Bid met sukses

Prayer list

“Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word.  Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word.  Of watter mens is daar onder julle wat, as sy seun hom brood vra, aan hom ‘n klip sal gee; en as hy ‘n vis vra, aan hom ‘n slang sal gee?  As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid!” (Matteus 7:7-11).

 

Gemiddelde Gawie bid net as hy in die moeilikheid is en het jare laas ‘n ordentlike stiltetyd gehad.  Na agt jaar van Christenskap het hy nog nooit vir ‘n halfuur gebid nie.  Hy is te besig by die werk.  Hy gaan vroeg werk toe en is oormoeg as hy by die huis kom.  Bertha is al vir twintig jaar ‘n Christen, maar haar gebedslewe is baie flou.  Sy is betrokke by die kerk en vir almal lyk dit of sy geestelik is, maar haar eerste liefde het verkoel.  Haar sondes van ooreet en leeglê keer dat sy geestelik waaksaam is.  Ruben weet nie of alles in die Bybel waar is nie.  Hy betwyfel God se beloftes.  Christene in sy kerk het hom seergemaak.  Hy is teleurgesteld en het ses maande laas gebid.  Ons bid te min – veral in die westerse kerk.  D.A. Carson sê:  “…many of us in our praying are like nasty little boys who ring front door bells and run away before anyone answers.” (A Call to Spiritual Reformation, Baker Academic, GRAND RAPIDS, 1992, p.37).

 

Een boemelaar het gereeld buite my huis kom staan en roep:  “Dominee!  Dominee!  Dominee!”  So kon hy vir meer as ‘n halfuur aanhou.  En dit het op ‘n tyd weekliks gebeur.  Al drie werkwoorde in v.7 is in voortdurende aktiewe bevelsvorm.  Met ander woorde hou aan vra, soek, en klop.  Die beeld is van ‘n man wat aanhou om rigting te vra totdat iemand hom help.  Daarna volg hy die aanwysings en soek hy die huis tot hy dit kry.  Wanneer hy by die huis kom hou hy aan klop totdat iemand die deur oopmaak.  In ‘n sin is ‘vra, soek, en klop’ trappe van vergelyking.  Ons gebede word dus meer en meer intens.  Om te soek is om te vra en te doen.  Jy vra nie net vir persoonlike groei nie, maar doen iets daaraan (jy lees en gehoorsaam jou Bybel).  Jy vra nie net dat God jou geliefdes red nie, maar jy deel die evangelie met hulle.  Om te klop is om te soek en daarin te volhard.  Jy bly konstant in gebed en bid sonder ophou (Romeine 12:12, 1 Tessalonisense 5:17).  As jy só bid belowe God om jou te antwoord (v.7-8).

 

Dalk was jy in die laaste paar maande versoek om op te gee in gebed.  Moenie.  Dalk is die antwoord net 2 weke of 10 meter weg.  Die storie van Florence Chadwick illustreer die punt.  Carson skryf:  “In 1952, a young woman by the name of Florence Chadwick stepped off the beach at Catalina Island and into the water, determined to swim to the shore of mainland California.  She was already and experienced long-distance swimmer:  she was the first woman to swim the English Channel both ways.  The weather was foggy and chilly on the day she set out; she could scarcely see the boats that would accompany her.  For fifteen hours she swam.  She begged to be taken out, but her trainer urged persistence, telling her again and again that she could make it, that the shore was not far away.  Physically and emotionally exhausted, she finally just stopped swimming, and she was pulled out.  The boats made for the shore, and she discovered it was a mere half-mile away.” (Ibid, p.61-62).

