Lidmate se voorbereiding vir Sondag se preek

[Toe] het die hele volk soos een man op die plein voor die Waterpoort bymekaargekom en aan Esra, die skrifgeleerde, gesê om die boek van die wet van Moses, wat die Here Israel beveel het, te bring.  En Esra, die priester, het die wet voor die vergadering gebring, manne sowel as vroue en almal wat met verstand kon luister, op die eerste dag van die sewende maand.  En hy het daaruit voorgelees voor die plein wat voor die Waterpoort was, vandat dit lig geword het tot die middag, in teenwoordigheid van die manne en die vroue en die wat kon verstaan; en die ore van die hele volk was op die wetboek gerig.” (Nehemia 8:2-4).

Ons almal onthou seker die geskiedenis van Israel in die tyd van Jeremia.  Jare voor Jeremia op die toneel verskyn het, het die God sy volk gewaarsku deur die profete.  Maar hulle het aangehou met hulle afgodery en wou hulle nie bekeer nie.  Uiteindelik het dinge tot ‘n punt gekom en het God die Babiloniese weermag gestuur om Jerusalem te verwoes.  Duisende Israeliete is as slawe geneem na Babilon toe.  Nou, ‘n paar dekades later, het die Jode teruggekeer Jerusalem toe.  Onder die leiding van Nehemia is die mure van Jerusalem herbou.  Die volk het vir te lank die Skrif versaak, en nou was daar ook ‘n geestelike reformasie nodig.  Om bloot die stad te herbou was nie nie genoeg nie.  Die volk self moes herstel word en dit kon alleen gebeur deur die Woord.

 

Jonathan Edwards skryf die volgende ware storie van ‘n vierjarige dogterjie (Phebe Bartlet) tydens die New England herlewing in 18de eeu Amerika:  “She has been very strict upon the Sabbath; and seems to long for the Sabbath-day before it comes, and will often in the week time be inquiring how long it is to the Sabbath-day, and must have the days between particularly counted over, before she will be contented.  She seems to love God’s house, and is very eager to go tither.  Her mother once asked her, why she had such a mind to go? whether it was not to see fine folks. She said, No, it was to hear Mr. Edwards preach.  When she is in the place of worship, she is very far from spending her time there as children at her age usually do, but appears with an attention that is very extraordinary for such a child.” (The Works of Jonathan Edwards – Volume 1; The Banner of Truth Trust; EDINBURGH; 1974; p.362).

Soos Phebe Barlet ‘n begeerte vir die Skrif gehad het, so het die volk Israel dit gehad in die tyd van Nehemia.  Die volk het vir die Fees van Trompette bymekaargekom.  Die eerste dag van Israel se siviele nuwe jaar (die sewende maand) was hiervoor afgesonder (v.3, Levitikus 23:23-25, Numeri 29:1-6).  Die Israeliete se groot vreugde was nie in die kos wat by hierdie fees geëet sou word nie (v.10-13), maar in die Woord.  Hoe presies het hierdie Ou Testamentiese gelowiges die Woord begeer?  Waarin word dit gesien?  En hoe kan ons hulle voorbeeld volg?

[a] Heel eerste het hulle vergader met die doel om die Woord te kom hoor (v.1-2a).  Volgens v.2 was die hele volk daar – 42 duisend plus (7:66).  Daar was altyd miljoene mense in Israel, maar ná die verskriklike ballingskap was daar skaars 50 duisend oor.  Die plein voor die Waterpoort, aan die oostekant van Jerusalem, was ruim genoeg vir almal om dáár te vergader (v.2).  Mense het in hulle families opgetrek Jerusalem toe:  mans, vroue, en kinders was teenwoordig (v.2-4).  Die mans het natuurlik die leiding geneem om hulle gesinne hierheen te bring.  Die vroue het ook ‘n verantwoordeliheid gehad om na die Woord te kom luister (nie soos in latere Judaïsme toe Rabbi’s gesê het dis beter om die Wet te verbrand as om dit vir ‘n vrou te leer nie).  Die ouers was verantwoordelik om vir hulle kinders die Wet te leer (Deuteronomium 6:4-9), en een manier waarop hulle hierdie verantwoordelikheid moes nakom was om toe te sien dat hulle kinders by gesamentlike byeenkomste teenwoordig was (tragies dat baie ouers in ons dag hierdie aspek van hulle plig versuim).

