Ou skool prediking en aanbidding in die moderne era?

“En Esra, die skrifgeleerde, het op ‘n houtverhoog gestaan wat hulle vir die geleentheid gemaak het, en langs hom het aan sy regterhand gestaan:  Mattítja en Sema en Anája en Uría en Hilkía en Maäséja; en aan sy linkerhand:  Pedája en Mísael en Malkía en Hasum en Hasbaddána, Sagaría, Mesúllam.  En Esra het die boek oopgemaak voor die oë van die hele volk, want hy het bokant die hele volk gestaan; en toe hy dit oopmaak, het die hele volk opgestaan.  En Esra het die Here, die grote God, geloof, en die hele volk het geantwoord:  Amen, amen! met opheffing van hulle hande; en hulle het hul gebuig en die Here aanbid met die aangesig na die aarde toe.” (Nehemia 8:5-7)

 

Voor die reformasie was die altaar sentraal in die Rooms-Katoliekekerk.  Om te wys dat dit die belangrikste was het dit in die middel van die kerk se voorkant gestaan.  Toe die hervorming onder Martin Luther en Johannes Calvyn posvat, het die kansel die altaar vervang.  Die kansel was byna soos ‘n groot en hoë toring in die middel van die kerk se voorkant.  Die hervormers wou daardeur wys dat die Woord sentraal is tot die lewe van die kerk.  Tot vandag toe bestaan van hierdie groot ou kansels nog in Europese kerkgeboue.  Een man wat ek ken het tydens sy besoek aan Europa in so ‘n kansel gepreek.  Hy het gesê dat dit vir hom gevoel het of hy doer bo in die lug is, terwyl die mense daar ver was.  In moderne kerkgeboue is daar skaars ‘n kansel oor.  Die feit dat die kerk soos ‘n teater lyk en een groot verhoog het laat ‘n mens byna wonder of vermaaklikheid die sentrale idee van die kerk geword het.

 

Hoe eerbiedig ‘n mens die Woord?  Ons eerbiedig nie die Woord deur te redeneer dat ‘n mens nie ‘n ander boek bo-op die Bybel mag neerlê nie.  Baie mense wat dít doen lewe onheilig en eerbiedig buitendien nie die Bybel nie.  Die manier waarop ons die Woord van God moet eerbiedig in ons eredienste, is deur… [a] Dit te verhef (v.5).  Esra het op ‘n verhoog gestaan wat vir die geleentheid gebou is.  Die verhoog is gebou sodat sy stem kon dra en almal hom kon sien.  Hy moes hardop lees (die Hebreeuse woord vir lees beteken mos letterlik ‘uitroep’) indien hy in die opelug voor ‘n skare van 42 duisend mense gehoor sou word.  Sy stem sou gou moeg word, en daarom het hy dertien helpers langs hom gehad om hom te help met die leeswerk (v.5b).  Maar die verhoog was ook daar om te wys dat die Woord verhewe is bo alles en almal.  Die Woord was sentraal tot Israel se aanbidding.

Ons moet hierdie voorbeeld navolg en die Skrif sentraal stel in ons aanbidding.  Die prediking van God se Woord moet belangriker wees as samesang.  Dit is immers die Woord wat ons samesang moet inlig en dryf.  Ons kan nie gereelde sangdienste hou waarin Skriflesing en prediking nie die sentrale plek geniet nie.  Prediking moet ook nie uitgeskuif word deur tradisionele dae soos moedersdag of kersfees nie.  Wanneer daar terugvoer gegee word deur sendelinge of ander bedieninge, moet dit nie die erediens oorheers sodat die prediker sy boodskap moet inkort nie.  Getuienisse, afkondigings, en sangitems moenie die prediker se tyd steel nie.  Geld moet ook nie die afgod word wat die Woord uitskuif nie (soos in Prosperity groepe gebeur).  Die kinderstorie moenie die hoogtepunt van die erediens word nie.  Drama ook nie.  Die Woord en die Woord alleen moet sentraal wees.  God beskou dit as sentraal en ons moet ook.  Ons sien dit juis deurdat God sy Gebooie by ‘n berg gegee het.  Sy stem het van die berg af gedreun.  Christus self het op ‘n berg gepreek en sodoende sy Woord verhef.  As ons Jesus verhef sal Hy alle mense na hom toe aantrek (sien Johannes 12:32).  En ons verhef Hom juis deur sy Woord te verhef deurdat ons daaraan ‘n sentrale plek gee.

