Hoe lank moet ‘n mens bid?

Alarm clock

“En as julle bid, gebruik nie ‘n ydele herhaling van woorde soos die heidene nie, want hulle dink dat hulle deur hul baie woorde verhoor sal word.  Moet dan nie soos hulle word nie, want jul Vader weet wat julle nodig het voordat julle Hom vra.” (Matteus 6:7-8).

 

Oor die kerstyd het my broer-hulle by ons oorgebly.  Sy 16-maande oue dogter het in die gang geloop en babbel.  “Wat sê sy?”, het my vrou gevra.  “Ek weet nie – ek verstaan haar nie”, het ek geantwoord.  Om te bid met ‘n ydele herhaling van woorde te bid beteken letterlik om te babbel, onduidelik te praat, sinnelose klanke te uiter, oor jou woorde te struikel, en dieselfde woorde te herhaal.  Die heidene bid so (v.7).  Ons sien dit vandag nog in sekere heidense godsdienste wat ekstaties raak en in tale praat – heel dikwels geluide wat hulleself nie verstaan nie.  In 1 Konings 18:26 het die Baäl aanbidders van vroegoggend tot die middag geroep:  “O Baäl, antwoord ons!”  Hulle het gehoop die baie woorde wen die guns van hulle god.  Hindoes kerm aanhoudend in hulle mantras.  Monikke uit die Buddhiste (Tibet monikke) en Katolieke geloof chant en voel meer geestelik daardeur.  Hulle glo dat hulle daardeur in dieper kontak met die geestelik realm kom.  Selfs onder Christene is daar dié wat verkeerdeliks glo dat ‘n aanhoudende herhaling van sekere woorde (ook in lofliedere) hul geestelik sal instem.  Moskees het ‘n toring waaruit ‘n persoon vyf keer per dag aankondig dat die Moslems moet bid.  Hulle vas ook jaarliks vir ‘n volle maand (Ramadan).  Doen hulle dit sodat hulle ‘n beter kans het om verhoor te word?  Mense wat yoga uiter dikwels ‘n sinnelose hmmmm….

Hoekom bid die heidene verkeerd?  Want hulle het ‘n vals god en ken nie die ware God nie.  Hoekom bid Christene soms verkeerd?  Ons bid verkeerd omdat ons verkeerd dink oor God.  As jy glo God gee nie om nie en wil jou nie help nie, sal jy wetties raak en dink dat jy deur baie woorde sy guns kan wen.  Dis byna soos Martin Luther wat voor sy bekering vir ‘n hele nag lank op ‘n koue vloer gelê het in die hoop dat hy God se guns sal wen.  In Luther se tyd het die Katolieke op hulle knieë teen St. Peter’s Katedraal se trappe uitgeklim, omdat hulle geglo het dat God hulle opoffering sal raaksien en guns bewys.  Ek het gesien hoe ‘n Buddhis na ‘n tempel toe opgaan.  Hy het elke paar tree op die pad gaan lê om guns te wen.

As jy heidens glo sal jy heidens bid.  Omdat jy dink God weet nie wat jy gaan vra nie, sal jy Hom deur jou gebede probeer inlig:  “Here, vandag het ek Checkers toe gery en besef dat my geld vir die maand klaar is.  Sal U asseblief vir my geld voorsien?” (sien v.8).  Jy sal onnodig herhalend wees in jou gebede, babbel, en sinnelose dinge sê.  Maniere waarop Christene vandag deur ‘n ydelike herhaling van woorde bid sluit die volgende in:

  • Bid in tale sonder dat daar ‘n uitleg is (1 Korintiërs 14:13-19).
  • Tale wat sommer opgemaak is en niks beteken nie.
  • Ondeurdagte rympies voordat jy eet of in die bed klim.
  • Die Onse Vader wat woordeliks as ‘n towerformule opgesê word, of herhaal word sonder dat jy dink wat dit beteken.
  • Om aanhoudend God se Naam te sê sonder om te dink wat jy sê:  “Here, ek bid vir U hulp in vandag se vergadering HereHere, ek bid dat my ma beter sal word HereHere, Here moet my asseblief krag gee vir die eksamen Here….”
  • Om ‘n geskrewe gebed te lees sonder om te dink wat jy bid (geskrewe gebede insigself is nie noodwendig sleg nie, maar dink asseblief wat jy bid).
  • ‘n Stereotipe begin en einde tot jou gebede, sodat jy nie eers meer agterkom jy sê dit nie:  “Here, baie dankie vir hierdie dag… …Ons bid dit nie uit verdienste nie, maar uit genade alleen; met danksegging.  In Jesus’ Naam.  Amen.”

In die begin het die Heilige Gees orde uit chaos geskep (Genesis 1:1-3).  So kan Hy ook in die heiden se hart doen.  En as Hy die heiden se hart verander het deur die evangelie, dan sal daar orde in sy woorde en gebede wees, want wat die hart van vol is (orde of chaos) loop die mond van oor (sien Matteus 12:34).

Baie landsburgers kla oor die traagheid van staatsdienswerkers.  Jy kan vir drie ure in die ry sit, en as jy om 11:59 by die kassiere kom, dan maak hulle die venstertjie toe.  “Hoekom!?”, wonder jy in frustrasie.  “Want dis etensuur”, sê hulle.  Die heiden is so wanneer dit by gebed kom.  Hy is oortuig dat sy god hom hoor as gevolg van sy baie woorde (v.7).  Daarom hou hy die horlosie dop en stop hy as die uur slaan.  “Ek het die reël nagekom en presies vir ‘n uur gebid – nou sal my god my antwoord”, dink hy.  Enige wettiese persoon is so.  Hy gee nie om oor ‘n verhouding met die Here nie, maar bid om die tyd vol te maak (sien Lukas 20:47).

Dis belangrik om gou hier te sê:  Jesus is nie teen lang gebede nie.  Hy self het dikwels lank gebid (Lukas 6:12).  Waarteen Jesus hier waarsku is om te dink dat lang gebede meer guns by God wen as kortes (v.7).  Die Onse Vader self is ‘n kort gebed.  Ons sal goed doen om die woorde van die wyses in ag te neem en dit op gebed toe te pas:  “By veelheid van woorde ontbreek die oortreding nie; maar hy wat sy lippe inhou, handel verstandig.” (Spreuke 10:19).  “Wees nie haastig met jou mond nie, en laat jou hart nie gou ‘n woord uitbring voor die aangesig van God nie; want God is in die hemel, en jy op die aarde.  Daarom moet jou woorde min wees.” (Prediker 5:1).  Die Bybel gee nooit vir die ons die idee dat God ons op grond van ons baie woorde verhoor nie.  Die Skrif leer eerder dat God ons verhoor op grond van Jesus se lewe en dood.  God antwoord ons as ons deur geloof in Jesus na Hom toe kom.  Hy antwoord wanneer ons opreg bid.  Hy antwoord wanneer ons op Hom vertrou.  Die volgende verse in Hebreërs bevestig dit:

“Terwyl ons dan ‘n groot Hoëpriester het wat deur die hemele deurgegaan het, naamlik Jesus, die Seun van God, laat ons die belydenis vashou.  Want ons het nie ‘n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde.  Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.” (4:14-16).

Hy wat in die dae van sy vlees gebede en smekinge met sterk geroep en trane aan Hóm geoffer het wat Hom uit die dood kon red, en ook verhoor is uit die angs” (5:7).

“Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree.” (7:25).

 “En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek.” (11:6).

Daar is kere wat ons ander mense of ons eie kinders se nood raaksien voordat hulle vra.  God ken almal se nood volmaak voordat hulle vra (Grieks perfektum aktief).  Jesus sê:  “…jul Vader weet wat julle nodig het voordat julle Hom vra.” (v.8).  En weer:  “…julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het.” (v.32).  Dawid het gesê:  “Here, voor U is al my begeertes, en my gesug is vir U nie verborge nie.” (Psalm 38:10).  Wanneer Jesaja van die nuwe hemel en nuwe aarde praat sê hy:  “En voordat hulle roep, sal Ek antwoord; terwyl hulle nog spreek, verhoor Ek.” (Jesaja 65:24).  Afgode is dood en kan nie vir jou sorg nie.  Jou Vader ken jou nood, is lief vir jou, en voorsien in al jou behoeftes (v.8, 26, 30).

 

Nou vra iemand:  as God reeds my behoeftes ken, hoekom moet ek bid?  Psalm 86:1 sê vir ons hoekom:  “…want ek is ellendig en behoeftig.”  Die feit dat God almagtig en soewerein is ontmoedig ons nie om te bid nie, maar is juis ‘n aanmoediging daartoe.  Moenie sê:  “God kan alles doen en weet reeds wat ek nodig het; daarom hoef ek nie te bid nie.”  Sê eerder:  “God kan alles doen en weet alles.  Moenie op jouself vertrou nie, maar vra Hom vir wat jy nodig het.”  Dieselfde prinsiep geld met uitverkiesing en gebed.  Moenie sê:  “God sal mense red wie Hý wil en daarom hoef ek nie te bid nie.”  Maar sê:  “God alleen kan ‘n sondaar se hart verander, en daarom gaan ek vir Hóm vra om my geliefdes te red.”  Jy bid nie tot ‘n afgod nie.  Jy bid tot jou Vader.  Bid daarom soos een van sy geliefde kinders en nie soos ‘n vreesbevange heiden nie.

Advertisements

Hoe moet ‘n mens bid (jou motiewe)?

Hypocrite praying“En wanneer jy bid, moet jy nie wees soos die geveinsdes nie; want hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die hoeke van die strate te staan en bid, om deur die mense gesien te word.  Voorwaar Ek sê vir julle dat hulle hul loon weg het.  Maar jy, wanneer jy bid, gaan in jou binnekamer, sluit jou deur en bid jou Vader wat in die verborgene is; en jou Vader wat in die verborgene sien, sal jou in die openbaar vergelde.” (Matteus 6:5-6).

 

Kinders praat soms so van akteurs:  “In die regte lewe is hy…”  Wanneer Jesus in verse 5, 2, 16 van skynheiliges praat, gebruik Hy ‘n wooord wat letterlik akteur of toneelspeler beteken.  Die skynheilige is nie uiterlik dieselfde persoon as wat hy innerlik (‘in die regte lewe’) is nie.  Hy bid omdat hy homself liefhet en mense se guns wil wen; nie omdat hy God liefhet en sy goedkeuring soek nie (v.5-6).  Hy oortuig homself dat hy God aanbid, maar inderwaarheid aanbid hy homself.  In die sinagoge (die Joodse plek van aanbidding) lei hy van tyd tot tyd die gebed (v.5).  Ook daar soek hy applous en bid hy om ‘n effek op die gehoor uit te oefen.  Wanneer iemand hom komplementeer sê hy, ‘Prys die Here’, maar eintlik hoop hy in sy hart dat nog mense hom gelukwens.  Die skynheilige bid ook op die straathoek.  Dáár is meer verkeer as in die systrate.  By die Jode se publieke vasdae of tydens die aandoffer sou ‘n trompet blaas om die tyd van gebed aan te dui.  Party mense sou net daar en dan na die tempel toe draai om te bid.  Die versoeking het gekom om ander te probeer beïndruk.

