Die belangrikste ding in die wêreld

hurricane

1 ‘n Psalm van Dawid.  Gee aan die HERE, o hemelinge, gee aan die HERE eer en sterkte! 2 Gee aan die HERE die eer van sy Naam; aanbid die HERE in heilige sieraad! 3 Die stem van die HERE is op die waters, die God van eer donder; die HERE is op die groot waters. 4 Die stem van die HERE is met krag; die stem van die HERE is met heerlikheid. 5 Die stem van die HERE breek seders; ja, die HERE verbreek die seders van die Líbanon; 6 en Hy laat hulle opspring soos ‘n kalf, die Líbanon en Sirjon soos ‘n jong buffel. 7 Die stem van die HERE slaan daar vuurvlamme uit. 8 Die stem van die HERE laat die woestyn bewe; die HERE laat die woestyn van Kades bewe. 9 Die stem van die HERE laat die takbokke lam en maak die bosse kaal; maar in sy paleis sê elkeen:  Heerlikheid! 10 Die HERE het gesit oor die Watervloed; ja, die HERE sit as Koning tot in ewigheid. 11 Die HERE sal sy volk sterkte gee, die HERE sal sy volk seën met vrede.” (Psalm 29).

 

Moenie dink God is wreed of traak-my-nie-agtig nie, maar verskoon my as ek sê:  Die wêreld kan vergaan, maar God moet verheerlik word.  Ester se woorde aan koning Ahasveros geld hier:  “our affliction is not to be compared with the loss to the king.” (Ester 7:4, ESV).  Niks in die hele wêreld is so belangrik as dat God verheerlik moet word nie.

 

God se heerlikheid in die hemel (v.1-2)

Die Hebreeuse woord vir heerlikheid beteken letterlik ‘gewig’ (let maar op hoe mense hulle onder die ‘gewig’ van God se heerlikheid neerbuig na die aarde toe).  In die Griekse taal beteken heerlikheid ‘skerp lig’ (die lig van sy heerlikheid is so helder dat dit jou verblind – sien Handelinge 26:13, 22:11).  Die Bybel beskryf God se heerlikheid as ‘n helder lig in die wolk, vloerwerk van saffierstene, ‘n skerp glans wat ‘n mens kan doodmaak, sy kragtige Woord, ‘n Persoon op ‘n troon voor wie die vlammende hemelwesens (serafs) hulle gesigte verberg, ‘n stem soos die magtige gedreun van massas water, oë wat blits, ‘n koniningskleed, spierwit hare, ‘n gesig soos die son, voete soos brons in ‘n smeltoond, ‘n skerp swaard met twee snykante uit sy mond, die glans van ‘n jaspissteen, ‘n reënboog soos smarag, miljoene aanbidders, ‘n verterende vuur en – die belangrikste van alles – die Persoon van Jesus Christus.[1]  Jesus is immers die afskynsel van sy heerlikheid, die presiese afdruksel van sy wese (Hebreërs 1:3).

 

God is die gans Andere en is met heiligheid beklee (v.2).  Niemand is soos Hy nie.  Die hemelwensens [Hebreeus:  ‘seuns van God’, cf. Job 38:7] moet Hom prys (v.1).  Ons sien in Jesaja 6:2-3 hoe die serafs Hom prys.  In Openbaring 4-5 aanbid allerhande hemelwesens hom.  In Lukas 2 prys ‘n hele weermag van engele die kind wat in Betlehem gebore is.  En Hebreërs 1:6 sê “al die engele van God moet Hom aanbid.”

 

Sonde verblind mense om God se heerlikheid te sien, want “almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God.” (Romeine 3:23).  Satan ook.  2 Korintiërs 4:4 praat van “die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie.”  Deur die evangelie maak die Heilige Gees mense se oë oop om die heerlikheid van God in die Skrif te sien:  “Want God wat gesê het dat daar uit duisternis lig moet skyn—dit is Hy wat in ons harte geskyn het om die verligting te bring van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus…En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ‘n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is.” (2 Korintiërs 3:18, 4:6).  Die wonderlikste natuurtoneel wat jy nog ooit in hierdie wêreld aanskou het is maar ‘n skadu van God se heerlikheid.  Wanneer jy in die hemel God se heerlikheid aanskou sal daar nie meer asem in jou wees nie.  Dit sal jou oorweldig – vir ewig.  Jy kan nou reeds hierdie heerlikheid begin aanskou in die evangelie.  Buig voor God in diepe aanbidding saam met die engele:  “Maar julle het gekom by die berg Sion en die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem en tien duisende engele…Daarom, omdat ons ‘n onwankelbare koninkryk ontvang, laat ons dankbaar wees, en so God welbehaaglik dien met eerbied en vrees.  Want onse God is ‘n verterende vuur.” (Hebreërs 12:22, 28-29).  Terwyl ons op die aarde is, laat ons mango’s eet, ystee drink en alles doen tot verheerliking van God (1 Korintiërs 10:31).

