God se grootste werk

Baby in womb

Wat is God se grootste skeppingswerk (ons praat nie hier van verlossing nie)?  Is dit miskien die grootste ster wat tot op hede ontdek is, VY Canis Majoris, wat ‘n biljoen keer groter is as ons son?  Of dalk die grootste sterrestelsel waarvan ons weet:  IC 1101 met sy 100 triljoen sterre en ‘n deursnee van 6 miljoen ligjaar of 5.6 x 1019 km?  Is dit die mikro skepping; die onsigbare Higgs Boson partikel?  Of ‘n elektron wat 2.82 x 10-15 m is (as ‘n elektron so groot was soos ‘n appel, sou ‘n mens 3.5 keer groter as ons sonnestelsel wees)?  Miskien is dit die aarde vir sy skoonheid, verskeidenheid en lewe?  Wat van DNA?  As die inligting in een persoon se DNA in boeke neergepen kon word, sou dit die Grand Canyon 40 keer opvul.  Een gram DNA bevat soveel inligting dat dit 700 terabytes sou volmaak.

 

Die genoemde dinge is wonderlik, maar dis nie God se grootste skeppingswerk nie.  Die mens is.  God het die beste vir laaste gehou en die mens op die sesde skeppingsdag gemaak.  Die mens is die kroon van God se skepping.  So beskryf Dawid hoe God hom geskep het:

 

 “13 Want U het my niere gevorm, my in my moeder se skoot geweef. 14 Ek loof U, omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is u werke!  En my siel weet dit alte goed. 15 My gebeente was vir U nie verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, kunstig geweef in die dieptes van die aarde. 16 U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe:  dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.” (Psalm 139:13-16).

 

 

Jou liggaam (verse 13-16a)

Hier is ‘n paar hoogtepunte in die ontwikkeling van ‘n mens:

 

  • Konsepsie vind plaas.
  • In die eerste maand is al die selle vir die produsering van organe en liggaamsdele teenwoordig.
  • Die vingers begin in maand 2 vorm.
  • In maand 3 is die mensie 7.5 cm lank, en het hy sy eie unieke vingerafdrukke.
  • Die geraamte begin vorm in maand 4.
  • Ooglede in maand 5.
  • Die vel is mooi glad in maand 6.
  • Die oë kan oop en toemaak in maand 7.
  • Die baba het genoeg vet en sy longe is ontwikkel in maand 8.
  • Dis maand 9 en die baba word gebore.

 

Wanneer Dawid sê dat God sy niere gevorm het (v.13), bedoel hy dat God die kern van sy wese gevorm het.  In die antieke skrywer se gedagte is die niere die setel en sentrum van sy emosies:  “…My niere versmag van verlange in my binneste.” (Job 19:27).  Soos wat God in Genesis 1 orde uit die vormlose gebring het (Genesis 1:2), het Hy orde en vorm gebring aan die vormlose embrio in die moederskoot:  “U oë het my ongevormde klomp gesien…” (v.16).  God het hom kunstig aanmekaar geweef en in fyn detail sy geraamte en die res van sy liggaam ontwerp:  “…my in my moeder se skoot geweef…My gebeente was vir U nie verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, kunstig geweef in die dieptes van die aarde.” (v.13, 15, die moederskoot en dieptes van die aarde is dikwels sinonieme terme in die Ou Testament – Job 1:21).

 

Elke mens is ‘n meesterstuk en is wonderbaar (v.14).  Die Hebreeuse woord vir wonderbaar beteken letterlik ‘uniek’.  Dink maar aan hoe elke mens unieke vingerafdrukke het.  Die mens is nie die produk van breinlose evolusie nie.  Die mens is anders as die res van die skepping.  In Genesis 1 word elke skepsel volgens sy soort gemaak.  Net die mens is nie volgens sy soort nie, maar volgens God se soort of beeld (Genesis 1:26-27).  Omdat die mens uniek is, kan ons nie mense doodmaak soos kakkerlakke nie.  ‘n Mens is reeds van die moederskoot af uniek en na God se beeld gemaak.  Daarom is aborsie niks anders as moord nie.  As jy ‘n fetus doodmaak, beïndig jy ‘n lewe wat na God se beeld gemaak is.  Mense wat aborsie beoefen verdien die doodstraf:  “Hy wat die bloed van ‘n mens vergiet, sy bloed sal deur die mens vergiet word; want God het die mens na sy beeld gemaak.” (Genesis 9:6).  Die mens as God se beeld is uniek op ten minste 10 maniere:

 

  1. Die mens is moreel.  Diere kan nie skuldig wees aan verkragting, hoogmoed, of moord nie.
  2. Die mens het ‘n geestelike natuur.  Diere hou nie stiltetyd of bidure nie.
  3. Die mens is onsterflik.  “No (not ‘all’) dogs go to heaven.”  As ‘n dier dood is kom sy lewe tot ‘n einde.  Die mens se siel lewe vir ewig voort in die hemel of die hel.
  4. Anders as diere, kan mense logies dink en redeneer.
  5. Diere kan kommunikeer, maar hulle het nie ‘n ingewikkelde grammatika soos ons nie.
  6. Diere kan sekere emosies hê, maar kan nie soos mense baie emosies op een slag voel nie.  Probeer dink aan hoe jy soms vyf of ses emosies op een slag kan voel.
  7. Die mens het ‘n bewustheid van die ewigheid.  Al ontken party mense dit, weet elke mens dat daar iets na die dood is.  Diere het nie so ‘n bewustheid nie.
  8. Vinke en miere is baie kreatief.  Maar ‘n miernes in 2013 lyk net soos wat dit in 3900 v.C. gelyk het.  Mense se kreatiwiteit en tegnologie ontwikkel.
  9. Sommige diere woon in kolonies.  Maar geen dier kan die intieme gemeenskap en vriendskap van ‘n gesin, vriendekring, of kerk ervaar nie.
  10. Mense geniet die voorregte en vreugdes van die huwelik.  Diere verstaan niks hiervan nie.
  11. Die mens voer heerskappy oor die skepping.  Geen boom of hond het ooit ‘n mens beveel nie.  Ons beskerm diere in nasionale parke.  Chimpanzees het nog nooit ‘n park gestig om mense te beskerm nie.

 

Jy weet uit ondervinding dat jy uniek is:  “…my siel weet dit alte goed.”  Loof die Here daarvoor (v.14).

 

Hierdie verse leer vir ons dat God soewerein is oor die moederskoot.  Hý het vir ou of onvrugbare vroue soos Sara, Rebekka, Ragel, Simson se ma, Hanna, en Elisabet kinders gegee.  Hy het in die maagd Maria se moederskoot gewerk, sodat sy sonder ‘n man swanger geword het.  Omdat dít so is, kan onvrugbare vroue bid en vra dat God vir hulle kinders sal gee (Genesis 25:21, 1 Samuel 1:10).  Indien God ‘nee’ sê moet jy rus in sy wil – Hy het beter planne vir jou.

 

God het jou gemaak en jou liggaam ontwerp.  Wanneer jou liggaam siek is of pyn voel, moet jy eerste na jou Maker toe keer vir hulp en dán Sy gawe van mediese hulp opsoek as dit nodig is:  “En in die nege en dertigste jaar van sy regering het Asa gely aan sy voete; sy siekte was baie ernstig; maar selfs in sy siekte het hy die HERE nie geraadpleeg nie, maar die geneeshere.” (2 Kronieke 16:12).  “En ‘n vrou wat twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het, en wat haar hele vermoë aan geneeshere uitgegee het en deur niemand gesond gemaak kon word nie, het van agter af gekom en die soom van sy kleed aangeraak, en haar bloedvloeiing het onmiddellik opgehou.” (Lukas 8:43-44).  “Is daar iemand siek onder julle?  Laat hom die ouderlinge van die gemeente inroep, en laat hulle oor hom bid nadat hulle hom in die Naam van die Here met olie gesalf het.  En die gebed van die geloof sal die kranke red, en die Here sal hom oprig.  Selfs as hy sonde gedoen het, sal dit hom vergewe word.” (Jakobus 5:14-15).

