Help! die beproewing wil nie ophou nie

“Loof die Here, want Hy is goed, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid!  Dit moet die verlostes van die Here sê, wat Hy uit die nood verlos het en uit die lande versamel het, van die ooste en die weste, van die noorde en van die see af.  Hulle het gedwaal in die woestyn, op woeste paaie; ‘n stad om in te woon het hulle nie gevind nie.  Honger, ook dors was hulle; hulle siel het in hulle versmag.  Toe het hulle die Here aangeroep in hul benoudheid; uit hul angste het Hy hulle gered.  En Hy het hulle gelei op ‘n regte pad om te gaan na ‘n stad om in te woon.  Laat hulle die Here loof om sy goedertierenheid en om sy wonderdade aan die mensekinders; want Hy het die dorstige siel versadig en die hongerige siel met die goeie vervul.” (Psalm 107:1-9)

Ek onthou twee geleenthede waar mense vir my gesê het:  “Die beproewings hou net nie op nie.  Dit is een ding na ‘n ander.  Sal dit ooit ophou?”  Vir my was 2012 só ‘n jaar.  Het jy al sulke tye ervaar?  Psalm 107 help ons in hierdie verband.  Dit beskryf vir ons hoe God se volk baie beproewinge moes deurgaan, maar hoe God hulle uit elkeen gered het.  In ‘n ander Psalm staan daar:  “Menigvuldig is die teëspoede van die regverdige, maar uit dié almal red die Here hom.” (Psalm 34:20).  En dít is die les wat ons in Psalm 107 leer.

 

[a] Waar hulle was.  God se volk was verstrooi.  Hulle was in Egipte.  En later was hulle in Babilon.  Hulle was in Assirië en in verskeie ander lande.  Of soos v.3b dit beskryf:  die ooste, die weste, die noorde en die suide.  Die ooste is die plek waar die son opkom en in die bloedige woestyn  beteken dit nogal iets.  Die weste verwys na die Middellandse See waar storms baie matrose se lewens eis (sien v.23 en verder).  Assirië en Babilon, die lande waarheen Israel ontvoer is, is in die noorde.  In die suide is die Rooi See.  Toe Israel uit Egipte kom het God hulle finaal van slawerny gered toe hulle deur die Rooi See is.

[b] Wat God gedoen het.  God het hulle uit die vier windrigtings versamel  Psalm 106:47 beskryf hulle gebed:  “Verlos ons, Here onse God, en versamel ons uit die nasies, dat ons u heilige Naam kan loof en ons beroem in u lof!”  God het geantwoord.  “Dit moet die verlostes van die Here sê, wat Hy uit die nood verlos het en uit die lande versamel het…” (Psalm 107:2-3a).  In 1948 het daar iets soortgelyk gebeur toe baie Jode teruggekeer het na Israel.  En deur die vespreiding van die evangelie versamel God sy uitverkorenes (Matteus 24:31).  In die nuwe Jerusalem is daar ingange in die vier rigtings van die aarde, sodat gelowiges uit die al die nasies kan inkom (Openbaring 21:13, 24, 26).  Soos God sy volk uit die lande verlos het, verlos Hy ons deur die kruis van die wêreld.

[c] Wat hul reaksie was.  God se volk word opgeroep om Hom te loof en te dank (v.1).  Dit is die verlostes wat Hom dank (v.2a).  Ons dank Hom vir redding.  Ondankbare mense is dikwels ongeredde mense.  Jesaja sê God sal kermkouse verander in mense wat sy lering aanneem (Jesaja 29:24).  Romeine 1:21 goddelose mense wat nalaat om God te dank.  Paulus leer in Filippense 2:14 dat ons alles moet doen sonder om te kla.  Hierdie vers staan in die konteks van redding en evangelisasie (sien Filippense 2:12-15).  Paulus se punt is dít:  ongelowiges kla – wees anders!  Judas 16 wys dat ondankbaarheid ‘n kenmerk is van vals leraars:  “Hulle is murmureerders wat oor hul lot klae…”  Ek het onlangs ‘n lelike streek van ondankbaarheid in myself gesien.  Ek het my voorgeneem om die Here daagliks en bewustelik te dank.  Almal in die huis het nou deel hieraan.  Ná ete moet elkeen vyf dinge noem waarvoor hy dankbaar is.  Daarna dank ons saam in gebed.  My goeie vriend Johan Delport het sy gemeente uitgedaag om binne ses maande 1000 ‘dankies’ neer te skryf.  Die voorbeeld van wyle Martin Holdt is waardig om na te volg.  Hy het vir ‘n tydperk in sy lewe drie keer per dag dinge neergeskryf waarvoor hy dankbaar is.  Volg ook Israel se voorbeeld:  bid vir uitkoms en dank die Here as jy die lig aan die einde van die tonnel sien.

Swerftog (v.4-9)

In Jamie Uys se Beautiful People het ‘n jong pelikaan soos ‘n swerwer in die hitte van die Kalahari-son rondgedwaal en van dehidrasie gevrek.  [a] Waar hulle was.  Soos die jong pelikaan het Israel in die woestyn rondgeswerf – vir 40 jaar.  Hulle was sonder kos en water (v.5).  Hulle het in tente gebly en het geen vaste blyplek gehad nie (v.4).  Eksodus wys hoe die water by Mara te bitter was om te drink.  By Rafidim het die son warm geskyn, maar daar was nie water nie.  In Eksodus 16 grom hulle mae van die honger.  En in Numeri 11 raak hulle dik vir brood en soek hulle vleis.

