Wat jy saai sal jy maai

Sower

19 Ware geregtigheid lei tot die lewe, maar hy wat die kwaad najaag, jaag na sy dood…23 Die begeerte van die regverdiges is net ten goede, maar die hoop van die goddelose is ‘n strafgerig van toorn…30 Die vrug van die regverdige is ‘n boom van die lewe, en hy wat siele win, is wys. 31 As die regverdige op aarde vergelding ontvang, hoeveel te meer die goddelose en die sondaar!” (Spreuke 11:19, 23, 30-31).

 

Iemand wat kosmos sade plant en verwag dat roosbome opkom, is ‘n sot.  En iemand wat selfregverdige lewe en dink hy gaan die ewige lewe oes, is niks beter nie.  Dít is die probleem met die mense in Matteus 7:21-23 (verse waarvoor baie Christene bang is):  “Nie elkeen wat vir My sê:  Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.  Baie sal in daardie dag vir My sê:  Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie?  En dan sal Ek aan hulle sê:  Ek het julle nooit geken nie.  Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!”  Hierdie verse het niks te doen met ware Christene nie, maar met mense wat op hulle godsdienstige werke staatmaak om hemel toe te gaan.  ‘Selfgeregtigheid’, kan ons dit noem.  Hulle het niks anders geoes as wat hulle gesaai het nie.

 

Ware geregtigheid lei nie tot die dood nie, maar is ‘n boom van die lewe.  Dit het wel groen blare (v.28), maar dit het nie nét groen blare nie.  Daar is vrugte ook:  “Ware geregtigheid lei tot die lewe…Die vrug van die regverdige is ‘n boom van die lewe” (v.19, 30, vgl. Genesis 3:22, Openbaring 2:7, 22:2, 14).  Paulus voel ‘n veer vir sy eie geregtigheid.  Hy soek die geregtigheid wat van God af kom (Filippense 3:9), en die vrug wat daarop volg:  “Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.” (Galasiërs 5:22).

 

Natuurlik wen die regverdige nie net die lewe vir homself nie.  Hy wil ander saamneem hemel toe.  Deur waarskuwing en evangelisasie wil hy mense van die dood red:  “…hy wat siele win, is wys.” (v.30b).  Soos Paulus sal hy enigiets doen om mense te red van die komende oordeel (1 Korintiërs 9:19-22).  Dié persoon maak erns met Jakobus 5:20:  “laat hy weet dat die een wat ‘n sondaar van sy dwaalweg bekeer, ‘n siel uit die dood sal red en ‘n menigte sondes sal bedek.”  Die persoon wat ander wil red moet wys wees.  As jy op die damwal staan en klippe in die water gooi, sal jy nie karp vang nie.  Jy moet wys wees en die hoek onder ‘n klont gegeurde pap wegsteek.  Net so, as jy ‘n visser van mense wil wees.  Salomo sê immers dat die wyse persoon siele wen (v.30).

 

Om jouself van die dood te red moet jy volhard in geregtigheid (v.19, English Standard Version).  As jy ophou om regverdig te wees en die kwaad najaag, sal jy sterf:  “Ware geregtigheid lei tot die lewe, maar hy wat die kwaad najaag, jaag na sy dood…Die loon van die sonde is die dood” (v.19, Romeine 6:23).  Esegiël sê:  “Maar as die regverdige afwyk van sy geregtigheid en onreg doen en handel volgens al die gruwels wat die goddelose doen – sal hy lewe?  Aan al sy geregtighede wat hy gedoen het, sal nie gedink word nie; om sy troubreuk wat hy begaan het, en om sy sonde wat hy gedoen het, om hulle ontwil sal hy sterwe.” (Esegiël 18:24).  God bedoel nie dat ‘n regverdige persoon wat eenkeer kwaad doen, hel toe gaan nie.  Die genoemde verse verwys eerder na iemand wat ‘n leefwyse van sonde maak.

 

Dalk wonder jy hoekom die lewe soms anders werk as in v.19:  “Ek ken regverdige mense wat doodgaan, en slegte mense wat lank lewe.”  Jy is reg, maar nie in die finale sin van die woord nie.  Uiteindelik sal alle regverdige mense lewe, en goddelose mense sterf.  In gewone-mens terme:  Regverdige mense gaan hemel toe, en goddelose mense gaan hel toe.  Dit is natuurlik Jesus se geregtigheid wat lewe gee, omdat hy vir ons sonde gesterf het.

