‘n Waarskuwing aan rebelse kinders

Rebellious teen

15:5 Die sot verag die tug van sy vader, maar hy wat op die teregwysing ag gee, word wys. 17:21 Hy wat ‘n dwaas verwek, vir hom sal dit ‘n bekommernis word; en die vader van die dwaas sal nie bly wees nie.  17:25 ‘n Dwase seun is ‘n verdriet vir sy vader en bitter smart vir haar wat hom gebaar het.  19:13 ‘n Dwase seun is ‘n ramp vir sy vader…  20:20 Wie sy vader of sy moeder vloek, sy lamp gaan in pikdonker dood.  28:7 Wie die wet bewaar, is ‘n verstandige seun; maar hy wat met deurbringers omgaan, steek sy vader in die skande. 28:24 Wie sy vader of sy moeder berowe, en sê: Dit is geen oortreding nie! —hy is ‘n bondgenoot van ‘n man wat verderflik handel. 29:3 ‘n Man wat die wysheid liefhet, verbly sy vader; maar hy wat met hoere omgaan, bring die goed deur.  30:11 Daar is ‘n geslag wat sy vader vervloek en sy moeder nie seën nie 30:17 ‘n Oog wat met die vader spot en die gehoorsaamheid vir die moeder verag—die kraaie van die dal sal dit uitpik, en die kuikens van die arend sal dit opeet.” (Spreuke).

Rebelse kinders vertoon dwaasheid

In sy kort autobiografie het ‘n prediker vertel van hoe lui hy was in sy jongdae.  Hy kon glad nie verstaan hoekom hy skooltoe moes gaan om te leer nie.  Ná skool het hy gehoop om vir die regering te werk:  hy wou soveel as moontlik geld verdien vir so min as moontlik werk.  Volgens Spreuke was hierdie ongeredde optrede ‘n vertoon van sy dwaasheid:  “Die sot verag die tug van sy vader, maar hy wat op die teregwysing ag gee, word wys.” (15:5).  Enigiemand wat dissipline en lering verag of uitdaag, wys daardeur dat hy ‘n dwaas is.  Dalk word die kind se rebellie eers sigbaar in sy tienerjare, maar dit het al begin toe hy vier jaar oud was; toe hy jou gedurig uitgedaag het met:  ‘Maar hoekom moet ek?’, en jy niks daaraan gedoen het nie.  Kinders moet leer om die korttermyn pyn van tug te verdra, want dit sal oor die langtermyn vreugde verseker.

Rebelse kinders bedroef ouers

Toe sy seuns gedoop is het Charles Spurgeon gesê dat hy en sy vrou meer vreugde het oor hulle kinders se wedergeboorte, as wat hulle gehad het by hulle geboorte.  Met ouers van rebelse kinders is dit andersom:  toe die kind gebore is was daar groot vreugde, maar nóú is daardie selfde ouers bitter bedroef:  “Hy wat ‘n dwaas verwek, vir hom sal dit ‘n bekommernis word; en die vader van die dwaas sal nie bly wees nie…‘n Dwase seun is ‘n verdriet vir sy vader en bitter smart vir haar wat hom gebaar het.” (17:21, 25).  ‘n Rebelse kind is selfsugtig in die kern van sy wese.  Hy soek net die dinge wat hóm bly maak en gee nie om as hy sy ouers en ander mense se harte breek nie.  Alles begin eintlik by rebellie teen God; by ‘n hart wat sý raad verwerp (Psalm 107:11).  Hierdie kind het ‘n nuwe hart nodig wat God en sy naaste sal liefhê; ‘n hart wat nie vir homself lewe nie:  “omdat ons van oordeel is, dat as een vir almal gesterf het, hulle dan almal gesterf het; en Hy het vir almal gesterwe, sodat die wat lewe, nie meer vir hulself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en opgewek is.” (2 Korintiërs 5:15).

Rebelse kinders sterf jonk

Hofni en Pinehas was rebels en het nie vir hulle pa geluister nie (1 Samuel 2:12-36).  Die Here het hulle doodgemaak (1 Samuel 4:11).  Die rebel is soos hierdie twee seuns.  Hy vloek sy ouers.  Soms doen hy dit nie met woorde nie, maar met sy oë.  God sal so ‘n kind se lewe soos ‘n lamp uitdoof; hy sal ‘n onmenslike dood sterf en nie begrawe word nie.  Die kraaie in die veld sal sy oë uitpik en die arende sal sy vleis afskeur en vir hulle kleintjies voer:  “Wie sy vader of sy moeder vloek, sy lamp gaan in pikdonker dood…Daar is ‘n geslag wat sy vader vervloek en sy moeder nie seën nie…‘n Oog wat met die vader spot en die gehoorsaamheid vir die moeder verag—die kraaie van die dal sal dit uitpik, en die kuikens van die arend sal dit opeet.” (20:20, 30:11, 17).  Die gewone manier waarop so ‘n kind se lewe beïndig is, was deur steniging:  “En hy wat sy vader of moeder slaan, moet sekerlik gedood word…En hy wat sy vader of moeder vloek, moet sekerlik gedood word.” (Eksodus 21:15, 17).  In Deuteronomium 21:18-21 lees ons:

“As iemand ‘n koppige en wederstrewige seun het, wat nie luister na die stem van sy vader en na die stem van sy moeder nie, en hulle hom tugtig, maar hy na hulle nie luister nie, dan moet sy vader en sy moeder hom neem en hom uitbring na die oudstes van sy stad en na die poort van sy woonplek, en hulle moet aan die oudstes van sy stad sê:  Hierdie seun van ons is koppig en wederstrewig, hy luister nie na ons stem nie, hy is ‘n deurbringer en dronkaard.  Dan moet al die manne van sy stad hom stenig, dat hy sterwe.  So moet jy dan die kwaad uit jou midde uitroei, en die hele Israel sal dit hoor en vrees.”

Volgens die Bybel is dit ’n skande om nié begrawe te word nie.  Mense wat deur die Here vervloek word, word deur die voëls en wilde diere opgegeëet:  “Die een wat van Jeróbeam in die stad sterwe, hom sal die honde eet; en wat in die veld sterwe, sal die voëls van die hemel eet, want die HERE het dit gespreek.  Maak jou dan klaar, gaan na jou huis; as jou voete die stad inkom, sal die kind sterwe.  En die hele Israel sal hom beklaag en hom begrawe, want hy alleen van Jeróbeam sal in ‘n graf kom, omdat in hom iets goeds voor die HERE, die God van Israel, te vinde was in die huis van Jeróbeam.” (1 Konings 14:11-13).  “Aan dodelike siektes sal hulle sterwe, hulle sal nie beklaag of begrawe word nie, hulle sal mis op die aarde wees; en hulle sal deur die swaard en die hongersnood verteer word, en hulle lyke sal dien as voedsel vir die voëls van die hemel en die wilde diere van die aarde.” (Jeremia 16:4).  Die rebel in Spreuke 30:17 is duidelik ‘n vervloeking en ‘n skande.

Ons kan God dank vir Jesus wat namens rebelle soos ons in die duisternis gesterf het; sy lewenslamp is namens ons uitgedoof (vergelyk 20:20 met Matteus 27:45-46).  Indien jy rebels is en jou nié wil bekeer nie, moet jy dink aan hoeveel kinders wat saam met jou op skool was, dood is; aan hoeveel van hulle kort ná skool oorlede is (ek kan aan meer as ‘n dosyn dink wat saam met my op skool was).  Pasop rebel – dalk is jý volgende.

Rebelse kinders beskaam ouers

In Bybelse tye moes die rebel wat terugkeer, vir ‘n paar dae in die straat gesit het, terwyl almal (ook kinders) hom gespot het.  Indien sy pa besluit het om hom te vergewe moes hy eers sy pa se voete soen, en is hy in die openbaar gegesel.  Sy pa het die terme van restitusie uitgespel.  Hy moes teen ‘n dagloner se betaling die geld wat hy sy pa gekos het, verdien en terugbetaal.  En indien hy die terme nagekom het sou sy pa hom miskien vergewe het (inligting verkry uit ‘n preek van John MacArthur oor die verlore seun in Lukas 15).

Hoekom die groot ‘fuss’?  Want rebelse kinders is ‘n skande vir hulle ouers se reputasie, die familienaam, en veel meer.  En baie dikwels is dit ‘n verkeerde vriendegroep wat dinge vererger:  “Wie die wet bewaar, is ‘n verstandige seun; maar hy wat met deurbringers omgaan, steek sy vader in die skande.” (28:7).  “Wees nie onder die wynsuipers nie, onder die wat as vrate hulle hart ophaal.  Want ‘n drinker en ‘n vraat sal arm word, en slaperigheid laat stukkende klere dra.” (23:20-21, cf. 1 Korintiërs 15:33).  Die kind wat met verkeerde vriende eet, drink en partytjie hou, steek sy ouers in die skande.  ‘n Ouer wat toelaat dat klein kinders hulle eie vriende kies is dwaas.  Jy moet hulle help en leer watse tipe vriende om te kies.  Sorg dat jy die ouers en kinders baie goed ken.  Leer vir jou kinders die ware wysheid van Jesus en sy Woord, sodat hulle dít kan doen en reg kan optree (28:7a, 1 Korintiërs 1:30).  As jy dit doen, sal jy die kanse dat hulle rebelleer aansienlik verminder.

Rebelse kinders ruïneer ouers

Die verlore seun het sy pa se geld gemors op partytjies en alles wat daarmee saamgaan:  drank en slegte vroue (Lukas 15:13, 30).  Die rebel ruïneer sy ouers op elke gebied:  hulle reputasie, finansies, die familienaam, die huishouding en meer:  “‘n Dwase seun is ‘n ramp vir sy vader…” (19:13a).  Die pa se geld word gemors op slegte vroue, drank en dwelms.  En omdat die jongmens dít gedoen het eerder as om te studeer, druip hy sy jaar en moet sy pa vir nóg ‘n jaar studiegelde betaal:  “‘n Man wat die wysheid liefhet, verbly sy vader; maar hy wat met hoere omgaan [veral die tempel-prostitute van Kanaän] bring die goed deur.” (29:3).  Hierdie kind is ‘n verlies vir sy ouers.  Omdat hy dronk bestuur en die kar stamp, kos dit hulle duisende rande.  Hulle moet betaal vir hofsake en moet hom keer op keer uit die tronk uit ‘koop’.  Hulle spandeer tienduisende rande op sielkundiges en psigiaters om hom te probeer help.  Hý is die rede dat hulle mediese bronne uitgeput raak, omdat hy gedurig in die hospitaal beland deur karongelukke of vuisgevegte in die kroeg.  Hy steel sy ouers se besittings en verpand dit om geld te kry vir dwelms.  En wanneer hy ouer word sorg hy nie finansieel vir sy bejaarde ouers nie.

Deur al hierdie dinge te doen is hy niks anders as iemand wat sy ouers se lewens ruïneer en verwoes nie:  “Wie sy vader of sy moeder berowe, en sê:  Dit is geen oortreding nie! —hy is ‘n bondgenoot van ‘n man wat verderflik handel.” (28:24).  Indien jy ‘n jong kind is wat jou ouers se geld steel of lekkers uit die kas steel, sê die Here vir jou:  Stop nóú!  As jy nie ophou nie sal dit erger word.  Binnekort sal jy nie net lekkers steel nie, maar karre.  En die dag gaan kom wanneer jou ouers jou nie meer kan ‘uit bail’ nie.

Advertisements

Die voordele van God se vergifnis

Prodigal son

9 Ontsondig my met hisop, dat ek kan rein wees; was my, dat ek witter kan wees as sneeu. 10 Laat my vreugde en blydskap hoor; laat die gebeente juig wat U verbrysel het. 11 Verberg u aangesig vir my sondes en delg uit al my ongeregtighede. 12 Skep vir my ‘n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my ‘n vaste gees. 13 Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie. 14 Gee my weer die vreugde van u heil, en ondersteun my deur ‘n gewillige gees. 15 Ek wil die oortreders u weë leer, dat die sondaars hulle tot U kan bekeer. 16 Red my van bloedskuld, o God, God van my heil! Laat my tong u geregtigheid uitjubel. 17 Here, open my lippe, dat my mond u lof kan verkondig. 18 Want U het geen lus in slagoffer nie, anders sou ek dit gee; in brandoffer het U geen behae nie. 19 Die offers van God is ‘n gebroke gees; ‘n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie! 20 Doen goed aan Sion na u welbehae; bou die mure van Jerusalem op. 21 Dan sal U ‘n welbehae hê in die offers van geregtigheid, in brandoffer en voloffer; dan sal hulle stiere offer op u altaar.” (Psalm 51).

 

Diep reiniging (v.9, 12)

Net voordat die Israeliete uit Egipte uit is, moes hulle met ‘n hisoptakkie die bloed van die eersgebore lam teen die deurkosyne smeer (Eksodus 12:22).  In die Ou Testament is hisop dikwels gebruik in reinigingsrites (Levitikus 14:4, Hebreërs 9:19).  In v.9 gebruik Dawid hisop op ‘n simboliese manier.  Hy vra eintlik dat die Here hom heeltemal sal reinig, sodat hy wit sal wees soos sneeu (v.9, cf. Jesaja 1:18).  Sy gebed vir ‘n rein hart en vaste gees (v.12) behoort hoop te gee vir gelowiges wat met versoeking stry; vir daardie gelowige wat moedeloos is omdat hy ‘n hart vol onrein gedagtes het, of omdat hy so maklik toegee aan versoeking.  Moenie moed verloor nie:  God kan vir jou ‘n rein hart skep en ‘n vaste gees gee (v.12).