Die ou kansel-Bybels was groot.  Natuurlik was dit so, sodat die prediker maklik daaruit kon lees.  Maar dit was ook so, sodat die gemeente kon sien dat die prediker se idees uit die Bybel kom en nie uit sy duim nie.  En juis om hierdie rede het Esra die Skrif eerbiedig deur… [b] Dit oop te maak (v.6a).  Elke prediker moet so preek en wys dat sy idees uit die teks self kom.  Die prediker moet aanhoudend terugverwys na die vers waaruit hy sy materiaal neem.  Ek is tans besig met ‘n kursus in prediking.  Vir Januarie 2013 se klas moet ons ‘n DVD opname van ons preek klas toe bring.  Die dosent het spesifiek gevra dat hy die gemeente se agterkoppe ook in die beeld wil sien.  Hy wil sien hoe hulle koppe gedurig afkyk in hulle Bybels, omdat ons hulle na die teks toe terugverwys.  John Piper skryf:

“Again and again my advice to beginning preachers is:  ‘Quote the text!  Quote the text!  Say the actual words of the text again and again.  Show the people where your ideas are coming from.’  Most people do not easily see the connections a preacher sees between his words and the words of the text he is preaching from.  They must be shown again and again by saturating the sermon with actual quotes from Scripture.” (The Supremacy of God in Preaching; Baker Books; GRAND RAPIDS; 1990, 2004; p.88).

Vroëer in dieselfde boek sê hy:

“One of the biggest problems I have with younger preachers I am called on to critique is that they fail to quote the texts that support the points they are making.  It makes me wonder if they have been taught that you should get the drift of a text and then talk in your own words for thirty minutes.  The effect of that kind of preaching is to leave people groping for the Word of God and wondering whether what you said is really in the Bible.  Instead, in the literate Western culture we need to get people to open their Bibles and put their fingers on the text. Then we need to quote a piece of our text and explain what it means. Tell them which half of the verse it is in.  People lose the whole drift of a message groping for where the pastor’s ideas are coming from.  Then we should quote another piece of the text and explain what it means.  Our explanation will draw in other passages of Scripture.  Quote them!  Don’t say general things like, ‘As Jesus says in the Sermon on the Mount.’” (Ibid; p.45).

Elke prediker moet sy Bybel in die kansel hê – selfs al preek hy met ‘n i-pad, met ‘n reader, of al is sy verse uitgedruk in sy preeknotas.  Mense moet die Bybel sien en weet dat hy die Skrif preek.  Hy moenie die Bybel toemaak as hy klaar gelees het en sy eie gedagtes deel nie.  Vir die hoorder moet ek ook sê:  bring ‘n kopie van die Bybel saam met jou kerk toe.  In ons gemeente se konteks sal dit help om ‘n Afrikaanse Ou Vertaling of ander letterlike vertaling van die Bybel saam te bring.  Moenie jou Bybel toemaak as die teks klaar gelees is nie, maar hou jou Bybel oop om te volg wat die prediker sê.  Toets hom.  Kyk of wat hy sê regtig uit die Bybel uitkom (sien Handelinge 17:11).  Jesus het van die Heilige Gees gesê:  “Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig.  Hy sal My verheerlik, omdat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig.  Alles wat die Vader het, is myne; daarom het Ek gesê dat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig.” (Johannes 16:13-15).  Die Heilige Gees het net gesê wat Hy van Jesus af gehoor het.  Hoeveel te meer moet ons nie dieselfde doen en nét sê wat Jesus in sy Woord gesê het nie?