 

Party van my lesers en luisteraars is nog ongered.  God het jou gemaak.  Jy is syne.  In jou huidige toestand is jy ‘n dief wat die asem en lewe steel wat God vir jou gegee het.  Jy gebruik die liggaam wat Hý gemaak het om teen Hom te rebelleer.  God beveel jou vandag om jou te bekeer.  As jy van jou sonde af wegdraai en glo dat Jesus volmaak gelewe het namens ons, gesterf het in die plek van ‘n helverdiende sondaar soos jy, en opgestaan het op die derde dag; as jy nie op jou eie goeie werke staatmaak nie, maar volkome op Jesus vertrou, dan sal jy gered word.  Eers dán kan jy lewe in lof en dankbaarheid tot die God wat jou in die moederskoot gemaak het.

 

Jou lewe (vers 16b)

Party mense hou aan die einde van die dag ‘n tipe lewensjoernaal van dit wat daardie dag gebeur het.  God het ‘n boek van jou lewe op rekord nog vóórdat enige van daardie dinge gebeur:  “…in u boek is hulle almal opgeskrywe:  dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.” (v.16b).  God is soewerein oor jou lewe.  Dis nie die dood of jou toekoms wat soewerein is nie.  Moet daarom nie bang wees vir die dood of jou toekoms nie.  Die Skrif sê:

 

“U het my omswerwinge getel; hou my trane in u kruik; is hulle nie in u boek nie?” (Psalm 56:9).  Die Here het geweet daar gaan sekere dinge oor jou lewe kom wat jou hartseer gaan maak.  Vir Hom is jou trane belangrik.  Hy sal jou vertroos en help.

 

“Alles het sy bepaalde uur, en vir elke saak onder die hemel is daar ’n tyd:  ‘n tyd om gebore te word en ‘n tyd om te sterwe, ‘n tyd om te plant en ‘n tyd om uit te roei wat geplant is, ‘n tyd om dood te maak en ‘n tyd om gesond te maak, ‘n tyd om af te breek en ‘n tyd om op te bou, ‘n tyd om te ween en ‘n tyd om te lag, ‘n tyd om te weeklaag en ‘n tyd om van vreugde rond te spring, ‘n tyd om klippe weg te gooi en ‘n tyd om klippe bymekaar te maak, ‘n tyd om te omhels en ‘n tyd om ver te wees van omhelsing, ‘n tyd om te soek en ‘n tyd om verlore te laat gaan, ‘n tyd om te bewaar en ‘n tyd om weg te gooi, ‘n tyd om te skeur en ‘n tyd om aanmekaar te werk, ‘n tyd om te swyg en ‘n tyd om te spreek, ‘n tyd om lief te hê en ‘n tyd om te haat, ‘n tyd vir oorlog en ‘n tyd vir vrede.” (Prediker 3:1-8).  Daar is ’n bepaalde tyd vir alles – selfs vir ’n knoop om van ’n hemp af te breek.  God, nie toeval nie, is in beheer van jou lewe en toekoms.

 

“Wees goedsmoeds op die dag van voorspoed, en op die dag van onheil, bedink dan:  Ook hierdie dag het God gemaak net soos daardie, daarom dat die mens ná sy dood niks meer sal ontdek nie.” (Prediker 7:14).  God het al jou dae bepaal – ook die slegtes (v.16b van ons Psalm).

 

“Dink aan die dinge wat tevore was, van ouds af, dat Ek God is, en daar is geen ander nie; Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie; wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê:  My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen” (Jesaja 46:9-10).  Dis duidelik genoeg.

 

“Kwel julle dus nie oor môre nie, want môre sal hom oor sy eie dinge kwel.  Elke dag het genoeg aan sy eie kwaad.” (Matteus 6:34).  In die konteks is die punt dat God in beheer is van jou toekoms.  Moenie angstig wees nie.

 

“As dan sy dae vasgestel is, die getal van sy maande by U is, U vir hom grense gestel het waar hy nie oor kan gaan nie” (Job 14:5).  God het die dag van jou dood bepaal.  Moenie bang wees vir die dood nie.  Vrees God.

 

Selfs in Jesus se lewe het God die dag van sy geboorte, dood, en wederkoms bepaal (sien Matteus 6:34, Galasiërs 4:4, Romeine 5:6, Matteus 24:36).

 

Moenie bang wees nie.  Moet ook nie dink dat jou of iemand anders se lewe doelloos is nie.  Iemand wat dink ‘n baba se lewe is doelloos, mag dalk ‘n aborsie hê.  Iemand wat dink sy eie lewe is doelloos mag dalk depressief word of selfmoord pleeg.  Moenie.  Ons teks sê duidelik dat God ons dae beplan het en ‘n doel daarmee het (v.16b).

 

Moet ook nie fatalisties wees en sê:  “Wel, God het my hele lewe bepaal.  Wat God vir my beplan het gaan in elk geval gebeur, en daarom help dit nie ék doen enigiets nie.”  Jy is verkeerd.  God bepaal nie net die einddoel van dinge nie, maar ook die middele om dit te bereik.  God het byvoorbeeld vir Hiskia gesê dat hy nie sou doodgaan van sy siekte nie, maar 15 jaar langer sou lewe.  Direk nadat die Here dit gesê het, moes hy medisyne neem om gesond te word.  Hy kon seker soos jy geredeneer het:  “God het bepaal dat ek 15 jaar langer gaan lewe, en daarom hoef ek nie medisyne te gebruik, te eet, te drink, of asem te haal nie.”  Dit is idioties.  Daar is nie ‘n ander manier om dit te beskryf nie.  Psalm 139:16b is nie geskryf sodat jy passief sou wees nie, maar om jou te troos dat die Here in beheer is.  Moet ook nie dink jy kan roekeloos of selfstandig wees, omdat God jou lewe bepaal en beplan het nie.  Moenie arrogant wees en dink jy is in beheer van jou lewe nie (Jakobus 4:13-17).  Gód is in beheer en heers oor jou lewe (v.16b).  Lewe in die lig van hierdie realiteit.

Advertisements

Vier dinge wat ‘n persoon weggee

Fool face

23 ‘n Skrander mens verberg sy kennis, maar die hart van die dwase roep hulle sotheid uit. 24 Die hand van die vlytiges sal heers, maar traagheid lei tot dwangarbeid. 25 Bekommernis in die hart van ‘n mens druk dit neer, maar ‘n vriendelike woord vrolik dit op. 26 Die regverdige vind sy weide uit, maar die weg van die goddelose laat hulle dwaal. 27 Hy wat traag is, jaag sy wild nie op nie, maar vlyt is ‘n kosbare skat vir ‘n mens. 28 Op die pad van geregtigheid is lewe, en die rigting van dié pad is onsterflikheid.” (Spreuke 12:23-28).

 

Sy woorde (v.23)

In sy autobiografie sê C.S. Lewis dat hy in sy jeug gedink het sy kennis van literatuur is beter as meeste ander mense s’n.  Toe hy ouer geword het, is hy genees van sy ‘priggery’, soos hy dit stel.  Volgens Salomo is dit ‘n dwaas wat baie oor homself dink en praat:  “…die hart van die dwase roep hulle sotheid uit.” (v.23b, sien ook 13:16, 15:2).  Die dwaas vertel vir jou alles wat hy weet en toon sodoende sy onkunde.  ‘n Wyse persoon sê nie alles wat hy weet of dink nie; hy roem nie oor sy kennis nie (v.23a).  In hierdie opsig is hy soos sy God wat net sekere dinge openbaar en ander dinge terughou (Deuteronomium 29:29).

