Preek jou dominee nog die Bybel?

“Ek besweer jou dan voor God en die Here Jesus Christus, wat die lewende en die dode sal oordeel by sy verskyning en sy koninkryk:  verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.  Maar wees jy in alles nugter; ly verdrukking; doen die werk van ‘n evangelis; vervul jou bediening.” (2 Timoteus 4:1-5).

 

Om God se Woord te preek is ‘n groot verantwoordelikheid.  Martin Luther het gesê dat hy nie die duiwel vrees nie, maar dat hy sidder elke keer as hy die Woord van God moet preek.  John Knox het gesê dat hy geen vrees het vir Mary Tudor (Bloody Mary) nie, maar dat hy vrees wanneer hy in die kansel ingaan om God se Woord te preek.  Geen wonder dat Paulus ‘n ernstige woord soos besweer gebruik wanneer hy vir Timoteus instruksie gaan gee oor prediking nie (v.1).  Paulus is baie ernstig oor hierdie groot taak van prediking en hy wil hê dat die reuse verantwoordelikheid by Timoteus se verstand moet insink.  Paulus roep God as getuie en sê dat hy hierdie opdrag in die teenwoordigheid van God en Christus self aan Timoteus gee (v.1).  Die feit dat Paulus vir Timoteus in die teenwoordigheid van God en Christus besweer herinner ons ook aan die feit dat Timoteus moet preek asof hy in dit in die teenwoordigheid van God self doen, want inderwaarheid is dit presies wat gebeur.  En as dit so is moet Timoteus nie preek om mense se guns te wen of enigiemand te beïndruk nie.  Hy moet eenvoudig in die teenwoordigheid van sy God preek en die boodskap op só ‘n manier aflewer dat Hý tevrede sal wees.  Soos Paulus reeds aan die Tessalonisense geskryf het, so moes Timoteus ook doen:  ‘’…so spreek ons, nie om mense te behaag nie, maar God wat ons harte beproef.” (1 Tessalonisense 2:4).

In vers 1 sê Paulus dat Jesus almal sal oordeel.  Die Vader het Hom aangestel om dit te doen (Johannes 5:22, Handelinge 17:31).  Timoteus kan verseker weet dat Christus ook hulle wat sy waarheid verdraai sal oordeel.  Is dit ‘n wonder dat die Skrif elders sê leraars sal strenger geoordeel word (sien Jakobus 3:1)?  Timoteus moes seker maak dat hy die Woord reg verkondig en nie sy eie interpretasie daarop plaas nie.  Vroeër in hierdie brief het Paulus vir hom gesê:  “Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ‘n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny.”  Gedagtes aan Jesus se oordeel moet Timoteus dryf om nie af te wyk soos die vals leraars nie (v.1).  Maar hy hoef nie negatief te dink nie.  Hy kan ook dink aan die wederkoms en die ewige Koninkryk waar Jesus sy getroue knegte sal beloon (v.1).  As Timoteus aanhou om die Bybel te preek sal Jesus hom ook beloon.  Hy moet dus nie die onmiddellike beloning van menselike applous soek nie (sien v.3-4, Matteus 6:2, 5), maar hy moet die Woord preek.  Paulus se gebruik van die woord ‘preek’ in die oorspronklike teks praat van ‘n persoon wat die Koning se boodskap uitbassuin en aankondig (kerusso).  En dit is presies wat Timoteus doen:  hy preek vir die Koning (let op die woord koninkryk in v.1).  En wanneer ons sê dat Timoteus die Woord moet preek (v.2) verwys dit natuurlik na die hele Skrif waarvan ons in 3:16 gelees het.  Timoteus moet die Woord preek en nie sy eie slim idees met mense deel nie.

Dit is verstommend en wonderlik dat ons God se Woord kan hoor en verkondig.  Baie mense dink nie daaraan dat God nie maar net ou waarhede met ons deel wanneer sy predikers die Woord akkuraat verkondig nie.  Wat eintlik gebeur is dat God daar en dan weer aan die Woord kom.  Een professor het vir ons gesê:  “Ons moet die So-spreek-die-Here kanselkleed van ons  kansels verwyder, want dit is nie God wat praat wanneer ons preek nie, maar die prediker.”  Indien ‘n prediker onakkuraat preek, is dit inderdaad hy self wat aan die Woord is.  Maar waar die Skrif akkuraat uitgelê word is God aan die Woord.  Dink maar daaraan dat ons soms vir Paulus sal aanhaal en sê:  “Paulus sê…”  Ons sê nie:  “Paulus het gesê nie…”  Ons erken dus dat God weer aan die Woord kom in 2012 wanneer ons Paulus of ander Bybelskrywers aanhaal.  Die apostels self het dikwels so gedoen wanneer hulle die Ou Testament aanhaal.  In Handelinge 2:17 haal Petrus vir Joël aan met dié woorde:  “En in die laaste dae, spreek God…”  Volgens hierdie vers was God op daardie oomblik weer aan die Woord.  Petrus haal nie maar net ou woorde aan wat lank terug aan God se volk gesê is nie.  So is God ook weer aan die woord wanneer ons die Skrif reg verkondig.  As ons nie akkuraat preek nie is God se stem stil.  Laat ons dan met erns preek en ook met erns luister wanneer God aan die woord kom.

