Jesus se metode vir gebed

Jesus praying on mountain

Ek het die onderstaande metode voor en agter op ‘n boekmerkie laat druk vir ons gemeente.  Jy kan dieselfde doen en dit in jou Bybel hou.  Jy kan hierdie gebed in 5 minute bid of jy kan dit uitrek tot ‘n uur.

Ons:  Bid vir en saam met ander Christene.

 

Vader:  Wees vrymoedig.  Ps.103:13, Heb.4:16.

 

wat in die hemele is:   Bid met respek.

 

laat u Naam geheilig word:  Bid dat ons sy Naam eer met heilige woorde en dade.  Eks.20:7, 1 Pet.1:15-16.

 

laat u koninkryk kom:  In ons (Luk.17:20-21), onder ons (as Hoof van sy kerk), deur ons (evangelisasie), vir ons (die wederkoms).

 

laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde:  Konstante, volkome, onmiddellike, liefdevolle, vreugdevolle gehoorsaamheid.

 

gee ons vandag ons daaglikse brood:  God voorsien in ons nood deur reën, wysheid, werk, mededeelsaamheid, wonderdade.  Ook geestelike brood (Matt.4:4).

 

en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe:  Vergewe ander as jy bid (Mark.11:25).  Bely daagliks jou eie sonde.

 

en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose:  Bid vir beskerming teen die wêreld, die vlees, en die duiwel.

 

Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid.  Amen.

 

(Matteus 6:9-13)

Advertisements

Die sleutel tot goeie seks (‘n kort oorsig oor Hooglied)

Weddingrings on roses

Die wêreld (veral Hollywood) maak of seksuele losbandigheid vir jou plesier sal bring.  Maar dis ‘n leuen.  Jy sal dalk vir ‘n oomblik plesier hê.  Maar daarna sal jy en jou minnaar baklei en skei.  En daar is min dinge so seer soos egskeiding.  Die naakte waarheid is dat seksuele sonde nie vervulling bring nie.  Hoekom dink jy spring egbrekers rond van een persoon na die ander?

Verder is daar ook die vrees dat jy uitgevang gaan word.  Jou gewete spook by jou.  God straf jou deur siekte of ander negatiewe dinge.  En dan is daar ‘n finale oordeel wat kom in die hel.  Al hierdie dinge sê vir ons dat seksuele losbandigheid nie vreugde bring nie.  “Laat die huwelik in alle opsigte eerbaar wees en die bed onbesmet; want God sal hoereerders en egbrekers oordeel.” (Hebreërs 13:4).  Die konstante refrein in Hooglied eggo:  “Ek besweer julle, dogters van Jerusalem, by die gemsbokke of by die takbokke van die veld, om nie die liefde wakker te maak of op te wek voordat dit die liefde behaag nie.” (2:7, 3:5, 8:4).  In ‘n seksmal wêreld is Hooglied die sleutel tot goeie seks en ‘n teenvoeter vir onsedelikheid.

Salomo is die outeur.  Sy naam en koningskap word genoem in 1:1, 4-5, 12, 3:6-11, 7:5, 8:11-12).  1 Konings 4:33 maak melding van sy groot kennis van die natuur.  Hooglied noem verskillende blomme, diere, bome, voëls, en plante om sy outeurskap te bevestig.  Die openingsvers van die boek sê dat hierdie Salomo se beste lied is – die beste van meer as ‘n duisend liede (1:1, sien 1 Konings 4:32).

Hoe moet ons die boek interpreteer.  Daar is sommige wat glo dat die boek niks te doen het met die huwelik tussen ‘n man en vrou nie.  Hulle dink Salomo gebruik die huwelik as ‘n beeld van God se verhouding met Israel of Jesus se verhouding met die kerk.  Maar so ‘n interpretasie is verkeerd omdat die Bybel nooit ‘n seksuele beeld van ons verhouding met God gebruik nie.  En om die Bybel te vergeestelik is gevaarlik en los die deur oop vir ‘n skewe interpretasie van die Skrif.  E.J. Young haal die kerkvaders aan om te wys hoe belaglik hierdie metode van interpretasie is.  Die kerkvader Origenus het geglo dat die vrou se donker vel in 1:5 na sonde verwys.  Cyril van Aleksandrië het geleer dat die bossie mirre tussen die vrou se borste in 1:13 na Jesus verwys wat tussen die Ou en Nuwe Testament gebore is.  Die gekoer van die tortelduif in 2:12 was volgens Cassiodorus ‘n verwysing na die prediking van die apostels.  Cyril van Aleksandrië het gedink dat die die nagmaal ter sprake is in die wyn, eet, en drink van 5:1.  Epiphanius het geglo dat die tagtig byvroue in 6:8 na tagtig dwaalleringe verwys (uit An Introduction tot he Old Testament, William B. Eerdmans Publishing Company, GRAND RAPIDS, 1949, pp.333-334).  Christene praat soms van Jesus as die Roos van Saron en sing ook van Hom as die Lelie van die velde en die Skoonste uit tienduisend.  Maar in Hooglied verwys die roos en lelie na die vrou (2:1-2), terwyl die bruid sê haar man is die skoonste uit tienduisend (5:10).  As elke persoon Hooglied vergeestelik is die boek oop vir honderde interpretasies – selfs teenstellings.

Daar is ander wat glo die boek praat van die huwelik, maar is ook ‘n skadubeeld en tipologie van Jesus se verhouding met sy bruid, die kerk (sien Efesiërs 5:22-33).  Hierdie interpretasie is baie moontlik, maar sou die teks nie gesê het as dit die geval was nie (soos in Efesiërs 5)?  Verskeie kommentators dink dat hierdie ‘n drama is waarin Salomo ‘n Sullamitiese meisie ontvoer om een van sy byvroue te word.  Hy probeer haar hart wen, maar sy is verlief op ‘n herder.  Uiteindelik sien hy dat hy haar nie gaan oortuig nie en stuur hy haar terug na haar herder-minnaar toe.  Ek glo nie dat dit die korrekte interpretasie is nie.  Dit bly duidelik uit die boek dat hierdie ‘n liefdesverhouding tussen Salomo en sy vrou is.  In 1:2-3:5 lees ons van die verlowing.  Dan beskryf 3:6-5:1 die troue en wittebrood.  In 5:2-8:14 het die bruidspaar hulle eerste groot verskil, raak hulle versoen, en groei hulle huwelik.

In die boek skryf Salomo in redelike detail van die plesiere van seksuele intimiteit, maar hy is nooit kras sodat hy biologiese taal of sensuele beelde gebruik nie.  Inteendeel, hy gebruik eufemismes om die vreugdes van die slaapkamer daar te hou.  Hy wys ook vir ons dat seks oor veel meer as die plesiere van die liggaam gaan.  Wat is dan die sleutel tot goeie seks?  Salomo beskryf ten minste sewe elemente.

[1] Dit is eksklusief.  Salomo beskryf sy bruid as ‘n geslote tuin en waterfontein waartoe niemand behalwe hyself toegang het nie (4:12, 15-16, 5:1).  Daar is ‘n gesonde jaloesie wat hierdie verhouding soos ‘n vlammende swaard beskerm (8:6):  sy behoort aan hom alleen en hy aan haar.  Vroue:  moet dan nie jou liggaam met ander deel deur onbeskeie kleredrag nie.  Mans:  moenie na vuil dinge kyk of met ander vroue ‘flirt’ nie.

