Wat gebeur wanneer jy doodgaan?

 

Daar is baie verskillende sieninge oor wat met ‘n persoon gebeur wanneer hy doodgaan.  In ‘n DVD wat ek onlangs gekyk het, het die prediker gesê dat jou siel saam met jou liggaam in die graf slaap totdat Jesus kom.  Die Westminster Kategisme vir kinders vra:  Wat gebeur wanneer ‘n persoon doodgaan?  Die antwoord kom:  Sy liggaam verrot, maar sy siel lewe vir altyd en gaan hemel toe of hel toe.  Kom ons bewys hierdie laasgenoemde stelling uit die Skrif.  Maar voor ons dit doen moet ons die onderwerp van die dood aan ons teks koppel.  Romeine 8:30 sê dat gelowiges verheerlik sal word.  Nog voordat ons liggame verheerlik word, word ons siele verheerlik by die dood.  Hebreërs 12:22-23 praat só van die hemel:  “Maar julle het gekom by die berg Sion en die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem en tien duisende engele, by die feestelike vergadering en die gemeente van eersgeborenes wat in die hemele opgeskrywe is, en by God, die Regter van almal, en by die geeste van die volmaakte regverdiges” (beklemtoning my eie).  Dié teks bewys dat gelowiges dadelik hemel toe gaan as hulle sterf en dat ons siele verheerlik sal word (ek onderskei nie tussen siel en gees nie, maar dit is ‘n onderwerp vir ‘n ander dag).  As dit so is, dan gaan gelowiges nie na die vagevuur soos die Katolieke sê nie.  Ons siele slaap nie saam met ons liggame in die graf nie.  Ons gaan nie eers na sheool of na die paradys toe nie.  Ons is nie in limbo nie.  Ons geeste bly nie as spoke agter om vervreemde familielede te pla of te terg nie (wanneer sulke dinge soos goëlery plaasvind is dit demone wat dit doen en nie die siele van afgestorwe mense nie.  Demone het mos gesien wat hierdie mense gedoen het en kan in fyn detail hierdie mense ‘namaak’ en dinge sê wat dit laat lyk en klink of hierdie werklik die siel van die dooie is).  Die kategisme is gebou op die Skrif.  Die Skrif wys duidelik dat mense reguit hemel toe of hel toe gaan as hulle sterf.  Kom ons kyk na ‘n paar verse wat dit wys.

Prediker 12:7 sê dat “…die stof na die aarde terugkeer soos dit gewees het, en [dat] die gees na God terugkeer wat dit gegee het.”  Party mense sê dat die gees hier bloot na die lewe verwys en nie na die geestelike sy van die mens nie.  Ander wil selfs ’n onderskeid maak tussen siel en gees en sê dat net één van hierdie twee komponente hemel toe gaan wanneer ’n gelowige sterf.  Dis onwaar.  Die inhoud van hierdie vers wys duidelik op die twee dele van die mens:  liggaam en gees.  Die een deel word stof en die ander sterf nie maar lewe voort by die Here.

“En toe die bedelaar sterf, is hy deur die engele weggedra na die boesem van Abraham.  En die ryk man het ook gesterwe en is begrawe.  En toe hy in die doderyk sy oë ophef, terwyl hy in smarte was, sien hy Abraham van ver af en Lasarus aan sy boesem.  En hy roep en sê:  Vader Abraham, wees my barmhartig en stuur Lasarus, dat hy die punt van sy vinger in water kan insteek en my tong verkoel; want ek ly smarte in hierdie vlam.  Maar Abraham antwoord:  Kind, onthou dat jy jou goeie dinge in jou lewe ontvang het, en so ook Lasarus die slegte.  En nou word hy getroos, maar jy ly smarte.  En by dit alles is daar tussen ons en julle ‘n groot kloof gevestig, sodat die wat hiervandaan wil oorgaan na julle, nie kan nie; en die wat dáár is, nie na ons kan oorkom nie.”  (Lukas 16:22-26).  Party mense verwerp enige lering oor die hiernamaals uit hierdie teks, omdat dit volgens hulle net ’n gelykenis is.  Lukas sê nie vir ons dit is ’n gelykenis nie.  Jesus het nie so gesê nie.  En verder het Jesus nooit eiename in enige ander gelykenis gebruik nie.  Hierdie is nie ’n gelykenis nie, maar geskiedenis.  In hierdie vers sien ons dat die ryk se liggaam begrawe is, maar dat sy siel in die hel was.  Die arm man was dadelik hemel toe geneem toe sy liggaam sterf.  Maar hoe kon die ryk man ’n tong, Lasarus ’n vinger, en Abraham ’n bors gehad het as hulle liggame in die graf was?  <st1:bcv_smarttag>2 Korintiërs 5:1-4 antwoord hierdie vraagstuk.  Paulus sê hier dat gelowiges een of ander tipe bedekking en tentwoning kry vir die siel wanneer hulle liggame in die graf is.  Ons kry een of ander tipe ‘liggaam’ as ek die woord mag gebruik.

