Dink voor jy praat

Think before you speak

13:3 Wie sy mond bewaak, bewaar sy lewe; wie sy lippe wyd oopmaak, vir hom is daar ondergang.  15:23 ‘n Man het blydskap in die regte antwoord van sy mond, en hoe goed is ‘n woord op sy tyd!  15:28 Die hart van die regverdige dink ná om te antwoord, maar die mond van die goddelose laat slegte dinge uitborrel. 17:27 Wie sy woorde inhou, besit kennis; en hy wat kalm is van gees, is ‘n man van verstand. 17:28 Selfs ‘n sot sal as hy swyg, vir wys gereken word; as hy sy lippe toehou, vir verstandig.  18:6 Die lippe van die dwaas kom met getwis, en sy mond roep na slae.  18:7 Die mond van die dwaas is sy ondergang en sy lippe ‘n strik vir sy lewe.  18:20 Van die vrug van iemand se mond word sy maag versadig; hy word versadig van die opbrings van sy lippe.  18:21 Dood en lewe is in die mag van die tong; en elkeen wat dit graag gebruik, sal die vrug daarvan eet.  20:25 Dit is vir die mens ‘n strik dat hy onbedagsaam sê:  Heilig! om dan eers ná die geloftes te oorweeg.  21:23 Hy wat sy mond en sy tong bewaar, bewaar sy siel van benoudhede.  25:11 Goue appels op versierde silwerborde, so is ‘n woord op sy tyd gespreek.  25:15 Deur lankmoedigheid word ‘n vors oorgehaal, en ‘n sagte tong verbreek die gebeente.  26:4 Antwoord ‘n dwaas nie na sy sotheid nie, sodat jy ook nie net soos hy word nie.  26:5 Antwoord ‘n dwaas na sy sotheid, sodat hy nie wys is in sy eie oë nie.  29:20 Het jy ‘n man gesien wat haastig is in sy woorde?  Vir ‘n dwaas is daar meer hoop as vir hom.” (Spreuke).

 

In hierdie verse gee Salomo vier redes hoekom ‘n mens moet dink voordat jy praat.

 

Jy sal jou lewe bewaar

Simei het vir Dawid gevloek.  Dawid het hom nie doodgemaak nie.  Maar Dawid se seun (Salomo) het.  ‘n Dwaas praat te veel en sê verkeerde of dom dinge.  Met sy groot mond versuur hy verhoudings.  Hy oes wat hy met sy lippe gesaai het.  Hy eet die vrug van sy eie woorde en die effek daarvan is te sterk vir sy eie maag (18:20).  Hy trap in die strik wat hy vir ander gestel het – hy is waarlik soos iemand wat homself in ‘n hoek in verf (18:7).  As gevolg van sy sotlike woorde word hy geslaan of verloor hy selfs sy lewe voor die koning:  “Wie sy mond bewaak, bewaar sy lewe; wie sy lippe wyd oopmaak, vir hom is daar ondergang. …Die lippe van die dwaas kom met getwis, en sy mond roep na slae.  Die mond van die dwaas is sy ondergang en sy lippe ‘n strik vir sy lewe. …Dood en lewe is in die mag van die tong; en elkeen wat dit graag gebruik, sal die vrug daarvan eet. …Hy wat sy mond en sy tong bewaar, bewaar sy siel van benoudhede. …Het jy ‘n man gesien wat haastig is in sy woorde?  Vir ‘n dwaas is daar meer hoop as vir hom.”  (13:3, 18:6-7, 21, 21:23, 29:20).  Anders gestel:  “…the tail of a dog gives him bread, and his mouth gets him blows.” (Ahikar in Kidner, Proverbs, p.130).

 

Iemand wat haastig ‘n eed aflê sal God se toorn voel (20:25).  Op voorwaarde dat die Here sy vyande oorwin, het Jefta belowe hy sal die eerste ding wat by sy huis uitkom as ‘n brandoffer vir die Here offer.  Toe hy van die oorlog af terugkeer, het sy enigste dogter eerste by die huis uitgestap om haar pa te verwelkom.  Jefta het sy belofte gehou en sy dogter geoffer.  Wat ‘n dwase eed!  Onder sulke omstandighede kan ‘n mens verstaan waarom 20:25 waarsku om nie te haastig ‘n eed af te lê nie. 

 

