Dink voor jy praat

Think before you speak

13:3 Wie sy mond bewaak, bewaar sy lewe; wie sy lippe wyd oopmaak, vir hom is daar ondergang.  15:23 ‘n Man het blydskap in die regte antwoord van sy mond, en hoe goed is ‘n woord op sy tyd!  15:28 Die hart van die regverdige dink ná om te antwoord, maar die mond van die goddelose laat slegte dinge uitborrel. 17:27 Wie sy woorde inhou, besit kennis; en hy wat kalm is van gees, is ‘n man van verstand. 17:28 Selfs ‘n sot sal as hy swyg, vir wys gereken word; as hy sy lippe toehou, vir verstandig.  18:6 Die lippe van die dwaas kom met getwis, en sy mond roep na slae.  18:7 Die mond van die dwaas is sy ondergang en sy lippe ‘n strik vir sy lewe.  18:20 Van die vrug van iemand se mond word sy maag versadig; hy word versadig van die opbrings van sy lippe.  18:21 Dood en lewe is in die mag van die tong; en elkeen wat dit graag gebruik, sal die vrug daarvan eet.  20:25 Dit is vir die mens ‘n strik dat hy onbedagsaam sê:  Heilig! om dan eers ná die geloftes te oorweeg.  21:23 Hy wat sy mond en sy tong bewaar, bewaar sy siel van benoudhede.  25:11 Goue appels op versierde silwerborde, so is ‘n woord op sy tyd gespreek.  25:15 Deur lankmoedigheid word ‘n vors oorgehaal, en ‘n sagte tong verbreek die gebeente.  26:4 Antwoord ‘n dwaas nie na sy sotheid nie, sodat jy ook nie net soos hy word nie.  26:5 Antwoord ‘n dwaas na sy sotheid, sodat hy nie wys is in sy eie oë nie.  29:20 Het jy ‘n man gesien wat haastig is in sy woorde?  Vir ‘n dwaas is daar meer hoop as vir hom.” (Spreuke).

 

In hierdie verse gee Salomo vier redes hoekom ‘n mens moet dink voordat jy praat.

 

Jy sal jou lewe bewaar

Simei het vir Dawid gevloek.  Dawid het hom nie doodgemaak nie.  Maar Dawid se seun (Salomo) het.  ‘n Dwaas praat te veel en sê verkeerde of dom dinge.  Met sy groot mond versuur hy verhoudings.  Hy oes wat hy met sy lippe gesaai het.  Hy eet die vrug van sy eie woorde en die effek daarvan is te sterk vir sy eie maag (18:20).  Hy trap in die strik wat hy vir ander gestel het – hy is waarlik soos iemand wat homself in ‘n hoek in verf (18:7).  As gevolg van sy sotlike woorde word hy geslaan of verloor hy selfs sy lewe voor die koning:  “Wie sy mond bewaak, bewaar sy lewe; wie sy lippe wyd oopmaak, vir hom is daar ondergang. …Die lippe van die dwaas kom met getwis, en sy mond roep na slae.  Die mond van die dwaas is sy ondergang en sy lippe ‘n strik vir sy lewe. …Dood en lewe is in die mag van die tong; en elkeen wat dit graag gebruik, sal die vrug daarvan eet. …Hy wat sy mond en sy tong bewaar, bewaar sy siel van benoudhede. …Het jy ‘n man gesien wat haastig is in sy woorde?  Vir ‘n dwaas is daar meer hoop as vir hom.”  (13:3, 18:6-7, 21, 21:23, 29:20).  Anders gestel:  “…the tail of a dog gives him bread, and his mouth gets him blows.” (Ahikar in Kidner, Proverbs, p.130).

 

Iemand wat haastig ‘n eed aflê sal God se toorn voel (20:25).  Op voorwaarde dat die Here sy vyande oorwin, het Jefta belowe hy sal die eerste ding wat by sy huis uitkom as ‘n brandoffer vir die Here offer.  Toe hy van die oorlog af terugkeer, het sy enigste dogter eerste by die huis uitgestap om haar pa te verwelkom.  Jefta het sy belofte gehou en sy dogter geoffer.  Wat ‘n dwase eed!  Onder sulke omstandighede kan ‘n mens verstaan waarom 20:25 waarsku om nie te haastig ‘n eed af te lê nie. 

 

Bid gereeld Psalm 141:3:  “HERE, stel ‘n wag voor my mond, bewaar die deur van my lippe.”  Jou lewe en goeie verhoudings met mense is belangriker as jou opinie.  Leer om jou mond toe te hou.  En bly weg van mense wat te veel praat, want jy sal saam met hulle in die sop beland.  Moenie soos hulle wees nie.  Niemand wil meng met iemand wat te veel praat nie.  Leer jouself en jou kinders wat gebeur met mense wat te veel praat, en vermy hulle.  Jou woorde bring dood of lewe oor jouself.  Dít is wat 18:20-21 beteken:  “Van die vrug van iemand se mond word sy maag versadig; hy word versadig van die opbrings van sy lippe.  Dood en lewe is in die mag van die tong; en elkeen wat dit graag gebruik, sal die vrug daarvan eet.”  Die vers het niks te doen met die charismatiese teologie wat sê dat ons dood en lewe oor ander mense kan spreek nie.  In 2 Samuel 1:16 het ‘n Amalekiet gelieg oor Saul se dood in die hoop dat Dawid vir hom geld sou gee.  Sy eie mond het die dood oor hom gebring.  Dawid het hom doodgemaak.  Hosea 10:13 praat van mense wat die aaklige vrug van hulle eie leuens moet eet.  Jesus sê:  “Maar Ek sê vir julle dat van elke ydele woord wat die mense praat, daarvan moet hulle rekenskap gee in die oordeelsdag.  Want uit jou woorde sal jy geregverdig word, en uit jou woorde sal jy veroordeel word.” (Matteus 12:36-37).  Dít is wat Spreuke 18:21 bedoel met lewe en dood in die mag van die tong.

 

Wanneer 20:25 praat van beloftes, kan ons dit maklik toepas in ons era.  Vandag is daar baie mense wat haastig is om ‘n eed af te lê voor die kansel, en baie kort daarna weer te skei.  ‘n Man wat ek ken was vir vier maande getroud voordat hy geskei het.  Hy was haastig om ‘n eed af te lê.  Ons moet ook nie vir die Here dinge belowe, of sê dat ons dinge in sy diens sal gebruik as Hy ons tog net sal uithelp nie.  Die Skrif sê:  “As jy aan die HERE jou God ‘n gelofte doen, moet jy nie versuim om dit te betaal nie; want die HERE jou God sal dit sekerlik van jou eis, en dit sal sonde in jou word.  Maar as jy nalaat om te belowe, sal dit geen sonde in jou wees nie.  Wat oor jou lippe gaan, moet jy hou en doen soos jy aan die HERE jou God vrywillig beloof het—wat jy met jou mond gespreek het.” (Deuteronomium 23:21-23).

 

En weer:  “Wees nie haastig met jou mond nie, en laat jou hart nie gou ‘n woord uitbring voor die aangesig van God nie; want God is in die hemel, en jy op die aarde.  Daarom moet jou woorde min wees.  Want soos die droom kom deur baie drukte, so die gepraat van die dwaas deur baie woorde.  As jy ‘n gelofte aan God gedoen het, stel nie uit om dit te betaal nie, want daar is geen welgevalle in dwase nie. Betaal wat jy belowe.  Dit is beter dat jy nie belowe nie as dat jy belowe en nie betaal nie.  Laat jou mond nie toe om op jou liggaam ‘n sondeskuld te laai nie, en sê nie voor die gesant van God:  Dit was ‘n vergissing nie.  Waarom moet God toornig word oor jou stem en die werk van jou hande verwoes?” (Prediker 5:1-5).  Laat ons eerder doen wat Jakobus 5:12 sê:  “Maar bo alles, my broeders, moenie sweer nie: nie by die hemel nie, ook nie by die aarde nie en ook geen ander eed nie; maar laat julle ja ja wees en julle nee nee, sodat julle nie onder ‘n oordeel val nie.”

 

Iemand mag dalk wonder oor die waarheid van al hierdie verse in Spreuke:  “As jy jou lewe bewaar deur stil te bly, waarom het Jesus sy lewe verloor?  Hy het dan stilgebly.”  Ja, Hy het.  Maar dit was om ons ontwil wat Hy sy lewe verloor het.  Onthou tog dat baie van die verse in Spreuke algemene waarhede is – daar is uitsonderings op die reël.  Daar is ook ‘n tyd wanneer ons nie moet stilbly om ons lewens te behou nie, maar dit eerder moet verloor vir die evangelie se onthalwe.

 

Jy sal jou naaste bemoedig

Het dit al met jou gebeur dat jy op presies die regte tyd vir iemand ‘n Bybelvers gesms het?  Of was jy al die ontvanger van so iets?  Sulke woorde is vir jou ore soos soet, kraakvars Golden Delicious appels vir jou smaakorgane is.  Of soos soliede goue appels in ‘n silwer versiering vir die oog is – dit bring blydskap (15:23, 25:11).  As ‘n goeie woord op die regte tyd goed is, bestaan die moontlikheid dat jy ‘n goeie woord op die verkeerde tyd kan spreek.  En dit is altyd sleg.  Leer tog ook uit hierdie verse dat daar nie een regte antwoord vir elke situasie is nie.  Jy moet die Skrif (veral Spreuke), die God van die Bybel en mense goed ken om die regte antwoord op die regte tyd te kan gee.  Jesus was so:  “Die Here HERE het My ‘n geoefende tong gegee, dat Ek kan weet om die vermoeide te verkwik met woorde; Hy wek elke môre, Hy wek my oor om te hoor soos die leerlinge.” (Jesaja 50:4).  Onthou tog wanneer dit by die waarheid van die Skrif kom, dat jy altyd moet praat – al is dit ook op ‘n tyd wat mense dit nie wil hoor nie.  “Verkondig die Woord; tydig en ontydig” (2 Timoteus 4:2).

 

Jy sal jou hart ontbloot

RSG het ‘n onderhoud gevoer met Jack Parrow.  Iemand het vir hom gevra hoekom hy soveel vloek wanneer hy sing.  Sy antwoord was:  “Ek is nie soos ander sangers nie.  Ek sê wat ek dink.”  Dit is dwaas.  Die Skrif sê dat jy mooi moet dink voordat jy praat.  Mompel saggies die woorde vir jouself voordat jy hulle sê (15:28).  Indien dit moontlik is moet jy vra vir tyd om te dink, te bid, die Skrif te ondersoek en ‘n antwoord te formuleer (skryf as dit sal help).  Dit gebeur ongelukkig dat jy nie altyd lank kan wag om te antwoord nie.  Daarom moet jy vooraf gereed wees om ‘n antwoord te gee vir hulle wat vra oor die hoop wat in jou is (1 Petrus 3:15).

 

Jou woorde wys wat in jou hart is (4:23, Matteus 12:34).  Die goddelose persoon se slegte woorde borrel uit sy hart uit (15:28).  Selfs ‘n dwaas wat stilbly kan misgis word vir ‘n wyse persoon:  “Selfs ‘n sot sal as hy swyg, vir wys gereken word; as hy sy lippe toehou, vir verstandig.” (17:28).  “Ag, as julle maar heeltemal sou swyg—dan sou dit vir julle wysheid wees!” (Job 13:5).  Die wyse persoon vertoon nie sy kennis nie, maar hou terug en is kalm:  “Wie sy woorde inhou, besit kennis; en hy wat kalm is van gees, is ‘n man van verstand.” (17:27).  Wat sê jou woorde van jóú hart?  Is jy sleg?  Die verrotte wortel van jou hart kan alleenlik deur die evangelie herstel word.  Eers dan kan jy jou slegte tong hervorm.

