Van depressie tot dank

“Vir die musiekleier; op die wysie van: ‘Moenie verwoes nie.’  Van Dawid.  ‘n Gedig, toe hy vir Saul in die spelonk gevlug het.  Wees my genadig, O God, wees my genadig, want by U het my siel geskuil, en in die skaduwee van u vleuels sal ek skuil totdat die onheil verbygegaan het.  Ek roep God, die Allerhoogste, aan, God wat dit vir my voleindig.  Hy sal uit die hemel stuur en my verlos terwyl hy wat my vertrap, my smaadheid aandoen.  Sela.  God sal sy goedertierenheid en sy trou stuur.  Ék moet onder leeus lê, wraakgieriges, mensekinders wie se tande spiese en pyle is, en wie se tong ‘n skerp swaard is. Verhef U bo die hemele, O God, u heerlikheid bo die hele aarde!  Hulle het ‘n net gespan vir my voetstappe, hulle het my siel neergebuig; hulle het ‘n kuil voor my gegrawe, hulle val daar binne-in.  Sela.  My hart is gerus, O God, my hart is gerus; ek wil sing en psalmsing.  Waak op, my eer!  Waak op, harp en siter!  Ek wil die dageraad wakker maak!  Ek wil U loof onder die volke, O Here, psalmsing tot u eer onder die nasies.  Want u goedertierenheid is groot tot by die hemele en u trou tot by die wolke.  Verhef U bo die hemele, O God, u heerlikheid bo die hele aarde!” (Psalm 57:1-12).

Osama Bin Laden het vir byna tien jaar weggekruip.  Party beweer dat hy by tye in ‘n grot weggekruip het.  Maar die Amerikaners het hom gevind en doodgeskiet.  Dawid het ook in ‘n grot weggekruip (1 Samuel 22-24).  Maar die Here het hom beskerm en hom uit die hande van Saul gered.  Hy is nie verwoes nie, soos die opskrif van ons Psalm sê.  In hierdie Psalm gee Dawid vyf progressiewe stappe om te wys hoe hy beweeg het van depressie tot dank.

Hy’t opgekyk (v.2-4)

‘n Ryk man kla as ‘n blik baked beans sy hoofmaaltyd is, ‘n arm man is dankbaar.  Die ongelowige dink hy verdien beter en kla oor sy slegte omstandighede.  Die gelowige besef hy verdien erger en bid vir genade.  Ons sien in v.2 hoe Dawid nie vir Saul vra om genadig te wees en sy lewe te spaar nie, maar vir God.  Die uitroep om genade staan in ‘n bevelsvorm.  Die herhaling van sy versoek wys hy’s desperaat (v.2-3).  Hoekom roep Dawid uit?  “…want by U het my siel geskuil, en in die skaduwee van u vleuels sal ek skuil totdat die onheil verbygegaan het.” (v.2).  Hy maak nie aanspraak op God se genade omdat hy dit verdien nie, maar omdat God sy skuiling is.  So kan ons aanspraak maak op God se genade omdat Jesus ons skuiling is – dis as gevolg van Hom wat God ons gebede verhoor.  Dawid se skuiling teen Saul en die woestynson is nie die koelte van die grot nie, maar God (v.2).  In die woorde van ‘n ander Psalm:  “Hy wat in die skuilplek van die Allerhoogste sit, sal vernag in die skaduwee van die Almagtige… Hy sal jou dek met sy vlerke, en onder sy vleuels sal jy skuil; sy trou is ‘n skild en pantser.” (Psalm 91:1, 4).  Salomo het gesê:  “Die Naam van die Here is ‘n sterk toring; die regverdige hardloop daarin en word beskut.” (Spreuke 18:10).  Bo-op die ark in die allerheiligste was daar twee goue gerubs (‘n tipe hemelwese) met uitgespreide vlerke (Eksodus 25:20).  Op die dag van versoening het die hoëpriester bloed onder hierdie vlerke gesprinkel.  En dit is moontlik hierdie vlerke wat die Dawid in gedagte het wanneer hy in vers 2 sê dat hy onder die vlerke van God skuil.  Ons kry ook die idee van kuikens wanneer onder die hen se vlerke skuil wanneer hulle die valk sien.  Dít is hoe ons by God kom skuil en beskut word.  Soos Dawid het Rut in geloof onder Jahwe se vleuels kom koelte vind (Rut 2:12).  Ons moet hierdie voorbeeld volg en onder Jesus se vlerke kom skuil (Matteus 23:37).  As ons so deur geloof na Jesus toe kom sal Hy ons in die koelte van sy tent beskerm vir ewig (Openbaring 7:15).

