Hoe lank moet ‘n mens bid?

Alarm clock

“En as julle bid, gebruik nie ‘n ydele herhaling van woorde soos die heidene nie, want hulle dink dat hulle deur hul baie woorde verhoor sal word.  Moet dan nie soos hulle word nie, want jul Vader weet wat julle nodig het voordat julle Hom vra.” (Matteus 6:7-8).

 

Oor die kerstyd het my broer-hulle by ons oorgebly.  Sy 16-maande oue dogter het in die gang geloop en babbel.  “Wat sê sy?”, het my vrou gevra.  “Ek weet nie – ek verstaan haar nie”, het ek geantwoord.  Om te bid met ‘n ydele herhaling van woorde te bid beteken letterlik om te babbel, onduidelik te praat, sinnelose klanke te uiter, oor jou woorde te struikel, en dieselfde woorde te herhaal.  Die heidene bid so (v.7).  Ons sien dit vandag nog in sekere heidense godsdienste wat ekstaties raak en in tale praat – heel dikwels geluide wat hulleself nie verstaan nie.  In 1 Konings 18:26 het die Baäl aanbidders van vroegoggend tot die middag geroep:  “O Baäl, antwoord ons!”  Hulle het gehoop die baie woorde wen die guns van hulle god.  Hindoes kerm aanhoudend in hulle mantras.  Monikke uit die Buddhiste (Tibet monikke) en Katolieke geloof chant en voel meer geestelik daardeur.  Hulle glo dat hulle daardeur in dieper kontak met die geestelik realm kom.  Selfs onder Christene is daar dié wat verkeerdeliks glo dat ‘n aanhoudende herhaling van sekere woorde (ook in lofliedere) hul geestelik sal instem.  Moskees het ‘n toring waaruit ‘n persoon vyf keer per dag aankondig dat die Moslems moet bid.  Hulle vas ook jaarliks vir ‘n volle maand (Ramadan).  Doen hulle dit sodat hulle ‘n beter kans het om verhoor te word?  Mense wat yoga uiter dikwels ‘n sinnelose hmmmm….

Hoekom bid die heidene verkeerd?  Want hulle het ‘n vals god en ken nie die ware God nie.  Hoekom bid Christene soms verkeerd?  Ons bid verkeerd omdat ons verkeerd dink oor God.  As jy glo God gee nie om nie en wil jou nie help nie, sal jy wetties raak en dink dat jy deur baie woorde sy guns kan wen.  Dis byna soos Martin Luther wat voor sy bekering vir ‘n hele nag lank op ‘n koue vloer gelê het in die hoop dat hy God se guns sal wen.  In Luther se tyd het die Katolieke op hulle knieë teen St. Peter’s Katedraal se trappe uitgeklim, omdat hulle geglo het dat God hulle opoffering sal raaksien en guns bewys.  Ek het gesien hoe ‘n Buddhis na ‘n tempel toe opgaan.  Hy het elke paar tree op die pad gaan lê om guns te wen.

As jy heidens glo sal jy heidens bid.  Omdat jy dink God weet nie wat jy gaan vra nie, sal jy Hom deur jou gebede probeer inlig:  “Here, vandag het ek Checkers toe gery en besef dat my geld vir die maand klaar is.  Sal U asseblief vir my geld voorsien?” (sien v.8).  Jy sal onnodig herhalend wees in jou gebede, babbel, en sinnelose dinge sê.  Maniere waarop Christene vandag deur ‘n ydelike herhaling van woorde bid sluit die volgende in:

  • Bid in tale sonder dat daar ‘n uitleg is (1 Korintiërs 14:13-19).
  • Tale wat sommer opgemaak is en niks beteken nie.
  • Ondeurdagte rympies voordat jy eet of in die bed klim.
  • Die Onse Vader wat woordeliks as ‘n towerformule opgesê word, of herhaal word sonder dat jy dink wat dit beteken.
  • Om aanhoudend God se Naam te sê sonder om te dink wat jy sê:  “Here, ek bid vir U hulp in vandag se vergadering HereHere, ek bid dat my ma beter sal word HereHere, Here moet my asseblief krag gee vir die eksamen Here….”
  • Om ‘n geskrewe gebed te lees sonder om te dink wat jy bid (geskrewe gebede insigself is nie noodwendig sleg nie, maar dink asseblief wat jy bid).
  • ‘n Stereotipe begin en einde tot jou gebede, sodat jy nie eers meer agterkom jy sê dit nie:  “Here, baie dankie vir hierdie dag… …Ons bid dit nie uit verdienste nie, maar uit genade alleen; met danksegging.  In Jesus’ Naam.  Amen.”