 

Iemand het my vriend gekritiseer op sy blog.  Wat moes hy doen?  Moes hy daarop reageer of nie?  ‘n Mens het wysheid en onderskeid nodig om te weet wanneer jy moet reageer en wanneer nie:  “One size does not fit all” (Koptak, Proverbs, p.592).  Partykeer moet jy stilbly, sodat jy nie ook ‘n sot is nie.  In sulke gevalle moet jy nie jou tyd, asem of kosbare wysheid op hierdie persoon mors nie:  “Antwoord ‘n dwaas nie na sy sotheid nie, sodat jy ook nie net soos hy word nie.” (26:4).  Jesus sê:  “Moenie wat heilig is, aan die honde gee nie; en gooi julle pêrels nie voor die varke nie, sodat hulle dit nie miskien met hulle pote vertrap en omdraai en julle verskeur nie.” (Matteus 7:6).  Maar daar is ander kere wat jy die sot moet antwoord, sodat hy nie dink hy’s wys nie.  Jy moet veral teen hom praat wanneer ander mense sy sotheid hoor en daardeur beïnvloed kan word.  Daarom sê 26:5:  “Antwoord ‘n dwaas na sy sotheid, sodat hy nie wys is in sy eie oë nie.”  Jesus het die dwase Fariseërs geantwoord en hulle monde gesnoer.  Hier is wat gebeur het:

 

“En toe Hy in die tempel gegaan het, kom die owerpriesters en die ouderlinge van die volk na Hom terwyl Hy besig was om te leer, en hulle sê:  Deur watter gesag doen U hierdie dinge, en wie het U hierdie gesag gegee?  En Jesus antwoord en sê vir hulle:  Ek sal julle ook een ding vra, en as julle dit vir My sê, sal Ek julle ook vertel deur watter gesag Ek hierdie dinge doen.  Die doop van Johannes, waar was dit vandaan, uit die hemel of uit mense?  En hulle het by hulleself geredeneer en gesê: As ons sê: Uit die hemel—dan sal Hy ons vra:  Waarom het julle hom dan nie geglo nie?  En as ons sê:  Uit mense—dan moet ons oppas vir die menigte, want almal hou Johannes vir ‘n profeet.  Toe antwoord hulle Jesus en sê:  Ons weet nie.  Hy sê toe ook vir hulle:  Dan vertel Ek julle ook nie deur watter gesag Ek hierdie dinge doen nie.” (Matteus 21:23-27).

 

Hoe jy ‘n sot antwoord (of nie antwoord nie) wys ook iets van jou eie hart.  Wees dan versigtig wat jy sê en wat nie.

 

Jy sal die onmoontlike regkry

Jesus het ‘n storie vertel van ‘n weduwee wat aanhoudend vir die regter gevra het om haar saak aan te hoor.  Hy wou nie.  Sy het net aangehou.  Uiteindelik het selfs hierdie slegte regter toegegee en haar gehelp (sien Lukas 18:1-8).  Natuurlik gee die Skrif nie toestemming dat ons mag kerm en kla nie, maar as jy geduldig wag dat jou baas (of wieookal anders) se humeur afkoel en jy sagmoedig praat, kan jy die onmoontlike regkry – ‘n sagte tong kan ‘n been breek (25:15).  Deur net geduldig en sagmoedig te wees met jou woorde, kan jy baie gebroke verhoudings herstel.  So, dink mooi voor jy praat.

Advertisements

Aanskou jou Koning!

Psalm 93 wave

1 Die HERE is Koning; Hy is met hoogheid bekleed.  Die HERE is bekleed, Hy het Hom met sterkte gegord.  Ook staan die wêreld vas, sodat dit nie wankel nie. 2 Vas staan u troon van ouds af; van ewigheid af is U.  3 Die riviere, o HERE, het verhef, die riviere het hulle gebruis verhef; die riviere verhef hulle geraas! 4 Meer as die gebruis van groot, geweldige waters, van die golwe van die see, is die HERE geweldig in die hoogte! 5 U getuienisse is baie betroubaar. Heiligheid pas by u huis, HERE, tot in lengte van dae!” (Psalm 93:1-5).

 

Vandag word baie lande demokraties regeer.  In antieke tye het konings soewerein regeer.  Ons moet dit in gedagte hou wanneer ons Psalm 93 lees:  God heers soewerein oor alles en almal:  “Die Here is Koning” (v.1a).  “Die HERE het sy troon in die hemel gevestig, en sy koninkryk heers oor alles.” (103:19).  Die Messias sal as Koning oor die nasies regeer:  “Eis van My, en Ek wil nasies gee as u erfdeel en die eindes van die aarde as u besitting…Want die koninkryk behoort aan die HERE, en Hy heers oor die nasies.” (2:8, 22:29).

 

In die evangelies lees ons hoe Jesus selfs tydens sy aardse bediening soewerein was oor alles.  Hy het die wind en die golwe beheer.  Die duiwels het sy opdragte uitgevoer.  Hy het gered wie Hy wou (sien Lukas 10:21-22).  Hy het mag gehad oor siekte en kon mense gesondmaak.  Hy het dooies opgewek en het in sy opstanding die dood oorwin.  Hy was soewerein oor sy vyande:  Toe hulle besluit het om Hom nie tydens die Paasfees gevange te neem nie, het Hy besluit dat hulle dit tydens die Paasfees móés en sóú doen om die Skrif te vervul (Matteus 26:5).  Jesus is soewerein oor die toekoms.  Hy het oor sekere toekomstige dinge geprofeteer, en dit het presies gebeur soos wat Hy voorspel het.  Jesus is soewerein oor konings.  Toe Hy nuus ontvang dat Herodes Hom wou doodmaak, het Hy duidelik gemaak dat Hy eers sý planne sou volbring, en self die tyd van sy dood sou bepaal:  “En op dieselfde dag het sommige van die Fariseërs na Hom gekom en vir Hom gesê:  Gaan weg en vertrek hiervandaan, want Herodes wil U om die lewe bring.  En Hy het vir hulle gesê:  Gaan vertel daardie jakkals:  Kyk, Ek dryf duiwels uit en maak gesond, vandag en môre, en op die derde dag is Ek klaar.” (Lukas 13:31-32).  Hy is soewerein oor sonde.  Dit het Hy bewys deur daarmee af te reken aan die kruis.

 

Omdat Hy in beheer is kan ons harte gerus wees – al lyk dit vir jou of jy, die regering of jou omstandighede buite beheer is; al is daar mense wat sê dat die duiwel los is.  Die psalmis gee vir ons ses beskrywings van die soewereine Hemelkoning.

 

Sy majestieuse kleed (v.1a)

Salomo se koninklike heerlikheid en majesteit word in die Ou Testament vermeld.  Geen koning was ryker as hy nie.  Maar die Messias se koninklike kleed en majesteit is sonder gelyke.  Hy is met hoogheid bekleed (v.1a).  Jesaja beskryf Hom as die verhewe Koning; die een wie se soom van sy kleed die hele tempel vul (Jesaja 6).  Johannes beskryf Hom en sy heerlikheid as volg:  “Toe draai ek my om, om te sien watter stem met my gespreek het; en toe ek my omgedraai het, sien ek sewe goue kandelaars, en tussen die sewe kandelaars Een soos die Seun van die mens met ‘n kleed aan wat tot op die voete hang, en gegord om die bors met ‘n goue gordel.  Sy hoof en hare was wit soos wit wol, soos sneeu, en sy oë soos ‘n vuurvlam, en sy voete soos blink koper wat gloei soos in ‘n oond, en sy stem soos die stem van baie waters.  En in sy regterhand het Hy sewe sterre gehou, en ‘n skerp tweesnydende swaard het uit sy mond uitgegaan, en sy aangesig was soos die son wat skyn in sy krag.” (Openbaring 1:12-16).  Charles Spurgeon sê:  “He is not [clothed] with emblems of majesty, but with majesty itself, everything which surrounds him is majestic.” (Treasury of David, kommentaar op Psalm 93:1).

 

Die Psalmis herhaal in v.1 die woord ‘bekleed’ om God se majesteit te beklemtoon.  Ons weet dat Christus aan die kruis geen kleed aangehad het nie – sy klere was verdeel.  Maar nou is Hy bekleed met majesteit en ‘n gordel van sterkte (v.1a).  Die gordel het ‘n soldaat se wapenrusting aanmekaar gehou.  Dit was die plek waar hy sy swaard in die skede gebêre het.  Die feit dat die Hemelse Koning ‘n gordel van krag het, wys vir ons dat Hy ‘n Koning is wat oorlog maak en oorwin.  Die Psalms beskryf dit elders so:  “Die HERE het tot my Here gespreek:  Sit aan my regterhand, totdat Ek u vyande maak ‘n voetbank vir u voete.” (110:1).  En Jesaja sê van die Messias:  “En geregtigheid sal die gordel van sy lendene en trou die gordel van sy heupe wees.” (Jesaja 11:5).

 

Trek hierdie wapenrusting aan wanneer jy teen die duiwel en sy magte staan.  Saul se wapenrusting het nie vir Dawid gepas toe hy teen Goliat moes veg nie.  Maar Jesus se wapenrusting sal jou pas.  Daarom praat Efesiërs 6 van die volle  wapenrusting van God wat ons moet aantrek.  Hou goeie moed in jou stryd teen sonde en Satan, en stry in die Here se krag.  Die oorwinning oor die vyand is immers reeds behaal aan die kruis (Johannes 19:30, Kolossense 2:15).

 

Sy onbeweeglike werk (v.1b)

In die laat 1990’s (as ek die dekade reg onthou) het die media ons bang gemaak deur te sê dat daar ‘n meteoriet is wat die aarde gaan tref.  Hierdie idees kom van films soos Armageddon af, en nie van die wetenskap nie.  God se troon staan vas (v.2).  Hy regeer (v.1a).  En daarom staan die aarde ook vas (v.1b).  “Sê onder die volke:  Die HERE is Koning!  Ook staan die wêreld vas, sodat dit nie wankel nie.  Hy sal die volke regverdig oordeel.” (96:10).  Omdat hierdie dinge so is, hoef ons nie bang te wees vir die propaganda van globale verhitting, vir meteoriete, of vir ‘n derde wêreld oorlog wat die aarde gaan uitwis nie.  Die God wat alles gemaak het, onderhou dit en sal dit eendag herskep (Kolossense 1:16-17, Openbaring 21:1).

 

Sy ewige troon (v.2)

Aardse konings het voorgangers.  En aardse konings sterf en het opvolgers.  God se troon staan van ouds af en Hy sal vir ewig regeer (v.2).  Sy troon het geen voorgangers of opvolgers nie.  “U troon, o God, is vir ewig en altyd; die septer van u koninkryk is ‘n regverdige septer.” (45:7).  “Voordat die berge gebore was en U die aarde en die wêreld voortgebring het, ja, van ewigheid tot ewigheid is U God.” (90:2).  Al die werkwoorde in v.1a staan in ‘n perfektum, en wys vir ons dat dit ‘n afgehandelde saak in die hede is:  God is Koning en Hy regeer.  Geen vyand kan God onttroon en sy kroon steel nie.  Erken God se heerskappy.  Buig voor sy troon (ook in gebed).  Moenie jou hand in rebellie teen sy troon oplig nie.  Bid eerder met respek:  “Laat U Koninkryk kom” (Matteus 6:10).

 

Sy onvergelykbare mag (v.3-4)

In Noag se tyd het God ‘n vloed gestuur wat die hele aarde verwoes het.  God het sy mag by die Rooi See gewys toe Hy die Israeliete droogvoets daardeur laat trek het.  Ons sien nou nog God se mag in tsunami’s wat stede platvee.  God heers oor die see en sy magtige waters.  Die drievoudige ‘verheffing’ van die waters in v.3 beklemtoon hierdie mag.  God is magtiger as die sterke see:  “Meer as die gebruis van groot, geweldige waters, van die golwe van die see, is die HERE geweldig in die hoogte!” (v.4).  “Die HERE het gesit oor die Watervloed; ja, die HERE sit as Koning tot in ewigheid.” (29:10).  “U heers oor die trotsheid van die see; as sy golwe hulle verhef, bring U hulle tot bedaring.” (89:10).

 

God heers ook oor die nasies wat soos die see in sy ore raas, maar niks aan Hom kan doen nie.  Sy vyande is soos honde wat blaf maar nie byt nie.  “Waarom woel die nasies en bedink die volke nietige dinge?  Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die HERE en teen sy Gesalfde en sê:  Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp!  Hy wat in die hemel woon, lag; die Here spot met hulle.” (2:1-4).  “Laat sy waters bruis, laat hulle skuim; laat die berge bewe deur sy onstuimigheid! …Nasies het gebruis, koninkryke het gewankel; Hy het sy stem verhef; die aarde bewe.” (46:4, 7).  Psalm 65:8 praat van die Here “wat die gebruis van die seë stilmaak, die gebruis van hulle golwe en die rumoer van die volke”.  Jesaja sê:  “Maar die goddelose is soos ‘n onstuimige see; want dit kan nie tot rus kom nie, en sy waters gooi slyk en modder op.” (Jesaja 57:20).  Verlede jaar het Julius Malema baie geraas gemaak en moles veroorsaak.  Waar is hy nou?  Moet dan nie mense vrees nie, maar die God wat magtiger is as die geraas van die golwe en die rumoer van die nasies.

