Hoe moet jy bid as God…

Heart on fire

17 Hoe kosbaar is dan vir my u gedagtes, o God!  Hoe geweldig is hulle volle som nie!  18 Wil ek hulle tel, hulle is meer as die sand; word ek wakker, dan is ek nog by U. 19 o God, as U tog maar die goddelose wou ombring!  En julle manne van bloed, gaan van my af weg!  20 Hulle wat arglistig teen U spreek, u Naam ydellik verhef—u teëstanders!  21 HERE, sou ek dié nie haat wat vir U haat, en ‘n afsku hê van die wat teen U opstaan nie?  22 Ek haat hulle met ‘n volkome haat; vyande is hulle vir my!  23 Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; 24 en kyk of daar by my ‘n weg is van smart, en lei my op die ewige weg!” (Psalm 139:17-22).

 

Oneindig is? (verse 17-18)

Charles Spurgeon het vertel van Alepius (ek praat onder korreksie – ek het dit êrens raakgelees, maar kon nie die bron opspoor nie en Google kon my nie help nie) wat die Drie-Eenheid aan sy gemeente wou verduidelik.  Daardie week het hy gedink en studeer.  Hy het langs die strand gaan loop en gesien hoe ‘n seuntjie met ‘n lepel seewater skep in ‘n gat wat hy in die sand gemaak het.  “Wat doen jy?” het Alepius gevra.  “Ek gaan die hele oseaan met die lepel in daardie gat skep,” het die seuntjie geantwoord.  “Dis onmoontlik,” het Alepius gesê.  “Wel, ek staan ‘n groter kans as jy wat komende Sondag vir ons die Drie-Eenheid wil verduidelik.”

 

God se gedagtes is moeilik, skaars, meer in getal as die sand van die see, oneindig, geweldig, waardevol, en magtig.  Dawid sê:  “Hoe kosbaar is dan vir my u gedagtes, o God!  Hoe geweldig is hulle volle som nie!  Wil ek hulle tel, hulle is meer as die sand; word ek wakker, dan is ek nog by U.” (v.17-18).  In Psalm 40:6 sê hy:  “Groot dinge het U gedoen, HERE my God—u wonders en gedagtes vir ons; niemand kan met U vergelyk word nie.  Wil ek dit verkondig en uitspreek, dan is dit te veel om te vertel.”  Psalm 92:6 sê:  “Hoe groot is u werke, o HERE; baie diep is u gedagtes!”  En 147:4-5:  “Hy bepaal die getal van die sterre; Hy gee hulle almal name.  Onse Here is groot en ryk aan krag; sy verstand is oneindig.”  Oor Jesus se werke sê Johannes 21:25:  “En daar is nog baie ander dinge wat Jesus alles gedoen het; maar as hulle een vir een beskrywe moes word, sou die wêreld self, dink ek, die geskrewe boeke nie bevat nie.”

 

God se werke en gedagtes is kosbaar in kwaliteit en kwantiteit; in diepte en in breedte.  Vir Dawid is God se kosbare gedagtes die eerste en laaste ding waaraan hy in die dag dink:  “Wil ek hulle tel, hulle is meer as die sand (asof hy aan die slaap raak as hy dit probeer tel); word ek wakker, dan is ek nog by U.” (v.18).  Ook wanneer hy die slaap van die dood slaap, word hy wakker by die Here (v.18, vgl. 17:15).  Net soos Dawid in v.18, verstaan Paulus dat die dood ons na Christus toe neem, en dat dit ons nie van Hom kan skei nie:  “Want vir my is die lewe Christus en die sterwe wins…Want ek word van weerskante gedring:  ek het verlange om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste… Want ek is versekerd dat geen dood…ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.” (Filippense 1:21, 23, Romeine 8:38-39).  Daar bestaan nie iets soos sieleslaap nie.  Stuart Olyott vertel hoe hy dood neergeslaan het by die etenstafel.  Natuurlik was hy nie dood nie, want hy kon die storie vir ander vertel.  Maar almal het gedink hy is dood.  ‘n Paar nuuskierige mense het gevra wat hy ervaar het.  “Niks nie,” was sy antwoord, “en dit is hoe ek weet ek was nie dood nie, want as jy dood is verloor jy nie jou bewussyn nie; jy is dadelik by die Here.”  Dít is Dawid se punt in v.18:  as jy doodgaan word jy dadelik wakker by die Here. 