Jesus vertel ‘n gelykenis van ‘n Fariseër en ‘n tollenaar wat in die tempel gaan bid het.  “En die Fariseër het gaan staan en by homself so gebid:  O God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is nie – rowers, onregverdiges, egbrekers, of ook soos hierdie tollenaar nie.  Ek vas twee keer in die week, ek gee tiendes van alles wat ek verkry.” (Lukas 18:11-12).  ‘n Leier van ‘n ander gemeente se vrou het eenkeer by my gekla:  “Hy is ‘n leier in die kerk, maar lees nooit sy Bybel nie.  Hy sit in die oggende en koerant lees voor hy werk toe gaan.”  Ek het al gehoor hoe hierdie man in die openbaar bid.  ‘n Ander persoon het vertel van ‘n familielid wat ‘n skynheilige Fariseër is:  “Wanneer ander mense of die predikant daar is, is hy baie godsdienstig.  Hy open die dag met sy werkers in gebed.  Hy bid saam met sy gesin en ander.  Hy is elke Sondag by die kerk en is ‘n gesiene man.  Maar wanneer hy by die huis en die werk is, is hy ‘n duiwel.  Sy werkers op wie hy alewig skreeu ken hom vir wie hy werklik is.  Hy is ‘n harde man.”  Ek was by ‘n kerkkamp waar ‘n ou oom sy kamer deur half-oop gelos het, by sy bed gekniel het, en hardop gebid het dat die Here vir hom geld sal voorsien.  Alfred Edersheim vertel van ‘n sekere Rabbi Jannai wat elke twee meter gestop het om by sy gebede te voeg (The Life and Times of Jesus the Messiah; p.857).

Die illustrasies hierbo beskryf die skynheilige.  Die skynheilige bid by die gebedstent, die gebedsbyeenkoms by die stadion, die biduur, die erediens, voor hy eet, wanneer die dominee besoek, tydens huisgodsdiens (as hy ‘n tradisionele kerkmens is), by die werksvergadering (om te wys hy’s godsdienstig), tydens Christelike feesdae soos kersfees en paasfees, en om sy Christen gaste te beïndruk.  Hy is nie veel beter as die Moslems wat in publieke plekke hul matjie sal uitrol, na Mecca toe draai, en hul gebede opsê nie.  Hoe is die skynheilige nou juis anders as die Shembe godsdiens wat in volle sig van die samelewing onder die bome ‘kerk hou’?

Die skynheilige bid nooit waar ander nie weet hy bid nie.  Dalk sal hy tot die Here roep as hy in die moeilikheid is, maar dis al.  Hy sal selfs sy kamerdeur toemaak om te bid wanneer ander hom sien.  Hy hoop hulle dink:  “Sjoe, hy is darem ‘n man van gebed.”  Dit laat my dink aan die predikant wat elke oggend 05:00 sy studeerkamer lig aangesit het en weer in die bed geklim het.  Hy wou hê die gemeentelede wat verby ry moes dink hy hou stiltetyd.  John Owen het gesê:  “What a man is on his knees before God in private, that he is and nothing more.”  Maar die skynheilige sien dit nie so nie.  Hy dagdroom oor hoe mense sy lof besing by sy begrafnis; oor hoe almal praat van sy poëtiese en elegante gebede.

Jesus sê die skynheilige sal sy beloning kry; mense sal hom prys.  Maar dis al wat hy sal kry.  Hy het sy volle loon ontvang en sal geen beloning by God kry nie (v.5, 1-2, 16).  Pasop dan vir die versoeking om mense te beïndruk as jy gevra word om in die kerk te lees, te bid, of te preek.  Om hierdie sonde te oorkom moet jy in geloof na die kruis toe kom.  Bely jou sonde en bekeer jou daarvan.  Bid meer in jou binnekamer as in die openbaar.  Beplan hoe, waar, en wanneer jy alleen sal begin bid.  En as jy dít gedoen het kan jy boeke en preke oor gebed begin lees en luister.  Hoekom dié volgorde?  Want jy leer nie primêr om te bid deur boeke te lees nie, maar deur te bid.

Ek onthou dat wyle dr. Martin Holdt selde ‘n kamer met ander gedeel het by konferensies.  Hy het vroeg opgestaan om te bid en wou nie ander steur nie.  Ek is seker dat hy Matteus 6:5-6 wou toepas.  Hy was soos Elisa wat kamerdeur toegemaak het om te bid (2 Konings 4:33).  Ons moet ook so bid (v.6).  Jesus sê nie ‘As julle bid nie’, maar ‘Wanneer julle bid’.  Jesus verwag dat sy dissipels sal bid.  Die opdrag om in jou kamer te bid (v.6) beteken nie dat Jesus teen bidure is nie (sien Handelinge 1:14, 1 Timoteus 2:8).  Die verbod is eerder teen sondige motiewe.  “Moenie hoop mense sien jou raak en besing jou lof nie” – dís wat Jesus sê.

Hier is dan elf voorstelle van hoe jy v.6 kan toepas:  Sluit jou deur.  Bid as ander slaap.  Bid in ‘n stil kamer.  Sit en bid in jou hangkas.  Klim in ‘n boom.  Sit of staan in ‘n stil hoek.  Loop buite in die tuin (buite die sig van ander).  Bid in ‘n buite gebou of kamer.  Ry vroeër werk toe om dáár te bid.  Gaan stap en praat saggies met die Here.  Bid in jou kar.  Jesus het só gebid.  “En vroeg in die môre, nog diep in die nag, het Hy opgestaan en uitgegaan en na ‘n eensame plek vertrek en daar gebid.” (Markus 1:35).  “Maar Hy het Hom in verlate plekke teruggetrek en gebid.” (Lukas 5:16).  As jy soos Jesus wil wees moet jy in geloof na Hom kyk en Hom gehoorsaam – so sal jy na sy beeld verander word (2 Korintiërs 3:18, 1 Johannes 2:6).

Ek onthou as kind hoe my ouers se goedkeuring belonend was, en hoe hul teenkanting vir my ‘n straf was.  “Doen wat jy wil!” was nie iets wat ek graag wou hoor nie.  God is in die geheim; Hy is daar waar ons bid (v.6).  En Hy sien in die geheim; Hy ken ons motiewe.  Wanneer niemand anders ons sien bid nie, sien Hy.  As jy met verkeerde motiewe voor almal bid mag húlle jou dalk beloon.  Maar wanneer jy in die geheim bid sal God jou beloon en oor jou glimlag.  Jy dra sy goedkeuring weg, en dit behoort vir ons ‘n groot genoeg beloning te wees.  Maar daar is nog ‘n beloning.  God sal ons gebede beantwoord.  En op die oordeelsdag sal Hy ons vir hierdie eerbare motiewe beloon.  “in die dag wanneer God die verborge dinge van die mense deur Jesus Christus sal oordeel, volgens my evangelie.” (Romeine 2:16).  “Daarom moet julle nie voor die tyd oordeel, voordat die Here kom nie, wat die verborge dinge van die duisternis in die lig sal bring en die bedoelinge van die harte openbaar sal maak; en dan sal elkeen lof van God ontvang.” (1 Korintiërs 4:5).  Laat die belofte van Hebreërs 11:6 ‘n wortel voor die neus van jou gebede wees:  “…hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek.”  God is meer begerig dat jy na Hom toe sal kom as wat jy is om te kom; Hy is meer ywerig om jou te beloon as wat jy is om beloon te word.

Die Tyrannosaurus Rex van Kersfees

T-Rex Christmas

“En ná die dood van Herodes het daar ‘n engel van die Here in ‘n droom aan Josef in Egipte verskyn en gesê:  Staan op, neem die Kindjie en sy moeder, en gaan na die land van Israel; want hulle is dood wat die lewe van die Kindjie gesoek het.  En hy het opgestaan, die Kindjie en sy moeder geneem en in die land van Israel gekom.  Maar toe hy hoor dat Archeláüs oor Judéa koning was in die plek van sy vader Herodes, was hy bevrees om daarheen te gaan.  En hy het ‘n goddelike waarskuwing in ‘n droom ontvang en na die streke van Galiléa teruggekeer.  En hy het gaan woon in ‘n stad met die naam van Násaret, sodat vervul sou word wat deur die profete gespreek is, dat Hy Nasaréner genoem sou word.” (Matteus 2:19-23).

 

Daar is seker nie ‘n leser wat nie weet dat Tyrannosaurus Rex ‘n vleisetende dinausorus was nie – ‘n baie groot en wrede een.  En sekerlik weet selfs die oningeligte lesers dat hierdie uitgesterf het.  Herodes die Grote was ‘n tiran (klink byna soos Tyrannosaurus) wat baie mense doodgemaak het.  Hy was die koning (Latyn Rex)van die Jode.  En soos Tyrannosaurus Rex is koning Herodes nie meer nie.  Maar die ware Koning van die Jode bestaan vir ewig – Jesus Christus.

 

Die Franse filosoof en ateïs, Voltaire (1694-1778), het gesê:  “One hundred years from my day there will not be a Bible in the earth except one that is looked upon by an antiquarian curiosity seeker.”  Waar is Voltaire vandag?  Nêrens.  En die Bybel?  Oral.  Herodes was op sy sterfbed toe hy 70 was.  Kort voor sy dood het hy ‘n appel gesny en besluit om homself dood te maak met die mes.  ‘n Familielid het dit gesien en hom gekeer.  Hy het vreeslik gely sere en swere in sy ingewande.  Hy het gedurig stuiptrekkings gekry.  Hy het geweet dat die Jode hom gehaat het en sou jubel as hy dood is.  Daarom het hy beveel dat al die hoofde van die Joodse volk na hom toe moes kom.  Hy het hulle in die tronk gestop.  Hy het vir suster Salome opdrag gegee om die leiers te vermoor by sy dood, sodat die Joodse volk nie sou jubel by sy dood nie, maar sou treur.  Na sy dood egter kon die opdrag nie uitgevoer word nie.  Die Herodes wat vir Jesus wou doodmaak het nou self gesterf (v.19-20).  Herodes se liggaam is in pers toegedraai.  ‘n Goue kroon is op sy kop gesit en ‘n goue septer in sy hand.  Die lykbaar waarop sy liggaam neergelê is was van soliede goud.  Dit was uitgelê met edelstene.  500 slawe het parfuum voor die lykbaar gedra (bogenoemde inligting uit Hendriksen, W.; Matthew:  New Testament Commentary; The Banner of Truth Trust; EDINBURGH; 1971; p.185-186).

