Waaroor gaan die lewe? (‘n kort oorsig oor Prediker)

Ecclesiastes gold fish

Rick Warren se Purpose Driven Life het meer as 30 miljoen kopieë verkoop (party reken tot 50 miljoen).  Ek dink die rede is omdat baie mense wil weet wat die doel van die lewe is.  Anders gesê:  Waaroor gaan die lewe?  Selfs ateïste stoei met hierdie vraag.  Die bejaarde koning Salomo het ook hieroor nagedink in Prediker.

 

Dit is duidelik dat Salomo die boek die geskryf het.  Hy is die seun van Dawid wat koning was in Jerusalem (1:1, 12).  Die beskrywing van sy rykdom en baie vroue in 2:1-11 dui aan dat hy die outeur is.  Hoofstuk 12:9 beskryf die outeur as iemand wat groot wysheid gehad het en baie spreuke geskryf het.  Wie anders kan dit wees as Salomo?  1 Konings 4:30-34 sê:  “sodat die wysheid van Salomo groter was as die wysheid van al die kinders van die Ooste en as al die wysheid van Egipte.  Ja, hy was wyser as al die mense, as Etan, die Esrahiet, en Heman en Kalkol en Darda, die seuns van Mahol, sodat hy beroemd was onder al die nasies rondom.  En hy het drie duisend spreuke uitgespreek, en sy liedere was duisend en vyf.  En hy het oor die bome gespreek, van die seder op die Líbanon tot die hisop wat teen die muur uitspruit; ook het hy gespreek oor die vee en oor die voëls en oor die kruipende diere en oor die visse.  En van al die volke het hulle gekom om na die wysheid van Salomo te luister, van al die konings van die aarde wat van sy wysheid gehoor het.”  Sommige glo dat verse soos 1:16, 2:7, 9 ‘n probleem is:  “Die outeur sê hy was wyser en ryker as enigiemand wat voor hom koning was in Jerusalem.  Ons weet dat nét Dawid koning was in Jerusalem voor Salomo (Saul was nie koning in Jerusalem nie).”  Dis ‘n verkeerde aanname.  Daar was Jebusitiese konings in Jerusalem voor Dawid.  En Melgisedek was ook koning van Salem (Jerusalem) in die tyd van Abraham (Genesis 14:18, cf. Psalm 76:3).

 

Terwyl Spreuke die wat vrae oor die lewe antwoord (Wat moet jy doen met betrekking tot vriende, kos, vroue, ens.?), antwoord Prediker die hoe en hoekom vrae van die lewe (Hoe moet ons hierdie dubbelsinnigheid verstaan en hoekom werk dinge so in die lewe?).  Prediker vra vrae oor die teenstellings en verwarrings van die lewe.  As ‘n mens op die oog af na dinge kyk is alles ‘n gejaag na wind (1:2):  dis sinneloos, doelloos, en tydmors soos ‘n hond wat sy eie stert jaag.  Dink maar aan hoe sinneloos dit is om elke dag skool toe of werk toe te gaan.  Elke dag is net ‘n herhaling van die vorige.  En as die naweek aanbreek rus jy om net Maandag weer terug te gaan.  En wat help studies jou?  Jy leer so baie, kry ‘n goeie werk, en tree eendag af.  Dan help jou kennis jou niks.  En as jy doodgaan help dit nog minder.  Vakansies is sinneloos.  Jy gaan weg, span uit, en voor jy weet moet jy weer oppak en huis toe gaan.  Dan begin die werk maar weer.  Jy koop nuwe goed en kry geskenke.  Maar baie gou word dit ook maar oud en wil jy weer nuwes hê.  Om te oefen is tydmors.  Jy word fiks en lyk goed om net weer gewig op te tel en oud te word.  As jy in jou siekbed lê help al die jare se oefening niks.  Net so met skoonmaak.  Jy ruim die huis op, sny die gras, sorteer jou papierwerk uit, en was die skottelgoed.  As jy weer sien is die huis deurmekaar, die gras lank, die papiere ongeorganiseerd, en die wasbak weer vol.  En my preke.  Ek het die hele week hard gewerk om dit in 35 minute af te lewer.  Baie mense kan teen Maandagmiddag nie onthou wat ek Sondag gepreek het nie.  En Dinsdag moet ek weer begin met die volgende preke.  Alles is ‘n sinnelose gejaag na wind.