[2] Hulle is beste vriende (5:16).  Daar is ‘n sterk band van liefde.  Hulle gee hul harte aan mekaar en hulle verhouding is die nommer 1 prioriteit bo alle ander menslike verhoudings.  “Dra my soos ‘n seëlring op u hart, soos ‘n seëlring op u arm; want liefde is sterk soos die dood, die liefdes-ywer is hard soos die doderyk, sy gloed is ‘n gloed van vuur, ‘n vlam van die Here.  Groot waters kan die liefde nie uitblus en riviere dit nie oorstroom nie; al gee ‘n man ook al die goed van sy huis vir die liefde, hulle sou hom diep verag.” (8:6-7).  Seksuele probleme word in die meeste gevalle veroorsaak deur verhoudingsprobleme.  Jay Adams vertel van ‘n huwelikspaar wat raad wou hê oor hulle seksuele probleme.  Hy het vir hulle huiswerk gegee oor kommunikasie.  Toe hulle kommunikasie probleme opgelos is het hy gesê:  “Goed, kom ons praat in vandag se sessie oor julle seksuele probleme.”  Hulle reakise was:  “Toemaar, dis nie meer nodig nie.  Dit gaan baie goed met ons.”  Ek glo jy sien die punt.  Vriendskap en liefde werk soos ‘n bom.  Maak seker dat julle mekaar eerste stel – ook bo die kinders.

[3] Moenie seks van die ander persoon terughou nie.  “Ek het geslaap, maar my hart het gewaak.  Hoor, my beminde klop:  Maak vir my oop, my suster, my vriendin, my duif, my volmaakte!  Want my hoof is vol dou, my haarlokke vol nagdruppels.  Ek het my kleed uitgetrek, hoe kan ek dit weer aantrek?  Ek het my voete gewas, hoe kan ek dit weer vuil maak?…Ek het vir my beminde oopgemaak, maar my beminde het weggedraai, verbygegaan; ek het my besinning verloor toe hy gespreek het; ek het na hom gesoek, maar hom nie gevind nie; ek het na hom geroep, maar hy het my nie geantwoord nie.”  Sy het gedoen waarteen Paulus in 1 Korintiërs 7:3-4 waarsku:  “Die man moet aan die vrou die verskuldigde welwillendheid bewys, en net so ook die vrou aan die man.  Die vrou het nie mag oor haar eie liggaam nie, maar die man; en net so ook het die man nie mag oor sy eie liggaam nie, maar die vrou.”  Waar ‘n persoon nie sy liggaam vir sy huweliksmaat weggee nie, bestaan die gevaar dat sy of haar maat plesier op ‘n ander plek sal soek.

[4] Moenie die klein dinge vergeet nie.  In Hooglied koppel Salomo dinge soos soene (1:2, 4:11, 7:9), die manier waarop ‘n mens in mekaar se oë kyk (6:5), parfuum (1:3, 2:6), ‘n soet asem (7:8), juwele en grimmering (1:10), troetelname (2:10, 14), komplemente (1:15-16, 4:1-5, 5:10-16, 6:4-10, 7:1-9), die man en vrou wat inisieer (1:4, 3:4, 8:2), asook musiek en gedigte (Hooglied) aan die seksuele verhouding.  Al hierdie dinge speel ‘n rol en moet deurgaans toegepas word voordat dit spontaan in die slaapkamer sal gebeur.

[5] Praat goed van jou maat voor ander (5:9-10).  Moenie net negatiewe praatjies oor jou maat vermy nie, maar praat opsetlik positief van mekaar in ander se geselskap.  [6] Praat oor die dinge wat vir jou plesier bring.  Salomo beskryf sy vrou as ‘n mêrrie tussen die hingse wat Faroa se strydwaens trek (1:9).  Hy beskryf die vreugdes van die huweliksbed as vars water in die woestyn (4:12, 15), ‘n pragtige tuin (4:12), soet appels (2:3, 5), druiwe (7:8), ‘n wit duif (6:9), granate (4:13), dadels (7:7-8), vrugtesap (4:11, 8:2), keur vrugte (4:16, 7:13), melk (4:11, 5:1), heuning (4:11, 5:1), kruie en speserye (4:13-14), geurige blomme (1:14, 2:1-2, 16), en goeie wyn (1:2, 4:10, 5:1, 8:2).  Jy sal natuurlik moeite moet doen om die antieke beelde in moderne taal om te sit.  Jou vrou sal nie baie bly wees as jy haar met ‘n perd of Aromat vergelyk nie.

[7] Groei in liefde vir mekaar.  Dit is nie nodig dat die liefde met die jare hoef te verkoel nie.  As jy die bogenoemde elemente toepas sal die liefde verbeter soos wat jy ouer word.  Niks sal dit uitblus nie:  nie siekte, storms, of ouderdom nie.  Jou maat is meer werd as al die rykdom in die huise van Clifton en Sandton.  “Groot waters kan die liefde nie uitblus en riviere dit nie oorstroom nie; al gee ‘n man ook al die goed van sy huis vir die liefde, hulle sou hom diep verag.” (8:7).  Ongelukkig het Salomo nie sy by sy eie raad gehou nie.  Hy het hierdie eerste liefde vir sy vrou verlaat en egbreuk gepleeg met 699 ander vroue en 300 byvroue (1 Konings 11:3).

Moenie die vuil water van die wêreld se onsedelikheid drink nie.  Vind vervulling in jou eie huwelik.  En vind bowenal vervulling en vreugde in Jesus Christus.  As jy van die lewende water drink sal jy nooit weer dors hê nie.  Jy sal nie smag na die sondige plesiere van Hollywood en die res van die wêreld nie.  Selfs die diepste plesiere van jou eie huwelik is maar net ‘n skadubeeld van die ewige vreugde wat daar in die liefde van Christus is.  ‘n Vakansie by die see bring vir ‘n kind veel meer plesier as om in die modder te speel.  Hoeveel meer oortref die genot van die hemel nie die huweliksbed nie?

Waaroor gaan die lewe? (‘n kort oorsig oor Prediker)

Ecclesiastes gold fish

Rick Warren se Purpose Driven Life het meer as 30 miljoen kopieë verkoop (party reken tot 50 miljoen).  Ek dink die rede is omdat baie mense wil weet wat die doel van die lewe is.  Anders gesê:  Waaroor gaan die lewe?  Selfs ateïste stoei met hierdie vraag.  Die bejaarde koning Salomo het ook hieroor nagedink in Prediker.