 

Sy betroubare getuienisse (v.5a)

Ons sê van ‘n vaste verordening dat dit so vas is soos die wet van die Meders en die Perse.  God se getuienisse is nog vaster as dit (v.5a).  Alles wat God bepaal doen Hy.  Niks kan Hom keer nie.  “Alles wat die HERE behaag, doen Hy, in die hemel en op die aarde, in die seë en al die dieptes.” (135:6).  “En al die aardbewoners word as niks geag nie, en na sy wil handel Hy met die leër van die hemel en die bewoners van die aarde, en daar is niemand wat sy hand kan afslaan en vir Hom kan sê:  Wat doen U nie?” (Daniel 4:35).  Paulus sê dat God “alles werk volgens die raad van sy wil” (Efesiërs 1:11).

 

Ook as die Here iets profeteer, gebeur dit in die fynste detail soos Hy gesê het.  Sy getuienisse is waarlik baie betroubaar.  God is getrou, waaragtig en onveranderlik.  Sy getuienisse en verbond is vir ons ‘n Boek neergeskryf:  die Bybel.  Psalm 19:8 bevestig dat hierdie getuienisse baie vas en betroubaar is.  As God se getuienisse dan so betroubaar is, kan jy glo dat die beloftes van die Bybel waar is.  En as die dinge wat God oor die Messias se eerste koms voorspel het alles gebeur het, beter jy die Skrif se beloftes oor die wederkoms glo – dit sal gebeur!  Moenie die betroubare Bybel betwyfel, of jou eie ondervindings en redenasies bo die Bybel stel nie.  Petrus het gesê dat die Skrif meer betroubaar as sy eie wonderlike ervarings was (2 Petrus 1:16-21).

 

Sy heilige huis (v.5b)

Nadab en Abihu het rondgespeel voor die wierookaltaar (Levitkus 10:1).  Hulle het uit hulle eie besluit om iets te offer (in oortreding van Eksodus 30:9).  Dit mag selfs wees dat hulle dronk was (Levitikus 10:8-9).  God het hulle doodgemaak hiervoor (Levitikus 10:2).  Waarom die drastiese optrede?  “Toe sê Moses vir Aäron:  Dit is dit wat die HERE gespreek het deur te sê:  In die wat naby My is, wil Ek My as die Heilige laat ken, en voor die oë van die hele volk wil Ek My verheerlik.  Maar Aäron het stilgebly.” (Levitikus 10:3).  God het die Korintiërs siek laat word en doodgemaak toe hulle dronk geword het van die nagmaalwyn, en so die nagmaal ontheilig het (1 Korintiërs 11:30).  God is heilig; uniek.  Ons moet dan ook heilig wees wanneer ons Hom aanbid.  Doen afstand van jou sonde wanneer jy bid, sy Woord lees, die nagmaal gebruik en lewe (1 Timoteus 2:8, 1 Petrus 1:15-16, 2:1-2).  “Heiligheid pas by u huis, HERE, tot in lengte van dae!” (v.5b).  “Gee aan die HERE die eer van sy Naam; aanbid die HERE in heilige sieraad!” (29:2).

 

Heilige aanbidding pas nie net by die Ou Testamentiese tempel nie, maar ook by gelowiges wat deel uitmaak van die Nuwe Testamentiese tempel:  “As iemand die tempel van God skend, sal God hom skend; want die tempel van God is heilig, en dit is julle.” (1 Korintiërs 3:17).  Wees ook vir ewig heilig voor God in sy hemelse huis – tot in lengte van dae (v.5b, 23:6).  Ons kan nie die Here op ‘n lawwe manier aanbid nie.  Ons lewe en aanbidding moet ‘n refleksie wees van Sy heiligheid.  Aanbid Hom as die verhewe Here.  Ook ons liede en hulle wysies moenie oppervlakkig wees nie, maar laat ons met eerbied, ontsag, vrees en respek kom – meer as voor die grootste koning op aarde.  En as jy onheilig is met sonde, kan jy nuut en heilig word deur die Heilige Gees en die bloed van Jesus Christus:  “En dit was sommige van julle (vuil sondaars); maar julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God.  (1 Korintiërs 6:11).

Christene se invloed in die wêreld

salt and light

13 Julle is die sout van die aarde, maar as die sout laf geword het, waarmee sal dit gesout word?  Dit deug nêrens meer voor as om buite gegooi en deur die mense vertrap te word nie.  14 Julle is die lig van die wêreld.  ‘n Stad wat bo-op ‘n berg lê, kan nie weggesteek word nie; 15 en ‘n mens steek ook nie ‘n lamp op en sit dit onder die maatemmer nie, maar op die staander, en dit skyn vir almal wat in die huis is. 16 Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik.” (Matteus 5:13-16).

 

Wie is ons? (v.13-15)

As jy rou vleis in jou garage ophang, sal dit na ‘n paar dae vrot word.  Maar as jy genoeg growwe sout invryf, sal dit smaaklike biltong wees.  Die sout dien as ‘n perserveermiddel.  Dieselfde kan gesê word van bokkems (vis ‘biltong’).  En dit is presies wat Jesus van ons sê:  [a] Julle is die sout van die aarde (v.13).  Mense in Jesus se tyd het nie vrieskaste gehad om vleis in te hou nie.  Hulle het sout gebruik om hulle goedere te perseveer.  Sout is ook as medisyne gebruik (ek kry gereeld koorsblare en weet dat sout goeie medisyne is).  Die wêreld is ‘n verrotte plek, maar dit sou veel erger gewees het sonder Christene.  Dink maar aan iemand wat wil skinder of ‘n vuil grap wil vertel, en dadelik stilbly wanneer jy daar aankom.

 

Christene het ‘n groot invloed in die wêreld (onderstaande inligting verkry uit Alvin Schmidt, How Christianity Changed the World, Zondervan, GRAND RAPIDS, 2001, 2004):

 

  • Dit was deur die Christelike invloed van Basil (369 n.C.) wat hospitale tot stand gekom het.
  • Die Hindu’s het weduwees saam met hulle mans verbrand.  Maar deur die Christelike invloed van William Bentinck (1829) is dit gestaak.
  • Weeshuise en oue tehuise het ontstaan as gevolg van Christenskap.
  • Publieke skole ook (deur Martin Luther).
  • Friedrich Froebel wou sien dat kinders van kleins af die evangelie moes leer, en het kindergartens (kleuterskole) begin.
  • Epee se begeerte was dat dowe mense die evangelie moes ‘hoor’, en het vingertaal vir dowes ontwikkel (1775).  So het Louis Braille vir blindes gedoen deur braille-skrif (1834).
  • Die Grieke het baie dinge in die natuur as gode beskou, en wou dit nie navors nie.  Christene het geweet dat daar net een God is en dat die res geskep is.  Deur húlle invloed het wetenskaplike navorsing gevorder.
  • Slawerny en slawehandel is deur William Wilberforce (en sy Christelike wêreldbeskouing) stopgesit.
  • Guido van Arezzo (995 n.C.) wou graag musiek op papier kon neerskryf, sodat die geslagte wat kom God kon aanbid.  Hy het bladmusiek ontwikkel.
  • Christene het onthou dat God wil hê ons moet die tyd uitkoop.  Op ‘n bewolkte dag kon hulle sonhorlosies nie die tyd aandui nie.  Gevolglik het hulle meganiese horlosies ontwerp (ja, dis te danke aan Christenskap dat ons duur Swiss horlosies het!).
  • Vandag geniet die wêreld publieke feesdae soos Kersfees en Paasfees as gevolg van Christenskap.  Agt dae ná sy geboorte is Jesus besny.  Daarom vier ons 1 Januarie as óns nuwe jaar.
  • Ons hele kalender wentel rondom Jesus se geboorte (v.C. en n.C. – selfs al was daar ‘n berekeningsfout met Jesus se geboortejaar, is die fokus steeds op Christus as die middelpunt van die geskiedenis).

 

‘n Bietjie sout maak ‘n groot verskil vir perservering en smaak.  En daarom moet ons nie toelaat dat die sout laf en nutteloos word nie (v.13).  John MacArthur skryf:  “Pure salt cannot lose its flavor or effectiveness, but the salt that is common in the Dead Sea area is contaminated with gypsum and other minerals and may have a flat taste or be ineffective as a preservative.  Such mineral salts were useful for little more than keeping footpaths free of vegetation.” (MacArthur Study Bible, kommentaar op Matteus 5:13).  So is ‘n Christen sonder invloed:  nutteloos (v.13).  En dit is nie te moeilik om jou invloed te verloor nie:  wees onheilig, kla soos die res, lewer slegte werk, staak, steel tyd by die werk deur vroeg huistoe te gaan, en moenie getuig van Jesus en sy evangelie nie.  “The purpose of salt is to fight deterioration, and therefore it must not itself deteriorate.” (D.A. Carson, Sermon on the Mount, Paternoster, CARLISLE, 1978, 1998, 2002, p.34).

 

Dit is nie net sendelinge of predikante wat ‘n verskil kan maak in die wêreld nie.  God gebruik oor en oor die Christen in die bank om ‘n verskil te maak.  Fanny Crosby het tien duisend gesange geskryf.  Susannah Wesley was ‘n godvresende ma wat vir John en Charles Wesley grootgemaak het.  Charles het duisende gesange geskryf en onder John se prediking het skares tot bekering gekom.  William Wilberforce was ‘n Christen in die parlement (ek het reeds na hom verwys).  C.S. Lewis was ‘n dosent in Engels.  Sy invloed strek wyd (al het hy party vreemde idees gehad).  Ek ken ‘n kerk in Gauteng wat ‘n groot impak maak in die wêreld – nóg ‘n voorbeeld van ‘gewone’ Christene wat ‘n verskil maak.

 

[b] Julle is die lig van die wêreld (v.14-15).  Openbaring 1:20 beskryf die kerk as sewe goue kandelare.  En wat anders doen kandelare as om lig te gee?  Natuurlik is ons maar net die maan wat die son reflekteer.  Ons is nie die bron van hierdie lig nie.  Jesus is.  Hý is die Lig van die wêreld (Johannes 8:12) en ons die spieël wat sy lig weerkaats (v.14).  Paulus sê:  “Want vroeër was julle duisternis, maar nou is julle lig in die Here – wandel soos kinders van die lig.” (Efesiërs 5:8, eie beklemtoning).  Die wêreld is duisternis as gevolg van sonde.  Ongelowiges hou nie daarvan om in die lig te lewe nie, omdat dit hulle sonde uitwys (Johannes 3:20, 2 Korintiërs 6:14).  En daarom sal hulle jou ook haat en vervolg soos wat Jesus in die konteks van v.10-12 sê:  “Salig is die wat vervolg word ter wille van die geregtigheid, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.  Salig is julle wanneer die mense julle beledig en vervolg en valslik allerhande kwaad teen julle spreek om My ontwil.  Verbly en verheug julle omdat julle loon groot is in die hemele; want so het hulle die profete vervolg wat voor julle gewees het.”

 

‘n Man het saam met Billy Graham, Jack Niklaus en die President van die V.S.A. gholf gespeel.  Ná die rondte was hy woedend.  “Ek het nie nodig gehad dat Billy Graham vir 18 putjies godsdiens in my keel hoef af te gedruk het nie!” het hy vir sy vriend gesê.  “Sjoe, Billy was ‘n bietjie hard op jou, né?” het sy vriend gereageer.  “Nee, eintlik het Billy niks gesê nie,” het hy in skaamte erken, “ek het net ‘n slegte dag gehad.”  Jy sien, net die feit dat hy geweet het Billy Graham is ‘n prediker, het hom skaam laat voel oor sy sondige lewe.

 

Christene is ‘n stad op ‘n berg (v.14).  In die era van elektrisiteit verstaan ons dit nie heeltemal nie.  In Gauteng kan ons nie die sterre ordentlik sien nie – die stad se lig verhinder dit.  My broer bly in Secunda.  SASOL se ligte weerkaats teen die wolke en maak dat dit ‘n oranje skynsel afgee.  Sy haan kraai in die middel van die nag omdat hy dink dat die son opkom.  In ons dag kan jy tot 200 kilometer van ‘n stad af wees, en die lig van daardie stad kan nogsteeds jou visie verhinder (of help – afhangend van wat jy wil doen).  Dit is nie so donker soos wat dit sóú wees sonder die gereflekteerde lig van die stad nie.  In Jesus se tyd was ‘n stad van myle af sigbaar (en het dit die reisiger gehelp) in die duisternis van die woestyn.