 

Moenie ophou bid nie.  God sal antwoord.  Hier is 13 voorbeelde om volharding in gebed aan te spoor.  Rebekka kon nie kinders kry nie.  Isak het vir haar gebid en sy het swanger geword (Genesis 25:21).  God wou die Israeliete uitwis.  Moses het vir hulle gebid en God het hulle gespaar (Eksodus 31:11-14).  Hiskia was siek.  Hy het gebid en God het hom van ‘n dodelike siekte genees (2 Konings 20:1-7).  Koning Josafat het nie ‘n kans gestaan teen sy vyande nie.  Hy het gebid en God het die vyand verslaan (2 Kronieke 20).  God se belofte aan Jeremia was:  “Roep My aan, en Ek sal jou antwoord en jou bekend maak groot en ondeurgrondelike dinge wat jy nie weet nie.” (Jeremia 33:3).  Jesus het geweet Petrus gaan Hom verloën, maar het gebid dat Petrus hom sal bekeer (Lukas 22:31-32).  Die Bybel sê hy het.  Jesus het gebid dat God sy vyande sal vergewe.  Dadelik het God die dief aan die kruis gered (Lukas 23:34).  Later het God ook baie van die moordenaars gered.  Jesus het vir jou gebid (Johannes 17:20) en God het sy gebed verhoor en jou gered.  Jesus het gevra dat al sy kinders eendag by Hom sal wees (Johannes 17:24).  Baie van hulle is reeds daar en die res sal later aansluit.  Stefanus het gebid dat God sy moordenaars sou vergewe (Handelinge 7:60).  God het gehoor en vir Paulus gered.  Die Here het vir Ananias gesê:  “…Staan op en gaan na die straat wat genoem word Reguitstraat, en vra in die huis van Judas na ‘n man met die naam van Saulus van Tarsus, want kyk, hy bid” (Handelinge 9:11).  Die rede hoekom Ananias moet gaan is omdat Paulus bid.  Dit blyk dat Paulus gevra het God moet iemand stuur.  God het hom verhoor.  Elia het gebid dat God droogte moet stuur en toe weer dat God reën moes stuur (Jakobus 5:17-18).  Dit het gebeur soos hy gevra het.

 

William Tyndale is vervolg omdat hy die Bybel in Engels vertaal het.  Die koning het toegesien dat hy verbrand is.  Net voordat hy gesterf het, het hy gebid:  “Here, open die koning van Engeland se oë.”  Die Here het geantwoord.  ‘n Paar jaar later het die koning beveel dat daar ‘n Engelse Bybel in elke kerk geplaas moes word.  Hy het ook toegesien dat die Bybel in Engels vertaal is.  Ongeveer 90% van hierdie vertaling (die King James Version) was Tyndale se werk.

 

Twyfel jy dat God gebed antwoord?  Ons teks sê:  “Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word.  Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word.” (v.7-8).  Jakobus sê:  “…julle het nie, omdat julle nie bid nie.” (Jakobus 4:2).  Glo jy dit is toevallig as die dinge waarvoor jy bid gebeur?  William Temple het gesê:  “As ek bid gebeur toeval.  As ek nie bid nie gebeur dit nie.”  Miskien sal dit help as jy ‘n gebedsjoernaal hou.  Sodoende sal jy sien hoe God jou gebede beantwoord.  Om jou te help is dit ook belangrik dat jy nie vaag en algemeen bid nie.  Moenie sê:  “Here, help asseblief my kinders, wees met my familie, help die mense langs die pad.”  Geen wonder jy sien nie antwoorde op gebed nie, want jy het nie vir iets spesifiek gevra nie.  Bid eerder dat die Here jou buurman Jerry sal red, R600 sal voorsien vir skoolfondse, en vir afvallige Sunél weer kerk toe sal bring.  Wanneer jy sien hoe God jou gebede antwoord sal jy aangespoor en versterk word.  Dis Jesus se punt in v.8:  jy moet aanhoudend bid “Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word.”  Vir die psalmis was beantwoorde gebed ‘n aansporing om meer te bid:  “Die dag toe ek geroep het, het U my verhoor, my moedig gemaak met krag in my siel.”  Jesus sê:  “Tot nou toe het julle niks in my Naam gevra nie.  Bid en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees.” Johannes 16:24, eie beklemtoning).  As jy steeds nie gemotiveer is om te bid nie, kyk na Jesus wat gekruisig is.  Onthou dat Hy onder andere vir die sonde van biddeloosheid gesterf het.  Bely jou sonde en beplan hoe, waar, en wanneer jy gaan begin bid.  Vra vir self-dissipline.  Bid eerder daagliks vir kort oomblikke as een keer per week vir ‘n uur.