 

Dit is duidelik dat Salomo die boek die geskryf het.  Hy is die seun van Dawid wat koning was in Jerusalem (1:1, 12).  Die beskrywing van sy rykdom en baie vroue in 2:1-11 dui aan dat hy die outeur is.  Hoofstuk 12:9 beskryf die outeur as iemand wat groot wysheid gehad het en baie spreuke geskryf het.  Wie anders kan dit wees as Salomo?  1 Konings 4:30-34 sê:  “sodat die wysheid van Salomo groter was as die wysheid van al die kinders van die Ooste en as al die wysheid van Egipte.  Ja, hy was wyser as al die mense, as Etan, die Esrahiet, en Heman en Kalkol en Darda, die seuns van Mahol, sodat hy beroemd was onder al die nasies rondom.  En hy het drie duisend spreuke uitgespreek, en sy liedere was duisend en vyf.  En hy het oor die bome gespreek, van die seder op die Líbanon tot die hisop wat teen die muur uitspruit; ook het hy gespreek oor die vee en oor die voëls en oor die kruipende diere en oor die visse.  En van al die volke het hulle gekom om na die wysheid van Salomo te luister, van al die konings van die aarde wat van sy wysheid gehoor het.”  Sommige glo dat verse soos 1:16, 2:7, 9 ‘n probleem is:  “Die outeur sê hy was wyser en ryker as enigiemand wat voor hom koning was in Jerusalem.  Ons weet dat nét Dawid koning was in Jerusalem voor Salomo (Saul was nie koning in Jerusalem nie).”  Dis ‘n verkeerde aanname.  Daar was Jebusitiese konings in Jerusalem voor Dawid.  En Melgisedek was ook koning van Salem (Jerusalem) in die tyd van Abraham (Genesis 14:18, cf. Psalm 76:3).

 

Terwyl Spreuke die wat vrae oor die lewe antwoord (Wat moet jy doen met betrekking tot vriende, kos, vroue, ens.?), antwoord Prediker die hoe en hoekom vrae van die lewe (Hoe moet ons hierdie dubbelsinnigheid verstaan en hoekom werk dinge so in die lewe?).  Prediker vra vrae oor die teenstellings en verwarrings van die lewe.  As ‘n mens op die oog af na dinge kyk is alles ‘n gejaag na wind (1:2):  dis sinneloos, doelloos, en tydmors soos ‘n hond wat sy eie stert jaag.  Dink maar aan hoe sinneloos dit is om elke dag skool toe of werk toe te gaan.  Elke dag is net ‘n herhaling van die vorige.  En as die naweek aanbreek rus jy om net Maandag weer terug te gaan.  En wat help studies jou?  Jy leer so baie, kry ‘n goeie werk, en tree eendag af.  Dan help jou kennis jou niks.  En as jy doodgaan help dit nog minder.  Vakansies is sinneloos.  Jy gaan weg, span uit, en voor jy weet moet jy weer oppak en huis toe gaan.  Dan begin die werk maar weer.  Jy koop nuwe goed en kry geskenke.  Maar baie gou word dit ook maar oud en wil jy weer nuwes hê.  Om te oefen is tydmors.  Jy word fiks en lyk goed om net weer gewig op te tel en oud te word.  As jy in jou siekbed lê help al die jare se oefening niks.  Net so met skoonmaak.  Jy ruim die huis op, sny die gras, sorteer jou papierwerk uit, en was die skottelgoed.  As jy weer sien is die huis deurmekaar, die gras lank, die papiere ongeorganiseerd, en die wasbak weer vol.  En my preke.  Ek het die hele week hard gewerk om dit in 35 minute af te lewer.  Baie mense kan teen Maandagmiddag nie onthou wat ek Sondag gepreek het nie.  En Dinsdag moet ek weer begin met die volgende preke.  Alles is ‘n sinnelose gejaag na wind.

 

As jy die plesiere van die lewe gesmaak hê wil jy nog hê.  En nog.  En nog.  Dit versadig nooit.  Wat jy sien en hoor stel jou nie tevrede nie (1:8).  Ook nie drank of seks nie – jy soek altyd nog (2:1-11).  En dan is die ergste dat al jou pogings om jonk te bly nie help nie.  Jou lewe was eens ‘n lig, maar uiteindelik word dit donker (12:2).  Dit wat in jou jonger dae plesier gebring het bring nie meer plesier nie (12:1).  Jou bene pyn en jou bene wat eens soos sterk manne was is swak (12:3).  Jou tande word min – die ‘malers’ word vervang met vals tande (12:3).  Jou oë is nie meer soos skoon vensters nie; jou sig verswak (12:3).  Die deur van jou lippe is toe:  om te eet is moeite en jy praat nie so baie soos voorheen nie (12:4).  Jy slaap sleg en word wakker van die geringste geraas (12:4).  Jy het eens van musiek gehou, maar nou hoor jy sleg (12:4).  Jy weet dit is gevaarlik om te val en dit word vir jou ‘n vrees (12:5).  Jou hare word wit soos amandelbloeisels (12:5).  Soos ‘n sprinkaan homself voortsleep voor hy vlieg, kom jou lewe tot ‘n einde totdat jy ‘wegvlieg’ na die hemel toe (12:5).  Jou begrafnis is naby.  Mense sal in die strate huil wanneer jou kis na die begrafplaas toe vervoer word (12:5).  Jou hart en brein – jou lewe – sal gaan staan (12:6).  Jou liggaam sal stof word in die graf (12:7).  Jou lewe was ‘n gejaag na wind (12:8).

 

Jy het jou hele lewe gewerk vir kos.  Dít is waarvoor jy dag na dag en jaar na jaar in verkeer gesit het – om geld te kry vir kos.  Wat ‘n sinnelose bestaan.  Selfs die skepping werk so.  Die son kom op en gaan weer onder.  En dan kom dit weer op.  Die wind waai om en om die pole.  Die riviere loop tot in die see.  Daar verdamp die water, waai dit tot oor die berge, en reën dit weer.  En dit is hierdie selfde reënwater wat weer tot in die see loop.  Ook in die mensdom sien ons hoe een geslag na die ander uitsterf (1:4-7).  Sinneloos, sinneloos, sinneloos.

 

En as jy anders dink sit die dood jou in skaakmat.  “Dit is beter om te gaan na ‘n klaaghuis as om te gaan na ‘n huis van maaltyd; want die eerste is die einde van al die mense, en die lewende kan dit ter harte neem.” (7:2).  Ja, wyse mense weet meer oor die lewe as dwases, maar wat help dit – hulle sterf dieselfde dood en word stof soos diere (2:13-16, 3:19-21).  As jy hard werk word ryk, maar so what?  As jy ryk kosse eet is jy ‘n hartaanval wat wag om te gebeur.  Jy kry cholestrol.  Privaat hospitale en goeie mediese fondse kan nie jou gesondheid teruggee nie.  Om baie geld te hê help nie dat jy soeter slaap nie en bring nie vrede in jou huwelik nie.  Rykdom bring net meer sorge en buitendien verloor jy alles wanneer jy doodgaan (2:20-22, 4:6, 5:9-15, 6:2).  Daar is lui mense wat ryk word en harde werkers wat arm bly, onskuldige mense wat tronk toe gaan en moordenaars wat vrykom.  Die span wat maklik moes wen verloor (8:14, 9:2-3, 11, 10:7).  Party goeie mense sterf jonk en wreed.  Party dwase leef lank en sterf in hulle slaap (7:15).  Hoekom is die lewe so onregverdig?  Dít is wat Job en Asaf (Psalm 73) wou weet.