Die Engel van die Here het vir Manoag belowe dat hy ‘n seun sou hê.  Toe hy besef dis die Here wat hy gesien het, het hy gevrees dat hy sou sterf (Rigters 13:22).  Sy vrou se woorde aan hom was:  “As die Here ons wou laat sterwe, sou Hy nie uit ons hand ‘n brandoffer en ‘n spysoffer aangeneem en ons al hierdie dinge laat sien en ons nou sulke dinge laat hoor het nie.” (Rigters 13:23).  Dawid het ook geweet dat Saul hom nie sou doodmaak nie.  Hy het geglo die storm sou oorwaai (v.2).  God het immers belowe dat hy koning sou wees.    Ook jou storm sal verbygaan.  Die Skrif sê:  “want ‘n oomblik is daar in sy toorn, ‘n lewe in sy goedgunstigheid; saans vernag die geween, maar smôrens is daar gejuig.” (Psalm 30:6).  “Wat buig jy jou neer, O my siel, en is onrustig in my?  Hoop op God; want ek sal Hom nog loof – die verlossing van sy aangesig!” (Psalm 42:6).  Maar daar is ‘n groter ‘verbygaan’ as dié van v.2.  Soos die engel verby die Israeliete se huise gegaan het omdat daar bloed op die deurkosyne was (sien Eksodus 12), so sal God ons verbygaan met sy oordeel omdat Jesus die beker gedrink het wat nie verbygegaan het nie (Matteus 26:39, Romeine 8:1).  Maak dit sin?  Dank Hom daarvoor.

 

Dawid het geglo dat God hoër is as koning Saul; dat Hy die Allerhoogste is (v.3a).  Maar al was God hoog en verhewe kon Dawid sê dat God die beproewing “…vir my voleindig.” (v.3b).  God was met hom.  Hy het geglo God is soewerein.    God sou sy planne vir Dawid vervul (v.3).  Hy het geweet dat die beproewing van God en nie van Saul af kom nie.  Hy het geglo dat sy lyding nie ‘n minuut vroeër kon ophou of langer kon aangaan as wat God besluit nie.  God sou die beproewing vir hom voleindig (v.3).  In Job se woorde:  “Want Hy sal volbring wat oor my besluit is, en baie sulke dinge is daar by Hom.” (Job 23:14).  God se plan vir ons is dat ons soos Jesus word (Romeine 8:29).  En Hy sal selfs lyding gebruik om sy doel te bereik.  Hy werk alles ten goede mee vir ons en is soewerein oor wat met ons gebeur (Romeine 8:28).

Dawid het vas geglo God salsy liefde en trou stuur uit die hemel soos geskenke, kos, en goeie wyn op ‘n pakesel (v.4, Hy sal).  Saul en sy manskappe wou vir Dawid vertrap (v.4).  Die woord kan ook beteken dat hulle gehyg het soos hulle Dawid agterna sit – gehyg soos ‘n donkie op hitte, soos ‘n vrou wat geboorte gee, of soos ‘n slaaf in die warm middagson.  Maar God druk Saul se gesig in die modder en red vir Dawid.  “He will send from heaven and save me; he will put to shame him who tramples on me…” (v.4, ESV).  Moenie self jou vyand probeer beskaam nie.  God sal.  Die wraak kom Hom toe (Romeine 12:19).  God het dit reeds met jou groot vyand, die duiwel gedoen (Kolossense 2:15).  Soos hy uit die hemel gestuur het om vir Dawid te help, het Hy dit met jou gedoen.  Hy het vir Jesus uit die hemel gestuur om jou te red (Johannes 3:16-17).  En as Hy dít gedoen het, sal Hy nie ook hulp stuur uit die hemel om jou deur die beproewing te bring nie?  “Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?”  Sy hulp aan Dawid en aan jou word gedryf deur sy liefde en trou (v.4).

Hy’t omgekyk (v.5)

Suid-Afrikaners is goed bekend met die prentjie in v.5.  Ons weet hoe lyk ‘n swak, ou buffel wat deur leeus omring word.  Dawid het ook baie van leeus geweet.  Hy het teen hulle geveg (1 Samuel 17:36-37).  So was sy vyande:  gevaarlik, dodelik, en vurig.  “Ék moet onder leeus lê, wraakgieriges, mensekinders wie se tande spiese en pyle is, en wie se tong ‘n skerp swaard is.” (v.5).  Verskeie ander verse gebruik dieselfde beelde:  “O God, verbreek hulle tande in hulle mond; slaan die tande van die jong leeus uit, O Here!” (Psalm 58:7).  “wat hulle tong skerp maak soos ‘n swaard, hulle pyl rig – bitter woorde!” (Psalm 64:4).  “Glad is die botterwoorde van sy mond, maar sy hart is oorlog; sy woorde is sagter as olie, maar hulle is ontblote swaarde.” (Psalm 55:22).  “Daar is een wat onverskillig woorde uitspreek soos swaardsteke, maar die tong van die wyse is genesing.” (Spreuke 12:18).  “‘n geslag waarvan die tande swaarde is, waarvan die gebit messe is, om die ellendiges uit die land te verteer en die behoeftiges onder die mensdom uit.” (Proverbs 30:14).  “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind.” (1 Petrus 5:8).  Die duiwel wil ons verslind deur vyande wat ons kritiseer, seermaak, belieg, en belaster.  Maar soos Saul sal sy planne misluk.  Wat waar was van Dawid en Paulus is waar van ons.  “…ek is uit die bek van die leeu verlos.  En die Here sal my verlos van elke bose werk en my red om in sy hemelse koninkryk in te gaan.  Aan Hom die heerlikheid tot in alle ewigheid!  Amen.” (2 Timoteus 4:17b-18).