In die begin het die Heilige Gees orde uit chaos geskep (Genesis 1:1-3).  So kan Hy ook in die heiden se hart doen.  En as Hy die heiden se hart verander het deur die evangelie, dan sal daar orde in sy woorde en gebede wees, want wat die hart van vol is (orde of chaos) loop die mond van oor (sien Matteus 12:34).

Baie landsburgers kla oor die traagheid van staatsdienswerkers.  Jy kan vir drie ure in die ry sit, en as jy om 11:59 by die kassiere kom, dan maak hulle die venstertjie toe.  “Hoekom!?”, wonder jy in frustrasie.  “Want dis etensuur”, sê hulle.  Die heiden is so wanneer dit by gebed kom.  Hy is oortuig dat sy god hom hoor as gevolg van sy baie woorde (v.7).  Daarom hou hy die horlosie dop en stop hy as die uur slaan.  “Ek het die reël nagekom en presies vir ‘n uur gebid – nou sal my god my antwoord”, dink hy.  Enige wettiese persoon is so.  Hy gee nie om oor ‘n verhouding met die Here nie, maar bid om die tyd vol te maak (sien Lukas 20:47).

Dis belangrik om gou hier te sê:  Jesus is nie teen lang gebede nie.  Hy self het dikwels lank gebid (Lukas 6:12).  Waarteen Jesus hier waarsku is om te dink dat lang gebede meer guns by God wen as kortes (v.7).  Die Onse Vader self is ‘n kort gebed.  Ons sal goed doen om die woorde van die wyses in ag te neem en dit op gebed toe te pas:  “By veelheid van woorde ontbreek die oortreding nie; maar hy wat sy lippe inhou, handel verstandig.” (Spreuke 10:19).  “Wees nie haastig met jou mond nie, en laat jou hart nie gou ‘n woord uitbring voor die aangesig van God nie; want God is in die hemel, en jy op die aarde.  Daarom moet jou woorde min wees.” (Prediker 5:1).  Die Bybel gee nooit vir die ons die idee dat God ons op grond van ons baie woorde verhoor nie.  Die Skrif leer eerder dat God ons verhoor op grond van Jesus se lewe en dood.  God antwoord ons as ons deur geloof in Jesus na Hom toe kom.  Hy antwoord wanneer ons opreg bid.  Hy antwoord wanneer ons op Hom vertrou.  Die volgende verse in Hebreërs bevestig dit:

“Terwyl ons dan ‘n groot Hoëpriester het wat deur die hemele deurgegaan het, naamlik Jesus, die Seun van God, laat ons die belydenis vashou.  Want ons het nie ‘n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde.  Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.” (4:14-16).

Hy wat in die dae van sy vlees gebede en smekinge met sterk geroep en trane aan Hóm geoffer het wat Hom uit die dood kon red, en ook verhoor is uit die angs” (5:7).

“Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree.” (7:25).

 “En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek.” (11:6).

Daar is kere wat ons ander mense of ons eie kinders se nood raaksien voordat hulle vra.  God ken almal se nood volmaak voordat hulle vra (Grieks perfektum aktief).  Jesus sê:  “…jul Vader weet wat julle nodig het voordat julle Hom vra.” (v.8).  En weer:  “…julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het.” (v.32).  Dawid het gesê:  “Here, voor U is al my begeertes, en my gesug is vir U nie verborge nie.” (Psalm 38:10).  Wanneer Jesaja van die nuwe hemel en nuwe aarde praat sê hy:  “En voordat hulle roep, sal Ek antwoord; terwyl hulle nog spreek, verhoor Ek.” (Jesaja 65:24).  Afgode is dood en kan nie vir jou sorg nie.  Jou Vader ken jou nood, is lief vir jou, en voorsien in al jou behoeftes (v.8, 26, 30).

 

Nou vra iemand:  as God reeds my behoeftes ken, hoekom moet ek bid?  Psalm 86:1 sê vir ons hoekom:  “…want ek is ellendig en behoeftig.”  Die feit dat God almagtig en soewerein is ontmoedig ons nie om te bid nie, maar is juis ‘n aanmoediging daartoe.  Moenie sê:  “God kan alles doen en weet reeds wat ek nodig het; daarom hoef ek nie te bid nie.”  Sê eerder:  “God kan alles doen en weet alles.  Moenie op jouself vertrou nie, maar vra Hom vir wat jy nodig het.”  Dieselfde prinsiep geld met uitverkiesing en gebed.  Moenie sê:  “God sal mense red wie Hý wil en daarom hoef ek nie te bid nie.”  Maar sê:  “God alleen kan ‘n sondaar se hart verander, en daarom gaan ek vir Hóm vra om my geliefdes te red.”  Jy bid nie tot ‘n afgod nie.  Jy bid tot jou Vader.  Bid daarom soos een van sy geliefde kinders en nie soos ‘n vreesbevange heiden nie.