Christene: goeie mense of rusiemakers?

“Dit is ‘n betroubare woord, en ek wil hê dat jy hierdie dinge beslis bevestig, sodat die wat in God glo, sorg kan dra om goeie werke voor te staan; dít is wat goed en nuttig is vir die mense.  Maar vermy dwase strydvrae en geslagsregisters en twis en stryery oor die wet, want dit is nutteloos en doelloos.  Aan ‘n man wat partyskap verwek, moet jy jou onttrek ná die eerste en tweede vermaning, wetende dat so iemand op ‘n verkeerde pad is en sonde doen en selfveroordeeld staan.” (Titus 3:8-11).

 

By ‘n konferensie het ‘n Zambiese prediker die volgende gesê:  “Ek wens ek het die voete van Jehova’s Getuie gehad, die hande van ‘n Rooms-Katoliek, die hart van ‘n charismaat, die maag van ‘n Moslem, en die kop van ‘n Gereformeerde Baptis.  My punt is eenvoudig dit:  ‘n ware gelowige moet homself hart en siel toewy aan goeie werke (v.8).  In v.8 sê Paulus dat almal wat glo goeie werke moet voorstaan.  Hy sê presies wat Jakobus in sý brief skryf:  ware geloof loop uit in goeie werke (Jakobus 2:14-26).  Wat is hierdie goeie werke waaraan gelowiges hulle moet toewy?  Hoe bepaal ons wat goeie werke is en wat nie goeie werke is nie?  Die goeie werke in Titus 3 is werke wat gebasseer is op verlossing; werke wat gebou is op leerstelling (sien v.4-8).  Volgens 2 Timoteus 3:16-17 is die Skrif genoegsaam om ons toe te rus vir elke goeie werk.  Die ‘hierdie’ dinge wat Titus moet bevestig en waarop hy moet aandring (v.8) is goeie werke (v.8, dít).  En dit is híérdie goeie werke waaraan mense hulle moet toewy (v.8).  Hoekom moet gelowiges hulleself aan goeie werke toewy?  Hulle moet dit doen omdat goeie werke goed en nuttig is vir mense (v.8).  Om dus goeie werke te doen is nooit ‘n mors van tyd of energie nie.  En omdat Paulus sê dat dit vir mense voordelig is, moet ons nie dink dat God ooit deur ons werke bevoordeel word nie.  God het nie ons goeie werke nodig nie (Handelinge 17:25).  Mense het (v.8).  Watse goeie werke kan ons doen?  Daar is miljoene voorbeelde.  Laat my toe om tien te gee.

  • Besoek siekes
  • Versorg armes
  • Doen iets vir die kinderhuis
  • Ondersteun behoeftige mense finansieel
  • Skryf vir ons sendelinge in Peru
  • Laai mense wat nie vervoer het nie op vir kerk
  • Kuier by mense wat eensaam is
  • Probeer om hande te vat met Step Wise Youth Ministries en raak betrokke in skole
  • Help uit met hospitaalbesoeke deur Healthcare Christian Fellowship
  • Gee ‘n Bybel vir iemand wat nie een het nie

Jesus is die grootste voorbeeld van goeie werke.  Hy het oral rondgegaan en goed gedoen (Handelinge 10:38).  Christene moet sy voorbeeld volg en kan ook so doen, omdat Hy ons juis gered het sodat ons goeie werke kan doen (2:14, Efesiërs 2:8-10).

 

