Weet God regtig alles en maak dit saak?

Stars and sand

1 Vir die musiekleier.  ‘n Psalm van Dawid.  Here, U deurgrond en ken my.  2 U ken my sit en my opstaan; U verstaan van ver my gedagte. 3 U deurvors my gaan en my lê, en U is met al my weë goed bekend. 4 Want daar is nog geen woord op my tong nie—of U, Here, U ken dit geheel en al.” (Psalm 139:1-4).

 

Party Christene sal dadelik antwoord:  “Natuurlik weet God alles – hoekom doen jy eers die moeite om so iets te vra?”  Wel, vir sommige kerkmense is dit níé so voor die hand liggend nie.  Daar is groot teoloë wat anders dink; teoloë wat sê dat God nie noodwendig weet wat ons volgende aksie gaan wees nie.  God kan raai, maar Hy kan nie met enige sekerheid wéét nie.  Maar wat sê die Bybel?

 

In sy boek oor prediking, vertel John MacArthur van ‘n student wat graag ‘n insekdeskundige wou word.  In een van sy eerste klasse het ‘n professor van igtiologie (‘n visdeskundige) gesê dat hy vir ‘n uur lank ‘n dooie vis moes bestudeer, en alles neerskryf wat hy raakgesien het.  ‘n Uur! hoe sou hy dit ooit regkry?  Nadat hy sy obeservasies neergeskryf het, het die professor daarna gekyk en gesê:  “Ek sal oor vyf ure terug wees – skryf alles neer wat jy raaksien.”  Sjoe!  Hy het dit gedoen.  En toe die volgende dag weer.  En toe weer.  Na ‘n week het hy folios vol geskryf.  Hy het nooit gedink dat hy so baie dinge sou kon opmerk nie.

 

Maar die student se kennis van daardie vis is niks in vergelyking met God se kennis van jou nie (v.1).  So te sê al die werkwoorde in v.1-4 staan in ‘n perfektum – ‘n afgehandelde aksie in die verlede.  God se kennis van jou is nie soos ‘n rekenaar se ‘kennis’ van ‘n moeilike formule nie.  Die rekenaar moet eers deur sy geheue soek (al gebeur dit blitsvinnig) om die antwoord te kry.  God weet alles dadelik en gelyk.  Sy kennis van jou is ‘n afgehandelde aksie in die ewige verlede.  Hy weet in ‘n enkele oomblik alles van jou, hoeveel sandkorrels daar in die wêreld is, hoeveel sterre daar in die hemel is, en alles anders wat moontlik geweet kán word. Die Psalmis sê:  “Hy bepaal die getal van die sterre; Hy gee hulle almal name.  Onse Here is groot en ryk aan krag; sy verstand is oneindig.” (Psalm 147:4-5).  Met ander woorde, die getal van die sterre hét ‘n einde; God se gedagtes het nie.  Jesus het gesê:  “En van julle is selfs die hare van die hoof almal getel.” (Matteus 10:30).  ‘n Beter vertaling sou sê dat ons hare genommer is.  Dis nie asof die Here moes tel om te weet hoeveel daar is nie.  Hy het in een oomblik ‘n nommer vir elke haar gegee, en weet as nommer 9476 in die stort wegspoel.  Wat ‘n duisend jaar terug gebeur het is vir God so helder soos gister:  “Maar laat hierdie een ding julle nie ontgaan nie, geliefdes, dat een dag by die Here soos duisend jaar is en duisend jaar soos een dag.” (2 Petrus 3:8).  Moenie ‘n fout maak om te dink dat God se kennis van jou lewe abstrak is nie.  Hy het ‘n liefdevolle kennis van die mens, en in besonder van sy kinders:  “U…ken my.” (v.1) en nie net die dinge aangaande my nie.  Maar beste van alles is dít:  God ken elke detail van jou, en tog het Hy jou lief. (John MacArthur, God – Coming Face to Face with his Majesty, Victor Books, WHEATON, 1993, p.53).

 

Toe Hagar in trane onder ‘n boom sit, het God haar gesien en vertroos (Genesis 21:16-17).  Toe die Israeliete deur die Egiptenare verdruk is, het God dit gesien en Moses gestuur om hulle te verlos (Eksodus 2:23-25).  God sien en weet ook alles van jou.  In Psalm 139:1-4 lig Dawid vier areas van ons lewens uit om dit te wys:

 

[1] God stel baie belang in jou lewe en is betrokke in elke aksie (v.2a).  In Psalm 91:11-12 lees ons dat God selfs sy engele stuur om te keer dat jy jou voet teen ‘n klip sal stamp.  Hulle sal jou bewaar in al jou weë.  God sien as jy moeg is en gaan sit, of as jy uitgerus voel en opstaan (v.2a).  Jy kan nie sê dat God nie weet of omgee wat jy deurmaak nie, want Hy weet alles van jou.  Laat v.2a vir jou ‘n troos wees, maar laat dit ook dien as ‘n teenvoeter vir sonde.  God het vir heilige koning Hiskia se vyand gesê:  “Maar Ek ken jou sit en jou uitgaan en jou ingaan en hoe jy teen My raas.” (2 Konings 19:27).  Om te sorg dat hy nie egbreuk sou pleeg nie, het Job gesê:  “Sien Hy nie my weë nie, en tel Hy nie al my voetstappe nie?” (Job 31:4).

 

[2] God ken jou gedagtes van ver af (v.2b) – of jy in Kaapstad of Beijing is, of jy in 3700 v.C. of 2013 n.C. leef.  In Matteus 9:4 staan daar:  “En toe Jesus merk wat hulle gedagtes was, sê Hy:  Waarom bedink julle slegte dinge in julle harte?”  Jesus het geweet wat die Fariseërs dink, en dit bevestig natuurlik dat Hy die God van Psalm 139:2b is.  Ons gedagtes is vir God so duidelik dat Thomas Watson sê:  “Thoughts speak as loud in God’s ears as words do in ours.” (A Body of Divinity, The Banner of Truth Trust, EDINBURGH, 1970, 1974, p.55).  Omdat God selfs jou gedagtes ken, moet jy troos vind dat Hy jou gebede kan ‘hoor’ selfs wanneer jy nie ‘n woord uiter nie.  Maar hier moet die goddelose mens vrees.  God sal Hom oordeel vir die sondige dinge wat Hy dink.  Niks kan vir God se oë weggesteek word nie:  “in die dag wanneer God die verborge dinge van die mense deur Jesus Christus sal oordeel, volgens my evangelie.” (Romeine 2:16).  Hierdie waarheid moet jou wegdryf van sonde af.  Om wellustig te wees, is soos om egbreuk te pleeg voor God se aangesig.  Om bitter te wees, is soos om moord te pleeg voor Hom.  Onthou dit.

 

[3] God ken al jou weë:  jou daaglikse roetine en gewoontes (v.3).  “En daar is geen skepsel onsigbaar voor Hom nie, maar alles is oop en bloot voor die oë van Hom met wie ons te doen het.” (Hebreërs 4:13).  God se oë deursoek waar jy loop en lê soos ‘n boer wat die kaf van die koring skei – Hy weet presies watse goeie en slegte dinge jy doen.  Omdat dít waar is, hoef jy nie slapeloos wakker te lê nie.  Jy hoef nie te bang te wees as jy in die nag gaan slaap of in die dag rondgaan nie.  Maar jy moet ook nie in ‘n bed klim om te sondig nie, want God sien jou (v.3).  Die kinderliedjie waarsku:  “O, be careful little feet where you go…For the Father up above, is looking down in love.”  God sien wat jy doen en waar jy gaan.  Moet dan nie skynheilig wees en voor ander wil maak asof jy iemand anders is nie.  Wees opreg en deursigtig, want die Here sien wie en wat jy regtig is.