Hy’t opgekyk (v.6)

‘n Afgetrede predikant het ons vertel van ‘n ouderling wie se vrou gely en gesterf het met kanker.  Hy het vertel hoe hierdie ouderling so nederig en sagmoedig was; hoe hy selfloos en liefdevol was teenoor sy vrou en ander gelowiges.  In sy beproewing het hy ander gelowiges gedien.  Soos hierdie ouderling het Dawid van homself vergeet.  God se eer was vir hom belangriker as sy probleme wat opgelos moes word (v.6).  Sy gesindheid was soos Ester s’n:  “…our affliction is not to be compared with the loss to the king.” (Ester 7:4, ESV).  Dawid aanbid God wat bo die hemele is; God wat ver neersien op die hemele (Psalm 113:6); God wie se helder gewig van heerlikheid die aarde vul (v.6, Jesaja 6:3, Psalm 19:1-7).  Wees soos Dawid.  Vergeet van jouself wanneer jy deur moeilike tye gaan en loof God in die midde van jou beproewing.  Bid tot die Here en versprei die evangelie, sodat sy heerlikheid geken word oor die hele aarde (v.6, Matteus 28:19, Kolossense 1:6, 23).  Jy sal verbaas wees hoe jou depressie opgelos word soos ‘n disprin in water as jy God loof en van jouself vergeet.

Hy’t afgekyk (v.7)

In Dawid se tyd sou jagters ‘n net met blare toegooi, sodat diere salig onbewus was van die gevaar wat op hulle wag.  Jare gelede was daar ‘n TV program genaamd John Ross.  Ek onthou hoe skerp hout pale in ‘n diep gat geplant is om olifante mee te vang.  In v.2 het Dawid illustrasies van ‘n hen se vlerke en ‘n onheilspellende storm gebruik.  In v.5 die illustrasie van ‘n roofdier en nou in v.7 dié van ‘n jagter.  Dawid se vyande wil hom uitvang en doodmaak.  Hulle hou sy elke tree dop en wag dat hy skeeftrap.  Hulle is soos die Fariseërs wat gewag het dat Jesus ‘n verkeerde woord moet so sodat hulle Hom kan doodmaak (Lukas 11:54).  Of soos ‘n grizzly beer op National Geographic kanaal wat ‘n met takbok gejaag het en gewag het dat hy swik en val.  Dawid was depressief hieroor:  “…hulle het my siel neergebuig…” (v.7).  Maar dis nie Dawid wat geval het nie.  “…hulle het ‘n kuil voor my gegrawe, hulle val daar binne-in.” (v.7, sien ook 7:16-17, Spreuke 26:27).  As iemand ‘n ander valslik beskuldig en wil hê hy moet in die moeilikheid kom, sê die Skrif:  “dan moet julle met hom doen soos hy gedink het om met sy broer te doen; so moet jy dan die kwaad uit jou midde uitroei.” (Deuteronomium 19:19).  Dis wat met Haman en Daniël se vyande gebeur het:  “En hulle het Haman opgehang aan die galg wat hy vir Mórdegai opgerig het, en die woede van die koning het bedaar.” (Ester 7:10).  “En die koning het bevel gegee, en hulle het daardie manne gebring wat Daniël aangeklaag het, en hulle, hulle kinders en hulle vroue in die leeukuil gegooi; en hulle het nog nie die bodem van die kuil bereik nie of die leeus het hulle oorweldig en al hulle bene vermorsel.” (Daniël 6:25).  Die goddelose bekruip die regverdige om hom te bespring, maar sien nie dat daar ‘n groter gevaar is wat hóm bekruip.  Dis ironies.  En daarom eindig die vers met die woord sela – ons moet ‘n bietjie stop en daaroor nadink.  Vind troos in hierdie vers en onthou ook die woorde van Paulus in hierdie verband:  “…As God vir ons is, wie kan teen ons wees?” (Romeine 8:31).