Die volk Israel is vir ons ‘n voorbeeld.  Is ons almal getrou om in ons volle getal byeen te kom vir gesamentlike aanbidding?  Of is ons soos baie nominale kerke wat skaars 30% van die lidmate by ‘n aanddiens sien, en minder as 15% by ‘n biduur?  Nog ‘n toepassing wat uit die Jode se voorbeeld spruit is dat die Skrif duidelik genoeg is vir jongmense om te volg en te verstaan (sien <st1:bcv_smarttag>2 Timoteus 3:14-15).  Dit is nie nodig vir ‘n aparte jeugdiens of kinderkerk nie.  Hier is die jongmense teenwoordig.  En in die Nuwe Testament was die jongmense en kinders dáár toe briewe soos Efesiërs en Kolossense voorgelees is (sien Efesiërs 6:1-3, Kolossense 3:20).

Let op hoe die volk soos een man vergader het om die Woord te hoor (v.2).  Die Engelse gesegde wat sê ‘doctrine divides’ is dus nie waar nie.  Die teenkant is waar:  ‘doctrine unites’ (soos wat ons hier sien).  Ons kan dus net een wees met ander gelowiges in die Woord.  Buite die Woord bestaan daar nie ware eenheid nie.  Net soos wat die volk vergader het rondom die Woord, moet gelowiges in die Nuwe Testament doen (sien Handelinge 2:42).  Ons moenie net vir Jesus soek omdat Hy dinge vir ons kan gee nie (cf. Johannes 6:26-27).  Die fokus van ons byeenkomste moenie wees om lekker te ‘praise & worship’, om ander jongmense te sien, of om by ons vriende te wees nie.  Dit moet wees om die Woord van die Here te hoor.

Wyle dr. Martin Holdt het in Zambië gepreek.  Toe hy ná 45 minute by die kansel afstap het die mense hom teruggestuur met dié woorde:  “Ons het nie so ver gestap om net vir 45 minute na jou te luister nie.  Preek asseblief nog vir ons.”  Dieselfde tipe ding het met ‘n vriend van my gebeur.  Toe hy klaar gepreek het by ‘n aanddiens het hulle gevra dat hy nóg moes preek.  En dít is ‘n tweede manier waarop die volk die Woord begeer het:  [b] Hulle het gevra om dit te hoor (v.2b).  Hulle wou hê Esra moes dit vir hulle lees en preek.  Esra was ‘n Skrifgeleerde.  Hy was nie ‘n Skrifgeleerde wat onbekend was met die inhoud van die Skrif nie.  Só het dit later geword in die Nuwe Testament, sodat Jesus dikwels vir hulle moes sê:  “Hulle het nog nie gelees nie…?” (sien ook voorbeelde soos Matteus 22:29, Lukas 10:26, Johannes 3:10).  Esra was ‘n Skrifgeleerde wat regtig bekwaam was in die Wet – ‘n man wat die Wet goed geken en verstaan het (volgens Esra 7:6, 10).  Esra was ook ‘n priester (Esra 7:1-5).  Dit was die priester se taak om die Wet vir die volk te leer.  Esra was nie ontrou soos die priesters in Maleagi 2:7 nie, maar het sy opdrag getrou uitgevoer.

Vers 2 sê dat die Wet deur die Here gegee was aan die volk.  Dit was bevel.  Esra moes die Wetboek lees en preek om te sê wat God sê.  En net so geld dieselfde vir predikers vandag.  Om te sê wat die Heilige Gees sê, moet ons die Bybelse teks akkuraat preek.  Ons moenie lui wees om voor te berei en verwag dat die Heilige Gees ‘n uur voor die erediens woorde in ons mond gaan sit nie.  Ons moet hierdie Boek ken.  En juis om hierdie rede is ‘n baie groot deel van elke prediker se werk Boekwerk – om die teks van die Bybel te verstaan.  Elke gemeente moet soos die volk Israel wees en vra om die Woord te hoor.  Indien hulle leraar nie vir hulle die Bybel wil gee nie, moet hulle van hom ontslae raak.  Dit was toe die volk die Woord gesoek het, dat daar herlewing en reformasie gekom het.  So was dit in die dae van koning Josia:  toe die Skrif tot sy geregtige plek herstel is, het daar herlewing gekom (2 Kronieke 34).  In Luther en Tyndale se dae het dieselfde gebeur toe die Skrif in die gewone man se taal vertaal is.  Deur John MacArthur se bediening het daar ‘n groot reformasie in baie dele van die wêreld gekom.  Die rede?  Die Skrif het weer sy sentrale plek ingeneem.  So was dit nog in elke herlewing.  En so is dit ook in lande waar die kerk vervolg word.  Hoekom anders groei die vervolgde kerk so drasties?  Is dit nie omdat hulle die Woord begeer nie?  Toe Jesus sy Gees uitgestort het op Pinksterdag, was die prediking van die Woord sentraal.