 

[4] God ken jou woorde voordat jy hulle sê (v.4).  God weet selfs wat jy wóú gesê en gedoen het:  “Sal die burgers van Kehíla my in sy hand uitlewer?  Sal Saul afkom soos u kneg verneem het?  Here, God van Israel, gee u kneg dit tog te kenne!  Toe antwoord die Here:  Hy sal afkom.  Daarop sê Dawid:  Sal die burgers van Kehíla my en my manne in die hand van Saul uitlewer?  En die Here antwoord:  Hulle sal uitlewer.  En Dawid het klaargemaak met sy manne, omtrent ses honderd man—hulle het uit Kehíla uitgetrek en rondgetrek waar hulle maar kon.  Toe Saul berig ontvang dat Dawid uit Kehíla ontsnap het, het hy opgehou om uit te trek.” (1 Samuel 23:11-13).  God het geweet wat die inwoners van hierdie stad sóú gedoen het.  Kort voor Elisa dood is, het koning Joas hom besoek.  Die profeet het vir die koning gesê om pyle in die grond in te skiet.  Joas het dit gedoen, maar ná die derde keer opgehou.  2 Konings 13:19 wys vir ons Elisa se reaksie:  “Daarop word die man van God baie kwaad vir hom en sê:  Jy moes vyf of ses maal geslaan het; dan sou jy die Arameërs volkome verslaan het; maar nou sal jy die Arameërs drie maal verslaan.”  Jesus het eenkeer gesê:  “Wee jou, Górasin, wee jou, Betsáida! want as in Tirus en Sidon die kragtige dade plaasgevind het wat in julle plaasgevind het, sou hulle hul lankal in sak en as bekeer het.” (Matteus 11:21).

 

Astronome ontdek gereeld nuwe sterre stelsels.  In die 1930’s het wetenskaplikes uitgevind dat die coelacanth vis nie uitgesterf het nie.  God is nie so nie.  Hy weet alles en leer nooit iets nuut nie.  Hy vergeet ook niks nie, en is nooit verward, teleurgesteld, of verras nie.

 

Miskien teken jy beswaar aan:  “Hoekom sê God dan in Genesis 6 dat Hy berou gehad het dat Hy die mens gemaak het?  As God geweet het die mens gaan sondig, sou Hy mos nie jammer gewees het dat Hy hom gemaak het nie?”  God is ‘n Persoon en nie ‘n masjien nie.  Hy het ware emosies.  Die feit dat jy weet jou babaseun sal oud word en doodgaan, beteken nie dat jou hartseer ‘fake’ is wanneer jy by sy graf huil nie.

 

Hoor ek nóg ‘n beswaar:  “Maar as God alles vooruit weet is dit nie mý skuld as ek sonde doen nie – Hý het geweet ek gaan sondig en is die outeur van sonde.”?  ‘n Trein kan net op die spore ry wat die ingeneur gebou het.  Maar dit is die drywer se eie keuse as hy Kaapstad toe wil ry.  Net so het God alles vir ons lewens uitgelê (die spore), maar dit is nie sy skuld as ons kies om sonde te doen nie (Kaapstad toe te ry).  Petrus sê dit só:  “Hom, wat deur die bepaalde raad en voorkennis van God oorgelewer is, het julle deur die hande van goddelose manne geneem en gekruisig en omgebring” (Handelinge 2:23).  God het geweet en beplan dat Jesus gekruisig sal word, maar tog was die Jode (en nie God nie) skuldig aan die moord.  God het die treinspoor ontwerp en gebou waarbuite hulle nie kon beweeg nie.  En tog het hulle self gekies om die spoor op ‘n verkeerde roete te volg.[1]  Moenie God se kennis wil uitdaag en bevraagteken nie.  Laat dit eerder vir jou ‘n bron van vrede en troos word.

 

Dalk is jy baie bewus van jou sonde, en maak God se alwetendheid jou bang.  Dan moet jy jou bekeer.  Jy moet die evangelie glo:  God is heilig en haat jou sonde.  Jy verdien sy oordeel en straf.  God het ‘n plan gemaak om sondaars van die straf te verlos.  Hy het ‘n mens geword en perfek gelewe.  Hy het die straf namens helverdiende sondaars op Homself geneem aan die kruis.  Hy het gesterf en weer opgestaan uit die dood.  As jy jou van jou sonde bekeer, die waarheid van die evangelie glo, en volkome op Christus vertrou vir verlossing, dan sal jy gered word.

 


[1] Ek probeer ’n eenvoudige punt uitlig, en daarom moet my illustrasie nie op elke punt deurgetrek word nie.  ’n Mens kan sê dat die ingeneur geweet en beplan het dat die spoor tot in Kaapstad moet loop, en daarom is hý verantwoordelik as mense daarheen wil reis.  Geen illustrasie kan God se absolute soewereiniteit én die volkome verantwoordelikheid van die mens 100% verduidelik nie.

Advertisements

Hulp vir geestelike groei

Tree with deep roots

1 Een wat die tug liefhet, het kennis lief; maar wie die teregwysing haat, is dom.  2 Die goeie verkry ‘n welbehae van die HERE, maar Hy veroordeel ‘n slinkse man.  3 Geen mens kan deur goddeloosheid bestaan nie, maar die wortel van die regverdiges wankel nie. 4 ‘n Deugsame vrou is die kroon van haar man, maar een wat skande maak, is soos ‘n verrotting in sy gebeente. 5 Die gedagtes van die regverdiges is wat reg is, die slim planne van die goddelose is bedrog.  6 Die woorde van die goddelose is om te loer op bloed, maar die mond van die opregtes red hulle.  7 Die goddelose mense word omgekeer, en hulle is daar nie meer nie; maar die huis van die regverdiges bly staan.  Ooreenkomstig sy insig word ‘n man geprys; maar ‘n verkeerde van hart sal verag word.” (Spreuke 11:1-7).

 

Hierdie verse is nie ’n handboek vir geestelike groei nie, en staan ook nie in ’n spesifieke volgorde van belangrikheid nie.  Maar ons kan iets oor geestelike groei hieruit leer.

 

Aanvaar tug (v.1)

C.J. Mahaney het ‘n boek geskryf, waarin hy gelowiges aanbeveel om te vra dat ander Christene hulle moet teregwys.  “Dit kweek nederigheid”, sê hy, “want jy dink nie dat jy bo verdenking en kritiek staan nie – jy besef dat jy tekortkominge het.”  Koning Asa en Amasia kon nie teregwysing verdra nie, en het aggressief gereageer toe hulle getugtig is (2 Kronieke 16:10, 25:14-16).  Iemand wat dink dat hy nie gekritiseer kan word nie is so dom en dig soos ‘n dier:  “…wie teregwysing haat, is dom.”  Psalm 73:22 gebruik dieselfde Hebreeuse woord:  “toe was ék dom en het niks geweet nie; ek was ‘n dier by U.”  As ons die tug van God (soms deur die kerk of ons ouers) aanvaar, leer ons uit ons foute en kan ons verander (v.1a).  Tug leer ons kennis oor God, mense, die lewe en die wêreld.  Moenie jouself verskoon wanneer jy tereggewys word nie.  Moet ook nie tug verag, sodat jy alewig die maklike uitweg soek nie.  Moenie streef na ‘n pyn vrye lewe nie.  Aanvaar tug.  Dit sal jou help om te groei.