 

As jy die plesiere van die lewe gesmaak hê wil jy nog hê.  En nog.  En nog.  Dit versadig nooit.  Wat jy sien en hoor stel jou nie tevrede nie (1:8).  Ook nie drank of seks nie – jy soek altyd nog (2:1-11).  En dan is die ergste dat al jou pogings om jonk te bly nie help nie.  Jou lewe was eens ‘n lig, maar uiteindelik word dit donker (12:2).  Dit wat in jou jonger dae plesier gebring het bring nie meer plesier nie (12:1).  Jou bene pyn en jou bene wat eens soos sterk manne was is swak (12:3).  Jou tande word min – die ‘malers’ word vervang met vals tande (12:3).  Jou oë is nie meer soos skoon vensters nie; jou sig verswak (12:3).  Die deur van jou lippe is toe:  om te eet is moeite en jy praat nie so baie soos voorheen nie (12:4).  Jy slaap sleg en word wakker van die geringste geraas (12:4).  Jy het eens van musiek gehou, maar nou hoor jy sleg (12:4).  Jy weet dit is gevaarlik om te val en dit word vir jou ‘n vrees (12:5).  Jou hare word wit soos amandelbloeisels (12:5).  Soos ‘n sprinkaan homself voortsleep voor hy vlieg, kom jou lewe tot ‘n einde totdat jy ‘wegvlieg’ na die hemel toe (12:5).  Jou begrafnis is naby.  Mense sal in die strate huil wanneer jou kis na die begrafplaas toe vervoer word (12:5).  Jou hart en brein – jou lewe – sal gaan staan (12:6).  Jou liggaam sal stof word in die graf (12:7).  Jou lewe was ‘n gejaag na wind (12:8).

 

Jy het jou hele lewe gewerk vir kos.  Dít is waarvoor jy dag na dag en jaar na jaar in verkeer gesit het – om geld te kry vir kos.  Wat ‘n sinnelose bestaan.  Selfs die skepping werk so.  Die son kom op en gaan weer onder.  En dan kom dit weer op.  Die wind waai om en om die pole.  Die riviere loop tot in die see.  Daar verdamp die water, waai dit tot oor die berge, en reën dit weer.  En dit is hierdie selfde reënwater wat weer tot in die see loop.  Ook in die mensdom sien ons hoe een geslag na die ander uitsterf (1:4-7).  Sinneloos, sinneloos, sinneloos.

 

En as jy anders dink sit die dood jou in skaakmat.  “Dit is beter om te gaan na ‘n klaaghuis as om te gaan na ‘n huis van maaltyd; want die eerste is die einde van al die mense, en die lewende kan dit ter harte neem.” (7:2).  Ja, wyse mense weet meer oor die lewe as dwases, maar wat help dit – hulle sterf dieselfde dood en word stof soos diere (2:13-16, 3:19-21).  As jy hard werk word ryk, maar so what?  As jy ryk kosse eet is jy ‘n hartaanval wat wag om te gebeur.  Jy kry cholestrol.  Privaat hospitale en goeie mediese fondse kan nie jou gesondheid teruggee nie.  Om baie geld te hê help nie dat jy soeter slaap nie en bring nie vrede in jou huwelik nie.  Rykdom bring net meer sorge en buitendien verloor jy alles wanneer jy doodgaan (2:20-22, 4:6, 5:9-15, 6:2).  Daar is lui mense wat ryk word en harde werkers wat arm bly, onskuldige mense wat tronk toe gaan en moordenaars wat vrykom.  Die span wat maklik moes wen verloor (8:14, 9:2-3, 11, 10:7).  Party goeie mense sterf jonk en wreed.  Party dwase leef lank en sterf in hulle slaap (7:15).  Hoekom is die lewe so onregverdig?  Dít is wat Job en Asaf (Psalm 73) wou weet.