 

‘n Moedelose jongman het eenkeer vir my gesê:  “Ek soek die Here maar dis asof Hy weggesteek is.”  Job het so gevoel.

 

“Maar Job het geantwoord en gesê:  Nog altyd geld my geklaag as wederstrewigheid; my hand lê swaar op my gesug.  Ag, as ek maar geweet het waar ek Hom kon vind, maar kon kom tot by sy woning!  Dan sou ek die regsaak voor sy aangesig uiteensit en my mond met bewyse vul; ek sou verneem die woorde wat Hy my sou antwoord, en verstaan wat Hy aan my sou sê.  Sou Hy met oormag teen my stry?  Nee, maar Hy sou ag op my gee.   Dan sou daar ‘n opregte met Hom staan en pleit, en ek sou vir ewig van my regter vrykom.  Kyk, ek gaan na die ooste, en Hy is nie daar nie; en na die weste, maar ek bemerk Hom nie.  As Hy in die noorde werk, aanskou ek Hom nie; buig Hy af na die suide, dan sien ek Hom nie.  Want Hy weet hoe my wandel is; as Hy my toets, sal ek soos goud te voorskyn kom.  Aan sy voetstap het my voet vasgehou; sy weg het ek bewaar sonder om uit te draai.  Van die gebod van sy lippe het ek nie afgewyk nie; die woorde van sy mond het ek bewaar meer as my eie wet.  Maar Hy bly onveranderlik Een – wie sal Hom dan teëhou?  En wat sy siel begeer, dit doen Hy.  Want Hy sal volbring wat oor my besluit is, en baie sulke dinge is daar by Hom.  Daarom is ek verskrik voor sy aangesig; as ek daarop ag gee, vrees ek vir Hom.  En God het my hart week gemaak, en die Almagtige het my verskrik.  Want ek vergaan nie vanweë die duisternis of vanweë my eie aangesig wat deur donkerheid oordek is nie.” (Job 23).

 

Sê jy:  “Ek gehoorsaam v.7-8 maar dit voel steeds of die hemel stil is – God antwoord my nie”?  Daar is baie redes hoekom dit so kan wees.  Hier is ‘n paar.

 

