Skrifuitleg – by verre die beste manier van prediking

“En Jésua en Bani en Serébja, Jamin, Akkub, Sábbetai, Hodía, Maäséja, Kelíta, Asárja, Jósabad, Hanan, Pelája en die Leviete het die volk in die wet onderrig, onderwyl die volk op hulle plek bly staan.  En hulle het uit die boek, uit die wet van God, duidelik voorgelees en dit verklaar, sodat hulle verstaan het wat voorgelees is.” (Nehemia 8:8-9).

 

By meer as een geleentheid was ek in ‘n kerk waar die prediker in Tsonga gepreek het.  Ek het nie ‘n woord verstaan nie en die boodskap het my niks gehelp nie.  Voordat enige gelowige baat kan vind by die prediking van God se Woord, moet hy dit verstaan.  Wat is die stappe wat geneem moet word voordat ‘n gelowige die Bybel kan verstaan?  [a] Die Woord moet duidelik gelees word (v.9a).  In ons eie gemeente is daar verskeie mense wat help met die voorlesing.  Om die Skrif reg te lees moet ons let op die klem wat gelê word wanneer ons lees.  Moenie te vinnig lees sodat niemand kan byhou nie.  Moet ook nie so stadig lees dat mense verveeld raak nie.  Let op die toonhoogte – moenie ‘n irriterende stemhoogte hê nie.  Lees hard genoeg sodat almal kan hoor, maar moenie skreeu nie.  Projekteer jou stem sodat jy nie binnesmonds praat nie.  Spreek woorde en name reg uit.  En lees passievol (die Hebreeuse woord qârâ’ impliseer dat Esra duidelik en passievol gelees het).   In Steven Lawson se woorde:  “If you want to bore people, bore them with Shakespeare.  Don’t bore them with the Bible.”  Moenie dat die manier waarop jy lees mense verwar nie.  Jou Skriflesing moet die teks vir mense duidelik maak soos wat in Nehemia 8:9 gedoen is.  Hou tog in gedagte dat die Skriflesing so duidelik en helder as moontlik kan wees – maar indien ‘n persoon nie weergebore is nie sal die teks vir hom van geen geestelike nut wees nie.  Hy mag dalk die taal verstaan (Afrikaans of Engels), maar indien hy geestelik blind is sal hy so min van die Bybel verstaan soos wat ek van my broer se ingeneursklasse verstaan het.  Indien jý die persoon is vir wie die Bybel vervelig en onverstaanbaar is móét jy die evangelie glo.  Jy moet glo dat Jesus God en mens is.  Jy moet glo dat Jesus sondeloos volmaak is en dat sy gehoorsaamheid aan ons toegereken word deur geloof.  Jy moet glo dat Jesus aan die kruis gestraf is vir ons sondes.  Jy moet glo dat Hy begrawe is en dat Hy liggaamlik opgestaan het uit die dood, sodat ons kan lewe.  Jy moet Hom heeltemal vertrou om jou te red en moet jou bekeer van jou sondes.  Eers dán kan jy die duidelike voorlesing van God se Woord waardeer en verstaan.

Vir my eerste week van klas by ‘n preekkursus moes elke persoon sy gunsteling aanhaling oor prediking vir die klas voorlees.  My heel gunsteling aanhaling oor prediking is van John MacArthur:  “The meaning of the Scripture is the Scripture.”  Sonder ‘n regte verklaring van die Skrif help die Skrif jou nie veel nie.  Die Heilige Gees moet die swaard uit sy skede trek.  Daarom is ons volgende stap tot die regte verstaan van die Bybel dít:  [b] Die Woord moet reg verklaar word (v.9b).  In <st2:bcv_smarttag>1 Timoteus 4:13 skryf Paulus aan sy jong vriend:  “Totdat ek kom, moet jy aanhou met voorlesing, vermaning en lering.”  Timoteus se taak was eenvoudig:  lees die Skrif, verduidelik dit, en roep mense op tot aksie.  En dit is presies wat hier in v.9 van Nehemia 8 gebeur:  die Skrif is gelees, verklaar, en toegepas…gelees, verklaar, en toegepas.  Dieselfde metode is deur Jesaja gevolg.  Sy spotters het nie van hierdie styl van prediking gehou nie en het vir hom gesê:  “Want dit is gebod op gebod, gebod op gebod, reël op reël, reël op reël, hier ‘n bietjie, daar ‘n bietjie.” (Jesaja 28:10).  Esra en Jesaja het die Woord in ‘happie-grootte’ vir hulle hoorders gegee.