 

Groot blydskap (v.10, 14)

Dawid was vreugdeloos (v.10, 14).  Die rede was heel eerste as gevolg van sy sonde.  Maar daar was ook ander oorsake wat uit sy sonde voortgespruit het:  bene wat gepyn het, ‘n swaar skuldlas, brandende swere, hartkloppings, koors, eensaamheid (sy familie en vriende het hom versaak), vyande en God wat nie sy gebede beantwoord het nie (v.10, Psalm 32, 38).  Moenie die les mis nie:  depressie (vreugdeloosheid soos in v.10, 14) is dikwels die gevolg van ons sonde en skuldgevoelens (sien ook Genesis 4:5-7).  In so ‘n geval is anti-depressante die verkeerde oplossing en bekering die regte een.  Indien jy jou bekeer sal God, die engele, ander gelowiges en jy self groot blydskap beleef (v.10, Lukas 15).  Toe jy afgedwaal het was daar ‘n tyd waarin jy onbereidgewillig en vreugdeloos gedien het – so asof dit ‘n swaar plig was.  Maar wanneer jy jou bekeer en God jou vergewe sal jy kerk toe wil gaan, die Bybel wil lees, wil bid – dit sal vir jou lekker wees.  Jy sal groot vreugde hê in die volmaakte Lam wie se bene nie gebreek was nie (vergelyk v.10 met Johannes 19:33, 36).

 

Herstelde gemeenskap (v.11, 13)

Omdat Saul ongehoorsaam was aan God (1 Samuel 15), het God hom verwerp as koning; Hy het die Gees se koninklike salwing van hom af weggeneem:  “Maar die Gees van die HERE het van Saul gewyk…” (1 Samuel 16:14).  Dawid het geweet wat met Saul gebeur het.  Net soos Saul was hý ongehoorsaam aan die Here.  Hy wou nie soos Saul verwerp word en die koninklike salwing van die Gees verloor nie:  “Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie.” (v.13).  Daarom vra hy dat God hom sal vergewe en wegkyk van sy sonde af:  “Verberg u aangesig vir my sondes en delg uit al my ongeregtighede.” (v.11).  Dit is omdat God sy gesig in oordeel weggedraai het van Jesus (vir ons sonde) dat Hy nou sy gesig van Dawid se sonde kon wegdraai (sien Matteus 27:46).

 

‘n Gelowige kan nie die Heilige Gees verloor nie, want enigiemand wat nie die Gees van Christus het nie behoort nie aan Hom nie (Romein 8:9).  Maar dit is moontlik dat ‘n gemeente of gelowige die Heilige Gees kan bedroef en sy seën verloor (v.13, Efesiërs 4:30).  Hoe kan ‘n kerk weet dat sy die Heilige Gees bedroef het; dat sy besig is om weg te dwaal?  Hier is ‘n paar aanduidings dat ‘n kerk besig is om weg te dwaal en die Heilige Gees te bedroef:

 

  • Die kerk word wêrelds.  In plaas daarvan dat die kerk die wêreld beïnvloed, beïnvloed die wêreld haar.
  • Sy ignoreer sonde.  Dissipline het heeltemal uit die kerk uit verdwyn.
  • Sy is biddeloos.  Die gereelde gebedstye het doodgeloop of word baie sleg bygewoon.
  • Mense versaak die gemeentelike samekomste.  Die opkomste by eredienste is kommerwekkend.
  • Mense is hiper-krities en sien alles raak wat verkeerd is.
  • Gemeentelede is nie meer verwonderd oor die kruis nie.  Die nagmaal is nie meer spesiaal nie.
  • Die suiwer prediking van die Woord beweeg jou nie meer nie.
  • Die kerk het geen hart vir verlore mense nie.  Sending en evangelisasie gebeur skaars.
  • Onbelangrike dinge vervang die belangrike.  Die Woord is nie meer sentraal nie.  By vergaderings word daar meer gepraat oor administrasie en die kleur van die matte as oor die verspreiding van die evangelie.
  • Mense soek preke wat hulle sal laat goed voel en is baie ontevrede met preke oor heiligmaking, selfverloëning, sonde, die oordeel, God se Persoon, ensovoorts.
  • Daar is geen teenkanting van die vyand nie.  Hy steur hom nie aan kerke wat geen bedreiging vir hom is nie.
  • Die kerk is lou.  Die Here se dinge word halfhartig gedoen.
  • Die mense het min liefde vir God, sy Woord, mekaar en hulle medemens.
  • Die kerk het geen invloed in die samelewing nie.
  • Verdeeldheid heers.

 

‘n Kerk wat in so ‘n posisie is sal voortgaan sonder om eers te weet dat die Gees haar verlaat het (soos Simson in Rigters 16:20 en Sardis in Openbaring 3:1-3).  Indien hierdie die beskrywing van jou of my gemeente is, is daar hoop as ons diep berou en bekering toon.  God kan so ‘n kerk vergewe, sodat die gemeenskap met Hom volkome herstel word.

 

Verreikende invloed (v.15)

Jesus het vir Petrus gesê:  “Maar Ek het vir jou gebid, dat jou geloof nie ophou nie; en as jy eendag bekeerd is, moet jy jou broeders versterk.” (Lukas 22:32).  Wat Petrus gedoen het was baie sleg.  Maar God het dit vir die goeie uitgewerk, sodat Petrus ander sondaars wat geval het kon ophelp.  Net so het God Dawid se sonde en herstel gebruik om vir hom en ons te help:  “Ek wil die oortreders u weë leer, dat die sondaars hulle tot U kan bekeer.” (v.15).  Hoeveel mense is nie al gehelp deur Dawid se lering in Psalm 51 nie?  Dawid het op die verkeerde pad beland en kon nou vir ander gelowiges waarsku om nie op dieselfde pad te wandel nie.  1 Korintiërs 10:11 geld ook vir Dawid se sonde:  “Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het.”  En alhoewel 2 Korintiërs 1:4 van beproewing praat, kan ons dit toepas op Dawid se sonde en ons eie:  “[God] wat ons troos in al ons verdrukking, sodat ons die wat in allerhande verdrukking is, kan troos deur die vertroosting waarmee ons self deur God getroos word.”  God sal stukkende en sondige mense oor jou pad stuur, sodat jy jou soortgelyke ondervinding en sonde met hulle kan deel; sodat jy vir hulle kan vertel hoe die Here jou swaar getug en wonderbaarlik herstel het.  Ons moet natuurlik nie daaruit aflei dat net dié wat dieselfde sonde as jy gedoen het jou dilemma kan verstaan nie.  Jesus het nooit enige van hierdie sondes gedoen nie, en Hy verstaan ons beter as enigiemand anders.

 

Spontane lofprysing (v.16-17)

Dawid vra dat God Hom sal red van bloedskuld (v.16, 2 Samuel 12:9).  Hy is skuldig aan moord en verdien, volgens die Ou Testamentiese wet, die doodstraf.  In die tyd van sy sonde was daar geen lof uit Dawid (die soete psalmis van Israel wat so dikwels die Here geloof het) se mond nie.  Dit is inderdaad moeilik om die Here te loof wanneer ons sondig.  En meer as dikwels is dit om híérdie rede wat mense vir lang tye wegbly van eredienste af:  hulle is besig met een of ander sonde en kan nie die Here loof nie.  As die Here jou vergewe dan sal hy ook jou lippe oopmaak, sodat jy Hom met vrymoedigheid kan loof (v.16-17).

 

Aanneemlike offers (v.18-21)

‘n Getroude vrou soek nie haar man se opofferings om vir haar te sorg, as hy met ‘n buite egtelike verhouding besig is nie.  En net so soek God nie jou offers as jy ‘n buite egtelike verhouding het met sonde nie; as jy jou nie bekeer het nie:  “Want U het geen lus in slagoffer nie, anders sou ek dit gee; in brandoffer het U geen behae nie.  Die offers van God is ‘n gebroke gees; ‘n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie!  Doen goed aan Sion na u welbehae; bou die mure van Jerusalem op.  Dan sal U ‘n welbehae hê in die offers van geregtigheid, in brandoffer en voloffer; dan sal hulle stiere offer op u altaar.” (v.18-21).  Jy kan nie God se guns wen of vergifnis koop deur jou ‘offers’ van vas, Bybellees, kerkbywoning, gebed, trane, tiendes, beloftes en luister van Christelike musiek nie.  Dit help nie dat jy vir ‘n tyd lank jou gunsteling sonde los nie.  As jy dít doen is jy net soos Israel:  “Elke keer as Hy hulle gedood het, het hulle na Hom gevra en teruggekom en God gesoek; en hulle het daaraan gedink dat God hul rots was en God, die Allerhoogste, hul verlosser.  En hulle het Hom met hul mond gevlei en Hom met hul tong belieg; maar hulle hart het nie aan Hom vasgehou nie, en hulle was nie trou in sy verbond nie.” (Psalm 78:34-37).  “Kom en laat ons terugkeer tot die HERE; want Hy het verskeur en sal ons genees, Hy het geslaan en sal ons verbind.  Hy sal ons ná twee dae lewend maak, op die derde dag ons laat opstaan, sodat ons voor sy aangesig kan lewe.  En laat ons ken—laat ons dit najaag om die HERE te ken; sy opgang is so seker soos die dagbreek, en Hy sal tot ons kom soos die reën, soos die laat reëns wat die aarde besproei.  Wat sal Ek met jou doen, o Efraim; wat sal Ek met jou doen, o Juda? aangesien julle liefde is soos ‘n môrewolk en soos ‘n dou wat vroeg weer verdwyn.” (Hosea 6:1-4).

 

Jesaja beskryf dit in baie duidelike terme:

 

“Roep uit die keel, hou nie terug nie, verhef jou stem soos ‘n basuin! En verkondig aan my volk hulle oortreding en aan die huis van Jakob hulle sondes.  Wel soek hulle My dag vir dag en het ‘n behae in die kennis van my weë!  Soos ‘n nasie wat geregtigheid doen en die reg van sy God nie verlaat nie, vra hulle My na die regverdige verordeninge; hulle het ‘n behae in die toenadering tot God.  Waarom vas ons, en U sien dit nie? Waarom kwel ons ons siel, en U weet dit nie? —Kyk, op die dag as julle vas, soek julle geleentheid om sake te doen, en julle jaag al jul arbeiders aan.  Kyk, om te twis en te kyf, vas julle, en om te slaan met misdadige vuis; julle vas nie nou om julle stem in die hoogte te laat hoor nie.  Is dít die vas wat Ek verkies, die dag as die mens sy siel gaan kwel: dat hy sy hoof buig soos ‘n biesie en sak en as uitsprei om sy bed te wees?  Noem jy dit vas en ‘n dag wat die HERE welgevallig is?  Is dít nie die vas wat Ek verkies nie: dat julle losmaak die bande van goddeloosheid, dat julle afhaal die stroppe van die juk en vry laat weggaan die verdruktes en elke juk stukkend breek?  Is dit nie dat jy jou brood breek vir hom wat honger het, en ellendiges, swerwelinge in die huis inbring nie?  As jy iemand sien wat naak is, dat jy hom klee, en jou vir jou eie vlees nie verberg nie?  Dan sal jou lig deurbreek soos die dageraad en jou genesing skielik uitspruit; en jou geregtigheid sal voor jou uit gaan, die heerlikheid van die HERE jou agterhoede wees.  Dan sal jy roep, en die HERE sal antwoord; jy sal skreeu om hulp, en Hy sal sê:  Hier is Ek!  As jy van jou verwyder die verdrukking, die uitsteek van die vinger en die leuenagtige woord, en jou siel laat uitgaan na die hongerige, en die neergeboë siel versadig; dan sal jou lig opgaan in die duisternis en jou donkerheid wees soos die middag.” (Jesaja 58:1-10).

 

God wil egte bekering hê.  Jy kan weet jou bekering is vals as dinge soos vas, kerkbywoning of trane jou einddoel word en nie ‘n middel tot ‘n doel nie (om die Here te verheerlik, beter te ken en te gehoorsaam).  Net so ervaar iemand wie se bekering nie blywend is nie, ‘n vals bekering.  Volgens Paulus kan ‘n mens ware en valse bekering só onderskei:  “Want die droefheid volgens die wil van God werk ‘n onberoulike bekering tot redding, maar die droefheid van die wêreld werk die dood.  Want kyk, juis dit, dat julle bedroef geword het volgens die wil van God—wat ‘n groot ywer het dit in julle gewerk, ja, verantwoording, verontwaardiging, vrees, verlange, ywer, bestraffing. In alles het julle bewys dat julle in die saak rein is.” (2 Korintiërs 7:10-11).  ‘n Persoon wat net jammer is omdat hy uitgevang is, of omdat die sonde hom laat sleg voel, het nie ‘n ware bekering ondergaan nie.  Die persoon wat jammer is oor sy sonde, vrees om weer op die verkeerde pad te loop, ‘n verlange het na herstelde gemeenskap met Christus, ywerig is vir sy saak, homself bestraf, verontwaardig is oor sy lelike sonde en meer verantwoordelik raak – dié persoon het hom waarlik bekeer.

 

Dít is die gebroke hart wat die Here wil hê (v.18-19) voordat Hy ons offers sal aanneem (v.20-21).  Die Skrif sê elders:  “Het die HERE behae in brandoffers en slagoffers soos in gehoorsaamheid aan die stem van die HERE?  Kyk, om gehoorsaam te wees is beter as slagoffer, om te luister beter as die vet van ramme.” (1 Samuel 15:22).  “Want Ek het ‘n behae in liefde en nie in offerande nie, en in kennis van God meer as in brandoffers.” (Hosea 6:6).  “Want so sê die Hoë en Verhewene wat in die ewigheid woon, Heilig is sy Naam:  Ek woon in die hoogte en in die heilige plek en by die verbryselde en nederige van gees, om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes.” (Jesaja 57:15).  Die rede hoekom Jesus se offer aanneemlik was, is juis omdat Hy éérs gehoorsaam, nederig en onderdanig was.  ‘n Messianse Psalm sê:  “U het geen behae in slagoffer of spysoffer nie; ore het U vir my gegrawe [oop ore om gehoorsaam te wees]; brandoffer en sondoffer het U nie geëis nie.” (Psalm 40:7).  Jou hoop moet wees in Jesus Christus en sy kruisdood.  Dán sal God jóú offer sal aanneem.  Dit is immers by die kruis waar ‘n gebroke hart en bekering sy ontstaan het.