 

God se heerlikheid in die storm (v.3-10)

Martin Luther is amper deur weerlig raakgeslaan.  Hy het gesidder van vrees.  Een aand was daar ‘n groot storm in Kempton.  Ons kinders was al in die bed.  Toe ons in hulle kamer kom was ons oudste dogter nie daar nie.  Ons het haar gekry waar sy saam met die hond onder die bed sit en bewe.

 

God wys onder andere sy heerlikheid (v.1-2) in donderstorms (v.3-10).  In Psalm 29 is die stem van die Here ‘n sinoniem vir donderstorms.  Verskeie Skrifgedeeltes beskryf dit so:

 

“En die HERE het in die hemel gedonder, en die Allerhoogste het sy stem laat hoor” (18:14).

 

“Kyk, God is groot en onbegryplik vir ons; die getal van sy jare is onnaspeurlik.  Want Hy trek waterdruppels af; hulle sif neer by sy mistige weer as reën wat die wolke laat neerstroom, laat afdrup op baie mense.  Ja, kan iemand die uitspreiding van die wolke verstaan, die gekraak van sy hut?  Kyk, Hy sprei sy lig oor Hom uit, en die dieptes van die see oordek Hy.  Want daarmee oordeel Hy die volke, gee Hy voedsel in oorvloed.  Altwee sy hande oordek Hy met weerlig en gee daaraan bevel teen die aanvaller.  Sy donderstem kondig Hom aan, die vee selfs dat Hy optrek.   Ja, hiervoor beef my hart en spring op uit sy plek.  Luister, luister na die gedruis van sy stem en die dreuning wat uit sy mond uitgaan.  Onder die ganse hemel laat Hy dit los en sy lig oor die eindes van die aarde.  Daarna brul sy stem, Hy donder met sy stem vol majesteit en hou die bliksems nie terug as sy stem gehoor word nie.  God donder wonderbaar met sy stem; Hy doen groot dinge wat vir ons onbegryplik is.” (Job 36:26-37:5).

 

“Toe het Samuel die HERE aangeroep, en die HERE het donderslae en reën op dié dag gegee, sodat die hele volk baie bevrees geword het vir die HERE en vir Samuel.” (1 Samuel 12:18).

 

“Vader, verheerlik u Naam!  Daar het toe ‘n stem uit die hemel gekom:  Ek hét dit verheerlik, en Ek sal dit weer verheerlik.  En die skare wat daar gestaan en dit gehoor het, het gesê dat daar ‘n donderslag gewees het.  Ander het gesê:  ‘n Engel het met Hom gespreek.  Jesus antwoord en sê:  Hierdie stem het nie om My ontwil gekom nie, maar om julle ontwil.” (Johannes 12:28-30).

 

Dawid beskryf God se krag en majesteit in die storm (v.4):

  • Massas reën (v.3)
  • Swaar donderweer (v.3)
  • Blitse en ‘n stormwind wat 40 meter hoë en 2.5 meter dik seders stukkend ruk (v.5, 7)
  • Die storm se krag soos ‘n jong buffel of kalf wat jy nie kan vasdruk nie (v.6)
  • Die oorverdowende eggo van donderslae in die Lebanon- en Hermonberge (v.6, Sirion is ‘n ander naam vir Hermon – sien Deuteronium 3:8-9).