  1. Jy het jou nie van jou sonde bekeer nie, jy is bitter, bid met selfsugtige begeertes, leef in onmin met jou huweliksmaat, of jy is ongered (Jesaja 59:1-2, Matteus 6:14-15, Jakobus 4:3, 1 Petrus 3:7, 12).
  2. Jy bid nie in Jesus se Naam, volgens sy wil, of in ooreenstemming met sy Woord nie.  Jy is kleingelowig en gehoorsaam nie sy Woord nie (Matteus 21:22, Johannes 14:14, 15:7, 1 Johannes 3:22, 5:14-15).  In die konteks van ons teks sê Jesus ons moet bid vir ‘n regte gesindheid (7:1-6).  Net die Here kan vir ons die genade en krag gee om Matteus 5-7 uit te voer, en daarom beteken ons teks dat ons vir híérdie dinge moet vra.  Die belofte van beantwoorde gebed is ook net vir Jesus se dissipels (sien 5:1), want in v.11 praat Jesus van julle Vader.
  3. Jy het nodig om te volhard.  Onthou dat ons teks letterlik beteken dat jy moet aanhou vra, soek, en klop.  Jesus vertel twee gelykenisse om volharding in gebed te leer (sien Lukas 11:5-8, 18:1-8).  “En julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart.” (Jeremia 29:13).  “Soek die Here terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is.  Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die Here bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees; en tot onse God, want Hy vergeef menigvuldiglik.” (Jesaja 55:6-7).  “Vra na die Here en sy sterkte; soek sy aangesig altyddeur.” (Psalm 105:4).  SOEK die Here deur geloof, gebed, vas, die Woord, bekering, en gehoorsaamheid (sien 1 Kronieke 28:9, 2 Kronieke 15:2, 12-13, 15, Daniël 9:3, Hebreërs 11:6).  KLOP met volharding, vurigheid, begeerte, erns. dringendheid, vas, herinnering aan God se beloftes, en ‘n versoek dat ander saam met jou bid.  Onthou dat die Here baie vrygewig en gewillig is.  Hy is goed en magtig om te gee wat jy vra.
  4. Ons teks sê dat die Here sal antwoord as jy bid.  Iemand wat twyfel glo nie God is goed, sterk, en gewillig om hom te help nie.  Hy moenie iets van die Here verwag nie (Jakobus 1:6-7).
  5. Jou gesindheid is verkeerd.  Daar is gelowiges wat dink dis arrogant en ongeestelik om dinge van God te vra.  “Ons moet Hom net loof en dank” is wat hulle sê.  Hulle is verkeerd want iemand wat vra gehoorsaam v.7-8 en erken ook daardeur sy afhanklikheid van God.  Die Christen wat vra erken God se goedheid en krag en verheerlik Hom:  “En wat julle ook al in my Naam mag vra, dit sal Ek doen, sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word.” (Johannes 14:13, eie beklemtoning).

 

My beste vriend het vertel hoe hy en sy broer as kinders sand in hopies laat staan het.  In een hopie het hulle ‘n klip gesit.  Hulle het die hopies omgeskop en dan vir ‘n ander kind gesê:  “Kom skop saam met ons die hopies om.”  Die kind sou natuurlik die sandhoop met die klip in probeer omskop het.  Eina!

 

My broer was op ‘n weermagkamp.  By een ete was die vleis baie taai.  Ná die ete het die offisier vir hulle die opgestopte blou aap gewys.  Yuk!

 

Jesus gee hierdie lering in Galilea (4:12-5:1).  Vir ‘n Jood langs die see van Galilea was die brood en vis waarvan ons in v.9-10 lees stapelvoedsel (sien die vermeerdering van die brood en die vis in Matteus 14-15).  Dis seker nie moeilik om ‘n klein kind uit te vang deur ‘n plat woestynklip te gee as hy vir brood vra nie (hy sal sy tande seermaak as hy dit moet byt).  Hy sal nie gou weet jy gee vir hom ‘n slang as hy vir ‘n paling vra nie (dis veral erg as hy ‘n giftinge slang vat).  Maar geen aardse pa sal dit doen nie – al is hulle ook sleg weens hulle sondige natuur en in vergelyking met die volmaakte hemelse Vader.

 

God is nie ‘n moedswillige en ‘spiteful kill-joy’ wat uit die hemel lag as ons ons tande op ‘n broodvormige klip breek nie.  God gee vir ons wat ons vra.  Dalk maak jy beswaar:  “Ek het vir iets gevra en God het vir my ‘n klip gegee toe ek vir brood vra.”  Nee Hy het nie.  Jy het vir ‘n klip en ‘n slang gevra, maar Hy het vir jou brood en vis gegee.  Paulus se gebed illustreer dit:  “En dat ek my oor die voortreflikheid van die openbaringe nie sou verhef nie, is my ‘n doring in die vlees gegee, ‘n engel van die Satan, om my met die vuis te slaan, dat ek my nie sou verhef nie.  Hieroor het ek die Here drie maal gebid, dat hy van my sou wyk.  En Hy het vir my gesê:  My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring.  Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon.  Daarom het ek behae in swakhede, in mishandelinge, in node, in vervolginge, in benoudhede, om Christus wil.  Want as ek swak is, dan is ek sterk.” (2 Korintiërs 12:7-10).