Die bekende Britse wetenskaplike en ateïs, Richard Dawkins, sê in sy boek, The God Delusion, dat dit gevaarlik is om in God te glo.  Maar soos Herodes, Voltaire, en ander vyande van die Christelke geloof, sal Dawkins en sy boek vergaan.  God en sy Woord, sy raadsplanne en sy volk sal bly staan.  Die Bybel beskryf dit so:

God bestaan vir ewig; ons vergaan.  “…Here, U was vir ons ‘n toevlug van geslag tot geslag.  Voordat die berge gebore was en U die aarde en die wêreld voortgebring het, ja, van ewigheid tot ewigheid is U God.  U laat die mens terugkeer tot stof en sê:  Keer terug, o mensekinders!  Want duisend jaar is in u oë soos die dag van gister as dit verbyskiet, en soos ‘n nagwaak.  Weggespoel het U hulle; hulle word ‘n slaap; in die môre is hulle soos die gras wat weer uitspruit:  in die môre bloei dit en spruit weer uit; in die aand sny ‘n mens dit af, en dit verdor.  Want ons vergaan deur u toorn, en deur u grimmigheid word ons verskrik.  U stel ons ongeregtighede voor U, ons verborge sondes in die lig van u aangesig.  Want al ons dae gaan verby deur u grimmigheid, ons bring ons jare deur soos ‘n gedagte.  Die dae van ons jare – daarin is sewentig jaar, of as ons baie sterk is, tagtig jaar; en die uitnemendste daarvan is moeite en verdriet; want gou gaan dit verby, en ons vlieg daarheen.  Wie ken die sterkte van u toorn en u grimmigheid, ooreenkomstig die vrees wat aan U verskuldig is?  Leer ons om ons dae so te tel dat ons ‘n wyse hart mag bekom!” (Psalm 90:1-12).

Ons planne smelt soos ys; God se planne staan vas.  “Baie planne is in ‘n man se hart, maar die raad van die Here, dié sal bestaan.” (Spreuke 19:21).

Ons lewe is soos blomme en gras wat verlep en verdroog.  God se Woord staan rotsvas.  “Die gras verdor, die blom verwelk; maar die woord van onse God hou stand in ewigheid.” (Jesaja 40:8).

God se kinders is met Jesus verenig en is onsterflik.  “En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie.” (Johannes 10:28).  “Jesus sê vir haar:  Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe; en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie.  Glo jy dit?” (Johannes 11:25-26).

Deur die geskiedenis het God die verspreide Jode terug gebring na hulle land toe.  Hy het dit ook in 1947 gedoen voordat die volk in 1948 onafhanklikheid verkry het (ongeag van wat jy oor die eindtyd glo – as jy in die soewereiniteit van God glo moet jy glo dat God in hierdie werk betrokke was).  God vir Josef in ‘n droom gesê om terug te gaan Israel toe.  Net soos God sy eersgebore seun Israel (Hosea 11:1, Eksodus 4:22-23) na die Beloofde Land toe gelei het, het Hy nou sy eersgebore Seun Jesus teruggebring Israel toe (v.15, 20-21).

By sy dood het Herodes die ryk tussen sy drie seuns verdeel.  Herodes Antipas was viervors van Galilea, en Herodes Filippus I was viervors van Iturea en die land Trachonítus (Lukas 3:1).  Archelaüs het regeer oor Judea (v.22).  Toe Josef dit gehoor het was hy bang (v.22).  Hoekom?  ‘n Bietjie agtergrond sal dit duidelik maak.  Voor sy dood het Herodes ‘n goue arend bo die groot tempelpoort opgerig.  Die Jode was onstuimig hieroor.  Die tweede gebod leer immers dat jy geen afbeelding van die skepping moet maak om dit te aanbid nie (Eksodus 20:4).  Verder was hulle woede gestook omdat die arend ‘n simbool van Rome was (vir húlle was die arend baie nou verbind aan die oppergod Zeus).  Twee van die Jode se leiers, Mattias en Judas, het hulle studente beveel om die arend af te breek.  Die leiers en hulle leerlinge is gearresteer.  Nadat Herodes hulle skuldig bevind het is die leiers lewendig verbrand.  Ná Herodes se dood het Jode tydens die pasga in Jerusalem opstandig geraak oor hierdie insident.  Archelaüs het spoedig gereageer teen die opstand en 3000 Jode in Jerusalem vermoor (uit Hendriksen, p.187-188 en Edersheim, A.; The Life and Times of Jesus the Messiah; Grand Rapids; MICHIGAN; 1953; p.634).

Die Bybel sê jy kan vlug wanneer daar vervolging is.  Dis reg om soos Josef aan te beweeg wanneer jou geliefdes se lewens bedreig word (v.22-23, 10:23).  Maar dit is ook belangrik dat jy weet God is soewerein oor die land se owerhede.  “Hy tog verander die tye en die geleenthede; Hy sit konings af en stel konings aan…” (Daniël 2:21).  Nebukadnesar se belydenis was:

“En ná verloop van tyd het ek, Nebukadnésar, my oë na die hemel opgeslaan, en my verstand het in my teruggekeer, en ek het die Allerhoogste geloof en Hom wat ewig lewe, geprys en geëer, wie se heerskappy ‘n ewige mag en wie se koningskap van geslag tot geslag is.  En al die aardbewoners word as niks geag nie, en na sy wil handel Hy met die leër van die hemel en die bewoners van die aarde, en daar is niemand wat sy hand kan afslaan en vir Hom kan sê:  Wat doen U nie?  In dié tyd het my verstand in my teruggekeer; en wat die eer van my koningskap betref – my majesteit en my glans het in my teruggekeer, en my raadsmanne en my maghebbers het my opgesoek; en ek is in my koningskap herstel, en buitengewone grootheid is my toegevoeg.  Nou prys ek, Nebukadnésar, en ek roem en eer die Koning van die hemel:  al sy werke is waarheid en sy paaie is reg, en Hy kan verneder die wat in hulle trotsheid wandel.” (Daniël 4:34-37). 

Johannes eggo hierdie belydenis:  “En Pilatus sê vir Hom:  Praat U nie met my nie?  Weet U nie dat ek mag het om U te kruisig en mag het om U los te laat nie?  Jesus antwoord:  U sou geen mag teen My hê as dit u nie van bo gegee was nie.  Daarom het hy wat My aan u oorlewer, groter sonde.” (Johannes 19:10-11).  Romeine 13:1 sê “…daar is geen mag behalwe van God nie, en die wat daar is, is deur God ingestel”.  Jacob Zuma, Robert Mugabe, en Barak Obama is deur God aangestel.  Saam met Herodes en Archelaüs sal hulle soos vlieë sterf.  Jesus sal sy vyande oorwin.  Hy sal nooit sterf nie en vir ewig regeer.  “omdat ons weet dat Christus, nadat Hy opgewek is uit die dode, nie meer sterf nie.  Die dood heers oor Hom nie meer nie.” (Romeine 6:9).  Jesus se koningskap duur vir ewig en sy ryk sal strek van see tot see (sien Psalm 72).  Hy het en sal elke koninkryk tot stof vernietig, sodat sy ryk alleen op die laaste dag sal staan (sien Daniël 2).  Hy is die Koning van die konings en die Here van die here.

Hierdie waarhede moet ons dryf om meer gereeld Matteus 6:10a te bid:  “laat u koninkryk kom…”.  Ons moet bid dat sy Koninkryk in ons kom:  Hy moet oor ons harte heers en sonde in die nek slaan.  Bid:  “Laat u Koninkryk onder ons kom.”  Dit is ‘n gebed vir die herlewing van die kerk en vir elke gelowige om in gehoorsaamheid te onderwerp aan Koning Jesus.  Bid dat sy Koninkryk deur ons kom:  die evangelie moet deur ons na die nasies toe versprei.  Jesus se Koninkryk moet vir ons kom.  Ons verlange na ‘n nuwe aarde waarin reg en geregtigheid woon is veels te flou.  Ons moet meer daarvoor bid.

God bepaal of jy in Kempton Park of Kakamas woon; in Suid-Afrika of Sri Lanka.  “…terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het” (Handelinge 17:26).  “Kom nou, julle wat sê:  Vandag of môre sal ons na dié en dié stad gaan en daar een jaar deurbring en handel drywe en wins maak…In plaas dat julle sê:  As die Here wil en ons lewe, dan sal ons dit of dat doen.” (Jakobus 4:13, 15).  Josef en Maria het wel voorheen in Nasaret gebly (Lukas 1:26, 2:4), maar dit was om die Skrif te vervul dat God toegesien het dat Jesus daar bly (sien ook Lukas 4:16).  Ons teks sê:  “En hy het gaan woon in ‘n stad met die naam van Násaret, sodat vervul sou word wat deur die profete gespreek is, dat Hy Nasaréner genoem sou word.” (v.23).  Met die ballingskap na Assirië toe was Galilea in duisternis.  Die profete het voorspel dat die lig weer daar sou skyn.  Met Jesus se inwoning in Galilea is hierdie profesie vervul (sien Matteus 4:14-16.  In hierdie verse skryf Matteus wel in ‘n ander konteks, maar die waarheid geld ook vir die teks voor ons).

God Archelaüs se diktatorskap en Josef se vrees gebruik om sy plan tot vervulling te bring:  Jesus moes in Nasaret, Galilea woon (v.22-23).  Wanneer Matteus praat van die profete wat gesê het “…dat Hy Nasarener genoem sou word” (v.23), het hy nie noodwendig een spesifieke vers in gedagte nie.  Jesaja 11:1 praat van die Messias as die loot uit die stomp van Isai.  Die Hebreeuse woord vir ‘loot’ is nêtser en mag dalk effens soos Nasarener klink.  Maar ‘n meer gepaste is dat die Jode dikwels neerhalend gepraat het wanneer hulle iemand ‘n Nasarener noem.  “En Natánael sê vir hom:  Kan daar uit Násaret iets goeds wees?  Filippus antwoord hom:  Kom kyk.” (Johannes 1:47).  “Hulle antwoord en sê vir hom:  Jy is tog nie ook uit Galiléa nie?  Ondersoek en sien dat daar geen profeet uit Galiléa opgestaan het nie.” (Johannes 7:52).  “Want ons het gevind dat hierdie man [Paulus] ‘n pes is en ‘n verwekker van oproer onder al die Jode in die wêreld en ‘n voorman van die sekte van die Nasaréners” (Handelinge 24:5).  Matteus verwys dus na die profetiese geskrifte waarin voorspel word dat mense met veragting van Jesus sou praat.  Die bekendste van hierdie voorspellings is Jesaja 53:2-4:  “Hy tog het soos ‘n loot voor sy aangesig opgespruit en soos ‘n wortel uit droë grond.  Hy het geen gestalte of heerlikheid gehad, dat ons Hom sou aansien nie, en geen voorkoms, dat ons Hom sou begeer nie.  Hy was verag en deur die mense verlaat, ‘n man van smarte en bekend met krankheid; ja, soos een vir wie ‘n mens sy gelaat verberg; Hy was verag en ons het Hom nie geag nie.  Nogtans het Hy óns krankhede op Hom geneem, en óns smarte – dié het Hy gedra; maar óns het Hom gehou vir een wat geplaag, deur God geslaan en verdruk was.”