Hoop vir Christene wat afgedwaal het

Train off tracks

1 Vir die musiekleier.  ‘n Psalm van Dawid, 2 toe die profeet Natan na hom gekom het, nadat hy by Bátseba ingegaan het. 3 Wees my genadig, o God, na u goedertierenheid; delg my oortredinge uit na die grootheid van u barmhartigheid. 4 Was my heeltemal van my ongeregtigheid en reinig my van my sonde. 5 Want ék ken my oortredinge, en my sonde is altyddeur voor my.  6 Teen U alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë, sodat U regverdig kan wees as U spreek, rein as U gerig hou. 7 Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang. 8 Kyk, U het ‘n welgevalle aan waarheid in die binneste, en in die verborgene maak U aan my wysheid bekend.” (Psalm 51:1-8).

 

Die basis van vergifnis (v.1-4)

Baie van ons ken die storie van Dawid wat egbreuk en moord gepleeg het, maar dalk is dit die moeite werd om dit weer te hoor (2 Samuel 11-12).

 

Dawid moes saam met sy weermag op die slagveld gewees het.  Maar hy was nie.  Hy het by die huis gebly en laat geslaap.  Nadat hy een laatmiddag geslaap het, het hy opgestaan en op die paleis se plat dak gaan stap.  Hy kon deur sy buurvrou se venster sien hoe sy bad.  Sy was baie aantreklik.  Hy het een van sy boodskappers gestuur om uit te vind wie sy is.  Die boodskap het baie helder in sy ore ge-eggo:  “Sy is Uria se vrou!”  Maar Dawid het haar laat haal en met haar geslaap.  ‘n Rukkie later het die nuus gekom:  “Ek is swanger.”  Dawid was in die moeilikheid.  Uria sou uitvind.  Die volk sou uitvind (om een of ander rede het hy nie omgegee dat God weet nie).  Hy het vir Uria van die slagveld af teruggeroep.  Dawid wou sy voetspore toeverf:  “Gaan ‘n bietjie huistoe en spandeer tyd met jou vrou.”  Dawid het gehoop Uria slaap met sy vrou, sodat almal sal dink dis hý wat haar swanger gemaak het.  Maar die dapper soldaat het nie huistoe gegaan nie.

 

Die volgende aand het Dawid hom dronk gemaak in die hoop dat hy huistoe sal gaan en met sy vrou slaap.  Maar weer het hy voor die paleis se deure geslaap.  Wat moes Dawid doen?  Hy het ‘n brief vir die bevelvoerder van sy weermag geskryf en dit saam met Uria gestuur:  “Laat Uria in die voorste linies veg, sodat die boogskuttes hom doodskiet.”  Dit het so gebeur.  Nou kon Dawid gou met Batseba trou en maak asof sy ná hulle huwelik swanger geword het.  Maar God het geweet wat Dawid gedoen het.

 

‘n Jaar het verbygegaan.  God het die profeet Natan na Dawid toe gestuur.  Natan het vir Dawid ‘n storie vertel:  ‘Eendag was daar ‘n ryk man met baie beeste en skape.  Langs hom het ‘n arm man gewoon.  Hy het niks gehad nie;  net een lammetjie.  Die skapie het saam met sy kinders groot geword.  Hulle was baie lief vir die diertjie.  Op ‘n dag toe kry die ryk man gaste.  Hy wou nie een van sy diere slag nie en toe slag hy die arm man se skapie.’  Toe Dawid dié storie hoor het hy woedend geword:  ‘Die ryk man het alles wat sy hart begeer, en dan vat hy nog die arm man se enigste lammetjie!  Hy moet vir die arm man vier skape teruggee.  So iemand verdien die doodstraf!’  Toe Dawid dít sê het Natan sy vinger onder Dawid se neus ingedruk en dapper gesê:  ‘Jý, koning Dawid, is daardie man!  God het vir jou baie besittings en vroue gegee.  Hoekom het jy Uria se vrou gevat en hom doodgemaak?  Jý verdien God se oordeel!’  Dawid het sy sonde besef.  God het wel sy kind doodgemaak, maar Hy het Dawid se lewe gespaar.  Dawid het diepe berou gehad oor sy sonde en gepleit dat die Here hom sou vergewe.  Psalm 51 is sy belydenis (v.1-2).

 

Dit is moontlik vir ‘n Christen om vir ‘n lang tyd af te dwaal en om diep te sink in die modderput van sonde.  Dawid het in die gehiem gesondig, maar sy sonde in die publiek bely (v.1, vir die musiekleier).  As Hy wou, kon God vir Dawid gelos het.  Bloot die feit dat God vir Natan gestuur het om sy sonde uit te wys was genade.  Moenie soos baie mense sê:  “Los daardie persoon wat so sondig.  Moet hom nie konfronteer nie; die Heilige Gees sal hom oortuig.” nie.  Vergeet jy dat God dikwels mense gebruik om gelowiges van hulle sonde te oortuig (soos Natan in v.2)?  Om ons van sonde te oortuig gebruik God ook:

 

  • Ander mense se heilige lewens (jy voel sommer vuil in hulle teenwoordigheid en weet dat jou lewe nie reg is nie).
  • Kerktug (Matteus 18:15-17).
  • Die Woord (daardie preek wat jou tussen die oë tref).
  • God se goedheid (Romeine 2:4)!
  • Die nagmaal waar jy sien wat Jesus moes ly vir jou sondes.
  • Jou gewete wat jou nie met rus laat nie.
  • Swaarkry, sodat jy nie meer op hierdie dwaalweg wíl aanhou nie.

 

Tensy jy nie die diepte van jou sonde verstaan nie, sal jy nooit God se barmhartigheid verstaan en soos Dawid om genade smeek nie (v.3).  Dawid het gesien dat sy sonde soos ink is wat ‘n bladsy swartsmeer, soos klere wat permanent gevlek is.  Daarom het hy gevra dat God sy sonde moet uitdelg (soos wat ‘n mens ink met Tippex toemaak of ‘n bevlekte kleed wit maak met JIK):  “Wees my genadig, o God, na u goedertierenheid; delg my oortredinge uit na die grootheid van u barmhartigheid.  Was my heeltemal van my ongeregtigheid en reinig my van my sonde.” (v.3-4).  Ander soortgelyke verse sê:  “Ek, Ek is dit wat jou oortredinge uitdelg om My ontwil, en aan jou sondes dink Ek nie.” (Jesaja 43:25).  “Ek delg jou oortredinge uit soos ‘n newel en jou sondes soos ‘n wolk; keer terug na My, want Ek het jou verlos.” (Jesaja 44:22).  “En Ek sal hulle reinig van al hulle ongeregtigheid waarmee hulle teen My gesondig het, en vergewe al hulle ongeregtighede waarmee hulle teen My gesondig en teen My oortree het.” (Jeremia 33:8).  “[God het] die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die kruis vas te nael” (Kolossense 2:14).

 

Dawid het nie vertrou nie in sy opregte belydenis nie, maar in God se barmhartigheid en genade:  “Wees my genadig, o God, na [volgens] u goedertierenheid; delg my oortredinge uit na [volgens] die grootheid van u barmhartigheid.” (v.3).  “Barmhartig en genadig is die HERE, lankmoedig en groot van goedertierenheid.” (103:8).  Wees soos Dawid:  moenie glo in jou geloof of jou opregte bekering nie.  Vertrou op Jesus, sy kruisdood en opstanding alleen.  Dink jy jou sonde is te groot om vergewe te word?  Onthou vir Dawid – hy het egbreuk en moord gepleeg.  Onthou Jesaja 1:18:  “al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol.”  Onthou vir Manasse; die ergste koning wat Israel ooit gehad het.  God het hóm vergewe vir al sy gruwelike sondes, en daarom kan Hy jóú ook vergewe (sien 2 Kronieke 33:1-20).  Onthou vir Petrus.  Hy het vir Jesus verloën en in groot genade is hy herstel (Johannes 18:15-18, 25-27, 21:15-19).  Onthou die dief aan die kruis; die moordenaar wat enkele ure voor sy dood tot bekering gekom het (Lukas 23:43).  Onthou die Romeinse soldaat wat vir Jesus gekruisig het.  Wat is ‘n groter sonde as om die Seun van God te kruisig?  En tog het Jesus hóm gered (Lukas 23:47).  En onthou vir Paulus.  Hy het Jesus gelaster en Christene doodgemaak.  Maar Jesus het hom gered (1 Timoteus 1:12-17).  God is instaat en gewillig om jou te help.  As jy ongered is kan Hy jou red.  En as jy ‘n Christen is wat afgedwaal het kan Hy jou herstel.  Sy genade is groter as jou sonde:  “waar die sonde meer geword het, het die genade nog meer oorvloedig geword” (Romeine 5:20).  Maar moenie dít as ‘n verskoning gebruik om te sê:  “Ek kan soveel sondig soos ek wil – die Here sal my altyd net weer vergewe” nie (Romeine 6:1-2).

 

Die voorwaardes van vergifnis (v.5-8)

Ek en ‘n goeie vriend het ‘n debat gehad oor 1 Johannes 1:9:  “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.”  Hý sê:  “God se vergifnis hang nie af van ons belydenis nie.  Al bely ‘n gelowige nie sy sonde nie sal God hom nogsteeds vergewe.”  Ék sê:  “As jy nie jou sondes bely nie sal God jou nie vergewe nie.  1 Johannes 1:9 sê dit.”  Miskien praat ons verby mekaar en het beide van ons ‘n punt beet.  Hy is reg om te sê dat my belydenis nie die basis van God se vergifnis is nie.  Jesus se kruisdood is.  Maar tog het Gód gesê dat Hy my sal vergewe as ek my sondes bely.  Wanneer God my belydenis ontvang en my vergewe, doen Hy dit nogsteeds op grond van Jesus se kruisdood, en nie opgrond van my opregte belydenis nie.

 

Dawid sê nie dat hy nie geweet het dit was verkeerd nie.  Hy verskoon homself nie deur vir Batseba te beskuldig nie.  Hy erken dat hy verkeerd was.  Hy bely sy sonde.  Vyf keer in v.3-5 plaas hy die verantwoordelikheid op homself:  “…my oortredinge… my ongeregtigheid… my sonde… my oortredinge… my sonde…”  Die res van die Skrif leer dat ons dieselfde moet doen:  “My sonde het ek U bekend gemaak, en my ongeregtigheid het ek nie bedek nie.  Ek het gesê:  Ek wil aan die HERE my oortredinge bely; en U het die ongeregtigheid van my sonde vergewe.” (Psalm 32:5).  “Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie; maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid vind.” (Spreuke 28:13).  “Want ons oortredinge is baie voor U, en ons sondes getuig teen ons; want ons oortredinge staan voor ons, en ons ongeregtighede—ons ken hulle” (Jesaja 59:12).

 

Pla die sonde van die verlede jou; is dit heeltyd voor jou gedagtes:  “Want ék ken my oortredinge, en my sonde is altyddeur voor my.” (v.5)?  Die sonde sal voor jou gedagtes bly totdat jy dit bely, jou daarvan bekeer en vergifnis verkry.  Hou daarom jou gewete rein.  “En Paulus het die oë op die Raad gehou en gesê:  Broeders, ek het met ‘n volkome goeie gewete voor God gewandel tot op hierdie dag.” (Handelinge 23:1).  “Daarom oefen ek my ook om altyd voor God en die mense ‘n rein gewete te hê.” (Handelinge 24:16).  “[jy moet] aan die geloof en ‘n goeie gewete vashou.  Sommige het dit van hulle weggestoot en aan die geloof skipbreuk gely” (1 Timoteus 1:19).  Hoe kan jy hierdie verse toepas en jou gewete skoon hou?

 

  1. Bely daaglik jou sonde.  Moenie laat dit ophoop, sodat jy na drie weke of ‘n maand massa-belydenis (as daar so iets is) probeer doen nie.
  2. Bekeer jou dadelik van jou sonde.  Moenie wag nie.  Sonde is soos onkruid wat sy wortels dieper laat sak hoe langer jy dit los.
  3. Moenie die impulse van die Heilige Gees ignoreer nie.  As Hy in jou gewete fluister dat jy moet wegkyk of stilbly, moet jy sy Woord gehoorsaam.
  4. Moenie toelaat dat die toenemende sonde om jou (in die koerante, by die werkplek, op TV) jou afstomp, sodat gruwelike dinge jou nie meer skok of pla nie.

 

Dawid se sonde was teen Batseba en Uria, maar uiteindelik het hy God se wet gebreek toe hy egbreuk en moord gepleeg het.  Daarom sê hy:  “Teen U alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë…” (v.6).  “En Dawid sê vir Natan:  Ek het gesondig teen die HERE!” (2 Samuel 12:13).  Josef het dieselfde geweet:  “hoe kan ek dan hierdie groot kwaad doen en sondig teen God?” (Genesis 39:9).  Ja, dit is reg dat jy jou sonde bely aan die mense teen wie jy gesondig het.  Maar moenie soos die wêreld sê:  “Dit maak nie saak wat ek doen nie, solank ek nie ander mense seermaak nie.”  Om so te redeneer is onbybels, want alle sonde is teen God en word altyd voor sy oë gedoen (v.6a).  Daarom is selfs lelike gedagtes of begeertes gruwelik.  Jy kan nie jou vuis teen God lig en sê die hel is onregverdig nie.  Dit is nie.  Jou sonde is teen God en jy verdien die hel.  Jy het geen hoop totdat jy dit erken en bely dat God reg is in sy uitspraak en straf teen jou nie:  “Teen U alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë, sodat U regverdig kan wees as U spreek, rein as U gerig hou.” (v.6).  Jy moet soos die rower aan die kruis erken dat jý skuldig is en God onskuldig:  “ons [word] tog regverdiglik [gestraf], want ons ontvang die verdiende loon vir ons dade, maar Hy het niks verkeerds gedoen nie.” (Lukas 23:41).  God is heeltemal onskuldig in jou en Dawid se sonde (v.6b).  Wat jy gedoen het is jou eie skuld.