[b] Wat God gedoen het.  God het hulle gevoed.  Hy het vir hulle water gegee.  En Hy het hulle deur ‘n wolk en vuurkolom na ‘n permanente woning toe gelei (v.6-7).  Is jy tans in ‘n situasie wat jou benoud maak?  Roep uit tot die Here (v.6).  Sy belofte is:  “en roep My aan in die dag van benoudheid:  Ek sal jou uithelp, en jy moet My eer.” (Psalm 50:15).  Is jy honger en dors?  Kort jy die noodsaaklike lewensmiddele?  Bid (v.6).  Sal Jesus jou beveel om vir jou daaglikse behoeftes te bid en dit nie gee nie (Matteus 6:11)?  Het jy ‘n innerlike honger en dors wat nie versadig word nie?  Moet dit nie probeer versadig met geselskap, dwelms, drank, seks, kos, geld, besittings, of enige so iets nie.  Jy sal nie versadig word nie.  God sê in Jeremia 2:13:  “Want my volk het twee verkeerde dinge gedoen:  My, die fontein van lewende water, het hulle verlaat om vir hulle reënbakke uit te kap, gebarste reënbakke wat geen water hou nie.”  Les jou dors by Jesus.  Stil jou honger by Hom.  “…elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word ‘n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe.” (Johannes 4:14).  Joh 6:35  En Jesus sê vir hulle:  “Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie.” (Johannes 6:35).  C.S. Lewis het êrens gesê:  “If you find in yourself a desire which nothing in this world can satisfy, the most probable explanation is that you were made for another world.”  Smag na God soos Dawid gedoen het (Psalm 63:2).  Los selfs kos en water (vas) om te wys dat jou honger en dors na God groter is.

Christene is soos Israel wat in die woestyn rondswerf.  Ons is pelgrims op aarde.  Ons is soos Abraham:  “Deur die geloof het hy as vreemdeling gaan woon in die land van belofte soos in ‘n vreemde land en in tente gewoon met Isak en Jakob, die mede-erfgename van dieselfde belofte.  Want hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is.” (Hebreërs 11:9-10).  Jesus is die Weg waarop ons wandel na ons permanente woning – die hemelse Jerusalem (Johannes 14:6).

Ek hoor hoe sommige van my lesers kapsie maak:  “Jy sê ek moet tot die Here roep.  Ek doen dit al vir maande, maar Hy hoor nie my gebed nie.”  Ondersoek jouself.  As jy in sonde lewe sal die Here nie jou gebed antwoord nie (Psalm 66:18).  As jy bitter is teenoor iemand sal God jou ook nie vergewe nie (Matteus 6:14-15).  Het jy huweliksprobleme wat jy nie wil uitsorteer nie?  Dan sal God jou nie hoor nie (1 Petrus 3:7).  Miskien is jy ongered (1 Petrus 3:12).  Maar dalk troos Jesus jou met sy regterhand op jou skouer:  “…‘n mens [moet] gedurig…bid en nie moedeloos word nie” (Lukas 18:1).

[c] Wat hul reaksie was.  Die sterre in die Karoo lyk helderder as in Gauteng, omdat dit daar pikdonker is.  God se liefde vertoon duideliker teen die agtergrond van Adam en sy nageslag se rebellie.  Vers 8 se ‘mensekinders’ kan ook as ‘kinders van Adam’ verstaal word.  Ons moet God prys vir sy troue liefde en wonderdade aan ‘n rebelse mensdom.  En ons moet Hom dank as Hy ons dors les en ons honger stil (v.8-9).  Vir die moedelose siel is daar hoop.  Moenie die soektog opgee nie.  God het die honger en dors Israeliete versadig (v.5, 9).  En in die Nuwe Testament belowe Hy:  “Salig is die wat honger en dors na die geregtigheid, want hulle sal versadig word.” (Matteus 5:6).

Hosea het met ‘n prostituut getrou.  Sy het nie haar skandelike dade gelos nie, maar het nogsteeds rondgeslaap.  Hosea het haar elke keer vergewe en teruggevat.  Sy huwelik met die prostituut was ‘n prentjie van God se huwelik met Israel.  God se bruid het dikwels gesondig.  En tog het Hy haar elke keer vergewe toe sy terugdraai.  Watse groot liefde is dit wat vir sy vyande sterf?  En dít is wat Jesus vir ons gedoen het (Romeine 5:8).  Dank God vir sy groot liefde.  En dank Hom dat daar emmers vol hoop is wanneer die beproewing nie wil ophou nie.

Advertisements

Skrifuitleg – by verre die beste manier van prediking

“En Jésua en Bani en Serébja, Jamin, Akkub, Sábbetai, Hodía, Maäséja, Kelíta, Asárja, Jósabad, Hanan, Pelája en die Leviete het die volk in die wet onderrig, onderwyl die volk op hulle plek bly staan.  En hulle het uit die boek, uit die wet van God, duidelik voorgelees en dit verklaar, sodat hulle verstaan het wat voorgelees is.” (Nehemia 8:8-9).