Deur die geskiedenis het God swakheid gebruik.  Abraham was oud toe hy die pa geword het van Isak.  Jakob was die jongste broer en is deur God gekies.  Josef was die jongste van tien broers, maar het ‘n leier in Egipte geword en baie lewens gered van die honger.  Moses het gehakkel maar het ‘n groot leier geword.  Israel het gegroei van ‘n individu tot ‘n groot volk wat onstuitbaar was.  Rut was ‘n Moabietiese weduwee, maar uit haar nageslag is Jesus gebore.  Dawid was ‘n jong skaapwagter en die jongste van agt broers.  Hy het die magtigste koning van Israel geword en ‘n reus verslaan.  Jeremia was te jonk om ‘n profeet te wees, maar hy was een van die grootste profete in Israel.  Daniël was ‘n tiener, maar is deur God gebruik in die Babiloniese en Persiese ryke.  Amos was ‘n beesboer wat ‘n magtige profeet geword het.  Maria was ‘n jong en arm meisie.  Sy het die moeder van God se Seun geword.  Baie van die dissipels was vissermanne en een ‘n tollenaar.  God het hulle gebruik om die Nuwe Testament te skryf.

Richard Dawkins (die ateïs waarna ek vroeër verwys het) verstaan nie hoekom God mens sou word om vir ons sondes te sterf nie.  “Kon Hy nie net die mens se sondes wegneem nie?”, vra hy in ‘n debat met John Lennox.  Hy verstaan duidelik nie 1 Korintiërs 1:18-31 nie:  God gebruik juis swak mense en metodes, sodat niemand kan roem of sê dat die mens deur sy eie wysheid die evangelie boodskap uitgedink het nie.  God gebruik ‘n swak kruisboodskap en Verlosser om mense soos Richard Dawkins se ‘wysheid’ te vernietig.  ‘n Musikant wat ‘n meesterstuk op ‘n gebreekte viool speel kry groter eer as een wat dit op die beste viool speel.  Iemand wat sterk is se krag word beter gesien as hy ‘n groot boom met ‘n stomp byl afkap as met ‘n sterk byl.  God kry meer eer as Hy sy kragtige dade deur swakheid toon.  God word mens en wys sy groot deur ‘n krip, ‘n Nasarener, ‘n arm lewe, en ‘n kruis.  Waar sou die eer wees as Hy in ‘n paleis gebore is, in Rome gebly het, ‘n ryk lewe gehad het, sy vyande met ‘n magtige weermag platgevee het, en rustig in sy slaap gesterf het?  God gebruik swakheid!  Moet dit nie verag of uit die hand verdoem nie.  Maar roem daarin. Ook in jou eie swakheid.  “En Hy het vir my gesê:  My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring.  Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon.  Daarom het ek behae in swakhede, in mishandelinge, in node, in vervolginge, in benoudhede, om Christus wil.  Want as ek swak is, dan is ek sterk.” (2 Korintiërs 12:9-10).  Dit is dan nie Tyrannosaurus Rex Herodes wat die sterke koning van kersfees is nie.  Die swak baba van Betlehem; die man van Nasaret – Hý is die Koning van kersfees.  Laat ons dan in sy swakheid en sterkte roem.  Laat ons Hom aanbid wat nie sterf soos Herodes nie, maar lewe vir ewig en ewig.  Amen.

Kersfees in Connecticut

Connecticut shooting

“Toe Herodes sien dat hy deur die wyse manne mislei was, het hy baie woedend geword en gestuur en in Betlehem en in al die omstreke daarvan al die seuntjies van twee jaar en daaronder laat ombring, ooreenkomstig die tyd wat hy van die wyse manne uitgevra het.  Toe is vervul wat deur Jeremia, die profeet, gespreek is toe hy gesê het:  ‘n Stem is in Rama gehoor:  rouklag en geween en groot gekerm; Ragel beween haar kinders en wil nie vertroos word nie, omdat hulle daar nie meer is nie.” (Matteus 2:16-18).

 

Sandy Hook skool in Newton, Connecticut:  Op Vrydag 14 Desember 2012 het 20-jarige Adam Lanza sy ma vier keer in die kop geskiet.  Daarna het hy na die skool toe gegaan en 20 kinders (6 en 7 jariges) doodgeskiet.  Hy het 6 volwassenes doodgeskiet.  En aan die einde van alles het hy ook sy eie lewe geneem.  Tweeduisend jaar gelede het ’n massamoord in Betlehem en die omliggende omgewing (insluitend Rama) plaasgevind.  Herodes het al die kinders onder twee jaar laat doodmaak.  Hoe kan enigiemand in sulke omstandighede blydskap hê en ’n geseënde kersfees geniet?

 

Kindermoorde en aborsie was algemeen in 1ste eeu.  Sommige mense het kinders vir die afgode geoffer.  Indien hulle nie self kinders gehad het nie, sou hulle babas by arme mense koop om te offer.  Die Romeine het in ‘n wet beveel dat gebreklike babas doodgemaak moes word.  Babas is riviere en vir wilde diere gegooi (inligting uit Schmidt, A.; How Christianity Changed the World; Zondervan; GRAND RAPIDS; 2001, 2004; p.48-60).  Herodes was nie anders nie.  Hy het al baie ánder vermoor (sien die preek getiteld, Die wêreld se wellus vir mag).  Om ‘n paar dosyn babas te vermoor sou glad nie ‘n probleem gewees het nie (v.16).  A.T. Robertson sê:  “Augustus said that it was better to be Herod’s sow (Greek hus) than his son (Greek huios), for the sow had a better chance of life.” (www.e-sword.net; Robertson’s Word Pictures, kommentaar op Matteus 2:16).

Jesus het gesê dat moord in die hart begin.  Iemand wat kwaad is of iemand haat is ‘n moordenaar in sy hart (sien Matteus 5:21-22).  Herodes se moord het begin by woede in sy hart (v.16).  Sy voete was haastig om bloed te vergiet (Romeine 3:15).  In <st1:bcv_smarttag>Genesis 3:15 het die Here voorspel dat die Messias vir Satan sou vernietig.  Male sonder tal wou die duiwel die vervulling van hierdie belofte kniehalter.  Hy wou nie hê die Messias moes gebore word en heers nie.  Hier is vyftien voorbeelde van hoe hy ‘n stok in die speke van God se planne wou steek.

  • Kain vermoor vir Abel (Genesis 4:8).  Onsuksesvol:  die Messias word uit die nageslag van Set gebore.
  • Sarai kon nie kinders kry nie en sê vir Abram om met haar slavin Hagar te slaap (Genesis 16:2-4).  Onsuksesvol:  jare later word Sarai swanger met Isak.
  • Esau beplan om vir Jakob te vermoor (Genesis 27:41).  Onsuksesvol:  Jakob vlug na sy oom Laban toe.
  • Farao vermoor die seuntjies van Israel (Eksodus 1:15-22).  Onsuksesvol:  die Israeliete vermeerder.
  • Saul probeer twee keer om vir Dawid met ‘n spies teen die muur vas te pen (1 Samuel 18:10-11).  Onsuksesvol.
  • Saul belowe Dawid kan met Merab trou as hy teen die Filistyne veg.  In sy hart hoop hy die Filistyne maak vir Dawid dood (1 Samuel 18:17).  Onsuksesvol.
  • Saul belowe Dawid kan met Migal trou as hy 100 Filistyne doodmaak en besny (1 Samuel 18:21, 25).  Sy plan is dat die Filistyne vir Dawid sal doodmaak.  Onsuksesvol:  Dawid maak 200 Filistyne dood.
  • Saul stuur sy manne om vir Dawid in sy bed dood te maak (1 Samuel 19:11, 15).  Onsuksesvol:  Dawid vlug.
  • Saul sit vir Dawid agterna om hom dood te maak (1 Samuel 21-26).  Onsuksesvol:  die Here beskerm vir Dawid.
  • Absolom wil vir Dawid doodmaak (2 Samuel 15-18).  Onsuksesvol:  Agitofel se raad word nie gevolg nie en Absolom sterf.
  • Atalia moor die hele koninklike huis uit.  Onsuksesvol:  die baba Joas word weggesteek (2 Konings 11:1-3).
  • Haman beplan om al die Jode uit te roei (Ester 3:13).  Onsuksesvol:  Haman word gehang.
  • Herodes stuur sy soldate Betlehem toe om vir Jesus dood te maak (Matteus 2:16).  Onsuksesvol:  ‘n engel sê vir Josef om Egipte toe te vlug.

Jesus het die duiwel oorwin aan die kruis en deur sy opstanding uit die graf.  Omdat dit waar is hoef ons nie bang te wees vir die merk van die dier (die 666), ‘n een-wêreld orde, of enigiets anders in die boek Openbaring nie.  Efesiërs 6:10-20 sê ons moet onsself met die wapenrusting van God beklee en vassteen die duiwel.  Ons moet ons aan God onderwerp en die duiwel teenstaan – dan sal hy van ons af wegvlug (Jakobus 4:7).  God sal Satan onder ons voete vernietig (Romeine 16:20).  Nou reeds is die duiwel soos ‘n hond aan ‘n ketting:  hy is beperk en kan nie die nasies mislei soos wat hy goedvind nie (Matteus 12:28-29, Openbaring 20:1-3).  By die wederkoms sal Jesus die duiwel en sy magte vernietig (2 Tessalonisense 2:8, Openbaring 20:7-10).  Satan kan nie wen nie.

Ons ken die tipiese wêreldoorlog rolprente waarin ma’s huil wanneer hulle seuns die huis verlaat om oorlog toe te gaan, en wanneer die nuus kom dat hulle seuns in die oorlog gesneuwel het.  Baie van ons het op die nuus gesien hoe ouers huil oor hulle kinders wat in die Connecticut massamoord doodgeskiet is.  Matteus sê oor die slagting in Betlehem en die omliggende gebied:  “Toe is vervul wat deur Jeremia, die profeet, gespreek is toe hy gesê het:  ‘n Stem is in Rama gehoor:  rouklag en geween en groot gekerm; Ragel beween haar kinders en wil nie vertroos word nie, omdat hulle daar nie meer is nie.” (v.17-18).  Wat is in Matteus se gedagtes wanneer hy hierdie vers skryf?