 

Soek God se guns (v.2)

Jesus is God se geliefde Seun in wie Hy ‘n welbehae het (Matteus 3:16).  Vrees God se frons meer as mense s’n, en soek sy guns meer as die glimlag van mense (v.2).  Deur sy kruisdood het Jesus ons oordeel verkry, sodat ons God se guns kon hê.  Dit is die evangelie in v.2.  Bou daarop.  As jy God se guns soek en Hom alleen vrees sal jy groei.

 

Verdiep jou wortels (v.3)

Goddelose mense is soos onkruid wat maklik uitgetrek word.  Die regverdige is soos ‘n groot eikeboom met diep wortels.  Selfs die sterkste winde kan hom nie vernietig nie:  “Geen mens kan deur goddeloosheid bestaan nie, maar die wortel van die regverdiges wankel nie.” (v.3).  Die Here het vir Jeremia gesê:  “Kyk, Ek stel jou vandag aan oor die nasies en oor die koninkryke om uit te ruk en om te gooi en te vernietig en te verwoes, om te bou en te plant.” (Jeremia 1:10).  Wat God geplant sal hou.  Jy kan die regverdige gelyk met die grond sny; hy sal weer uitspruit soos ‘n boom.  “Want vir ‘n boom is daar verwagting:  as dit afgekap word, loop dit weer uit en sy loot ontbreek nie.  As sy wortel oud word in die aarde en sy stam sterf in die stof – van die reuk van die water spruit dit weer uit, en dit maak ‘n tak soos ‘n jong plantjie.” (Job 14:7-9).  Israel was maar ‘n klein en niksseggende volkie.  Maar God het ‘n takkie laat uitspruit uit die stomp wat afgekap was – Jesus (Jesaja 11:1).  Jesus is afgekap soos ‘n boom, maar het weer opgestaan uit die dood.  Dit het al baie keer gelyk of die kerk op haar einde is, maar omdat haar wortels diep is, het sy weer uitgespruit.  Dit is omdat baie kerkgangers nie diep wortels het nie, dat hulle gou weer sterf:  “maar hy het geen wortel in homself nie, hy is net vir ‘n tyd, en as daar verdrukking en vervolging kom ter wille van die woord, struikel hy dadelik.” (Matteus 13:21).  Verdiep jou wortels, sodat jy geestelik kan groei.

 

Kies ‘n goeie maat (v.4)

Almal van ons het seker al ‘n slegte predikantsvrou gesien; ‘n vrou wat haar man se bediening verongeluk.  ‘n Vrou kan haar man maak of breek; sy geestelike groei bevorder of verhinder (en net so ‘n man ook vir sy vrou):  “‘n Deugsame vrou is die kroon van haar man, maar een wat skande maak, is soos ‘n verrotting in sy gebeente.” (v.4).  As jy ‘n lewensmaat soek, wil jy eerder uitkyk vir een met karakter, as vir een wat mooi is sónder karakter.  So leer v.4.  In 31:10 sê Lemuel se ma:  “Wie sal ‘n deugsame vrou vind? want haar waarde is ver bo korale.”  (sien Rut 3:11 vir ‘n deugsame vrou).  Volgens Paulus is “die vrou is die heerlikheid van die man.” (1 Korintiërs 11:7) – of ‘die kroon’ soos Salomo in v.4 sê.  Agter elke suksesvolle man staan ‘n goeie vrou.  As ‘n man goed lyk by sy werk en in die samelewing, is dit baie dikwels as gevolg van ‘n goeie vrou wat agter die skerms werk.  Sonder die klankman en administrasie personeel, kan die popster se konsert nie ‘n sukses wees nie.  Die vrou doen baie keer die harde werk, sodat haar man die eer kan kry.

 

Maar ‘n slegte vrou – O gaats!  Het jy ooit gedink dat siekte en pyne die gevolg van ‘n slegte vrou en huwelik kan wees?  Salomo sê dit kan:  “…een wat skande maak, is soos ‘n verrotting in sy gebeente.” (v.4b).  So ‘n man kry skaam vir sy vrou.  Sy maak hom skaam deur haar woorde en dade (v.4b).  Hy wil nie in die openbaar saam met haar gesien word nie.  As ons hierdie prinsiep op ‘n ander vlak kan toepas, moet ons sê dat geen gelowige ooit die hemelse Bruidegom (Jesus) deur sondige optrede moet beskaam nie.

 

Wees reg in jou hart en gedagtes (v.5-8)

‘n Boom met slegte wortels dra slegte vrugte.  ‘n Boom met gesonde wortels dra sappige en smaaklike vrugte.  Dít is wat Jesus sê (Lukas 6:43-45).  En dít is hoe jou hart en gedagtes moet wees:  gesond.  Moet nooit sê dat iemand wat goddelose dinge sê en doen, diep in sy hart ‘n goeie mens is nie.  Dit is nie waar nie, want ‘n persoon se woorde en dade kom uit sy hart en gedagtes uit:  “Die gedagtes van die regverdiges is wat reg is, die slim planne van die goddelose is bedrog.” (v.5).  As jy wil sorg dat jy reg dink, praat en optree, moet jou hart reg wees.  En net die Heilige Gees kan dit deur die evangelie verander.  En slegs dán kan jy geestelik groei.

 

‘n Prediker in Switserland het probleme opgetel in sy kerk.  Ander predikante wou hê hy moes afgedank word.  In ‘n vergadering met die lidmate het hierdie ander predikante leuens vertel.  Die mense in die kerk het nie die teologiese verskille verstaan nie, maar hulle het geweet wat ‘n leuen is.  Die ander predikante moes loop, en die prediker van die gemeente het sy werk behou.

 

‘n Amalekiet het ‘n leuen vertel oor Saul se dood, en het sodoende die doodstraf verdien (2 Samuel 1).  Twee ander booswigte het een van Saul se seuns vermoor, en dit as goeie nuus aan Dawid vertel.  Ook húlle het hulle lewens verloor (2 Samuel 4).

 

Jy sien, daar is mense wat kwaad bedink teen ander, maar op hulle eie bloed loer:  “Die woorde van die goddelose is om te loer op bloed…” (v.6a).  Die regverdige kom vry deurdat hy die waarheid praat (v.6b).  In ‘n situasie waar mense jou valslik beskuldig en wil beskadig, belowe die Here:  “Maar wanneer hulle jul oorlewer, moenie julle kwel oor hoe of wat julle sal spreek nie, want dit sal julle in daardie uur gegee word wat julle moet spreek; want dit is nie julle wat spreek nie, maar die Gees van julle Vader wat in julle spreek.” (Matteus 10:19-20).  Ja, die belofte was aan die apostels gemaak.  Maar die prinsiepe geld vir ons ook.