Bid gereeld Psalm 141:3:  “HERE, stel ‘n wag voor my mond, bewaar die deur van my lippe.”  Jou lewe en goeie verhoudings met mense is belangriker as jou opinie.  Leer om jou mond toe te hou.  En bly weg van mense wat te veel praat, want jy sal saam met hulle in die sop beland.  Moenie soos hulle wees nie.  Niemand wil meng met iemand wat te veel praat nie.  Leer jouself en jou kinders wat gebeur met mense wat te veel praat, en vermy hulle.  Jou woorde bring dood of lewe oor jouself.  Dít is wat 18:20-21 beteken:  “Van die vrug van iemand se mond word sy maag versadig; hy word versadig van die opbrings van sy lippe.  Dood en lewe is in die mag van die tong; en elkeen wat dit graag gebruik, sal die vrug daarvan eet.”  Die vers het niks te doen met die charismatiese teologie wat sê dat ons dood en lewe oor ander mense kan spreek nie.  In 2 Samuel 1:16 het ‘n Amalekiet gelieg oor Saul se dood in die hoop dat Dawid vir hom geld sou gee.  Sy eie mond het die dood oor hom gebring.  Dawid het hom doodgemaak.  Hosea 10:13 praat van mense wat die aaklige vrug van hulle eie leuens moet eet.  Jesus sê:  “Maar Ek sê vir julle dat van elke ydele woord wat die mense praat, daarvan moet hulle rekenskap gee in die oordeelsdag.  Want uit jou woorde sal jy geregverdig word, en uit jou woorde sal jy veroordeel word.” (Matteus 12:36-37).  Dít is wat Spreuke 18:21 bedoel met lewe en dood in die mag van die tong.

 

Wanneer 20:25 praat van beloftes, kan ons dit maklik toepas in ons era.  Vandag is daar baie mense wat haastig is om ‘n eed af te lê voor die kansel, en baie kort daarna weer te skei.  ‘n Man wat ek ken was vir vier maande getroud voordat hy geskei het.  Hy was haastig om ‘n eed af te lê.  Ons moet ook nie vir die Here dinge belowe, of sê dat ons dinge in sy diens sal gebruik as Hy ons tog net sal uithelp nie.  Die Skrif sê:  “As jy aan die HERE jou God ‘n gelofte doen, moet jy nie versuim om dit te betaal nie; want die HERE jou God sal dit sekerlik van jou eis, en dit sal sonde in jou word.  Maar as jy nalaat om te belowe, sal dit geen sonde in jou wees nie.  Wat oor jou lippe gaan, moet jy hou en doen soos jy aan die HERE jou God vrywillig beloof het—wat jy met jou mond gespreek het.” (Deuteronomium 23:21-23).

 

En weer:  “Wees nie haastig met jou mond nie, en laat jou hart nie gou ‘n woord uitbring voor die aangesig van God nie; want God is in die hemel, en jy op die aarde.  Daarom moet jou woorde min wees.  Want soos die droom kom deur baie drukte, so die gepraat van die dwaas deur baie woorde.  As jy ‘n gelofte aan God gedoen het, stel nie uit om dit te betaal nie, want daar is geen welgevalle in dwase nie. Betaal wat jy belowe.  Dit is beter dat jy nie belowe nie as dat jy belowe en nie betaal nie.  Laat jou mond nie toe om op jou liggaam ‘n sondeskuld te laai nie, en sê nie voor die gesant van God:  Dit was ‘n vergissing nie.  Waarom moet God toornig word oor jou stem en die werk van jou hande verwoes?” (Prediker 5:1-5).  Laat ons eerder doen wat Jakobus 5:12 sê:  “Maar bo alles, my broeders, moenie sweer nie: nie by die hemel nie, ook nie by die aarde nie en ook geen ander eed nie; maar laat julle ja ja wees en julle nee nee, sodat julle nie onder ‘n oordeel val nie.”

 

Iemand mag dalk wonder oor die waarheid van al hierdie verse in Spreuke:  “As jy jou lewe bewaar deur stil te bly, waarom het Jesus sy lewe verloor?  Hy het dan stilgebly.”  Ja, Hy het.  Maar dit was om ons ontwil wat Hy sy lewe verloor het.  Onthou tog dat baie van die verse in Spreuke algemene waarhede is – daar is uitsonderings op die reël.  Daar is ook ‘n tyd wanneer ons nie moet stilbly om ons lewens te behou nie, maar dit eerder moet verloor vir die evangelie se onthalwe.

 

Jy sal jou naaste bemoedig

Het dit al met jou gebeur dat jy op presies die regte tyd vir iemand ‘n Bybelvers gesms het?  Of was jy al die ontvanger van so iets?  Sulke woorde is vir jou ore soos soet, kraakvars Golden Delicious appels vir jou smaakorgane is.  Of soos soliede goue appels in ‘n silwer versiering vir die oog is – dit bring blydskap (15:23, 25:11).  As ‘n goeie woord op die regte tyd goed is, bestaan die moontlikheid dat jy ‘n goeie woord op die verkeerde tyd kan spreek.  En dit is altyd sleg.  Leer tog ook uit hierdie verse dat daar nie een regte antwoord vir elke situasie is nie.  Jy moet die Skrif (veral Spreuke), die God van die Bybel en mense goed ken om die regte antwoord op die regte tyd te kan gee.  Jesus was so:  “Die Here HERE het My ‘n geoefende tong gegee, dat Ek kan weet om die vermoeide te verkwik met woorde; Hy wek elke môre, Hy wek my oor om te hoor soos die leerlinge.” (Jesaja 50:4).  Onthou tog wanneer dit by die waarheid van die Skrif kom, dat jy altyd moet praat – al is dit ook op ‘n tyd wat mense dit nie wil hoor nie.  “Verkondig die Woord; tydig en ontydig” (2 Timoteus 4:2).