 

Dink soos Dawid:  diep gedagtes oor God.  Moenie plek maak vir sondige, verwarrende, twyfelagtige, kwaai, haatlike, wellustige, angstige, hoogmoedige gedagtes nie.  As God oneindig is moet jy Hom loof vir sy kosbare gedagtes.  Memoriseer, oordink, en bestudeer die gedagtes van sy karakter soos geopenbaar in die Skrif.

 

Heilig is? (verse 19-22)

Martin Luther het ‘n vurige passie gehad om die kerk te hervorm en korrupte strukture op hulle kop te keer.  Disederius Erasmus wou met ‘n verdraagsame louheid die bestaande strukture suiwer.  Die verskil tussen hierdie twee manne was duidelik.  Dawid sou Luther se passie gedeel het en Erasmus s’n verag het.

 

Dawid het ‘n passievolle haat gehad vir alles en almal wat teen God se karakter was, en daarteen gebid.  Hy het nie self wraak geneem nie, maar gevra dat Gód sou:  “O God, as U tog maar die goddelose wou ombring!  En julle manne van bloed, gaan van my af weg!” (v.19).  Hy het presies gedoen wat Romeine 12:19 leer:  “Moenie julle wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die toorn; want daar is geskrywe:  Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here.”  Sy begeerte was reg.  Hy het gevra dat dié wat moord pleeg (v.19b) regverdig vergeld moes word met die doodstraf (v.19a).  Dawid was die koning en kon dus God se wraak uitvoer op dié wat die wet oortree het.  Sy vyande het God se Naam gelaster, en as koning het hy geweet die wet vereis dat hulle gestenig moes word (sien Levitikus 24:10-16):  “Hulle wat arglistig teen U spreek, u Naam ydellik verhef—u teëstanders!” (v.20).  “Jy mag die Naam van die HERE jou God nie ydellik gebruik nie, want die HERE sal die een wat sy Naam ydellik gebruik, nie ongestraf laat bly nie.” (Eksodus 20:7).  In die Nuwe Testament lees ons dat God sulke mense sal oordeel:  “om gerig te hou oor almal en al die goddelose mense onder hulle te straf oor al hulle goddelose werke wat hulle goddelooslik gedoen het, en oor al die harde woorde wat die goddelose sondaars teen Hom gespreek het.” (Judas 15).  Dawid vra dat God sulke mense voor hom wegneem (v.19).  En Jesus sal op die oordeelsdag dieselfde sê:  “Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!” (Matteus 7:23).

 

“Maar sê die Nuwe Testament nie jy moet jou vyande liefhê nie?”, wonder iemand.  “Ja, en nogal radikaal ook,” antwoord iemand anders terwyl hy by Lukas 6:27-36 oopmaak.  ‘n Meisie in my jeuggroep was geskok toe die predikant vurig van die kansel af sê:  “Ek haat Rooms-Katolisisme.”  Ek het gehoor hoe ‘n prediker sê:  “Ek haat vals leraars.”  Óns sou eerder wou sê:  “Wees lief vir die vals leraar, maar haat sy valsheid.  Wees lief vir jou vyande, maar haat hulle vyandskap.”  Dit is nie wat Dawid gedoen het nie.  Hy het sy vyande gehaat en teen hulle gebid:  “HERE, sou ek dié nie haat wat vir U haat, en ‘n afsku hê van die wat teen U opstaan nie?  Ek haat hulle met ‘n volkome haat; vyande is hulle vir my!” (v.21-22).  God self sê dat Hy sy vyande haat:  “U haat al die werkers van ongeregtigheid…Moet ‘n mens die goddelose help, en het u lief die wat die HERE haat?” (Psalm 5:5, 2 Kronieke 19:2).  Jesus sal die goddelose hel toe stuur (Matteus 25:41).  Sekerlik sou Hy dit nie doen as Hy nét liefde gevoel het vir hulle nie?