 

Wanneer Dawid sê dat hy ‘n sondaar gebore is verskoon hy nie sy sonde nie, maar hy erken hoe diep die probleem is (v.7).  Die feit dat ons met ‘n sondige natuur gebore is, is nie ‘n verskoning vir mense om te sê:  “Ek is gay gebore… My drankprobleem is geneties” nie.  Daar is genoeg bewyse om te wys dat dit nie so nie.  As die gay en dronkaard homself kan verskoon, kan die moordenaar ook seker sê:  “Ek kan dit nie help nie; ek is so gebore.”  Sielkundiges leer vir mense dat hulle neutraal gebore is, en dat dit eksterne invloede is wat hulle sleg of goed maak.  Dit is nie waar nie.  Die mens is met ‘n sondige natuur gebore (v.7).  Buiten vir hierdie Psalm, wys ander Skrifgedeeltes dieselfde:  “Afvallig is die goddelose mense van die geboorte af; die leuensprekers dwaal van die moederskoot af.” (Psalm 58:4).  “Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het” (Romeine 5:12).  “ons was van nature kinders van die toorn” (Efesiërs 2:3).

 

Enigiemand met ‘breins’ kan sien dis waar.  As dood die gevolg van sonde is (soos Romeine 5:12, 6:23 sê), hoekom sterf babas wat nog nooit sonde gedoen het nie?  Dis duidelik omdat hulle sondaars is; hulle het ‘n sondige natuur.  Waar leer kinders om tantrums te gooi, te lieg en selfsugtig te wees?  Hulle weet van nature hoe, want hulle is met ‘n sondige natuur gebore.  Nog nooit kon die wêreld dit regkry om hierdie probleem op te los deur vir mense te leer om moreel of beskaafd te wees nie.  Opvoeding en godsdiens kan dit nie regstel nie.  Hierdie probleem is so erg en diep, dat die heiligste mense op aarde (soos Dawid) instaat is tot gruwelike sondes soos egbreuk en moord.  Omdat dit so is moet elke Christen 1 Korintiërs 10:12 ter harte neem:  “Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.”

 

Net Jesus Christus is uit ‘n maagd (en daarom ook sondeloos) gebore (Lukas 1:35, Hebreërs 7:26).  Net Hý is sondeloos en reg in die diepte van sy hart (v.8, 1 Petrus 2:22).  Net Hý het die Vader tevrede gestel (Matteus 3:17).  En daarom kon net Hý die straf vir ons sonde op Homself neem aan die kruis.  Hy kan v.7 regstel en ons maak soos v.8:  “Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.  Kyk, U het ‘n welgevalle aan waarheid in die binneste, en in die verborgene maak U aan my wysheid bekend.”  Hy kan ons sondige dade en natuur reinig.  En as Hy dít kan doen is dit nie vir Hom ‘n probleem om die Christen wat afgedwaal het te herstel nie.

Twee dinge wat ouers en kinders vergeet het

Aged parent

13:22 ‘n Goeie mens laat sy kindskinders erwe, maar die vermoë van die sondaar word vir die regverdige weggebêre.  14:26 In die vrees van die HERE lê ‘n sterk sekerheid, ook vir die kinders van ‘n sodanige sal daar ‘n toevlug wees.  15:20 ‘n Wyse seun verbly sy vader, maar ‘n dwase mens verag sy moeder.  17:2 ‘n Verstandige dienaar sal heers oor ‘n seun wat skande maak, en onder die broers sal hy die erfenis verdeel.  19:26 Hy wat sy vader geweld aandoen en sy moeder wegjaag, is ‘n seun wat skande maak en skandelik handel.  20:7 Wie in sy regskapenheid wandel as ‘n regverdige—gelukkig is sy kinders ná hom.  23:22 Luister na jou vader wat jou verwek het, en verag jou moeder nie as sy oud geword het nie.  23:23 Koop waarheid en verkoop dit nie, ook wysheid en tug en verstand. 23:24 Die vader van ‘n regverdige juig baie; en as iemand ‘n wyse verwek het, dan is hy bly oor hom. 23:25 Laat jou vader en jou moeder bly wees, en laat sy juig wat jou gebaar het.  27:8 Soos ‘n voël wat ver van sy nes af rondvlieg, so is ‘n man wat ver van sy tuisplek af rondswerwe.” (Spreuke).

 

Sekuriteit vir jong kinders

Ons almal weet van besighede wat vir geslagte in ‘n familie bly.  ‘n Slim ouer dink, werk en beplan so.  Hy werk nie net vir die hier en nou nie.  Hy dink nie net aan homself nie, maar ook aan sy kinders en kleinkinders se toekoms:  “’n Goeie mens laat sy kindskinders erwe” (13:22a).  “Ek was jonk, ook het ek oud geword, maar nooit het ek die regverdige verlate gesien, of dat sy nageslag brood soek nie.” (Psalm 37:25).  Net soos wat Jesus ‘n erfdeel vir sý kinders nalaat, moet ons vir óns s’n doen.  Dit is nie altyd moontlik nie, maar indien jy kan, moet jy vir hulle ‘n materiële erfenis gee.  Indien jy dit nie kan doen nie, sal God vir hulle sorg.  Alles is buitendien God s’n, sodat Hy dikwels die goddelose se rykdom vir die regverdige gee.

 

‘n Baptiste predikant in ons land het ‘n ongelowige swaer gehad.  Dié swaer was ‘n multi-miljoenêr, maar het die evangelie gehaat en wou nie veel met die predikant te doen hê nie.  Die slegte man het sy vrou (die predikant se suster) geslaan, sodat sy gereeld haar broer gebel het en met trane gesê het:  “My man gaan my doodmaak.”  Hulle het in hulle kar geklim en die 700 km afgelê om mooi met die man te praat.  Maar hy was so hard soos ‘n klip.  Uiteindelik het sy vrou siek geword en is sy oorlede.  Die predikant het hom gereeld gebel om te hoor hoe dit met hom gaan.  Hy was nogsteeds hard en so toe soos ‘n boek.  Die predikant het nie moed opgegee nie.  Eendag toe bel hierdie goddelose man die predikant:  “Ek wil graag hê jy en jou vrou moet vir my kom kuier.”  Hulle het gegaan.  Hy het sy testament gewysig en gesê hy wil hê dat húlle sy miljoene moet erf.  Twee weke later het hy selfmoord gepleeg.  Toe die polisie op die toneel verskyn, het twee polisiemanne ‘n paar duisend rand gesteel en die storie verdraai.  Die koerant het gesê dat die predikant en sy vrou die man vermoor het.  Maar die Here het gesorg dat die waarheid uitkom.  Die polisiemanne is gevang en die predikant en sy vrou het miljoene geërf.  Hulle het BAIE geld vir sending en die verspreiding van die evangelie gegee.

 

Hierdie storie bevestig net die waarheid van 13:22b:  “…die vermoë van die sondaar word vir die regverdige weggebêre.”  Nóg tekste in die Bybel sê:  “Wie sy goed vermeerder deur rente en deur woeker, maak bymekaar vir een wat hom oor die armes sal ontferm.” (28:8).  “As hy silwer ophoop soos stof en klere aanskaf soos modder—hy skaf aan, maar die regverdige trek dit aan; en die onskuldige verdeel die silwer.” (Job 27:16-17).  “Want aan ‘n mens wat welgevallig is voor sy aangesig, gee Hy wysheid en kennis en vreugde, maar aan die sondaar lê Hy die taak op om bymekaar te maak en te versamel, om dit dan te gee aan een wat welgevallig is voor die aangesig van God.  Ook dit is tevergeefs en ‘n gejaag na wind.” (Prediker 2:26).

 

Geestelike rykdom is ononderhandelbaar:  jy móét dit vir jou kinders nalaat.  Gee vir hulle die Woord van God en die evangelie.  Maak seker dat jy vir hulle ‘n goeie en gesonde kerk nalaat.  Onthou dat geld nie belangriker is as ‘n goeie karakter nie.  Party ouers dink dat hulle vir hul kinders sekuriteit bied in rykdom, beleggings, goeie opvoeding of ‘n helder toekoms.  Hulle spandeer die meeste tyd hieraan en gee baie min aandag om hulle kinders van Jesus en sy Woord te leer.  Jóú heiligheid en vrees vir God is die grootste geskenk wat jy vir jou kinders kan gee:  “In die vrees van die HERE lê ‘n sterk sekerheid, ook vir die kinders van ‘n sodanige sal daar ‘n toevlug wees…Wie in sy regskapenheid wandel as ‘n regverdige—gelukkig is sy kinders ná hom.” (14:26, 20:7).  Dis nie die wisselkoers of groot beleggings wat hulle sal veilig hou nie, maar “Die Naam van die HERE is ‘n sterk toring; die regverdige hardloop daarin en word beskut.” (18:10).  “Die vrees van die HERE is tot die lewe” (19:23).  Dís die ware skat en belegging en rykom – om God te ken en Hom te vrees:  “En daar sal bestendigheid van jou tye wees, ‘n rykdom van volle verlossing, van wysheid en kennis; die vrees van die HERE sal sy skat wees.” (Jesaja 33:6).  Jy hoef nie skelm te wees of onderduims te handel om ekstra geld in te bring om vir jou gesin te sorg nie. As jy so lewe sal God jou nie seën nie.  Wees eerlik, opreg en deursigtig – dán sal die Here jou kinders seën:  “Wie in sy regskapenheid wandel as ‘n regverdige—gelukkig is sy kinders ná hom.” (20:7).  Wandel in die lig:  “Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde.” (1 Johannes 1:7).

 

‘n Ouer wat God vrees hoef niks anders te vrees nie.  Sy kinders sal veilig wees – veral van God se toorn deur die evangelie wat hy vir hulle geleer het:  “In die vrees van die HERE lê ‘n sterk sekerheid, ook vir die kinders van ‘n sodanige sal daar ‘n toevlug wees.” (14:26).  Indien ouers vir hulle kinders ‘n voorbeeld en toevlug wil wees, is dit belangrik dat hulle baie tyd by die huis moet spandeer.  Moenie ‘n besigheidspersoon wees wat nooit tuis is nie, gedurig laat werk of vir ure voor die TV sit as jy na werk by die huis kom nie.  Daar bestaan nie iets soos kwaliteit tyd sonder kwantiteit tyd nie.  Dit is beter om elke dag met jou kinders te gesels, in hulle belang te stel en vir hulle die Bybel te leer, as om een keer in twee weke R500 se geskenke vir hulle te koop.  “Soos ‘n voël wat ver van sy nes af rondvlieg, so is ‘n man wat ver van sy tuisplek af rondswerwe.” (27:8).  Die les is duidelik:  wees by die huis.  Moenie dink die gras is groener oorkant die heing, sodat jy wegdwaal nie.  Skape is altyd die veiligste in die kraal.  Hierdie les geld ook op ‘n geestelike vlak.  Jesus verlaat nooit sy bruid, kinders en gesin nie.  Hy is getrou en lojaal.  Moet jy dan ook nie van Hom en jou geestelike gesin (die kerk) af wegdwaal nie.

 

Respek vir bejaarde ouers

In my paar jare van bediening het ek al genoeg ouers gesien wat treur oor hulle volwasse kinders se dwase optrede.  Moenie so ‘n kind wees nie.  Respekteer jou bejaarde ouers.  Moenie wees soos ‘n man wat ingebel het op RSG nie:  “Ek wil vra dat die mense asseblief vir my sal bid.  Ek slaan my ma.”  Moenie wees soos die gevoellose man wat sy bejaarde ouers uit die woonstel agter in sy erf wou uitsit nie.  Onthou eerder dat jou pa aan jou lewe gegee het en jou ma jou in die lewe gebring het (23:22, 25).  Onthou hoe jou ouers opofferingings gemaak het toe jy jonk was.  Dink aan al die lewenslesse wat jy uit hulle monde gehoor het; en wees selfs as ‘n volwassene bereid om van hulle te leer (23:22-23, 31:1).  Moenie met jou bejaarde ouers spot, hulle verwaarloos of hulle vloek nie.  Moenie disrespek betoon, hulle geweld aandoen of hulle wegjaag nie.  In Bybelse tye sou die laasgenoemde veral belangrik wees, omdat families saamgewoon het (dink maar aan Jakob en sy seuns).  Bewys liefde aan jou bejaarde ouers:  bel hulle, bid vir en saam met hulle, besoek hulle, respekteer hulle en sorg vir hulle – veral as jou ma ‘n weduwee is:  “…‘n dwase mens verag sy moeder…Hy wat sy vader geweld aandoen en sy moeder wegjaag, is ‘n seun wat skande maak en skandelik handel.” (15:20b, 19:26).

 

“Want God het bevel gegee en gesê:  Eer jou vader en moeder; en:  Hy wat vader of moeder vloek, moet sekerlik sterwe.  Maar julle sê:  Elkeen wat aan vader of moeder sê:  enige voordeel wat u van my sou kan geniet, is ‘n offergawe—dié hoef sy vader of sy moeder glad nie te eer nie.  So het julle dan die gebod van God kragteloos gemaak ter wille van julle oorlewering.” (Matteus 15:4-6).  Met ander woorde, as jy jou familie pligte versuim, omdat jy dinge vir die Here se werk wil doen, sondig jy.  God sal nooit vir jou sê om iets vir Hom te doen wat jou familie sal laat ondergaan nie.  Jesus self het in sy sterwensuur voorsorg getref vir sy weduwee-ma:  “En toe Jesus sy moeder sien en die dissipel wat Hy liefgehad het, by haar staan, sê Hy vir sy moeder:  Vrou, dáár is u seun!  Daarop sê Hy vir die dissipel:  Dáár is jou moeder!  En van daardie uur af het die dissipel haar in sy huis geneem.” (Johannes 19:26-27).