 

By meer as een geleentheid was ek in ‘n kerk waar die prediker in Tsonga gepreek het.  Ek het nie ‘n woord verstaan nie en die boodskap het my niks gehelp nie.  Voordat enige gelowige baat kan vind by die prediking van God se Woord, moet hy dit verstaan.  Wat is die stappe wat geneem moet word voordat ‘n gelowige die Bybel kan verstaan?  [a] Die Woord moet duidelik gelees word (v.9a).  In ons eie gemeente is daar verskeie mense wat help met die voorlesing.  Om die Skrif reg te lees moet ons let op die klem wat gelê word wanneer ons lees.  Moenie te vinnig lees sodat niemand kan byhou nie.  Moet ook nie so stadig lees dat mense verveeld raak nie.  Let op die toonhoogte – moenie ‘n irriterende stemhoogte hê nie.  Lees hard genoeg sodat almal kan hoor, maar moenie skreeu nie.  Projekteer jou stem sodat jy nie binnesmonds praat nie.  Spreek woorde en name reg uit.  En lees passievol (die Hebreeuse woord qârâ’ impliseer dat Esra duidelik en passievol gelees het).   In Steven Lawson se woorde:  “If you want to bore people, bore them with Shakespeare.  Don’t bore them with the Bible.”  Moenie dat die manier waarop jy lees mense verwar nie.  Jou Skriflesing moet die teks vir mense duidelik maak soos wat in Nehemia 8:9 gedoen is.  Hou tog in gedagte dat die Skriflesing so duidelik en helder as moontlik kan wees – maar indien ‘n persoon nie weergebore is nie sal die teks vir hom van geen geestelike nut wees nie.  Hy mag dalk die taal verstaan (Afrikaans of Engels), maar indien hy geestelik blind is sal hy so min van die Bybel verstaan soos wat ek van my broer se ingeneursklasse verstaan het.  Indien jý die persoon is vir wie die Bybel vervelig en onverstaanbaar is móét jy die evangelie glo.  Jy moet glo dat Jesus God en mens is.  Jy moet glo dat Jesus sondeloos volmaak is en dat sy gehoorsaamheid aan ons toegereken word deur geloof.  Jy moet glo dat Jesus aan die kruis gestraf is vir ons sondes.  Jy moet glo dat Hy begrawe is en dat Hy liggaamlik opgestaan het uit die dood, sodat ons kan lewe.  Jy moet Hom heeltemal vertrou om jou te red en moet jou bekeer van jou sondes.  Eers dán kan jy die duidelike voorlesing van God se Woord waardeer en verstaan.

Vir my eerste week van klas by ‘n preekkursus moes elke persoon sy gunsteling aanhaling oor prediking vir die klas voorlees.  My heel gunsteling aanhaling oor prediking is van John MacArthur:  “The meaning of the Scripture is the Scripture.”  Sonder ‘n regte verklaring van die Skrif help die Skrif jou nie veel nie.  Die Heilige Gees moet die swaard uit sy skede trek.  Daarom is ons volgende stap tot die regte verstaan van die Bybel dít:  [b] Die Woord moet reg verklaar word (v.9b).  In <st2:bcv_smarttag>1 Timoteus 4:13 skryf Paulus aan sy jong vriend:  “Totdat ek kom, moet jy aanhou met voorlesing, vermaning en lering.”  Timoteus se taak was eenvoudig:  lees die Skrif, verduidelik dit, en roep mense op tot aksie.  En dit is presies wat hier in v.9 van Nehemia 8 gebeur:  die Skrif is gelees, verklaar, en toegepas…gelees, verklaar, en toegepas.  Dieselfde metode is deur Jesaja gevolg.  Sy spotters het nie van hierdie styl van prediking gehou nie en het vir hom gesê:  “Want dit is gebod op gebod, gebod op gebod, reël op reël, reël op reël, hier ‘n bietjie, daar ‘n bietjie.” (Jesaja 28:10).  Esra en Jesaja het die Woord in ‘happie-grootte’ vir hulle hoorders gegee.

Sommige kommentators meen dat Esra en sy helpers nie die verse verduidelik het nie, maar eerder dat hulle die teks vanuit Hebreeus na Aramees vertaal het.  Die volk het tydens hulle 70 jaar in Babilon Aramees geleer en kon nie meer Hebreeus verstaan nie.  Of hierdie die regte verklaring van v.9 is of nie, híérvan kan jy seker wees:  Esra en sy helpers het die Skrifte uitgelê.  Indien die teks uit Hebreeus vertaal is, was hulle tog besig met Skrifuitleg:  Hebreeuse woorde en die historiese agtergrond is verduidelik.  Is dit nie maar wat ons ook doen nie:  ons verduidelik die oorspronklike taal en gee die historiese agtergrond?  Wat anders is dit dan as eksposerende prediking of Skrifuitleg?  Hoekom het Esra en sy helpers die verse verduidelik?  Hulle het so gedoen sodat die hoorders die voorlesing kon verstaan (v.9).  Iemand het vir my gesê dat ons nie moet probeer om die Skrif verstaanbaar te preek vir kinders nie.  Martin Luther het geglo die preek moet duidelik wees vir 12-jariges en gewone mense.  Ja, in sy wese is die Skrif is duidelik genoeg vir kinders om te verstaan (v.3-4), maar die Heilige Gees maak ook die Skrif duidelik deur leraars wat dit op ‘n verstaanbare wyse uitlê (v.9, Efesiërs 4:11-12).