 

Die antwoord is in 1:13, 7:29:  “En ek het my hart daarop gerig om met wysheid te ondersoek en na te speur alles wat onder die hemel gebeur. Dit is ‘n moeilike taak wat God aan die mensekinders (letterlik kinders van Adam) gegee het om hulle daarmee te kwel…Kyk, net dit het ek uitgevind:  dat God die mens reg gemaak het, maar hulle het baie slim planne gesoek.”  Salomo beskryf lewe in ‘n Genesis 3 wêreld; in ‘n gevalle skepping.  Romeine 8:20 sê:  “Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe…”  Net soos Paulus beskryf Salomo lewe in ‘n gevalle skepping as nietigheid.  Prediker kyk reg na die lewe.  Salomo is nie pessimisties nie maar realisties.  As daar nie ‘n doel in die lewe is nie sal jy depressief word.  “Daarom het ek my begewe om my hart aan wanhoop oor te gee vanweë al die arbeid wat ek met moeite verrig het onder die son.” (2:20).  Maar jy moenie die boek halfpad toemaak nie.  As jy tot die einde lees is daar hoop.  Daar kom ‘n einde waar God die goeie beloon en die slegte straf.  “Want God sal elke werk bring in die gerig wat kom oor al die verborge dinge, goed of sleg.”  En dit is ná die laaste oordeel wat ons vry sal wees van die vloek.  Tot dan is dit jou plig om God te vrees en sy Woord te gehoorsaam.  “Die hoofsaak van alles wat gehoor is, is:  Vrees God en hou sy gebooie; want dit geld vir alle mense.” (12:13).

 

Die lewe is nie ‘n eindelose siklus soos die Hindoes glo nie.  En alles eindig nie met die dood soos ateïste glo nie.  Daar sal verligting kom.  In Genesis 3 het God die wêreld aan verganklikheid onderwerp – Hy het die ‘reguit’ wêreld ‘krom’ gemaak.  “Wat krom is, kan nie reguit word nie, en wat ontbreek, kan nie getel word nie…Aanskou die werk van God, want wie kan reguit maak wat Hy krom gemaak het?” (1:15, 7:13).  God het sy Seun gestuur om die krom wêreld weer reguit te maak.

 

Is jy moeg as gevolg van ‘n doellose en rigtinglose lewe?  Jy sal nie vreugde vind in die dinge van hierdie wêreld nie.  Dit sal jou nie versadig nie.  Vind jou vreugde en vervulling in Jesus.  “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.” (Matteus 11:28).  In Hom kry lewe sin.  In Hom kan jy die regte waarde en plesier van kingklip, warm brood, en Coke ervaar.  “Dit is nie ‘n goed wat in die mens kleef dat hy eet en drink en sy siel die goeie laat geniet by sy moeitevolle arbeid nie.  Ek het gesien dat dit ook kom uit die hand van God.  Want wie kan eet en wie kan geniet sonder Hom?” (2:24-25).  “So het ek dan ingesien dat daar niks beters onder hulle is nie as om bly te wees en om goed te doen in die lewe.  En ook – dat elke mens eet en drink en die goeie geniet by al sy moeitevolle arbeid; dit is ‘n gawe van God.” (3:12-13).

 

R.C. Sproul het deur Prediker 11:3 tot bekering gekom:  “…en as ‘n boom na die suide of na die noorde val, op die plek waar die boom val, daar bly hy lê.”  Hy het besef dat sy lewe sinneloos en doelloos is; dat dit sal eindig soos ‘n boom wat val en bly lê.  Sonder Jesus en sy evangelie sal jou lewe so wees.  Die Christen moet uit Prediker leer om nie te veel te maak van hierdie lewe nie, maar om sin te soek in die ewige lewe.  C.S. Lewis het die spyker op die kop geslaan:  “If you find in yourself a desire that nothing in this world can satisfy, the most probable explanation is that you were made for another world.”  As jy doelloos in die lewe rondswerf sal jy depressief word.  Dalk sal dit jou dryf tot selfmoord.  Leef doelgerig.  Jou eie goedheid is nie aanvaarbaar vir God nie.  Jesus het die wet volmaak onderhou en die straf vir wetsoortreders (jy en ek) gedra aan die kruis.  Hy is begrawe en het op die derde dag weer opgestaan uit die dood.  Hy lewe vir ewig en sal die ewige lewe gee vir almal wat op Hom vertrou en hulle bekeer van hulle sonde.  “Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom.” (Johannes 3:36).  Dís waaroor die lewe gaan:  oor Jesus.  Sonder Hom is jou lewe doelloos – al het jy alles wat jou hart begeer.  En op die oordeelsdag sal jy sien ek was reg.

Hoe moet ‘n mens lewe? (‘n kort oorsig oor Spreuke)

Compass on Bible

In sy boek, Don’t waste your Life, vertel John Piper die volgende storie:

 

“For me as a boy, one of the most gripping illustrations my fiery father used was the story of a man converted in old age.  The church had prayed for this man for decades.  He was hard and resistant.  But this time, for some reason, he showed up when my father was preaching.  At the end of the service, during a hymn, to everyone’s amazement he came and took my father’s hand.  They sat down together on the front pew of the church as the people were dismissed.  God opened his heart to the Gospel of Christ, and he was saved from his sins and given eternal life.  But that did not stop him from sobbing and saying, as the tears ran down his wrinkled face – and what an impact it made on me to hear my father say this through his own tears – ‘I’ve wasted it!  I’ve wasted it!’” (Crossway Books, WHEATON, 2003, p.12).

 

John MacArthur het in ‘n preek vertel hoe hy by ‘n 78-jarige man se sterfbed gesit het.  Met trane het die man vir MacArthur gesê:  “I never really got victory over pornography.”

 

Dit gebeur dikwels dat mense wat siek is, oud word, of sterwend is so oor hulle lewe nadink.  Jy wil nie jou lewe mors soos die ou man in Piper snr. se kerk nie.  Of soos die man wat spyt was oor sy lewe van verslawing aan pornografie nie.  Daarom is die bogenoemde vraag baie belangrik:  Hoe moet ‘n mens lewe.  Spreuke gee vir ons die antwoord.

 

Maar eers ‘n bietjie agtergrond.  Die hoofouter van Spreuke is Salomo (1:1, 10:1).  Prediker 12:9, 1 Konings 3, 4:29-34, 10:1-8 bevestig dit.  Maar Salomo het hulp gehad.  Onder opdrag van koning Hiskia is die wyshede van Salomo in boekvorm saamgestel (25:1).  Sekere dele van Spreuke is deur ander wyse manne geskryf (22:17, 24:23).  Agur en Lemuel het ook gehelp (30:1, 31:1).

 

 

Spreuke is ‘n boek wat goed is vir alle tye en kulture.  Elke bevolkingsgroep het sy spreekwoorde en daarom kan almal met Spreuke assosieer.  Die boek bestaan meesal uit kort vergelykings of paralellismes (Heb. mâshâl) wat maklik is om te onthou.  Natuurlik moet ons nie net die lewenswaarhede onthou nie.  Ons moet dit verstaan.  En daarmee help Spreuke ons ook:  “…om woorde van insig te verstaan” (1:2).  Om te verstaan moet jy weet dat alles in Spreuke beloftes is nie.  Daar is wel absolute stellings.  “Die vrees van die Here is die beginsel van die kennis; sotte verag wysheid en tug.” (1:7).  “Die offer van die goddelose is vir die Here ‘n gruwel, maar die gebed van die opregtes is Hom welgevallig.” (15:8).  Die voorgenoemde twee stellings is altyd waar.  Maar dit geld nie vir elke vers in Spreuke nie.  Hier is twee voorbeelde.