 

‘n Mens sou nogal die omgekeerde verwag.  Jy sou dink die wyse sou sy kennis deel en die dwaas sy onkunde wegsteek!  (Tremper Longman, Proverbs, Baker Academic, GRAND RAPIDS, 2006, p.278).  As die versoeking kom om oor jouself en jou kennis te roem, roem in Jesus.  Daarom, soos geskrywe is:  “Die wat roem, moet in die Here roem.” (1 Korintiërs 1:31).  “Maar wie roem, moet in die Here roem.  Want nie hy wat homself aanbeveel, dié is beproef nie, maar hy wat deur die Here aanbeveel word.” (2 Korintiërs 10:17-18).  “Maar wat my betref, mag ek nooit roem nie, behalwe in die kruis van onse Here Jesus Christus, deur wie die wêreld vir my gekruisig is en ek vir die wêreld.” (Galasiërs 6:14).

 

Sy werk (v.24, 27)

Josef het baie hard gewerk by Potifar.  Hy was ook getrou bevind toe hy in die tronk was.  Uiteindelik is hy tweede in bevel gestel oor Egipte.  Dís wat Salomo bedoel in v.24a:  mense wat hard werk kry bevordering en sal werkers onder hulle hê.  Salomo self het die prinsiep toegepas:  “En die man Jeróbeam was ‘n dapper held.  Toe Salomo sien dat die jongman ‘n bekwame arbeider was, het hy hom aangestel oor al die dwangarbeiders van die huis van Josef.” (1 Konings 11:28).  Jy sal nooit bo uitkom as jy nie bereid is om te werk vir ‘n klein salaris; as jy nie bereid is om onder te begin nie.  As jy nie self wil werk nie, sal jy altyd onder ander werk vir peanuts (v.24b).  Moet dan nie, soos baie jong mense, soveel as moontlik geld soek vir so min as moontlik werk nie.  Werk hard met die bietjie wat jy het.  Dit geld ook op die geestelike gebied:  dien die Here met dít waarmee Hy jou toevertrou het.  As jy getrou is oor min sal Hy jou aanstel oor baie (lees die gelykenis van die talente in Matteus 25).  Dink langtermyn en moenie ophou as jy nie dadelik vrug sien op jou arbeid nie.

 

My vrou het my ‘n aaklige ding vertel.  Op YouTube het sy ‘n verskriklike vet kind gesien wat aanhoudend lekkers gevoer word deur sy ma.  Die kind is so vet dat hy net op sy bed lê met lekkernye rondom hom.  Hy kan nie eers badkamer toe gaan nie, en dra op 12-jarige ouderdom nog ‘n doek.  Sy ma moet hom ruil en skoonmaak.  Die probleem is nie dat hy gestremd is nie, maar oorgewig.  Sy vertel ook van ‘n vet ma wat heeldag op die bed lê, en so vet is dat sy nie eers die telefoon kan vashou nie.  Sy knyp die foon vas in die vette van haar nek.

 

Die lui mens is so lui dat hy niks doen om kos te kry nie.  Hy sal nie jag nie, en daarom het hy ook niks om te eet nie.  Of miskien is die kos voor hom, maar hy skiet nie, sodat die bok wegkom.  Dalk is hy bereid om te gaan jag, maar hy wil nie die vleis braai nie (v.27a).  Die bietjie energie wat hy het, vermors hy deur nie klaar te maak waarmee hy begin het nie (A.F. Wallis, New Bible Commentary).  Moenie lui wees nie!  Werk hard en leer jou kinders om hard te werk.  Moenie alles vir jou kind in sy skoot gee nie.  Moenie sy skool take en huiswerk vir hom doen, of vir hom so baie geld gee dat jy hom bederf nie.  Leer jou kinders goeie karakter.  Dít is ‘n ware skat wat hom sal ryk maak (v.27b).

 

Sy emosies (v.25)

‘n Vrou het eenkeer baie depressief geraak en gevra ek moet haar kom sien.  In haar geval het ek gesien dat sy depressief raak omdat sy verkeerd dink.  Sy was angstig oor baie dinge, en dit het veroorsaak dat sy depressief geword het.  Volgens v.25a verander angs maklik in depressie.  ‘n Mens se emosie gee hom weg:  dit wys vir jou wie hy is en wat hy dink.  Wat is die oplossing om sulke slegte en negatiewe emosies te oorkom?  Die antwoord is nie Prozac of ander anti-depressante nie.  Vir iemand wat depressief raak as gevolg van angs, is die oplossing dat hulle reg moet dink oor hulle situasie, goeie woorde uit die Skrif moet hoor, God se hand in hulle omstandighede moet sien:  “…’n vriendelike woord vrolik dit [die hart] op.” (v.25b).  “Die wet van die HERE is volmaak: dit verkwik die siel; die getuienis van die HERE is gewis: dit gee wysheid aan die eenvoudige.  Die bevele van die HERE is reg: hulle verbly die hart; die gebod van die HERE is suiwer: dit verlig die oë.” (Psalm 19:8-9).  Party keer voel mense swaar as gevolg van hulle sonde.  Hulle skuldige gewete weeg swaar op hulle.  Wanneer Jesus hulle red en hulle sondes vergewe, verdwyn die depressie.

 

Sy keuses (v.26, 28)

My vrou het ‘n vriendin wat haar kinders goed opvoed.  Sy het al dikwels gesê dat sy daarvan hou as ons kinders daar speel, omdat haar kinders ‘n goeie invloed op ons s’n het.  In v.26a sê Salomo letterlik:  “Die regverdige soek sy vriende uit…”  As jy nie versigtig is om jou vriende uit te soek nie, sal jy dwaal onder die verkeerde invloed (v.26b).  Kyk dus die kat uit die boom voordat jy met enigiemand vriende maak.  Help ook jou kinders om die regte vriende te kies.  Goeie vriende kan ander help, maar slegte vriende kan nie eers hulleself help nie – dis die les in v.26.  Iemand wat die goeie pad loop beland nie in ongelukke of slaggate nie.  Hulle loop hul nie vas in rowers, of beland in die moeilikheid as gevolg van skerp draaie en blinde heuwels nie.  Daar is geen kruisings van die dood of ‘High Accident Zones’ nie.  Syne is ‘n pad van die lewe:  “Op die pad van geregtigheid is lewe, en die rigting van dié pad is onsterflikheid.” (v.28).  Sy pad is die vredevolle pad waarvan ons in Jesaja 35 lees.  Kies dié pad; kies die lewe (sien Deuteronomium 30:11-20).  “En aan hierdie volk moet jy sê:  So spreek die HERE: Kyk, Ek hou julle die weg van die lewe voor én die weg van die dood” (Jeremia 21:8).  Iemand wat die pad van die lewe kies, wat vir Jesus kies, sal lewe al het hy ook gesterwe (Johannes 11:25-26, 14:6).  Hoe kan jy hierdie weg bewandel?

 

Bekeer jou van jou sonde en glo die evangelie.  Glo dat Jesus die ewige God is wat mens geword het om sondaars te verlos.  Glo in Jesus wat die heilige wet wat jy oortree het, volmaak namens jou onderhou het.  Glo dat Jesus in die plek van sondaars gestraf is aan die kruis.  Glo dat Jesus gesterf het, begrawe is, en op die derde dag opgestaan het uit die dood.  Glo dat Jesus magtig en gewillig is om almal te red wat met hulle hele hart op Hom vertrou, en nie op hulle eie werke nie.

Die geheim tot goeie verhoudings

False swearing

17 Hy wat die waarheid spreek, vertel wat reg is; maar ‘n valse getuie bedrog. 18 Daar is een wat onverskillig woorde uitspreek soos swaardsteke, maar die tong van die wyse is genesing. 19 ‘n Betroubare lip bestaan vir altyd, maar ‘n valse tong vir ‘n oomblik. 20 Bedrog is in die hart van die wat onheil bewerk; maar die wat vrede aanraai, het vreugde. 21 Geen enkele onheil tref die regverdige nie, maar die goddelose is vol ongeluk. 22 Valse lippe is vir die HERE ‘n gruwel, maar Hy het ‘n welbehae in die wat getrou handel.” (Spreuke 12:17-22).