Party mense beweer dat daar in die vroeë kerk ‘n debat was oor hoeveel engele op die kop van ‘n speld kan dans.  Maar daar is geen akkurate rekord van so ‘n debat nie.  Wat wel akkuraat is, is dat mense vandag stry oor die werklikheid van so ‘n debat.  Hulle stry oor of die vroeë kerk gestry het!  Mense kan oor onbenullighede debatteer.  Ek het al mense teëgekom wat wil stry oor Jesus se Naam.  Hulle sê dat ‘Jesus’ nie die regte naam is nie, en dat ons Hom Yeshua moet noem.  Dit is maklik om in hierdie strik te trap.  Dit is maklik om betrokke te raak in hierdie teenoorgestelde kant van goeie werke (v.9, maar).  En om so te redekabel oor onbelangrike dinge baat niemand nie, is doelloos, en is ‘n mors van kosbare tyd en energie.  So pasop (v.9). John MacArthur is reg:  “Proclaiming the truth, not arguing error, is the biblical way to evangelize.”  Loop draaie om [Grieks periistemi] mense wat alewig wil twis en stry.  Maar watse twis is dit presies wat jy moet vermy?  Paulus bied vier antwoorde.  [a] Vermy dwase strydvrae (v.9).  Paulus sê nie dat ons nooit moet debatteer nie, maar eerder dat ons dwase strydvrae moet vermy.  Moenie net stry omdat stry stry is nie.  Johannes se dissipels en ‘n Jood het gestry oor reinigingsrites (Johannes 3:25).  Baptiste gelowiges in Wallis het gestry oor onderdompeling:  Moet ‘n persoon vorentoe onderdompel word of agtertoe?  Fundamentaliste in Amerika stry oor mikrofone:  Moet die mikrofoon in ‘n staander wees of kan dit vasgehou word?  “Moenie so wees nie”, sê Paulus deur Titus.  [b] Vermy nuttelose stryery oor geslagsregisters (v.9).  In ‘n Jood se gedagtes was geslagsregisters baie belangrik.  Dit het vir hulle gesê wie is wie.  Maar ons moenie hieroor stry nie waarsku die apostel.  [c] Vermy twis (v.9).  Hierdie is dieselfde woord wat in <st1:bcv_smarttag>1 Korintiërs 1:11, 3:3 gebruik word van onenigheid in daardie gemeente.  Ons moenie onenig wees en van mekaar skei en afstig vir elke rede nie.  Daar is baie denominasies en groepe wat van ander afgestig en weggebreek het oor kleinighede.  Dit hoor nie by Christene nie.  [d] Vermy stryery en oorlog [Grieks mache] oor die fyn punte van die wet (v.9).  Ons sien byvoorbeeld hoe die Fariseërs en Sadduseërs gedurig aanmekaar was oor klein verskille in die wet.  Ware gelowiges moenie soos hulle wees nie.  Ons moet eerder doen wat Jesus ons geleer het deur ons self te verloën (Lukas 9:23) en nie altyd reg te wil wees nie.  Vermy twis, want dit is nutteloos en baat niemand nie (v.9).  Doen goed want dit is nuttig en baat baie mense (v.8).

Stuart Olyott het vertel van ‘n man soos in v.10-11.  Dié man het iets teen hom gehad.  Hy sou agter hom aanry in die dorp in die hoop dat Olyott iets verkeerd moes doen.  Hy sou hom volg na konferensies toe en die sessies onderbreek.  Hy het alles gedoen om Olyott te probeer ontstel.  Dit het aangehou vir sewe jaar.  Totdat die diakens eendag nie vir dié man die nagmaal wou bedien nie.  Hy het hulle te lyf gegaan in die erediens.  Uiteindelik is die man en sy vrou uit die kerk uit.  Die Here se werk kon aangaan.  Volgens v.10 geld hierdie reëls vir enige persoon wat partyskap verwek.  Ons moenie enigiemand voortrek of partydig teenoor iemand wees omdat hy ons vriend is nie.  Hierdie persoon is nie gehoorsaam aan die opdrag in v.9 nie.  Hy bring skeuring en verdeeldheid in die kerk deur sy stryery.  Hy is soos ‘n jongman wat ek geken het.  Hy wou alewig stry oor die dag van Jesus se kruisiging.  Hy het geglo dat Jesus op ‘n Woensdag gekruisig is, en hou wou hê almal moes met hom saamstem.  Ons moenie so wees nie.  As iemand aanhou om so te wees moet ons nie met hom probeer stry nie.  Ons moet hom twee keer waarsku (v.10).  Die feit dat ons hom twee keer waarsku wys dat ons geduldig is, maar dit wys ook dat ons ernstig is en wil hê dat hy moet verander.  Die tweevoudige waarskuwing word ook deur Jesus geleer in Matteus 18:15-17.  Die persoon mag dalk tot sy sinne kom as hy hierdie twee stappe van die tugproses deurgemaak het.  Maar indien hy hom nie bekeer na hierdie waarskuwings nie, moet ons hom vermy (v.10).  Ons moenie toelaat dat hy nagmaal gebruik nie, en ons moenie op ‘n sosiale basis saam met hom eet nie (sien <st1:bcv_smarttag>1 Korintiërs 5:9-11).  Ons moet hom vermy sodat hy kan skaam word (2 Tessalonisense 3:6, 14-15).  Die feit dat hy sleg gereageer het op die waarskuwing wys dat hy sondig is en op ‘n verkeerde pad is (v.11).  Hy verdoem homself deur sy optrede (v.11).  Ons sê so maklik wanneer dit by kerktug kom:  “Ons mag nie mense veroordeel nie.”  Maar die feit van die saak is dat die persoon homself veroordeel (v.11).  Ons bevestig net die feit dat hy homself veroordeel het en sê:  “Ja, dit is so.”  Sulke optrede mag miskien hard klink, maar v.10-11 is wat God sê, en daarom moet ons dit gehoorsaam.  Ons moenie ‘gawer’ probeer wees as God nie.  Ons moet eenvoudig die opdrag om te vermy uitvoer.