Sendelinge – die weeskinders van die kerk

“Wanneer ek Artemas of Tíchikus na jou stuur, doen dan jou bes om na my te kom in Nikópolis, want ek het besluit om daar te oorwinter.  Jy moet Senas, die wetgeleerde, en Apollos ywerig voorthelp, sodat dit hulle aan niks ontbreek nie.  Ons mense moet ook leer om vir die noodsaaklike behoeftes goeie werke voor te staan, sodat hulle nie onvrugbaar mag wees nie.  Almal wat saam met my is, groet jou.  Groet die wat vir ons liefhet in die geloof.  Die genade sy met julle almal!  Amen.” (Titus 3:12-15).

 

‘n Amerikaanse sendeling vriend werk in die noorde van ons land onder die Tsongas.  Oor die jare het ek al kosbare lesse by hom geleer.  Een so ‘n les was toe ek ‘n persoon wat afgedwaal het moes help om terug te keer na die regte pad.  Die persoon wou my nie sien nie en ek het gewonder of ek vir hom ‘n boodskap moes stuur.  My vriend se woorde aan my was die volgende:  “Dit is altyd beter om iemand van aangesig tot aangesig te sien.  Dit was Paulus en Johannes se metode.”  Inderdaad so.  In <st1:bcv_smarttag>3 Johannes 13-14 skryf die apostel:  “Ek het baie dinge gehad om te skrywe, maar ek wil nie met ink en pen aan jou skryf nie.  Maar ek hoop om jou gou te sien, en ons sal van mond tot mond spreek.”  Ek het onlangs gedink oor hierdie vriend van my se situasie en bediening.  Hoe moeilik moet dit nie wees om vir jare weg te wees van jou land en in die village te bly waar niemand van jou land of kultuur is nie; ‘n village waar jy meesal Shangaan praat en waar jy weg is van jou familie en vriende?  Hierdie vriende het die gerieflike lewe van Amerikaanse luuksheid opgegee om in ‘n klein huis te bly en ‘n ou bakkie te ry.  By tye word dit vir hulle baie eensaam.  Verjaarsdae en kersfees word alleen deurgebring.  Ek het gister vir hom ‘n brief van bemoediging en troos gestuur en hier is wat hy teruggeskryf het:  “How could you have known that this last weekend we’ve had some discouraging weights laid on us?  Thank you for the cool water on a dry, scorching day.  It is wonderful to be in a family with such a Father and such brothers and sisters.  I’m going to save this e-mail to be read again as needed.”  Ek het weer oor die saak gedink en gewonder of ek binnekort daar moet gaan kuier.  Briewe doen goed.  Maar daar is tye wat briewe nie genoeg is nie – die teenwoordigheid van vriende is nodig.

Titus kan op Paulus se brief reageer, maar dit blyk dat die Apostel op hierdie stadium meer as net dít nodig het.  Hy soek geselskap en daarom vra hy in v.12 dat Titus na hom toe moet kom.  Hoekom kan ons nie dieselfde vir ons sendelinge doen nie?  Is dit nie nodig dat hulle besoek en ondersteun moet word nie?  Hulle moet bemoedig word.  Ons kan gerus geld spandeer om hulle te gaan sien.  Eensaamheid is ‘n werklikheid op die sendingveld, en die voorbeeld van die apostel Paulus beklemtoon dit.  Paulus sal vir Artemis of Tigikus stuur om by Titus oor te neem.  Van Artemis weet ons niks meer as net dat hy moontlik by Titus sou oorneem nie.  Tigikus egter is meer bekend.  Hy was van klein-Asië, beter bekend in die moderne taal as Turkye.  Hy het vir ‘n tyd lank saam met Paulus gereis (Handelinge 20:4-5).  Hy was goed bekend met Paulus se doen en late en het nuus namens die apostel na die gemeentes van Efese en Kolosse geneem (Efesiërs 6:21-22, Kolossense 4:7-9).  Dáár noem Paulus hom ‘n geliefde broer, getroue bedienaar, en mede-dienskneg in die Here.