 

Praat die waarheid (v.17-19, 22)

Iemand het gesê dat mense nou twee-twee begrawe word.  “Hoekom?”, het iemand gevra.  “Want ek het ‘n grafsteen gesien waarop staan:  Hier lê ‘n prokureur en ‘n eerlike man.”  ‘n Prokureur of getuie wat vals getuig in die hof wys daardeur dat hy ‘n hart vol bedrog het.  Dit is nie ongewoon dat so iemand ook in gewone gesprekke sal lieg nie (v.17b).  Iemand wat valslik getuig beskadig homself, ander, en die samelewing.

 

Toe ek op hoërskool was het ek eenkeer gesien hoe twee seuns vuisslaan in die badkamer.  Toe die geveg klaar is, het die verloorder die wenner se hand geskud.  Die wonde en letsels wat woorde los is erger en gaan nie sommer gou weg nie.  Die genesing na ‘n vuisgeveg is gouer as die genesing nadat iemand jou met woorde beskadig het:  “Daar is een wat onverskillig woorde uitspreek soos swaardsteke” (v.18a).  “Ék moet onder leeus lê, wraakgieriges, mensekinders wie se tande spiese en pyle is, en wie se tong ‘n skerp swaard is.” (Psalm 57:5).  Dink voor jy praat.  Praat net woorde wat opbou en genees (v.18b).  Sulke woorde sou onder meer insluit die evangelie, die Bybel, die waarheid, eb woorde van bemoediging.  Paulus sê:  “Laat daar geen vuil woord uit julle mond uitgaan nie, maar net ‘n woord wat goed is vir die nodige stigting, sodat dit genade kan gee aan die wat dit hoor.” (Efesiërs 4:29).  Jesus se woorde het genesing vir die liggaam en die siel gebring:  “Die Here HERE het My ‘n geoefende tong gegee, dat Ek kan weet om die vermoeide te verkwik met woorde; Hy wek elke môre, Hy wek my oor om te hoor soos die leerlinge.” (Jesaja 50:4).   “En die hoofman oor honderd antwoord en sê: Here, ek is nie werd dat U onder my dak inkom nie; maar spreek net ‘n woord, en my kneg sal gesond word.” (Matteus 8:8).

 

Ananias en Saffira het gelieg en gedink hulle kon daarmee wegkom.  Maar hulle leuen is uitgevang en God het hulle doodgemaak (Handelinge 5:3-5).  Praat die waarheid, want dit hou vir ewig.  Jesus self is die waarheid en kan nie vergaan nie.  Ook sy woorde sal vir ewig vasstaan (Jesaja 40:8, Matteus 24:35).  As jy die waarheid praat hoef jy nooit jou storie te verander nie – dit bly altyd dieselfde (v.19a).  Die leuenaar sal uitgevang word en die waarheid sal uitkom (v.19b).  “Jou tong beraam onheil, soos ‘n geslypte skeermes, o werker van bedrog!  Jy hou meer van kwaad as van goed, van die leuen meer as om geregtigheid te spreek.  Jy hou net van woorde wat verslind, o bedrieglike tong!  So sal God jou dan ook vir ewig omverwerp, jou wegruk en jou uit die tent uitsleep; ja, Hy sal jou ontwortel uit die land van die lewendes.” (Psalm 52:4-7).  As jou tong die waarheid gaan praat, moet jy eers die waarheid van Jesus, die Heilige Gees, en die Skrif in jou hart kry.  Want onthou, wat die hart van vol is loop die mond van oor.

 

As ‘n seun rebels is, kan mense maklik sê:  “Hy leer dit by sy pa.”  Ons is na God se beeld gemaak.  As ons lieg kan mense tot die gevolgtrekking kom dat God ‘n leuenaar is.  Juis daarom haat God leuens en straf Hy leuenaars (v.22a, 6:17, Openbaring 22:15).  ‘n Leuenaar kan in niks vertrou word nie.  As jy hom nie eers in sy woorde kan vertrou nie, hoe kan jy hom in groter dinge vertrou?  God is bly oor mense wat die waarheid praat (v.22b).  Die Hebreeus sê letterlik dat jy die waarheid moet uitasem (v.17a).  Met ander woorde, jy moet nooit jou asem mors om leuens te vertel nie.

 

Maak vrede (v.20-21)

Martin Luther het vrede bewerk tussen twee mense die dag voordat hy dood is.  John Bunyan ook.  Vrede is wat God wil hê.  Moenie kwaad of bedrog teen ander bedink en beplan nie (v.20a).  Bely jou eie sonde wat jy teen ander gepleeg het, en vergewe dié wat teen jou gesondig het.  So sal jy vrede hê en blydskap in jou verhouding met God en jou naaste (v.20b).  “Salig is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.” (Matteus 5:9).  Jesus vervul v.20 op ‘n besondere wyse deurdat Hy die groot vredemaker is:  “Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus” (Romeine 5:1).  “Want Hy is ons vrede, Hy wat albei een gemaak en die middelmuur van skeiding afgebreek het deurdat Hy in sy vlees die vyandskap tot niet gemaak het, naamlik die wet van gebooie wat in insettinge bestaan; sodat Hy, deur vrede te maak, die twee in Homself tot een nuwe mens kon skep en albei in een liggaam met God kon versoen deur die kruis, nadat Hy daaraan die vyandskap doodgemaak het.  En Hy het die evangelie van vrede kom verkondig aan julle wat ver was en aan die wat naby was” (Efesiërs 2:14-17).  “en dat Hy deur Hom alles met Homself sou versoen nadat Hy vrede gemaak het deur die bloed van sy kruis—ek sê deur Hom—die dinge op die aarde sowel as die dinge in die hemele.” (Kolossense 1:20).

 

‘n Man wat oppad is om ‘n ewige koninkryk in besit te neem, sal nie kla as sy kar probleme gee terwyl hy daarheen reis nie (aangepas uit John Newton se bekende illustrasie).  ‘n Ou kar wat breek is nie groot skade as hy die koninkryk gaan erf nie.  God beskerm die regverdige vredemaker, sodat geen onheil of straf hom tref nie:  “Geen enkele onheil tref die regverdige nie…” (v.21a).  “Geen onheil sal jou tref en geen plaag naby jou tent kom nie” (Psalm 91:10).  “Die HERE sal jou bewaar vir elke onheil; jou siel sal Hy bewaar.” (Psalm 121:7).  Dit is nie dat daar nooit negatiewe dinge met ‘n gelowige gebeur nie.  Dit is eerder dat die slegte wat hom tref ‘n goeie effek het – net soos wat Romeine 8:28 sê.  Die Christen moet ‘n Genesis 50:20‘mindset’ hê:  “Want júlle het wel kwaad teen my bedink, maar God het dit ten goede gedink om te doen soos dit vandag is”.  Vir die ongelowige werk alles (ook goeie dinge) teen hom:  “…maar die goddelose is vol ongeluk.” (v.21b).  Verhoudings is één so area.  Vir die gelowige is waarheid en vrede die kern vir goeie verhoudings:  eers teenoor God en dán sy naaste.

Ek is met jou

Compasses

5  U sluit my in van agter en van voor, en U lê u hand op my. 6 Om dit te begryp, is te wonderbaar vir my, te hoog: ek kan daar nie by nie. 7 Waar sou ek heengaan van u Gees en waarheen vlug van u aangesig? 8 Klim ek op na die hemel, U is daar; en maak ek die doderyk my bed, kyk, U is daar! 9 Neem ek die vleuels van die dageraad, gaan ek by die uiteinde van die see woon, 10 ook daar sou u hand my lei en u regterhand my vashou. 11  En as ek sê:  Mag tog net die duisternis my oorval en die lig nag wees tot my beskutting, 12 dan is selfs die duisternis vir U nie donker nie, en die nag gee lig soos die dag, die duisternis is soos die lig.” (Psalm 139:5-12).