Tydens een vakansie het ek en my vrou ‘n kerk besoek.  Die prediker het die teks gelees en nooit weer na die verse verwys nie.  Aan die einde van die preek het hy ‘n paar Bybelverse aangehaal.  Wat help dit ‘n prediker lees die teks, maar sy hoorders het geen groter begrip van daardie teks as wat hulle gehad het toe hulle self die teks by die huis gelees het nie?  Elke prediker moet letterlik met sy vinger op die teks preek.  John MacArthur se bediening is bekend vir ‘n vers-vir-vers uitleg van die Bybel.  Grace to You (die bediening wat MacArthur se preke versprei) se slagspreuk is:  “Unleashing God’s truth one verse at a time.”  Eksposerende prediking is by verre die mees akkurate manier van prediking.  Dit is die getrouste aan die Skrif van enige manier van prediking.  Volgens v.8-9 is dit die manier wat deur Esra en sy helpers gevolg is.  Ander predikers in die Bybel het ook hierdie manier van prediking gevolg.

“…Moses [het] onderneem om hierdie wet te verklaar…” (Deuteronomium 1:5).

“Want Esra het sy hart daarop gerig om die wet van die Here te ondersoek en te betrag, en om Israel die insettinge en verordeninge te leer.” (Esra 7:10).

“‘So when you see the abomination of desolation spoken of by the prophet Daniel, standing in the holy place (let the reader understand)” (Matteus 24:15, English Standard Version).

“En Filippus het daarheen gehardloop en hom die profeet Jesaja hoor lees; en hy sê:  Verstaan u wel wat u lees?  En hy antwoord:  Hoe kan ek tog as niemand my die weg wys nie?” (Handelinge 8:30-31).

“When they had appointed a day for him, they came to him at his lodging in greater numbers.  From morning till evening he expounded to them, testifying to the kingdom of God and trying to convince them about Jesus both from the Law of Moses and from the Prophets.” (Handelinge 28:23, English Standard Version).

Geen hoorder moet tevrede wees om by die kerk in te stap en uit te stap sonder om die voorlesing te verstaan nie.  Om te verstaan moet ons ook bid vir ‘n helder verstand (Psalm 119:18).  En dan moet ons nie vergeet om te bid vir die prediker, sodat hy dit duidelik kan preek nie.  Paulus se versoek aan die gelowiges was om te bid “dat ek dit openbaar kan maak soos ek dit behoort te spreek.” (Kolossense 4:4).  Jesus self was iemand wat die eksposerende manier van prediking toegepas het.  Toe Hy die Emmaus-gangers op die pad ontmoet het, het “…Hy…begin van Moses en al die profete af en vir hulle uitgelê in al die Skrifte die dinge wat op Hom betrekking het.” (Lukas 24:27).  Hulle eie getuienis was:  “…Was ons hart nie brandende in ons toe Hy met ons op die pad gepraat en vir ons die Skrifte uitgelê het nie?” (Lukas 24:32).

In Colin Marshall en Tony Payne se boek, The Trellis and the Vine, skryf die outeurs:

“If we never think about people individually and work out where they are up to, and how and in what area they need to grow, how can we minister in anything other than a haphazard, scattergun way?  It’s like a doctor thinking to himself, ‘Seeing each of my patients individually and diagnosing their illnesses is just too difficult and time consuming.  Instead, I’m going to get all my patients to assemble together each week, and I’ll give them all the same medicine.  I’ll vary the medicine a bit from week to week, and it will at least do everybody some good.  And it’s much more efficient and manageable that way.” (Matthias Media; 2009; KINGSFORD; p.88).

Marshall en Payne wil well ‘n ander punt illustreer, maar hierdie aanhaling kan goed toegepas word op ons teks.  Om die Bybel reg te verstaan moet [c] Dit spesifiek toegepas word.  Ons kan nie die haelgeweer metode gebruik waarin ons ‘n skoot in die donker skiet en hoop ons skiet iets raak nie.  Daar moet spesifieke toepassing gegee word vir spesifieke mense se situasies.  Esra en sy dertien helpers het die Skrif duidelik gelees en uitgelê (v.4-5, 9).  Nóg dertien helpers (die Leviete) het tussen die mense beweeg, hulle vrae beantwoord, en die Woord op hulle spesifieke situasies toegepas (v.8).  Die mense het op hulle plekke bly staan sodat daar nie choas sou wees nie (v.8).  Die helpers het Esra beteken wat die sewentig ouderlinge vir Moses beteken het in Eksodus 18 en Numeri 11.  In ons situasie is daar ook bekwame mense wat kan help om die Skrif in spesifieke situasies toe te pas.  Indien daar dinge is wat jy nie in preek verstaan nie; of indien jy nie weet hoe die Skrif in jou unieke situasie geld nie, vra die leraar, ouderlinge, diakens, beraders, of ander volwasse gelowiges om jou te help.  Die regte toepassing van ‘n sekere teks kan nie plaasvind voordat jy nie daardie spesifieke teks reg verstaan het nie.  Maak dan seker dat jy dit verstaan.  Jesus het dit verstaan.  Hy het dieselfde evangelie gepreek vir almal, maar het geweet dat Hy die immorele Samaritaanse vrou ánders moes benader as ‘n selfregverdige Fariseër (sien Johannes 3-4).  Oor die Messias het Jesaja voorspel dat Hy presies geweet het hoe om die regte Woord in die regte situasie te spreek:  “Die Here Here [die Vader] het My [die Seun] ‘n geoefende tong gegee, dat Ek kan weet om die vermoeide te verkwik met woorde; Hy wek elke môre, Hy wek my oor om te hoor soos die leerlinge.” (Jesaja 50:4).