 

Die storm woed uit en beweeg van Lenanon en Hermon in die noorde, na die Kadeswoestyn in die Sinaï-skiereiland van die suide (v.8).  Ná die storm is die bos kaalgestroop, takke afgebreek en bome platgeslaan (v.9).  Maar dieselfde magtige stem wat verwoesting gesaai het, laat die takbokke lam sodat hulle in die weiding speel ná die reën (v.9).[2]

 

God is Koning oor ‘n verwoestende storm wat vir ons buite beheer lyk (v.10).  Ons sien dit die duidelikste in Genesis 6-8 waar God as Koning heers oor die wêreldwye vloed.  Genesis 6:17 sê:  “Want kyk, Ék bring ‘n watervloed oor die aarde, om van onder die hemel te verdelg alle vlees waar ‘n lewensgees in is.  Alles wat op die aarde is, sal wegsterwe.”  Die omliggende nasies het geglo dat gode soos Shu, Tefnut, Nut en Baäl die reën en weerspatrone beheer.  Maar in Psalm 29:3-10 wys Dawid dat Jahweh die Koning en God van die storm is.  In Eksodus 9:13-35 het God dit deur ‘n haelstorm bewys.  Hy het die gode van Egipte oorwin:  “Ek sal strafgerigte oefen aan al die gode van Egipte, Ek, die HERE.” (Eksodus 12:12).  Baäl was veronderstel om die god van vrugbaarheid te wees; die god wat reën moes gee, sodat daar ‘n oes op die lande was.  Elia het die Baäl profete uitgedaag om te sien wie se God met vuur (weerlig) uit die hemel antwoord.  Na ‘n hele dag van gebed het die vals profete se god nie geantwoord nie.  Maar toe Elia bid, het God vuur (waarskynlik ‘n blits) uit die hemel gestuur en die offer saam met die altaar verskroei (sien 1 Konings 18:20-40).  Na die drie en ‘n half jaar van droogte was dit nie Baäl wat reën gestuur het nie, maar Jahweh, die God van Israel (1 Konings 18:41-46).  Hy is Koning oor die storm (v.10).

 

Die magtige donderstorm is maar ‘n klein vertoning van God se heerlikheid en mag.  Net so ook die kragtigste dinge in die skepping:  “Kyk, dit is maar die uitlopers van sy weë, en wat ‘n fluisterwoord hoor ons maar van Hom!  Wie sou dan die donder van sy magtige dade verstaan?” (Job 26:14).  Op die laaste Dag sal jy die volle gewig van sy heerlikheid en mag voel.  Op dáárdie Dag sal Hy regtig die seders vernietig en die berge omdolwe:

 

“Die hoë oë van die mense sal verneder word, en die hoogheid van die manne neergebuig word; en die HERE alleen sal in dié dag verhewe wees.  Want ‘n dag is daar vir die HERE van die leërskare oor al wat trots en hoog is, en oor al wat verhewe is, sodat dit verneder kan word; en oor al die hoë en verhewe seders van die Líbanon en oor al die eikebome van Basan; en oor al die hoë berge en oor al die verhewe heuwels; en oor al die hoë torings en oor al die versterkte mure; en oor al die skepe van Tarsis en oor al die kosbare pronkstukke.  Dan sal die hoogheid van die mense neergebuig en die trotsheid van die manne verneder word; en die HERE alleen sal in dié dag verhewe wees.” (Jesaja 2:11-17).

 

Maak seker jy’s aan die kant van dié wat God in sy paleis aanbid en sy heerlikheid bewonder (v.9).  God is heilig.  As daar een greintjie van sonde in jou is sal God jou verwoes.  Alleen in Jesus Christus se kruisdood vir sondaars en sy opstanding uit die dood, is daar vir jou hoop.  As jy jou bekeer en heelhartig op Christus vertrou, sal God jou sondes vergewe.  En dan sal die Heilige Gees jou meer en meer heilig maak, totdat jy volmaak is op die dag wat Jesus kom en jy sy heerlikheid aanskou.

 

God se heerlikheid in sy volk (v.11)

In die geskiedenis van Israel het God dikwels storms gebruik om sy volk se vyande (en dikwels vir Israel self) te oorweldig.

 

“Die waters het U gesien, o God, die waters het U gesien, hulle het gebewe; ja, die watervloede het gesidder.  Die wolke het water uitgegiet, die hemele het donder laat hoor, ook het u pyle rondgevlieg.  U rollende donder het weerklink; bliksems het die wêreld verlig; die aarde het gesidder en gebewe.” (Psalm 77:17-19).