 

“En Jesus antwoord hom:  Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees.” (Lukas 23:43).  Hierdie teks is tog duidelik:  ’n Christen gaan dadelik hemel toe wanneer hy doodgaan.  Sommige maak ’n onderskeid tussen paradys en hemel, maar in Paulus en Johannes se gedagtes is die hemel en die paradys een en dieselfde plek (sien <st1:bcv_smarttag>2 Korintiërs 12:2-3, Openbaring 2:7, 22:2).  Ander sê weer dat ons die klem van Jesus se woorde moet verskuif.  Jesus het nie gesê:  “Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees” nie.  Eerder:  “Voorwaar Ek sê vir jou vandag:  Jy sal saam met My in die Paradys wees.”  Hulle interpretasie is om verskeie redes verkeerd.  [1] Nêrens het Jesus op enige ander plek gesê:  “Voorwaar, ek sê vir jou vandag” nie.  Hy het altyd gesê:  “Voorwaar ek sê vir jou”, en daarna volg dit wat Hy gesê het.  [2] Dit sou geen troos vir die rower bied om te weet dat hy eendag ver in die toekoms saam met Jesus sal wees nadat hy vir duisende jare in die graf geslaap het nie.  Die troos is juis daarin dat hy nog daardie selfde dag in die hemel sou wees saam met Christus.  [3] Drie verse verder lees ons:  “En Jesus het met ‘n groot stem uitgeroep en gesê:  Vader, in u hande gee Ek my gees oor!  En toe Hy dit gesê het, blaas Hy die laaste asem uit.” (Lukas 23:46).  Jesus is daardie selfde dag hemel toe en dáárom kon Hy vir die rower sê:  “Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.”

 

“Maar ons het goeie moed en verkies om liewer uit die liggaam uit te woon en by die Here in te woon.” (2 Korintiërs 5:8).  Die oomblik wat jy uit jou liggaam uitgaan, gaan jy hemel toe.  Daar is geen “tussen-in” nie.

“Want ek word van weerskante gedring:  ek het verlange om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste” (Filippense 1:23).  Paulus het geweet dat hy by Christus sou wees wanneer hy doodgaan.  Hoe sou die dood ’n wins wees indien hy vir duisende jare in die graf sou slaap (Filippense 1:21)?

“En net soos die mense bestem is om een maal te sterwe en daarna die oordeel” (Hebreërs 9:27).  Daar is nie ’n sieleslaap voordat jy geoordeel word nie.  Jy sterf, gaan hemel toe of hel toe, en uiteindelik ontvang jy jou nuwe liggaam en word jy geoordeel.

“Want as God die engele wat gesondig het, nie gespaar het nie, maar hulle in die hel gewerp en aan kettings van duisternis oorgegee het, om vir die oordeel in bewaring gehou te word; en die ou wêreld nie gespaar het nie, maar Noag, die prediker van geregtigheid, met sewe ander bewaar het toe Hy die sondvloed oor die wêreld van goddelose mense gebring het; en deur die stede van Sodom en Gomorra tot as te verbrand, hulle tot ondergang veroordeel het en as ‘n voorbeeld gestel het vir die wat in die toekoms goddeloos sou wees; en die regverdige Lot gered het, wat hom baie gekwel het oor die losbandige lewe van die sedelose mense; want deur wat hy gesien en gehoor het, het dié regverdige man, wat onder hulle gewoon het, dag vir dag sy regverdige siel gepynig oor hulle wettelose werke – die Here weet om die godsaliges uit versoeking te verlos en die onregverdiges te bewaar vir die dag van oordeel om gestraf te word” (2 Petrus 2:4-9).  Soos die gevalle engele in die hel in bewaring gehou word, so word die onregverdiges in de hel in bewaring gehou.