Ragel is oppad Betlehem toe by Rama begrawe (Genesis 35:16-20, vergelyk ook 1 Samuel 10:2 en 1 Konings 15:17).  Ragel sou nie weer haar seun Josef sien nie.  Sy sou nie haar pasgebore babaseun Benjamin geniet nie.  Sy sou nie haar kleinseuns Efraim en Manasse ontmoet nie.  Maar dis nie waarvan Jeremia praat nie (v.17-18, Jeremia 31:15).  Ragel se kinders (haar nageslag) is via Rama na Babilon toe ontvoer (sien Jeremia 40:1).  Ma’s het oor hul seuns gehuil.  Hulle was nie tevrede met enige goedkoop troos nie, maar wou hê hulle kinders moet uit die land van slawerny terugkeer (v.18).  Dit sou gebeur.  Die konteks van Jeremia 31:15 (waaruit Matteus hier aanhaal) is oorweldigend positief.  Lees maar die hoofstuk om te sien hoe God belowe om sy volk uit slawerny terug te bring.  In die volgende vers sê Jeremia:  “Bedwing jou stem van geween en jou oë van trane; want daar is loon vir jou arbeid, spreek die Here; en hulle sal uit die land van die vyand terugkom.” (Jeremia 31:16).  God het belowe om die ma’s te vertroos, sy volk te herstel, en ‘n nuwe verbond te maak (Jeremia 31:1-40).  Hierdie verse (en spesifiek Jeremia 31:15) is vervul toe Herodes die babas in Betlehem en die omliggende streek vermoor het; in Jesus wat teruggekeer het uit die slaweland – Egipte; in Jesus wat sondaars herstel en vertroos.

 

Wat moet jy uit hierdie verse leer?  Die Ou Testament word vervul in die Nuwe Testament.  Die Nuwe Testament kan nie verstaan word buite die oorspronklike konteks van die Ou Testament nie.  Lees beide Testamente want daarsonder sal jy ‘n beperkte verstaan van die Bybel hê.  Moenie een van die twee afskeep nie.  Ons leer ook dat daar nou sonde, dood, en trane mag wees, maar dat Jesus ons sal herstel en vertroos.  Hy bring herstel en oorwinning oor die dood deur sy kruisdood en opstanding (Romeine 5:1).  Hy het die Heilige Gees gestuur om ons te vertroos (Johannes 14:16).  Daar is die vooruitsig van die wederkoms waar gelowiges se liggame uit die graf sal opstaan (Romeine 8:23, 1 Tessalonisense 4:13-18).  En dan is daar die hemel waarvan ons in Openbaring 21:4 lees:  “En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.”  Gelowiges wat soos die vroue van Connecticut, Betlehem, en Rama huil sal vertroos word.

My skoonsuster het vir my vrou gevra om ‘n paar goed by ‘n bekostigbare winkel in Kempton Park te koop.  My vrou het gereken dit sal R200 kos en het gevra dat sy die geld inbetaal.  Maar ‘n paar minute later het my vrou gesien dit sal dalk meer as R200 wees en wéér ‘n boodskap gestuur:  “Kan jy asseblief R300 inbetaal ingeval dit meer kos.”  Herodes soek vir Jesus en ingeval hy Hom mis, gee hy opdrag dat al die kinders onder twee jaar doodgemaak moet word.  Om dubbel seker te maak vermoor hy nie net die kinders in Betlehem nie, maar in die hele area (v.16-18, Rama ingesluit).

Mense wat skepties is oor die Bybel sal soms sê dat Jesus opsetlik sekere dinge gedoen het om die Skrif te ‘vervul’ en te sê Hy’s die Messias.  Maar hierdie mense kan nie verduidelik hoe Jesus se vyande (wat nie geglo het Hy’s die Messias nie) die Skrifte aangaande Hom vervul het nie.  Herodes het nie gedink om die Skrif te vervul nie, maar tog het hy (v.16-18).  Dit bewys net weereens dat die Skrif waar is, dat Jesus die Messias is, en dat God soewerein is oor die aksies en reaksies van ons en sy vyande.  God werk selfs negatiewe dinge soos ‘n massamoord in Betlehem ten goede mee (Romeine 8:28).  Sy goeie raadsplan word ook in Connecticut vervul.  Alhoewel daar nie vreugde en gelag is in Betlehem, Rama, en Connecticut nie, kan daar op ‘n diep vlak ‘n vredevolle en geseënde kersfees wees vir almal wat aan Jesus behoort.

Die Koning van Kersfees

Golden crown“En toe hulle teruggegaan het, verskyn daar ‘n engel van die Here in ‘n droom aan Josef en sê:  Staan op, neem die Kindjie en sy moeder en vlug na Egipte, en bly daar totdat ek jou sê; want Herodes gaan die Kindjie soek om Hom dood te maak.  Hy het toe opgestaan, die Kindjie en sy moeder in die nag geneem en na Egipte vertrek.  En hy was daar tot die dood van Herodes, sodat die woord vervul sou word wat die Here gespreek het deur die profeet:  Uit Egipte het Ek my Seun geroep.” (Matteus 2:13-15).

 

In C.S. Lewis se Prince Caspian maak die prins se leermeester hom in die middel van die nag wakker.  “Jy moet vlug, Miraz het sy soldate gestuur om jou dood te maak”, sê die leermeester vir Caspian.  Dadelik het Caspian ‘n perd gekry en na die woud toe gevlug.  Josef het ‘n soortgelyke ondervinding gehad.  Terwyl hy geslaap het, het God se engel hom in ‘n droom gewaarsku (v.13, cf. 12, 19, 22, 1:20).  Hy het wakker geword en in die nag Egipte toe gevlug.  In die aand sou hy minder sigbaar wees en as hy tot die môre toe gewag het sou dit waarskynlik te laat gewees het (v.14).  God stuur gedurigdeur sy engele om ons te help.  Psalm 103:20 praat van “…sy engele, kragtige helde wat sy woord volbring, in gehoorsaamheid aan die stem van sy woord!”  Engele is “…almal dienende geeste wat vir diens uitgestuur word ter wille van die wat die saligheid sal beërwe…” (Hebreërs 1:14, cf. Matteus 18:10).  Alhoewel God ons deur engele kan waarsku moet ons nie bonatuurlike sensasie soek, sodat ons weier om te beweeg as God nie ‘n engel stuur om met ons te praat nie.

 

Net soos God vir Jesus beskerm het in Egipte doen Hy vir ons.  “Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.” (Romeine 8:38-39).  God, en nie Satan nie, was absoluut soewerein oor die lewe van Jesus.  Ons lees byvoorbeeld in die Skrif:  “En almal in die sinagoge is met woede vervul toe hulle dit hoor; en hulle het opgestaan en Hom uit die stad uitgedryf en Hom gebring tot op die rand van die berg waarop hulle stad gebou was, om Hom van die krans af te gooi.  Maar Hy het tussen hulle deur geloop en weggegaan.” (Lukas 4:28-30).  Hoekom kon hulle nie vir Jesus doodmaak nie?  Ander verse in die Bybel sê vir ons.

“En op dieselfde dag het sommige van die Fariseërs na Hom gekom en vir Hom gesê:  Gaan weg en vertrek hiervandaan, want Herodes wil U om die lewe bring.  En Hy het vir hulle gesê:  Gaan vertel daardie jakkals:  Kyk, Ek dryf duiwels uit en maak gesond, vandag en môre, en op die derde dag is Ek klaar.” (Lukas 13:31-32).  Jesus en die Vader was soewerein oor die ewige raadsplan van verlossing.  Herodes kon nie God se planne omver gooi nie.  Herodes was ’n jakkals.  Jesus was ’n leeu.

“Toe probeer hulle om Hom gevange te neem; en niemand het die hand aan Hom geslaan nie, omdat sy uur nog nie gekom het nie…En sommige van hulle wou Hom gevange neem, maar niemand het die hand aan Hom geslaan nie.” (Johannes 7:30, 44).  “Hierdie woorde het Jesus gespreek by die skatkis terwyl Hy in die tempel geleer het.  En niemand het Hom gevange geneem nie, omdat sy uur nog nie gekom het nie.” (Johannes 8:20).  “Niemand neem dit van My af nie, maar Ek lê dit uit Myself af.  Ek het mag om dit af te lê en Ek het mag om dit weer te neem.  Hierdie gebod het Ek van my Vader ontvang.” (Johannes 10:18).  Jesus was soewerein oor sy eie lewe.  Niemand kon Hom arresteer of doodmaak voor die tyd wat die Vader bepaal het nie.  Eers tóé kon Hy doodgemaak word:  “Dag vir dag was Ek saam met julle in die tempel, en julle het nie die hande teen My uitgesteek nie.  Maar dit is julle uur en die mag van die duisternis.” (Lukas 22:53).

Jesus kon nie deur Herodes se swaard sterf nie, want God het bepaal dat Hy aan ‘n kruis sou sterf.  “En Pilatus sê vir hulle:  Neem julle Hom en oordeel Hom volgens julle wet.  En die Jode sê vir hom:  Dit is ons nie geoorloof om iemand dood te maak nie – sodat die woord van Jesus vervul sou word wat Hy gesê het om aan te dui hoedanige dood Hy sou sterwe.” (Johannes 18:31-32).  Jesus kon ook nie in daardie nag saam met die ander kinders in Betlehem sterf nie, omdat God bepaal het dat Hy in Jerusalem sou sterf, “…want dit kan nie gebeur dat ‘n profeet buitekant Jerusalem omkom nie.” (Lukas 13:33).

God het vir Herodes doodgemaak en sal die res van Jesus (en ons) se vyande vernietig (v.15, 19).  “…Die Here het tot my Here gespreek:  Sit aan my regterhand, totdat Ek u vyande maak ‘n voetbank vir u voete.” (Psalm 110:1).  Ons vyande kan nooit wen nie.  God is soewerein oor jou lewe soos Hy oor Jesus s’n was.  Daarom kan jy die Here vertrou, in Hom rus, en hoef jy nie te vrees nie.  “En moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel.” (Matteus 10:28).  Herodes is nie die koning van kersfees nie.  Satan ook nie.  God is.

Martin Luther het gesê dat die Pous en sy biskoppe ‘n goeie teoloog van hom gemaak het.  Wat hy bedoel het was eenvoudig dat hy nooit tot so ‘n diepe studie van die Skrifte gedryf sou word, as hy nie soveel teenstand van die Katoliekekerk gehad het nie.  Ons vyande bedoel dinge teen ons, maar God werk dit vir ons voordeel.  Josef sê vir sy broers wat hom jare tevore as slaaf verkoop het:  “Want júlle het wel kwaad teen my bedink, maar God het dit ten goede gedink om te doen soos dit vandag is, om ‘n groot volk in die lewe te hou.” (Genesis 50:20).  Van Jesus se kruisdood sê die Skrif:  “Want waarlik, Herodes en Pontius Pilatus het saam met heidene en die volke van Israel vergader teen u heilige Kind Jesus wat U gesalf het, om alles te doen wat u hand en u raad vooruit bepaal het om plaas te vind.” (Handelinge 4:27-28).