Hy’t opgekyk (v.8-12)

‘n Lidmaat van ons gemeente se toon is onlangs afgesit.  Voor die operasie het sy vir twee ure kalm buite die teater gelê en wag.  Toe die dokter haar sienw as hy verbaas dat sy so koel en kalm is.  Sy het geweet die Here is met haar.  [a] Private lof (v.8-9).  Dawid se siel was neergebuig (v.7) maar nou is hy gerus (v.8).  Buite was daar wel onrus maar in sy binneste was hy baie gerus (v.8).  Dawid se herhaling van hierdie woorde beklemtoon hoe kalm hy is.  Paulus en Silas kon in die middel van die nag in die tronk (Handelinge 16:25).  En Dawid kon in sý moeilikheid sing:  “…ek wil sing en psalmsing.” (v.8).  Hy sy eer of hele wese opgeroep tot lof (v.9, 7:6, 16:9).  Dis asof hy sy 10 en 12 snaar musiekinstrumente oproep tot lof tussen die leeus (v.9, Psalm 33:2, <st1:bcv_smarttag>1 Samuel 16:16-17).  Hy is voor die son op om die Here so te loof en te dank (v.9).  As Dawid sê dat hy die oggend sal wakker maak impliseer hy daardeur dat hy weer die lig sal sien en nie sterf nie.  Ons moet so kan wees.  Ons moet die Here loof en dank in ons beproewing (Filippense 4:6).  As ons dít doen sal ons gedagtes nie angstig rondhardloop nie, maar sal ons gevul wees met die vrede van God (Filippense 4:7).

Party mense wonder dalk hoe op aarde dit moontlik is om in die donker nag van beproewing te kan sing.  Jy kan dit net doen as jy ‘n hoë siening van God het.  Dawid het geglo God is genadig (v.2a), liefdevol (v.2b), groot (v.3a), soewerein (v.3b), toornig (v.4a), goed (v.4b, 11b), getrou (v.4b, 11b), verhewe (v.6a, 12a), en roemryk (v.6b, 12b).  Ken God deur die intense bestudering van sy Woord.  Luister baie na Bybelse prediking.  En lees boeke oor die attribute (‘n lelike anglisisme!) van God.  J.I. Packer se Knowing God is ‘n goeie begin (ook beskikbaar in Afrikaans onder die titel Om God te ken).

Bethlehem Baptist Church (waarvan John Piper die leraar was) sê hulle bestaan “to spread a passion for the supremacy of God in all things for the joy of all peoples through Jesus Christ.” [b] Publieke lof (v.10-12).  Dawid sê hy sal die Here loof voor die volk (v.10a).  Dit sal gebeur wanneer hy koning is.  Hy sal God loof onder die nasies (v.10b).  Al die volke het geweet dat sy God hom uit die hand van Saul verlos het.  Ons ook.  Die Skrif het voorspel dat daar aanbidding onder die heidene sou wees, en deur Jesus se dood is daar baie verloste heidene wat vir Jahwe loof (Psalm 18:49, Romeine 15:9).

Waarom wil Dawid die Here in sy binnekamer en voor die volk loof?  “Want u goedertierenheid is groot tot by die hemele en u trou tot by die wolke.” (v.11).  God het belowe dat Dawid koning sou word (1 Samuel 16:1).  Sy trou is hoër as die wolke en sou in die vervulling van sy beloftes bewys word.  Was God getrou aan sy beloftes in 2012?  Hy was.  Hy het ons sake ten goede meegewerk (Romeine 8:28).  Hy het ten minste een persoon wat tot Hom geroep het gered (Romeine 10:13).  Hy het wysheid gegee aan sommige wat in moeilike situasies was (Jakobus 1:5).  Hy het siekes genees (Psalm 41:4).  Hy het mense deur diep waters gelei en hulle beskerm (Jesaja 43:2).  Hy het sondes vergewe (1 Johannes 1:9).  Hy het mense in die waarheid van sy Woord gelei (Johannes 16:13).  En so kan jy baie ander vervulde beloftes opnoem.  Dank Hom ‘voor die volk’; in die gemeente (v.10).  Moenie wegbly van gelowige byeenkomste wanneer jy swaarkry of as God jou uithelp nie.  Dit is juis die tyd wanneer jy níé moet wegbly nie.  En wanneer jy by hierdie samekomste bid en aanbid moet jy nie mens-gesentreerd wees of ‘klein’ gebede bid nie.  Dink groot.  Bid groot.  Dank groot.  “Verhef U bo die hemele, o God, u heerlikheid bo die hele aarde!” (v.12).  Moenie net bid vir jou hond wat siek is nie, maar bid dat God se Naam geheilig word, dat sy Koninkryk sal kom, en dat sy wil geskied (Matteus 6:9-10).

 

Op ‘n troukaartjie het ‘n familielid vir ons geskryf:  “It is not the direction of the wind that matters, but the way you set the sails.”  Deur anders te dink soos Dawid verander alles al bly jou omstandighede dieselfde.

Advertisements