 

Die Here het vir Sodom omgekeer soos ‘n wat ‘n mens ‘n sopbord uit die wasbak uithaal, en omkeer in die afdroog rak.  Dit is hoe die Here maak met die goddelose:  “Die goddelose mense word omgekeer, en hulle is daar nie meer nie…” (v.7a).  “Ek het die goddelose gesien, ‘n geweldenaar, terwyl hy hom uitbrei soos ‘n groen inlandse boom.  Toe gaan iemand verby, en kyk, hy was daar nie; en ek het hom gesoek, maar hy was nie te vinde nie.” (Psalm 37:35-36).  Waar is Sodom vandag?  Waar is Ninive en Babilon?  Egipte en Rome was supermagte, en is vandag net nóg ‘n plek op die kaart.  Die klip van Daniël 2 (Jesus se Koninkryk) het die wêreldryke verpletter.

 

Die regverdige is anders.  Wanneer die storms kom, dan staan sy huis:  “…die huis van die regverdiges bly staan.” (v.7b).  Is dit nie wat Jesus gesê het nie:  “Elkeen dan wat na hierdie woorde van My luister en dit doen, hom sal Ek vergelyk met ‘n verstandige man wat sy huis op die rots gebou het.  En die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm, en dit het nie geval nie, want sy fondament was op die rots.” (Matteus 7:24-25)?  Paulus sê:  “Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly.” (Efesiërs 6:13).  As die Here jou vestig sal jy groei.  Maar as sy gesig teen jou is, het jy nie ‘n kans nie.

 

As my ou skoolvriend van iemand gehou het, het hy gesê:  “Daardie ou praat sense.”  Insig (‘sense’) begin by goeie en gesonde denke:  “Ooreenkomstig sy insig word ‘n man geprys; maar ‘n verkeerde van hart sal verag word.” (v.8).  Verdraaide denke lei tot verkeerde aksies, besluite en woorde.  Gevolglik lei dit tot veragting en skande (v.8b).  As jy dan ‘n goeie reputasie wil behou, moet jy nie net jou woorde en dade probeer verander nie, maar jou hart en gedagtes.  Dink reg.  “En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed…” (Romeine 12:2).  “Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is – watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit.” (Filippense 4:8).  Nóú is jy eintlik eers reg om te begin praat oor geestelike groei.

Die verhewe plek van vroue in die Christelike geloof

Woman at the cross

“En daar was baie vroue wat dit van ver af aanskou het, wat vir Jesus van Galiléa af gevolg en Hom gedien het.  Onder hulle was daar Maria Magdaléna en Maria, die moeder van Jakobus en Joses, en die moeder van die seuns van Sebedéüs.”

(Matteus 27:55-56).

 

Florence Nightingale het haar lewe daaraan gewy om siek en gewonde soldate te verpleeg.  Perpetua was ‘n vrou in die vroeë kerk wat haar lewe gegee het vir Jesus en sy evangelie.  Mary Slessor het die gevare van Wes-Afrika aangedurf vir die evangelie.

 

Daar is baie voorbeelde in die Skrif van dapper, getroue, en lojale vroue wat vir Jesus gevolg het.  In ons teks lees ons dat daar baie vroue by die kruis was (v.55).  Hierdie is vroue wat Jesus se opdrag ernstig opgeneem het:  “En Hy sê vir almal:  ‘As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg.’” (Lukas 9:23).

 

Jesus se ma het vir Hom gesorg by sy geboorte en tydens sy opvoeding.  Sy was ook hier by die kruis (Johannes 19:25-27).  Petrus se skoonma het vir Jesus bedien, nadat Hy haar gesond gemaak het (8:14-15).  Die prostituut in Lukas 7 het Jesus se voete gesalf en gesoen.  In Johannes 12:1-18 het Maria vir Jesus gesalf vir sy begrafnis.  Jesus vir Maria Magdalena gered, en sewe demone uit haar uit gedryf.  Saam met Joanna en Susanna het sy vir Jesus gevolg en gedien (Lukas 8:2-3).  Maria, die suster van Jesus se ma, was hier by die kruis (v.56, Johannes 19:25).  Johannes en Jakobus ma, Salome, het vir Jesus gedien (v.56, Markus 15:40).  Baie van hierdie vroue was ook by die leë graf.  Marta het vir Jesus liefgehad en Hom gedien (sien Johannes 11).  In Handelinge 9:39 lees ons van Dorkas wat die Here getrou gedien het.  Ook Lidia en Priscilla het vir Jesus liefgehad en Hom gedien (Handelinge 18, 16:15, 40).  In Romeine 16 praat Paulus van vroue wat die Here gedien het:  Febe, nóg ‘n Maria, Trifena, Trifosa, Olimpas, Rufus se ma, en baie ander.  Paulus noem Euodia en Sintige mede-arbeiders in die evangelie (Filippense 4:2-3).  Loïs en Eunice was ook getrou aan die Here, en het vir Timoteus in sy weë opgevoed (2 Timoteus 1:5).

 

Buiten vir Jesus se ma, was Maria Magdalena (van die dorp Magdala) seker die bekendse van hierdie vroue.  Volgens Johannes 20 was sy die eerste ooggetuie van Jesus se opstanding.  Net soos ‘n vrou (Eva) eerste gesondig het in ‘n die tuin, het ‘n vrou (Maria Magdalena) eerste die opgestane Verlosser gesien in ‘n tuin (Johannes 20:11-18).

 

Die vroue het op ‘n afstand gestaan (v.55).  ‘n Mens kry byna die idee dat dit te erg was vir hulle om te sien hoe hulle Here sterf, maar tog wou hulle Hom nie los nie.  Dit is ook so dat Jesus alleen moes ly, en daarom staan hulle ver weg.  Dalk staan hulle ook op ‘n afstand, omdat vroue as niks beskou is deur die samelewing nie.  Of dalk selfs omdat hulle nie verder kon kyk na die skande van sy naaktheid nie (Johannes 19:23).  Tussen al hierdie vroue was daar maar een man daar – Johannes (sien Johannes 19:25-27).  Waar was die ander tien dissipels?

 

Vroue is dikwels meer toegewyd aan die Here as mans (nie dat dit so hóéf te wees nie).  In ons eie gemeente is daar 48 vroue en 31 mans.  Ons mans behoort ons te skaam.  Staan op vir die Here en sy eer!  Vroue en mans is een in die Here, en word op dieselfde wyse gered (Galasiërs 3:28).  Mans en vroue moet saamwerk in die Here.  Dit is nie nodig dat die een of die ander geslag meer toegewyd hoef te wees nie (al is dit dikwels die realiteit).

 

Maar daar is ook ‘n ander les hier.  Die Jode in Jersualem het neergesien op Galileërs (sien Johannes 1:47, 7:52).  Boonop was vroue ook niks in die samelewing nie.  Maar hier sien ons dat die vroue van Galilea vir Jesus gevolg en bedien het (v.55-56).  Hulle bly by Hom tot die bittereinde toe.  Deur hierdie woorde in die Skrif op te teken, het God vroue verhef (sien ook Lukas 10:38-42, Johannes 4).