 

My broer is ‘n chemiese ingeneur.  Gestel sy drie jarige seun sien ‘n chemiese formule op papier, en vra dan:  “Pa, verduidelik dit asseblief vir my.”  Al sou my broer die formule baie duidelik uitspel, sou sy seun dit nogsteeds nie kan verstaan nie.  Net so is ‘n verstaan van God en alles wat Hy is, buite ons bereik:  “Om dit te begryp, is te wonderbaar vir my, te hoog: ek kan daar nie by nie.” (v.6).  Sofar was reg toe hy gesê het:  “Kan jy die dieptes van God peil?  Of sal jy kan deurdring tot by die volmaaktheid van die Almagtige?  Hoogtes van die hemel is dit—wat kan jy doen?  Dieper as die doderyk—wat kan jy weet?” (Job 11:7-8).  En Paulus:  “O Diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God!  Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë!” (Romeine 11:33).

 

Wie kan die Drie-Eenheid verstaan?  Die Vader is nie die Seun of die Heilige Gees nie.  Die Seun is nie die Heilige Gees of die Vader nie.  Die Heilige Gees is nie die Vader of die Seun nie.  Die Vader is volkome God.  Die Seun is volkome God.  Die Heilige Gees is volkome God.  Maar tog is daar nie drie Gode nie, maar Een.  Wie kan verstaan dat Jesus volkome God en mens is – twee nature in een Persoon?  Wie kan begryp wat dit beteken om vir alle ewigheid hel toe te gaan, en daar te ly onder die verskriklike toorn van God?  Wie kan verstaan hoekom God nie almal uitverkies het om gered te word en hemel toe te gaan nie?  Wie verstaan 2 Petrus 1:4:  dat ons deel het aan die Goddelike natuur?  Verstaan jy wat dit beteken dat God ewig is; dat Hy nooit ‘n begin gehad het nie en ook nêrens eindig nie?  Kan iemand verduidelik hoe ons God nie sien, hoor, ruik, proe, of voel nie; dat Hy buite ons vyf sintuie bestaan?  En hoe kan dit wees dat ‘n onsigbare Gees persoonlik is?  God het nie oë en ore nie, maar Hy kan sien en hoor.  Hy het nie ‘n fisiese brein nie, maar Hy kan dink.  Hy het nie hande nie, maar Hy kan ons help.

 

Wat staan jou te doen?  “o HERE, my hart is nie hoog en my oë nie trots nie; ook wandel ek nie in dinge wat vir my te groot en te wonderbaar is nie.  Waarlik, ek het my siel tot bedaring gebring en stilgemaak; soos ‘n gespeende kind by sy moeder, soos ‘n gespeende kind is my siel in my. Wag op die HERE, o Israel, van nou af tot in ewigheid!” (Psalm 131).  Ons verstaan nie al hierdie diep dinge van God nie.  En ons hoef dit ook nie te verstaan nie.  Die dinge wat God wou hê ons moes verstaan, het Hy in die Bybel laat opteken.  Die res weet net Hy.  Aanvaar dit so (Deuteronomium 29:29).

 

Dit is nie moontlik om God se alomteenwoordigheid heeltemal te verstaan nie.  Tog praat die Skrif hieroor in Psalm 139 en ander tekste.  Wat ons het kan ons bestudeer en oordink.  Kom ons doen dit.

 

Rondom en langs jou (vers 5)

Die Romeinse generaal en Jode se vyand, Titus, het Jerusalem omsingel.  Olifante omsingel hulle kleintjies nie as vyande nie, maar om hulle teen leeus te beskerm.  Wanneer Dawid in v.5a sê dat God hom insluit, bedoel hy niks anders as dat God hom omsingel nie.  Soos Titus, omsingel God die sondaar as sy vyand:  “En Ek sal in ‘n kring teen jou laer opslaan en jou met wagposte beleër en skanse teen jou oprig.” (Jesaja 29:3).  Soos volwasse olifante, omsingel en beskerm God as vriend die gelowige teen sonde en die duiwel (v.5a).  Die Skrif sê so:  “Die Engel van die HERE trek ‘n laer rondom die wat Hom vrees, en red hulle uit.” (Psalm 34:8).  “Rondom Jerusalem is berge; so is die HERE rondom sy volk van nou af tot in ewigheid.” (Psalm 125:2).  “Hy het hom gevind in ‘n woestynland en in ‘n woeste wêreld, vol gehuil van die wildernis; Hy het hom omring, op hom ag gegee, hom bewaak soos sy oogappel.” (Deuteronomium 32:10).

 

Dawid bely dat die Here hom van voor en agter insluit (v.5a).  Die woorde ‘voor’ en ‘agter’ beteken letterlik ‘die ooste’ (voor jou as jy kyk hoe die son opkom) en ‘die weste’.  Simbolies word hierdie woorde in die Bybel gebruik van die verlede en die toekoms.  Die toekoms sal agter jou wees as jy oos kyk, omdat die son oor jou kop gaan na die middag en die aand toe.  Dawid het geweet die Here beskerm hom teen die Moabiete en Ammoniete in die ooste, en teen die Filistyne in die weste. 

 

Omdat God rondom jou is en jou verlede en toekoms in sy hande hou, hoef jou sonde van die verlede (dit wat vergewe is) nie by jou te spook nie.  En jy hoef ook nie angstig te raak oor die toekoms wat vir jou onseker lyk nie.  By God is dit seker.  Hy is in beheer daarvan.  God is soos ‘n sterk muur rondom jou (v.5a), maar Hy hou jou ook soos ‘n skoenlapper saggies in sy handpalm vas (v.5b).  Soos Esra en Nehemia is die goeie hand van die Here met jou en is jy veilig in sy hand (sien Esra 7:6, 9, 28, 8:18, 22, 31, Nehemia 2:8, 18).  Hierdie is die hand wat vir jou voorsien in jou nood.  Dis die hand wat jou troos in hartseer tye, wat jou beskerm teen aanvalle, vashou in vrees, terugneem nadat jy gesondig het, tug in ongehoorsaamheid, en herverseker in twyfel.  Dis die hand wat jou sal ontvang wanneer jy sterf:  “…Vader, in u hande gee Ek my gees oor!  En toe Hy dit gesê het, blaas Hy die laaste asem uit.” (Lukas 23:46).  Hierdie is die hande waarvan Jesaja sê:  “Kyk, Ek het jou in die handpalms gegraveer…” (Jes.49:16).  Die hande wat jou omsluit is die hande waarin daar spykers geslaan was.

 

Bo en onder jou (verse 7-8)

Antropomorfismes is ‘n groot woord.  Wat is dit?  Dit is wanneer ons van God se hande en voete en oë en neus praat.  God is ‘n onsigbare Gees en het nie ‘n liggaam nie.  Maar ons praat van sy regterhand en oor, sodat ons dinge beter kan verstaan.  Dit is wat antropomorfismes beteken.  Sodra jy dink God het ‘n liggaam, dan beperk jy sy alomteenwoordigheid.  As God sy linkervoet op een plek het en sy regtervoet op ‘n ander, dan is hy nie veel verskillend van Gulliver in Lilliput nie:  Hy is ‘n groot reus wat tergelykertyd op twee plekke in die dwergies se wêreld kan wees.  Maar dit is nie alomteenwoordigheid nie, want dan is Hy net gedeeltelik op party plekke (byvoorbeeld sy linkervoet op een plek en sy regtervoet op ‘n ander plek).  Ons teks sê:  “Waar sou ek heengaan van u Gees (die alomteenwoordigheid van God se Gees bewys dat die Heilige Gees volkome God is) en waarheen vlug van u aangesig?  Klim ek op na die hemel, U is daar; en maak ek die doderyk my bed, kyk, U is daar!” (v.7-8).  Die teks sê twee keer:  “U is daar!” – nie, “U linker of regtervoet is daar!” nie.  God in sy volle wese is orals en vul alles:  “Sou iemand hom in skuilplekke kan wegsteek dat Ek hom nie sien nie? spreek die HERE.  Vervul Ek nie die hemel en die aarde nie? spreek die HERE.” (Jeremia 23:24).  Dis nogal verstommend as jy daaroor dink:  God is net een, en tog is Hy volkome op elke plek in die heelal!

