Hoekom het God die tempelgordyn geskeur?

 Torn veil

“En kyk, die voorhangsel van die tempel het in twee geskeur, van bo tot onder,

en die aarde het gebewe en die rotse het geskeur” (Matteus 27:51).

 

Ten spyte van 2011 se aardbewing en tsunami in Japan, aanbid die mense steeds hulle afgode.  In afgelope jare was daar baie aardbewings in Nieu-Seeland.  Die een in Christchurch was groot.  Maar tog bly die land sekulêr en ver van God af.  Natuurrampe en ander tragedies (soos die hele Oscar Pistorius affere) is veronderstel om ons ná God toe te dryf.  God stuur hierdie dinge (die rampe, nie die sonde nie) om mense op te roep tot bekering, vrees, en aanbidding.  Die Skrif sê:  “En in dieselfde tyd was daar mense teenwoordig wat Hom berig gebring het van die Galiléërs wie se bloed Pilatus met hulle offers gemeng het.  En Jesus antwoord en sê vir hulle:  Dink julle dat hierdie Galiléërs groter sondaars was as al die Galiléërs, omdat hulle sulke dinge gely het?  Nee, sê Ek vir julle; maar as julle jul nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom.  Of daardie agttien op wie die toring van Silóam geval en hulle gedood het – dink julle dat hulle meer skuldig was as al die mense wat in Jerusalem woon?  Nee, sê Ek vir julle; maar as julle jul nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom.” (Lukas 13:1-5).

 

Daar is mense wat ag gee:  “En in dié uur het daar ‘n groot aardbewing gekom, en ‘n tiende van die stad het geval, en sewe duisend mense het in die aardbewing omgekom, en die ander het bevrees geword en aan die God van die hemel heerlikheid toegebring.” (Openbaring 11:13).  Maar daar is ander wat hulle ore toedruk:  “En die sewende engel het sy skaal uitgegooi in die lug, en ‘n groot stem het uit die tempel van die hemel gekom, van die troon af, wat gesê het:  Dit is verby!  En daar het stemme gekom en donderslae en bliksemstrale, en daar het ‘n groot aardbewing gekom soos daar nog nie gewees het vandat die mense op die aarde was nie so ‘n geweldige groot aardbewing.  En die groot stad is in drie dele verdeel, en die stede van die nasies het geval.  En die groot Babilon is in gedagtenis gebring voor God, om haar te gee die beker met die wyn van die grimmigheid van sy toorn.  En alle eilande het gevlug, en berge is daar nie gevind nie; en groot hael, omtrent ‘n talent swaar, het uit die hemel op die mense geval; en die mense het God gelaster oor die plaag van die hael, omdat sy plaag ontsettend groot was.” (Openbaring 16:17-21).

 

Toe Jesus opgestaan het, was daar ’n aardbewing (28:2).  Daar was ook een toe God die Tien Gebooie gegee het (Eksodus 19:18).  Dawid sê:  “Toe het die aarde geskud en gebewe; die fondamente van die berge het gesidder en geskud, omdat Hy toornig was.” (Psalm 118:8).  En Nahum:  “Die berge bewe voor Hom, en die heuwels smelt weg; en die aarde rys op voor sy aangesig, ja, die wêreld en almal wat daarin woon.  Wie sal standhou voor sy grimmigheid?  En wie sal bestand wees teen die gloed van sy toorn?  Sy gramskap word uitgegiet soos vuur, en die rotse word stukkend geruk voor Hom.” (Nahum 1:5-6).  Openbaring 11:19 beskryf die skepping se ‘reaksie’ wanneer God teenwoordig is:  “En die tempel van God het in die hemel oopgegaan, en sy verbondsark is in sy tempel gesien, en daar was weerligte en stemme en donderslae en aardbewing en groot hael.”

 

Aarbewings is altyd God se werk.  In ons teks bewe die aarde wanneer die Skepper sterf (v.51).  Al die werkwoorde in v.51-52 staan in ’n passief.  Met ander woorde, die tempelgordyn word deur iemand geskeur.  Die aarde wórd geskud.  Die rotse wórd geskeur.  Die grafte wórd oopgemaak.  Die dooies wórd opgewek.  Wie anders as God het al hierdie dinge gedoen?