Deurdat Paulus in die tronk was het die keiser se wagte die evangelie gehoor, het ander gelowiges meer vrymoedigheid gehad om die evangelie te preek, en het Paulus se vyande Christus verkondig.  Hulle intensie was wel om hom in die moeilikheid te kry, maar deur hulle het die boodskap van die kruis verprei (sien Filippense 1:12-18).  Herodes se haat vir Jesus lei daartoe dat Hy Egipte toe moet vlug.  En dis as gevolg hiervan wat die Skrif vervul word:  “…sodat die woord vervul sou word wat die Here gespreek het deur die profeet:  Uit Egipte het Ek my Seun geroep.” (v.15, eie beklemtoning).  God gebruik waarlik die haat van ons vyande om sy planne te vervul.  Saam met die apostel moet ons sê:  “En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is….As God vír ons is, wie kan teen ons wees?” (Romeine 8:28, 31).  Party mense maak te veel van die duiwel en praat asof hy in beheer is.  Ek weet nie hoe ons ooit ‘n geseënde kersfees of lewe sal hê as die duiwel soewerein is nie.

Daar is mense wat gepraat het van die wrede keiser Domitianus as ‘n tweede Nero wat uit die dood uit opgestaan het.  Sy wrede vervolging van Christene het hom ‘n tipe Nero gemaak.  ‘n Volwasse Christen het van ‘n jong predikant gepraat as ‘n moderne tipe Spurgeon.  Wanneer daar ooreenkomste tussen Jesus en ‘n persoon in die Ou Testament is, praat ons van daardie persoon as ‘n tipologie van Jesus.  Beide Moses en Israel is ‘n tipologie van Jesus en die gebeure rondom sy geboorte.  Matteus se eerste lesers was Jode.  Hulle sou dadelik die ooreenkomste tussen Jesus en Moses optel.  Daar is ten minste twaalf parallele tussen Jesus aan die eenkant, en Moses en Israel aan die ander kant.  Baie van hierdie parallele het met sy geboorte te doen, maar ander het nie.  Die punt is dat hierdie ooreenkomste nie toevallig kon gewees het nie.  God het dit so bewerk.  Net nóg ‘n bewys dat Hy soewerein is – ook oor kersfees.

[1] Moses beteken uitgehaal of verlos:  “En toe die seuntjie groot geword het, bring sy hom na Farao se dogter; en hy het haar seun geword.  En sy het hom Moses genoem en gesê:  Ek het hom mos uit die water getrek.” (Eksodus 2:10, eie beklemtoning).  Die Naam Jesus het ‘n soortgelyke betekenis:  Verlosser.  “…jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.” (Matteus 1:21).

[2] Moses het God se volk uit slawerny in Egipte gelei, en Jesus lei ons uit die slawerny van sonde.  Die woord eksodus verwys na die uittog uit Egipte.  Toe Moses en Elia op die berg van verheerliking aan Jesus verskyn, het Hy met hulle gepraat oor die eksodus wat Hy aan die kruis buite Jerusalem sou bewerk (Lukas 9:31, die Griekse woord vir uitgang in hierdie vers is eksodus).

[3] Toe Moses ‘n baba was het sy ma hom beskerm teen die koning wat hom wou doodmaak (Eksodus 2:3).  Josef het Jesus na Egipte toe geneem om hom te beskerm teen die haat van die koning wat Hom wou doodmaak (v.13-15).

[4] Toe daar hongersnood in Kanaän was, was Egipte ‘n plek van veiligheid vir Jakob en sy gesin (Genesis 45:5, 50:20).  Jare later word Egipte ‘n plek van veiligheid vir Jesus, want dáár het God Hom aan die lewe gehou (v.13-14).

[5] Israel het uit Egipte getrek na die Beloofde Land toe, en Jesus het uit Egipte teruggekeer na die Beloofde Land toe (v.15, 19-20, Eksodus 3:8).

[6] Israel het deur die waters van die Rooisee gekom en 40 jaar in die woestyn deurgebring (Eksodus 14, Deuteronomium 8:2).  Jesus het deur die doopwater van die Jordaanrivier gekom en 40 dae in die woestyn deurgebring (3:13-4:11).

[7] Beide Moses en Jesus het vir 40 dae gevas (Eksodus 34:28, Matteus 4:2).

[8] Die Ou Testamentiese wet is van Sinaï af aan die volk gegee (Eksodus 19-20).  Jesus het op ‘n berg geklim om die Nuwe Testamentiese wet aan die volk te gee (5:1).  In sy bergprediking het Jesus dikwels die Tien Gebooie aangehaal en bygevoeg:  “Maar ek sê vir julle…”

[9] Moses was in ‘n vreemde land, totdat God vir hom gesê het:  “…al die manne wat jou lewe gesoek het, is dood.” (Eksodus 4:19, cf. 2:23).  Jesus ook.  “En ná die dood van Herodes het daar ‘n engel van die Here in ‘n droom aan Josef in Egipte verskyn en gesê:  Staan op, neem die Kindjie en sy moeder, en gaan na die land van Israel; want hulle is dood wat die lewe van die Kindjie gesoek het.” (v.19-20).

[10] Moses het wonderwerke gedoen en Jesus ook.

[11] Moses en Jesus was herders vir God se kudde (Psalm 77:21, Matteus 18:12, cf. Johannes 10).

[12] Israel is God se seun en was maar ‘n babavolk toe God hom uit Egipte gebring het.  “Dan moet jy vir Farao sê:  So spreek die Here:  My eersgebore seun is Israel.  Daarom beveel Ek jou:  Laat my seun trek, dat hy My kan dien. Maar jy het geweier om hom te laat trek.  Kyk, Ek sal jou eersgebore seun laat sterwe.” (Eksodus 4:22-23).  “Toe Israel ‘n kind was, het Ek hom liefgehad, en uit Egipte het Ek my seun geroep.” (Hosea 11:1).  Jesus is God se Seun en is as baba Egipte toe en weer teruggebring Israel toe (v.13-15, 19-21).  Hosea 11:1 is ‘n voorbeeld van ‘n profesie met ‘n dubbele vervulling:  dit is vervul in Israel maar ook in Jesus.

Jesus is die nuwe Moses.  Moses self het van Jesus gepraat van ‘n Profeet soos ek (Deuteronomium 18:15, 18).  Jesus is die een ware Israeliet.  Dis van Hóm wat Jesaja profeteer:  “Hy het vir My gesê:  Jy is my kneg, Israel, in wie Ek My verheerlik.” (Jesaja 49:3, in v.6 bring Hy die stamme van Jakob en die verstrooides van Israel terug).  Daar is sommige Christene wat glo die beloftes van die Ou Testament (veral die belofte van die land) geld vir Israel en nie vir die kerk nie.  Maar as Jesus die nuwe Moses en die een ware Israeliet is, is die beloftes van die Ou Testament nie net vir Israel bedoel nie, maar ook vir die kerk.  Deur ons eenheid met Jesus geld die beloftes vir heidene in die 21ste eeu.

Die Skrif sê:  “Want hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom is hulle ja en in Hom amen, tot heerlikheid van God deur ons.” (2 Korintiërs 1:20).  “sodat die seën van Abraham na die heidene kan kom in Christus Jesus, en dat ons die belofte van die Gees deur die geloof kan ontvang…Nou is aan Abraham die beloftes toegesê en aan sy saad.  Hy sê nie:  En aan die sade, asof dit op baie sien nie, maar op een:  En aan jou saad, dit is Christus…En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename.” (Galasiërs 3:14, 16, 29, eie beklemtoning).  Een belofte waarop ons in Desember fokus is die voordele en beloftes van kersfees.  Die feit dat Jesus se geboorte steeds ‘n effek in ons lewens het in 2012 wys dat God, en nie die duiwel nie, soewerein is.  As die duiwel soewerein was sou Herodes se planne om Jesus dood te maak suksesvol gewees het.  Maar dit was nie, en ons dank God daarvoor.  Hý is die Koning van kersfees.

Wat soek Jesus vir kersfees?

Christmas gift questionmark“En nadat hulle die koning aangehoor het, het hulle vertrek.  En kyk, die ster wat hulle in die Ooste gesien het, gaan voor hulle uit totdat hy kom en bly staan bo-oor die plek waar die Kindjie was. En toe hulle die ster sien, het hulle hul met baie groot blydskap verheug.  En hulle het in die huis gegaan en die Kindjie by Maria, sy moeder, gevind en neergeval en Hom hulde bewys.  Daarop maak hulle hul skatte oop en bring vir Hom geskenke: goud en wierook en mirre.  En omdat hulle in ‘n droom ‘n goddelike waarskuwing ontvang het om nie na Herodes terug te keer nie, het hulle met ‘n ander pad na hul land teruggegaan.” (Matteus 2:9-12).

 

In ‘n ou Hallelujalied sing ons:  “Belehemster wil ook vir my na die Jesus-kind toe lei.”  Om dít te sing is nie heeltemal akkuraat nie.  Ons verstaan dat God se leiding deur die ster ‘n unieke gebeure was (v.9-11), net soos wat Hy die Israeliete op ‘n unieke wyse deur die wolk en vuurkolom deur die woestyn gelei het.  God lei ons nie vandag deur ‘n ster na Jesus toe nie.  Sy Gees lei ons na Jesus toe deur iemand wat die evangelie aan ons bring.  En daarna is dit die Heilige Gees wat ons deur heilige begeertes lei, sodat ons selfsugtige en sondige begeertes neerlê (Galasiërs 5:16-26).  Hy lei ons deur gebed wanneer ons vra vir wysheid (Jakobus 1:5).  “Vertrou op die Here met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie.  Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelykmaak.” (Spreuke 3:5-6).  Hy lei ons deur sy Woord wat ‘n lig is vir ons pad en ‘n lamp vir ons voet (Psalm 119:105).  Hy lei ons deur die vernuwing van ons denke, sodat ons die goeie en volmaakte wil van God kan ken (Romeine 12:2).  Dit is die Heilige Gees wat ons lei, soos die profeet sê:  “en jou ore sal ‘n woord agter jou hoor wat sê:  Dit is die weg, wandel daarop! wanneer julle regs of wanneer julle links wil gaan.” (Jesaja 30:21).