 

Wat is die les?  Geen heilige persoon kan onopgemerk bly en soos ‘n lamp onder ‘n maatemmer wees nie.  Die Christen is soos ‘n stad op ‘n berg of soos ‘n olielamp op ‘n staander in die huis.  Onthou dat die huise nie groot glas vensters gehad het wat lig deurgelaat het nie.  Daar was klein openinge in die muur, en gevolglik was ‘n huis selfs in die dag redelik donker binne.  Wanneer ‘n mens dan ‘n olielamp opgesteek het, sou dit die ganse een-vertrek huis verlig het (v.14-15).  Soos hierdie lig kan ons goeie werke eenvoudig nie weggesteek word nie:  “Net so is ook die goeie werke baie duidelik, en ook die wat anders is, kan nie weggesteek word nie.” (1 Timoteus 5:25).  Jy hoef nie uit jou pad uit te gaan voordat mense jou opmerk nie.  Wees net ‘n lojale Christen, en mense sal nie anders kan as om jou op te merk nie.  Jy hoef byvoorbeeld nie ‘n Christelike koffiewinkel of werkswinkel oop te maak nie.  Wees net ‘n goeie Christen by jou werk, en mense sal dit agterkom.  Ek het vir ‘n prediker by ‘n konferensie gevra:  “Hoe kan ek in my woonbuurt ‘n Christelike wêreldbeskouing uitleef, sodat mense dit opmerk?  Wat moet ek doen?”  Sy antwoord het my getref:  “Jy hoef niks spesiaal te doen nie.  Wees net ‘n Christen en mense sal dit raaksien.”  Wees heilig waar jy leef en beweeg.  Wanneer mense dit sien sal hulle die Vader wat in die hemel is verheerlik (v.16).

 

Wat moet ons doen? (v.16)

Gideon het God in die nag gehoorsaam, omdat hy bang was vir die gevolge (Rigters 6:27).  Nikodemus ook (Johannes 3).  Ons moenie bang wees om in die openbaar gehoorsaam te wees nie.  Ons moet ons lig voor die mense skyn (v.16).  Ons doen dit deur die evangelie te deel by die werk, ‘n openlike stand in te neem teen aborsie en ‘ja’ te sê vir lewe.  Jy doen dit deur ‘n etiese stand in te neem by die werk:  moenie oneerlike besigheid doen of vir kliënte lieg nie.  Skyn jou lig voor mense deur nie skaam te wees om vir die kos te dank in ‘n restaurant nie (moet net nie skynheilig wees nie).  Skyn jou lig voor die mense deur ‘n godvresende huwelik- en gesinslewe, deur te werk wanneer ander staak, en deur jouself te verskoon wanneer ander dronk word by die werksbraai.

 

Jou goeie werke is werke van die lig:  reinheid, tevredenheid, eensgesindheid, nugterheid, selfbeheersing, en waarheid.  Die Skrif sê:  “Die nag het ver gevorder en dit is amper dag.  Laat ons dan die werke van die duisternis aflê en die wapens van die lig aangord.  Laat ons welvoeglik wandel soos in die dag, nie in brassery en dronkenskap, nie in ontug en ongebondenheid, nie in twis en nydigheid nie.  Maar beklee julle met die Here Jesus Christus, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie.” (Romeine 13:12-14).  “Want vroeër was julle duisternis, maar nou is julle lig in die Here—wandel soos kinders van die lig.  Want die vrug van die Gees bestaan in alle goedheid en geregtigheid en waarheid.” (Efesiërs 5:8-9).  “Julle is almal kinders van die lig en kinders van die dag; ons is nie van die nag of die duisternis nie.  Laat ons dan nie slaap soos die ander nie, maar laat ons waak en nugter wees.  Want die wat slaap, slaap in die nag; en die wat dronk word, is in die nag dronk.  Maar laat ons wat van die dag is, nugter wees, met die borswapen van geloof en liefde aan, en as helm die hoop op die saligheid.” (1 Tessalonisense 5:5-8).

 

As gelowiges moet ons altyd afstand doen van sonde, omdat dít die lig probeer uitdoof.  Johannes sê:  “As ons sê dat ons met Hom gemeenskap het en in die duisternis wandel, dan lieg ons en doen nie die waarheid nie.  Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde… As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” (1 Johannes 1:6-7, 9).

 

Hoekom moet ons goed doen?  Ons moenie goed doen om die guns van mense te probeer kry nie, maar eerder sodat hulle God sal eer en erken as die ware lig (v.16, 6:1-18, 1 Johannes 1:5).  Die vrug wat ons dra moet die Vader verheerlik (sien Johannes 15:8, Filippense 1:11, 2:10-11).  Toe die Indiane tot bekering kom, het hulle God verheerlik oor die boodskap en goeie werke van David Brainerd.  Petrus sê:  “en hou julle lewenswandel onder die heidene skoon, sodat as hulle van julle kwaad spreek soos van kwaaddoeners, hulle op grond van die goeie werke wat hulle aanskou, God kan verheerlik in die dag van besoeking.” (1 Petrus 2:12).

 

Net Christene kan ware goeie werke doen.  Die ongelowige doen goed om raakgesien te word, sy gewete te sus of selfregverdig te wees.  Net die gelowige kan dit doen omdat hy God wil verheerlik.  Ons roem dan nie in onsself wanneer ons goed doen nie, maar ons verheerlik God (v.16).  Ons goeie werke kom immers van Hóm af (Galasiërs 5:22-23, Efesiërs 2:10).  Jesus het gesê:  “So ook julle, wanneer julle alles gedoen het wat julle beveel is, sê dan:  Ons is onverdienstelike diensknegte, want ons het gedoen wat ons verplig was om te doen.” (Lukas 17:10).

Hulp vir Christene met ‘n kort humeur

Angry woman

14:17 Wie kortgebonde is, begaan sotheid; en ‘n slinkse man word gehaat.  14:29 Die lankmoedige is groot van verstand, maar die kortgebondene behaal sotheid.  15:1 ‘n Sagte antwoord keer die grimmigheid af, maar ‘n krenkende woord laat die toorn opkom.  15:18 ‘n Driftige man verwek twis, maar die lankmoedige laat die geskil bedaar.  16:32 Die lankmoedige is beter as ‘n held; en hy wat sy gees beheers, as een wat ‘n stad inneem.  19:3 ‘n Mens se sotheid bederwe sy weg, maar sy hart is vertoorn op die HERE.  19:11 Die verstand van ‘n mens maak hom lankmoedig, en dit is vir hom ‘n eer om die oortreding te vergewe.  19:19 Hy wat groot van woede is, sal die straf dra; want as jy wil red, dan maak jy dit nog erger.  22:24 Verkeer nie met ‘n driftige man nie, en met ‘n opvlieënde man moet jy nie omgaan nie, 22:25 sodat jy nie gewend raak aan sy paaie en ‘n strik vir jouself span nie.  25:23 Die noordewind bring ‘n reënbui voort, en die tong wat agteraf praat—kwaai gesigte.  27:3 Swaar is ‘n klip, en die sand het gewig; maar die ergernis oor ‘n sot is swaarder as altwee.  27:4 Woede is wreed, en toorn kook oor; maar wie kan voor jaloersheid standhou?  29:8 Manne wat spot, bring ‘n stad in oproer, maar die wyse bring die toorn tot bedaring.  29:9 Het ‘n wyse man met ‘n sot ‘n regsaak, dan gaan die sot te kere en lag, sonder bedaring.  29:22 ‘n Opvlieënde man verwek twis, en ‘n driftige man is ryk aan oortreding.  30:33 Want drukking van melk bring botter voort, en drukking van die neus bring bloed voort, en drukking van die toorn bring twis voort.” (Spreuke).

 

Die oorsake van die probleem

  1. Dwaasheid (14:29).  Iemand wat maklik sy humeur verloor is soos ‘n oop vlam by petrol.  Die persoon is ongehoorsaam en pas nie die Bybel se wysheid toe nie.    Prediker 7:9 sê:  “Wees nie haastig in jou gees om jou te vererg nie, want ergernis rus in die boesem van die dwase.”
  2. Ander se slegte woorde en skindertaal (15:1, 25:23).  Onthou hoe Nabal vir Dawid sleggesê het.  Dawid het kwaad geword en was gereed om hom dood te maak (1 Samuel 25:10-13).
  3. Jy het nie ‘n kort humeur as gevolg van jou rooi hare, Ierse bloed, of temperament nie.  Jy kan kies om selfbeheersing uit te oefen en jou humeur te beteuel:  “Die lankmoedige is beter as ‘n held; en hy wat sy gees beheers, as een wat ‘n stad inneem.” (16:32).  Om jouself te beheer is moeiliker as om ‘n stad in te neem.  Die sterk persoon is nie hy wat ander kan beheer nie, maar hy wat homself kan beheer.  Joab was die eerste een om Jerusalem in te neem, maar hoe het hy nie gesukkel om homself te beheer nie!  Simson het die stadshekke uitgebreek, maar kon nie sy seksuele drange in toom hou nie!
  4. ‘n Slegte hart (19:3).
  5. Moles wat jy oor jouself bring (19:3).  Ek het al meer as een keer mense teëgekom wat kwaad is, vloek en skreeu oor hulle slegte omstandighede.
  6. Jy het nie jou les geleer nie.  Daarom verloor jy alwéér jou humeur – dalk nog oor dieselfde ding:  “Hy wat groot van woede is, sal die straf dra; want as jy wil red, dan maak jy dit nog erger.” (19:19).  As jou kind tantrums gooi en in die moeilikheid beland, benadeel jy hom as jy hom elke keer uithelp.  Los hom, dat hy die gevolge kan voel en leer.  Dieselfde geld vir jou humeurige tiener.  As hy kwaad word en iets onverantwoordeliks aanvang, moet jy nie sy borgtog of boete betaal nie.  Laat hom leer:  wat jy saai sal jy maai (Galasiërs 6:7-8).
  7. ‘n Verkeerde voorbeeld kan daartoe aanleiding gee dat mense met humeurigheid sukkel (22:24-25).  Voorbeelde sluit onder meer verkeerde vriende en opvlieënde ouers in.
  8. Iemand se sotheid kan woede veroorsaak (27:3).  ‘n Dwaas kan ‘n las van woede op jou plaas wat meer weeg as ‘n vrag sand en ‘n groot klip saamgetel.
  9. Daar is mense wat dit haat om verkeerd te wees, en kwaad word as ander met hulle verskil (29:9).

 

Die gevolge van die probleem

  1. Iemand wat sy humeur verloor doen dwase en onverantwoordelike dinge (14:17a).  ‘n Vriend van my het ‘n gat in die koshuis deur geslaan toe hy kwaad was.  Hy moes betaal, en as ‘n student het hy nie baie geld gehad nie.
  2. Twis (15:18, 29:22).  So seker as wat room botter word wanneer jy dit karring, of jou neus bloei as iemand dit slaan; só seker kan jy wees dat ‘n kort humeur twis sal veroorsaak.
  3. Lastering teen God (19:3).  Adam het vir God beskuldig en verwys na die vrou wat U my gegee het (Genesis 3:12).  Jesaja praat van mense wat “hulle in toorn uitbreek en hulle koning en hulle God vloek” (Jesaja 8:21).  In Openbaring 16:11 lees ons van mense wat vir God vloek wanneer Hy hulle vir hulle sondes straf.  Die Skrif sê vir ons dat ons nie die Here moet beskuldig vir die gemors waarin ons onsself laat beland het nie (Jakobus 1:13).  Om kwaad te word vir God is nie aanvaarbaar soos moderne beraders leer nie.  Dit is sonde.
  4. Onvergewensgesindheid (19:11).  God is geduldig en vergewe ons sondes.  Daardeur sê Hy nie dat ons waardig is om vergewe te word nie, maar eerder dat Hý goed is.  Sý geduld en eer word gewys wanneer Hy ons vergewe (19:11).  Laat ons ook so wees met mekaar.  Of gaan jy vir die res van jou lewe ‘n wrok dra, omdat iemand teen jou gesondig het?
  5. Dalk het jy kwaad geword en iemand gevloek, baklei, of ‘n moord gepleeg.  Jy sal die straf dra in die hof, die tronk, in siekte, ensovoorts (19:19a).
  6. Jy sal so vasgevang raak in jou probleem, dat jy sukkel om jou humeurigheid te oorkom (22:25).
  7. Jy sal ‘n slegte voorbeeld wees vir ander (22:25).
  8. Wreedheid (27:4).  Mense wat woedend word sal verskriklike dinge doen teen hulle naaste.  Die grusame plaasmoorde in ons land bewys dit.
  9. Opstande.  Die molesmakers blaas die twis aan soos wat ‘n mens kole blaas om die vuur te stook (29:8).  Onthou jy hoe die Fariseërs die skare aangehits het om te vra dat Jesus gekruisig moes word (Matteus 27:20)?
  10. Spottery en lawaai – so is die persoon wat kwaad word as hy ‘n argument verloor (29:9).  Moenie soos ‘n sot lag en met woede bewe nie, maar luister na al die feite voordat jy kwaad word of praat.
  11. Baie sondes (29:22):
  • Mense wat kwaad is vloek en skel mekaar.
  • Ander skei.
  • Party veg en pleeg moord (dis immers waar moord begin – in ‘n hart vol van woede, Matteus 5:21-22).
  • Vals beskuldiging.  Jy sal lieg oor die een vir wie jy kwaad is.
  • Kindermishandeling, omdat die kinders ‘my teen die mure uitdryf’.
  • Padwoede, sodat jy onverantwoordelike dinge doen.
  • Jy is kwaad vir jou vrou en kyk pornografie om haar te ‘spite’.
  • Om jou man terug te kry pleeg jy egbreuk.
  • Dronkenskap, dwelm misbruik, rook.  Dit is hoe party mense hulle woede hanteer of probeer beheer.
  • Diefstal.  Jy steel die persoon vir wie jy kwaad is se goed.
  • Vandalisme.  Baie mense wat kwaad is breek goed.
  • Bitter gedagtes.
  • Skinder om die persoon vir wie jy kwaad is af te breek.
  • Biddeloosheid – veral as jy kwaad is vir die Here.
  • Onverantwoordelike optrede.  Dit spreek vanself.
  • Versaking van die gemeentelike byeenkomste en die nagmaaltafel.  Jy weet jou gewete is nie skoon nie, en daarom bly jy weg.  So hoop jy een sonde op ‘n ander.
  • Lastering teen God soos reeds hierbo genoem.
  • Disrespek teenoor jou ouers.  Elke jongmens weet waarvan ek praat.
  • Wraak.  Iemand wat kwaad is probeer soms om ander terug te kry.  Hy sal selfs die reg in eie hande neem.
  • Ooreet.  ‘Comfort eating’ is wat mense dit deesdae noem.
  • Wanbesteding van geld.  As ‘n vrou kwaad is vir haar man, sal sy sommer sy krediet kaart neem en geld blaas.
  • Verkragting.  ‘n Meisie wat vir ‘n man ‘nee’ sê mag dalk sy humeur voel en verkrag word.
  • Heksery.  Dit is nie ongewoon dat iemand wat kwaad is vir ‘n ander, na hekse of ander sulkes toe gaan om ‘n vloek te probeer uitspreek nie.