 

Die duiwel belowe goeie dinge maar doen jou altyd in (soos vir Adam en Eva in Genesis 3).  Ons goeie God, daarenteen, gee net wat goed is.  Hy belowe die beste en gee dikwels vir ons meer.  Hy gee net goedheid en guns aan ons, hou geen goeie ding terug nie, ontferm Hom oor ons, sal ons nooit vergeet nie, bewys graag barmhartigheid aan ons, gee die Heilige Gees vir ons, skenk Jesus en alees saam met Hom, en gee elke goeie gawe uit die hemel  (Psalm 23:6, 84:12, 103:13, Jesaja 49:15, Miga 7:18, Lukas 11:13, Romeine 8:32, Jakobus 1:17).

 

Ek hoor nog ‘n beswaar:  “Ek het vir goeie dinge gevra, maar die Here het my nie geantwoord nie.”  Ons moet goeie dinge definieer.  Prosperity predikers sal sê gesondheid, geld, en voorspoed is goeie dinge.  Maar selfs dinge wat sleg lyk kan voordelig wees vir ons.  ‘n Pakslae en bitter medisyne lyk sleg, maar is goed vir kinders.  Die kruis lyk donker, maar daar het goed daaruit voortgekom.  Dit is ook so dat dinge wat goed lyk soms tot ons nadeel kan wees.  Soek die volgende tekste op om te sien hoe geld en rykdom tot mense se nadeel was:  Deuteronomium 8, Spreuke 30:8-9, 1 Timoteus 6:10, Openbaring 3:16-17).

 

Die Here gee die goeie dinge vir die wat vra.  Hier is ‘n paar goeie dinge wat die Here aan ons gegee het:  sy Seun, die Heilige Gees, die Woord, die hemel, gebed, die liggaam van Christus, geestelike gawes, vriende, kos, geld, ‘n huis, vergifnis, aanneming, regverdigmaking, heiligmaking, kinders (Psalm 127:3), ‘n huweliksmaat (Spreuke 18:22), verlossing, ouers, oupas en oumas, tegnologie, ‘n geheue, lewe, paaie, karre, skole, polisie, mediese hulp, lyding (Jakobus 1:2-4), alles (Romeine 8:28). 

 

Deur Jesus se kruisdood en die Heilige Gees se werk in jou is God jou Vader.  Deur hierdie Vader-kind verhouding kan jy nou vra en ontvang.  Laat dit tog vir jou ‘n aansporing wees om meer te bid.

Advertisements

Oor suksesvolle sakemanne en mooi vroue

Woman with pig snout

Suksesvolle sakemanne

In Sherwood Baptist Church se film, Fly Wheel, is Jay Austin ‘n skelm tweedehandse motorhandelaar.  Hy buit mense uit en doen hulle in.  Wanneer hy later tot bekering kom doen hy eerlike besigheid en geniet hy God se seën.  Laasweek het ‘n vrou my vertel van ‘n kwekery wat Royal Blue Agapanthes plante aan haar verkoop het.  Toe die plante blom was dit nie Royal Blue nie, maar ligpers.  Toe sy dit wou terugneem het die kwekery nie meer bestaan nie.

 

In Salomo se tyd sou oneerlike sakemanne veral die armes, weeskinders, weduwees, en blindes kul.  In die eenkant van die winkeleienaar se skaal het hy ‘n klip gehad.  Kom ons gestel die klip het 1 kilogram geweeg.  As iemand 1 kilogram koring wou koop sou die verkoopsman sy klip in die eenkant van die skaal hê, en koring in die ander kant afmeet.  Sodra die skaal gelyk gebalanseer het sou hy die 1 kilogram koring in ‘n sakkie sit en verkoop.  Maar daar is skelm sakemanne.  Hulle is die tipe wat ‘n 950 gram klip met ‘n 1 kilogram etiket op die skaal sit.  Jy kan skaars die verskil tussen dít en ‘n 1 kilogram klip sien.  Hy verkoop dus eintlik 950 gram koring teen die prys van ‘n kilogram.  En as hy in ‘n maand 500 kliënte gekroek het maak hy ‘n hele paar shekels skelm wins.