Sommige kommentators meen dat Esra en sy helpers nie die verse verduidelik het nie, maar eerder dat hulle die teks vanuit Hebreeus na Aramees vertaal het.  Die volk het tydens hulle 70 jaar in Babilon Aramees geleer en kon nie meer Hebreeus verstaan nie.  Of hierdie die regte verklaring van v.9 is of nie, híérvan kan jy seker wees:  Esra en sy helpers het die Skrifte uitgelê.  Indien die teks uit Hebreeus vertaal is, was hulle tog besig met Skrifuitleg:  Hebreeuse woorde en die historiese agtergrond is verduidelik.  Is dit nie maar wat ons ook doen nie:  ons verduidelik die oorspronklike taal en gee die historiese agtergrond?  Wat anders is dit dan as eksposerende prediking of Skrifuitleg?  Hoekom het Esra en sy helpers die verse verduidelik?  Hulle het so gedoen sodat die hoorders die voorlesing kon verstaan (v.9).  Iemand het vir my gesê dat ons nie moet probeer om die Skrif verstaanbaar te preek vir kinders nie.  Martin Luther het geglo die preek moet duidelik wees vir 12-jariges en gewone mense.  Ja, in sy wese is die Skrif is duidelik genoeg vir kinders om te verstaan (v.3-4), maar die Heilige Gees maak ook die Skrif duidelik deur leraars wat dit op ‘n verstaanbare wyse uitlê (v.9, Efesiërs 4:11-12).

Tydens een vakansie het ek en my vrou ‘n kerk besoek.  Die prediker het die teks gelees en nooit weer na die verse verwys nie.  Aan die einde van die preek het hy ‘n paar Bybelverse aangehaal.  Wat help dit ‘n prediker lees die teks, maar sy hoorders het geen groter begrip van daardie teks as wat hulle gehad het toe hulle self die teks by die huis gelees het nie?  Elke prediker moet letterlik met sy vinger op die teks preek.  John MacArthur se bediening is bekend vir ‘n vers-vir-vers uitleg van die Bybel.  Grace to You (die bediening wat MacArthur se preke versprei) se slagspreuk is:  “Unleashing God’s truth one verse at a time.”  Eksposerende prediking is by verre die mees akkurate manier van prediking.  Dit is die getrouste aan die Skrif van enige manier van prediking.  Volgens v.8-9 is dit die manier wat deur Esra en sy helpers gevolg is.  Ander predikers in die Bybel het ook hierdie manier van prediking gevolg.

“…Moses [het] onderneem om hierdie wet te verklaar…” (Deuteronomium 1:5).

“Want Esra het sy hart daarop gerig om die wet van die Here te ondersoek en te betrag, en om Israel die insettinge en verordeninge te leer.” (Esra 7:10).

“‘So when you see the abomination of desolation spoken of by the prophet Daniel, standing in the holy place (let the reader understand)” (Matteus 24:15, English Standard Version).

“En Filippus het daarheen gehardloop en hom die profeet Jesaja hoor lees; en hy sê:  Verstaan u wel wat u lees?  En hy antwoord:  Hoe kan ek tog as niemand my die weg wys nie?” (Handelinge 8:30-31).

“When they had appointed a day for him, they came to him at his lodging in greater numbers.  From morning till evening he expounded to them, testifying to the kingdom of God and trying to convince them about Jesus both from the Law of Moses and from the Prophets.” (Handelinge 28:23, English Standard Version).