 

Die antwoord is in 1:13, 7:29:  “En ek het my hart daarop gerig om met wysheid te ondersoek en na te speur alles wat onder die hemel gebeur. Dit is ‘n moeilike taak wat God aan die mensekinders (letterlik kinders van Adam) gegee het om hulle daarmee te kwel…Kyk, net dit het ek uitgevind:  dat God die mens reg gemaak het, maar hulle het baie slim planne gesoek.”  Salomo beskryf lewe in ‘n Genesis 3 wêreld; in ‘n gevalle skepping.  Romeine 8:20 sê:  “Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe…”  Net soos Paulus beskryf Salomo lewe in ‘n gevalle skepping as nietigheid.  Prediker kyk reg na die lewe.  Salomo is nie pessimisties nie maar realisties.  As daar nie ‘n doel in die lewe is nie sal jy depressief word.  “Daarom het ek my begewe om my hart aan wanhoop oor te gee vanweë al die arbeid wat ek met moeite verrig het onder die son.” (2:20).  Maar jy moenie die boek halfpad toemaak nie.  As jy tot die einde lees is daar hoop.  Daar kom ‘n einde waar God die goeie beloon en die slegte straf.  “Want God sal elke werk bring in die gerig wat kom oor al die verborge dinge, goed of sleg.”  En dit is ná die laaste oordeel wat ons vry sal wees van die vloek.  Tot dan is dit jou plig om God te vrees en sy Woord te gehoorsaam.  “Die hoofsaak van alles wat gehoor is, is:  Vrees God en hou sy gebooie; want dit geld vir alle mense.” (12:13).

 

Die lewe is nie ‘n eindelose siklus soos die Hindoes glo nie.  En alles eindig nie met die dood soos ateïste glo nie.  Daar sal verligting kom.  In Genesis 3 het God die wêreld aan verganklikheid onderwerp – Hy het die ‘reguit’ wêreld ‘krom’ gemaak.  “Wat krom is, kan nie reguit word nie, en wat ontbreek, kan nie getel word nie…Aanskou die werk van God, want wie kan reguit maak wat Hy krom gemaak het?” (1:15, 7:13).  God het sy Seun gestuur om die krom wêreld weer reguit te maak.

 

Is jy moeg as gevolg van ‘n doellose en rigtinglose lewe?  Jy sal nie vreugde vind in die dinge van hierdie wêreld nie.  Dit sal jou nie versadig nie.  Vind jou vreugde en vervulling in Jesus.  “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.” (Matteus 11:28).  In Hom kry lewe sin.  In Hom kan jy die regte waarde en plesier van kingklip, warm brood, en Coke ervaar.  “Dit is nie ‘n goed wat in die mens kleef dat hy eet en drink en sy siel die goeie laat geniet by sy moeitevolle arbeid nie.  Ek het gesien dat dit ook kom uit die hand van God.  Want wie kan eet en wie kan geniet sonder Hom?” (2:24-25).  “So het ek dan ingesien dat daar niks beters onder hulle is nie as om bly te wees en om goed te doen in die lewe.  En ook – dat elke mens eet en drink en die goeie geniet by al sy moeitevolle arbeid; dit is ‘n gawe van God.” (3:12-13).

 

R.C. Sproul het deur Prediker 11:3 tot bekering gekom:  “…en as ‘n boom na die suide of na die noorde val, op die plek waar die boom val, daar bly hy lê.”  Hy het besef dat sy lewe sinneloos en doelloos is; dat dit sal eindig soos ‘n boom wat val en bly lê.  Sonder Jesus en sy evangelie sal jou lewe so wees.  Die Christen moet uit Prediker leer om nie te veel te maak van hierdie lewe nie, maar om sin te soek in die ewige lewe.  C.S. Lewis het die spyker op die kop geslaan:  “If you find in yourself a desire that nothing in this world can satisfy, the most probable explanation is that you were made for another world.”  As jy doelloos in die lewe rondswerf sal jy depressief word.  Dalk sal dit jou dryf tot selfmoord.  Leef doelgerig.  Jou eie goedheid is nie aanvaarbaar vir God nie.  Jesus het die wet volmaak onderhou en die straf vir wetsoortreders (jy en ek) gedra aan die kruis.  Hy is begrawe en het op die derde dag weer opgestaan uit die dood.  Hy lewe vir ewig en sal die ewige lewe gee vir almal wat op Hom vertrou en hulle bekeer van hulle sonde.  “Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom.” (Johannes 3:36).  Dís waaroor die lewe gaan:  oor Jesus.  Sonder Hom is jou lewe doelloos – al het jy alles wat jou hart begeer.  En op die oordeelsdag sal jy sien ek was reg.