Wat het gebeur toe dit donker geword het op Golgota?

Cross in darkness

“En van die sesde uur af het daar duisternis gekom oor die hele aarde tot die negende uur toe; en omtrent die negende uur het Jesus met ‘n groot stem geroep en gesê:  Eli, Eli, lama sabagtáni?  Dit is:  My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Matteus 27:45-46).

 

Op 4 Desember 2002 was daar ‘n totale sonsverduistering in Messina (Musina).  ‘n Donker kol met ‘n 70 kilometer radius het die dorp oorskadu.  Dit het vir omtrent 80 sekondes geduur.

 

Wat presies gebeur met ‘n sonsverduistering?  Die maan beweeg tussen die son en die aarde in en doof die son se lig uit.  Met ‘n maanverduistering gebeur die teenoorgestelde:  die aarde beweeg tussen die son en die maan in en gooi ‘n skaduwee op die maan, sodat dit verduister word.

 

Ons werk volgens ‘n sonkalender:  as die aarde ‘n volle omwenteling om die son gemaak het is dit een jaar.  Die Jode werk volgens ‘n maankalender.  Hulle jare is soms langer en soms korter as ons s’n.  Vir ons is 1 Januarie die begin van die nuwe jaar.  Vir hulle is dit êrens tussen Maart en April.  Op die 14de dag van hierdie eerste maand vier hulle die Paasfees of Pasga om te onthou dat God hulle uit Egiptiese-slawerny verlos het (Eksodus 12:2, 6).  Paasfees word gevier wanneer die eerste volmaan van die jaar verskyn.

 

Met volmaan is die maan nie tussen die son en die aarde soos met ‘n sonsverduistering nie.  Dit is byna agter die aarde.  Daarom kon die drie ure duisternis op Golgota nie ‘n sonsverduistering gewees het nie.  Dit was ook nie dat donker wolke die son bedek het nie.  Die Griekse teks van Lukas 23:45 sê letterlik dat die son opgehou het om te skyn.  Die duisternis was bonatuurlik.  In die nag van Jesus geboorte was daar ‘n helder lig (Lukas 2:9).  12:00 op die dag van sy dood was daar duisternis (v.45).  Wat ‘n kontras.

 

Volgens Markus 15:25 het Jesus reeds van 09:00 af aan die kruis gehang.  Nou, drie ure later, het God ‘n donker sluier oor die wêreld getrek, sodat niemand sou sien wat Hy aan sy Seun gaan doen nie.  Daar is geen rekord in die Skrif van enige menslike woorde of aksies tydens hierdie drie ure nie.  Vir drie ure (09:00-12:00) het mense Jesus gestraf.  Vir die volgende drie ure (12:00-15:00) het God Hom gestraf (v.45-46).  Watse les moet ons hieruit leer?

 

Moenie só op die fisiese lyding van Jesus fokus dat jy sy geestelike lyding vergeet nie.  Die geestelike lyding was veel erger as die fisiese.  Die evangelie-skrywers beskryf nie wat geseling aan iemand se rug gedoen het, of watse tipe dood ‘n gekruisigde gesterf het nie.  Hulle fokus eerder op die geestelike lyding van die kruis.  Hoe het Jesus geestelik gely?

 

Jesus is deur mense verwerp en verlaat.  Israel het Hom verwerp (Johannes 1:11).  Sommige dissipels het Hom verlaat (Johannes 6:66).  Sy eie broers het nie in Hom geglo nie (Johannes 7:5).  Judas, een van die twaalf, het Hom verraai.  Petrus het Hom verloën.  Al elf dissipels het weggehardloop in die tuin van Getsemane.  Maar dit was nie die geestelike lyding wat Hy moes deurmaak nie.

 

Sy Vader het Hom verlaat (v.46).  Dít was die geestelike lyding.  Soos daar duisternis was voor die skepping (Genesis 1:1-2) was daar duisternis voor die nuwe skepping van verlossing (v.45-46, 2 Korintiërs 5:17).  Voor die verlossing van Israel uit Egiptiese slawerny was daar duisternis vir drie dae (Eksodus 10:21-29).  Net so was daar vir drie ure duisternis voordat Jesus ons uit die slawerny van sonde bevry (v.45-46).  Amos het voorspel:  “En in dié dag, spreek die Here HERE, laat Ek die son op die middag ondergaan en vir die aarde die lig duister word terwyl dit nog dag is.” (Amos 8:9).  Soos baie ander tye in die geskiedenis, was Golgota ‘n dag van die Here.  Hier was egter ‘n duisternis soos geen ander duisternis in die geskiedenis nie.