 

Daar is ook ander maniere waarop hulle kliënte gekroek het.  Jy kan die 1 kilogram klip van onder af uithol en toesmeer.  Die blinde vrou sal nie eers weet sy word ingedoen nie, weeskinders is te onkundig, en die weduwee kan nie stry nie – sy kan mos sien die klip is die regte grootte.  ‘n Slinkse sakeman sal ook sy duim op die skaal druk om die koring swaarder te laat weeg as wat dit is.  God is regverdig en waaragtig en haat skelm besigheid.  Die wet, wysheidsgeskrifte, en die profete wys dit.

 

“Julle mag geen onreg doen in die gereg, in lengtemaat, gewig of inhoudsmaat nie.  Julle moet ‘n regte weegskaal hê, regte weegstene, ‘n regte efa en ‘n regte hin.  Ek is die Here julle God wat julle uit Egipteland uitgelei het.” (Levitikus 19:35-36).

 

“Jy mag nie twee soorte weegstene, ‘n grote en ‘n kleintjie, in jou sak hê nie.  Jy mag in jou huis nie twee soorte efas, ‘n grote en ‘n kleintjie, hê nie.  Jy moet ‘n volle en regte gewig hê; jy moet ‘n volle en regte efa hê; sodat jou dae verleng mag word in die land wat die Here jou God jou sal gee.  Want almal wat hierdie dinge doen, is ‘n gruwel vir die Here jou God – almal wat onreg doen.” (Deuteronomium 25:13-16).

 

“‘n Valse weegskaal is vir die Here ‘n gruwel, maar in ‘n volle gewig het Hy behae.” (Spreuke 11:1).

 

“‘n Regte weegtoestel en weegskaal kom van die Here, al die weegstene in die sak is sy werk.” (Spreuke 16:11).

 

“Twee soorte gewig, twee soorte maat – hulle altwee is vir die Here ‘n gruwel…Twee soorte gewig is vir die Here ‘n gruwel, en ‘n valse weegskaal is nie goed nie.” (Spreuke 20:10, 23).

 

“Sal Ek rein kan wees by ‘n valse weegskaal en by ‘n sak vol bedrieglike gewigte?” (Miga 6:11).

 

Elke dag is daar mense (ongelukkig ook mense wat sê hulle is Christene) wat lieg en bedrieg in die besigheidsektor.  Party tweedehandse motorhandelaars betaal jou ‘n appel en ‘n ui vir jou kar (alhoewel dit baie meer werd is).  Die persoon wat by dié handelaar koop betaal ‘n arm en ‘n been vir dieselfde kar.  By tweedehandse winkels word jy op dieselfde manier ingedoen.  Een sakeman in my tuisdorp het stukkende goedere aan kliënte verkoop.  Baie winkels verkoop ‘varsprodukte’ wat al sy vervaldatum bereik het.  Ander vra net eenvoudig te veel vir hulle diens.  Omtrent ses jaar gelede moes ek R800 betaal vir ‘n taxi van Durban lughawe na Port Shepstone.  Een stop vulstasies langs die snelweg vra tot R12 of meer vir ‘n Tempo of Lunch Bar.  Sommige banke tap jou leeg met die bankkoste en rente wat hulle vra.  Ander verkoop ‘n ‘dud’ vir honderde rande, en wanneer jy dit wil terugneem bestaan daar nie so ‘n besigheid nie.  Ander belowe ‘n winskopie, maar vang mense uit met die fynskrif onder aan die bladsy.  Ons kerk het ‘n fotostaatmasjien so gekoop.  Die masjien se waarde is ongeveer R5000.  Ons het meer as R50 000 afbetaal!  Baie besighede is skuldig aan vals advertensie:  die burger lyk so groot soos jou gesig as jy dit op die spyskaart sien, maar as jy dit kry is dit so klein soos jou handpalm.  Daar is heelwat sakemanne wat sê die produk kos R350.  Jy dink dis veels te duur en stry die man af tot by R250.  Wanneer jy uitstap dink jy dit was ‘n winskopie.  Maar die waarheid is dat jy dit elders kon kry vir R160.  Jy’s geflous maar nóú is dit te laat.  Sommige jakkalse sal jou oortuig om twee vir die prys van een te koop en so spandeer jy geld wat jy nie het nie.  En dan die algemeenste van almal:  die winkel soek jou geld en laat toe dat jy duisende rande se skuld maak.