In ons kultuur staan ons op vir vroue en ou mense.  In die Skrif leer ons ook om ou mense só te respekteer (Levitikus).  Ek onthou hoe ‘n teken op ‘n trein in Taiwan aangedui het dat swanger vroue en ou mense voorkeur moet kry om op die groen sitplekke te sit.  Ons staan ook op wanneer ‘n belangrike persoon soos ‘n Magistraat by die hof instap.  Ons staan op wanneer die volkslied gesing word.  Die Israeliete het dit gedoen vir die Woord.  Die manier waarop hulle die Skrif eerbiedig het was deur… [c] Daarvoor te buig (v.6b-7).  Met ‘buig’ bedoel ons nie dat hulle die boekrol aanbid het nie, maar eerder dat hulle daaraan onderwerp het.  Die feit dat hulle daarvoor opgestaan het wys dat hulle dit eerbiedig het.  Met ander woorde, hulle het hulle harte gebuig (v.6) voordat hulle hul knieë gebuig het (v.7).  Vóórdat hulle in ballingskap weggevoer is as slawe, het hulle vals gode aanbid.  Nou aanbid hulle weer die ware God (v.7).

Sommige kommentators meen dat Nehemia 8 eintlik die begin van sinagoge-aanbidding was.  Die orde van aanbidding in die sinagoge het dieselfde orde gevolg as wat ons in Nehemia 8 sien.  Deel van hierdie orde het die lofprysing, die reaksie van die volk, die lees van die Skrifte, en die prediking daarvan ingesluit.  Volgens v.7 het “…Esra…die Here, die grote God, geloof…”  Die volk het ‘n dubbele ‘amen’ ge-eggo.  Amen beteken letterlik ‘dit is waar…laat dit so wees’.  Die volk het ook hulle hande opgehef om uitdrukking te gee aan hulle afhanklikheid van God; om uitdrukking te gee aan hulle verlange na Hom (v.7).  Die Psalmis wys iets soortgelyk:  “…[ek wil] my hande ophef na u gebooie wat ek liefhet, en u insettinge oordink.” (Psalm 119:48).  Op ‘n ander plek staan daar:  “Hef julle hande op na die heiligdom, en loof die Here!” (Psalm 134:2).  Die volk het ook hulle gesigte na die aarde toe neergebuig (v.7).  Hierdeur het hulle hul eie sondigheid en behoeftigheid erken.  Hulle het God se heiligheid en hulle onheiligheid erken.  Hulle was byna soos die tollenaar in Jesus se gelykenis:  “En die tollenaar het ver weg gestaan en wou selfs nie sy oë na die hemel ophef nie, maar het op sy bors geslaan en gesê:  O God, wees my, sondaar, genadig!” (Lukas 18:13).  Die volk het verder ook vir Jahwe aanbid (v.7).

Die reaksie van hierdie Joodse gehoor is vir ons ‘n voorbeeld.  Ons moet onsself ook neerbuig voor God se Woord deur ons onderwerping daaraan.  Ons moet, soos die volk in v.7, in aanbidding reageer op dit wat in die Woord staan.  Hoe doen ons dit?  Ons moet versigtig wees om nie aanbidding vir die Here te bring soos wat ons wil hê nie.  Ons moet God aanbid soos wat Hý wil hê.  Die volk het God aanbid volgens wat hulle in die Woord gehoor het – nie volgens wat húlle wou doen of hê nie.  Die implikasie vir ons is dat ons nie soeker-sensitief kan wees nie.  Ons kan nie ons aanbiddingstyl aanpas om vir die ongelowige massas te gee wat húlle wil hê nie.  Volgens Johannes 4:24 moet ons God aanbid in gees en in waarheid.  In gees beteken dat ons God op enige plek kan aanbid.  Ons hoef Hom nie in ‘n tempel of op ‘n sekere berg te aanbid nie.  God is immers Gees en is oral.  Maar aanbidding in gees beteken ook dat ons hele wese in aanbidding betrokke moet wees – ja, ook ons emosies.  Let op hoe die volk God in gees aanbid het toe hulle met ‘n passievolle ‘amen’ gereageer het, en toe hulle hul hande opgehef het.  Om emosie in aanbidding te toon is nie ‘charismaties’ nie.  En om amen te sê of jou hande in die lug op te hef is nie ‘pinkster’ nie.  Ons moet egter daarop let dat ons nie hierdie dinge doen om die aandag op onsself te vestig nie.  Ons moet ook nie wanordelik en steurend wees nie.  Ook moet hierdie aksies nie leeg en betekenisloos wees nie.

