Disrespek vir gesag – hoe kan dit verander word?

“Herinner hulle daaraan om onderdanig te wees aan owerhede en magte, om gehoorsaam te wees, bereid tot elke goeie werk; om niemand te belaster nie, nie strydlustig te wees nie, vriendelik te wees en aan alle mense alle sagmoedigheid te bewys. Want ons was ook vroeër onverstandig, ongehoorsaam, op ‘n dwaalweg, verslaaf aan allerhande begeerlikhede en singenot; ons het in boosheid en afguns gelewe; ons was haatlik en het mekaar gehaat. Maar toe die goedertierenheid van God, ons Verlosser, en sy liefde tot die mens verskyn het – nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie, maar na sy barmhartigheid het Hy ons gered deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees wat Hy ryklik uitgestort het op ons deur Jesus Christus, ons Verlosser; sodat ons, geregverdig deur sy genade, erfgename kan word ooreenkomstig die hoop van die ewige lewe.” (Titus 3:1-7).

 

Ons het reeds v.1-6 in diepte beskou.  In hierdie preek wil ek tog graag ‘n oorsig van dié verse gee en ‘n ander perspektief daarop bring.  In die eerste twee verse gee Paulus sewe toepassings van hoe ‘n Christen respek moet betoon aan ander mense.  Ons moet onderdanig en gehoorsaam wees aan die owerhede wat oor ons aangestel is.  Paulus verwys spesifiek na siviele owerhede, maar jou baas by die werk en ‘n kind se ouers by die huis word nie uitgesluit nie.  Ons moet ook gereed wees vir elke goeie werk.  Ons moet uitkyk vir geleenthede om goed te doen.  Sodoende respekteer ons ander mense.  Ons moenie op enige wyse kwaad praat van ander nie.  Nie deur geskel, leuens, geskinder, gevloek, of enige so iets nie.  Ons moet draaie om mense loop wat wil stry en rusie maak.  Wees uiterlik vriendelik en innerlik sagmoedig.  Wees goedgemanierd teenoor almal.

In v.3 leer Paulus vir ons waarom ons respek aan ander moet bewys:  Want jy was ook op ‘n tyd verlore in jou sonde, en ten spyte daarvan was God geduldig met jóú.  Jy was moreel verstandloos.  Jy was ongehoorsaam aan die gesagsfigure in jou lewe (sien v.1).  Jy was op ‘n dwaalweg – jy het letterlik soos ‘n zombie agter die wêreld en die duiwel aangeloop (sien Efesiërs 2:2).  Jy het gedink jy kon doen wat jý wil, maar eintlik was jy glad nie in beheer nie – jy was ‘n slaaf van sonde.  Jy het net gelewe vir jouself.  Jy het gedoen wat jy wou doen en gekyk na wat jy wou.  Jy het slegte dinge begeer.  Jy het verbode vrugte gesoek.  Jy het slegte planne gemaak, en daar is dinge wat jy in jou verlede gedoen het wat so boos is, dat jy dit met niemand kan deel nie.  As ander mense iets gehad het wat jy wou hê, het jy hulle beny.  Jý wou dit gehad het, en jy sou selfs dinge doen sodat hulle dit óók nie kon hê nie.  Jy was so ‘n lelike mens dat ander jou gehaat het.  En jy het hulle terug gehaat deur stilstuipe, bitterheid, vegtery, lelike woorde, vermyding, en selfs moord.

En toe kom red God jou (v.4).  Rakende hierdie redding verduidelik Paulus hoekom ons redding nodig gehad het (v.3), wanneer God se reddinsplan voltrek is (v.4), wat die basis vir ons redding is (v.5a-b), wat die metode is waardeur ons gered is (v.5c-6), wie dit is wat ons gered het (v.6), en wat die doel met ons redding si (v.7).  Ons het reeds in vorige preke vier of vyf van hierdie punte aangeraak.  Kom ons hanteer vandag die res.

Ek is lief vir tuinmaak.  Ek het so ‘n jaar gelede ‘n liefde hiervoor begin ontwikkel.  Ek leer maar soos wat ek gaan.  Iemand het eenkeer vir my gesê dat die plante baie beter groei met reënwater as met gewone kraanwater.  En noudat dit so lekker gereën het in die afgelope weke kan ek dit sien.  Dit werk ook so met geestelike reën.  Dit was omdat die Heilige Gees soos die lentereëns uitgestort is dat ons nuwe lewe in ons harte ontvang het (v.5-6).  Ek het reeds in ‘n vorige preek verduidelik wat Paulus bedoel wanneer hy sê dat die Gees ryklik uitgestort is.  Ek het ook verduidelik hoe die Heilige Gees volkome God is; hoe Hy uit die Vader en die Seun voortgestuur is (sien v.6).  Dit is Sý nuutmaking wat ons instaat stel om geduldig te wees met ander en om hulle te respekteer.

