Die raaisel van die leë grafte op Paassondag

Light in empty tomb

“en die grafte het oopgegaan en baie liggame van die ontslape heiliges het opgestaan.  En ná sy opstanding het hulle uit die grafte uitgegaan en in die heilige stad ingekom en aan baie verskyn.” (Matteus 27:52-53).

Ek het eendag vir ‘n ateïs gesê dat evolusie nie wetenskaplik bewys kan word nie.  Sy reaksie was:  “Napoleon se bestaan kan ook nie wetenskaplik bewys word nie.  Wie sê die handskrif op sy briewe is nie iemand anders s’n nie?  Hoe weet ons dat die bene in sy graf sýne is?”  Hy’s reg.  Al bewys wat ons van Napoleon se bestaan het is voldoende getuies.  En al bewys wat ons het dat gelowiges ná Jesus se dood uit die grafte opgewek is, is die getuienis van God en mense.  God getuig daarvan in die Skrif, en volgens v.52-53 het die opgestane heiliges aan baie in die stad verskyn.  Dit blyk dat die dooies Vrydag reeds opgewek is, maar dat hulle eers Sondag uit die grafte uitgekom het.  Die grafte was natuurlik buite die stad.  Die teks sê duidelik dat hulle in die heilige stad (Jerusalem, 4:5) ingekom het (v.53).  Die feit dat hulle aan sekere mense in die stad verskyn het, impliseer dat mense hulle geken het.  Hulle kon dus nie te lank voor dit gesterf het nie.

Het hierdie gelowiges ná hulle opstanding op die aarde gelewe en weer gesterf (soos waarskynlik gebeur het met Lasarus, Jaïrus se dogter, en die weduwee van Naïn se seun – Lukas 7:11-17, 8:49-56, Johannes 11).  Waarskynlik nie, want as dit so was sou iemand sekerlik daarvan vertel het.  Die moontlikheid is groter dat hulle verheerlikte liggame ontvang het, en opgevaar het hemel toe.  Net soos wat Jesus se liggaamlike opstanding ons s’n waarborg (1 Korintiërs 15:20-23), is die opstanding van hierdie dooies ‘n deposito en waarborg van dieselfde.  Maar op die einde moet ons seker sê:  “Ons weet nie wat presies ná hierdie opstanding gebeur het nie, want die Bybel sê nie vir ons nie.  Die beste wat ons kan doen is om te raai.”

Maar waaroor ons níé hoef te wonder nie, is die sekerheid van óns opstanding uit die graf.  Ek kon aan twaalf bewyse dink vir die opstanding van ons liggame wanneer Jesus kom.

  1. Jesus se graf is leeg.  Soos reeds gewys waarborg sy opstanding ons s’n (1 Korintiërs 15:20-23).
  2. Elia en Henog het nie gesterf nie, en is in hulle liggame opgeneem hemel toe (2 Konings 2, Hebreërs 11:5).
  3. Ons was geestelik dood en is opgewek (Efesiërs 2:5-6).  Die opstanding van ons siele waarborg die opstanding van die liggaam.
  4. In die skepping is daar dinge wat sterf en weer lewe.  ‘n Saad word in die grond gegooi.  Uit die ‘lewelose’ saad groei ‘n plant of ‘n boom.  Net so sal ons liggame ‘gesaai’ word en weer ‘opkom’.
  5. Vir elke ding bestaan daar ‘n teenoorgestelde.  Ons weet wat slaap is, omdat daar so iets soos ontwaking is.  En net so moet daar ook ‘n teenoorgestelde vir dood wees, naamlik opstanding.
  6. Job het geweet daar sal ‘n opstanding wees (Job 19:25-27).  Hoe kon hy dit geweet het as daar nog nie ‘n enkele boek van die Bybel geskryf was nie?  Hy moes ‘n direkte openbaring van die Here ontvang het.
  7. Die Skrif sê dat ons liggame opgewek sal word.  Wat die Bybel oor baie ander dinge voorspel het, het gebeur.  Daarom kan ons glo dat hierdie profesie óók vervul sal word.
  8. Daar is mense wat uit die dood opgewek is in die Ou- en Nuwe Testament.  Hulle opstanding bewys dat God dooies kan (en weer sal) opwek.
  9. Sonder die opstanding van die liggaam is ons redding nie voltooi nie, en het Jesus nie die dood oorwin nie (Romeine 8:23).  As ons liggame nie opgewek word nie, het die dood ons oorwin.
  10. Jesus het belowe dat Hy ons sal opwek (Johannes 6:40).  Om die opstanding te ontken is om te sê Jesus is ‘n leuenaar soos die duiwel.
  11. ‘n Gees kan bestaan sonder ‘n liggaam (soos God, engele, en demone).  Ook óns siele kan voortleef in die hemel sonder ons liggame.  As die siel kan voortleef, waarom nie ook die liggaam nie?
  12. Baie mense was ooggetuies dat die afgestorwe gelowiges in v.52-53 weer geleef het.

Jy hoef nie bang te wees vir die dood nie.  Soos ander verse in die Nuwe Testament, praat v.52 van dood as ‘slaap’ (sien Johannes 11:11-13, Handelinge 7:60, 1 Tessaonisense 4:13-15).  Dit het niks te doen met sogenaamde sieleslaap nie, maar eerder daarmee dat die dood so skadeloos is vir die Christen soos slaap.