 

Die oplossing vir die probleem

 

Woede in jou:

  1. Praat die saak uit en moet dit nie laat opkrop in jou hart nie (14:17b).  “Alle bitterheid en woede en toorn en geskreeu en lastering moet van julle verwyder word, saam met alle boosheid.  Maar wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar; vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het.” (Efesiërs 4:31-32).  Om jou humeur te verloor en ontverantwoordelik op te tree is erg (14:17a).  Om in jou binneste te kook is erger (v.14:17b).
  2. ‘n Bul blaas stoom uit sy neus wanneer hy kwaad word (of so wys tekenprente).  Jy moenie haastig wees om stoom uit jóú neus te blaas nie.  Dis letterlik wat die Hebreeus beteken wanneer dit praat van geduld – ‘n lang neus.  Om so te wees moet jy jou hart en gedagtes met wysheid en verstand vul uit die Skrif (14:29, 19:11).  God vat lank om kwaad te word (Eksodus 34:7), en ons moet ook so wees:  “So dan, my geliefde broeders, elke mens moet gou wees om te hoor, stadig om te praat, stadig om toornig te word.  Want die toorn van ‘n man bewerk nie die geregtigheid voor God nie.” (Jakobus 1:19-20).  “To see a situation calmly is to see it clearly.” (Kidner, Proverbs, p.109).  Leer wysheid uit boeke soos Wayne Mack se boek oor die onderwerp:  Anger and Stress Management God’s way.  Let op Jesus se voorbeeld.  Toe Hy kwaad geword het, het Hy nie sy humeur verloor nie, maar die saak goed deurdink.  In Johannes 2:15 het Hy ‘n sweep gevleg.  Dit neem tyd.  In Markus 11:11, 15 het hy die onreg gesien, en eers die volgende dag die mense uit die tempel uitgejaag.
  3. ‘n Sagte woord (15:1).  Wanneer Chinese tafeltennis sterre die bal hard slaan, staan hulle ver van mekaar af.  Hoe harder hulle slaan, hoe verder dryf hulle weg van mekaar af.  Maar sodra een van hulle ‘n ‘drop shot’ speel, moet die ander speler nader hardloop.  En so is dit met woorde.  As iemand ‘n harde woord spreek en jy nét so reageer, dan dryf jy die ander persoon weg van jou af.  Maar as jy met ‘n sagte woord reageer, dan trek jy hom dadelik nader.  As jy ‘n verkeerde woord spreek, moet jy dit bely en jou daarvan bekeer.  Hou net aan om jou hierin te oefen.  Met herhaling sal jy dit regkry.
  4. Beheer jouself (16:32).  Omdat jy ‘n Christen is en die Heilige Gees in jou het, kan jy dit doen, want die vrug van die Gees is selfbeheersing (Galasiërs 5:22).
  5. ‘n Nuwe hart deur die evangelie.  Voordat ek tot bekering gekom het, het ek ‘n vreeslike humeur gehad.  Ek het gedurig my sussie geslaan.  Ek het haar selfs eenkeer in die huis gejaag, sodat sy in die muur vasgehardloop en met harsingskudding in die hospitaal beland het.  Toe die Here my gered het, het my hart (en gevolglik ook my humeur) verander.  Die evangelie, en nie skreeu-of-slaan-die-muur terapie nie, is die oplossing.
  6. Raak ontslae van verkeerde vriende (22:24-25).

 

Woede teen jou:

  1. Spreek ‘n sagte woord (15:1).
  2. Bly kalm (15:18).  Die twis tussen Abraham en Lot se skaapwagters kon maklik ‘n probleem geword het tussen hulle twee.  Maar Abraham het dit met wysheid en kalmte hanteer (Genesis 13:8).  Prediker 10:4 sê:  “As die toorn van die heerser teen jou opkom, verlaat nie jou pos nie, want bedaardheid voorkom groot foute.”  En Jesus:  “Salig is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.” (Matteus 5:9).
  3. Wees wys:  “Manne wat spot, bring ‘n stad in oproer, maar die wyse bring die toorn tot bedaring.” (29:8).  Die wyse persoon kan die oproer van ‘n hele stad tot bedaring bring.  ‘n Wyse vrou in ‘n stad genaamd Abel het dit reggekry (2 Samuel 20:15-22).
  4. Moenie onnodig ‘n sensitiewe punt aanraak nie – iets waaroor jy weet iemand sal kwaad word en rusie veroorsaak (30:33).  Behou tog ‘n gesonde balans, want jy moenie stilbly ten koste van die evangelie wat dalk mag aanstoot gee nie (sien Matteus 23, 2 Timoteus 2:24-26).

God se veelkleurige wysheid

Colourful sunrise

Die Mariana trog in die Atlantiese Oseaan is 11 km diep.  Berg Everest is 8.8 km hoog.  God se wysheid, egter, het geen bodem of piek nie.  Die sand en die sterre kan nog getel word, maar daar is geen einde aan God se kennis en wysheid nie – dit is méér as die sterre en die sand.  Die Skrif sê:  “Hoe kosbaar is dan vir my u gedagtes, o God!  Hoe geweldig is hulle volle som nie!  Wil ek hulle tel, hulle is meer as die sand…Hy bepaal die getal van die sterre; Hy gee hulle almal name.  Onse Here is groot en ryk aan krag; sy verstand is oneindig.” (Psalm 139:17-18, 147:4-5).  Wat is God se wysheid?  Wayne Grudem skryf:  “God’s wisdom means that God always chooses the best goals and the best means to those goals.” (Systematic Theology, Inter-Varsity Press, LEICESTER, 1994, 2000, p.193).  Dit impliseer dat God nie ‘n beter keuse kón maak nie.  Indien Hy kon, beteken dit dat sy besluite nie die beste is nie.  Daar is te veel kleure in die prisma van God se wysheid vir ons klein verstand.  Dit is te diep om te peil:  “O Diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God!  Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë!”  Efesiërs 3:10 praat van “die menigvuldige wysheid van God”.  Die Griekse teks praat letterlik van sy veelkleurige wysheid.  God kan doen ver bo wat ons kan bid of selfs dink (Efesiërs 3:20).

 

Veelkleurige wysheid in die skepping

Oor die afgelope 150 jaar was daar heftige aanvalle teen Genesis 1.  Evolusioniste sê dat toeval die oorsaak van die wonderskone natuur is.  Maar Genesis 1 sê dat ‘n wyse God agter alles staan.  Die manier waarop Hy geskep het sal dit vir ons wys.

 

  1. Spreuke 24:27 sê:  “Maak jou werk buitekant reg, en bring dit vir jou op die land in orde; daarna moet jy dan jou huis bou.”  As daar koring in die lande en beeste in die stal is, sal jy genoeg brood en melk hê om jou te voed (en krag te gee) terwyl jy jou huis bou.  En dit is hoe God geskep het.  Hy het eers die habitat geskep, en dit daarna gevul met die skepsels wat daarby pas.  Hy het die oop hemelruim gemaak, die oseane, en die droë land met plante wat daaruit groei.  Toe dít gereed is, het Hy sterre en planete in die ruimte geplaas, voëls in die lug, visse en ander skepsels in die see, en diere en mense op die droë land.  Hy het die mens laaste geskep, omdat Hy eers sy habitat perfek gereed wou maak.
  2. God het alles volgens sy soort gemaak:  vrugtebome, plante, seediere, voëls, mak diere, en wilde diere (Genesis 1:11-12, 21-22, 24-25).  Maar die mens is na Gód se beeld en gelykenis gemaak (Genesis 1:26-27).  Daar kon nie evolusie van een soort dier na ‘n ander gewees het nie.  DNA bewys dit.  Gestel ‘n hond met lang hare en een met kort hare het kleintjies.  Party kleintjies sal kort hare hê, ander lang hare, en nog ander medium lengte hare.  As die honde op ‘n baie koue plek bly, sal die honde met kort hare vrek.  Die honde met medium en lang hare sal oorleef.  As hulle vir ‘n lang tyd daar bly, sal die geen vir lang hare oorheersend wees.  Jy sal nie meer kort haar honde hê nie.  Die nodige inligting (gene) vir kort hare het verlore gegaan.  Inligting kan verlore gaan.  Maar jy kan nooit inligting in die DNA byvoeg nie.  Honde is honde en visse is visse (‘volgens hulle soorte’).  Visse word nooit honde nie.  Evolusie van een soort na ‘n ander is onmoontlik.  En omdat net die mens na God se beeld en gelykenis gemaak is, kan ‘n aap-soortige dier nooit in ‘n mens verander nie.  Evolusie is ‘n feëverhaal vir kinders.
  3. Die verskeidenheid van skepsels is ‘n toonbeeld van God se veelkleurige wysheid.  Daar is diere met strepe en kolle, lang nekke en slurpe, hoewe en sagte pote, skubbe en pelse.  Die kleure en ontwerp van God se skepsels is verstommend.  Daar is groot sterrestelsels en mikroskopiese elektrone.  Swaeltjies het ‘n beter navigasie sisteem as enige GPS in die winkel.  Die jagmetode van humpback (boggelrug?) walvisse en swart reiers is briljant.  Die krag van God se skepsels laat die sterkste man lyk soos ‘n donsveer in die wind.  “Hoe talryk is u werke, o HERE!  U het hulle almal met wysheid gemaak; die aarde is vol van u skepsele!  Daar is die see, groot en alkante toe wyd—daar is ‘n gewemel sonder getal, klein diere saam met grotes.” (Psalm 104:24-25).

 

Moenie verby die skepping lewe nie.  Let op God se werke en prys Hom vir sy wysheid.  En moenie bang wees om Genesis 1 vir ander te leer nie.  Staan teen evolusie, want dit betwyfel God se veelkleurige wysheid.

 

As iemand wat na God se beeld gemaak is, moet jy sy wysheid weerspieël in:

  • Jou kreatiwiteit; die manier waarop jy kos voorberei, ‘n brug ontwerp, ‘n koffietafel maak.
  • Jou logiese denke en redenasie.  Gedagtes wat georden is sê dat ‘n wyse God jou gemaak het.
  • Jou besluite.  Neem wyse besluite – nie net goeie besluite nie, maar die beste.
  • Jou werk.  Een van my kinders se kamer was onnet.  Ek het die kind voor die blombedding laat staan:

 

Ek:  “Sien jy die dag lelies?

 

Kind:  Ja.