 

Hoe moet ons reageer in die lig van God se alomteenwoordigheid?  Jy hoef nie soos ‘n Jood of ‘n Moslem te dink dat jy God by ‘n sekere plek hoef te aanbid nie (Mecca of die tempel in Jerusalem).  God is ‘n Gees; Hy is orals.  Daarom kan jy God aanbid waarookal jy mag wees.  Dit is onder andere wat Jesus in Johannes 4:21-24 bedoel het:  “Vrou, glo My, daar kom ‘n uur wanneer julle nie op hierdie berg en ook nie in Jerusalem die Vader sal aanbid nie.  Julle aanbid wat julle nie weet nie; ons aanbid wat ons weet, want die saligheid is uit die Jode.  Maar daar kom ‘n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid.  God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.”  Maar moenie te ver gaan nie.  Dit beteken nie jy kan maar op ‘n Sondag wegbly by die erediens, en kerk luister oor die radio nie.  Die liggaam van Christus is op ‘n spesiale wyse die tempel van die Heilige Gees; ‘n plek waar God teenwoordig is om sy kinders te seën (1 Korintiërs 3:16).

 

Hier is nog ‘n paar praktiese punte vir Christene:

 

  1. God is orals.  Natuurlik soek jy ‘n stil plek vir jou persoonlike stiltetyd, maar moenie dink een plek is meer ‘geestelik’ as ‘n ander nie.  Jy hoef ook nie te wag om te ‘voel’ dat God daar is nie – Hy is (v.7).
  2. Moenie soos Adam en Eva dink jy kan vir God wegkruip of jou sonde wegsteek nie (Genesis 3:8).  Luister eerder na Salomo se wysheid in Spreuke 28:13:  “Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie; maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid vind.”  Moenie soos Jona van God af wil weghardloop nie (Jona 1:3), maar keer terug na die liefdevolle Vader.
  3. Jy hoef nie bang te wees vir jou vyande, depressief te wees as jy hard werk maar finansieel sukkel, of as jy in enige beproewing is nie.  God is met jou en sal jou nie verlaat nie:  “Julle gedrag moet vry van geldgierigheid wees.  Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê:  Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie.  Daarom kan ons met alle vrymoedigheid sê:  Die Here is vir my ‘n Helper, en ek sal nie vrees nie; wat sal ‘n mens aan my doen?” (Hebreërs 13:5-6).
  4. Is jy bang om evangelisasie te doen?  Moenie wees nie, want God is alomteenwoordig:  Hy is altyd by jou (Matteus 28:19-20).
  5. Moet jy ‘n broer wat in sonde geval het aanspreek?  Jesus is oral – ook spesiaal by jou (Matteus 18:19-20, 15).
  6. ‘n Deel van Paulus se oplossing vir angs is dat God alomteenwoordig is:  “Die Here is naby.  Wees oor niks besorg nie” (Filippense 4:5-6).  Paulus bedoel nie dat die wederkoms naby is nie, maar dat die Here in sy alomteenwoordigheid naby jou is.

 

Vir die ongelowige is daar een woord van toepassing:  Jy kan nie van God af wegvlug nie (v.7).  Kain wou wegkom van God af (Genesis 4:16).  Maar die profeet sê:  “Al dring hulle deur in die doderyk, my hand sal hulle daaruit haal; en al klim hulle op na die hemel, Ek sal hulle van daar laat neerdaal.  En al steek hulle hul weg op die top van Karmel, Ek sal hulle daar opspoor en weghaal; en al verberg hulle hul voor my oë op die bodem van die see, Ek sal van daar die slang ontbied om hulle te byt.  En al gaan hulle as gevangenes voor hulle vyande uit, Ek sal van daar die swaard ontbied om hulle dood te maak; en Ek sal my oog op hulle rig ten kwade en nie ten goede nie.” (Amos 9:2-4).  In Openbaring 6:16 het die goddelose “vir die berge en die rotse gesê:  Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam”.  Ons weet dit kan nie gebeur nie.  Die enigste manier om wég van God af te vlug, is om ná Hom toe te vlug (Alec Motyer).  Dit doen jy deur op te hou met jou sonde, en weg te draai van die vals hoop dat jy dálk gered kan word deur jou goeie werke.  Vertrou op Jesus wat gekruisig is vir sondaars en weer opgestaan het uit die dood.

 

Toe ek op skool was het ek gedink die heelal hou nie op nie.  Nou weet ek daar is ‘n einde aan die buitenste hemelruim.  Hoe weet ek dit?  Ek weet dit want net God is sonder einde.  As die heelal oneindig is, beteken dit dat die skepping so groot is soos die Skepper.  Die Skrif sê vir ons dat God die hemelruim met sy handbreedte afgemeet het (Jesaja 40:12).  Vir ons is die heelal massief.  In God se oë is dit klein.  God is in die hemel (v.8), en tog sê die Bybel die hoogste hemel is te klein om Hom te bevat (2 Kronieke 2:6).  Ons moet oppas dat ons nie aan God dink in terme van grootte of afstand nie.  Hy is ‘n Gees (v.7) en word nie in die realm van hierdie dinge gemeet of geweeg nie.  Ons dink dikwels aan God in ‘n groot oop ruimte wanneer ons dink aan hoe dit voor die skepping moes gewees het.  Maar dit is ‘n verkeerde persepsie, want voor die skepping was daar geen ruimte nie.  Dit was net God.  God het die ruimte geskep en vul alles.  Maar Hy is nie op so ‘n wyse in elke molekule asof Hy vas is aan die skepping nie (dankie aan Johan du Toit en Ansi van der Westhuizen wat vir my gewys het dat ek verkeerd dink – Johan het my aangespreek en Ansi het vir my gelag; dankie julle :-)).  God is teenwoordig en betrokke in die skepping, maar Hy is losstaande daarvan.  Ons sou nie verkeerd wees om te sê die skepping is in Hóm nie, “want in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons…en in Hom hou alle dinge stand.” (Handelinge 17:28, Kolossense 1:17).  God kan dus teenwoordig wees in ‘n gevalle skepping sonder om daardeur besmet te word:  “[God is present in his creation, but is not defiled by it any more] than the sun shining on a dunghill is defiled” (Thomas Watson, A Body of Divinity, The Banner of Truth Trust, EDINBURGH, 1970, 1974, p.51).

 

‘n Ou Baptiste predikant was op sy sterfbed.  Hy het aan die slaap geraak.  Toe hy wakker word en sy familie om hom sien, het hy gesug:  “Ag nee!  Is ek nogsteeds hier?”  God is nie net hier óf in die hiernamaals nie – Hy is gelyk in hierdie lewe, die hemel, en die doderyk (sheool):  “Klim ek op na die hemel, U is daar; en maak ek die doderyk my bed, kyk, U is daar!” (v.8).  “Naak lê die doderyk voor Hom, en die plek van vertering het geen bedekking nie” (Job 26:6).  Dit behoort ‘n skrik vir die goddelose te wees as hy sterf, of vir iemand wat van God probeer vlug deur selfmoord te pleeg.  As jy jou oë aan die anderkant oopmaak – Kyk, Hy’s daar! (v.8).  Vir die gelowige bied hierdie vers troos.  Jesus het die dood oorwin, en daarom sal Hy met jou wees in die dal van doodskaduwee.  As jy jou oë anderkant die graf oopmaak, sal Jesus daar wees om jou te verwelkom.  Hy sal saam met jou deur die vallei van die dood gaan.  Jy hoef nie bang te wees nie (v.8, Psalm 23:4, 1 Korintiërs 15:55, Hebreërs 2:15).