 

Die hel is ‘n plek van duisternis en God-verlatenheid (25:30, 2 Tessalonisense 1:9) en dit is wat Jesus aan die kruis ervaar het.  Jesus se straf was eintlik erger as die hel.  As iemand hel toe gaan ly hy vir sy eie sonde.  Maar Jesus is gestraf vir miljoene mense se sondes.

 

Nou wonder jy dalk:  “Hoe kon Jesus binne ses ure aan die kruis die ewige straf van die hel op Homself neem?”  Onthou dat Jesus God en mens is.  Omdat mense het gesondig ‘n mens (Jesus) in ons gestraf word.  Maar niemand kan binne ‘n paar ure aan ‘n kruis die ewige straf van ‘n ander dra nie.  Daarom moes die een wat in ons plek gestraf is ook die ewige God wees (Psalm 49:8-10, 16).

 

Die God-verlate roep van Jesus kom uit Psalm 22:2.  Hierdie Psalm is herhaaldelik by Jesus se kruisdood vervul.  “Laat dit aan die Here oor!  Laat Hy hom red, laat Hy hom bevry:  Hy het mos behae in hom!…Ek is uitgestort soos water; al my beendere raak los; my hart het soos was geword; dit het gesmelt binne-in my ingewande.  My krag is verdroog soos ‘n potskerf, en my tong kleef aan my verhemelte; en U lê my neer in die stof van die dood.  Want honde het my omsingel; ‘n bende kwaaddoeners het my omring; hulle het my hande en my voete deurgrawe.  Al my beendere kan ek tel; húlle kyk, hulle sien met welgevalle op my neer!  Hulle verdeel my klere onder mekaar en werp die lot oor my gewaad…Hulle sal aankom en sy geregtigheid verkondig aan die volk wat gebore word; want Hy het dit gedoen.” (Psalm 22:9, 15-19, 32).  Lees maar die kruisgebeure in die evangelies om te sien hoe dié Psalm vervul is.

 

Jesus het die sin van sy Vader se nabyheid verloor.  In Getsemane kon Hy nog sê:  “Abba, Vader” en “My Vader” (26:39).  En toe Hy net gekruisig is kon Hy bid:  “Vader, vergewe hulle…” (Lukas 23:34).  Maar al wat Hy in hierdie aaklige duisternis kon sê was:  “My God” (v.46).  En tog steeds “My God”.  God het sy Seun gestraf en vervloek vir ons sondes (Galasiërs 3:13).  Hy het sy Seun verbrysel en ons sonde op Hóm laat neerkom (Jesaja 53:6, 10).  Jesus het sonde geword vir ons (2 Korintiërs 5:21).  Hoekom?  Want God is heilig en is te rein om sonde te aanskou (Psalm 22:4, Habakkuk 1:13); want God het ons intens liefgehad (Johannes 3:16).  Hoe bedroef moes die Vader se hart nie gewees het nie.  John Stott het gesê dat die “Seunloosheid van die Vader net so erg moes gewees het soos die Vaderloosheid van die Seun.”  Hierdie was immers God se geliefde Seun in wie Hy ‘n welbehae het (3:17).

 

Het jy al God-verlate gevoel?  Baie Bybelkarakters het.  “Toe vra Gídeon Hom:  Ag, my heer, as die Here met ons is, waarom het al hierdie dinge ons dan oorgekom?  En waar is al sy wonders waar ons vaders ons van vertel het, deur te sê:  Het die Here ons nie uit Egipte laat optrek nie?  Maar nou het die Here ons verwerp en ons oorgegee in die hand van die Midianiete.” (Rigters 6:13).  Gideon was verkeerd, want die Here het die Israeliete deur sy hand verlos.

 

Na haar man en seuns se dood het Naomi gedink die Here het haar verlaat.  Maar sy moes gou bely dat die Here “sy guns aan lewende en dode nie onttrek het nie” (Rut 2:20).  Israel het geglo God het haar verlaat, maar sy was verkeerd.  “Maar Sion sê:  Die Here het my verlaat, en die Here het my vergeet!  Kan ‘n vrou haar suigling vergeet, dat sy haar nie ontferm oor die seun van haar skoot nie?  Ofskoon hulle sou vergeet, nogtans sal Ék jou nie vergeet nie!  Kyk, Ek het jou in die handpalms gegraveer; jou mure is gedurig voor My.” (Jesaja 49:14-16).

 

Job was in duisternis en kon die Here nie vind nie (Job 23).  Uiteindelik het Hy besef dat God in die warrelwind was; hy was nie alleen nie.  Dawid het gedink God het hom verlaat (Psalm 22:2).  Maar die Here was daar toe Saul, Absolom, die Filistyne, en sy ander vyande hom wou doodmaak.  Dawid se Psalm beskryf die Messias se dood en nie sy eie nie.