In John Bunyan se Pilgrim’s Progress ontvang Christen ‘n boekrol by die kruis.  Sonder hierdie boekrol (sertifikaat) kon hy nie by die hemelse stad inkom nie.  Dit was as’t ware sy paspoort tot die hemel.  Die Heilige Gees is die Een wat nuwe lewe in ons skep en aan ons geloof gee.  Die gevolg hiervan is dat ons regverdig verklaar word deur die Vader (v.7).  Die Heilige Gees waarborg dat ons die erfdeel van die ewige lewe sal ontvang (v.5-7).  Op ‘n ander plek skryf Paulus:  “in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte, wat die onderpand is van ons erfdeel om sy eiendom te verlos tot lof van sy heerlikheid.” (Efesiërs 1:13-14).  Dit blyk dat Paulus dieselfde gedagte in <st1:bcv_smarttag>Titus 3:5-7 probeer oordra.  Niemand kan ‘n erfdeel kan verdien nie.  En net so ontvang ons die ewige erfenis van die hemel deur genade – dit is onverdiend (v.7).  Deur regverdigmaking word alles wat Jesus s’n is, ons s’n.  En juis daarom kan ons die ewige lewe as erfenis ontvang deur die hemelse Erfgenaam (sien Romeine 8:17).

Ons het reeds gesê wat hierdie erfdeel is.  Ons teks sê dit is die ewige lewe (v.7).  Ons het reeds hierdie erfenis ontvang, en tog lê die finale vervulling daarvan nog in die toekoms.  Die ewige lewe is ‘n kwaliteit sowel as ‘n kwantiteit lewe.  Dit beskryf vir hoe lank ons gaan lewe (vir altyd en altyd), maar ook hoe ryk en vol hierdie lewe saam met Jesus sal wees (sien Johannes 17:3).  Hoe kan ons verseker weet dat ons hierdie erfenis sal ontvang?  Paulus sê dat ons op die erfenis van die ewige lewe hoop (v.7).  In die Bybel is hoop nie ‘n onsekerheid soos:  “Ek hoop die son skyn Saterdag.”  Wanneer ons só na hoop verwys beteken dit dat die son dalk mag skyn en dalk nie.  In die Bybel is hoop seker.  Hier is die voorbeeld wat Paulus in gedagte het.  God het belowe dat almal wat gered is, hemel toe gaan.  Ons het ‘n onbeweeglike hoop dat God sy belofte kan en sal vervul.  Dít is wat die Bybel met hoop bedoel.  God het ons redding begin (v.3-6) en Hy sal dit vervul tot die einde toe (v.7).  Wat God gesê het oor verlossing in v.4-7 is betroubaar.  En dit is van híérdie verlossing wat Paulus in v.8 sê:  “Dit is ‘n betroubare woord…”  Dit is betroubaar juis omdat God altyd die waarheid praat en nie kan lieg nie (1:2).

Respekteer jy ander soos wat hierdie verse jou beveel?  Is jy disrespekvol teenoor jou ouers, onderwysers, jou baas, jou ouderlinge en ander kerkleiers, die owerhede van ons land, die polisie en verkeerspolisie, en ander gesagsfigure in jou lewe?  Betoon jy disrespek aan jou vrou, jou man, jou kinders, ou mense, of mense van ‘n ander velkleur?  Indien jou antwoord op hierdie vrae ‘nee’ is, is omdat jy nie die Here en sy Woord respekteer nie.  As jy jou eie sonde en God se genade sien (v.3-7) sal jy geduldig wees met ander mense.  ‘n Disrespekvolle persoon is waarskynlik ‘n ongeredde persoon.  Maar God kan vir jou ‘n nuwe hart gee.  Hy het sy Seun gestuur om aan die kruis te sterf vir sondaars; om die straf vir hulle sonde op Homself te neem.  Niemand kan dus deur sy eie werke gered word nie.  Ons word gered deur God se vrye genade alleen.  Om die voordele van Jesus se kruisdood en opstanding te ontvang moet jy weergebore word.  Dit kan alleen gebeur deur ‘n soewereine werk van die Heilige Gees – deur wedergeboorte.  En wanneer dít gebeur het en jy geestelik ontwaak het, dan moet jy jou bekeer en in Jesus glo.  God sal jou onskuldig en regverdig verklaar deur die meriete van Jesus se volmaakte lewe en kruisdood.  En eers dán sal jy dit regkry om ander te respekteer.