“En die engele wat hul eie beginsel nie bewaar het nie, maar hul eie woning verlaat het, het Hy vir die oordeel van die groot dag met ewige boeie onder die duisternis bewaar; soos Sodom en Gomorra en die stede rondom hulle, wat op dieselfde manier as hierdie mense gehoereer en agter vreemde vlees aangeloop het, as ‘n voorbeeld gestel is, terwyl hulle die straf van die ewige vuur ondergaan.” (Judas 6-7).  Die mense van Sodom en Gomorra (net soos die gevalle engele) ondergaan reeds die straf van die ewige vuur in die hel.

En toe Hy die vyfde seël oopgemaak het, sien ek onder die altaar die siele van die wat gedood is ter wille van die woord van God en die getuienis wat hulle gehad het.  En hulle het met ‘n groot stem uitgeroep en gesê:  Hoe lank, o heilige en waaragtige Heerser, oordeel en wreek U nie ons bloed op die bewoners van die aarde nie?  En aan elkeen van hulle is wit klere gegee; en aan hulle is gesê dat hulle nog ‘n klein tydjie moes rus totdat ook hulle medediensknegte en hulle broeders wat nog gedood sou word soos hulle, voltallig sou wees.” (Openbaring 6:9-11).  In sy visioen van die hemel sien Johannes die siele van gelowiges wie se liggame onthoof is.  Duidelik slaap hierdie mense se siele nie saam met hulle liggame op een of ander plek op aarde nie.

“En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee; en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God, en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie; en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank.” (Openbaring 20:4).  Hierdie mense se liggame is onthoof en net hulle siele is in die hemel.

Volgens <st1:bcv_smarttag>2 Konings 2 is Elia dadelik hemel toe.  Net soos Elia het Henog ook nie gesterf nie en is hy hemel toe (sueb <st1:bcv_smarttag>Genesis 5 en Hebreërs 11).  Moses en Elia het aan Jesus verskyn op die berg van verheerliking.  Waarvandaan het hulle gekom?  Sekerlik het hulle siele nie vir ‘n oomblik uit die graf of die vagevuur uitgekom en daarna weer teruggekeer nie?  Al hierdie tekste bewys duidelik dat mense se siele by die dood dadelik hemel toe of hel toe gaan soos die kategisme sê.

Ook die dood is dan ‘n deel van die goue ketting in Romeine 8:29-30 wat vir gelowiges se voordeel werk (v.28).  Die dood is deel van ons heiligmaking wat ons eenheid met Christus voltooi.  Wanneer gelowiges doodgaan verkry hulle Christus as wins (Filippense 1:21-23).  Hulle het verlang om by Hom te wees en verkry dan ook hulle begeerte.  Vir gelowiges is die dood net soos om aan die slaap te raak (Handelinge 7:60).  Wanneer jy jou oë hier toemaak, maak jy dit dadelik weer oop by Jesus.  Juis om hierdie redes hoef geen gelowige bang te wees vir die dood nie.  Wanneer ons sterf gaan Jesus saam met ons deur die vallei van doodskaduwee (Psalm 23:4).  Die dood is reeds deur Christus oorwin en het geen angel meer om ons te steek nie.  Dit is soos ‘n by wat net eenkeer steek en dan sterf.  Die dood se angel sit in Christus en daarom kan dit ons nie óók steek en seermaak nie (1 Korintiërs 15:55).  Hebreërs 2:14-15 sê:  “Aangesien die kinders dan vlees en bloed deelagtig is, het Hy dit ook op dieselfde manier deelagtig geword, sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het – dit is die duiwel – en almal kon bevry wat hulle hele lewe lank uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe was.”  Die sleutels van die dood en die doderyk is in Jesus se hande en nie in die duiwel s’n nie (Openbaring 1:18).  Juis daarom hoef gelowiges nie te vrees vir die dood nie.  Is jy gereed om te sterf as Jesus jou vanaand, môre, of hierdie jaar nog kom haal?