 

Mans (en vroue vir wie die handskoen pas):  moenie dislojaal wees soos wat die dissipels was nie.  Wees lojaal soos die vroue.  Dalk was jy op ‘n tyd lojaal, maar jou lojaliteit het verflou.  Bely jou sonde, draai weg daarvan, en volg die voorbeeld van hierdie vroue.  Dalk is jy tans ontrou aan jou gemeente, die Woord van God, gebed, die Here Jesus Christus, en jou mede-gelowiges.  Hoekom wil jy langer so aanhou?  Hernu vandag jou toewyding aan Jesus.

Die bekering van die Romeinse soldaat by Jesus se kruis

Centurion at cross

“En toe die hoofman oor honderd en die wat saam met hom Jesus bewaak het, die aardbewing sien en die dinge wat daar gebeur, het hulle baie bevrees geword en gesê: Waarlik, Hy was die Seun van God.” (Matteus 27:54).

 

Toe ek in standerd 6 (graad 8) was, het ’n seun van ons grootte vir ons bevele gegee.  Hy en ’n ander standerd 6 het aan mekaar begin stamp.  Baie bang het ek vir die standerd 6 gesê:  “Hey, daardie ou is in standerd 8.”  Hy het dadelik opgehou om aan die ou te stamp en was net so bang soos ek.

 

Aanvanklik het die Romeinse soldate nie besef wie die man aan die kruis was nie.  Toe hulle besef dat Hy die Seun van God is, het hulle baie bang geword (v.54).  In v.27 lees ons van omtrent 600 soldate.  Net ‘n handvol (omtrent 4) soldate het by die kruis wag gehou, sodat die gekruisigdes hulself nie kon loskry en wegkom nie (v.54, Johannes 19:23).  Hierdie is dieselfde soldate wat vir Jesus gevang (Johannes 18:3, 12), geslaan, ontklee, gespot, met dorings gekroon, met ‘n riet en met die vuis geslaan, gespoeg, gekruisig, uitgelag, suurwyn gegee, en met ‘n spies deurboor het.  Nou red Jesus ‘n paar van hulle (v.54).  Dit is deur sy gebed aan die kruis en deur sy soendood, wat Hy hulle gered het (Lukas 23:34, Johannes 12:32).  Daar is ‘n paar ander voorbeelde in die Skrif van Romeinse soldate wat gered is:  die soldaat wie se dienskneg genees is (Matteus 8:5-13), die soldate wat na Johannes se prediking geluister het (Lukas 3:14), Cornelius (Handelinge 10), die tronkwag van Filippi (Handelinge 16:25-34), en die keiserlike wag in Rome (Filippense 1:12-13).

 

Wat is die les wat ons hieruit leer?  Romeinse soldate was harde, immorele, skelm, aggressiewe, geweldadige mense.  Hulle het met Jesus gespot.  Hulle was boelies.  Hulle was afgodedienaars.  Hulle was dronkaards.  Die les is dat Jesus selfs sulke sondaars kan red.  Het Paulus (‘n godslasteraar en vervolger) nie gesê:  “Dit is ‘n betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word, dat Christus Jesus in die wêreld gekom het om sondaars te red, van wie ek die vernaamste is.” (1 Timoteus 1:15)?

 

‘n Student het eendag vir my gesê:  “As God wil hê ek moet Hom dien, moet Hy Homself aan my bewys.  God is arrogant.  Hy dink Hy kan doen wat Hy wil.”  Die soldate het gevrees toe hulle besef het wie Jesus is (v.54).  Hulle vrees was nie primêr vir die rotse wat geskeur het, of vir die aardbewing nie.  Hulle was bang vir die man aan die kruis.  Nou het hulle nie meer gespot nie.  Hulle het besef dat Jesus die Seun van God is – dat Hy God self is.  Die soldaat sê immers:  “Waarlik, Hy was die Seun van God.” (v.54).[1]  Die soldaat het gehoor hoe die Joodse leiers gespot het:  “As U die Seun van God is, kom af van die kruis!” (v.40).  Hy het verstaan dat hulle spottery nie geïmpliseer het dat Hy die seun van ‘n afgod was nie, maar dat Hy die Seun van die lewende God was.  In die Jode se gedagtes was Jesus se aanspraak dat Hy die Seun van God was, ‘n bewering dat Hy God self was (sien Johannes 5:18, 10:33, 36).  En dit is om híérdie rede wat hulle Hom doodgemaak het.

 

Onthou dat hierdie Romeinse soldaat baie keer gesien het hoe mense aan kruise doodgaan.  In 7 n.C. was daar ‘n opstand in Judea.  In reaksie het Quintilius Varus 2000 Jode in Jerusalem gekruisig.  Baie jare ná Jesus se dood (toe Titus Jerusalem in 70 n.C. beleër het), het Romeinse troepe vir baie maande aaneen, 500 Jode per dag gekruisig.  Hierdie Romeinse soldate by Jesus se kruis het dus baie keer gesien hoe slagoffers die stryd teen kruisiging verloor.  Maar hulle het nog nooit ‘n dood soos hierdie een gesien nie.  Vir die eerste keer het hulle gesien hoe ‘n ‘n gekruisigde in triomf sterf:  “Dit is volbring!” (Johannes 19:30).

 

Aardbewings en donderstorms is maar die fluistering van God se krag (Job 26:14).  Stel jou voor hoe dit sal wees as jy nie net God se skeppingsmag sien nie, maar vir God self.  Die Romeinse soldaat het God se skeppingsmag in die aardbewing gesien, maar sy oë het oopgegaan om vir God self te sien.  As God so vreeslik en heilig is, moet ons in eerbied en vrees reageer soos die soldaat (v.54).  Ons kan nie ligsinnig en laf wees nie.  Ons kan nie in ons gemeentelike aanbidding choaties en deurmekaar wees soos by ‘n sirkus nie.  Ons moenie ‘buddy-buddy’ met God wil wees nie.  Ons moet Hom nie bevraagteken en uitdaag nie.  Aanbid Hom.  Erken Hom.  Gehoorsaam Hom.  Dien Hom.  Vrees Hom.


[1] Ek is bewus van die vertalingsmoontlikheid:  “Hy was ‘n seun van god”, maar ek glo dat die interpretasie wat ek navolg, korrek is.

Die raaisel van die leë grafte op Paassondag

Light in empty tomb

“en die grafte het oopgegaan en baie liggame van die ontslape heiliges het opgestaan.  En ná sy opstanding het hulle uit die grafte uitgegaan en in die heilige stad ingekom en aan baie verskyn.” (Matteus 27:52-53).

Ek het eendag vir ‘n ateïs gesê dat evolusie nie wetenskaplik bewys kan word nie.  Sy reaksie was:  “Napoleon se bestaan kan ook nie wetenskaplik bewys word nie.  Wie sê die handskrif op sy briewe is nie iemand anders s’n nie?  Hoe weet ons dat die bene in sy graf sýne is?”  Hy’s reg.  Al bewys wat ons van Napoleon se bestaan het is voldoende getuies.  En al bewys wat ons het dat gelowiges ná Jesus se dood uit die grafte opgewek is, is die getuienis van God en mense.  God getuig daarvan in die Skrif, en volgens v.52-53 het die opgestane heiliges aan baie in die stad verskyn.  Dit blyk dat die dooies Vrydag reeds opgewek is, maar dat hulle eers Sondag uit die grafte uitgekom het.  Die grafte was natuurlik buite die stad.  Die teks sê duidelik dat hulle in die heilige stad (Jerusalem, 4:5) ingekom het (v.53).  Die feit dat hulle aan sekere mense in die stad verskyn het, impliseer dat mense hulle geken het.  Hulle kon dus nie te lank voor dit gesterf het nie.