 

Ek:  Watse kleur is hulle?

 

Kind:  Geel.

 

Ek:  Hoeveel blare het die blom?

 

Kind:  Ses.

 

Ek:  Hoeveel dun blare met skerp punte is daar?

 

Kind:  Drie.

 

Ek:  En hoeveel breë blare met geriffelde kante?

 

Kind:  Drie.

 

Ek:  Watse kleur is die breë blare?

 

Kind:  Ligte geel aan die binnekant en donker geel aan die buite kant.

Ek:  En die dun blare?

 

Kind:  Donker geel aan die binnekant en ligte geel aan die buitekant.

Ek:  Is God se werk ordelik en netjies?

 

Kind:  Ja.

 

Ek:  Is jy na sy beeld gemaak?

 

Kind:  Ja.

 

Ek:  Hoe moet jou kamer dan lyk?

 

Kind:  Ordelik en netjies.

 

Sorg dat die ordelikheid en netheid van jou werk God se wysheid weerkaats.  En as jy wysheid nodig het, vra vir God (Jakobus 1:5).  Deursoek sy Woord en jy sal wys word (Psalm 19:8).

 

Veelkleurige wysheid in voorsienigheid

In 2008 het my suster radikaal tot bekering gekom deur John Bunyan se Pilgrim’s Progress.  Hoekom het Bunyan die boek geskryf?  Want hy was in die tronk en kon nie preek nie – toe skryf hy maar.  Hoekom was hy in die tronk?  Want hy het die evangelie verkondig.  Hoekom het hy dit gedoen?  Want hy was lief vir die Here en wou sy Woord met ander deel.  Hoekom?  Want hy was ‘n Christen.  Hoe het hy ‘n Christen geword?  Hy het Martin Luther se Galasiërs-kommentaar gelees.  Hoekom het Luther ‘n kommentaar oor Galasiërs geskryf?  Want daar is so ‘n boek in die Bybel, geskryf deur die apostel Paulus.  Hoekom het Paulus Galasiërs geskryf?  Want daar was Christene in die Galasië provinsie:  hulle het goeie lering nodig gehad om teen valsheid te staan.  Hoe het die Galasiërs Christene geword?  Paulus was siek en kon nie verder reis nie.  Terwyl hy gewag het om gesond te word, het hy die evangelie vir hierdie mense gepreek (sien Galasiërs 4:13).  Dus kan ons sê my suster het tot bekering gekom, want Paulus het siek geword.  God is wys.

 

God se wysheid vlug nie van moeilikheid nie, maar werk in en deur dit.  Die eindste Nyl waarin Farao die Hebreërs se baba seuntjies verdrink het, is die plek waar God vir Moses gered en bewaar het.  Die leser van Eksodus 2:1-10 wil die grensende baba Moses se mond toestop, sodat Farao se dogter hom nie vind nie.  Maar God hits hom aan om te huil, sodat die prinses hom moet jammer kry.  Moses se ma word betaal om haar eie kind groot te maak!  Die ouers het probeer om Moses sover as moontlik van Faroa af weg te hou.  Maar God het gesorg dat hy onder Farao se neus grootword.  En dít het Hy gedoen om sy volk uit Egiptiese slawerny te bevry; die volk uit wie die Messias moes kom.

 

God is wys en werk die slegste omstandighede tot jou voordeel:  “Want júlle het wel kwaad teen my bedink, maar God het dit ten goede gedink om te doen soos dit vandag is, om ‘n groot volk in die lewe te hou.” (Genesis 50:20).  “En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.” (Romeine 8:28).  Die klein dinge wat verkeerd loop in jou lewe, word dikwels deur die Here gebruik as keerpunte in die geskiedenis.  Dink maar aan Josef wat as ‘n slaaf verkoop is na Egipte.  Die Here het hom vooruit gestuur om die uitverkore volk aan die lewe te hou (lees maar gerus weer Genesis 37-50).  Calvyn het beplan om Strasbourg toe te gaan, maar daar was ‘n oorlog op die pad wat hy moes reis.  Hy neem toe ‘n ompad deur Geneva.  En daar het die Here hom gehou om te preek, kommentare en boeke te skryf, en ‘n hele kontinent te beïnvloed.  ‘n Paar jaar gelede het Time gesê dat Calvinisme een van die top tien invloede in 21ste eeu Amerika is.  Moenie kla oor die weer, jou omstandighede, jou salaris, of jou huweliksmaat nie.  As jy dit doen of iets anders begeer, dan sê jy God is onwys en kon beter gedoen het.  Moenie twyfel of kla wanneer dit lyk of dinge skeefloop nie.  Loof die Here en dank Hom vir sy veelkleurige wysheid.

 

Veelkleurige wysheid in verlossing

In die 1700’s het Engeland se wysheid gefaal.  Die regering was raadop oor die morele verval en misdaad.  Hulle het dinge probeer regstel deur die doodstraf vir 126 verskillende misdade op te lê.  Hulle het skole gestig om vir die mense maniere te leer.  Niks het gewerk nie.  En toe het die alwyse God Engeland omgekeer deur ‘n eenvoudige metode en boodskap.

 

  1. God gebruik nie wonderwerke, filosofie, of apologie om mense van die waarheid te oortuig nie.  Hy gebruik prediking (sien 1 Korintiërs 1:18-2:5).  Jesus sê:  “As [mense] na Moses en die Profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan.” (Lukas 16:31).
  2. God red sondaars deur geloof in die evangelie van ‘n arm Man wat die doodstraf (‘n haatlike kruisdood) gekry het:  “maar ons verkondig Christus wat gekruisig is, ‘n struikelblok vir die Jode en dwaasheid vir die Grieke…want ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde.” (1 Korintiërs 1:23, 2:2).
  3. God kies en red arm en eenvoudige mense, sodat niemand in homself mag roem en sê nie:  “God het my gekies en gered omdat ek spesiaal en talentvol is.”  Jesus het gesê:  “In dieselfde uur het Jesus Hom in die gees verheug en gesê:  Ek loof U, Vader, Here van die hemel en die aarde, dat U hierdie dinge verberg het vir wyse en verstandige mense en dit aan kindertjies geopenbaar het.  Ja, Vader, want so was dit u welbehae.  Alles is aan My oorgegee deur my Vader; en niemand weet wie die Seun is nie, behalwe die Vader, en wie die Vader is nie, behalwe die Seun en hy aan wie die Seun dit wil openbaar.” (Lukas 10:21-22).  “Want let op julle roeping, broeders:  julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie.  Maar deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing.  Daarom, soos geskrywe is: Die wat roem, moet in die Here roem.” (1 Korintiërs 1:26-31).

 

Moenie skop en kla teen die uitverkiesingsleer en sê God is onregverdig of onwys nie.  Aanbid God eerder daarvoor.  Na ‘n lang lering oor God se uitverkiesing (Romeine 9-11), sluit Paulus af met hierdie lied:  “O Diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God!  Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë!  Want wie het die gedagte van die Here geken, of wie was sy raadsman gewees?  Of wie het eers iets aan Hom gegee, dat dit hom vergeld moet word?  Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid.  Amen.” (Romeine 11:33-36).  Die uitverkiesingsleer bestaan nie sodat jy God moet bevraagteken nie.  Dit is in die Bybel, sodat jy in self-vernedering en aanbidding voor Hom sal neerbuig.  Vertrou Gód se wysheid en nie jou eie nie.

 

In reaksie op God se gekose metode (prediking), wil Hy hê dat predikante hulself daaraan sal wy.  Moenie dink jy sal mense oortuig deur apologie of debat nie.  In ons kerke mag musiek, jeugbediening, besoeke, en berading nie die sentrale plek inneem nie.  Evangeliese en Bybelse prediking moet sentraal wees.  Die Woord van God sê:  “maar ons sal volhard in die gebed en die bediening van die woord.” (Handelinge 6:4).  “Totdat ek kom, moet jy aanhou met voorlesing, vermaning en lering.  Verwaarloos nie die genadegawe wat in jou is nie, wat jou gegee is deur die profesie met die handoplegging van die ouderlinge.  Wees vlytig in hierdie dinge, leef daarin, sodat jou vooruitgang vir almal duidelik kan wees.” (1 Timoteus 4:13-15).  “verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering” (2 Timoteus 4:2).

 

Sielkunde kan nie mense se harte verander nie.  Politiese aksie, opvoeding, en seminare kan nie.  Net Jesus deur sy evangelie kan.  Hý is immers die wysheid van God (1 Korintiërs 1:24).  Alle skatte van kennis en wysheid is verborge in Hóm (Kolossense 2:3).  Hý is die veelkleurige Wysheid deur Wie God die wêreld geskep het; die Een wat wyser is as Salomo (Spreuke 8:22-31, Matteus 12:42).  Verkondig en roem in Hom as die gekruisigde (sien Galasiërs 6:14).

 

“Aan die Koning van die eeue, die onverderflike, onsienlike, alleenwyse

God, kom toe die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid.  Amen.”

 

–1 Timoteus 1:17–

Hulp vir drank en dwelmslawe

Drugs and alcohol

20:1 Die wyn is ‘n spotter, en sterk drank ‘n lawaaimaker; en elkeen wat daardeur bedwelmd raak, is nie wys nie… 21:17 Wie van vrolikheid hou, is ‘n man van gebrek; hy wat van wyn en olie hou, sal nie ryk word nie…23:19 Hoor, my seun, en word wys, en rig jou hart reguit op die weg.  23:20 Wees nie onder die wynsuipers nie, onder die wat as vrate hulle hart ophaal. 23:21 Want ‘n drinker en ‘n vraat sal arm word, en slaperigheid laat stukkende klere dra…23:29 By wie is ‘Ag!’; by wie is ‘Wee my!’; by wie is getwis; by wie is geklaag; by wie is wonde sonder oorsaak; by wie is dofheid van oë?  23:30 By die wat láát opbly by die wyn, by die wat ingaan om gemengde drank te proe.  23:31 Kyk nie na die wyn as dit rooiagtig lyk, as dit sy glans gee in die beker, glad na binne gly nie: 23:32 op die end byt dit soos ‘n slang en spuug gif uit soos ‘n basilisk.  23:33 Jou oë sal vreemde dinge sien en jou hart verkeerde dinge spreek; 23:34 en jy sal wees soos een wat in die hart van die see lê en soos een wat op die top van die mas lê. 23:35 Hulle het my geslaan, sê jy dan, ek het geen pyn gevoel nie; hulle het my neergeslaan, ek het dit nie gemerk nie!  23:36 Wanneer sal ek wakker word?  Dan sal ek dit weer opnuut soek…31:1 Die woorde van Lémuël, die koning van Massa, waarmee sy moeder hom vermaan het…31:4 Die konings, o Lémuël, die konings moet nie wyn drink nie, en die vorste moet nie sterk drank begeer nie; 31:5 anders drink hy en vergeet die insettinge en verdraai die reg van al die ellendiges.  31:6 Gee sterk drank aan hom wat wil ondergaan, en wyn aan die wat bitter bedroef is.  31:7 Laat hy drink en sy armoede vergeet en aan sy moeite nie meer dink nie.” (Spreuke).

Die oorsake van die probleem

Baie mense se oplossing vir drank en dwelms is soos iemand wat Peaceful Sleep spuit vir muskiete, maar nie die nes uitroei nie.  Die Bybel wil die oorsaak van die probleem uitroei en nie maar net die simptome behandel nie.  Hier is dan ‘n paar oorsake van die probleem:

  1. ‘n Gebrek aan wysheid (20:1).
  2. Hedonisme:  die soeke na plesier (21:17).  Hierdie is die tipe persoon wat van een nagklub of partytjie na die volgende gaan.
  3. ‘n Vuil hart; ‘n hart wat nie op die regte pad is nie (23:19).  Volgens Jesus kom alle sonde uit ons slegte harte uit (Markus 7:21-23).
  4. Slegte vriende (23:20).
  5. Ledigheid (23:30a).  ‘n Mens kry die idee van iemand wat die hele dag in die kroeg deurbring.  “Wee hulle wat vroeg in die môre klaarmaak om sterk drank na te jaag, wat in die nag láát opbly terwyl die wyn hulle verhit.” (Jesaja 5:11).
  6. Nuuskierigheid.  Op ‘n kort video het ek gesien hoe ‘n jong man vir ‘n 12-jarige seun dwelms gee om te rook.  Toe die seun dit neem het al die jong manne hom geluk gewens.  “Hou op om my geluk te wens,” het hy gesê, “ek probeer dit net hierdie een keer.”  Almal het vir hom gelag.  Hulle het geweet dat dié wat hierdie dwelm een keer gebruik, dadelik verslaaf sou wees.  Moenie dink jy wil dit net een keer proe nie (23:30b).  Jy mag dalk net vasgevang word in die strik.
  7. Party mense drink, omdat hulle van hul sorge of armoede wil vergeet:  “Gee sterk drank aan hom wat wil ondergaan, en wyn aan die wat bitter bedroef is.  Laat hy drink en sy armoede vergeet en aan sy moeite nie meer dink nie.” (31:6-7).  Sommige mense wat deur moeilike tye gaan bedwelm hulleself om te kalmeer, die pyn verlig, warm te slaap, of beter te voel.