Ek het tien jaar gelede vir die eerste keer na D.A. Carson geluister.  Ek was verbaas dat hy sommer twee of drie hoofstukke sou lees voordat hy gepreek het.  Toe ek vir ‘n ouer predikant hiervan vertel was hy nie verbaas nie.  “Miskien moet ons almal meer aandag gee aan die voorlesing van God se Woord”, het hy gesê.  Die volk het dit híér gedoen.  Hulle het die Woord begeer deur [c] daaruit te lees (v.3-4a).  Die Hebreeuse woord [qârâ’] vir ‘lees’ beteken letterlik uitroep.  Onthou dat hulle nie mikrofone gehad het in Esra se tyd nie.  Daar was 42 duisend mense en Esra moes duidelik gehoor word.  Hy het vir omtrent 6 ure gelees en die Woord tussen-deur verklaar (v.4, 9).  Ons moet versigtig wees om nie hieruit af te lei dat elke prediker vir 6 ure moet preek en lees nie.  Herlewing is nie die norm nie.  In sulke tye kan mense maklik vir 3 of meer ure na die Woord luister (so was dit byvoorbeeld in die 18de eeu herlewings onder John Wesley, George Whitefield, en Jonathan Edwards).  Maar tog moet ons aan die ander kant sê dat die prediker genoeg tyd moet hê om vir ons die Woord te lees en daaruit te preek.  Moenie kla as die diens oor die normale uur gaan nie.  Ons is deur televisie en vermaak bederf.  Ons konsentrasie vermoeë is deur hierdie dinge vermink.  Oefen jouself om te kan konsentreer:  lees goeie geestelike boeke, kry ‘n aptyt vir die Bybel, groei in jou liefde vir Christus, bestudeer die Skrif intens, en luister baie na goeie preke in die week (op die internet, in die kar, op jou i-pod, ens.)

‘n Man wat tot bekering gekom het, het met groot aandag geluister toe ek die Skrif met hom deel.  Só was die Israeliete in Nehemia 8.  Hulle het die Woord begeer, sodat hulle aandagtig na die Woord [d] geluister het (v.4b).  Hulle aandag was op die Woord self en nie op Esra nie (v.4b).  Hulle het onder andere aandagtig geluister, omdat hulle nie hulle eie kopie van die Bybel gehad het nie.  Om die Woord te leer, moes hulle dit híér kom hoor en memoriseer om huis toe te neem en vir hulle gesinne te leer (so is dit in die vervolgde kerk tot vandag toe).  En so moet dit wees onder ons.  Ons moet met aandag na die Woord luister.  Ons aandag moet op die Woord wees en nie op die prediker nie.  Dit sal beteken dat ons altyd by die kerk is om die Woord te hoor – nie net as ons gunsteling dominee preek nie.  Ons is mos nie daar vir die man nie, maar vir die Woord.

Luister aandagtig na die voorlesing en die preek (v.4b).  Moenie dagdroom, rondkyk, of ander mense pla omdat jou selfoon lui, jou kinders stout is, jy ongepas geklee is, of omdat jy gedurig opstaan nie.  Luister aandagtig.  En luister omdat jy Jesus wil ken.  Luister omdat jy wil kyk of dit wat gesê word die waarheid is (Handelinge 17:11).  Om beter te luister kan jy jouself voorberei deur goed uit te rus op ‘n Saterdag, deur nie te ooreet voor die diens nie, deur ‘n paar oefeninge te doen voordat jy kerk toe kom, deur jou hart voor te berei met die Woord en gebed, en deur met afwagting te kom.  En vir elke prediker wil ek dít sê:  sorg dat nie die oorsaak is dat mense dagdroom of slaap nie!  Moenie vervelig wees nie, maar lees en preek die Woord soos wat God dit bedoel het.  Dan sal mense wakker wees.  Laat elke hoorder die Woord en die verkondig daarvan begeer, sodat Hy ‘n ontmoeting met die vleesgeworde Woord (Jesus) kan hê.  Om op hierdie manier die Woord te begeer is ‘n eerste stap in ‘n regte benadering tot die Bybel op Sondae.