Het hierdie gelowiges ná hulle opstanding op die aarde gelewe en weer gesterf (soos waarskynlik gebeur het met Lasarus, Jaïrus se dogter, en die weduwee van Naïn se seun – Lukas 7:11-17, 8:49-56, Johannes 11).  Waarskynlik nie, want as dit so was sou iemand sekerlik daarvan vertel het.  Die moontlikheid is groter dat hulle verheerlikte liggame ontvang het, en opgevaar het hemel toe.  Net soos wat Jesus se liggaamlike opstanding ons s’n waarborg (1 Korintiërs 15:20-23), is die opstanding van hierdie dooies ‘n deposito en waarborg van dieselfde.  Maar op die einde moet ons seker sê:  “Ons weet nie wat presies ná hierdie opstanding gebeur het nie, want die Bybel sê nie vir ons nie.  Die beste wat ons kan doen is om te raai.”

Maar waaroor ons níé hoef te wonder nie, is die sekerheid van óns opstanding uit die graf.  Ek kon aan twaalf bewyse dink vir die opstanding van ons liggame wanneer Jesus kom.

  1. Jesus se graf is leeg.  Soos reeds gewys waarborg sy opstanding ons s’n (1 Korintiërs 15:20-23).
  2. Elia en Henog het nie gesterf nie, en is in hulle liggame opgeneem hemel toe (2 Konings 2, Hebreërs 11:5).
  3. Ons was geestelik dood en is opgewek (Efesiërs 2:5-6).  Die opstanding van ons siele waarborg die opstanding van die liggaam.
  4. In die skepping is daar dinge wat sterf en weer lewe.  ‘n Saad word in die grond gegooi.  Uit die ‘lewelose’ saad groei ‘n plant of ‘n boom.  Net so sal ons liggame ‘gesaai’ word en weer ‘opkom’.
  5. Vir elke ding bestaan daar ‘n teenoorgestelde.  Ons weet wat slaap is, omdat daar so iets soos ontwaking is.  En net so moet daar ook ‘n teenoorgestelde vir dood wees, naamlik opstanding.
  6. Job het geweet daar sal ‘n opstanding wees (Job 19:25-27).  Hoe kon hy dit geweet het as daar nog nie ‘n enkele boek van die Bybel geskryf was nie?  Hy moes ‘n direkte openbaring van die Here ontvang het.
  7. Die Skrif sê dat ons liggame opgewek sal word.  Wat die Bybel oor baie ander dinge voorspel het, het gebeur.  Daarom kan ons glo dat hierdie profesie óók vervul sal word.
  8. Daar is mense wat uit die dood opgewek is in die Ou- en Nuwe Testament.  Hulle opstanding bewys dat God dooies kan (en weer sal) opwek.
  9. Sonder die opstanding van die liggaam is ons redding nie voltooi nie, en het Jesus nie die dood oorwin nie (Romeine 8:23).  As ons liggame nie opgewek word nie, het die dood ons oorwin.
  10. Jesus het belowe dat Hy ons sal opwek (Johannes 6:40).  Om die opstanding te ontken is om te sê Jesus is ‘n leuenaar soos die duiwel.
  11. ‘n Gees kan bestaan sonder ‘n liggaam (soos God, engele, en demone).  Ook óns siele kan voortleef in die hemel sonder ons liggame.  As die siel kan voortleef, waarom nie ook die liggaam nie?
  12. Baie mense was ooggetuies dat die afgestorwe gelowiges in v.52-53 weer geleef het.

Jy hoef nie bang te wees vir die dood nie.  Soos ander verse in die Nuwe Testament, praat v.52 van dood as ‘slaap’ (sien Johannes 11:11-13, Handelinge 7:60, 1 Tessaonisense 4:13-15).  Dit het niks te doen met sogenaamde sieleslaap nie, maar eerder daarmee dat die dood so skadeloos is vir die Christen soos slaap.

Wat jy saai sal jy maai

Sower

19 Ware geregtigheid lei tot die lewe, maar hy wat die kwaad najaag, jaag na sy dood…23 Die begeerte van die regverdiges is net ten goede, maar die hoop van die goddelose is ‘n strafgerig van toorn…30 Die vrug van die regverdige is ‘n boom van die lewe, en hy wat siele win, is wys. 31 As die regverdige op aarde vergelding ontvang, hoeveel te meer die goddelose en die sondaar!” (Spreuke 11:19, 23, 30-31).

 

Iemand wat kosmos sade plant en verwag dat roosbome opkom, is ‘n sot.  En iemand wat selfregverdige lewe en dink hy gaan die ewige lewe oes, is niks beter nie.  Dít is die probleem met die mense in Matteus 7:21-23 (verse waarvoor baie Christene bang is):  “Nie elkeen wat vir My sê:  Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.  Baie sal in daardie dag vir My sê:  Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie?  En dan sal Ek aan hulle sê:  Ek het julle nooit geken nie.  Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!”  Hierdie verse het niks te doen met ware Christene nie, maar met mense wat op hulle godsdienstige werke staatmaak om hemel toe te gaan.  ‘Selfgeregtigheid’, kan ons dit noem.  Hulle het niks anders geoes as wat hulle gesaai het nie.

 

Ware geregtigheid lei nie tot die dood nie, maar is ‘n boom van die lewe.  Dit het wel groen blare (v.28), maar dit het nie nét groen blare nie.  Daar is vrugte ook:  “Ware geregtigheid lei tot die lewe…Die vrug van die regverdige is ‘n boom van die lewe” (v.19, 30, vgl. Genesis 3:22, Openbaring 2:7, 22:2, 14).  Paulus voel ‘n veer vir sy eie geregtigheid.  Hy soek die geregtigheid wat van God af kom (Filippense 3:9), en die vrug wat daarop volg:  “Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.” (Galasiërs 5:22).

 

Natuurlik wen die regverdige nie net die lewe vir homself nie.  Hy wil ander saamneem hemel toe.  Deur waarskuwing en evangelisasie wil hy mense van die dood red:  “…hy wat siele win, is wys.” (v.30b).  Soos Paulus sal hy enigiets doen om mense te red van die komende oordeel (1 Korintiërs 9:19-22).  Dié persoon maak erns met Jakobus 5:20:  “laat hy weet dat die een wat ‘n sondaar van sy dwaalweg bekeer, ‘n siel uit die dood sal red en ‘n menigte sondes sal bedek.”  Die persoon wat ander wil red moet wys wees.  As jy op die damwal staan en klippe in die water gooi, sal jy nie karp vang nie.  Jy moet wys wees en die hoek onder ‘n klont gegeurde pap wegsteek.  Net so, as jy ‘n visser van mense wil wees.  Salomo sê immers dat die wyse persoon siele wen (v.30).