 

Jesus was honger in die woestyn en is versadig (Matteus 4:2, 11).  Die ryk man in die hel se dors is nie geles toe hy vir water gevra het nie (Lukas 16:24-26).  Met ander woorde, regverdige mense kry wat hulle begeer en slegte mense nie:  “Die begeerte van die regverdiges is net ten goede, maar die hoop van die goddelose is ‘n strafgerig van toorn.” (v.23).  “Maar wat van slegte mense wat geld, rykdom, kinders, ‘n mooi vrou of aantreklike man, en alles anders kry wat hulle begeer?”, wil iemand weet.  Miskien kry hulle nóú wat hulle begeer.  Maar dit sal nie hou nie.  Hulle sal geskok wees wanneer hulle voor die hemelpoort staan en weggewys word.  Soos Asaf se vyande, is hulle rykdom ‘n droom wat in sand sal verander (Psalm 73).  Geen wonder ons teks sê dat die goddelose se hoop in toorn eindig nie (v.23).

 

Daar is Christene wat wonder hoekom v.23a nie in húlle lewens uitwerk nie:  “Ek bid al vir jare dat my geliefdes gered word, maar die Here antwoord nie.  Ek dog Hy gee wat ons begeer?”  Hy belowe dit, ja:  “en verlustig jou in die Here; dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart.” (Psalm 37:4).  “Hy sal die goeie nie onthou aan die wat in opregtheid wandel nie.” (Psalm 84:12).  “U is goed en doen goed” (Psalm 119:68).  “Salig is die wat honger en dors na die geregtigheid, want hulle sal versadig word.” (Matteus 5:6).  “As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid!” (Matteus 7:11, vgl. Lukas 11:13).  “En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is…Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?” (Romeine 8:28, 32).

 

Ek verstaan ook nie altyd hoekom God nie dadelik (en soms glad nie) gee wat ons vra nie.  Maar Hy is wys.  Hy weet wat goed is.  Daarom sal Hy nie alleen sorg dat ons ons hartsbegeertes ontvang nie, maar ook dat ons die regte dinge begeer.  En as jy goeie begeertes saai, sal jy ‘n regverdige lewe en God se guns oes.

 

Ek het eenkeer met ‘n vrou gepraat oor haar sonde.  Sy het my afgejak en wou haar nie bekeer nie.  Twee weke later is sy dood.  Reeds op aarde gee God positiewe en negatiewe belonings aan mense:  “As die regverdige op aarde vergelding ontvang, hoeveel te meer die goddelose en die sondaar!” (v.31).  As tugtiging vir Dawid se sonde, het die Here hom siek gemaak en sy kind doodgemaak (Psalm 38, 2 Samuel 12:14).  Jeremia sê:  “Want kyk, in die stad waaroor my Naam uitgeroep is, begin Ek met onheile – en sal júlle heeltemal ongestraf bly?  Julle sal nie ongestraf bly nie, want Ek roep die swaard op teen al die inwoners van die aarde, spreek die Here van die leërskare.” (Jeremia 25:29).  Petrus skryf:  “Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God.  En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is?  En as die regverdige nouliks gered word, waar sal die goddelose en die sondaar verskyn?” (1 Petrus 4:17-18).

 

Wanneer die gelowige getug word, moet dit nie as ‘n negatief straf oor sy sonde gesien word nie, want “Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie” (Romeine 8:1).  Ons moet hierdie negatiewe vergelding as die liefdevolle tugtiging van ‘n Vader beskou (Hebreërs 12:5-11).  Maar laat ons ook die erns van die saak raaksien.  As God nie eers sy eie volk en kinders oorsien nie, wat van die goddelose heiden (v.31b)?  Soms lyk dit vir ons of God nooit die goddelose gaan straf nie.  Maar ons is verkeerd, want selfs in hierdie lewe gee God hulle oor aan sonde en sy verskriklike gevolge.  God bring hulle finansieel onder.  Hy bring rampe, siekte, aanvalle, kritiek, en die dood van geliefdes oor hulle.  Dít is waarom Paulus in Romeine 1:18 ‘n teenwoordige tydsvorm gebruik:  “Want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense”.  Salomo was heeltemal reg om te sê dat God die goddelose en die sondaar reeds op aarde vergeld (v.31).

 

Moet nou nie hieruit aflei dat alle slegte dinge wat in die lewe gebeur, God se direkte straf is nie.  Of dat alle goeie dinge God se guns oor mense is nie.  Die geskiedenis van Job en die ryk mense van Psalm 73 bewys die teendeel.  Maar wanneer jy pyn ervaar moet jy die lesse leer wat God wil hê.  Jy oes niks meer of minder as wat jy gesaai het nie.  En as jy ‘n gelowige is sal jy ‘n goeie beloning oes, omdat dit presies is wat Jesus namens, in, en deur jou gesaai het.