Ek onthou hoe ‘n man by ‘n konferensie sy hande opgehef het terwyl ons sing.  Ek ken die persoon en weet dat hy die Here liefhet en nie sommer net hierdie ding doen om aandag te trek nie.  Hy doen dit nie bloot uit gewoonte nie.  By dieselfde konferensie, egter, was ‘n man wat vir elke liewe ding ‘amen’ gesê het.  By een erediens waar ek was het die spreker gesê:  “Ons was op ‘n trok in Rusland.”  In die gehoor was daar ‘n duidelike ‘amen’.  Dit was duidelik ‘n leë en betekenislose ‘amen’.  In baie Anglikaanse kerke is daar ‘n vasgestelde ‘amen’ deur die gemeente wanneer sekere gebede gelees word.  Hierdie dinge kan wel waarde hê, maar ons pasop om nie net uit tradisie en gewoonte ‘amen’ te sê of ons hande op te hef nie.  Laat ek die voorbeeld van sang neem om te wys hoe ons God in gees moet aanbid.  Daar moet natuurlik emosie in ons samesang wees, maar dit moet altyd waarheid-gedrewe wees.  Ons moenie emosioneel opgesweep raak deur een lied wat sewe keer oorgesing word nie.  Ons moet emosioneel raak omdat dit wat in die lied staan ons verstand stimuleer en ons harte raak.  Die wysies van ons liede moet ook by die woorde pas.  Ons kan nie van God se majesteit sing en ‘n opgewekte ‘alla-alla-wêreld’ tipe kinderwysie hê nie.  Ons kan ook nie van ons vreugde en lof in die Here sing en ‘n stadige en trekerige wysie hê nie.  Ons wysies moenie die waarheid wat ons probeer oordra bedek of vertraag nie.  Ons moet sorg dat daar geen wêreldse konnotasie aan die wysies is wat ons gebruik nie.  Die woorde kan hoe geestelik wees, maar dit gaan eenvoudig nie werk as ons ‘Loslappie’ probeer ver-Christelik nie.  Musiek leiers in ons gemeentes moet toesien dat die wysies nie sondige emosies in die gelowiges wek nie.  Rap musiek word altyd in die wêreld geassosieer met aggressie en geweld.  Ons kan nie en moenie hierdie wysies in ons aanbidding gebruik nie.  Heavy Metal word geassosieer met duisternis.  Ons moet dit nie probeer ver-Christelik om God mee te aanbid nie.  In Deuteronomium 12:28-31 waarsku die Here:

“As die Here jou God die nasies waar jy na toe gaan om hulle uit die besitting te verdrywe, voor jou uitroei, en jy hulle verdrywe en in hulle land woon, neem jou dan in ag dat jy nie, agter hulle aan, verstrik word nadat hulle voor jou uit verdelg is nie, en dat jy nie na hulle gode vra en sê nie: Hoe het hierdie nasies hulle gode gedien? – dat ek ook so kan doen.  So mag jy nie handel met die Here jou God nie; want alles wat vir die Here ‘n gruwel is, wat Hy haat, het hulle vir hulle gode gedoen…”

Ook die waarheid en poësie van ons liede moet gepaste emosie verwek.  ‘n Uitstekende artikel van David de Bruyn wys op hierdie feit.  Om net te sing:  “God is absoluut regverdig” wek nie dieselfde emosie as “God se geregtigheid staan onwankelbaar vas soos die magtige berge” nie.  Met ander woorde, in hierdie lied moet die absolute regverdigheid van God in kleurvolle woorde beskryf word.

