Is daar verskillende skeppingsverhale in Genesis 1 en 2?

Dit is gewoonlik mense wat die Bybel wil diskrediteer wat sê dat daar verskillende skeppingsverhale in Genesis 1 en 2 is.  Christene wat evolusie en die Bybel probeer versoen doen dit graag.  Hulle sal dinge sê soos:  “In Genesis 1 lees ons hoe voëls en diere vóór die mens gemaak is, maar in Genesis 2 word hulle ná Adam geskep.  In Genesis 1 word die bome op dag drie en die mens op dag ses gemaak, maar volgens Genesis 2 word die bome en die mens omtrent gelyk geskep.  Verder gebruik Genesis 1 die Hebreeuse woord Elohim om van God te praat, terwyl Genesis 2 die naam Jahwe byvoeg.  Duidelik is dit in verskillende eras deur verskillende outeurs geskryf.”

Hierdie beskuldiging is sonder ‘n fondasie.  In Genesis 1 fokus Moses (die skrywer) op die skepping van die hele wêreld.  In Genesis 2 fokus hy op een klein deeltjie van hierdie nuwe wêreld, naamlik die tuin van Eden.  In Genesis 1 wys Moses wat God op al die skeppingsdae gedoen het, terwyl hoofstuk 2 net op die sesde dag en die skepping van die mens infokus.  Genesis 2:4 praat van die geskiedenis van die hemel en die aarde.  Hierdie selfde Hebreeuse term (tôledâh) word in 5:1, 6:9, 10:1, 11:10, 27, 25:12, 19, 36:1, 9, 37:2 van die verskillende geslagsregisters gebruik.  Dáár is die skrywer se intensie duidelik dat ons hierdie name as geskiedkundig moet beskou.  En omdat Moses nou dieselfde woord in Genesis 2:4 gebruik si sy doel duidelik dat ons Genesis 2 as geskiedenis moet aanvaar.

Kritici hamer op Genesis 2:19 wat sê:  “En die Here God het uit die aarde geformeer al die diere van die veld en al die voëls van die hemel en hulle na die mens gebring om te sien hoe hy hulle sou noem.  En net soos die mens al die lewende wesens genoem het, so moes hulle naam wees.”  God het reeds in 2:7 die mens gemaak.  Uit 2:19 blyk dit dat die Here die voëls en diere ná die mens gemaak het, maar volgens Genesis 1 is beide voëls en diere vóór die mens geskep.  Hoe nou?  In Afrikaans gebruik ons die verledetyd, maar ons het ongelukkig nie ‘n perfektum nie.  Tale soos Engels en Hebreeus het dit.  Die Hebreeus sê letterlik dat God die voëls en diere reeds geskep het toe Hy hulle na die mens die bring.  Die implikasie is dus duidelik dat God hulle reeds gemaak het, die mens geskep het, en toe die diere na Adam toe gebring het.  ‘n Hebreeuse kenner sal met my stry en sê dat Genesis 2:7 en 2:19 presies dieselfde tydsvorm gebruik.  Hoe kan ek dan sê dat 2:19 ‘n perfektum moet wees, terwyl 2:7 ‘n verledetyd is?  In 2:7 lees ons dat God die mens geskep het.  Hoekom wil ek nou die reëls buig en in 2:19 sê dat God reeds die voëls en diere geskep het.  Dis ‘n goeie vraag.  Ek sal laat Joseph Pipa antwoord (vir dié wat tevrede is dat 2:19 ‘n perfektum is kan jy maar hierdie tegniese deel oorslaan):

“…wayyîtser, in the midst of a chain of sequential waw consecutives, may be translated as a past perfect, ‘had formed’, reflecting a temporal activity that preceded the mainline sequence in 2:4-25.” (aangehaal in Coming to Grips with Genesis:  Biblical Authority and the Age of the Earth; Mortenson and Ury, editors; Master Books; GREEN FOREST; 2008; p.238).

Mortenson en Ury skryf:  “Various criteria are used to indicate that a waw consecutive is used as a pluperfect, such as a sequential verb starting a new pericope or paragraph.  The context of Genesis 1-2 reflects another criterion for determining if a verb is used as a past perfect.  This technique is what Collins calls ‘the logic of the referent.’  With this technique the literary context establishes that the event represented by a waw consecutive verb occurred before the situation represented by a prior verb.  From the perspective of some framework supporters, the waw consecutive as a pluperfect is not a clear syntactic option in Genesis 2:19.  However, what is overlooked by this reasoning is that pluperfect may be used within a sequence of waw consecutive verbs to denote an action prior to an immediate narrative sequence.  A good example is found in Genesis 12:1.  According to the sequential verbs in 11:31, Abram had left Ur of the Chaldeans with his father, Terah, set out for Canaan, and had settled in Haran.  However, the waw consecutive that initiates 12:1 does not incrementally advance the time-line, but provides a flashback when the Lord had spoke to Abram about initially leaving his father’s country in Mesopotamia before moving to Haran (cf., Gen.15:7 and Acts 7:2).  The mainline sequence is further interrupted by a series of clauses, verses 1b-3, that contain God’s promises to Abram with the narrative sequence being resumed in verse 4.  In keeping with this pluperfect use, the NIV translates verse 1a:  ‘The Lord had said to Abram…’ (emphasis added).  Although Moses had other syntactic options to convey a pluperfect, his syntactic preference, with this example, was to use a waw consecutive for his anterior action.” (Ibid; pp.238-239).

“Maar wat van die plante en bome wat in 2:5 en 2:9 geskep word?  Ek dog hulle Genesis 1 leer dat hulle reeds op dag drie geskep is?”  Jy is reg.  Maar let op die woorde in die vers.  Die hele paragraaf in 2:5-9 wys dat Moses nie hier na plante in die algemeen verwys nie, maar net na die plante in en om die tuin van Eden.  Die plante in hierdie betrokke verse praat nie van die plante oor die hele aarde nie, maar na die plante wat deur die mens bemes en bewerk sou moes word.

“Wat van die verskil tussen die Hebreeuse name Elohim (God) en Jahwe (Here)?”  Wat daarvan?  Hoekom is dit ‘n probleem?  In Genesis 1 gebruik Moses Elohim om te wys dat hierdie die almagtige Skepper van alle dinge is.  In Genesis 2 maak God ‘n verbond met die mens:  hy kan in vrede lewe as hy God gehoorsaam, maar as hy ongehoorsaam is en van die verbode vrugte eet sal hy sterf (2:15-17).  Enige Jood weet dat Jahwe die verbondsnaam van God is.  Omdat Genesis 2 spesifiek op die mens fokus, gebruik Moses die naam Jahwe om te wys dat hierdie Skepper-God in ‘n intieme verhouding tot die mens staan.

Jesus sê in Matteus 19:4-5:  “…Het julle nie gelees dat Hy wat hulle gemaak het, hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie, en gesê het:  Om hierdie rede sal die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle twee sal een vlees wees”.  In Matteus 19:4 verwys Jesus na Genesis 1:27 waar God die man en die vrou maak na sy beeld.  Matteus 19:5 is ‘n aanhaling uit Genesis 2:24.  Dit interessant dat Jesus in een sin aanhaal uit Genesis 1 en 2 asof dit één skeppingsverhaal is.  Jesus het geen onderskeid getref nie en ons hoef ook nie.  Genesis 1 en 2 is nie twee skeppingsverhale nie.  As jy die openingshoofstukke van die Bybel begin betwyfel gaan jy probleme hê met die res.  Glo die Bybel en alles wat daarin geskryf staan – ook Genesis 1 en 2.