Ten slotte:  ná Nehemia 8 het die bekend gestaan as mense van die Boek (so was dit ook met die vroeë Baptiste).  Die fokus was nou nie meer op die eksterne prag van die tempel nie.  Daar was net ‘n hout verhoog en ‘n vaal boekrol.  Dit laat ‘n mens byna dink aan die verskil tussen die Rooms-Katoliekekerk en die Protestante.  Vir die Katolieke was versierde geboue met beelde en loodglas-vensters belangrik.  Vir die Protestante was ‘n eenvoudige gebou voldoende – dit was die Woord wat getel het.  Ons fokus moet op die Skrif wees.  Ons moet weer bekend word as mense van die Boek.  Maar daar is ‘n voorvereiste sodat dit kan gebeur:  ons moet die Bybel begeer, eerbiedig, en verstaan.  Berei jouself op híérdie manier voor vir Sondag se preek.

Ou skool prediking en aanbidding in die moderne era?

“En Esra, die skrifgeleerde, het op ‘n houtverhoog gestaan wat hulle vir die geleentheid gemaak het, en langs hom het aan sy regterhand gestaan:  Mattítja en Sema en Anája en Uría en Hilkía en Maäséja; en aan sy linkerhand:  Pedája en Mísael en Malkía en Hasum en Hasbaddána, Sagaría, Mesúllam.  En Esra het die boek oopgemaak voor die oë van die hele volk, want hy het bokant die hele volk gestaan; en toe hy dit oopmaak, het die hele volk opgestaan.  En Esra het die Here, die grote God, geloof, en die hele volk het geantwoord:  Amen, amen! met opheffing van hulle hande; en hulle het hul gebuig en die Here aanbid met die aangesig na die aarde toe.” (Nehemia 8:5-7)

 

Voor die reformasie was die altaar sentraal in die Rooms-Katoliekekerk.  Om te wys dat dit die belangrikste was het dit in die middel van die kerk se voorkant gestaan.  Toe die hervorming onder Martin Luther en Johannes Calvyn posvat, het die kansel die altaar vervang.  Die kansel was byna soos ‘n groot en hoë toring in die middel van die kerk se voorkant.  Die hervormers wou daardeur wys dat die Woord sentraal is tot die lewe van die kerk.  Tot vandag toe bestaan van hierdie groot ou kansels nog in Europese kerkgeboue.  Een man wat ek ken het tydens sy besoek aan Europa in so ‘n kansel gepreek.  Hy het gesê dat dit vir hom gevoel het of hy doer bo in die lug is, terwyl die mense daar ver was.  In moderne kerkgeboue is daar skaars ‘n kansel oor.  Die feit dat die kerk soos ‘n teater lyk en een groot verhoog het laat ‘n mens byna wonder of vermaaklikheid die sentrale idee van die kerk geword het.

 

Hoe eerbiedig ‘n mens die Woord?  Ons eerbiedig nie die Woord deur te redeneer dat ‘n mens nie ‘n ander boek bo-op die Bybel mag neerlê nie.  Baie mense wat dít doen lewe onheilig en eerbiedig buitendien nie die Bybel nie.  Die manier waarop ons die Woord van God moet eerbiedig in ons eredienste, is deur… [a] Dit te verhef (v.5).  Esra het op ‘n verhoog gestaan wat vir die geleentheid gebou is.  Die verhoog is gebou sodat sy stem kon dra en almal hom kon sien.  Hy moes hardop lees (die Hebreeuse woord vir lees beteken mos letterlik ‘uitroep’) indien hy in die opelug voor ‘n skare van 42 duisend mense gehoor sou word.  Sy stem sou gou moeg word, en daarom het hy dertien helpers langs hom gehad om hom te help met die leeswerk (v.5b).  Maar die verhoog was ook daar om te wys dat die Woord verhewe is bo alles en almal.  Die Woord was sentraal tot Israel se aanbidding.