Dis nou genoeg gepraat van die ster.  Eintlik te veel.  In v.10 is die wyse manne nie bly oor die ster omdat dit vir hulle mooi was nie.  Hulle is bly omdat die ster hulle na Jesus toe gelei het.  Plaas die fokus op Jesus en nie op die ster nie.  Ons sal verseker mooi moet dink deur die woorde van die lied Betlehemster.  As ons fokus op die ster is wat ons na Jesus toe lei is dit goed.  Maar as ons die ster oorbeklemtoon is ons in die moeras van afgodery – pasop.

R.C. Sproul het vertel van ‘n trokdrywer in die V.S.A. wat deur die verkeerspolisie afgetrek is omdat hy dronk bestuur het.  Die drywer van die trok het die polisie beamptes geswets en gevloek.  Die beamptes was omgekrap omdat die maksimum boete vir dronkbestuur $100 en 30 dae in die tronk was.  Hulle het toe in hierdie spesifieke staat se wetboek gevind dat ‘n persoon wat God se naam laster tot ‘n $100 beboet kan word en vir 30 dae tronk toe gaan.  Hulle was bly toe die trokdrywer vir 60 dae tronk toe is en ‘n $200 boete gekry het.  Time tydskrif het ‘n artikel gehad waarin hulle gewys het hoe primitief dit is dat enigiemand nog ‘n wet sou hê waarin mense beboet word, omdat hulle die Here se naam ydelik gebruik!

Dis ons samelewing.  Mense het geen respek vir God en sy heilige Naam nie.  Ook in moderne aanbidding is daar nie meer eerbied en respek vir God nie.  Die wyse manne was anders.  Hulle het respek gehad vir Jesus.  Selfs in die teks sien ons hoe Matteus eerbied het vir Jesus.  Wanneer hy na die Kind en sy ma verwys, noem hy elke keer die kind eerste (v.11, 13-14, 20-21).  Dit is duidelik dat Jesus die belangrikste en sentrale figuur is.  Natuurlik is Jesus ‘n mens (die kind met sy ma, v.11).  Maar die wyse manne aanbid Hom en wys dat Hy volkome God is (v.11).  So bevestig Matteus 14:33 dit:  “Toe kom die wat in die skuit was, en val voor Hom neer en sê:  Waarlik, U is die Seun van God!”  Die feit dat die wyse manne buig is ‘n bewys van respek, vrees, eerbied, en erkenning dat die Kind van Betlehem hoër is as hulle.  Ons kan gerus hulle voorbeeld navolg.  Betoon respek vir God, sy dag, en sy Naam.  Doen dit in jou postuur wanneer jy Hom aanbid.  In die manier hoe jy tot Hom nader.  In jou woorde.  In die manier hoe jy sy Naam gebruik.  In jou sangstyl.  In die wyse waarop jy oor die waarheid van die Bybel praat:  met erns en nie alewig in grappe heilige dinge nie.  Dít is die tipe aanbidding wat Jesus vir kersfees soek, maar ook in jou hele lewe.

Wanneer jy ‘n stamhoof in Afrika besoek moet jy geskenke saamneem.  So was dit met antieke konings.  Die koninging van Skeba het geskenke saamgevat toe sy vir Salomo besoek het (1 Konings 10:2, 10).  Die wyse manne het hulle beste vir die Koning van die konings gebring:  goud, wierook, en mirre (v.11).  Goud is ‘n geskenk wat jy vir konings bring (let maar op hoe baie keer daar van goud gepraat word in die geskiedenis van koning Salomo.  Wierook is gemaak van ‘n taai wit boomgom.  Hierdie geskenk fokus hoofsaaklik op Jesus se Godheid, want volgens Eksodus 30:1-10 is wierook aan God geoffer.  Mirre is gemaak uit die gom van ‘n balsamboom of, volgens sommige, die cistus roos.  Dié geskenk wys vir ons dat Jesus mens is.  Mirre is in parfuum gebruik (Ester 2:12), het as pynmiddel gedien (Markus 15:23), en is ook by Jesus se begrafnis gebruik om sy liggaam te balsem (Johannes 19:39).  Puritein Thomas Watson reken dat hierdie geskenke nodig was vir die reis na Egipte:  “By his providence [God] sends wise men from the east, who bring costly gifts, gold, myrrh, and frankincense, and present them to Christ; and now [Mary] has enough to defray her charges in Egypt.” (A Body of Divinity; The Banner of Truth Trust; EDINBURGH; 1974; p.120).

Wanneer Jesus sy koninkryk vestig sal belangrike mense en konings weer geskenke vir Hom bring.  “Al u klere is mirre en alewee en kassie…” sing die psalmdigter vir die Messias (Psalm 45:9).  Salomo sê van die Messias op sy troon:  “Die konings van Tarsis en van die eilande sal geskenke aanbied, die konings van Skeba en Seba belasting aanbring.  Ja, al die konings sal hulle voor hom buig, al die nasies sal hom dien…Mag hy dan lewe! en mag hulle aan hom gee van die goud van Skeba en altyddeur vir hom bid; mag hulle die hele dag hom seën!” (Psalm 72:10-11, 15).  Jesaja profeet oor die toekomstige heerlikheid van Israel:  “‘n Menigte kamele sal jou oordek, die jong kamele van Mídian en Efa; hulle sal almal uit Skeba kom; hulle bring goud en wierook en verkondig met blydskap die roemryke dade van die Here.” (Jesaja 60:6).  In Johannes se visioen van die hemelse Jerusalem sien hy “…die konings van die aarde bring hulle heerlikheid en eer daarin…en hulle sal die heerlikheid en die eer van die nasies daarin bring.” (Openbaring 21:24, 26).

Bring jou beste vir die Koning.  Kom soos die wyse manne met jou geskenk – voorbereid om die Here te aanbid (v.11).  Hier is ‘n lys van ten minste sewe geskenke wat Jesus vir kersfees soek.

  • Gee jouself.  Die Macedoniese Christene “het hulself eers aan die Here gegee” (2 Korintiërs 8:5).
  • Gee jou liggaam (Romeine 12:2).  Gebruik jou hande, voete, sintuie, en alles wat jy het om goed te doen (Romeine 6:13).
  • Gee jou geld.  “Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of uit dwang nie, want God het ‘n blymoedige gewer lief.” (2 Korintiërs 9:7).
  • Gee jou diens.  Paulus sê van Epafroditus:  “Want ter wille van die werk van Christus het hy tot naby die dood gekom en sy lewe gewaag…” (Filippense 2:30).
  • Gee jou lof en dank.  “Die een wat dank offer, eer My…” (Psalm 50:23).  “Laat ons dan gedurig deur Hom aan God ‘n lofoffer bring, dit is die vrug van die lippe wat sy Naam bely.” (Hebreërs 13:15).
  • Gee goeie werke en mededeelsaamheid.  “Vergeet die weldadigheid en mededeelsaamheid nie, want God het ‘n welbehae aan sulke offers.” (Hebreërs 13:16).
  • Gee gebed.  “en toe Hy die boek neem, val die vier lewende wesens en die vier en twintig ouderlinge voor die Lam neer, elkeen met siters en goue skale vol reukwerk, wat die gebede van die heiliges is.” (Openbaring 5:8).  “En ‘n ander engel het gekom en met ‘n goue wierookbak by die altaar gaan staan, en baie reukwerk is aan hom gegee, om dit met die gebede van al die heiliges op die goue altaar voor die troon te lê; en die rook van die reukwerk het met die gebede van die heiliges uit die hand van die engel opgegaan voor God.  En die engel het die wierookbak geneem en dit met vuur van die altaar volgemaak en dit op die aarde gegooi; en daar het stemme gekom en donderslae en weerligte en aardbewing.” (Openbaring 8:3-5).

‘n Predikant het een aand na die erediens sy i-pod en beursie op die nagmaaltafel neergesit toe hy met gemeentemense gesels.  Toe hy klaar gesels het en omdraai was sy besittings weg.  Hy was baie ontsteld omdat iemand in die kerk sy goed sou steel.  Daardie nag het hy gedroom hoe ‘n spesifieke jong meisie die goed steel.  Toe hy die oggend wakker word het hy na die mense se huis toe gegaan en vir sy goed gevra.  Die meisie het dit aan hom terugbesorg.

Daar is verskeie Bybefigure met wie God in drome gepraat het:  Abimeleg in Genesis 20, Jakob, Laban, Josef, Farao, die profete (Numeri 12:6), Salomo, Daniël, Nebukadnesar, en Maria se man Josef.  Die wyse manne het in Betlehem oornag (seker by die huis waar Jesus was).  God het hulle in ‘n droom gewaarsku toe hulle slaap (v.12).  “In die droom, in ‘n naggesig, as diepe slaap op die mense val, tydens sluimeringe op die bed, dan open Hy die oor van die mense, en Hy druk die seël op die waarskuwing aan hulle” (Job 33:15-16).  God het vir die wyse manne gesê dat Herodes vir Jesus wou doodmaak.  Hulle het toe met ‘n ompad teruggegaan na hulle land toe (v.12, dáár het hulle ongetwyfeld die goeie nuus van Jesus se geboorte met ander gedeel).  Praat God nog deur drome vandag?  Miskien.  Maar moenie jou lewe volgens jou drome inrig nie, “Want soos daar baie drome is, so is daar ook nietige woorde in menigte, maar vrees God!” (Prediker 5:6).  Die Hebreërskrywer sê:  “Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun” (Hebreërs 1:1).  Fokus op Jesus en sy Woord.  Leef vir Hom en volgens sy Woord.  Dit is die beste geskenk wat jy vir Hom kan gee hierdie kersfees.

‘n Negatiewe reaksie op kersfees

Hate Christmas ball“en hy het al die owerpriesters en die skrifgeleerdes van die volk bymekaar laat kom en by hulle navraag gedoen waar die Christus gebore sou word.  En hulle het vir hom gesê:  Te Betlehem in Judéa, want so is daar deur die profeet geskrywe:  En jy, Betlehem, land van Juda, is volstrek nie die geringste onder die vorste van Juda nie, want uit jou sal ‘n leidsman voortkom wat vir my volk Israel ‘n herder sal wees.  Toe het Herodes die wyse manne in die geheim geroep en hulle na die tyd van die ster se verskyning uitgevra; en hy het hulle na Betlehem gestuur en gesê: Gaan doen noukeurig ondersoek na die Kindjie, en as julle Hom vind, laat my weet, sodat ek ook kan gaan en Hom hulde bewys.” (Matteus 2:4-8).