 

Maar kan jy nie sommige van hierdie metodes gebruik as jou besigheid sukkel nie?  Vertrou op die Here en nie op slim metodes nie.  God se guns sal oor jou skyn as jy eerlik besigheid doen.  As jy skelm is sal Hy jou teenstaan.  Uiteindelik sal jy ondergaan.  Onthou dat God alles sien.  Hy sien nie net jou dade nie maar ook jou hart.  Hy ken jou gedagtes, motiewe, en begeertes.  “Die wat verkeerd van hart is, is vir die Here ‘n gruwel; maar Hy het behae in die wat regskape van wandel is.” (Spreuke 11:20).  “Elke hoogmoedige van hart is vir die Here ‘n gruwel; sekerlik, hy sal nie ongestraf bly nie.” (Spreuke 16:5).  Die Here sal ons motiewe oordeel (1 Korintiërs 4:5).  As jy opregte motiewe het en die goeie nastreef sal jy God en mense se guns hê:  “Wie die goeie nastreef, soek wat welgevallig is…En Jesus het toegeneem in wysheid en grootte en in genade by God en die mense.” (Spreuke 11:27a, Lukas 2:52).  As jy kwaad soek vir ander sal kwaad en straf jou vervolg:  “…hy wat die kwaad soek, oor hom sal dit kom.” (Spreuke 11:27b).

 

Tot jou hart nie skoon is nie sal God nie met guns na jou en jou besigheid kyk nie.  Om ‘n skoon hart te hê moet jy weergebore wees.  God moet jou hart van klip uithaal en aan jou ‘n hart van vlees gee (Esegiël 36:26).  God se guns is oor sy Seun Jesus (Matteus 3:17).  As jy deur geloof met Jesus verenig is sal God ‘n welbehae in jou hê en jou beloon (Hebreërs 11:6).

 

Mooi vroue

Op ‘n episode van Master Chef USA het die beoordeelaars drie deelnemers vorentoe laat kom.  Al drie het gesê dat hulle geweet het hulle is beter as almal – hulle het verwag dat húlle die drie sou wees wat vorentoe geroep word.  Maar die beoordeelaars se uitspraak het hulle geskok:  “Julle het die slegste kos gemaak wat ons in ‘n baie lang tyd geproe het.”  Hulle was hoogmoedig en het baie hard aarde toe gekom.  Koning Nebukadnesar was so.  Hy het gedink hy’s die kat (of die leeu?) se snor.  Hy het homself verhef en in sy rykdom geroem.  God het hom verneder sodat hy vir sewe tydperke lank in die veld gebly het gras soos ‘n dier geëet het (sien Daniël 4).  Ná dit het hy geweet:  “…Hy kan verneder die wat in hulle trotsheid wandel.” (Daniël 4:37).  Wie die hoogste klim val die verste.

 