Ons moet hierdie voorbeeld navolg en die Skrif sentraal stel in ons aanbidding.  Die prediking van God se Woord moet belangriker wees as samesang.  Dit is immers die Woord wat ons samesang moet inlig en dryf.  Ons kan nie gereelde sangdienste hou waarin Skriflesing en prediking nie die sentrale plek geniet nie.  Prediking moet ook nie uitgeskuif word deur tradisionele dae soos moedersdag of kersfees nie.  Wanneer daar terugvoer gegee word deur sendelinge of ander bedieninge, moet dit nie die erediens oorheers sodat die prediker sy boodskap moet inkort nie.  Getuienisse, afkondigings, en sangitems moenie die prediker se tyd steel nie.  Geld moet ook nie die afgod word wat die Woord uitskuif nie (soos in Prosperity groepe gebeur).  Die kinderstorie moenie die hoogtepunt van die erediens word nie.  Drama ook nie.  Die Woord en die Woord alleen moet sentraal wees.  God beskou dit as sentraal en ons moet ook.  Ons sien dit juis deurdat God sy Gebooie by ‘n berg gegee het.  Sy stem het van die berg af gedreun.  Christus self het op ‘n berg gepreek en sodoende sy Woord verhef.  As ons Jesus verhef sal Hy alle mense na hom toe aantrek (sien Johannes 12:32).  En ons verhef Hom juis deur sy Woord te verhef deurdat ons daaraan ‘n sentrale plek gee.

Die ou kansel-Bybels was groot.  Natuurlik was dit so, sodat die prediker maklik daaruit kon lees.  Maar dit was ook so, sodat die gemeente kon sien dat die prediker se idees uit die Bybel kom en nie uit sy duim nie.  En juis om hierdie rede het Esra die Skrif eerbiedig deur… [b] Dit oop te maak (v.6a).  Elke prediker moet so preek en wys dat sy idees uit die teks self kom.  Die prediker moet aanhoudend terugverwys na die vers waaruit hy sy materiaal neem.  Ek is tans besig met ‘n kursus in prediking.  Vir Januarie 2013 se klas moet ons ‘n DVD opname van ons preek klas toe bring.  Die dosent het spesifiek gevra dat hy die gemeente se agterkoppe ook in die beeld wil sien.  Hy wil sien hoe hulle koppe gedurig afkyk in hulle Bybels, omdat ons hulle na die teks toe terugverwys.  John Piper skryf:

“Again and again my advice to beginning preachers is:  ‘Quote the text!  Quote the text!  Say the actual words of the text again and again.  Show the people where your ideas are coming from.’  Most people do not easily see the connections a preacher sees between his words and the words of the text he is preaching from.  They must be shown again and again by saturating the sermon with actual quotes from Scripture.” (The Supremacy of God in Preaching; Baker Books; GRAND RAPIDS; 1990, 2004; p.88).

Vroëer in dieselfde boek sê hy:

“One of the biggest problems I have with younger preachers I am called on to critique is that they fail to quote the texts that support the points they are making.  It makes me wonder if they have been taught that you should get the drift of a text and then talk in your own words for thirty minutes.  The effect of that kind of preaching is to leave people groping for the Word of God and wondering whether what you said is really in the Bible.  Instead, in the literate Western culture we need to get people to open their Bibles and put their fingers on the text. Then we need to quote a piece of our text and explain what it means. Tell them which half of the verse it is in.  People lose the whole drift of a message groping for where the pastor’s ideas are coming from.  Then we should quote another piece of the text and explain what it means.  Our explanation will draw in other passages of Scripture.  Quote them!  Don’t say general things like, ‘As Jesus says in the Sermon on the Mount.’” (Ibid; p.45).

Elke prediker moet sy Bybel in die kansel hê – selfs al preek hy met ‘n i-pad, met ‘n reader, of al is sy verse uitgedruk in sy preeknotas.  Mense moet die Bybel sien en weet dat hy die Skrif preek.  Hy moenie die Bybel toemaak as hy klaar gelees het en sy eie gedagtes deel nie.  Vir die hoorder moet ek ook sê:  bring ‘n kopie van die Bybel saam met jou kerk toe.  In ons gemeente se konteks sal dit help om ‘n Afrikaanse Ou Vertaling of ander letterlike vertaling van die Bybel saam te bring.  Moenie jou Bybel toemaak as die teks klaar gelees is nie, maar hou jou Bybel oop om te volg wat die prediker sê.  Toets hom.  Kyk of wat hy sê regtig uit die Bybel uitkom (sien Handelinge 17:11).  Jesus het van die Heilige Gees gesê:  “Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig.  Hy sal My verheerlik, omdat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig.  Alles wat die Vader het, is myne; daarom het Ek gesê dat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig.” (Johannes 16:13-15).  Die Heilige Gees het net gesê wat Hy van Jesus af gehoor het.  Hoeveel te meer moet ons nie dieselfde doen en nét sê wat Jesus in sy Woord gesê het nie?

In ons kultuur staan ons op vir vroue en ou mense.  In die Skrif leer ons ook om ou mense só te respekteer (Levitikus).  Ek onthou hoe ‘n teken op ‘n trein in Taiwan aangedui het dat swanger vroue en ou mense voorkeur moet kry om op die groen sitplekke te sit.  Ons staan ook op wanneer ‘n belangrike persoon soos ‘n Magistraat by die hof instap.  Ons staan op wanneer die volkslied gesing word.  Die Israeliete het dit gedoen vir die Woord.  Die manier waarop hulle die Skrif eerbiedig het was deur… [c] Daarvoor te buig (v.6b-7).  Met ‘buig’ bedoel ons nie dat hulle die boekrol aanbid het nie, maar eerder dat hulle daaraan onderwerp het.  Die feit dat hulle daarvoor opgestaan het wys dat hulle dit eerbiedig het.  Met ander woorde, hulle het hulle harte gebuig (v.6) voordat hulle hul knieë gebuig het (v.7).  Vóórdat hulle in ballingskap weggevoer is as slawe, het hulle vals gode aanbid.  Nou aanbid hulle weer die ware God (v.7).