 

‘n Tyd gelede het ‘n man met my kom praat oor sy probleme.  Hy ken die Skrif baie goed, maar toe ons by die kwessie van wedergeboorte kom het alles daarop gedui dat hy ongered is.  So het ‘n sendeling my vertel van ‘n Moslem in sy dorp wat die Bybel baie goed ken.  Liberale teoloë en baie Jehova’s Getuies ken die Bybel goed, maar hulle is ongered.  In ‘n Bybelstudie het ‘n predikant verwys na Paulus wat vir Petrus tereggewys het in die boek Handelinge.  ‘n Ouderling het vir die predikant gesê dat hierdie gebeure in Galasiërs plaasgevind het en nie in Handelinge nie.  Die predikant het gesê:  “Nee, dis in Handelinge.”  Weer het die ouderling gesê:  “Dis in Galasiërs 2.”  Die predikant moes die knie buig.

Die voorgenoemde voorbeelde illustreer iets van wat ons in Matteus 2 sien.  Herodes was nie ‘n Jood nie, maar ‘n Edomiet van Idumea.  Geen uitlander mag as koning regeer het oor Israel nie (Deuteronomium 17:15).  Maar die koning wat wel regeer het moes die Skrif geken het:  “En as hy op die troon van sy koninkryk sit, moet hy vir hom ‘n afskrif van hierdie wet in ‘n boek skrywe, uit dié wat voor die Levitiese priesters lê; en dit moet by hom wees, en hy moet al die dae van sy lewe daarin lees, dat hy kan leer om die Here sy God te vrees deur al die woorde van hierdie wet en hierdie insettinge te hou, om dit te doen; sodat sy hart hom nie verhef oor sy broers nie en hy van die gebod nie regs of links afwyk nie; dat hy die dae kan verleng in sy koninkryk, hy en sy seuns, onder Israel.” (Deuteronomium 17:18-20).  Herodes het die Joodse godsdiens geken, en daarom is dit skandelik dat hy nie die Skrif geken het nie.  Hy moes antwoorde van die owerpriesters (meesal Sadduseërs) en skrifgeleerdes (Fariseërs) vra (v.4).  Maar alhoewel húlle die Skrif geken het (v.5-6), het hulle nie saam met die wyse manne gegaan om die Messias te aanbid nie (v.9-11).  Hulle was ongered.

Ons moet sekerlik die Bybel beter as dit ken en sorg dat ons dit toepas.  As iemand vir jou vra wat die Bybel sê oor…, moet jy soos Filippus aan die Etiopiese hofdienaar antwoorde kan bied (Handelinge 8:34-35).  Wees gereed om ‘n antwoord te gee aan enigiemand wat jou vra oor die hoop wat in jou is (1 Petrus 3:15).  En wees dan gehoorsaam aan die dinge wat jy weet:  “En word daders van die woord en nie net hoorders wat julleself bedrieg nie.” (Jakobus 1:22).  Pasop dat jy nie soos die owerpriesters en skrifgeleerdes bloot die feite oor die Messias ken sonder dat jy Hom aanbid nie.

Miga het geprofeteer dat Israel slawe sal word in Babilon (Miga 4:10, 14).  Maar God sou Babilon vernietig en Israel uit slawerny red (4:10-13).  Hy sou hulle uiteindelik en finaal red deur ‘n leier wat in Betlehem gebore sou word.  Híér is hoe Miga dit sê:

“En jy, Betlehem Éfrata, klein om te wees onder die geslagte van Juda, uit jou sal daar vir My uitgaan een wat ‘n Heerser in Israel sal wees; en sy uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid.  Daarom sal Hy hulle prysgee tot op die tyd dat ‘n barende gebaar het. Dan sal die oorblyfsel van sy broers saam met die kinders van Israel terugkeer.  En Hy sal optree en hulle laat wei in die sterkte van die Here, in die majesteit van die Naam van die Here sy God; en hulle sal rustig woon, want nou sal Hy groot wees tot aan die eindes van die aarde.” (Miga 5:1-3).  Miga sê dat hierdie koning nie begin het nie, maar ewig is (5:1).  Duidelik is hierdie koning nie maar net ’n mens nie, maar God.  Maar Hy is ook ’n mens omdat Hy uit ’n vrou gebore sal word (5:2).  Miga sê verder dat Hy die verstrooide oorblyfsel uit die lande sal vergader, sodat hulle na Hom toe terugkeer (5:2).  Hy is hulle vrede (5:4a).  Hy sal nie ’n diktator wees soos Herodes nie, maar sal ’n herder wees wat sy volk soos skape laat wei (5:3, cf. Esegiël 34:23).  Hy sal beroemd wees tot in die verste lande (5:3).  Hy is waarlik die nageslag van koning Dawid wat in Betlehem gebore is en ’n herder was vir God se volk (1 Samuel 16:4, 2 Samuel 5:2).  Elf wyses hoe Herder ons versorg:  lê lewe neer, red, behou, bewaak, lei, voed, voorsien, tug, troos, herstel, gee rus.  Dank vir kersfees, rus in Hom.

Hierdie profesieë wat in Jesus vervul is spoor ons aan om die Ou Testament te glo.  Miga profeteer ongeveer 735 v.C. en maak nie ‘n fout in een detail nie.  Dit gebeur presies soos hy gesê het (v.1, 4-6).  Hierdie een profesie is genoeg om vir ons te wys dat Jesus die Messias is.  Maar daar is baie meer as een profesie wat in Jesus vervul is.  Daar is 456.  Wiskundige David Williams vertel van navorsing wat deur ‘n wetenskap professor by Westmont College (Peter Stoner) gedoen is.  Volgens die populasie van die wêreld in Jesus se tyd, was die kanse dat ‘n persoon in Betlehem gebore sou word een uit 300 000.  Die kanse dat net agt profesieë in een persoon vervul word is 1017 (‘n 1 met 17 nulle – onthou dat ‘n miljoen maar ses het).  Stoner illustreer die punt so:

“If you mark one of ten tickets, and place all the tickets in a hat, and thoroughly stir them, and then ask a blindfolded man to draw one, his chance of getting the right ticket is one in ten.  Suppose that we take 1017 silver dollars and lay them on the face of Texas.  They’ll cover all of the state two feet deep.  Now mark one of these silver dollars and stir the whole mass thoroughly, all over the state.  Blindfold a man and tell him that he can travel as far as he wishes, but he must pick up one silver dollar and say that this is the right one.  What chance would he have of getting the right one?  Just the same chance that the prophets would’ve had of writing these eight prophecies and having them all come true in any one man, from their day to the present time, providing they wrote them in their own wisdom…”

Volgens Stoner is die kanse dat 48 profesieë in een persoon vervul word 10157 (‘n getal met 157 nulle!).  Weer ‘n illustrasie van Stoner:  “Electrons are very small objects.  They’re smaller than atoms.  It would take 2.5 times 1015 of them, laid side by side, to make one inch.  Even if we counted 250 of these electrons each minute, and counted day and night, it would still take 19 million years just to count a line of electrons one-inch long.”  Gestel jy kon een van daardie elektrone merk en die hele massa meng, wat sou die kans wees dat ‘n blinde man met die eerste probeerslag die regte een kies?  Die feit dat 48 profesieë in een Man vervul is, is ‘n wonder.  Wat nog te praat van 456 profesieë.  Stoner se slotsom is:  “Any man who rejects Christ as the Son of God is rejecting a fact, proved perhaps more absolutely than any other fact in the world.” (inligting verkry by www.biblebelievers.org.au).

Tydens sy heerskappy het Herodes ‘n Babiloniër aangestel as hoëpriester.  Herodes se skoonma Alexandra het hom teengegaan.  Mariamne (Herodes se vrou) het gevra dat hy haar broer Aristobulus hoëpriester moes maak.  Hy het so gedoen, maar toe hy agterkom dat mense vir Aristobulus meer navolg as vir hom, het hy jaloers geraak.  Hy het sy swaer na ‘n swempartytjie by die Jordaanrivier naby Jerigo uitgenooi.  Vir die eerste ruk het Herodes en sy swaer saam op die rivierbank gesit.  Maar het Herodes daarop aangedring dat Aristobulus saam met die ander moet gaan swem.  Sekere jong manne is deur die koning aangestel om te maak of hulle met Aristobulus speel en hom dan onder die water te hou tot hy verdrink.  Hulle het die koning se opdrag uitgevoer en die jong hoëpriester vermoor.  Herodes het ‘n groot begrafnis gereël en gemaak of hy huil oor sy swaer wat ‘per ongeluk’ verdrink het (uit Hendriksen, W.; Matthew:  New Testament Commentary; Banner of Truth; EDINBURGH; 1973; p.162).  Herodes was ‘n jakkals (sien hoe sy seun sy slegte voorbeeld navolg in Lukas 13:32).  Herodes het blatant gelieg deur te sê hy wil ook vir Jesus aanbid (v.8).  Hy wou uitwerk hoe oud Jesus was, sodat hy Hom kon doodmaak (v.7, 16).  Hy wou ook nie hê dat almal agterdogtig moes wees oor sy bose plan nie, en daarom vra hy die wyse manne uit in die geheim (v.7).  Sonde is altyd so.  Jesus het gesê:  “En dit is die oordeel:  dat die lig in die wêreld gekom het, en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig; want hulle werke was boos.  Want elkeen wat kwaad doen, haat die lig en kom nie na die lig nie, dat sy werke nie bestraf mag word nie.” (Johannes 3:19-20).  Ons moenie soos Herodes wees nie.  Ons moenie sonde wegsteek nie.  Ons moenie betrokke wees by geheime vergaderings, organisasies (soos die vryemessleaars), en bendes nie.  Die Skrif sê vir ons:

“Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie; maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid vind.” (Spreuke 28:13).

“En dit is die verkondiging wat ons van Hom gehoor het en aan julle verkondig:  God is lig, en geen duisternis is in Hom nie.  As ons sê dat ons met Hom gemeenskap het en in die duisternis wandel, dan lieg ons en doen nie die waarheid nie.  Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde…As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” (1 Johannes 1:5-7, 9).

In die Christelike lewe is daar nie plek vir donker en geheime planne soos Herodes s’n nie.  Jesus is die Lig wat die duisternis verdryf (Johannes 8:12).  En ons is deelgenote in daardie koninkryk van lig.  Paulus se gebed is dat ons “die Vader mag dank wat ons bekwaam gemaak het om deel te hê aan die erfdeel van die heiliges in die lig – Hy wat ons verlos het uit die mag van die duisternis en oorgebring het in die koninkryk van die Seun van sy liefde, in wie ons die verlossing het deur sy bloed, naamlik die vergifnis van die sondes.” (Kolossense 1:12-14).

Moenie soos Herodes onkundig wees oor die waarheid van kersfees nie.  Moenie soos die Joodse Raad die waarheid ken, maar nalaat om die Messias te aanbid nie.  Ken die profesieë.  Glo dit.  Erken dat Jesus die Messias is.  Aanbid Hom.  Kom uit die duisternis, ontvang vergifnis vir sondes, en wandel in die lig.  Enigiets in die lyn van Herodes se optrede is ‘n sondige en negatiewe reaksie op kersfees.