 

Hoe verduidelik ‘n mens hierdie dinge?  Ons weet dat Dawid sý vyande liefgehad het.  Hy het nooit sy hand teen Saul opgetel nie, en het getreur toe hy dood is.  Soos Saul, wou Dawid se seun Absolom hom doodgemaak het.  Dawid het bitterlik gehuil toe Absolom dood is.  Simei het vir Dawid gevloek.  Dawid het hom nie teruggekry nie, maar vergewe.  Dan is dit nie sy eie vyande wat hy haat nie.  Volgens v.21-22 haat Dawid God se vyande en beskou hy hulle as sy eie.  Dawid se Here het dieselfde gedoen toe Hy op aarde was.  Toe mense teen Hom opgestaan het, het Hy nie terugbaklei nie, maar vergewe (Lukas 23:34, 1 Petrus 2:23).  Maar toe mense sy Vader se eer aangetas het, het Jesus met ywer gegloei en hulle met ‘n sweep uit die tempel uitgedryf (Johannes 2:15-17).  Dawid het ‘n vurige ywer vir die Here en sy Naam gehad; dit is nie dieselfde as kwaadwillige vergelding nie.

 

Toets jou eie hart.  Wat haat jy meer:  wanneer mense dinge teen jóú of teen Gód sê en doen?  Iemand wat ‘n volkome haat het vir valsheid en God se vyande bewys daardeur dat hy ‘n diep liefde vir Jesus het.  ‘n Verdraagsame aanvaarding van lasteraars wys dat jy geestelik lou en wêreldsgesind is.  Jy mag en moet bid teen God se vyande.  Moenie self wraak neem nie, maar vra dat God dit sal doen.

 

Alwetend is? (verse 23-24)

Dawid het geweet dat die boosheid nie net buite hom is nie (v.19-22), maar ook binne-in hom (v.23-24).  Daarom vra hy dat God sy hart en motiewe moet deursoek:  het hy regtig uit liefde vir God teen die vyande gebid, of was dit uit persoonlike bitterheid (v.19-22)?  Hy vra dat die Here hom moet deursoek, toets, en reghelp:  “Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my ‘n weg is van smart, en lei my op die ewige weg!” (v.23-24).

 

God ken jou beter as wat jy jouself ken (v.23-24).  Jeremia sê:  “Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?  Ek, die HERE, deursoek die hart, toets die niere, om aan elkeen te gee na sy weë, volgens die vrug van sy handelinge.” (Jeremia 17:9-10).  God ken jou angstige gedagtes (dit is letterlik van v.24a beteken).  ‘n Ander Psalm sê:  “As my gedagtes binne-in my vermenigvuldig, dan verkwik u vertroostinge my siel.” (Psalm 94:19).  Die Here gebruik moeilike omstandighede (soos vyande teen ons) om ons harte te toets:  “Die smeltkroes is vir die silwer en die oond vir die goud, maar die HERE toets die harte.” (Spreuke 17:3).  Wanneer kosbare metale getoets word, word die onsuiwerhede sigbaar.  En wanneer die Here jou toets, word die sondes wat jóú belas en die Heilige Gees bedroef (v.24, die weg van smart) sigbaar.  Vra dat God jou op die ewige weg sal lei.  Hierdie is die weg wat jou hart sal verbly; die ewige weg wat na die hemel toe lei (v.24).  Hierdie ewige weg staan in direkte kontras met die weg van sondaars in Psalm 1:6:  “die weg van die goddelose sal vergaan.”  Die gelowiges se weg word as volg beskryf in Jeremia 6:16:  “So spreek die HERE:  Staan op die weë, en kyk en vra na die ou paaie, waar tog die goeie weg is, en wandel daarin; en julle sal rus vind vir julle siel.”  Uit die Nuwe Testament weet ons dat Jesus hierdie Ewige Weg is waarin ons moet wandel (Johannes 14:6).  Maak Dawid se gebed jou eie:

 

“Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my ‘n weg is van smart, en lei my op die ewige weg!” (v.23-24).

Advertisements