat sy sê is valsheid.  Ons gee nie om ryk te word nie.  Maar dit is waar dat die Here vir ons sal sorg en dat ons nie hoef te bekommer dat ons arm sal word deur bydraes vir die Here se werk nie.  Ons moet Christus se gesindheid hê wanneer ons gee.  Hy’t nie gedink aan hoe Hy Homself sal benadeel nie, maar het met opoffering Homself gegee (Johannes 3:16).  Die Vader het Hom juis lief omdat Hy sy lewe vir ons neergelê het (Johannes 10:17).  Sy voorbeeld is inderdaad die bewys dat dit meer geseënd is om te gee as om te ontvang.  Laat ons só gee wanneer ons die Here se werk ondersteun.