 

“My seun, vergeet my onderwysing nie, en laat jou hart my gebooie bewaar; want dit sal lengte van dae en jare van lewe en vrede vir jou vermeerder.” (3:2).  In die algemeen is dit so dat iemand wat God en sy ouers se lering gehoorsaam lank sal lewe.  Maar daar is uitsonderings.  Party godvresende mense sterf jonk en daar is goddelose mense wat lank lewe.  In die uiteindelike sin van die woord is hierdie vers altyd waar, want in die hemel sal die regverdige vir ewig lewe, maar die goddelose sal afgesny word.  “Oefen die seun volgens die eis van sy weg; dan sal hy, ook as hy oud word, daar nie van afwyk nie.” (22:6).  Party kinders wat verkeerd opgevoed is vind die regte pad, terwyl ander wat reg opgevoed is die pad byster raak.  Dus is hierdie vers ‘n algemene waarheid:  As iemand sy kinders reg opvoed sal hulle op die regte pad bly.

 

Onthou asseblief om nie een spreuk te neem as die volle waarheid oor ‘n betrokke saak nie.  Kom ek illustreer dit so.  Ek was een aand saam met ‘n paar vriende in ‘n sitkamer.  Een man het gesê dat dit belangrik is om duur klere te dra, want die vere maak die voël.  Sonder om te huiwer het my vriend geantwoord:  “Ja, maar al dra ‘n aap ‘n goue ring bly hy steeds ‘n lelike ding.”  So werk dit ook in Spreuke.  In 26:4 sê Salomo:  “Antwoord ‘n dwaas nie na sy sotheid nie, sodat jy ook nie net soos hy word nie.”  Maar in die volgende vers lees ons:  “Antwoord ‘n dwaas na sy sotheid, sodat hy nie wys is in sy eie oë nie.” (26:5).  Die les is dit:  Som die situasie op en besluit watter van die twee verse jy moet toepas.  Is die persoon ‘n 26:4 of 5 tipe dwaas?

 

Spreuke sal jou ook leer om in sulke (en baie ander) situasies te kan onderskei wat reg en verkeerd is.  Salomo het onder andere die boek geskryf “om aan die eenvoudiges skranderheid te gee…” (1:4).  En ook “om ‘n spreuk en beeldspraak te verstaan, die woorde van die wyse manne en hulle raaisels.” (1:6).  “Wat maak dit saak?” wonder iemand.  Vir Israel en haar bure kon dit die klere op jou rug beteken:  “En Simson sê aan hulle:  Laat my tog vir julle ‘n raaisel opgee; as julle dit vir my reg uitlê gedurende die sewe dae van die maaltyd en dit uitvind, dan sal ek julle dertig hemde en dertig stel klere gee; maar as julle dit vir my nie kan uitlê nie, dan moet júlle my dertig hemde en dertig stel klere gee.  Toe sê hulle vir hom:  Gee maar jou raaisel op, dat ons dit hoor.” (Rigter 14:12-13).  En volgens Jesus kan dit jou lewe red:

 

“En die dissipels het gekom en vir Hom gesê:  Waarom spreek U tot hulle deur gelykenisse (dis presies wat die woord Spreuke beteken)?  Toe antwoord Hy en sê vir hulle:  Omdat dit aan julle gegee is om die verborgenhede van die koninkryk van die hemele te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie.  Want hy wat het, aan hom sal gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar hy wat nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy het.  Daarom spreek Ek tot hulle deur gelykenisse, omdat hulle, terwyl hulle sien, nie sien nie, en terwyl hulle hoor, nie hoor of verstaan nie.  En aan hulle word die profesie van Jesaja vervul wat sê:  Met die gehoor sal julle hoor en glad nie verstaan nie, en julle sal kyk en kyk, en glad nie sien nie.  Want die hart van hierdie volk het stomp geword, en met die ore het hulle beswaarlik gehoor; en hul oë het hulle toegesluit, sodat hulle nie miskien met die oë sou sien en met die ore hoor en met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie.  Maar julle oë is gelukkig, omdat hulle sien; en julle ore, omdat hulle hoor.  Want, voorwaar Ek sê vir julle, baie profete en regverdiges het begeer om te sien wat julle sien, en het dit nie gesien nie, en om te hoor wat julle hoor, en het dit nie gehoor nie.” (Matteus 13:10-17).  Kan iemand wat sukel om raaisels op te los en gelykenisse te verstaan, Jesus se leringe begryp?  “En Hy sê vir hulle:  Begryp julle nie hierdie gelykenis nie?  En hoe sal julle al die gelykenisse verstaan?” (Markus 4:13).  Spreuke sal jou help om die raaisels en dubbelsinnighede van die lewe op te los.

 

Omdat dit so is, is dit belangrik dat jy Spreuke leer en vir jouself en jou kinders lees.  In 1:4-5 lees ons:  “om aan die eenvoudiges skranderheid te gee, aan die jongeling kennis en oorleg; laat die wyse luister, dan sal hy insig vermeerder, en die verstandige sal verstandige gedagtes verkry”.  Ook is byna elkeen van die eerste nege hoofstukke is gerig aan “my seun”.  Wanneer jy die boek se lewenswysheid vir jouself en ander leer, moet jy onthou dat ‘n dwaas nie met wysheid kan lewe nie.  Dit is waar dat ‘n mens deur tug, pyn, en ondervinding leer wat goed is (1:2, 12:1, 22:15).  Maar jy kan nie die wysheid van Spreuke 10-31 toepas sonder Spreuke 1-9 nie.  Om wysheid te hê moet jy eers die Here vrees en by Hom jou wysheid kry (1:7, 2:6, 3:5-6).  Die evangelie is die fontein waaruit die strome van wysheid ontspring.  As jy Spreuke 10-31 probeer toepas sonder Jesus sal jy misluk.  Jy sal niks anders wees as ‘n morele ongelowige nie.  Jy is nie besig met ware godsdiens nie, maar met wettiesisme.  En dit is ‘n gruwel vir God en baat jou niks.  Moenie net abstrakte lewenswysheid sien nie.  Sien vir Jesus.  Hy’s oral in die boek.  In 8:22-31 word wysheid verpersoonlik en beskryf as Iemand wat reeds in die begin daar was toe alles gemaak is (dit klink nogal baie soos Johannes 1:1-3).

 

Selfs in die kort lewenswaarhede sien ons vir Jesus.  Hier is ‘n paar voorbeelde uit hoofstuk 10.  Hy is die wyse seun wat sy vader bly maak (10:1).  Deur sy geregtigheid word ons gered van die dood (10:2).  Sy liefde bedek ons oortredinge (10:12).  Dit was vir ons sondige dwaasheid dat Hy met ‘n roede oor sy rug geslaan is (10:13).  Deur ons goddeloosheid is sy lewe verkort, sodat ons lewe deur sy gehoorsaamheid verleng kon word (10:27, 30).  Jesus is die fondasie van Spreuke.  Die huis kan eers gebou word as die fondasie gelê is.  As jy God vrees (1:7) sal jy jou vriende reg kies (1:8-19, 13:20), immoraliteit vermy (5-7), die regte lewensmaat kies (31), nie te veel slaap of lui wees nie maar hard werk (6:6-11, 24:30-34), reg praat (10:19, 15:1), ‘n gesonde ouer-kind verhouding handhaaf (1:8, 10:1, 13:24, 29:15), en ander lewenswyshede toepas.