Maar ons moenie net die Here in gees aanbid nie, maar ook in waarheid.  Die volk het in aanbidding voor die Here gebuig omdat hulle uit ‘n oop Bybel verstaan het wie Hy is (v.6-7).  Ons sien byvoorbeeld in <st1:bcv_smarttag>1 Kronieke 16:8-36 hoe Dawid die Here met ‘n Psalm loof voordat die volk in aanbidding reageer.  In vers 36 van hierdie hoofstuk lees ons:  “Geloofd sy die Here, die God van Israel, van ewigheid tot ewigheid!  En die hele volk het gesê:  Amen! en:  Prys die Here!”  Dít is wat hier in Nehemia 8:7 gebeur.  Die volk aanbid dus die Here volgens die waarheid van sy Woord en volgens hulle eie verbeelding nie.  Dit was juis omdat hulle God volgens hulle eie verbeelding begin aanbid het dat hulle uiteindelik in afgodery verval het.  Die groot sonde het in <st1:bcv_smarttag>1 Konings 12:25-33 begin toe koning Jerobeam Jahwe op sy eie manier wou aanbid.  Om afgode te aanbid is ‘n oortreding van die eerste gebod.  Maar om God te aanbid soos wat jý wil hê en nie soos Hy in die Skrif leer nie, is ‘n oortreding van die tweede gebod.  En dit was toe Jerobeam die tweede gebod oortree het, dat die volk uiteindelik ook die eerste oortree het en as straf weggevoer is in ballingskap.

Ek het reeds die voorbeeld van sang gebruik om te wys hoe ons God moet aanbid in gees.  Laat my asseblief weer toe om te wys hoe ons deur ons liede God moet aanbid in waarheid.  Die woorde van ons liede moet Bybels wees.  Ons kan nie sing:  “Come, just as you are to worship” nie, want die Bybel leer die teenoorgestelde.  Die Bybel leer dat ons onsself moet voorberei vir aanbidding (sien Jakobus 4:8-10, Psalm 15).  Ons liede moet ook lerend van aard wees.  Wanneer ons dit sing moet ons die Woord van God leer (sien Kolossense 3:16).  Ons liede moet nie net waar wees nie, maar dit moet teologies-solied wees.  Ons kan sing:  “God is so goed, God is so goed, God is so goed, Hy’s so goed vir my.”  Maar dit stimuleer ons harte en gedagtes meer om te sing:  “Magtige Here God lei my, pelgrim deur ‘n woeste land.  Ek is swak, maar U is magtig; lei my deur U sterke hand.”  Ons lofliede moet ook die hele spektrum van God se Woord dek.  Ons kan nie elke week net sing oor die skepping nie.  Ons moet ook sing oor verlossing.  En ons kan nie net week na week sing oor verlossing nie.  Ons moet ook sing oor wie God is.  Ons moet die hele raad van God sing.  Laastens is dit ook belangrik om in verstaanbare taal te sing as ons God in waarheid gaan aanbid.  Ons kan nie liede vol van ou Afrikaanse en Engelse woorde hê wat niemand verstaan nie.  Ons moet die woorde opdateer en aanpas sodat die gelowige dit kan verstaan en God in waarheid kan aanbid.

God wil hê dat ons sy Woord moet verhef, dat ons dit moet oopmaak, en dat ons die knie moet buig.  Só eerbiedig jy jou Here.  kom dan met hierdie ingesteldheid byeen met ander gelowiges om God se Woord te hoor op ‘n Sondag.