 

As jy wil hê dat jou kinders jou nie weggooi wanneer jy oud word nie, moet jy sorg dat jy hulle reg tug en opvoed wanneer hulle jonk is.  Indien jy toelaat dat hulle disrespekvol is wanneer hulle klein is, sal hulle erger wees wanneer hulle groot is (dalk sal hulle selfs geweldadig wees).  As jy te streng is of hulle mishandel, sal hulle wraak neem wanneer jy oud word en jou skade aandoen (nie dat dit enigsins reg is nie).  Maak hulle reg groot.  Wanneer jy oud is sal hulle jou liefhê en respekteer.  In die woorde van Salomo in Prediker 11:1:  “Werp jou brood uit op die water, want ná verloop van baie dae sal jy dit vind.”

 

My ma het al dikwels gesê dat sy soos Johannes in 3 Johannes 4 voel:  “Ek het geen groter blydskap as dit nie, dat ek hoor dat my kinders in die waarheid wandel.”  Deur die Here se genade is al vier my ouers se kinders gered (en al hulle skoonkinders).  Ouers sal bly wees wanneer hulle na jare se harde werk sien hoe hulle kinders wys is en hul lering uit die Skrifte gehoorsaam en toepas:  “‘n Wyse seun verbly sy vader…” (15:20a).  “Die vader van ‘n regverdige juig baie; en as iemand ‘n wyse verwek het, dan is hy bly oor hom.  Laat jou vader en jou moeder bly wees, en laat sy juig wat jou gebaar het.” (23:24-25).  Jy moet onder andere nie ‘n ongelowige lewensmaat kies wat die lewe vir jou ouers hel sal maak nie (Genesis 26:34-35, 27:46).  Maak jou bejaarde ouers bly.

 

As jy hierdie verse ignoreer, sodat jy dwaas en rebels is, dan sal jy skande bring op die familienaam:  “Hy wat sy vader geweld aandoen en sy moeder wegjaag, is ‘n seun wat skande maak en skandelik handel.” (19:26).  Jy sal geen erfenis kry nie.  Een van die betroubare werkers sal die plaas of familie besigheid oorneem:  “‘n Verstandige dienaar sal heers oor ‘n seun wat skande maak, en onder die broers sal hy die erfenis verdeel.” (17:2, cf. 2 Samuel 16:4, 1 Konings 11:26-38).  In die kultuur waarin Salomo geleef het, was die erfdeel ‘n groot ding.  In ons tyd voel baie kinders ‘n veer vir hulle erfenis of hul ouers se seën.  Maar hulle sal spyt wees as dit te laat is, as hulle op hul oudag besef wat hulle verloor het (soos Esau of soos ouers wat hulle kinders terugsoek jare nádat hulle die kinders opgegee het vir aanneming).

 

Net soos wat jy jou aardse pa moet blymaak, moet jy ook jou Hemelse Vader bly maak.  Moenie dat sý Naam as gevolg van jóú sondige optrede deur die modder gesleep word nie (Romeine 2:24).  Uiteindelik was dit net Jesus wat sy Vader se hart bly gemaak het (Matteus 3:17).  As jy in Christus glo en jou bekeer, sal God jou vergewe, terugneem, en Hom in jou verbly (Lukas 15:11-32).  Jy sal soos die goeie dienskneg wees wat die erfenis verkry, terwyl die skandelike seuns van die koninkryk (rebelse Israel) uitgewerp word:  “Maar Ek sê vir julle dat baie sal kom van ooste en weste en saam met Abraham en Isak en Jakob sal aansit in die koninkryk van die hemele.  Maar die kinders van die koninkryk sal uitgedryf word in die buitenste duisternis.  Daar sal geween wees en gekners van die tande.” (Matteus 8:11-12).

Die belangrikste ding in die wêreld

hurricane

1 ‘n Psalm van Dawid.  Gee aan die HERE, o hemelinge, gee aan die HERE eer en sterkte! 2 Gee aan die HERE die eer van sy Naam; aanbid die HERE in heilige sieraad! 3 Die stem van die HERE is op die waters, die God van eer donder; die HERE is op die groot waters. 4 Die stem van die HERE is met krag; die stem van die HERE is met heerlikheid. 5 Die stem van die HERE breek seders; ja, die HERE verbreek die seders van die Líbanon; 6 en Hy laat hulle opspring soos ‘n kalf, die Líbanon en Sirjon soos ‘n jong buffel. 7 Die stem van die HERE slaan daar vuurvlamme uit. 8 Die stem van die HERE laat die woestyn bewe; die HERE laat die woestyn van Kades bewe. 9 Die stem van die HERE laat die takbokke lam en maak die bosse kaal; maar in sy paleis sê elkeen:  Heerlikheid! 10 Die HERE het gesit oor die Watervloed; ja, die HERE sit as Koning tot in ewigheid. 11 Die HERE sal sy volk sterkte gee, die HERE sal sy volk seën met vrede.” (Psalm 29).

 

Moenie dink God is wreed of traak-my-nie-agtig nie, maar verskoon my as ek sê:  Die wêreld kan vergaan, maar God moet verheerlik word.  Ester se woorde aan koning Ahasveros geld hier:  “our affliction is not to be compared with the loss to the king.” (Ester 7:4, ESV).  Niks in die hele wêreld is so belangrik as dat God verheerlik moet word nie.

 

God se heerlikheid in die hemel (v.1-2)

Die Hebreeuse woord vir heerlikheid beteken letterlik ‘gewig’ (let maar op hoe mense hulle onder die ‘gewig’ van God se heerlikheid neerbuig na die aarde toe).  In die Griekse taal beteken heerlikheid ‘skerp lig’ (die lig van sy heerlikheid is so helder dat dit jou verblind – sien Handelinge 26:13, 22:11).  Die Bybel beskryf God se heerlikheid as ‘n helder lig in die wolk, vloerwerk van saffierstene, ‘n skerp glans wat ‘n mens kan doodmaak, sy kragtige Woord, ‘n Persoon op ‘n troon voor wie die vlammende hemelwesens (serafs) hulle gesigte verberg, ‘n stem soos die magtige gedreun van massas water, oë wat blits, ‘n koniningskleed, spierwit hare, ‘n gesig soos die son, voete soos brons in ‘n smeltoond, ‘n skerp swaard met twee snykante uit sy mond, die glans van ‘n jaspissteen, ‘n reënboog soos smarag, miljoene aanbidders, ‘n verterende vuur en – die belangrikste van alles – die Persoon van Jesus Christus.[1]  Jesus is immers die afskynsel van sy heerlikheid, die presiese afdruksel van sy wese (Hebreërs 1:3).

 

God is die gans Andere en is met heiligheid beklee (v.2).  Niemand is soos Hy nie.  Die hemelwensens [Hebreeus:  ‘seuns van God’, cf. Job 38:7] moet Hom prys (v.1).  Ons sien in Jesaja 6:2-3 hoe die serafs Hom prys.  In Openbaring 4-5 aanbid allerhande hemelwesens hom.  In Lukas 2 prys ‘n hele weermag van engele die kind wat in Betlehem gebore is.  En Hebreërs 1:6 sê “al die engele van God moet Hom aanbid.”

 

Sonde verblind mense om God se heerlikheid te sien, want “almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God.” (Romeine 3:23).  Satan ook.  2 Korintiërs 4:4 praat van “die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie.”  Deur die evangelie maak die Heilige Gees mense se oë oop om die heerlikheid van God in die Skrif te sien:  “Want God wat gesê het dat daar uit duisternis lig moet skyn—dit is Hy wat in ons harte geskyn het om die verligting te bring van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus…En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ‘n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is.” (2 Korintiërs 3:18, 4:6).  Die wonderlikste natuurtoneel wat jy nog ooit in hierdie wêreld aanskou het is maar ‘n skadu van God se heerlikheid.  Wanneer jy in die hemel God se heerlikheid aanskou sal daar nie meer asem in jou wees nie.  Dit sal jou oorweldig – vir ewig.  Jy kan nou reeds hierdie heerlikheid begin aanskou in die evangelie.  Buig voor God in diepe aanbidding saam met die engele:  “Maar julle het gekom by die berg Sion en die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem en tien duisende engele…Daarom, omdat ons ‘n onwankelbare koninkryk ontvang, laat ons dankbaar wees, en so God welbehaaglik dien met eerbied en vrees.  Want onse God is ‘n verterende vuur.” (Hebreërs 12:22, 28-29).  Terwyl ons op die aarde is, laat ons mango’s eet, ystee drink en alles doen tot verheerliking van God (1 Korintiërs 10:31).

 

God se heerlikheid in die storm (v.3-10)

Martin Luther is amper deur weerlig raakgeslaan.  Hy het gesidder van vrees.  Een aand was daar ‘n groot storm in Kempton.  Ons kinders was al in die bed.  Toe ons in hulle kamer kom was ons oudste dogter nie daar nie.  Ons het haar gekry waar sy saam met die hond onder die bed sit en bewe.

 

God wys onder andere sy heerlikheid (v.1-2) in donderstorms (v.3-10).  In Psalm 29 is die stem van die Here ‘n sinoniem vir donderstorms.  Verskeie Skrifgedeeltes beskryf dit so:

 

“En die HERE het in die hemel gedonder, en die Allerhoogste het sy stem laat hoor” (18:14).

 

“Kyk, God is groot en onbegryplik vir ons; die getal van sy jare is onnaspeurlik.  Want Hy trek waterdruppels af; hulle sif neer by sy mistige weer as reën wat die wolke laat neerstroom, laat afdrup op baie mense.  Ja, kan iemand die uitspreiding van die wolke verstaan, die gekraak van sy hut?  Kyk, Hy sprei sy lig oor Hom uit, en die dieptes van die see oordek Hy.  Want daarmee oordeel Hy die volke, gee Hy voedsel in oorvloed.  Altwee sy hande oordek Hy met weerlig en gee daaraan bevel teen die aanvaller.  Sy donderstem kondig Hom aan, die vee selfs dat Hy optrek.   Ja, hiervoor beef my hart en spring op uit sy plek.  Luister, luister na die gedruis van sy stem en die dreuning wat uit sy mond uitgaan.  Onder die ganse hemel laat Hy dit los en sy lig oor die eindes van die aarde.  Daarna brul sy stem, Hy donder met sy stem vol majesteit en hou die bliksems nie terug as sy stem gehoor word nie.  God donder wonderbaar met sy stem; Hy doen groot dinge wat vir ons onbegryplik is.” (Job 36:26-37:5).

 

“Toe het Samuel die HERE aangeroep, en die HERE het donderslae en reën op dié dag gegee, sodat die hele volk baie bevrees geword het vir die HERE en vir Samuel.” (1 Samuel 12:18).

 

“Vader, verheerlik u Naam!  Daar het toe ‘n stem uit die hemel gekom:  Ek hét dit verheerlik, en Ek sal dit weer verheerlik.  En die skare wat daar gestaan en dit gehoor het, het gesê dat daar ‘n donderslag gewees het.  Ander het gesê:  ‘n Engel het met Hom gespreek.  Jesus antwoord en sê:  Hierdie stem het nie om My ontwil gekom nie, maar om julle ontwil.” (Johannes 12:28-30).

 

Dawid beskryf God se krag en majesteit in die storm (v.4):

  • Massas reën (v.3)
  • Swaar donderweer (v.3)
  • Blitse en ‘n stormwind wat 40 meter hoë en 2.5 meter dik seders stukkend ruk (v.5, 7)
  • Die storm se krag soos ‘n jong buffel of kalf wat jy nie kan vasdruk nie (v.6)
  • Die oorverdowende eggo van donderslae in die Lebanon- en Hermonberge (v.6, Sirion is ‘n ander naam vir Hermon – sien Deuteronium 3:8-9).

 

Die storm woed uit en beweeg van Lenanon en Hermon in die noorde, na die Kadeswoestyn in die Sinaï-skiereiland van die suide (v.8).  Ná die storm is die bos kaalgestroop, takke afgebreek en bome platgeslaan (v.9).  Maar dieselfde magtige stem wat verwoesting gesaai het, laat die takbokke lam sodat hulle in die weiding speel ná die reën (v.9).[2]

 

God is Koning oor ‘n verwoestende storm wat vir ons buite beheer lyk (v.10).  Ons sien dit die duidelikste in Genesis 6-8 waar God as Koning heers oor die wêreldwye vloed.  Genesis 6:17 sê:  “Want kyk, Ék bring ‘n watervloed oor die aarde, om van onder die hemel te verdelg alle vlees waar ‘n lewensgees in is.  Alles wat op die aarde is, sal wegsterwe.”  Die omliggende nasies het geglo dat gode soos Shu, Tefnut, Nut en Baäl die reën en weerspatrone beheer.  Maar in Psalm 29:3-10 wys Dawid dat Jahweh die Koning en God van die storm is.  In Eksodus 9:13-35 het God dit deur ‘n haelstorm bewys.  Hy het die gode van Egipte oorwin:  “Ek sal strafgerigte oefen aan al die gode van Egipte, Ek, die HERE.” (Eksodus 12:12).  Baäl was veronderstel om die god van vrugbaarheid te wees; die god wat reën moes gee, sodat daar ‘n oes op die lande was.  Elia het die Baäl profete uitgedaag om te sien wie se God met vuur (weerlig) uit die hemel antwoord.  Na ‘n hele dag van gebed het die vals profete se god nie geantwoord nie.  Maar toe Elia bid, het God vuur (waarskynlik ‘n blits) uit die hemel gestuur en die offer saam met die altaar verskroei (sien 1 Konings 18:20-40).  Na die drie en ‘n half jaar van droogte was dit nie Baäl wat reën gestuur het nie, maar Jahweh, die God van Israel (1 Konings 18:41-46).  Hy is Koning oor die storm (v.10).