Sommige kommentators meen dat Nehemia 8 eintlik die begin van sinagoge-aanbidding was.  Die orde van aanbidding in die sinagoge het dieselfde orde gevolg as wat ons in Nehemia 8 sien.  Deel van hierdie orde het die lofprysing, die reaksie van die volk, die lees van die Skrifte, en die prediking daarvan ingesluit.  Volgens v.7 het “…Esra…die Here, die grote God, geloof…”  Die volk het ‘n dubbele ‘amen’ ge-eggo.  Amen beteken letterlik ‘dit is waar…laat dit so wees’.  Die volk het ook hulle hande opgehef om uitdrukking te gee aan hulle afhanklikheid van God; om uitdrukking te gee aan hulle verlange na Hom (v.7).  Die Psalmis wys iets soortgelyk:  “…[ek wil] my hande ophef na u gebooie wat ek liefhet, en u insettinge oordink.” (Psalm 119:48).  Op ‘n ander plek staan daar:  “Hef julle hande op na die heiligdom, en loof die Here!” (Psalm 134:2).  Die volk het ook hulle gesigte na die aarde toe neergebuig (v.7).  Hierdeur het hulle hul eie sondigheid en behoeftigheid erken.  Hulle het God se heiligheid en hulle onheiligheid erken.  Hulle was byna soos die tollenaar in Jesus se gelykenis:  “En die tollenaar het ver weg gestaan en wou selfs nie sy oë na die hemel ophef nie, maar het op sy bors geslaan en gesê:  O God, wees my, sondaar, genadig!” (Lukas 18:13).  Die volk het verder ook vir Jahwe aanbid (v.7).

Die reaksie van hierdie Joodse gehoor is vir ons ‘n voorbeeld.  Ons moet onsself ook neerbuig voor God se Woord deur ons onderwerping daaraan.  Ons moet, soos die volk in v.7, in aanbidding reageer op dit wat in die Woord staan.  Hoe doen ons dit?  Ons moet versigtig wees om nie aanbidding vir die Here te bring soos wat ons wil hê nie.  Ons moet God aanbid soos wat Hý wil hê.  Die volk het God aanbid volgens wat hulle in die Woord gehoor het – nie volgens wat húlle wou doen of hê nie.  Die implikasie vir ons is dat ons nie soeker-sensitief kan wees nie.  Ons kan nie ons aanbiddingstyl aanpas om vir die ongelowige massas te gee wat húlle wil hê nie.  Volgens Johannes 4:24 moet ons God aanbid in gees en in waarheid.  In gees beteken dat ons God op enige plek kan aanbid.  Ons hoef Hom nie in ‘n tempel of op ‘n sekere berg te aanbid nie.  God is immers Gees en is oral.  Maar aanbidding in gees beteken ook dat ons hele wese in aanbidding betrokke moet wees – ja, ook ons emosies.  Let op hoe die volk God in gees aanbid het toe hulle met ‘n passievolle ‘amen’ gereageer het, en toe hulle hul hande opgehef het.  Om emosie in aanbidding te toon is nie ‘charismaties’ nie.  En om amen te sê of jou hande in die lug op te hef is nie ‘pinkster’ nie.  Ons moet egter daarop let dat ons nie hierdie dinge doen om die aandag op onsself te vestig nie.  Ons moet ook nie wanordelik en steurend wees nie.  Ook moet hierdie aksies nie leeg en betekenisloos wees nie.

Ek onthou hoe ‘n man by ‘n konferensie sy hande opgehef het terwyl ons sing.  Ek ken die persoon en weet dat hy die Here liefhet en nie sommer net hierdie ding doen om aandag te trek nie.  Hy doen dit nie bloot uit gewoonte nie.  By dieselfde konferensie, egter, was ‘n man wat vir elke liewe ding ‘amen’ gesê het.  By een erediens waar ek was het die spreker gesê:  “Ons was op ‘n trok in Rusland.”  In die gehoor was daar ‘n duidelike ‘amen’.  Dit was duidelik ‘n leë en betekenislose ‘amen’.  In baie Anglikaanse kerke is daar ‘n vasgestelde ‘amen’ deur die gemeente wanneer sekere gebede gelees word.  Hierdie dinge kan wel waarde hê, maar ons pasop om nie net uit tradisie en gewoonte ‘amen’ te sê of ons hande op te hef nie.  Laat ek die voorbeeld van sang neem om te wys hoe ons God in gees moet aanbid.  Daar moet natuurlik emosie in ons samesang wees, maar dit moet altyd waarheid-gedrewe wees.  Ons moenie emosioneel opgesweep raak deur een lied wat sewe keer oorgesing word nie.  Ons moet emosioneel raak omdat dit wat in die lied staan ons verstand stimuleer en ons harte raak.  Die wysies van ons liede moet ook by die woorde pas.  Ons kan nie van God se majesteit sing en ‘n opgewekte ‘alla-alla-wêreld’ tipe kinderwysie hê nie.  Ons kan ook nie van ons vreugde en lof in die Here sing en ‘n stadige en trekerige wysie hê nie.  Ons wysies moenie die waarheid wat ons probeer oordra bedek of vertraag nie.  Ons moet sorg dat daar geen wêreldse konnotasie aan die wysies is wat ons gebruik nie.  Die woorde kan hoe geestelik wees, maar dit gaan eenvoudig nie werk as ons ‘Loslappie’ probeer ver-Christelik nie.  Musiek leiers in ons gemeentes moet toesien dat die wysies nie sondige emosies in die gelowiges wek nie.  Rap musiek word altyd in die wêreld geassosieer met aggressie en geweld.  Ons kan nie en moenie hierdie wysies in ons aanbidding gebruik nie.  Heavy Metal word geassosieer met duisternis.  Ons moet dit nie probeer ver-Christelik om God mee te aanbid nie.  In Deuteronomium 12:28-31 waarsku die Here:

“As die Here jou God die nasies waar jy na toe gaan om hulle uit die besitting te verdrywe, voor jou uitroei, en jy hulle verdrywe en in hulle land woon, neem jou dan in ag dat jy nie, agter hulle aan, verstrik word nadat hulle voor jou uit verdelg is nie, en dat jy nie na hulle gode vra en sê nie: Hoe het hierdie nasies hulle gode gedien? – dat ek ook so kan doen.  So mag jy nie handel met die Here jou God nie; want alles wat vir die Here ‘n gruwel is, wat Hy haat, het hulle vir hulle gode gedoen…”

Ook die waarheid en poësie van ons liede moet gepaste emosie verwek.  ‘n Uitstekende artikel van David de Bruyn wys op hierdie feit.  Om net te sing:  “God is absoluut regverdig” wek nie dieselfde emosie as “God se geregtigheid staan onwankelbaar vas soos die magtige berge” nie.  Met ander woorde, in hierdie lied moet die absolute regverdigheid van God in kleurvolle woorde beskryf word.

Maar ons moenie net die Here in gees aanbid nie, maar ook in waarheid.  Die volk het in aanbidding voor die Here gebuig omdat hulle uit ‘n oop Bybel verstaan het wie Hy is (v.6-7).  Ons sien byvoorbeeld in <st1:bcv_smarttag>1 Kronieke 16:8-36 hoe Dawid die Here met ‘n Psalm loof voordat die volk in aanbidding reageer.  In vers 36 van hierdie hoofstuk lees ons:  “Geloofd sy die Here, die God van Israel, van ewigheid tot ewigheid!  En die hele volk het gesê:  Amen! en:  Prys die Here!”  Dít is wat hier in Nehemia 8:7 gebeur.  Die volk aanbid dus die Here volgens die waarheid van sy Woord en volgens hulle eie verbeelding nie.  Dit was juis omdat hulle God volgens hulle eie verbeelding begin aanbid het dat hulle uiteindelik in afgodery verval het.  Die groot sonde het in <st1:bcv_smarttag>1 Konings 12:25-33 begin toe koning Jerobeam Jahwe op sy eie manier wou aanbid.  Om afgode te aanbid is ‘n oortreding van die eerste gebod.  Maar om God te aanbid soos wat jý wil hê en nie soos Hy in die Skrif leer nie, is ‘n oortreding van die tweede gebod.  En dit was toe Jerobeam die tweede gebod oortree het, dat die volk uiteindelik ook die eerste oortree het en as straf weggevoer is in ballingskap.

Ek het reeds die voorbeeld van sang gebruik om te wys hoe ons God moet aanbid in gees.  Laat my asseblief weer toe om te wys hoe ons deur ons liede God moet aanbid in waarheid.  Die woorde van ons liede moet Bybels wees.  Ons kan nie sing:  “Come, just as you are to worship” nie, want die Bybel leer die teenoorgestelde.  Die Bybel leer dat ons onsself moet voorberei vir aanbidding (sien Jakobus 4:8-10, Psalm 15).  Ons liede moet ook lerend van aard wees.  Wanneer ons dit sing moet ons die Woord van God leer (sien Kolossense 3:16).  Ons liede moet nie net waar wees nie, maar dit moet teologies-solied wees.  Ons kan sing:  “God is so goed, God is so goed, God is so goed, Hy’s so goed vir my.”  Maar dit stimuleer ons harte en gedagtes meer om te sing:  “Magtige Here God lei my, pelgrim deur ‘n woeste land.  Ek is swak, maar U is magtig; lei my deur U sterke hand.”  Ons lofliede moet ook die hele spektrum van God se Woord dek.  Ons kan nie elke week net sing oor die skepping nie.  Ons moet ook sing oor verlossing.  En ons kan nie net week na week sing oor verlossing nie.  Ons moet ook sing oor wie God is.  Ons moet die hele raad van God sing.  Laastens is dit ook belangrik om in verstaanbare taal te sing as ons God in waarheid gaan aanbid.  Ons kan nie liede vol van ou Afrikaanse en Engelse woorde hê wat niemand verstaan nie.  Ons moet die woorde opdateer en aanpas sodat die gelowige dit kan verstaan en God in waarheid kan aanbid.

God wil hê dat ons sy Woord moet verhef, dat ons dit moet oopmaak, en dat ons die knie moet buig.  Só eerbiedig jy jou Here.  kom dan met hierdie ingesteldheid byeen met ander gelowiges om God se Woord te hoor op ‘n Sondag.