Waarheen is dit wat Titus moet gaan?  Die stad se naam is Nikopolis en beteken “stad van oorwinning”.  Dit is in Suid-Griekeland aan die weskus.  Hoekom sou Paulus die winter dáár wil deurbring (v.12)?  Onthou dat die hele Meditereense streek winterreëns kry.  Niemand wil in wind en weer op die see wees as hy dit kan help nie.  Buitendien sou verskeie van die see lanings gesluit wees vir skepe in hierdie reënseisoen.  Voordat Titus vertrek is daar iets wat hy moet afhandel.  Dit het te doen met Senas en Apollos.  Senas word hier beskryf as ‘n wetgeleerde (v.13).  Hy het sekerlik gespesialiseer in die Romeinse wette en was waarskynlik ‘n prokureur (duidelik kan prokureurs ook Christene wees!).  Die Apollos van wie ons in v.13 lees was ‘n Jood wat in Egipte gebore is (Handelinge 18:24).  HY het die Skrif baie goed geken, was ‘n uitstekende spreker, en was vurig van Gees (Handelinge 18:24-25).  Hy moes reggehelp word deur Priscilla en Akwila, maar was ywerig om te leer (Handelinge 18:24-28).  Paulus skryf ook van Apollos in 1 Korintiërs.  Mense het groot agting vir hom gehad, maar soos Paulus was hy maar net ‘n dienskneg en slaaf van Jesus.  Titus se verantwoordelikheid teenoor hierdie twee predikers was om hulle op hulle reis voor te help.  Die Griekse woord vir ‘stuur’ (prompempo) beteken letterlik dat Titus hulle moes toerus met alles wat nodig was vir hulle reis:  padkos en geld.  Hierdie befondsing sou natuurlik vanuit die gemeentes op die eiland Kreta gekom het.  In 2012 verwag God nie minder van sy gemeentes nie.  Ons moet goed doen aan sendelinge.  Bemoedig sendelinge wat moeg en uitgeput is.  Besoek hulle en ondersteun hulle soos wat Titus vir Paulus sou doen (v.12).  Voorsien ook vir sendelinge wat op reis is.  Die vroeë kerk stel vir ons ‘n voorbeeld hierin.  Soos die Christene in Kreta, het gelowiges in ander stede gedoen.  Luister na die volgende voorbeelde:

“ek [sal] na julle kom wanneer ek na Spanje reis; want ek hoop om julle op my deurreis te sien en deur julle daarheen voortgehelp te word, as ek eers ‘n tyd lank van julle geniet het.” (Romeine 15:24).

“En moontlik sal ek by julle vertoef of ook oorwinter, sodat julle my kan voorthelp waarheen ek ook al mag reis…Laat niemand hom [Timoteus] dan minag nie, maar help hom verder in vrede, dat hy na my toe kan kom; want ek wag vir hom saam met die broeders.” (1 Korintiërs 16:6, 11).

“en by julle langs deurgaan na Macedónië, om weer van Macedónië af by julle te kom en deur julle voortgehelp te word na Judéa.” (2 Korintiërs 1:16).

“…Jy sal goed doen as jy hulle voorthelp op ‘n voor God waardige wyse.” (3 Johannes 6).

Jesus het omgesien na mense in hulle eensaamheid.  Toe sy ma alleen sou wees het Hy in sy sterwensoomblikke vir Johannes gevra om na haar om te sien (Johannes 19:26-27).  As ons soos Jesus gaan wees, moet ons dieselfde doen – ook vir sendelinge wat aanstap in jare en eensaam is.

 

Êrens het iemand die volgende stelling gemaak:  “Methodists are Baptists that can read.”  Ek het dit vir een Metodiste predikant in Witrivier gesê.  Toe ek later ‘n Duitse Metodis ontmoet en vir hom dieselfde stelling herhaal, het hy vir my vertel waar die gesegde vandaan kom.  In die 1700’s het John Wesley en George Whitefield klein groepies bymekaar laat kom en aan hulle ‘n sekere metode geleer van hoe om ‘n heilige lewe te lei (vandaar die naam ‘Metode-iste’).  Wesley het nie net vir die mense geleer om geestelik te wees nie, maar wou ook prakties wees.  Baie van sy hoorders was ongeletterd.  Hy het besluit om hulle te skool.  Hy het hulle geleer om te lees, sodat hulle die Bybel vir hulleself kon bestudeer.  En dit was om hierdie rede dat die bogenoemde gesegde later sy ontstaan gehad:  “Methodists are Baptists that can read.”  Of die storie waar is weet ek nie, maar dit help om my punt huis toe te dryf:  ons moet onsself toewy aan goeie werke (v.14).  En om iemand te leer lees is ‘n goeie werk.  En in die konteks van v.12-13 is die ondersteuning en bemoediging van sendelinge ‘n goeie werk!  Paulus dring daarop aan dat ‘ons’ mense goeie werke moet voorstaan.  Deur die goeie werke van hierdie eiland-mense, sou dit duidelik word of hulle regtig van Paulus en Titus se groep is (ons mense:  ware gelowiges), en of hulle volgelinge van die vals leraars en rusie-makers is.