Wanneer moet Timoteus hierdie Woord preek?  Volgens vers 2 met hy dit tydig en ontydig doen.  Hy moet die Skrif so goed ken dat hy altyd gereed is om dit selfs op kort kennisgewing te kan preek.  Dit blyk dat tydig impliseer dat daar tye is waarin mense gretig is om die Woord te hoor.  Hulle is honger vir die Woord.  Ons sien in Nehemia 8:2 hoe die volk vir Esra gevra het om die Woord vir hulle te lees.  In tye van herlewing en selfs vervolging het mense so ‘n honger vir die Woord.  Wanneer die geleentheid ‘tydig’ is moet Timoteus die dag aangryp en die Woord preek.  Ontydig dra die betekenis dat daar tye is wanneer mense nie belangstel om die Woord te hoor nie.  In verse 3-4 word so ‘n tyd beskryf wanneer mense nie Bybelse prediking soek nie.  In die bediening van Thomas Charles was dit vir ‘n paar maande so.  In een dorp in die noorde van Wallis het sy bediening vir ‘n skamele twee Sondae gehou.  Charles beskryf sy ondervinding in hierdie tyd as volg:  “Last Sunday, the whole parish, with two or three of the principal inhabitants at their head, came and accosted me in a rougher strain than I have ever been used to before.  They insisted on my preaching no more in their church; for they added, ‘You have cursed us enough already.’  I took care that nothing but the plain simple truth should give offence.’” (Murray, Iain H.; Heroes; The Banner of Truth  Trust; EDINBURGH; 2009; p.124).  So moes Timoteus ‘ontydig’ aangehou het om die waarheid te verkondig en nie bevrees geraak het vir die fronse van ongelukkige hoorders nie (v.2).

Hoe moes Timoteus die Woord preek?  Paulus beskryf vyf aspekte van sy prediking.  [a] Hy moes weerlê (v.2).  Die Skrif was genoegsaam hiervoor (3:16).  Hy moes nie bang wees om die verkeerde uit te wys nie.  [b] Hy moes bestraf (v.2).  Nie alleen moes hy vals lering en sonde aanvat nie, maar hy moes ook die vals leraars aanspreek uit die Skrif.  Hy moes dit in die openbaar as ook van aangesig tot aangesig doen.  Hy was ook verantwoordelik voor dei Here om de persoon wat in sonde volhard aan te spreek.  Hy moes nie die sondaar van kansel af aanspreek nie, maar sou dit natuurlik privaat gedoen het (Matteus 18:15-17).  Maar indien die hele gemeente in sonde volhard het moes hy nie bang wees om daarteen te preek nie.  Hy moes net seker maak dat hy God se toorn gepreek het en nie sy eie nie.  Die opdrag is immers duidelik dat hy die Woord moet preek.  Hy moet ook seker maak dat hy die hele vers 2 gehoorsaam en nie by elke geleentheid net bestraf in sy prediking nie.  [c] Timoteus moet vermaan (v.2).  Die woord vermaan word baie keer verkeerd gebruik in ons moderne spreektaal.  Baie mense dink dit beteken om iemand aan te spreek oor sy sonde.  Maar dit is eintlik glad nie wat die woord beteken nie.  Die Griekse woord parakaleo beteken om iemand na jou sy te roep, om uit te nooi, om te vertroos, om instruksie te gee, en om te bemoedig.  Dít is wat Timoteus in sy prediking moet doen.

[d] Timoteus moet met geduld preek (v.2).  Hy moet aanhou om valsheid uit te wys en te bestraf, om mense te vertroos en te bemoedig.  Uit my eie ondervinding kan ek sê dat ‘n mens geduld nodig het wanneer jy mense leer.  Mense aanvaar nie altyd dadelik wanneer jy hulle aanspreek oor hulle sond enie.  En hulle aanvaar nie onmiddellik jou vertroosting en bemoediging nie.  Dikwels bly hulle nog vir ‘n tyd daarna in die gat van depressie.  Daarom moet Timoteus volhard in sy prediking.  Hy moet geduldig wees met dié wat stadig groei.  John Newton het gesê:  “A Christian is not of hasty growth, like a mushroom, but rather like the oak, the progress of which is hardly perceptible, but in time becomes a great deep-rooted tree.” (Ibid, p.99).  En weer:  “God is often not so quick with his works as men would have him to be.  I once heard of a gardener who boasted that he could sow salad when the meat was put to the fire, and have it ready for eating before the meat was roasted.  This is seldom God’s way.” (Ibid; p.106).  William Ames het op ‘n keer gesê:  “We discern the growth of grace as the growth of plants, which we perceive rather to have grown than to grow.” (aangehaal in Flavel, J.; Keeping the heart; Soli Deo Gloria Publications; ORLANDO; 1998; p.97).

[e] Hy moes lering gee in sy preke (v.2).  Ek hoor redelik gereeld dat mense (ook in Baptistekerke) nie lerende prediking soek nie.  Dít is waar van die mense in verse 3-4.  Hulle soek predikers wat hulle ore streel.  Maar Timoteus moet vir die skape gee wat hulle nodig het en nie wat hulle soek nie.