Spreuke 11:2a sê:  “Kom die vermetelheid, dan kom die skande…”  Die werkwoord staan in ‘n perfektum en wys dat hierdie nie maar net ‘n hoogmoedige gedagte is nie, maar eerder ‘n hoogmoedige toestand.  As jy hoogmoedig is sal jy val en beskaam word.  “Trotsheid kom voor die verbreking, en hoogmoed kom voor die val.” (Spreuke 16:18).  Wees dus nederig – dís wysheid:  “…by die beskeidenes is wysheid.” (Spreuke 11:2b).  Die profeet sê:  “Hy het jou bekend gemaak, o mens, wat goed is; en wat vra die Here van jou anders as om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel met jou God?” (Miga 6:8).  Wil jy eer van God verkry?  Haat hoogmoed en wees nederig.  Fokus op innerlike skoonheid eerder as op die uiterlike:  “’n Aanvallige vrou verkry eer…” (Spreuke 11:16a).[1]  As ‘n mooi vrou nie oor innerlike skoonheid beskik nie is sy ‘n lelike aap wat ‘n goue ring dra.  Haar uiterlike skoonheid sonder innerlike skoonheid is soos ‘n goue ring in ‘n vark se snoet (onthou dat varke onrein is vir Jode):  “‘n Goue ring in ‘n vark se snuit, so is ‘n vrou wat mooi is maar sonder beleid.” (Spreuke 11:22).  Ek het gesien hoe ‘n beoordelaar aan ‘n Amerikaanse skoonheidsfinalis vra:  “’n Vyfde van ons populasie kan nie Amerika op ‘n landkaart uitwys nie.  Wat dink jy is die rede?”  Haar antwoord was:  “Baie mense in Amerika het seker nie landkaarte nie.  Ek glo ons opvoedkunde moet lande soos Suid-Afrika, Irak, en Asiese lande help, sodat ons Amerika se toekoms kan opbou.”  Net soos dié vrou se skoonheid ongedaan gemaak word deur haar onkunde, word baie vroue se uiterlike skoonheid lelik omdat daar geen innerlike skoonheid, oordeelkundigheid, smaak, onderskeid, of wysheid is nie (Spreuke 11:22b).

 

‘n Goue ring maak nie ‘n vark se snoet snoet waardevol of rein nie.  Uiterlike versiering aan ‘n vrou kan nie dit wat inherent lelik is mooi maak nie.  ‘n Les uit hierdie vers aan mans:  Moenie vir uiterlike skoonheid val as ‘n vrou nie innerlik skoon is nie.  ‘n Les aan vroue:  daar is geen blywende eer in mode tydskrif-teologie nie.  Die Bybel leer anders as die wêreld.  “Maar die Here sê vir Samuel:  Kyk nie na sy voorkoms en sy hoë gestalte nie, want Ek ag hom te gering.  Want nie wat die méns sien, sien God nie; want die mens sien aan wat voor oë is, maar die Here sien die hart aan.” (1 Samuel 16:7).  “…God ken julle harte; want wat by die mens hoog geag word, is ‘n gruwel voor God.” (Lukas 16:15).  “Julle versiering moet nie uiterlik wees nie: haarvlegtery en omhang van goud en aantrek van klere nie, maar die verborge mens van die hart in die onverganklike versiering van ‘n sagmoedige en stille gees, wat baie kosbaar is voor God.” (1 Petrus 3:3-4).  Dís wat God soek.  Jesus belowe om sy kerk innerlik skoon en rein te was, sodat ons aantreklik vir Hom kan wees op die oordeelsdag (Efesiërs 5:25-27).  Dít is waar alle skoonheid ontspring:  in die evangelie van Jesus Christus.  Enige ongelowige vrou (selfs die mooistes) het nie ‘n begrip van ware skoonheid nie.  Dis dié wat gered is wat ‘n basis vir ware skoonheid het.


[1] Hierdie vers is dubbelsinnig.  Die teks kan beteken dat ‘n vrou se uiterlike voorkoms nie so belangrik is soos die innerlike voorkoms nie.  As sy innerlik mooi is sal sy eer verkry.  Die geweldadige man kry wel rykdom (Spreuke 11:16b), maar hy verkry nie eer soos ‘n vrou wat innerlik skoon is nie (Spreuke 11:16a).  Die vers kan ook beteken dat ‘n vrou haar sjarme en mooi voorkoms afwys om mans se guns te kry, terwyl ‘n geweldadige man sy krag gebruik om rykdom te verkry.  Ek volg die eersgenoemde interpretasie.