 

Jy het die Here al verlaat.  Maar Hy het jou nog nooit in die steek gelaat nie.  “As ons ontrou is, Hy bly getrou; Hy kan Homself nie verloën nie.” (2 Timoteus 2:13).  Selfs oor die slegste sondaars laat God sy son skyn en sy reën val (Matteus 5:45).  Jou vriende kan jou verlaat, maar die Here sal nie.  Paulus sê hy was “vervolg, maar nie verlate nie” (2 Korintiërs 4:9).  En weer:  “Want Demas het my verlaat, omdat hy die teenwoordige wêreld liefgekry het…In my eerste verdediging het niemand my bygestaan nie, maar almal het my verlaat.  Mag dit hulle nie toegereken word nie!  Maar die Here het my bygestaan en my krag gegee…” (2 Timoteus 4:10, 16-17).  God het vir Jesus aan die kruis verlaat en daarom sal Hy nooit jou (as jy ‘n gelowige is) nooit verlaat nie:  “…Hy het gesê:  Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie.” (Hebreërs 13:5).

 

Charles Spurgeon het eenkeer gesê: 

 

“One Sabbath morning, I preached from the text, ‘My God, My God, why has Thou forsaken Me?’ and though I did not say so, yet I preached my own experience.  I heard my own chains clank while I tried to preach to my fellow-prisoners in the dark; but I could not tell why I was brought into such an awful horror of darkness, for which I condemned myself.  On the following Monday evening, a man came to see me who bore all the marks of despair upon his countenance.  His hair seemed to stand up right, and his eyes were ready to start from their sockets.  He said to me, after a little parleying, ‘I never before, in my life, heard any man speak who seemed to know my heart.  Mine is a terrible case; but on Sunday morning you painted me to the life, and preached as if you had been inside my soul.’  By God’s grace I saved that man from suicide, and led him into gospel light and liberty; but I know I could not have done it if I had not myself been confined in the dungeon in which he lay.” (uit John Piper se biografie oor die lewe van Charles Spurgeon, vekrygbaar by www.DesiringGod.org).

 

‘n Walliese prediker genaamd Derek Thomas het eenkeer by ‘n Grace Ministers’ konferensie gepreek.  In sy preek het hy gesê:  “As jy in ‘n donker gat van depressie sit en geen lig sien nie, moet jy jou hand op die grond neersit.  Voel rond totdat jy die voetspore van Jesus voel – Hy was ook daar.  Volg die voetspore tot by die lig.” (vry aanhaling).  Sê vir Jesus as jy angstig, bang, depressief, of verlate voel.  Hy weet wat jy deurmaak en kan daarom ook medelye hê (Hebreërs 4:15).

 

Lees v.45-46 en moet nooit weer twyfel oor God se liefde vir jou nie:  “En van die sesde uur af het daar duisternis gekom oor die hele aarde tot die negende uur toe; en omtrent die negende uur het Jesus met ‘n groot stem geroep en gesê:  Eli, Eli, lama sabagtáni?  Dit is:  My God, my God, waarom het U My verlaat?”  Liefde het Jesus gedryf om in jou plek die straf te dra.  Liefde het die Vader gedryf om sy Seun te stuur om te sterf vir jou sondes.  Kan jy in die gesig van sulke liefde jou rug op Hom draai?  Jou eerste liefde vir Hom verlaat?  Die wêreld meer liefhê as vir Hom?  Wegbly van sy kerk, Woord, en tafel af?  Sy kosbare bloed onder jou voete vertrap?  Weier om in geloof na Hom toe te kom?  Sy goedheid en liefde bevraagteken?

 

Kyk na Jesus se liefdesoffer op Golgota.  Laat dít jou dryf om van jou sonde weg te draai:  van verslawing aan alkohol, sigarette, pille, en dwelms; van wellus en seksuele sonde; van bitterheid en biddeloosheid en angs; van geestelike louheid; van skindertaal en leuens en diefstal; van egskeiding en bakleiery; van murmurering en luiheid; van geldgierigheid, ongehoorsaamheid, en vuil taal; van elke ander sonde.  Indien jy jou nie bekeer nie sal jy vir ewig in die hel moet uitroep:  “Waarom het U my verlaat?”  En vir mense wat sê daar is nie ‘n hel nie sê ek:  “Jy maak ‘n bespotting van die kruis.  Hoekom het God vir Jesus so erg gestraf as daar nie ‘n hel is nie?”