 

Die magtige donderstorm is maar ‘n klein vertoning van God se heerlikheid en mag.  Net so ook die kragtigste dinge in die skepping:  “Kyk, dit is maar die uitlopers van sy weë, en wat ‘n fluisterwoord hoor ons maar van Hom!  Wie sou dan die donder van sy magtige dade verstaan?” (Job 26:14).  Op die laaste Dag sal jy die volle gewig van sy heerlikheid en mag voel.  Op dáárdie Dag sal Hy regtig die seders vernietig en die berge omdolwe:

 

“Die hoë oë van die mense sal verneder word, en die hoogheid van die manne neergebuig word; en die HERE alleen sal in dié dag verhewe wees.  Want ‘n dag is daar vir die HERE van die leërskare oor al wat trots en hoog is, en oor al wat verhewe is, sodat dit verneder kan word; en oor al die hoë en verhewe seders van die Líbanon en oor al die eikebome van Basan; en oor al die hoë berge en oor al die verhewe heuwels; en oor al die hoë torings en oor al die versterkte mure; en oor al die skepe van Tarsis en oor al die kosbare pronkstukke.  Dan sal die hoogheid van die mense neergebuig en die trotsheid van die manne verneder word; en die HERE alleen sal in dié dag verhewe wees.” (Jesaja 2:11-17).

 

Maak seker jy’s aan die kant van dié wat God in sy paleis aanbid en sy heerlikheid bewonder (v.9).  God is heilig.  As daar een greintjie van sonde in jou is sal God jou verwoes.  Alleen in Jesus Christus se kruisdood vir sondaars en sy opstanding uit die dood, is daar vir jou hoop.  As jy jou bekeer en heelhartig op Christus vertrou, sal God jou sondes vergewe.  En dan sal die Heilige Gees jou meer en meer heilig maak, totdat jy volmaak is op die dag wat Jesus kom en jy sy heerlikheid aanskou.

 

God se heerlikheid in sy volk (v.11)

In die geskiedenis van Israel het God dikwels storms gebruik om sy volk se vyande (en dikwels vir Israel self) te oorweldig.

 

“Die waters het U gesien, o God, die waters het U gesien, hulle het gebewe; ja, die watervloede het gesidder.  Die wolke het water uitgegiet, die hemele het donder laat hoor, ook het u pyle rondgevlieg.  U rollende donder het weerklink; bliksems het die wêreld verlig; die aarde het gesidder en gebewe.” (Psalm 77:17-19).

 

“En Moses het sy staf na die hemel uitgesteek, en die HERE het donder en hael gegee, en vuur het na die aarde uitgeskiet; en die HERE het hael op Egipteland laat reën.  En daar was hael en onophoudelike vuur binne-in die hael, baie swaar, soos in die hele Egipteland nooit gewees het vandat dit aan ‘n volk behoort het nie.  En die hael het in die hele Egipteland geslaan alles wat in die veld was, mense sowel as diere.  Ook het die hael al die plante van die veld geslaan en al die bome van die veld verbreek.” (Eksodus 9:23-25).

 

“En toe hulle voor Israel uit vlug terwyl hulle op die afdraand van Bet-Horon was, het die HERE groot haelstene uit die hemel op hulle gewerp tot by Aséka, sodat hulle gesterf het; daar het meer gesterf deur die haelstene as wat die kinders van Israel met die swaard doodgeslaan het.” (Josua 10:11).
“Die wat met die HERE twis, word verpletter; oor hulle donder Hy in die hemel; die HERE oordeel die eindes van die aarde, en Hy gee sterkte aan sy koning en verhef die horing van sy gesalfde.” (1 Samuel 2:10).

 

“Want onderwyl Samuel die brandoffer bring en die Filistyne nader kom om teen Israel te veg, het die HERE dit dié dag met ‘n groot geluid laat donder oor die Filistyne, en Hy het hulle in verwarring gebring, sodat hulle verslaan is voor Israel.” (1 Samuel 7:10).

 

“Toe ek benoud was, het ek die HERE aangeroep, en ek het geroep tot my God; en uit sy paleis het Hy my stem gehoor, en my hulpgeroep was in sy ore.  Toe het die aarde geskud en gebewe, die fondamente van die hemel het gesidder en geskud, omdat Hy toornig was.  Rook in sy neus het opgegaan, en ‘n vuur uit sy mond het verteer; kole uit Hom het gebrand.  En Hy het die hemel gebuig en neergedaal, en wolkedonkerheid was onder sy voete.  En Hy het op ‘n gérub gery en gevlieg; ja, Hy het verskyn op die vlerke van die wind.  En Hy het duisternis rondom Hom as hutte gestel, versameling van waters, diktes van wolke.  Uit die glans voor Hom het gloeiende kole gebrand.  Uit die hemel het die HERE gedonder, en die Allerhoogste het sy stem laat hoor.  En Hy het pyle uitgestuur en hulle verstrooi, bliksems en hulle verwar.” (2 Samuel 22:7-15).

 

“En die HERE sal sy stem vol majesteit laat hoor en die neerdaling van sy arm laat sien, met grimmige toorn en die vlam van ‘n verterende vuur, storm en stortreën en haelkorrels.  Want vir die stem van die HERE sal Assur verskrik wees; met die stok sal Hy slaan” (Jesaja 30:30-31).

 

“En daar het stemme gekom en donderslae en bliksemstrale, en daar het ‘n groot aardbewing gekom soos daar nog nie gewees het vandat die mense op die aarde was nie so ‘n geweldige groot aardbewing.  En die groot stad is in drie dele verdeel, en die stede van die nasies het geval.  En die groot Babilon is in gedagtenis gebring voor God, om haar te gee die beker met die wyn van die grimmigheid van sy toorn.  En alle eilande het gevlug, en berge is daar nie gevind nie; en groot hael, omtrent ‘n talent swaar, het uit die hemel op die mense geval; en die mense het God gelaster oor die plaag van die hael, omdat sy plaag ontsettend groot was.” (Openbaring 16:18-21). 

 

Die sterkte wat ons aan God toeskryf (v.1) kom van Hom af (v.11).  Dit is Hy wat aan sy kinders krag gee om teen die vyand te staan.  Daar is vrede nadat God die vyande verdryf het.  Spreekwoordelik kan ons sê daar is ‘n reënboog (v.11) na die verskriklike storm (v.3-10).  Selfs vir die ongelowige is daar ‘n reënboog en ‘n tyd van genade.  Daarom moet elke ongelowige hom bekeer, want wanneer die finale storm tref is dit te laat.  Bou nóú jou huis op die rotsfondasie van Jesus Christus, sodat jou huis staande sal bly in die laaste storm (Matteus 7:24-27).  Dan sal jy vir ewig die heerlikheid van God en die reënboog van sy genade (Openbaring 4:2-3) aanskou en geniet.

 


[1] Eksodus 16:10, 24:10, 16-17, 33:18-34:8, 40:34-35, Levitikus 9:23-24, Jesaja 6:2-3, Esegiël 1:26-28, Matteus 17:2, Openbaring 1:12-16, 4:2-3, 5:11-14.

[2] Ek is daarvan bewus dat ‘n effense verbuiging van Hebreeuse klanke kan veroorsaak dat v.9a beteken:  ‘Hy laat die eikebome skud’.  Maar ek volg eerder die teks wat sê dat die takbokke lammers kry (alhoewel hierdie gedagte volgens sommige nie regtig by die hele donderstorm beeld pas nie).

Hoekom móét jy jou kind pak gee?

Spanking

13:24 Wie sy roede terughou, haat sy seun; maar hy wat hom liefhet, besoek hom met tugtiging.  19:18 Tugtig jou seun, want daar is hoop; maar laat dit nie in jou opkom om hom dood te maak nie.  17:6 Kindskinders is ‘n kroon vir grysaards, en vir die kinders is hulle vader ‘n eer.  20:30 Bloedige wonde suiwer die kwaad uit en slae die kamers van die binneste.  22:6 Oefen die seun volgens die eis van sy weg; dan sal hy, ook as hy oud word, daar nie van afwyk nie.  22:15 As die sotheid vassit in die hart van die seun, die tugroede sal dit daaruit verwyder.  23:13 Hou die tug nie terug van die seun nie; as jy hom met die roede slaan, sal hy nie sterwe nie. 23:14 Jy sal hom wel met die roede slaan, maar sy lewe van die doderyk red.  29:15 Die roede en die bestraffing gee wysheid; maar ‘n seun wat aan homself oorgelaat word, steek sy moeder in die skande. 29:17 Tugtig jou seun, dan sal hy jou rus gee en aan jou siel vreugde verskaf.” (Spreuke).

 

Bybelse tug wys liefde (13:24)

Ons almal ken mense wat nie glo in pakslae nie, mense wat die metodes van moderne sielkunde volg.  Ek het onlangs in ‘n populêre Suid-Afrikaanse tydskrif ‘n artikel gelees wat teen lyfstraf is.  Mense wat so glo, is verkeerd.  God se Woord laat nie plek toe vir debat oor die onderwerp nie.  Die Hebreeuse woord vir roede beteken ook stok of staf.  Dit word onder andere gebruik in 2 Samuel 7:14:  “Ek sal vir hom ‘n vader wees, en hy sal vir My ‘n seun wees; sodat as hy verkeerd handel, Ek hom sal straf met ‘n menslike roede en met slae van mensekinders.”  Ouers wat nie vir hulle kinders pak gee nie, doen dieselfde skade as ‘n ouer wat sy kind haat:  “Wie sy roede terughou, haat sy seun” (13:24a).  Tug (en dit sluit pakslae in) is ‘n betoning van liefde, omdat die ouer sy kind van die verkeerde pad af wil wegdraai:  “hy wat [sy kind] liefhet, besoek hom met tugtiging.” (13:24b).  Selfs God tugtig ons (dikwels swaarder as enige pakslae):

 

5 En julle het die vermaning heeltemal vergeet wat tot julle as seuns spreek:  My seun, ag die tugtiging van die Here nie gering nie en beswyk nie as jy deur Hom bestraf word nie; 6 want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem.  7 As julle die tugtiging verdra, behandel God julle as seuns; want watter seun is daar wat die vader nie tugtig nie? 8 Maar as julle sonder tugtiging is, wat almal deelagtig geword het, dan is julle onegte kinders en nie seuns nie. 9 Verder, ons het ons vaders na die vlees as kastyders gehad, en ons het vir hulle ontsag gehad; moet ons nie veel meer aan die Vader van die geeste onderworpe wees en lewe nie?  10 Want húlle het ons wel ‘n kort tydjie na hulle beste wete getugtig; maar Hy tot ons beswil, sodat ons sy heiligheid kan deelagtig word. 11 Nou lyk elke tugtiging of dit op die oomblik nie ‘n saak van blydskap is nie, maar van droefheid; later lewer dit egter ‘n vredevolle vrug van geregtigheid vir die wat daardeur geoefen is.” (Hebreërs 12:5-11).

 

Moenie met God stry nie.  Aanvaar eenvoudig dat sy metode beter en wyser is as die wêreld s’n.

 

Wanneer 13:24 sê:  “besoek hom met tugtiging,” kan die Hebreeus ook vertaal word met:  “tugtig hom vroeg”.  Met ander woorde, reeds wanneer die kind jonk is kan jy begin om hom pak te gee.  Daar is nie ‘n vaste ouderdom nie, maar sodra die kind sy rug teen jou kan styf maak (byvoorbeeld wanneer jy sy doek ruil of ‘n speelding by hom wegvat) kan hy begin pak kry.  Dit mag selfs so vroeg wees as 8-10 maande.  Moenie die kind op sy doek slaan nie.  As hy nie pyn voel nie, help dit nie.  Hy moet genoeg pyn voel om te weet daar sal gevolge wees as hy dit weer doen.  Tog moet jy nie jou kind nie soos ‘n slaaf of ‘n dier mishandel nie (nie dat ons slawe of diere moet mishandel nie, maar ek gebruik dit by wyse van spreke).

 

Bybelse tug red van die dood (19:18, 23:13-14)

‘n Predikant met vyf kinders het my vertel dat een van sy kinders baie moeilik was.  Hulle het haar getrou liefgehad en pak gegee.  “Nou is sy een van my ‘sweetste’ kinders,” het hy gesê.  God se metode van tug gee hoop vir ouers wat ‘n moeilike kind moet grootmaak.  As dit vir jou lyk of pakslae nie werk nie:  volhard en werk vir die langtermyn.  “Tugtig jou seun, want daar is hoop” (19:18a).  Moeie tug terughou deur jou afwesigheid, ‘n onbybelse opinie, of traagheid om pak te gee nie (23:13).  Party mense dink dat pakslae ‘n kind sielkundig sal krenk of fisies sal beskadig.  Die waarheid is dat jy die kind se dood beplan en hom skade aandoen as jy hom níé pak gee nie:  “laat dit nie in jou opkom om hom dood te maak nie…Hou die tug nie terug van die seun nie; as jy hom met die roede slaan, sal hy nie sterwe nie.  Jy sal hom wel met die roede slaan, maar sy lewe van die doderyk red.” (19:18b, 23:13-14).

 

Bybelse tug maak ‘n indruk (17:6, 22:6)

Natuurlik sluit tugtiging meer in as net pak:  jy leer jou kind ‘n lewe van dissipline.  Jou voorbeeld en opvoeding maak ‘n indruk op die kind.  Soos oumas en oupas trots is op hulle kleinkinders, is jong kinders trots op hulle ouers (17:6).  Hulle na-aap hulle en wil soos hulle ouers wees.  ‘n Tydjie gelede het twee van my kinders ‘n A4 papier geneem, in die helfte gevou, en hulle eie laptop gemaak.  Hulle het langs my kom sit terwyl ek my preke voorberei, en presies gedoen wat ek doen.  Terwyl jy alles in jou kinders se lewens is, moet jy die geleentheid benut om hulle positief te beïnvloed.  Volg Jesus volheid, sodat hulle eintlik vir Christus volg as hulle jóú navolg (1 Korintiërs 11:1).  Onthou dat opvoeding ‘n proses is en tyd neem (22:6, train in die ESV).  Wees daarom geduldig.