 

Baie wyse mense het al voorgestel dat ‘n mens Spreuke volgens die kalender lees.  Op die 1ste van die maand lees jy hoofstuk 1, of die 2de hoofstuk 2, en so aan tot die einde van die maand.  So kan jy dit maand na maand en jaar na jaar lees om wys te word.  Jy kan ook jou eie indeks van onderwerpe maak.  Voor in jou Bybel of ‘n notaboek kan jy die onderwerpe met ooreenstemmende teksverwysings neerskryf.

 

Woorde:  10:19, 12:18-19, 15:1…

Ouerskap:  13:24, 22:15, 29:15…

Kos:  23:1-3, 20-21…

Alkohol: 20:1, 21:17, 23:29-35…

Geld:  10:4, 28:20, 22…

Vriendskap: 1:8-19, 13:20…

Luiheid:  6:6-11, 24:30-34…

 

Jy kry die idee.

 

Moenie hierdie boek ignoreer nie.  Die verskil tussen wysheid en dwaasheid is die verskil tussen lewe en dood, die hemel en die hel.  “Want hy wat my vind, het die lewe gevind en verkry ‘n welbehae van die Here.  Maar hy wat my mis, benadeel sy eie lewe; almal wat my haat, het die dood lief.” (8:35-36).  Dit is in Jesus wat hierdie skatte van wysheid gevind kan word (Kolossense 2:3).  Hy is immers die wysheid van God (1 Korintiërs 1:24, 30).  Laat ons dan op die rots van sy wysheid bou en nie op die sand van ons eie dwase idees nie (Matteus 7:24-27).  Spreuke is nie net die wysheid van Salomo nie, maar van die God wat hom wys gemaak het.  Iemand “meer as Salomo is hier!” (Matteus 12:42).

‘n Oplossing vir ondankbaarheid (en hope ander sondes)

Grumpy mr. Fredrickson

“Wees in alles dankbaar” (1 Tessalonisense 5:18a).

 

As die lewenstorme woedend om jou slaan,

en jy, gans ontmoedig, vrees om te vergaan –

tel jou seëninge, tel hul een vir een,

en jy sal verbaas oor wat God verleen!

Tel jou seëninge, tel hul een vir een,

seëninge jou deur God geskenk!

Tel hul almal, kyk wat God verleen,

en jy sal verbaas wees oor wat God jou skenk!

Hierdie woorde kom uit die Halleluja liedboek (lied 245) en is ‘n goeie oplossing teen ondankbaarheid.  “Dink oor wat jy verdien”, het een prediker by ‘n konferensie gesê.  “As jy dink jy verdien ‘n mooi kar, gerieflike meubels, en ‘n gelukkige gesin, sal jy kla indien jy enigiets minder kry.  Maar as jy dink jy verdien die hel, sal jy dankbaar wees vir enigiets meer.”  Dis goeie raard.

 

Ondankbaarheid is ‘n kenmerk van ongeredde mense (Romeine 1:21).  Ateïste is ondankbaar.  Hoe kan dit anders wees?  Vir wie moet hulle dankie sê as dit reën of as hulle kos het – vir die Big Bang of evolusie teorie?  Vir hulleself?  Moenie soos die ongelowiges wees nie, maar dank God in alles (v.18).  Paulus het sy eie raad gevolg en God altyd gedank vir die Tessalonisense se geloof en groei (1:2, 2:13, 3:9-13).  Aan die Efesiërs skryf hy:  “terwyl julle God die Vader altyd vir alles dank in die Naam van onse Here Jesus Christus” (Efesiërs 5:20).

 

Moenie soos ‘n kind wees wat so bly is oor sy geskenk dat hy vergeet van die maatjie wat dit vir hom gegee het.  Moenie vergeet om die Here te dank wanneer dinge goed gaan nie.  Moet ook nie so moedeloos word wanneer dinge sleg gaan, sodat jy vergeet om die Here te dank nie.  Toe Job alles verloor het was sy gebed:  “Naak het ek uit my moeder se skoot gekom, en naak sal ek daarheen terugkeer.  Die Here het gegee, en die Here het geneem:  die Naam van die Here sy geloofd!” (Job 1:21).

 

Om te sorg dat jy altyd dankbaar is kan jy gerus Filippense 4:6-9 toepas.  Hier is ‘n voorstel.  Bid oor alles wat in jou lewe gebeur.  Bid sodra die moeilikheid tref.  Pleit by die Here.  En bid met dankbaarheid (v.6).  Dank die Here vir wat jy het.  Dank Hom vir sy verlossing.  Dank hom dat die situasie jou nader aan Hom bring.  Dank Hom dat Hy jou nie volgens verdienste straf nie.  Dank Hom vir ‘n duisend ander dinge.  Skryf sommer drie keer op ‘n dag dinge neer waarvoor jy dankbaar is.  En dink dwarsdeur die dag oor hierdie dinge (v.8).  Kry vir jou ‘n Christen-vriend wat ‘n goeie voorbeeld van dankbaarheid stel en spandeer baie tyd saam met hierdie persoon (v.9).

 

Hier is ‘n klomp dinge waarvoor jy die Here kan dank wanneer jy swaarkry.

  • Die feit dat jy as ‘n Christen ly is ‘n bewys dat jy in Jesus se voetspore loop (1 Petrus 2:21).
  • Die Heilige Gees vertroos ons wanneer ons ly (Johannes 14:16).
  • Jou beproewing sal nie vir altyd duur nie en is kort in vergelyking met die ewigheid (2 Korintiërs 4:17).
  • Jy is nie die enigste een wat swaarkry nie.  Daar is ander Christene wat dieselfde dinge moet deurmaak (1 Petrus 5:9).
  • Geen beproewing kan jou van God se liefde skei of maak dat jy jou redding verloor nie (Johannes 10:28-29, Romeine 8:38-39).
  • Jou siek en swak liggaam sal eendag opgewek word uit die graf en verheerlik word (Romeine 8:23).
  • God gebruik jou beproewing om jou soos Jesus te maak (Romeine 8:28-29).
  • Deur lyding versterk God jou geloof (Jakobus 1:2-4).
  • God het baie beloftes aan jou gegee om jou te help deur die swaarkry (Psalm 119:50).
  • God se Woord help jou in beproewing (Psalm 119:92).
  • Beproewing is ‘n middel om ons weg te draai van sonde (Psalm 119:67, 71).
  • Jy is nie hulpeloos in jou lyding nie.  Jy kan (Psalm 50:15).
  • Daar is ander gelowiges wat saam met jou kan bid in jou lyding (Handelinge 4:23-24).
  • God heilig jou deur swaarkry (Hebreërs 12:10).
  • As jy deur die beproewing is sal jy meer vrug dra (Hebreërs 12:11).
  • Deur lyding bewys God dat jy sy kind is (Hebreërs 12:7-8).
  • Dinge soos volharding, karakter, en hoop word gebou deur lyding (Romeine 5:3-4).
  • As jy swaargekry het en vertroos is weet jy hoe om in die toekoms ander te vertroos wat soortgelyke lyding ervaar (2 Korintiërs 1:4).
  • Jou lyding mag die geleentheid vir iemand se bekering wees.  Hoe sou die Romeinse tronkwag tot bekering gekom het as Paulus en Silas nie in die tronk was nie (Handelinge 16:25-34).
  • As dit met ons sleg gaan vertrou ons dikwels meer op die Here as in die goeie tye (2 Korintiërs 1:9).
  • Christene bid ook gewoonlik meer wanneer dit sleg gaan (2 Korintiërs 1:11).