Die gevolge van die probleem

  1. Iemand wat dronk is lyk sotlik en tree so op.  Dit is nie net dat hy met ander spot nie, maar dis asof die wyn met hom spot (20:1).  Hy slinger rond en tree op soos ‘n idoot.
  2. Bakleiery.  Party veg met die vuis en slaan hulle vroue.  Ander baklei met woorde.  In 20:1 verwys ‘lawaaimaker’ presies hierna, en volgens 23:29 is ‘n bedwelmde persoon twisgierig.  Geen wonder dat hy wonde sonder oorsaak het nie.
  3. ‘n Gebrek aan selfbeheersing.  Iemand wat dronk is of dwelms gebruik strompel, raak hoog, of sukkel om te bestuur.  Die middel lei hom (20:1).  Hier is hoe jy kan weet of jy te veel gedrink het:  Is jy jouself?  Is jy snaakser of meer aggressief as gewoonlik?  Sing jy nonsens?  Voel jy meer ontspanne as gewoonlik?
  4. Jy het geen skaamte nie, maar sal ‘n groot geraas maak (20:1).  Of jy sal jou naakte ontbloot:  “Maar toe hy van die wyn gedrink het, het hy dronk geword en naak in sy tent gelê.” (Genesis 9:21).
  5. Armoede:  “hy wat van wyn en olie hou, sal nie ryk word nie…Want ‘n drinker en ‘n vraat sal arm word, en slaperigheid laat stukkende klere dra.” (21:17, 23:21).  Drank en dwelms is nie goedkoop nie.  Ek weet van iemand wat R1000 per dag aan dwelms spandeer het.  Daar is mense wat eerder hulle verdowingsmiddels sal koop as om kos en klere te koop; as om hulle huur te betaal.  Wanneer hulle besope is slaap hulle te veel.  Gevolglik werk hulle nie en het hulle ook nie geld om kos te koop nie.  Natuurlik is daar mense wat baie drink of dwelms gebruik, maar nogsteeds ryk is.  Maar uiteindelik sal hulle vir ewig arm wees in die hel (Lukas 16:19-31).
  6. In 23:29 praat Salomo van “Wee!”  Oordeel, moles, ondergang, die hel.  “Wee hulle wat helde is om wyn te drink en wakker manne om sterk drank te meng” (Jesaja 5:22).  Die Nuwe Testament lys “dronkenskap” as ‘n werk van die vlees en sê “dat die wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërwe nie.” (Galasiërs 5:21).
  7. Hartseer.  Dit is wat met “Ag!” bedoel word (23:29).  ‘n Man wat ek ken het alles verloor en op straat beland as gevolg van sy verslawing aan drank.  ‘n Ander se huwelik is daarmee heen deur dwelms.  Hulle het hierdie hartseer oor hulleself gebring.
  8. Siekte en pyn.  Die persone het dowwe of rooi oë, en voel babbalas of naar:  “…by wie is wonde sonder oorsaak; by wie is dofheid van oë?…op die end byt dit soos ‘n slang en spuug gif uit soos ‘n basilisk…en jy sal wees soos een wat in die hart van die see lê en soos een wat op die top van die mas lê.  Hulle het my geslaan, sê jy dan, ek het geen pyn gevoel nie; hulle het my neergeslaan, ek het dit nie gemerk nie! (23:29, 32, 34-35).  Hierdie verse herinner my aan iets wat met my beste vriend gebeur het.  ‘n Nagadder het hom gepik.  ‘n Tyd vroeër het hy sy vinger met ‘n haelgeweer afgeskiet.  Hy sê dat die slangbyt baie erger was as die geweerskoot.  En dít is wat uiteindelik met die verslaafde sal gebeur:  die middel sal soos slanggif in sy liggaam wees.  Hy sal wees soos iemand wat seesiek word.  Hy sal by tye so naar word dat hy wens hy gaan dood.  Maar omdat hy in sy besopenheid nie enige pyn voel nie, sal hy nóg soek (soos my dogter wat by die tandarts was, geen pyn gevoel het nie, en haar lip stukkend gebyt het.  Toe die gevoel terugkom, het sy baie pyn gehad).  Die dronkaard sal bewus wees van die pyn wanneer die middel uitwerk.  Dan sal hy weet hy is geslaan.  En uiteindelik sal die newe-effekte geweldige pyn veroorsaak
  9. Die dood.  Op ‘n natuurfilm wat ek gesien het, het ‘n kobra ‘n leeuwyfie en haar welpies gepik.  Die welpies is dood en die leeu was vir ‘n week dodelik siek.  Só sal dit wees met iemand wat aan hierdie middele verslaaf is.  My vrou ken iemand wat dood is van drank en ek iemand wat dood is van dwelms.  Vir die verslaafde het dinge goed begin.  Maar dit het sleg geëindig – bitter sleg.
  10. Hallusinasie.  Jy sien dinge wat nie daar is nie.  Jou sintuie bedrieg jou.  “Jou oë sal vreemde dinge sien” (23:33a).
  11. Jy sal dinge sê wat jy berou:  “jou hart verkeerde dinge spreek” (23:33b).  Onder die invloed van sterk medikasie het een vrou verskriklike dinge vir ‘n ander gesê.  En met dwelms en alkohol is dit dieselfde.  Wat ‘n persoon sê wanneer hy dronk of bedwelmd is, wys vir jou wat regtig in sy hart is.
  12. Vergeetagtigheid.  In 23:35 kry ‘n mens die idee dat die dronk persoon nie mooi kan onthou wat gebeur het nie.  In 31:4-5 is dit duidelik dat vergeetagtigheid een van die gevolge van hierdie sonde is:  “Die konings, o Lémuël, die konings moet nie wyn drink nie, en die vorste moet nie sterk drank begeer nie; anders drink hy en vergeet die insettinge en verdraai die reg van al die ellendiges.”  Dronkenskap neem jou verstand weg (sien Hosea 4:11).  Die drank en dwelmslaaf vergeet hoe erg sy probleem eintlik is.  Daarom doen hy dit weer.
  13. Verslawing (23:35-36).  Die persoon word geslaan, maar doen dit weer.  En weer.  En weer.  “Al stamp jy die sot in ‘n stampblok tussen graankorrels met ‘n stamper, sy sotheid sal nie van hom wyk nie.” (27:22).  Die dronkaard kan pap geslaan word.  Tog sal hy terugkeer na sy sotheid, net soos ‘n hond terugkeer na sy eie uitbraaksel (26:11).
  14. Onreg.  ‘n Dronk leier sal omkoop geld vat, of in sy bedwelmde toestand wette verander (31:4-5, Jesaja 28:7).  Verslawing beïnvloed nie net jouself nie, maar ook ander rondom jou.  By ‘n restaurant het ek gehoor hoe ‘n voorskoolse seuntjie vieslike taal gebruik.  Sy ma het omgevlieg:  “Moenie so lelik praat nie!  Waar hoor jy dit?”  “By julle,” het hy geantwoord.  “Dis nie ‘n verskoning nie,” het sy ma gesê.  Moenie so wees wanneer dit by drank en dwelms kom nie.  Stel ‘n voorbeeld.
  15. Berou.  Die koning wat dronk is verander wette (31:4-5).  Wanneer hy tot sy sinne kom, besef hy wat hy gedoen het.  Maar dan is dit te laat.  Iemand wat dronk bestuur en ‘n kind dood ry, beland in die tronk.  Dis amper soos Lot wat dronk was en sy dogters swanger gemaak het (sien Genesis 19).  Moenie onverantwoordelik wees nie.  Spyt kom altyd te laat.

Die oplossing vir die probleem

  1. Moenie tevrede wees met tweede klas plesiere nie (21:17):  “Want my volk het twee verkeerde dinge gedoen:  My, die fontein van lewende water, het hulle verlaat om vir hulle reënbakke uit te kap, gebarste reënbakke wat geen water hou nie.”  Soek ware en blywende plesier:  “maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word ‘n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe.” (Johannes 4:14).  Pasop vir die wêreld wat hedonisme aanmoedig; wat vir jou sê dat die een of die ander ding vreugde vir jou sal bring.  As jy alewig plesier najaag, sal jy uiteindelik ja sê vir die hoogste plesier wat die wêreld jou kan bied:  immorele seks, drank en dwelms.
  2. Wees gehoorsaam uit die hart:  “Hoor, my seun, en word wys, en rig jou hart reguit op die weg.” (23:19).  Toe ek in die laerskool was het my ma my gewaarsku om nie te rook as ek in die hoërskool kom nie.  Ek het nooit gerook nie.  Waarsku jou kinders:  “Die woorde van Lémuël, die koning van Massa, waarmee sy moeder hom vermaan het” (31:1).  As jy weergebore word en jou natuur verander word, sal jy weerstand kan bied.  Dit is immers uit die hart wat ons sondige begeertes en dade kom (4:23).  As jy nuwe begeertes het, sal jou dade ook verander.  Paulus se raad is:  “Moenie dronk word van wyn nie—daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul.” (Efesiërs 5:18).  As die Heilige Gees in jou is sal jy selfbeheersing kan toepas (Galasiërs 5:23).  Hoe kan jy weergebore word?  Deur die Woord van God; die evangelie.  Die evangelie is die goeie nuus dat God helverdiende sondaars vergewe en vir ewig sy kinders maak.  God is heilig en haat jou selfsugtige sonde van drank en dwelmverslawing.  Hy haat die sonde wat jy elke dag in jou woorde, gedagtes, en optrede doen.  Omdat jy in jou hart en uit vrye keuse ‘n sondaar is, verdien jy sy straf.  Hy het jou liefgehad en ‘n plan gemaak om jou te verlos.  In Christus het Hy aarde toe gekom en ‘n mens geword.  Hy het die wet volmaak gehoorsaam in jou plek (Hy het nooit dronk geword nie, alhoewel mense Hom daarvan beskuldig het).  Hy het die straf vir jou sonde op Homself geneem aan die kruis.  Op die derde dag het Hy opgestaan uit die dood.  Hy is gewillig en instaat om almal te red wat deur geloof na Hom toe kom.  As jy met jou hele hart vertrou op Wie Hy is en wat Hy gedoen het, sal jy gered word.  Moenie op jou werke vertrou nie (jou sonde verdoem jou al klaar).  Vertrou op Hom alleen.  Bekeer jou van jou sonde.  Hou op daarmee, haat dit en kry berou daaroor.  Vra dat die Here jou help om dit met ‘n gewillige hart te doen.  Hy sal.  Ouers:  jy het ‘n verantwoordelikheid om dit vir jou kinders te leer, sodat hulle vry kan kom uit die strik van sonde.
  3. Raak ontslae van jou slegte vriende:  “Wees nie onder die wynsuipers nie, onder die wat as vrate hulle hart ophaal.” (23:20).  “Gaan met die wyse om, dan word jy wys; maar hy wat met dwase verkeer, versleg.” (13:20).  “Moenie dwaal nie; slegte gesprekke bederf goeie sedes.” (1 Korintiërs 15:33).  In eenvoudige Afrikaans sê die laasgenoemde vers:  Jy flous jouself as jy dink dat jý die uitsondering op die reël is; dat jý slegte vriende kan hê en nie beïnvloed sal word nie.  Jy sal.  Die goeie waardes wat jou ouers jou geleer het sal daarmee heen wees.
  4. Verwyder jouself van die versoeking.  Moenie soos Eva kyk hoe mooi die vrug is, en dink jy kan die versoeking weerstaan nie.  Moenie soos Mowgli van The Jungle Book in Ka (die slang) se oë kyk nie; jy sal gehipnotiseer word.  Salomo sê:  “Kyk nie na die wyn as dit rooiagtig lyk, as dit sy glans gee in die beker, glad na binne gly nie” (23:31).  My vriend het ‘n dronkaard gehelp om R4000 se drank in die bad uit te gooi.  Moenie eers verby die drankwinkel ry of na die dwelmmiddel kyk nie.  As jy sê:  “Ek sal net een slukkie neem”, mag dit te laat wees.  Die Skrif sê:  “Laat ons welvoeglik wandel soos in die dag, nie in brassery en dronkenskap, nie in ontug en ongebondenheid, nie in twis en nydigheid nie.  Maar beklee julle met die Here Jesus Christus, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie.” (Romeine 13:13-14).  In John Owen se bekende woorde:  “Vernietig sonde of dit sal jou vernietig.”  Jesus het gekom om verslaafdes vry te maak; om die mag van die sterkste sonde te breek:  “En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak…Jesus antwoord hulle:  Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle dat elkeen wat die sonde doen, ‘n dienskneg van die sonde is…As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees.” (Johannes 8:32, 34, 36).  “Vir hierdie doel het die Seun van God verskyn, om die werke van die duiwel te verbreek.” (1 Johannes 3:8).