 

Ek onthou vandag nog my voorskrewe leesboek vir standerd 5 (graad 7) Engels.  Een karakter se naam was Bender.  Hy kon ‘n telefoon boek in twee skeur.  Die skeuring van die tempelgordyn het my aan hom laat dink.  Maar sy krag is ‘n vulletjie teen God s’n in v.51-52.  Die tempelgordyn was 18 meter lank, 9 meter wyd, en so dik soos jou handpalm.  72 stroke materiaal is oor mekaar gevou en vasgewerk.  Die gordyn was so swaar, dat die Jode in oordrewe terme gesê het, ‘n mens het 300 priesters nodig om één gordyn te manipuleer (inligting verkry uit Edersheim, A.; The Life and Times of Jesus the Messiah; William B. Eerdmans Publishers; GRAND RAPIDS; 1953; p.1414).  Dit is onmoontlik dat ‘n mens hierdie gordyn kon skeur.  Selfs al kon iemand dit doen, kon dit nie in híérdie geval die werk van mense gewees het nie, want die gordyn het van bo tot onder geskeur (v.51).  God het dit gedoen.

 

Jesus het omtrent 15:00 sy laaste asem uitgeblaas (v.46, 50).  Soos voorheen gewys, was hierdie die tyd van die aandoffer.  Daar sou priesters in die tempel gewees het.  Hulle het gesien hoe die rooi, blou, en pers gordyn (2 Kronieke 3:14) van bo tot onder skeur.  Hierdie gordyn het die heiligste van die allerheiligste geskei (Hebreërs 9:3).  Agter die gordyn was daar ‘n goue boks (die ark) met gerubs op die deksel.  Binne-in was kliptafels met die Tien Gebooie op, ‘n goue kruik met manna in, en Aäron se staf vol van amandelblare, ryp amandels, en wit amandel bloeisels (Hebreërs 9:4-5).  Vir 1200 jaar kon net die Hoëpriester agter dié gordyn ingaan, en dít eenkeer per jaar (Hebreërs 9:7).

 

God het die gordyn geskeur om te wys dat Hy klaar was met die Ou Tesamentiese tempel.  Hy was nie meer ‘n verborge God wat van die mens geskei was nie.  Nou was dit nie net die hoëpriester wat direk na God toe kon kom nie.  Die hele volk kon.  En in Christus is daar toegang vir enigiemand (Hebreërs 10:19-22).  Elke gelowige is ‘n tempel van die Heilige Gees en ‘n priester.  “Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?” (1 Korintiërs 3:16, vgl. 1 Korintiërs 6:19, Efesiërs 2:20-22).  “Maar julle is…’n koninklike priesterdom” (1 Petrus 2:9).  Openbaring 1:6 sê dat Jesus “ons gemaak het konings en priesters vir sy God en Vader” (ook Openbaring 5:10).

 

Omdat die voorhangsel geskeur is en jy ‘n priester is, kan jy jou eie sondes bely en tot God bid.  Jy kan direk en met vrymoedigheid kom.  Jy het nie ‘n aardse priester nodig nie.  En jy maak ‘n fout as jy dink daar is ‘n groter kans dat God die dominee se gebed sal verhoor as joune.  Ons glo dat elke gelowige ‘n priester is.  En ons glo dat die man die hoof is van sy huis.  Maar ons glo nie, soos party mense, dat die man die priester van sy huis is nie.  Die Skrif sê dit nooit.  Die gelowige man het nie beter toegang tot God as sy Christen vrou nie.  Dieselfde prinsiep geld in die kerk.  God het wel verskeie gawes aan die kerk gegee, sodat daar iemand is wat preek, ‘n ander wat bemoedig, en nóg ‘n ander wat voorsing.  Maar dit is nie net die predikant wat vir ander raad kan gee, die evangelie kan deel, die nagmaal kan bedien, of ‘n nuwe gelowige kan doop nie.  Omdat alle gelowiges priester is, moet ons almal die Here dien en geestelike offers bring.  Petrus sê ons is “’n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus.” (1 Petrus 2:5).  Hierdie geestelike offers sluit onder meer in, danksegging, ons liggame, finansiële bydraes, mededeelsaamheid, losprysing, gebed (Psalm 50:23, Romeine 12:1, Filippense 4:18, Hebreërs 13:15-16, Openbaring 8:3).  Omdat ons dan die Here se priesters en tempel is, is daar geen nood dat die tempel êrens in die toekoms herbou hoef te word, dat die gordyn weer opgehang moet word, of dat daar Joodse priesters aangestel moet word nie.  Die geskeurde tempelgordyn skakel dit uit.