 

Dit is verbasend hoeveel sondes jy kan doodmaak as jy in alles dankbaar is.  Iemand wat onrein, wellustig, en immoreel is, is ondankbaar vir sy eie huweliksmaat.  Of hy is ondankbaar omdat hy enkel en ongetroud is.  Iemand wat angstig is of murmureer, is ondankbaar oor sy omstandighede.  Iemand wat jaloers is, begeer, of steel, soek wat ander het en is nie dankbaar vir wat hy het nie.  Iemand wat materialisties is, is nie dankbaar genoeg vir sy eie besittings nie.  Iemand wat dobbel is onvergenoegd en ondankbaar vir sy salaris.  Iemand wat te veel eet en homself aan kos vergryp is ondankbaar vir die kos op sy tafel.  Iemand wat kerm en homself self-bejammer het nie die Here genoeg gedank vir die voordele wat hy het nie.

 

Iemand wat depressief is, is dikwels ondankbaar oor sy omstandighede.  Iemand wat sy geld wanbestee soek nog en nog en nog.  Hy is ondankbaar vir wat hy het.  Iemand wat ander kritiseer het nog nooit die Here vir hulle goeie kwaliteite gedank nie.  Iemand wat slegte skuld het is ondankbaar vir sy klein salaris (dis nie ‘n sonde om arm te wees nie).  Iemand met anoreksia is ondankbaar met hoe sy of haar liggaam lyk.  Iemand wat kompeterend is en altyd wil wen is nie dankbaar om tweede of derde te wees nie.  En natuurlik is daar baie ander sondes en probleme (en selfs siektes soos hoë bloeddruk en maagswere) wat weer uit die begenoemde lys spruit.  Al hierdie probleme kan opgelos word deur eenvoudig dankbaar te wees.  Voordat iemand ‘n dankbare lewe kan lei moet hy ‘n nuwe hart ontvang.  Wanneer hy die Here kan dank vir sy redding deur die evangelie sal hy dankbaar wees in alles.

 

‘n Gelowige wat v.16-18 gehoorsaam is ‘heavenly minded’ want in die hemel sal jy dit altyd uitvoer.  Van jou kan dit gesê word (soos van die puritein Richard Sibbes) dat die hemel in jou is voordat jy in die hemel is.

‘n Oplossing vir biddeloosheid

No prayer sign

“Bid sonder ophou.” (1 Tessalonisense 5:17).

 

‘n Man wat eenkeer saam met die Spurgeon in die veld gestap het vertel hoe hy gemaklik kon gesels en dadelik oorskakel in gebed.  “Vir hom was gebed so natuurlik soos asemhaling”, het die man gesê.  George Müller was bekend as ‘n man van gebed en het letterlik oor alles gebid.  Soos sy pa, was John Welch se seun ‘n man van gebed.  Hy was besig om te bid toe hy op sy knieë dood gevind is op ‘n rots in die see.  Een bekende prediker het gesê dat hy nooit vir langer as 5 minute bid nie, maar dat hy nooit vir meer as 5 minute sonder gebed is nie.

 

In v.17 sê Paulus:  “Bid sonder ophou.”  Dit beteken nie dat jy nooit iets anders mag doen as bid nie.  Dit beteken eerder:

  • Volhard in gebed (Lukas 18:1, Efesiërs 6:18, Kolossense 4:2).
  • Jy moet aanhou bid totdat Jesus kom (Lukas 18:7-8).
  • Bid konstant (Rom.12:12).  Moenie vir twee maande ernstig bid en dan vir drie maande glad nie bid nie.
  • Bid oor alles – selfs oor jou sleutels wat weg is (Filippense 4:6).
  • Vul die leë oomblikke in jou dag op met gebed (Nehemia 2:4).  Bid wanneer jy in die verkeer sit, wanneer jy vir ‘n uur by binnelandse sake sit, en wanneer jy moet aanhou op die telefoon.
  • Soos Jesus moet jy ‘n lewe van gebed lei (Hebreërs 5:7).
  • Moenie die gebedstye in jou kerk laat doodloop nie (Paulus sê in v.17 vir ‘n kerk dat hulle moet bid sonder ophou).  Soos die vroeë kerk moet gemeentes vandag hulself toewy aan gesamentlike gebed (Handelinge 1:14, 2:42).

 

Paulus het nie net vir ander gesê om te bid sonder ophou nie; hy het dit self gedoen.  In hierdie eindste brief lees ons:  “Ons dank God altyd oor julle almal as ons aan julle dink in ons gebede” (1:2).  “Daarom dank ons God ook sonder ophou…” (2:13).  “terwyl ons nag en dag baie ernstig bid om julle aangesig te sien en te voltooi wat aan julle geloof ontbreek” (3:10).  Vir die Romeine sê hy:  “Want God wat ek in my gees dien in die evangelie van sy Seun, is my getuie hoe ek onophoudelik aan julle dink” (Romeine 1:9).  In al sy briewe en in Handelinge sien ons hoe hy aanhoudend bid.

 

Ek kon aan ten minste veertien omstandighede dink wat ons kan versoek om op te hou bid:  [1] As jy vir lank gebid het en geen antwoord gekry het nie.  [2] As jy twyfel in jou geloof, God, sy beloftes, en sy Woord.  [3] As jy seergemaak of verlaat is deur ‘n Christen vriend.  [4] As jy baie intense lyding of vervolging ervaar.  Jy wonder:  “Hoekom laat God dit toe?  Hoekom het Hy dit nie verhoed nie?  Hoekom het hy my nie uitgehelp nie?”  [5] As jou beproewing uitgerek word, sodat jy vir maande of selfs jare swaarkry.  [6] As dit baie goed gaan.  Jy bid nie omdat jy dink:  “…Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie…” (Openbaring 3:17).  [7] As jy bid maar geen sigbare of onmiddellike beloning sien nie.  [8] As jy aanhoudend misluk.  [9] As jy God se nee-antwoord jou teleurstel.  [10] As jy depressief is.  [11] As jy moeg en uitgeput is.  [12] As jy te besig is en dink jy het nie tyd om te bid nie.  [13] As jy leeglê.  Luiheid is gif.  [14] As jy angstig is.  Die beste manier om teen biddeloosheid te veg is om jou sonde te bely, vir hulp te bid, te lees wat die Bybel oor gebed sê, en om teen jou vyand te veg met die geestelike wapenrusting (Efesiërs 6:10-18).  Pasop vir die bogenoemde strikke en gehoorsaam v.17:  Bid sonder ophou.

‘n Oplossing vir depressie

Black and white picture of depression

“Wees altyddeur bly.” (1 Tessalonisense 5:16).