 

Voor en agter jou (vers 9-10)

Ons is reeds in April van 2013.  Dit voel of die jaar ‘n paar weke gelede begin het.  Tyd vlieg.  Dawid het ook geweet tyd vlieg, en daarom sê hy die oggend het vlerke (v.9).  Die vleuels van die oggend verwys natuurlik na die ooste waar die son opkom.  Die Middellandse See is in die weste (v.9).  God is in die ooste en in die weste.  Hy is in ‘n gelyke maat oral teenwoordig.  Maar God kan spesiaal teenwoordig wees om te seën, te straf, of om sy skepping te onderhou (sien Psalm 16:11, Amos 9:2-4, Kolossense 1:17).  Die Bybel leer dat God ons met sy kragtige regterhand lei en vashou:

 

  • Om ons te beskerm teen gevaar.  “Neem ek die vleuels van die dageraad, gaan ek by die uiteinde van die see woon, ook daar sou u hand my lei en u regterhand my vashou.” (v.9-10).
  • Om ons weg te lei van sonde.  “en kyk of daar by my ‘n weg is van smart, en lei my op die ewige weg!” (v.24).  “en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose.” (Matteus 6:13).
  • Om ons te bewaar van ons vyande.  “HERE, lei my in u geregtigheid om my vyande ontwil; maak u weg voor my reg.” (5:9).
  • Om ons te verfris wanneer ons uitgeput is. “Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen.” (23:2).
  • Om ons die regte lewenspad te laat loop.  “Hy verkwik my siel; Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil.” (23:3).
  • Om ons in die waarheid te leer.  “Lei my in u waarheid en leer my” (25:5).
  • Om ons uit benoudheid te red.  “Van die einde van die aarde af roep ek U aan as my hart beswyk; lei my op ‘n rots wat vir my te hoog is.” (61:3).
  • Om ons te help as ons verward geraak het deur sonde.  “Toe my hart bitter gestemd en ek in my niere geprikkel was, toe was ék dom en het niks geweet nie; ek was ‘n dier by U.  Nogtans is ek altyddeur by U; U het my regterhand gevat.”  (73:21-23).
  • Om ons te help in moeilike omstandighede (soos die Israeliete in die woestyn).  “En die HERE het voor hulle uitgetrek, bedags in ‘n wolkkolom om hulle op die pad te lei, en snags in ‘n vuurkolom om hulle voor te lig, sodat hulle dag en nag kon trek.”  (Eksodus 13:21).
  • Om ons gerus te stel wanneer ons bang is.  “Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God.  Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand.” (Jesaja 41:10).

 

Binne en buite jou (vers 11-12)

Vir ‘n persoon wat kleurblind is mag groen en blou dieselfde lyk.  Tog kan so iemand verskillende skadus en skakerings van mekaar onderskei.  Natuurlik sien God kleure en skakerings (Hy het dit gemaak), maar vir Hom is dit wat in die lig gebeur nie duideliker as dit wat in die donker plaasvind nie.  In dié sin is lig en donker identies vir Hom:  “die duisternis is soos die lig” (v.12).

 

Dawid praat in v.11-12 van ‘n letterlike duisternis.  Maar ons kan sy woorde ook toepas op die duisternis van sonde of depressie.  Hierdie duisternis kan nooit die gelowige oorval en verbrysel nie – al is die sonde ook hoe diep en die depressie hoe donker (v.11-12).  Jou vyand se voordeel om jou skade te doen is nie groter in die donker as in die lig nie, want God is in die oggendlig sowel as in die middernag (v.9, 12).  Hier is ses bewyse dat die nag nie donker is vir God nie (v.12):  [a] God het die donker geskep (Jesaja 45:7).  [b] In die begin van die skepping het God die duisternis verdryf deur lig te laat skyn (Genesis 1:3).  [c] God skyn die lig van sy evangelie om die duisternis in die sondaar se hart te oorweldig (2 Korintiërs 4:6).  [d] God is lig (1 Johannes 1:5, Johannes 8:12).  [e] Jesus het in duisternis gehang aan die kruis en so afgereken met die duisternis van sonde en die duiwel.  Die duisternis het net vir drie ure geduur (Matteus 27:45-46).  [f] Jesus het weer opgestaan uit die dood.  Die lig van daardie Sondagoggend het ‘n dieper betekenis gehad:  Hy het die duisternis oorwin en oorweldig (Matteus 28:1, 3).

 

Gelowige, laat v.11-12 vir jou ‘n troos wees.  God sien die onreg wat in die donker teen jou beplan word.  God is jou beskermer in die nag.  Kinders, moenie die donker vrees nie, maar vir God wat in die donker sien.  Sondaar, God sien wat jy in die donker doen.  Jy kan nie sonde doen en dink jy kan vir God wegkruip nie:  “Daar is geen duisternis en daar is geen diepe donkerheid waarin die werkers van ongeregtigheid hulle kan wegsteek nie.” (Job 34:22).  “Hy openbaar ondeurgrondelike en verborge dinge; Hy weet wat in die duister is, en die lig woon by Hom.” (Daniël 2:22).  “En dit is die oordeel:  dat die lig in die wêreld gekom het, en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig; want hulle werke was boos.” (Johannes 3:19).  Vir jou wat onder oortuiging van jou sonde is:  God kan en wil sondaars wat in die diepste duisternis van Sataniese verdrukking en sonde is, red.  Paulus skryf van “die Vader…wat ons bekwaam gemaak het om deel te hê aan die erfdeel van die heiliges in die lig—Hy wat ons verlos het uit die mag van die duisternis en oorgebring het in die koninkryk van die Seun van sy liefde, in wie ons die verlossing het deur sy bloed, naamlik die vergifnis van die sondes.” (Kolossense 1:12-14).  God is instaat om sy lig te skyn daar waar jy in die donker sit.  Dan kan jy ook verseker weet Hy is met jou.  Dit is immers wat Jesus se Naam Immanuel beteken:  God met ons.

‘n Toets om te sien watse tipe mens jy is

Different faces

9 Wie gering geag word en ‘n slaaf het, is beter as hy wat hom vernaam aanstel en gebrek aan brood het. 10 Die regverdige ken die natuur van sy dier, maar die barmhartigheid van die goddelose is wreed. 11 Wie sy land bewerk, het volop brood; maar hy wat nietighede najaag, het gebrek aan verstand. 12 Die goddelose begeer die vangs van verkeerde dinge, maar die wortel van die regverdiges lewer vrugte op.  13 In die oortreding van die lippe lê daar ‘n gevaarlike strik; maar die regverdige ontkom aan die benoudheid. 14 Uit die vrug van iemand se mond word hy versadig met die goeie, en die daad van ‘n mens se hande kom op hom terug. 15 Die weg van ‘n dwaas is reg in sy eie oë, maar die wyse luister na raad. 16 Die dwaas laat sy drif op die daad bekend word, maar die skrandere verberg skande.” (Spreuke 12:9-16)

 

Nederig of hoogmoedig? (v.9)

‘n Vriend van my is ‘n sendeling in die Limpopo provinsie van ons land.  Hy vertel van mense wat brandarm is, maar DSTV het.  Party mense sukkel om deur ‘n maand te kom, maar hulle sal by Woolworths koop, in Sandton huur, groot skuld aangaan om die nuutste BMW te ry, en ‘brand name’ klere dra.  Hulle wil vernaam wees en as ‘swaar gewigte’ beskou word (v.9b).  Maar realiteit is belangriker as skyn (v.9a).  Op geestelike gebied geld dieselfde reël:  Wees eerlik voor God.  Hou op met jou toneelspel.  Erken dat jy geestelik arm is en Hom nodig het.

 

Barmhartig of goddeloos? (v.10)

Keiser Augustus het gesê dit is beter om Herodus se sog te wees as sy seun – die sog het immers ‘n beter kans op oorlewing.  Die les in v.10 is dít:  Die regverdige gee om vir sy donkies, kamele, beeste, en kleinvee (nie dat Herodes enigsins regverdig was nie!).  Hy doen wat die Skrif sê:  “Ses dae moet jy jou werk verrig, maar op die sewende dag moet jy rus, dat jou os en jou esel kan uitrus…”  (Eksodus 23:12).  “Jy mag ‘n os nie muilband as hy graan dors nie.” (Deuteronomium 25:4).  Die goddelose is anders.  Hy mishandel sy diere.  Hy is soos Bileam wat sy donkie genadeloos slaan (sien Numeri 22).  Die goddelose voer nie sy diere nie.  Hy maak hulle opsetlik seer, teister hulle met vuurwerke, en doen ander nare dinge.  Hy doen selfs sulke lelike dinge met ander mense.  God en die regverdige gee meer om vir diere as wat die goddelose omgee vir ander mense.  God se woorde aan Jona was:  “Maar Ek mag Ninevé, die groot stad, nie spaar nie waarin meer as honderd en twintig duisend mense is wat die onderskeid tussen hulle regter— en hulle linkerhand nie weet nie, en baie vee?” (Jona 4:11).