 

“Oefen die seun volgens die eis van sy weg; dan sal hy, ook as hy oud word, daar nie van afwyk nie.” (22:6).  Dié vers is moeilik om te interpreteer.  Dit kán beteken dat jy die kind moet grootmaak volgens (God se) weg, en as hy eendag oud is sal hy nóg onthou wat reg is (cf. 2 Timoteus 3:15).  Óf dit kan beteken dat ‘n kind op sy oudag nog sal dwaal, omdat jy hom sy sin gegee het en volgens sy eie weg grootmaak het.  ‘n Laaste interpretasie is dat elke kind se aard verskil, en dat jy daarom die kind volgens sý weg moet grootmaak (nie dat jy hom sy sin moet gee nie, maar dat jy in ag moet neem dat party kinders hardkoppiger of sagmoediger is as ander).  Al hierdie interpretasies klink Bybels en daarom sal ek nie swaarde kruis met iemand wat die vers anders as ek interpreteer nie.  Ek dink ons móét onthou dat hierdie vers nie ‘n belofte vir redding is nie.  Moet dan nie teleurgesteld wees as jy jou kind reg grootmaak het, en hy nie gered word nie.  Hierdie vers (soos baie ander in Spreuke) is ‘n algemene reël van hoe dinge in die lewe werk.  Maar daar is uitsonderings.

 

Bybelse tug reinig die hart (20:30, 22:15)

Op ‘n tyd was ons moedeloos met een van ons kinders.  Ons het die kind pak gegee, maar die hardkoppigheid wou nie wyk nie.  “Wat moet ons doen?” het ek vir ‘n ouer predikant gevra.  Sonder om lank te dink het hy geantwoord:  “Slaan die kind harder.”  Ons het sy raad gevolg en binne twee dae was ons probleem opgelos.

 

Die westerse mens sê veels te gou dat pakslae kindermishandeling is.  Moenie toelaat dat die kind se pyn jou hart smelt, sodat jy ophou om pak te gee nie.  ‘n Pakslae dryf die natuurlike dwaasheid (Psalm 51:5) uit ‘n kind se hart uit:  “Bloedige wonde suiwer die kwaad uit en slae die kamers van die binneste…As die sotheid vassit in die hart van die seun, die tugroede sal dit daaruit verwyder.” (20:30, 22:15).  Pakslae kan nie ‘n kind van sy sonde red nie, maar dit wys vir die kind hoe sondig sy hart is, en dryf hom na die evangelie toe; na Jesus toe deur wie se wonde en houe daar vir ons genesing gekom het (Jesaja 53:5).  Galasiërs 3:24 illustreer wat ek nou-net gesê het:  “Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe”.  As jy jou kind reg wil tug, dan mik jy nie net om sy gedrag te verander nie, maar sy hart.  Wanneer jy jou kind pak gee, moet jy vir hom sy sondige dade én motiewe uitwys, en die hoop van die evangelie met hom deel.

 

Bybelse tug gee wysheid (29:15)

‘n Ma in Australië het by ‘n vriendin gekuier.  Haar kind het op die vriendin se banke gespring.  Die ma het saggies met haar kind gepraat:  “My kind, miskien is dit nie goed om op ander mense se banke te spring nie.  Jy kan kies of jy wil aanhou spring of ophou; jy kan ‘n goeie of ‘n slegte keuse maak.  Wat gaan jy kies?”  Die kind het afgeklim.  Die ma het gesê:  “Goeie keuse.”  Later het die ma vir die kind gevra:  “Wil jy ‘n appel of ‘n piesing hê?  Moet ek dit vir jou in vier of agt stukke sny?  Gaan jy ‘n goeie of ‘n slegte keuse maak?”  Blah blah blah.

 

Klein kinders moenie self groot besluite neem nie.  As jy ‘n kind aan homself oorlaat sal jý eendag die vrot vrugte pluk:  “…‘n seun wat aan homself oorgelaat word, steek sy moeder in die skande.” (29:15).  “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai.  Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai; maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe maai.” (Galasiërs 6:7-8).  Leer jou kind van kleins af dat hy nie selfstandig is nie, en dat hy altyd onder gesag sal wees (al gaan hy nie vir altyd onder jóú gesag wees nie).  Leer vir hom dat dit goed en veilig is om onder gesag te wees, en dat dit sleg is as hy sy eie baas wil wees.  Indien hy nie jou gesag wil aanvaar nie, moet jy hom pak gee en die regte weg leer.  Pakslae en lering moet altyd hand aan hand gaan.  Jy moenie die een sonder die ander gebruik nie:  “Die roede en die bestraffing gee wysheid” (29:15).  Gebruik die Skrif om vir jou kind te wys waar hy verkeerd gegaan het en hoe om dinge reg te stel.  As jy dít doen sal jy nie beskaam word (29:15b) wanneer mense sê:  “Daardie stoute ‘brat’ is húlle kind.” (of erger skandes as hulle ouer is).  En in ‘n kultuur waar jou familie se naam en skaamte iets beteken het (die Joodse kultuur), het dit saakgemaak.

 

Bybelse tug gee rus (29:17)

Dit is absoluut onnodig dat ouers hulle 18 en 20 jarige kinders pak gee.  As jy op ‘n vroeë ouderdom begin om jou kinders pak te gee, dit reg doen en konstant is, sal die taak afhandel wees nog voordat hulle tieners is.  Jy sal nie hoef wakker te lê oor jou tiener of student nie.  Jy sal ‘n geruste hart en vreugde hê oor jou verantwoordelike kind:  “Tugtig jou seun, dan sal hy jou rus gee en aan jou siel vreugde verskaf.” (29:17).

Berg Everest van die Psalms

Everest

1 ‘n Loflied van Dawid.  Alef.  o My God, o Koning, ek wil U verhoog en u Naam loof vir ewig en altyd. 2 Bet.  Elke dag wil ek U loof en u Naam prys vir ewig en altyd.  3 Gimel. Die HERE is groot en baie lofwaardig, en sy grootheid is ondeurgrondelik. 4 Dalet. Die een geslag prys u werke by die ander, en hulle verkondig u magtige dade. 5 He. Ek wil spreek van die glans van u heerlike majesteit en van u wonderbare dade.  6 Wau. En hulle sal spreek van die krag van u vreeslike dade, en u grootheid wil ek vertel.  7 Sajin. Hulle sal die gedagtenis van u grote goedheid laat uitstroom en jubel oor u geregtigheid.  8 Get. Genadig en barmhartig is die HERE, lankmoedig en groot van goedertierenheid.  9 Tet. Die HERE is vir almal goed, en sy barmhartighede is oor al sy werke. 10 Jod. Al u werke loof U, o HERE, en u gunsgenote prys U.  11 Kaf. Hulle maak melding van die heerlikheid van u koninkryk en spreek van u mag, 12 Lamed. om aan die mensekinders sy magtige dade bekend te maak en die glansryke heerlikheid van sy koninkryk.  13 Mem. U koninkryk is ‘n koninkryk van alle eeue, en u heerskappy duur deur al die geslagte.  14 Samek. Die HERE ondersteun almal wat val, en Hy rig almal op wat neergeboë is.  15 Ajin. Die oë van almal wag op U, en U gee hulle hul spys op die regte tyd.  16 Pe. U maak u hand oop en versadig alles wat lewe met welbehae.  17 Sade. Die HERE is regverdig in al sy weë en goedgunstig in al sy werke.  18 Kof. Die HERE is naby almal wat Hom aanroep, almal wat Hom aanroep in waarheid.  19 Resj. Hy vervul die wens van die wat Hom vrees, en Hy hoor hul hulpgeroep en verlos hulle.  20 Sjin. Die HERE bewaar almal wat Hom liefhet, maar Hy verdelg al die goddelose.  21 Tau. My mond sal die lof van die HERE uitspreek, en laat alle vlees sy heilige Naam loof vir ewig en altyd.” (Psalm 145).

 

Loof God vir sy grootheid (v.1-3)

In 1986 het ek Haley se komeet gesien.  My pa se verkyker het dit nader gebring en meer laat lyk soos wat dit werklik is.  Dit is hoe Dawid vir God wil verhoog in hierdie Psalm:  nie deur Hom groter te maak as wat Hy is nie (God is klaar volmaak en niemand kan Hom groter maak nie), maar deur Hom meer te wys vir wie Hy werklik is.  Daar is seker geen Psalm wat God se grootheid en Persoon meer verhef as hierdie een nie – dit is die berg Everest van die Psalms.  Elke reël begin met ‘n verskillende letter van die Hebreeuse alfabet.  Ons kan byna sê dat hierdie Psalm die ABC van lof aan die Here is.

 

God is verhewe in die hemel, maar hy is ook my God (v.1).  Dawid weet dat hý nie die regte Koning is nie:  God is (v.1).  Daarom sal hy Hom vir ewig, maar ook elke dag loof (v.1-2).  Ons gebruik kilogram om gewig te meet, kilometer vir afstand, km/h vir spoed, m3 vir volume, decibels vir klank, liter vir vloeistof, die Richterskaal vir aardbewings, ensovoorts.  Maar God se grootheid is onmeetbaar:  “Die Here is groot en baie lofwaardig, en sy grootheid is ondeurgrondelik.” (v.3).  Job 11:7 sê:  “Kan jy die dieptes van God peil?  Of sal jy kan deurdring tot by die volmaaktheid van die Almagtige?”  Daarom sal ons ‘n ewigheid nodig hê om sy lof te besing (v.1-3).

 

Dawid sê dat God baie lofwaardig is (v.3).  Die Hebreeus sê letterlik dat ons God in die hoogste graad moet loof.  Met ander woorde, ons moet Hom loof in ooreenstemming met sy onpeilbare grootheid.  Psalm 150:2 stel dit so:  “loof Hom na die volheid van sy grootheid!”  Ons moet groot lof bring vir ‘n groot God.  Wie ‘n hoë siening van God het sal Hom só loof; wie ‘n lae siening handhaaf sal Hom oppervlakkig loof.  Hier is ‘n paar aspekte van lofsang wat ooreenstem met ons groot God:

 

  • Die inhoud is solied en vertel van sy groot Wese en werke.
  • Die taal is beskrywend en nie oppervlakkig nie.
  • Die waarhede wat ons sing wek gepaste emosies op en laat jou nie koud nie.
  • Die wysie pas by die woorde.  As die woorde erns vereis, het die wysie ‘n ernstige toon.  As die woorde opgeruimd is, dan is die wysie opgeruimd.
  • Jou liggaamshouding toon respek.  Jy is nie slordig of so ontspanne soos iemand wat strand toe gaan nie.
  • Jy is met die Heilige Gees vervul en dus vloei jou lofgesange spontaan uit jou hart en oor jou lippe (Efesiërs 5:18-19, Johannes 4:24).
  • Jy verstaan dat vyftig of vyfhonderd mense se lofsang baie meer ere aan God kan bring as een persoon s’n.  Daarom mis jy nie die samekoms van gelowiges nie.
  • Jy prys God vir sy grootste werk, naamlik verlossing (Openbaring 5:9).

 

Loof God vir sy werke (v.4-7)

Hoe loof ons die Here vir sy werke?

 

  1. Vertel vir jou kinders daarvan (v.4).  “‘n Nageslag sal Hom dien; dit sal vertel word van die HERE aan die volgende geslag.  Hulle sal aankom en sy geregtigheid verkondig aan die volk wat gebore word; want Hy het dit gedoen.” (22:31-32).  God se werke is inderdaad van geslag tot geslag vertel.  Psalm 145 en ook die evangelie het ons bereik!  Onthou hoe die Israeliete tydens die Pasga vir hulle kinders vertel het dat God hulle uit Egiptiese slawerny verlos het (sien Eksodus 12-13).  Ons lees herhaaldelik in die Ou Testament van God se werke by die Rooi See, in die woestyn en deur die tien plae (sien byvoorbeeld Psalm 78, 105-107).  Ons moet ook vir ons kinders van God se groot werke vertel:  die skeppingsverhaal, God se wonderwerke in die Ou- en Nuwe Testament, Jesus se kruisdood en opstanding, die vordering van die evangelie soos opgeteken in Handelinge, herlewings in die geskiedenis, jou eie bekering, God se voorsienigheid in jou lewe, antwoorde op gebed.  Gebruik ook die nagmaal en die doop as geleenthede om te vertel van God se groot verlossingswerk.

 

  1. Oordink God se werke; die glans en heerlike majesteit daarvan (v.5).  Dink oor Jesus Christus se glansryke majesteit (Hebreërs 1).  Ek is seker jy het al by kere so diep gedink oor ‘n saak dat dit emosie by jou laat opwel het.  Praat só met jouself oor God en sy werk:  die skepping, voorsienigheid, Jesus se Persoon en sy kruiswerk.

 

  1. Vertel vir ander (v.6).  As jy met jouself hieroor praat sal jy binnekort met ander daaroor praat.  Die werke self vertel van God se grootheid (v.6a, Psalm 19:1-7):  blitse en donderslae, die magtige oseaan, reuse diere, aardbewings, die sterre, die son, God se wonderwerke, die kruisdood en opstanding van Jesus.  Voeg jou stem by die skepping s’n en vertel van God se werke (v.6b).  Doen dit veral deur evangelisasie.

 

  1. Sing daarvan (v.7).  God se werke is so vol van sy goedheid dat dit uitbreek in lofsang (v.7).  Sien God se goedheid in die sonskyn, die reën, groen gras, vrugte bome, families, God se voorsiening, verlossing en baie meer (sien Genesis 1:31).  Niemand kan God se goedheid ontken nie.  God se werke sing, jubel en roep dit uit:  die see, die voëls, die wind, die son, die visse van die see, die diere van die aarde, klein kinders en gelowiges (v.7b, Romeine 1:19-20).  Alles in die heelal wys vir ons dat God net goed en reg doen (v.7).  Dit is veral in die kruis wat hierdie goedheid en regverdigheid die helderste skyn.