 

‘n Persoon wat ek ken was ‘n paar jaar gelede baie depressief.  Sy was altyd besig om grappe te vertel, maar emosioneel was sy in ‘n diep gat.  Wat Salomo gesê het was waar van haar:  “Ook onder gelag kan die hart pyn ly, en die einde van so ‘n blydskap is bekommernis.” (Spreuke 14:13).  Wanneer Paulus in v.16 sê ons moet altyd bly wees, is dit nie omdat hy naïef is oor die lewe nie.  Hy gee nie vir ons ‘n optimistiese Don’t-worry-be-happy tipe teologie nie.  Hy sou eerder saamgestem het met C.S. Lewis in sy boek The Last Battle:  “…there is a kind of happiness and wonder that makes you serious.  It is too good to waste on jokes.” (The Chronicles of Narnia; Harper-Collins Publishers; NEW YORK; 1956; p.759).

 

Al die sinne in ons teks (v.16-18) begin met die bywoord vir beklemtoning:  “Altyddeur wees bly, sonder ophou bid, in alles wees dankbaar…”  Hierdie dinge is God se wil vir jou (v.18).  As jy nie altyd hierdie opdragte uitvoer nie doen jy nie God se wil nie en is dit sonde.  Maar hoe kan jy altyd bly wees – ook in lyding (2:14) of probleme in die kerk (v.14-15)?  Daar is ‘n manier.  Wees bly in die Here en nie in jou omstandighede nie.  “Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal:  Verbly julle!” (Filippense 4:4).  Nóú kan jy hartseer wees en tog ook altyd bly wees (2 Korintiërs 6:10).  Om hierdie konstante blydskap te hê moet jy vol wees van die Heilige Gees, want dit is Hý wat hierdie blydskap gee (Galasiërs 5:22, Handelinge 13:52, Romeine 14:17).  En verder sal jy hierdie blydskap verkry as jy aanhoudend bid en die Here dank in alles (v.17-18).  In Filippense 4:4-7 wys Paulus hoe ‘n persoon wat dít doen onverklaarbare vrede het.  En kan dit anders wees dat iemand wat vrede het ook blydskap sal hê?  Jesus wys ook die verband tussen gebed en blydskap in Johannes 16:24:  “…Bid en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees.”

 

“Maar as Paulus sê ons moet bly wees oor alles sluit dit sekerlik nie dat ons bly moet wees oor sonde nie?”  Natuurlik nie, maar selfs wanneer dit by sonde kom kan ons bly wees dat God ons sondes vergewe (Psalm 103:10, 1 Johannes 1:9).  Party van julle wonder of v.16 ‘n oplossing is vir depressie?  Die antwoord is ja en nee.  Is jy depressief as gevolg van verkeerde denke oor jou situasie, siekte en pyn, vervolging, of ‘n gelowige wat gesterf het?  Indien wel is v.16 ‘n perfekte oplossing vir jou depressie.  Dink anders en wees bly in die Here (v.16).  Dink daaraan dat jou gelowige familielid of vriend by die Here is, en dat julle mekaar weer sal sien wanneer Jesus kom (4:13-18).  Onthou dat jy geseënd is as jy vir Jesus se onthalwe sleggesê en vervolg word.  Die Here sal jou beloon.  Beskou jou lyding vir Jesus as ‘n voorreg, omdat die Here jou net so hoog ag soos Jeremia en Paulus wat vir sy Naam gely het (Matteus 5:10-12).  Deur jou lyding volg jy ook in Jesus se voetspore (1 Petrus 2:21).  Weet ook dat die Here jou van hierdie lyding sal verlos en jou vervolgers sal oordeel (2 Tessalonisense 1:6-7).  Verbly jou dan in die hoop van die hemel wanneer jy ly (Romeine 12:12).

 

Word jou depressie dalk veroorsaak deur ‘n skuldige gewete?  In hierdie geval is v.16 nie ‘n oplossing vir jou depressie nie.  Bekeer jou en bely jou sonde.  Dan sal jou depressie ook soos die oggendskadu wyk.  Dalk is daar ‘n mediese rede vir jou neerslagtigheid:  ‘n gewas op die brein, medikasie wat slegte newe-effekte het, of iets anders.  Gaan sien ‘n dokter; v.16 is nie die regte medisyne nie. 

 

Hier is ‘n paar voorbeelde van mense wat blydskap gehad het in hulle lyding:

  • Paulus.  In 2:19-20, 3:9 vertel hy van sy blydskap oor die Tessalonisense se geloof en groei.  In Handelinge 16 word Paulus en Silas geslaan en in die tronk gegooi.  Maar die pyn kon nie keer dat hulle in die middel van die nag lofliede gesin het nie (Handelinge 16:25).  Paulus is in die tronk en sy vyande verkondig Christus om vir Paulus dieper in die moeilikheid te bring.  Maar Paulus gee nie om nie.  Solank Christus verkondig word is hy bly (Filippense 1:18).  In dieselfde Filippense-brief praat Paulus van sy blydskap in 2:2, 17-19, 4:10.  In Kolossense 1:24 sê Paulus dat hy hom in sy lyding verbly.
  • Die apostels word geslaan en is oorweldig met blydskap omdat Jesus hulle waardig geag het om vir sy Naam te ly (Handelinge 5:41).
  • Die Hebreër-Christene se eiendom word beskadig en geëis.  Hulle is bly omdat hulle eiendom in die hemel het wat niemand van hulle kan wegneem nie (Hebreërs 10:34).
  • Die martelare het gesing toe hulle doodgemaak is vir die geloof.  Hulle het geweet dat hulle binne ‘n paar minute by Jesus sou wees.
  • Charles Simeon is stief behandel deur sy eie gemeente en ander belydende Christene.  Joseph Gurney het vir hom gevra hoe hy dit regkry om die lyding te verduur.  Sy antwoord was:  “My dear brother, we must not mind a little suffering for Christ’s sake.  When I am getting through a hedge, if my head and shoulders are safely through, I can bear the pricking of my legs.  Let us rejoice in the remembrance that our holy Head has surmounted all His suffering and triumphed over death.  Let us follow Him patiently; we shall soon be partakers of His victory.” (Piper, J.; The Roots of Endurance; Crossway Books; WHEATON; 2002; p. 77).
  • John Newton het gely en het selfs teen die einde van sy lewe blind geword.  Sy antwoord teen materialisme kan toegepas word op sy gesindheid teenoor sy lyding:  “Suppose a man was going to New York to take possession of a large estate, and his carriage should break down a mile before he got to the city, which obliged him to walk the rest of the way; what a fool we should think him, if we saw him wringing his hands, and blubbering out all the remaining mile, ‘My carriage is broken!  My carriage is broken!’” (Ibid, p.68).
  • Ingrid Held was ‘n lidmaat van ons gemeente.  Sy het kanker gehad en pyn verduur.  Maar wanneer ek vir haar gevra het hoe dit gaan het sy gesê:  “Ek voel partykeer ‘n bietjie ongemaklik, maar dit gaan goed dankie.”  Sy was bly te midde van haar lyding.

 

My lewe mede-gelowige wat deur ‘n moeilike tyd gaan:  wees altyddeur bly.  Kyk verder as jou beproewing.  “…roem ook in die verdrukkinge, omdat ons weet dat die verdrukking lydsaamheid werk, en die lydsaamheid beproefdheid en die beproefdheid hoop; en die hoop beskaam nie, omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is.” (Romeine 5:3-5).