Hoekom moet Timoteus die Woord preek?  Hy moet dit doen omdat daar swaar tye kom waarin nie almal die Woord sal aanvaar nie (v.3, 3:1-9).  Hy moet dus nou al die fondasie lê, sodat die skape kan vasstaan wanneer valsheid en vervolging aanklop (v.2-3).  Baie mense wil nie die waarheid hoor nie.  Hulle soek sagte woorde wat hulle ore sal streel; wat krap waar dit juk.  Hulle wil predikers hê wat vir hulle sal sê dat hulle sonde aanvaarbaar is vir God.  Hulle wil hoor dat die prediker sê:  “Die Bybel sê homoseksualiteit is ‘n alternatiewe leefstyl en is ‘n gawe van God…Die Bybel sê nêrens dat mense moet trou nie – saambly is nie sonde nie…Daar is nie regtig ‘n plek soos diehel nie…God is ‘n God van liefde en sal niemand hel toe stuur nie…Kerktug is hard en ongenaakbaar; ons moenie mense wil oordeel nie maar moet hulle net liefhê…Jou kind is nie stout nie maar het ADHD.”  Mense wil goed voel en soek predikers wat hulle hierin sal help.  Hulle hou nie daarvan dat hulle gewete aangespreek word nie.  Hulle wil ‘n kerke en predikers hê wat soeker-sensitief is.  Hulle hou van preke wat op hulle fokus, en daarom hou hulle van mens-gesentreerde prediking (v.3).  En uiteindelik draai hulle heeltemal van die waarheid af weg (v.4).  Die stappe van hoe ‘n persoon van die waarheid af wegdraai word in v.3-4 uiteengesit:

  • Die persoon soek nie meer die waarheid nie (v.3)
  • Wat hy nóú soek is preke wat hom laat goed voel en sê dat sy sonde aanvaarbaar is (v.3)
  • Later wil hy niks meer van die Bybel hoor nie – hy soek stories en motiverende praatjies (v.4)
  • Op die einde luister hy na fabels soos evolusie en liberalisme (v.4).

‘n Belangrike les om uit v.3-4 te leer is dat skuldgevoelens nie ‘n slegte ding is soos wat sielkunde wil voorgee nie.  Indien die alarm in ons huis afgaan om te waarsku dat iemand in die erf is, moet ons nie ‘n hamer vat en die alarm stukkend slaan nie.  Ons moenie sê:  “Die alarm is ‘n slegte ding omdat dit in my ore raas” nie.  Nee.  Dis ‘n goeie ding wat vir ons waarsku dat daar ‘n skelm buite is.  Net so is dit goed as ons skuldig voel.  Ons gewetens sê vir ons dat daar iets in die hart is wat uitgesorteer moet word.  Ons kan God dank vir iets soos ‘n skuldige gewete, omdat dit vir wys dat daar ‘n sonde-probleem is wat reggestel moet word.

In v.5 gee Paulus ‘n opsomming van alles wat hy vir sy jong vriend gesê het.  Die kontrasterende ‘maar’ in vers 5 sê weereens dat Timoteus anders moet wees en preek as die vals leraars wat hulle hoorders se gehoor wil streel.  Timoteus moet vier dinge doen om sy voete vas te sement.  Hy moet reguit en nugter dink wanneer vervolging en valsheid opdaag (v.5).  Hy moenie die waarheid verlaat en skielik mens-gesentreerd preek omdat die kerk leegloop nie.  Hy moenie nuwe tegnieke probeer volg of sy boodskap aanpas om die kerk weer vol te kry nie.  Hy moet net aanhou om die Woord te preek.  En as hy gekritiseer of vervolg word, moet hy lyding verduur (v.5).  Hy moet bereid wees om swaar te kry vir die evangelie (1:9, 3:12).  Hy moenie omgegooi word deur die mense wat hom vervolg en kritiseer nie.  En hy moenie homself bejammer nie.  Hy moet net aanhou om die evangelie te preek waarvoor hy vervolg word.  Hy moet die evangelie deel met sondaars en nie moed opgee nie (v.5).  As hy hierdie dinge doen sal hy soos Paulus kan volhard tot die einde toe en só sy bediening vervul (v.5, 17 dieselfde Griekse woord plerophoreo word in beide verse gebruik).  As Timoteus tot die einde toe volhard sal hy die beloning ontvang.  Paulus sou dit binnekort kry.  In v.6-8 sê hy:  “Want ek word alreeds as ‘n drankoffer uitgegiet, en die tyd van my heengaan is naby.  Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou.  Verder is vir my weggelê die kroon van die geregtigheid wat die Here, die regverdige Regter, my in dié dag sal gee; en nie aan my alleen nie, maar ook aan almal wat sy verskyning liefgehad het.”  Timoteus moet in die Woord volhard, sodat hy ook eendag voor die Regter kan staan (v.1) en dié woorde hoor:  “…Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel.  Gaan in in die vreugde van jou heer.” (Matteus 25:23).