 

Om jouself van die dood te red moet jy volhard in geregtigheid (v.19, English Standard Version).  As jy ophou om regverdig te wees en die kwaad najaag, sal jy sterf:  “Ware geregtigheid lei tot die lewe, maar hy wat die kwaad najaag, jaag na sy dood…Die loon van die sonde is die dood” (v.19, Romeine 6:23).  Esegiël sê:  “Maar as die regverdige afwyk van sy geregtigheid en onreg doen en handel volgens al die gruwels wat die goddelose doen – sal hy lewe?  Aan al sy geregtighede wat hy gedoen het, sal nie gedink word nie; om sy troubreuk wat hy begaan het, en om sy sonde wat hy gedoen het, om hulle ontwil sal hy sterwe.” (Esegiël 18:24).  God bedoel nie dat ‘n regverdige persoon wat eenkeer kwaad doen, hel toe gaan nie.  Die genoemde verse verwys eerder na iemand wat ‘n leefwyse van sonde maak.

 

Dalk wonder jy hoekom die lewe soms anders werk as in v.19:  “Ek ken regverdige mense wat doodgaan, en slegte mense wat lank lewe.”  Jy is reg, maar nie in die finale sin van die woord nie.  Uiteindelik sal alle regverdige mense lewe, en goddelose mense sterf.  In gewone-mens terme:  Regverdige mense gaan hemel toe, en goddelose mense gaan hel toe.  Dit is natuurlik Jesus se geregtigheid wat lewe gee, omdat hy vir ons sonde gesterf het.

 

Jesus was honger in die woestyn en is versadig (Matteus 4:2, 11).  Die ryk man in die hel se dors is nie geles toe hy vir water gevra het nie (Lukas 16:24-26).  Met ander woorde, regverdige mense kry wat hulle begeer en slegte mense nie:  “Die begeerte van die regverdiges is net ten goede, maar die hoop van die goddelose is ‘n strafgerig van toorn.” (v.23).  “Maar wat van slegte mense wat geld, rykdom, kinders, ‘n mooi vrou of aantreklike man, en alles anders kry wat hulle begeer?”, wil iemand weet.  Miskien kry hulle nóú wat hulle begeer.  Maar dit sal nie hou nie.  Hulle sal geskok wees wanneer hulle voor die hemelpoort staan en weggewys word.  Soos Asaf se vyande, is hulle rykdom ‘n droom wat in sand sal verander (Psalm 73).  Geen wonder ons teks sê dat die goddelose se hoop in toorn eindig nie (v.23).

 

Daar is Christene wat wonder hoekom v.23a nie in húlle lewens uitwerk nie:  “Ek bid al vir jare dat my geliefdes gered word, maar die Here antwoord nie.  Ek dog Hy gee wat ons begeer?”  Hy belowe dit, ja:  “en verlustig jou in die Here; dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart.” (Psalm 37:4).  “Hy sal die goeie nie onthou aan die wat in opregtheid wandel nie.” (Psalm 84:12).  “U is goed en doen goed” (Psalm 119:68).  “Salig is die wat honger en dors na die geregtigheid, want hulle sal versadig word.” (Matteus 5:6).  “As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid!” (Matteus 7:11, vgl. Lukas 11:13).  “En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is…Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?” (Romeine 8:28, 32).

 

Ek verstaan ook nie altyd hoekom God nie dadelik (en soms glad nie) gee wat ons vra nie.  Maar Hy is wys.  Hy weet wat goed is.  Daarom sal Hy nie alleen sorg dat ons ons hartsbegeertes ontvang nie, maar ook dat ons die regte dinge begeer.  En as jy goeie begeertes saai, sal jy ‘n regverdige lewe en God se guns oes.

 

Ek het eenkeer met ‘n vrou gepraat oor haar sonde.  Sy het my afgejak en wou haar nie bekeer nie.  Twee weke later is sy dood.  Reeds op aarde gee God positiewe en negatiewe belonings aan mense:  “As die regverdige op aarde vergelding ontvang, hoeveel te meer die goddelose en die sondaar!” (v.31).  As tugtiging vir Dawid se sonde, het die Here hom siek gemaak en sy kind doodgemaak (Psalm 38, 2 Samuel 12:14).  Jeremia sê:  “Want kyk, in die stad waaroor my Naam uitgeroep is, begin Ek met onheile – en sal júlle heeltemal ongestraf bly?  Julle sal nie ongestraf bly nie, want Ek roep die swaard op teen al die inwoners van die aarde, spreek die Here van die leërskare.” (Jeremia 25:29).  Petrus skryf:  “Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God.  En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is?  En as die regverdige nouliks gered word, waar sal die goddelose en die sondaar verskyn?” (1 Petrus 4:17-18).

 

Wanneer die gelowige getug word, moet dit nie as ‘n negatief straf oor sy sonde gesien word nie, want “Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie” (Romeine 8:1).  Ons moet hierdie negatiewe vergelding as die liefdevolle tugtiging van ‘n Vader beskou (Hebreërs 12:5-11).  Maar laat ons ook die erns van die saak raaksien.  As God nie eers sy eie volk en kinders oorsien nie, wat van die goddelose heiden (v.31b)?  Soms lyk dit vir ons of God nooit die goddelose gaan straf nie.  Maar ons is verkeerd, want selfs in hierdie lewe gee God hulle oor aan sonde en sy verskriklike gevolge.  God bring hulle finansieel onder.  Hy bring rampe, siekte, aanvalle, kritiek, en die dood van geliefdes oor hulle.  Dít is waarom Paulus in Romeine 1:18 ‘n teenwoordige tydsvorm gebruik:  “Want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense”.  Salomo was heeltemal reg om te sê dat God die goddelose en die sondaar reeds op aarde vergeld (v.31).

 

Moet nou nie hieruit aflei dat alle slegte dinge wat in die lewe gebeur, God se direkte straf is nie.  Of dat alle goeie dinge God se guns oor mense is nie.  Die geskiedenis van Job en die ryk mense van Psalm 73 bewys die teendeel.  Maar wanneer jy pyn ervaar moet jy die lesse leer wat God wil hê.  Jy oes niks meer of minder as wat jy gesaai het nie.  En as jy ‘n gelowige is sal jy ‘n goeie beloning oes, omdat dit presies is wat Jesus namens, in, en deur jou gesaai het.

Hoekom het God die tempelgordyn geskeur?

 Torn veil

“En kyk, die voorhangsel van die tempel het in twee geskeur, van bo tot onder,

en die aarde het gebewe en die rotse het geskeur” (Matteus 27:51).

 

Ten spyte van 2011 se aardbewing en tsunami in Japan, aanbid die mense steeds hulle afgode.  In afgelope jare was daar baie aardbewings in Nieu-Seeland.  Die een in Christchurch was groot.  Maar tog bly die land sekulêr en ver van God af.  Natuurrampe en ander tragedies (soos die hele Oscar Pistorius affere) is veronderstel om ons ná God toe te dryf.  God stuur hierdie dinge (die rampe, nie die sonde nie) om mense op te roep tot bekering, vrees, en aanbidding.  Die Skrif sê:  “En in dieselfde tyd was daar mense teenwoordig wat Hom berig gebring het van die Galiléërs wie se bloed Pilatus met hulle offers gemeng het.  En Jesus antwoord en sê vir hulle:  Dink julle dat hierdie Galiléërs groter sondaars was as al die Galiléërs, omdat hulle sulke dinge gely het?  Nee, sê Ek vir julle; maar as julle jul nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom.  Of daardie agttien op wie die toring van Silóam geval en hulle gedood het – dink julle dat hulle meer skuldig was as al die mense wat in Jerusalem woon?  Nee, sê Ek vir julle; maar as julle jul nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom.” (Lukas 13:1-5).