 

Loof God vir sy genade (v.8-9)

‘n Stoute kind wat die pakslae van sy lewe verdien, maar dit nie kry nie ondervind barmhartigheid.  Dieselfde kind wat nie die grootste roomys en partytjie ooit verdien nie, maar dit wel ontvang, ondervind genade.  God is geduldig en gee nie die straf wat ons verdien nie (barmhartigheid).  In plaas van die straf gee Hy aan ons die goeie wat ons nie verdien nie (genade).  “Genadig en barmhartig is die HERE, lankmoedig en groot van goedertierenheid.” (v.8).  Weereens is dit in die kruis van Jesus wat ons hierdie genade, liefde, goedheid en barmhartigheid die duidelikste sien.

 

In v.8 (die woorde van Eksodus 34:6 waarmee God Homself aan Moses geopenbaar het) bekryf Dawid God se besondere genade.  Hierdie genade is spesifiek bedoel vir God se uitverkore volk Israel.  Maar Hy bewys ook hierdie genade aan heidene en aan die hele skepping (v.9, Jona 4:2, 11).  Die Skrif leer dat God sy son laat skyn oor slegte mense en sy reën laat val op onregverdige mense (Matteus 5:45, Handelinge 14:17).  God se goedheid is inderdaad oor alles wat Hy gemaak het.  Dit kan maklik gebeur dat jy God se goedheid bevraagteken as jy na ‘n wêreld vol van boosheid en lyding kyk.  Maar ons moet onthou dat dinge veel erger sou gewees het as God sy goedheid moes terugtrek.  Loof die Here vir suurstof, sonskyn en die evangelie.

 

Loof God vir sy Koninkryk (v.10-13)

Die Westminster Kategisme leer dat God ons gemaak het om Hom te verheerlik en vir ewig te geniet; dat Hy alle dinge geskep het tot sy eer.  Dit is presies wat Dawid in v.10 wys:  “Al u werke loof U, o HERE, en u gunsgenote prys U.”  Omdat God oor alles heers, sal alles in die skepping Hom loof (Psalm 148, 103:22).  Die goddelose weier om God te loof, maar die regverdige loof Hom vir sy guns (v.10b, 8).  Ons kan hieruit aflei dat iemand wat nie die Here loof nie ongered is.

 

Kan iemand ‘n oase ontdek en nie vir ander sterwendes daarvan sê nie?  Kan iemand die paradys vind en nie vir hulle wat in die riool lewe vertel nie?  Jy het die verantwoordelikheid om vir die heidene van God se heerlike, sterke en ewige Koninkryk te vertel:  “Hulle maak melding van die heerlikheid van u koninkryk en spreek van u mag, om aan die mensekinders sy magtige dade bekend te maak en die glansryke heerlikheid van sy koninkryk.  U koninkryk is ‘n koninkryk van alle eeue, en u heerskappy duur deur al die geslagte.” (v.11-13).  Die Japanese, Chinese, Bulgaarse en Britse dinastie het vir eeue voortgeduur.  Maar alle ryke kom tot ‘n einde.  Dawid se eie koningskap het geïndig.  Christus se Koninkryk, egter, sal vir ewig duur (v.13a).  “U troon, o God, is vir ewig en altyd; die septer van u koninkryk is ‘n regverdige septer.” (45:6).  2 Petrus 1:11 praat van “die ewige koninkryk van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus.”  God het aan Dawid gewys dat die Messias ‘n ewige Koninkryk sou hê (2:6, 2 Samuel 7).  God het dit nog duideliker geopenbaar aan dié wat ná Dawid gekom het.  Jesaja praat gereeld van hierdie heerlike Koninkryk van vrede, en die Nuwe Testament beskryf die roemryke glans daarvan in geen onduidelike terme nie (Jesaja 11, 65, Openbaring 21-22).

 

Vers 13b kom wel nie in die Ou Vertalng voor nie, maar dit verskyn in die oudste Hebreeuse manuskripte en in die eerste vertaling van die Ou Testament (die Septuaginta of LXX).  Uit hierdie vers moet ons leer om vir ander te vertel van ons getroue en goeie God:  “The LORD is faithful in all his words and kind in all his works.” (v.13b, English Standard Version).  Hoekom moet ons vir ander vertel?  Sodat hulle sy groot werke kan ken en Hom kan loof (v.11-12).  Ons doel met die verspreiding van God se boodskap is dat mense God moet loof (Openbaring 5:9), en daarom moet sending en evangelisasie nooit ‘n doel in hulself wees nie.

 

Loof God vir sy hulp (v.14-20)

Willam Cowper (hy het geleef in die 1700’s en 1800’s) het sy lewe lank gesukkel met depressie in die ergste graad.  Hy het ook baie getwyfel oor sy redding.  Op ‘n dag het hy op die inrigting se grasperk geloop.  Skielik het Romeine 3:25 soos ‘n lig in sy siel geskyn en het dit vir hom duidelik geword dat God hom geweldig liefhet.  Vir ‘n oomblik het hy onbeskryflike vreugde ervaar.  [i] Cowper se ondervinding leer vir ons dat God die nederige ondersteun (v.14).  God help dié wat neerbuig is in bekering, berou, depressie, lyding en hartseer.  “‘n Geknakte riet sal Hy nie verbreek nie, en ‘n lamppit wat rook, sal Hy nie uitblus nie, totdat Hy die reg tot oorwinning uitbring.” (Matteus 12:20).  “Verneder julle dan onder die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die regte tyd.” (1 Petrus 5:6).  God tel die neergeboë op deur sy Woord (in jou stiltetyd en deur prediking), jou en ander se gebede, lofsang en danksegging, die skoonheid van die skepping, buitengewone voorsienigheid, die gemeenskap van gelowiges, die nagmaal en die doop, Christelike biografieë (veral van mense wat ook deur moeilike tye moes gaan) en God se algemene genade.

 

[ii] God voorsien vir die skepping (v.15-17, Psalm 104, Matteus 6:26).  God gee vir elke skepsel sy voedsel op die regte tyd (v.15b).  Wanneer die wildebeeste in Kenia se Serengeti migreer, gebeur dit tydig sodat die leeus kos het en herbivore sappige weiding.  Deur die seisoenale massatrek van die sardyne voorsien God op die regte tyd kos vir dolfyne, haaie, robbe, walvisse, seevoëls en ander diere.  Soos ‘n hond se oë op sy baas se hande gefokus is (wanneer hy kos aandra), is die oë van alle skepsels op die hand van God gerig in vertroue dat Hy hulle sal versorg (v.15a).  As Hy sy hand oopmaak word hulle versadig:  die plante met reën, die mens en diere met kos (v.16).  Dit wys net weer vir ons dat God alles goed en reg doen in sy skepping (v.17).

 

[iii] God hoor en help die Godvresende (v.18-19).  God is verhewe (v.3, 5), maar Hy is ook naby die wat tot Hom roep:  “Die HERE is naby almal wat Hom aanroep, almal wat Hom aanroep in waarheid.” (v.18).  “Want watter groot nasie het gode wat vir hulle so naby is soos die HERE onse God so dikwels as ons Hom aanroep?” (Deuteronomium 4:7).  Daar is kere wat dit vir jou sal voel of die Here nie naby is nie.  In sulke tye moet jy v.18 glo:  Hy is naby jou.  God sien die diep begeertes van jou hart en sal dit vervul (v.19, 37:4).  Ongelowige:  God sal hoor as jy in vrees en geloof roep vir redding (v.18-19, Romeine 10:13).

 

[iv] God bewaar sy kinders (v.20).  R.C. Chapman was ‘n baie liefdevolle en heilige man in die 19de eeu.  Eenkeer was hy op ‘n weghol trein.  Toe die mense bang geraak het, het iemand gesê:  “Julle moenie bekommer nie.  Niks sal met ons gebeur nie.  Mnr. Chapman is op die trein en daarom sal God ons bewaar.”  God bewaar die wat Hom liefhet (v.20, Romeine 8:28).  Hy bewaar hulle ook in die dood, sodat hulle nie hel toe gaan nie.  God gebruik sekere middele om sy kinders te bewaar.  Hy bewaar ons deurdat ons aanhou glo en ons voortdurend bekeer.  Hy bewaar ons deur sy Woord, gebed, tugtiging, gelowige gemeenskap, geestelike gawes, die nagmaal en die doop.  Hierdie middele self het nie krag om ons te red nie, maar word deur God gebruik om ons te laat volhard tot die einde toe.  Die nagmaal herinner ons byvoorbeeld aan Christus se kruisdood vir ons, en deur geloof word ons versterk wanneer ons dit gebruik (dieselfde kan gesê word van die doop).

 

Die goddelose persoon kry sy asem en lewe by God.  Hy skuld God alles, maar tog het hy Hom nie lief nie (v.20).  God kan dus kies om die goddelose te vernietig in die hel.  Dit is immers sy skepsel en daarom kan Hy daarmee doen wat Hy wil:  “Hy verdelg al die goddelose.” (v.20b).  “Maar tog, o mens, wie is jy wat teen God antwoord?  Die maaksel kan tog nie vir die maker sê:  Waarom het u my so gemaak nie?  Of het die pottebakker nie mag oor die klei, om uit dieselfde klomp die een voorwerp tot eer en die ander tot oneer te maak nie?  En as God, al wil Hy sy toorn bewys en sy mag bekend maak, tog met groot lankmoedigheid die voorwerpe van toorn wat vir die verderf toeberei is, verdra het” (Romeine 9:20-22).  As jy goddeloos is en nog nie gered is van die hel nie, wil ek vir jou sê hoe jy gered kan word:

 

God is heilig en haat jou sonde voor sy aangesig.  Erken en besef dat jy sy straf verdien.  God is ook liefdevol en genadig.  Die eindste straf wat jý verdien, het Hy besluit om op sy eie skouers te neem.  In Christus het Hy volkome mens geword.  Jesus het nooit gesondig nie maar God se heilige wet volmaak onderhou.  Aan die kruis het Hy die straf gedra wat ons verdien.  Hy is begrawe en het op die derde dag opgestaan uit die dood.  Hy lewe en sal die ewige lewe gee vir almal wat op Hom vertrou en hulle bekeer van hulle sondes.

 

‘n Oproep om God te loof (v.21)

Die hele skepping loof die Here:  van kinders tot by klippe.  Die Skrif sê:  “En toe die owerpriesters en skrifgeleerdes die wonderwerke sien wat Hy gedoen het, en die kinders wat in die tempel uitroep en sê:  Hosanna vir die Seun van Dawid! was hulle verontwaardig en sê vir Hom:  Hoor U wat hulle daar sê?  En Jesus antwoord hulle:  Ja, het julle nooit gelees:  Uit die mond van kinders en suigelinge het U vir U lof berei nie?” (Matteus 21:15-16).  “En toe Hy al naby die afdraand van die Olyfberg kom, begin die hele menigte dissipels God met blydskap te prys met ‘n groot stem oor al die kragtige dade wat hulle gesien het, terwyl hulle sê:  Geseënd is die Koning wat kom in die Naam van die Here, vrede in die hemel en heerlikheid in die hoogste hemele!  En sommige van die Fariseërs uit die skare sê vir Hom:  Meester, bestraf u dissipels!  En Hy antwoord en sê vir hulle:  Ek sê vir julle, as hulle swyg, sal die klippe uitroep.” (Lukas 19:37-40).

 

Die Psalm het begin met lofprysing en eindig daarmee (v.21, 1-2).  Alle dinge in die skepping (ook die mens) moet God vir ewig loof:  “My mond sal die lof van die HERE uitspreek, en laat alle vlees sy heilige Naam loof vir ewig en altyd.” (v.21).  “Laat alles wat asem het, die HERE loof!  Halleluja!” (Psalm 150:6).  “U is waardig, o Here, om te ontvang die heerlikheid en die eer en die krag, want U het alles geskape en deur u wil bestaan hulle en is hulle geskape.” (Openbaring 4:11).  “Toe sing hulle ‘n nuwe lied en sê:  U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers.  Toe sien ek, en ek hoor ‘n stem van baie engele rondom die troon en van die lewende wesens en die ouderlinge; en hulle getal was tien duisende van tien duisende en duisende van duisende; en met ‘n groot stem het hulle gesê:  Die Lam wat geslag is, is waardig om te ontvang die krag en rykdom en wysheid en sterkte en eer en heerlikheid en lof.  En elke skepsel wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde en wat op die see is, en alles wat in hulle is, het ek hoor sê:  Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam kom toe die lof en die eer en die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid!  En die vier lewende wesens het gesê:  Amen!  En die vier en twintig ouderlinge het neergeval en Hom aanbid wat lewe tot in alle ewigheid.” (Openbaring 5:9-14).

 

Wanneer een van ons traag raak moet ons mekaar oproep en aanspoor tot lof.  Sien hoe die skepping die Here loof (v.21b) en laat dit jou aanspoor tot aanbidding (v.21a).  Hier is my beryming van Psalm 145 op die wysie van O Danny Boy.

 

I will extol my God and King forever

His praises be forever on my lips:

“Great is the Lord, unsearchable His greatness!”

Commend His works, declare His mighty acts.

Dwell on the glorious splendour of His majesty;

Declare His greatness, awesome deeds, and might:

“Your wondrous works show forth abundant goodness,

And sing aloud that all Your ways, O Lord, are right!”

 

The Lord is gracious, merciful, and patient,

His steadfast love is over all His own.

“Your works shall thank You; Lord, Your saints will bless You,

Make known Your mighty deeds, Your glorious throne!”

His kingdom is an everlasting kingdom,

From age to age our God will wear the crown.

The Lord is faithful, kind in all His works and ways

Upholds the falling, raises those who are bowed down.

 

With open hand the Lord sustains His creatures,

The Righteous Lord is near to all who call;

On those who call in Truth, on those who fear Him,

To hear their cry, to save from Adam’s Fall.

The Lord will guard and keep all those who love Him,

But all the wicked He will put to shame,

My mouth will speak the praises of my Lord and King,

Forever will creation bless His Holy Name!