Hoe moet jy bid as God…

Heart on fire

17 Hoe kosbaar is dan vir my u gedagtes, o God!  Hoe geweldig is hulle volle som nie!  18 Wil ek hulle tel, hulle is meer as die sand; word ek wakker, dan is ek nog by U. 19 o God, as U tog maar die goddelose wou ombring!  En julle manne van bloed, gaan van my af weg!  20 Hulle wat arglistig teen U spreek, u Naam ydellik verhef—u teëstanders!  21 HERE, sou ek dié nie haat wat vir U haat, en ‘n afsku hê van die wat teen U opstaan nie?  22 Ek haat hulle met ‘n volkome haat; vyande is hulle vir my!  23 Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; 24 en kyk of daar by my ‘n weg is van smart, en lei my op die ewige weg!” (Psalm 139:17-22).

 

Oneindig is? (verse 17-18)

Charles Spurgeon het vertel van Alepius (ek praat onder korreksie – ek het dit êrens raakgelees, maar kon nie die bron opspoor nie en Google kon my nie help nie) wat die Drie-Eenheid aan sy gemeente wou verduidelik.  Daardie week het hy gedink en studeer.  Hy het langs die strand gaan loop en gesien hoe ‘n seuntjie met ‘n lepel seewater skep in ‘n gat wat hy in die sand gemaak het.  “Wat doen jy?” het Alepius gevra.  “Ek gaan die hele oseaan met die lepel in daardie gat skep,” het die seuntjie geantwoord.  “Dis onmoontlik,” het Alepius gesê.  “Wel, ek staan ‘n groter kans as jy wat komende Sondag vir ons die Drie-Eenheid wil verduidelik.”

 

God se gedagtes is moeilik, skaars, meer in getal as die sand van die see, oneindig, geweldig, waardevol, en magtig.  Dawid sê:  “Hoe kosbaar is dan vir my u gedagtes, o God!  Hoe geweldig is hulle volle som nie!  Wil ek hulle tel, hulle is meer as die sand; word ek wakker, dan is ek nog by U.” (v.17-18).  In Psalm 40:6 sê hy:  “Groot dinge het U gedoen, HERE my God—u wonders en gedagtes vir ons; niemand kan met U vergelyk word nie.  Wil ek dit verkondig en uitspreek, dan is dit te veel om te vertel.”  Psalm 92:6 sê:  “Hoe groot is u werke, o HERE; baie diep is u gedagtes!”  En 147:4-5:  “Hy bepaal die getal van die sterre; Hy gee hulle almal name.  Onse Here is groot en ryk aan krag; sy verstand is oneindig.”  Oor Jesus se werke sê Johannes 21:25:  “En daar is nog baie ander dinge wat Jesus alles gedoen het; maar as hulle een vir een beskrywe moes word, sou die wêreld self, dink ek, die geskrewe boeke nie bevat nie.”

 

God se werke en gedagtes is kosbaar in kwaliteit en kwantiteit; in diepte en in breedte.  Vir Dawid is God se kosbare gedagtes die eerste en laaste ding waaraan hy in die dag dink:  “Wil ek hulle tel, hulle is meer as die sand (asof hy aan die slaap raak as hy dit probeer tel); word ek wakker, dan is ek nog by U.” (v.18).  Ook wanneer hy die slaap van die dood slaap, word hy wakker by die Here (v.18, vgl. 17:15).  Net soos Dawid in v.18, verstaan Paulus dat die dood ons na Christus toe neem, en dat dit ons nie van Hom kan skei nie:  “Want vir my is die lewe Christus en die sterwe wins…Want ek word van weerskante gedring:  ek het verlange om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste… Want ek is versekerd dat geen dood…ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.” (Filippense 1:21, 23, Romeine 8:38-39).  Daar bestaan nie iets soos sieleslaap nie.  Stuart Olyott vertel hoe hy dood neergeslaan het by die etenstafel.  Natuurlik was hy nie dood nie, want hy kon die storie vir ander vertel.  Maar almal het gedink hy is dood.  ‘n Paar nuuskierige mense het gevra wat hy ervaar het.  “Niks nie,” was sy antwoord, “en dit is hoe ek weet ek was nie dood nie, want as jy dood is verloor jy nie jou bewussyn nie; jy is dadelik by die Here.”  Dít is Dawid se punt in v.18:  as jy doodgaan word jy dadelik wakker by die Here. 

 

Dink soos Dawid:  diep gedagtes oor God.  Moenie plek maak vir sondige, verwarrende, twyfelagtige, kwaai, haatlike, wellustige, angstige, hoogmoedige gedagtes nie.  As God oneindig is moet jy Hom loof vir sy kosbare gedagtes.  Memoriseer, oordink, en bestudeer die gedagtes van sy karakter soos geopenbaar in die Skrif.

 

Heilig is? (verse 19-22)

Martin Luther het ‘n vurige passie gehad om die kerk te hervorm en korrupte strukture op hulle kop te keer.  Disederius Erasmus wou met ‘n verdraagsame louheid die bestaande strukture suiwer.  Die verskil tussen hierdie twee manne was duidelik.  Dawid sou Luther se passie gedeel het en Erasmus s’n verag het.

 

Dawid het ‘n passievolle haat gehad vir alles en almal wat teen God se karakter was, en daarteen gebid.  Hy het nie self wraak geneem nie, maar gevra dat Gód sou:  “O God, as U tog maar die goddelose wou ombring!  En julle manne van bloed, gaan van my af weg!” (v.19).  Hy het presies gedoen wat Romeine 12:19 leer:  “Moenie julle wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die toorn; want daar is geskrywe:  Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here.”  Sy begeerte was reg.  Hy het gevra dat dié wat moord pleeg (v.19b) regverdig vergeld moes word met die doodstraf (v.19a).  Dawid was die koning en kon dus God se wraak uitvoer op dié wat die wet oortree het.  Sy vyande het God se Naam gelaster, en as koning het hy geweet die wet vereis dat hulle gestenig moes word (sien Levitikus 24:10-16):  “Hulle wat arglistig teen U spreek, u Naam ydellik verhef—u teëstanders!” (v.20).  “Jy mag die Naam van die HERE jou God nie ydellik gebruik nie, want die HERE sal die een wat sy Naam ydellik gebruik, nie ongestraf laat bly nie.” (Eksodus 20:7).  In die Nuwe Testament lees ons dat God sulke mense sal oordeel:  “om gerig te hou oor almal en al die goddelose mense onder hulle te straf oor al hulle goddelose werke wat hulle goddelooslik gedoen het, en oor al die harde woorde wat die goddelose sondaars teen Hom gespreek het.” (Judas 15).  Dawid vra dat God sulke mense voor hom wegneem (v.19).  En Jesus sal op die oordeelsdag dieselfde sê:  “Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!” (Matteus 7:23).

 

“Maar sê die Nuwe Testament nie jy moet jou vyande liefhê nie?”, wonder iemand.  “Ja, en nogal radikaal ook,” antwoord iemand anders terwyl hy by Lukas 6:27-36 oopmaak.  ‘n Meisie in my jeuggroep was geskok toe die predikant vurig van die kansel af sê:  “Ek haat Rooms-Katolisisme.”  Ek het gehoor hoe ‘n prediker sê:  “Ek haat vals leraars.”  Óns sou eerder wou sê:  “Wees lief vir die vals leraar, maar haat sy valsheid.  Wees lief vir jou vyande, maar haat hulle vyandskap.”  Dit is nie wat Dawid gedoen het nie.  Hy het sy vyande gehaat en teen hulle gebid:  “HERE, sou ek dié nie haat wat vir U haat, en ‘n afsku hê van die wat teen U opstaan nie?  Ek haat hulle met ‘n volkome haat; vyande is hulle vir my!” (v.21-22).  God self sê dat Hy sy vyande haat:  “U haat al die werkers van ongeregtigheid…Moet ‘n mens die goddelose help, en het u lief die wat die HERE haat?” (Psalm 5:5, 2 Kronieke 19:2).  Jesus sal die goddelose hel toe stuur (Matteus 25:41).  Sekerlik sou Hy dit nie doen as Hy nét liefde gevoel het vir hulle nie?

 

Hoe verduidelik ‘n mens hierdie dinge?  Ons weet dat Dawid sý vyande liefgehad het.  Hy het nooit sy hand teen Saul opgetel nie, en het getreur toe hy dood is.  Soos Saul, wou Dawid se seun Absolom hom doodgemaak het.  Dawid het bitterlik gehuil toe Absolom dood is.  Simei het vir Dawid gevloek.  Dawid het hom nie teruggekry nie, maar vergewe.  Dan is dit nie sy eie vyande wat hy haat nie.  Volgens v.21-22 haat Dawid God se vyande en beskou hy hulle as sy eie.  Dawid se Here het dieselfde gedoen toe Hy op aarde was.  Toe mense teen Hom opgestaan het, het Hy nie terugbaklei nie, maar vergewe (Lukas 23:34, 1 Petrus 2:23).  Maar toe mense sy Vader se eer aangetas het, het Jesus met ywer gegloei en hulle met ‘n sweep uit die tempel uitgedryf (Johannes 2:15-17).  Dawid het ‘n vurige ywer vir die Here en sy Naam gehad; dit is nie dieselfde as kwaadwillige vergelding nie.

 

Toets jou eie hart.  Wat haat jy meer:  wanneer mense dinge teen jóú of teen Gód sê en doen?  Iemand wat ‘n volkome haat het vir valsheid en God se vyande bewys daardeur dat hy ‘n diep liefde vir Jesus het.  ‘n Verdraagsame aanvaarding van lasteraars wys dat jy geestelik lou en wêreldsgesind is.  Jy mag en moet bid teen God se vyande.  Moenie self wraak neem nie, maar vra dat God dit sal doen.

 

Alwetend is? (verse 23-24)

Dawid het geweet dat die boosheid nie net buite hom is nie (v.19-22), maar ook binne-in hom (v.23-24).  Daarom vra hy dat God sy hart en motiewe moet deursoek:  het hy regtig uit liefde vir God teen die vyande gebid, of was dit uit persoonlike bitterheid (v.19-22)?  Hy vra dat die Here hom moet deursoek, toets, en reghelp:  “Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my ‘n weg is van smart, en lei my op die ewige weg!” (v.23-24).

 

God ken jou beter as wat jy jouself ken (v.23-24).  Jeremia sê:  “Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?  Ek, die HERE, deursoek die hart, toets die niere, om aan elkeen te gee na sy weë, volgens die vrug van sy handelinge.” (Jeremia 17:9-10).  God ken jou angstige gedagtes (dit is letterlik van v.24a beteken).  ‘n Ander Psalm sê:  “As my gedagtes binne-in my vermenigvuldig, dan verkwik u vertroostinge my siel.” (Psalm 94:19).  Die Here gebruik moeilike omstandighede (soos vyande teen ons) om ons harte te toets:  “Die smeltkroes is vir die silwer en die oond vir die goud, maar die HERE toets die harte.” (Spreuke 17:3).  Wanneer kosbare metale getoets word, word die onsuiwerhede sigbaar.  En wanneer die Here jou toets, word die sondes wat jóú belas en die Heilige Gees bedroef (v.24, die weg van smart) sigbaar.  Vra dat God jou op die ewige weg sal lei.  Hierdie is die weg wat jou hart sal verbly; die ewige weg wat na die hemel toe lei (v.24).  Hierdie ewige weg staan in direkte kontras met die weg van sondaars in Psalm 1:6:  “die weg van die goddelose sal vergaan.”  Die gelowiges se weg word as volg beskryf in Jeremia 6:16:  “So spreek die HERE:  Staan op die weë, en kyk en vra na die ou paaie, waar tog die goeie weg is, en wandel daarin; en julle sal rus vind vir julle siel.”  Uit die Nuwe Testament weet ons dat Jesus hierdie Ewige Weg is waarin ons moet wandel (Johannes 14:6).  Maak Dawid se gebed jou eie:

 

“Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my ‘n weg is van smart, en lei my op die ewige weg!” (v.23-24).