 

Daar is mense wat ag gee:  “En in dié uur het daar ‘n groot aardbewing gekom, en ‘n tiende van die stad het geval, en sewe duisend mense het in die aardbewing omgekom, en die ander het bevrees geword en aan die God van die hemel heerlikheid toegebring.” (Openbaring 11:13).  Maar daar is ander wat hulle ore toedruk:  “En die sewende engel het sy skaal uitgegooi in die lug, en ‘n groot stem het uit die tempel van die hemel gekom, van die troon af, wat gesê het:  Dit is verby!  En daar het stemme gekom en donderslae en bliksemstrale, en daar het ‘n groot aardbewing gekom soos daar nog nie gewees het vandat die mense op die aarde was nie so ‘n geweldige groot aardbewing.  En die groot stad is in drie dele verdeel, en die stede van die nasies het geval.  En die groot Babilon is in gedagtenis gebring voor God, om haar te gee die beker met die wyn van die grimmigheid van sy toorn.  En alle eilande het gevlug, en berge is daar nie gevind nie; en groot hael, omtrent ‘n talent swaar, het uit die hemel op die mense geval; en die mense het God gelaster oor die plaag van die hael, omdat sy plaag ontsettend groot was.” (Openbaring 16:17-21).

 

Toe Jesus opgestaan het, was daar ’n aardbewing (28:2).  Daar was ook een toe God die Tien Gebooie gegee het (Eksodus 19:18).  Dawid sê:  “Toe het die aarde geskud en gebewe; die fondamente van die berge het gesidder en geskud, omdat Hy toornig was.” (Psalm 118:8).  En Nahum:  “Die berge bewe voor Hom, en die heuwels smelt weg; en die aarde rys op voor sy aangesig, ja, die wêreld en almal wat daarin woon.  Wie sal standhou voor sy grimmigheid?  En wie sal bestand wees teen die gloed van sy toorn?  Sy gramskap word uitgegiet soos vuur, en die rotse word stukkend geruk voor Hom.” (Nahum 1:5-6).  Openbaring 11:19 beskryf die skepping se ‘reaksie’ wanneer God teenwoordig is:  “En die tempel van God het in die hemel oopgegaan, en sy verbondsark is in sy tempel gesien, en daar was weerligte en stemme en donderslae en aardbewing en groot hael.”

 

Aarbewings is altyd God se werk.  In ons teks bewe die aarde wanneer die Skepper sterf (v.51).  Al die werkwoorde in v.51-52 staan in ’n passief.  Met ander woorde, die tempelgordyn word deur iemand geskeur.  Die aarde wórd geskud.  Die rotse wórd geskeur.  Die grafte wórd oopgemaak.  Die dooies wórd opgewek.  Wie anders as God het al hierdie dinge gedoen?

 

Ek onthou vandag nog my voorskrewe leesboek vir standerd 5 (graad 7) Engels.  Een karakter se naam was Bender.  Hy kon ‘n telefoon boek in twee skeur.  Die skeuring van die tempelgordyn het my aan hom laat dink.  Maar sy krag is ‘n vulletjie teen God s’n in v.51-52.  Die tempelgordyn was 18 meter lank, 9 meter wyd, en so dik soos jou handpalm.  72 stroke materiaal is oor mekaar gevou en vasgewerk.  Die gordyn was so swaar, dat die Jode in oordrewe terme gesê het, ‘n mens het 300 priesters nodig om één gordyn te manipuleer (inligting verkry uit Edersheim, A.; The Life and Times of Jesus the Messiah; William B. Eerdmans Publishers; GRAND RAPIDS; 1953; p.1414).  Dit is onmoontlik dat ‘n mens hierdie gordyn kon skeur.  Selfs al kon iemand dit doen, kon dit nie in híérdie geval die werk van mense gewees het nie, want die gordyn het van bo tot onder geskeur (v.51).  God het dit gedoen.

 

Jesus het omtrent 15:00 sy laaste asem uitgeblaas (v.46, 50).  Soos voorheen gewys, was hierdie die tyd van die aandoffer.  Daar sou priesters in die tempel gewees het.  Hulle het gesien hoe die rooi, blou, en pers gordyn (2 Kronieke 3:14) van bo tot onder skeur.  Hierdie gordyn het die heiligste van die allerheiligste geskei (Hebreërs 9:3).  Agter die gordyn was daar ‘n goue boks (die ark) met gerubs op die deksel.  Binne-in was kliptafels met die Tien Gebooie op, ‘n goue kruik met manna in, en Aäron se staf vol van amandelblare, ryp amandels, en wit amandel bloeisels (Hebreërs 9:4-5).  Vir 1200 jaar kon net die Hoëpriester agter dié gordyn ingaan, en dít eenkeer per jaar (Hebreërs 9:7).

 

God het die gordyn geskeur om te wys dat Hy klaar was met die Ou Tesamentiese tempel.  Hy was nie meer ‘n verborge God wat van die mens geskei was nie.  Nou was dit nie net die hoëpriester wat direk na God toe kon kom nie.  Die hele volk kon.  En in Christus is daar toegang vir enigiemand (Hebreërs 10:19-22).  Elke gelowige is ‘n tempel van die Heilige Gees en ‘n priester.  “Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?” (1 Korintiërs 3:16, vgl. 1 Korintiërs 6:19, Efesiërs 2:20-22).  “Maar julle is…’n koninklike priesterdom” (1 Petrus 2:9).  Openbaring 1:6 sê dat Jesus “ons gemaak het konings en priesters vir sy God en Vader” (ook Openbaring 5:10).

 

Omdat die voorhangsel geskeur is en jy ‘n priester is, kan jy jou eie sondes bely en tot God bid.  Jy kan direk en met vrymoedigheid kom.  Jy het nie ‘n aardse priester nodig nie.  En jy maak ‘n fout as jy dink daar is ‘n groter kans dat God die dominee se gebed sal verhoor as joune.  Ons glo dat elke gelowige ‘n priester is.  En ons glo dat die man die hoof is van sy huis.  Maar ons glo nie, soos party mense, dat die man die priester van sy huis is nie.  Die Skrif sê dit nooit.  Die gelowige man het nie beter toegang tot God as sy Christen vrou nie.  Dieselfde prinsiep geld in die kerk.  God het wel verskeie gawes aan die kerk gegee, sodat daar iemand is wat preek, ‘n ander wat bemoedig, en nóg ‘n ander wat voorsing.  Maar dit is nie net die predikant wat vir ander raad kan gee, die evangelie kan deel, die nagmaal kan bedien, of ‘n nuwe gelowige kan doop nie.  Omdat alle gelowiges priester is, moet ons almal die Here dien en geestelike offers bring.  Petrus sê ons is “’n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus.” (1 Petrus 2:5).  Hierdie geestelike offers sluit onder meer in, danksegging, ons liggame, finansiële bydraes, mededeelsaamheid, losprysing, gebed (Psalm 50:23, Romeine 12:1, Filippense 4:18, Hebreërs 13:15-16, Openbaring 8:3).  Omdat ons dan die Here se priesters en tempel is, is daar geen nood dat die tempel êrens in die toekoms herbou hoef te word, dat die gordyn weer opgehang moet word, of dat daar Joodse priesters aangestel moet word nie.  Die geskeurde tempelgordyn skakel dit uit.