Interresant dat Paulus sê gelowiges moet goeie werke leer (v.14).  Goeie werke kom nie dadelik by nuwe gelowiges nie, en dit kom nie maklik in almal se geval nie.  Dit moet geleer word.  Dit moet ingeoefen word.  Daarom sê Paulus dat die gelowiges hulleself hieraan moet toewy, en dat hulle dit moet voorstaan (v.14).  Hulle moet hulle hele self hiervoor gee en nie meer lui wees soos wat hulle voorheen was nie (1:12).  Om jouself aan prediking en musiek en studies en programme te gee is goed.  Maar dit is nie wat Paulus hier beveel nie.  “Gee jouself aan goeie werke!” is die apostel se opdrag.  Maar hoe sal jy weet waar om te begin?  Wat is noodsaaklik?  Wat is ‘n behoefte?  Doen dit eerste is wat v.14 sê.  Kyk uit vir die behoeftes in ons gemeente (of die gemeente waaraan jy behoort as jy hierdie preek lees en nie van ons gemeente is nie).  Wat is noodsaaklik?  Moet iemand opgelaai word vir kerk?  Moet iemand besoek word?  Kan jy medisyne oplaai by die apteek vir iemand?  Moet ‘n gloeilamp omgeruil word of ‘n weduwee se gras gesny word?  Doen dit eerste (v.14).  So bewys jy dat jy regtig ‘n Christen is, want dít is wat met goeie vrugte bedoel word.  As jy dít doen sal jy nooit onvrugbaar wees nie (v.14).  Maar as jy nie hart en siel oorgegee is aan goeie werke nie, sal jy onvrugbaar wees en bly – al doen jy ook ‘n honderd ander dinge.  Laat ek jou net op ‘n geheimpie inlaat:  mense in ons land sal nooit moreel word deur opvoeding en instruksie nie.  Tensy hulle harte nie deur die evangelie verander word nie, kan daar nie effektiewe goeie werke wees nie.  Daarom lê die primêre verantwoordelikheid vir goeie werke nie by ‘n sosiale komittee van die regering nie.  Dit opdrag is aan die kerk gegee.  Daarom:  “Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik.” (Matteus 5:16).

 

‘n Afrikaanse en seker wêreldwye tradisie is om vir mekaar te sê:  “Sê groete vir jou gesin”, maar meer as dikwels dra ons nooit die groete oor nie.  Dit was nie so in die eerste kerke nie.  Hulle het onthou om die groete oor te dra.  In hierdie laaste vers van Titus sien ons duidelike Christen liefde.  Paulus hoef nie eers die persone wat groete stuur se name te noem nie, want hy weet dat Titus hulle almal persoonlik ken.  Daarom sê hy net:  “Almal wat saam met my is, groet jou…” (v.15a).  Paulus vra dat Titus sy groete moet oordra aan almal wat hulle liefhet in die geloof – met ander woorde aan al die ware gelowiges in die gemeentes op Kreta (v.15b).  Laat ons mekaar so groet as gelowiges en ons groete oordra aan gelowiges en kerke op ander plekke.  En laat ons veral nie vergeet om vergete sendelinge in die veld te groet nie!  Wat van ‘n reaksie op hulle nuusbriewe?  Wat van ‘n brief wat jy uit eie inisiatief aan hulle stuur?  Of geskenkpakkie waarmee jy jou liefde en groete aan hulle oordra?

Laastens sluit Paulus af met sy eie groet van genade aan almal (v.15c).  Hierdie genade groet is meer as net ‘n “mag dit goed gaan” of “tot wedersiens”.  Die brief aan Titus is God se Woord wat deur die Heilige Gees geïnspireer is.  Wanneer Paulus met hierdie genadegroet afsluit beteken dit dat God waarlik genade en seën gee aan almal wat hierdie brief lees en uitvoer.  God sal aan die gelowiges die genade gee wat nodig is om gehoorsaam te wees aan dit wat hulle gelees het.  God beveel dat ons ander respekteer, goed sal doen aan almal, twis en twisgierige mense sal vermy, sendelinge sal ondersteun en bemoedig, goeie werke sal leer, en ander sal onthou.  En wanneer ons hierdie opdragte uitvoer ondersteun God ons met die volgende seëngroet:  “…Die genade sy met julle almal!  Amen.” (Titus 3:15).