Geen hoorder moet tevrede wees om by die kerk in te stap en uit te stap sonder om die voorlesing te verstaan nie.  Om te verstaan moet ons ook bid vir ‘n helder verstand (Psalm 119:18).  En dan moet ons nie vergeet om te bid vir die prediker, sodat hy dit duidelik kan preek nie.  Paulus se versoek aan die gelowiges was om te bid “dat ek dit openbaar kan maak soos ek dit behoort te spreek.” (Kolossense 4:4).  Jesus self was iemand wat die eksposerende manier van prediking toegepas het.  Toe Hy die Emmaus-gangers op die pad ontmoet het, het “…Hy…begin van Moses en al die profete af en vir hulle uitgelê in al die Skrifte die dinge wat op Hom betrekking het.” (Lukas 24:27).  Hulle eie getuienis was:  “…Was ons hart nie brandende in ons toe Hy met ons op die pad gepraat en vir ons die Skrifte uitgelê het nie?” (Lukas 24:32).

In Colin Marshall en Tony Payne se boek, The Trellis and the Vine, skryf die outeurs:

“If we never think about people individually and work out where they are up to, and how and in what area they need to grow, how can we minister in anything other than a haphazard, scattergun way?  It’s like a doctor thinking to himself, ‘Seeing each of my patients individually and diagnosing their illnesses is just too difficult and time consuming.  Instead, I’m going to get all my patients to assemble together each week, and I’ll give them all the same medicine.  I’ll vary the medicine a bit from week to week, and it will at least do everybody some good.  And it’s much more efficient and manageable that way.” (Matthias Media; 2009; KINGSFORD; p.88).

Marshall en Payne wil well ‘n ander punt illustreer, maar hierdie aanhaling kan goed toegepas word op ons teks.  Om die Bybel reg te verstaan moet [c] Dit spesifiek toegepas word.  Ons kan nie die haelgeweer metode gebruik waarin ons ‘n skoot in die donker skiet en hoop ons skiet iets raak nie.  Daar moet spesifieke toepassing gegee word vir spesifieke mense se situasies.  Esra en sy dertien helpers het die Skrif duidelik gelees en uitgelê (v.4-5, 9).  Nóg dertien helpers (die Leviete) het tussen die mense beweeg, hulle vrae beantwoord, en die Woord op hulle spesifieke situasies toegepas (v.8).  Die mense het op hulle plekke bly staan sodat daar nie choas sou wees nie (v.8).  Die helpers het Esra beteken wat die sewentig ouderlinge vir Moses beteken het in Eksodus 18 en Numeri 11.  In ons situasie is daar ook bekwame mense wat kan help om die Skrif in spesifieke situasies toe te pas.  Indien daar dinge is wat jy nie in preek verstaan nie; of indien jy nie weet hoe die Skrif in jou unieke situasie geld nie, vra die leraar, ouderlinge, diakens, beraders, of ander volwasse gelowiges om jou te help.  Die regte toepassing van ‘n sekere teks kan nie plaasvind voordat jy nie daardie spesifieke teks reg verstaan het nie.  Maak dan seker dat jy dit verstaan.  Jesus het dit verstaan.  Hy het dieselfde evangelie gepreek vir almal, maar het geweet dat Hy die immorele Samaritaanse vrou ánders moes benader as ‘n selfregverdige Fariseër (sien Johannes 3-4).  Oor die Messias het Jesaja voorspel dat Hy presies geweet het hoe om die regte Woord in die regte situasie te spreek:  “Die Here Here [die Vader] het My [die Seun] ‘n geoefende tong gegee, dat Ek kan weet om die vermoeide te verkwik met woorde; Hy wek elke môre, Hy wek my oor om te hoor soos die leerlinge.” (Jesaja 50:4).

Ten slotte:  ná Nehemia 8 het die bekend gestaan as mense van die Boek (so was dit ook met die vroeë Baptiste).  Die fokus was nou nie meer op die eksterne prag van die tempel nie.  Daar was net ‘n hout verhoog en ‘n vaal boekrol.  Dit laat ‘n mens byna dink aan die verskil tussen die Rooms-Katoliekekerk en die Protestante.  Vir die Katolieke was versierde geboue met beelde en loodglas-vensters belangrik.  Vir die Protestante was ‘n eenvoudige gebou voldoende – dit was die Woord wat getel het.  Ons fokus moet op die Skrif wees.  Ons moet weer bekend word as mense van die Boek.  Maar daar is ‘n voorvereiste sodat dit kan gebeur:  ons moet die Bybel begeer, eerbiedig, en verstaan.  Berei jouself op híérdie manier voor vir Sondag se preek.

Advertisements