Die bekering van die Romeinse soldaat by Jesus se kruis

Centurion at cross

“En toe die hoofman oor honderd en die wat saam met hom Jesus bewaak het, die aardbewing sien en die dinge wat daar gebeur, het hulle baie bevrees geword en gesê: Waarlik, Hy was die Seun van God.” (Matteus 27:54).

 

Toe ek in standerd 6 (graad 8) was, het ’n seun van ons grootte vir ons bevele gegee.  Hy en ’n ander standerd 6 het aan mekaar begin stamp.  Baie bang het ek vir die standerd 6 gesê:  “Hey, daardie ou is in standerd 8.”  Hy het dadelik opgehou om aan die ou te stamp en was net so bang soos ek.

 

Aanvanklik het die Romeinse soldate nie besef wie die man aan die kruis was nie.  Toe hulle besef dat Hy die Seun van God is, het hulle baie bang geword (v.54).  In v.27 lees ons van omtrent 600 soldate.  Net ‘n handvol (omtrent 4) soldate het by die kruis wag gehou, sodat die gekruisigdes hulself nie kon loskry en wegkom nie (v.54, Johannes 19:23).  Hierdie is dieselfde soldate wat vir Jesus gevang (Johannes 18:3, 12), geslaan, ontklee, gespot, met dorings gekroon, met ‘n riet en met die vuis geslaan, gespoeg, gekruisig, uitgelag, suurwyn gegee, en met ‘n spies deurboor het.  Nou red Jesus ‘n paar van hulle (v.54).  Dit is deur sy gebed aan die kruis en deur sy soendood, wat Hy hulle gered het (Lukas 23:34, Johannes 12:32).  Daar is ‘n paar ander voorbeelde in die Skrif van Romeinse soldate wat gered is:  die soldaat wie se dienskneg genees is (Matteus 8:5-13), die soldate wat na Johannes se prediking geluister het (Lukas 3:14), Cornelius (Handelinge 10), die tronkwag van Filippi (Handelinge 16:25-34), en die keiserlike wag in Rome (Filippense 1:12-13).

 

Wat is die les wat ons hieruit leer?  Romeinse soldate was harde, immorele, skelm, aggressiewe, geweldadige mense.  Hulle het met Jesus gespot.  Hulle was boelies.  Hulle was afgodedienaars.  Hulle was dronkaards.  Die les is dat Jesus selfs sulke sondaars kan red.  Het Paulus (‘n godslasteraar en vervolger) nie gesê:  “Dit is ‘n betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word, dat Christus Jesus in die wêreld gekom het om sondaars te red, van wie ek die vernaamste is.” (1 Timoteus 1:15)?

 

‘n Student het eendag vir my gesê:  “As God wil hê ek moet Hom dien, moet Hy Homself aan my bewys.  God is arrogant.  Hy dink Hy kan doen wat Hy wil.”  Die soldate het gevrees toe hulle besef het wie Jesus is (v.54).  Hulle vrees was nie primêr vir die rotse wat geskeur het, of vir die aardbewing nie.  Hulle was bang vir die man aan die kruis.  Nou het hulle nie meer gespot nie.  Hulle het besef dat Jesus die Seun van God is – dat Hy God self is.  Die soldaat sê immers:  “Waarlik, Hy was die Seun van God.” (v.54).[1]  Die soldaat het gehoor hoe die Joodse leiers gespot het:  “As U die Seun van God is, kom af van die kruis!” (v.40).  Hy het verstaan dat hulle spottery nie geïmpliseer het dat Hy die seun van ‘n afgod was nie, maar dat Hy die Seun van die lewende God was.  In die Jode se gedagtes was Jesus se aanspraak dat Hy die Seun van God was, ‘n bewering dat Hy God self was (sien Johannes 5:18, 10:33, 36).  En dit is om híérdie rede wat hulle Hom doodgemaak het.

 

Onthou dat hierdie Romeinse soldaat baie keer gesien het hoe mense aan kruise doodgaan.  In 7 n.C. was daar ‘n opstand in Judea.  In reaksie het Quintilius Varus 2000 Jode in Jerusalem gekruisig.  Baie jare ná Jesus se dood (toe Titus Jerusalem in 70 n.C. beleër het), het Romeinse troepe vir baie maande aaneen, 500 Jode per dag gekruisig.  Hierdie Romeinse soldate by Jesus se kruis het dus baie keer gesien hoe slagoffers die stryd teen kruisiging verloor.  Maar hulle het nog nooit ‘n dood soos hierdie een gesien nie.  Vir die eerste keer het hulle gesien hoe ‘n ‘n gekruisigde in triomf sterf:  “Dit is volbring!” (Johannes 19:30).

 

Aardbewings en donderstorms is maar die fluistering van God se krag (Job 26:14).  Stel jou voor hoe dit sal wees as jy nie net God se skeppingsmag sien nie, maar vir God self.  Die Romeinse soldaat het God se skeppingsmag in die aardbewing gesien, maar sy oë het oopgegaan om vir God self te sien.  As God so vreeslik en heilig is, moet ons in eerbied en vrees reageer soos die soldaat (v.54).  Ons kan nie ligsinnig en laf wees nie.  Ons kan nie in ons gemeentelike aanbidding choaties en deurmekaar wees soos by ‘n sirkus nie.  Ons moenie ‘buddy-buddy’ met God wil wees nie.  Ons moet Hom nie bevraagteken en uitdaag nie.  Aanbid Hom.  Erken Hom.  Gehoorsaam Hom.  Dien Hom.  Vrees Hom.


[1] Ek is bewus van die vertalingsmoontlikheid:  “Hy was ‘n seun van god”, maar ek glo dat die interpretasie wat ek navolg, korrek is.

Advertisements