 

Jy sal jou hart ontbloot

RSG het ‘n onderhoud gevoer met Jack Parrow.  Iemand het vir hom gevra hoekom hy soveel vloek wanneer hy sing.  Sy antwoord was:  “Ek is nie soos ander sangers nie.  Ek sê wat ek dink.”  Dit is dwaas.  Die Skrif sê dat jy mooi moet dink voordat jy praat.  Mompel saggies die woorde vir jouself voordat jy hulle sê (15:28).  Indien dit moontlik is moet jy vra vir tyd om te dink, te bid, die Skrif te ondersoek en ‘n antwoord te formuleer (skryf as dit sal help).  Dit gebeur ongelukkig dat jy nie altyd lank kan wag om te antwoord nie.  Daarom moet jy vooraf gereed wees om ‘n antwoord te gee vir hulle wat vra oor die hoop wat in jou is (1 Petrus 3:15).

 

Jou woorde wys wat in jou hart is (4:23, Matteus 12:34).  Die goddelose persoon se slegte woorde borrel uit sy hart uit (15:28).  Selfs ‘n dwaas wat stilbly kan misgis word vir ‘n wyse persoon:  “Selfs ‘n sot sal as hy swyg, vir wys gereken word; as hy sy lippe toehou, vir verstandig.” (17:28).  “Ag, as julle maar heeltemal sou swyg—dan sou dit vir julle wysheid wees!” (Job 13:5).  Die wyse persoon vertoon nie sy kennis nie, maar hou terug en is kalm:  “Wie sy woorde inhou, besit kennis; en hy wat kalm is van gees, is ‘n man van verstand.” (17:27).  Wat sê jou woorde van jóú hart?  Is jy sleg?  Die verrotte wortel van jou hart kan alleenlik deur die evangelie herstel word.  Eers dan kan jy jou slegte tong hervorm.

 

Iemand het my vriend gekritiseer op sy blog.  Wat moes hy doen?  Moes hy daarop reageer of nie?  ‘n Mens het wysheid en onderskeid nodig om te weet wanneer jy moet reageer en wanneer nie:  “One size does not fit all” (Koptak, Proverbs, p.592).  Partykeer moet jy stilbly, sodat jy nie ook ‘n sot is nie.  In sulke gevalle moet jy nie jou tyd, asem of kosbare wysheid op hierdie persoon mors nie:  “Antwoord ‘n dwaas nie na sy sotheid nie, sodat jy ook nie net soos hy word nie.” (26:4).  Jesus sê:  “Moenie wat heilig is, aan die honde gee nie; en gooi julle pêrels nie voor die varke nie, sodat hulle dit nie miskien met hulle pote vertrap en omdraai en julle verskeur nie.” (Matteus 7:6).  Maar daar is ander kere wat jy die sot moet antwoord, sodat hy nie dink hy’s wys nie.  Jy moet veral teen hom praat wanneer ander mense sy sotheid hoor en daardeur beïnvloed kan word.  Daarom sê 26:5:  “Antwoord ‘n dwaas na sy sotheid, sodat hy nie wys is in sy eie oë nie.”  Jesus het die dwase Fariseërs geantwoord en hulle monde gesnoer.  Hier is wat gebeur het:

 

“En toe Hy in die tempel gegaan het, kom die owerpriesters en die ouderlinge van die volk na Hom terwyl Hy besig was om te leer, en hulle sê:  Deur watter gesag doen U hierdie dinge, en wie het U hierdie gesag gegee?  En Jesus antwoord en sê vir hulle:  Ek sal julle ook een ding vra, en as julle dit vir My sê, sal Ek julle ook vertel deur watter gesag Ek hierdie dinge doen.  Die doop van Johannes, waar was dit vandaan, uit die hemel of uit mense?  En hulle het by hulleself geredeneer en gesê: As ons sê: Uit die hemel—dan sal Hy ons vra:  Waarom het julle hom dan nie geglo nie?  En as ons sê:  Uit mense—dan moet ons oppas vir die menigte, want almal hou Johannes vir ‘n profeet.  Toe antwoord hulle Jesus en sê:  Ons weet nie.  Hy sê toe ook vir hulle:  Dan vertel Ek julle ook nie deur watter gesag Ek hierdie dinge doen nie.” (Matteus 21:23-27).

 

Hoe jy ‘n sot antwoord (of nie antwoord nie) wys ook iets van jou eie hart.  Wees dan versigtig wat jy sê en wat nie.

 

Jy sal die onmoontlike regkry

Jesus het ‘n storie vertel van ‘n weduwee wat aanhoudend vir die regter gevra het om haar saak aan te hoor.  Hy wou nie.  Sy het net aangehou.  Uiteindelik het selfs hierdie slegte regter toegegee en haar gehelp (sien Lukas 18:1-8).  Natuurlik gee die Skrif nie toestemming dat ons mag kerm en kla nie, maar as jy geduldig wag dat jou baas (of wieookal anders) se humeur afkoel en jy sagmoedig praat, kan jy die onmoontlike regkry – ‘n sagte tong kan ‘n been breek (25:15).  Deur net geduldig en sagmoedig te wees met jou woorde, kan jy baie gebroke verhoudings herstel.  So, dink mooi voor jy praat.