 

Wees versigtig dat jy nie in v.10 inlees wat jy wíl sien nie.  Die vers beteken nie jy moet jou hond rondra in ‘n handsak, juwele vir hom aantrek, sy tande borsel, en hom steak voer nie.  Sorg vir jou diere, maar moet hulle nie aanbid nie. 

 

Daar is ‘n belangrike les verskuil in hierdie vers:  Die regverdige is barmhartig met sy diere, omdat hy God se barmhartigheid oor hom gesmaak het.  Die goddelose het nog nooit God se barmhartigheid in die evangelie ervaar nie, en daarom is hy onbarmhartig met mense en diere.

 

Hardwerkend of lui? (v.11-12, 14)

Ek het ‘n vriend wat baie hard werk.  Ek en my vrou het al gepraat oor hoe hardwerkend hy is.  Ek het ‘n ander persoon geken wat ‘n dromer is.  Hy het groot planne gehad oor ‘n ‘water world’ wat hy wou oopmaak, maar sy drome was sagte lugkastele.  As jy hard werk sal jy genoeg hê vir jouself, jou familie, en ander (v.11a).  Moenie wind en leë drome najaag nie (v.11b).  Dís die les in v.11.  In 28:19 herhaal Salomo die les:  “Wie sy land bewerk, het volop brood; maar hy wat nietighede najaag, het armoede volop.”  As jy nietighede najaag is jou probleem nie dat jy min energie het nie, maar dat jy geen oordeelsvermoeë het nie (Derek Kidner, Proverbs:  Tyndale Old Testament Commentaries, Inter-Varsity Press, LEICESTER, 1964, p.97).  Gee jou tyd, geld, en energie aan dit wat ‘n oes sal oplewer, en nie aan dit wat op niks uitloop nie.  Volgens MacArthur (in sy studie Bybel) is Salomo se punt dít:  Kragte wat vermors word is nie veel beter as luiheid nie.

 

Die genoemde prinsiep geld ook op ‘n geestelike vlak:  “Waarom weeg julle geld af vir wat geen brood is nie, en julle arbeid vir wat nie kan versadig nie?  Luister aandagtig na My en eet die goeie, en laat julle siel hom in vettigheid verlustig.” (Jesaja 55:2).

 

In die verhaal van Alibaba en die 40 diewe ontdek Alibaba ‘n grot waarin die diewe hulle rykdom bêre.  Sy broer hoor daarvan en begeer hierdie rykdom.  Hy gaan na die grot toe, maar sukkel om betyds uit te kom (omdat hy nie die geheime woord ken wat die grot se swaar klipdeur sal laat oopskuif nie).  Hy boet vir sy begeerlikheid en word deur die rowers vermoor en in stukke gekap.

 

Die goddelose persoon begeer die buit wat sondaars in hulle net gevang, of in hulle grot gebêre het.  Hy wil nie werk nie, maar soek die voordeel van gesteelde goed (v.12a).  Moenie so wees nie.  Kry eerder die voordeel en vrug van harde werk (v.12b).  Jy flous jouself om te dink dat rykdom maklik kom.  In die geestelike realm werk dit dieselfde.  Jy moet die koste bereken.  Jy moet veg en met moeite deur die nou poort ingaan (Matteus 11:12, Lukas 13:24, 16:16).  Natuurlik is die ewige lewe ‘n gratis geskenk, maar die weg na die hemel is nie maanskyn en rose nie.

 

‘n Goeie vriend en kollega het gebid vir siek mense in sy gemeente.  God het sy gebed verhoor en die mense gesond gemaak.  Die ouers van die kind was so bly, dat hulle vir my vriend ‘n grootskerm TV gekoop het en ‘n boorgat laat sink het.  Jou goeie woorde is soos smaaklike vrugte wat ander eet.  As jy goeie vrugte gee sal jy ‘n goeie reaksie en goeie verhoudings kry (v.14a).  Net so ook wanneer dit kom by werk – jy sal oes wat jy gesaai het.  Doen goed, werk hard, en laat die beloning oor aan God.

 

Wys of dwaas? (v.13, 15-16)

Baie jare gelede het ‘n man wat by ons gebly het R800 by my geleen.  “My seun het kanker en ek moet Kaap toe gaan”, was sy storie.  ‘n Week of wat later het sy baas my gebel:  “Waar is mnr. so-en-so?” het hy gevra.  Hy het R800 by sy baas geleen.  Sy storie aan die baas was:  “My pa is oorlede en ek moet Namibië toe gaan.”  Vir ‘n jaar het ek niks van die man gehoor nie.  Toe hy ‘n jaar later kom hulp vra het ek hom weggewys.

 

Die slegte persoon weet nie hy sal homself met sy mond vasloop nie (v.13a).  Hy lieg so baie dat hy uiteindelik nie kan onthou wat hy vir mense gesê het, en vir wie hy wat gesê het nie.  Later moet hy ekstra versigtig praat om nie uitgevang te word nie.  Maar slim vang altyd sy baas.  Salomo sê in 18:7:  “Die mond van die dwaas is sy ondergang en sy lippe ‘n strik vir sy lewe.”  Jesus sê:  “Want uit jou woorde sal jy geregverdig word, en uit jou woorde sal jy veroordeel word.” (Matteus 12:37).  Die regverdige sien die strik wat die goddelose gestel het en vermy dit (v.13b).

 

My goeie vriend het al by verskeie geleenthede vir mense raad gegee oor skei en trou.  Hulle het sy Bybelse raad geminag en groot probleme oor hulleself gebring.  Sommige mense is soos kinders wat dink hulle raadgewers weet niks.  Klein kinders glo hulle pa’s weet alles.  In die begin van sy skooljare glo ‘n kind die onderwyser weet alles.  Later dink hy sy vriende weet die beste.  Dán glo hy niemand weet beter as hy nie.  Ná skool sien hy sy pa weet meer as wat hy gedink het.  En wanneer hy oud is, sien hy dat sy pa eintlik baie wys was. 

Die dwaas se weg is reg in sy eie oë (v.15a).  Sy weg lyk reg maar eindig in die dood (14:12, vgl. 16:2, 21:2).  Daar is meer hoop selfs vir ‘n dwaas, as vir iemand wat wys is in sy eie oë (26:12).  ‘n Honderd slim mense kan vir hom anders sê, maar hy weet altyd beter.  Moenie so wees met jou ouers, die Skrif, en ander volwasse gelowiges nie.  Luister eerder en weeg hulle raad op teen die Skrif (v.15b).

 

Ons almal ken seker vroue wat maklik huil as iemand hulle net skeef aankyk.  Of mans wat ‘n vuisgeveg wil hê as jy vir ‘n sekonde te lank na hom kyk.  Salomo sê dis ‘n dwaas wat sy hart op sy mou dra (v.16).  As jy dadelik jou emosie wys en kwaad word, dan wen jou opponent.  Wanneer mense jou kritiseer, is dit veel beter om jouself in die lig van die Skrif te meet.  Komplemente en beledigings kan jou nie beter of slegter maak as wat jy reeds is nie.  Die waarheid is dat jy veel erger is as die slegste kritiek wat jy mag ontvang.  Wees eerder soos Jesus wat hierdie dinge aan die Hemelse Regter oorgelaat het.  Moenie kwaad met kwaad vergeld, of mense wat jou kritiseer probeer terugkry nie (1 Petrus 2:23).