 

“En Moses het sy staf na die hemel uitgesteek, en die HERE het donder en hael gegee, en vuur het na die aarde uitgeskiet; en die HERE het hael op Egipteland laat reën.  En daar was hael en onophoudelike vuur binne-in die hael, baie swaar, soos in die hele Egipteland nooit gewees het vandat dit aan ‘n volk behoort het nie.  En die hael het in die hele Egipteland geslaan alles wat in die veld was, mense sowel as diere.  Ook het die hael al die plante van die veld geslaan en al die bome van die veld verbreek.” (Eksodus 9:23-25).

 

“En toe hulle voor Israel uit vlug terwyl hulle op die afdraand van Bet-Horon was, het die HERE groot haelstene uit die hemel op hulle gewerp tot by Aséka, sodat hulle gesterf het; daar het meer gesterf deur die haelstene as wat die kinders van Israel met die swaard doodgeslaan het.” (Josua 10:11).
“Die wat met die HERE twis, word verpletter; oor hulle donder Hy in die hemel; die HERE oordeel die eindes van die aarde, en Hy gee sterkte aan sy koning en verhef die horing van sy gesalfde.” (1 Samuel 2:10).

 

“Want onderwyl Samuel die brandoffer bring en die Filistyne nader kom om teen Israel te veg, het die HERE dit dié dag met ‘n groot geluid laat donder oor die Filistyne, en Hy het hulle in verwarring gebring, sodat hulle verslaan is voor Israel.” (1 Samuel 7:10).

 

“Toe ek benoud was, het ek die HERE aangeroep, en ek het geroep tot my God; en uit sy paleis het Hy my stem gehoor, en my hulpgeroep was in sy ore.  Toe het die aarde geskud en gebewe, die fondamente van die hemel het gesidder en geskud, omdat Hy toornig was.  Rook in sy neus het opgegaan, en ‘n vuur uit sy mond het verteer; kole uit Hom het gebrand.  En Hy het die hemel gebuig en neergedaal, en wolkedonkerheid was onder sy voete.  En Hy het op ‘n gérub gery en gevlieg; ja, Hy het verskyn op die vlerke van die wind.  En Hy het duisternis rondom Hom as hutte gestel, versameling van waters, diktes van wolke.  Uit die glans voor Hom het gloeiende kole gebrand.  Uit die hemel het die HERE gedonder, en die Allerhoogste het sy stem laat hoor.  En Hy het pyle uitgestuur en hulle verstrooi, bliksems en hulle verwar.” (2 Samuel 22:7-15).

 

“En die HERE sal sy stem vol majesteit laat hoor en die neerdaling van sy arm laat sien, met grimmige toorn en die vlam van ‘n verterende vuur, storm en stortreën en haelkorrels.  Want vir die stem van die HERE sal Assur verskrik wees; met die stok sal Hy slaan” (Jesaja 30:30-31).

 

“En daar het stemme gekom en donderslae en bliksemstrale, en daar het ‘n groot aardbewing gekom soos daar nog nie gewees het vandat die mense op die aarde was nie so ‘n geweldige groot aardbewing.  En die groot stad is in drie dele verdeel, en die stede van die nasies het geval.  En die groot Babilon is in gedagtenis gebring voor God, om haar te gee die beker met die wyn van die grimmigheid van sy toorn.  En alle eilande het gevlug, en berge is daar nie gevind nie; en groot hael, omtrent ‘n talent swaar, het uit die hemel op die mense geval; en die mense het God gelaster oor die plaag van die hael, omdat sy plaag ontsettend groot was.” (Openbaring 16:18-21). 

 

Die sterkte wat ons aan God toeskryf (v.1) kom van Hom af (v.11).  Dit is Hy wat aan sy kinders krag gee om teen die vyand te staan.  Daar is vrede nadat God die vyande verdryf het.  Spreekwoordelik kan ons sê daar is ‘n reënboog (v.11) na die verskriklike storm (v.3-10).  Selfs vir die ongelowige is daar ‘n reënboog en ‘n tyd van genade.  Daarom moet elke ongelowige hom bekeer, want wanneer die finale storm tref is dit te laat.  Bou nóú jou huis op die rotsfondasie van Jesus Christus, sodat jou huis staande sal bly in die laaste storm (Matteus 7:24-27).  Dan sal jy vir ewig die heerlikheid van God en die reënboog van sy genade (Openbaring 4:2-3) aanskou en geniet.

 


[1] Eksodus 16:10, 24:10, 16-17, 33:18-34:8, 40:34-35, Levitikus 9:23-24, Jesaja 6:2-3, Esegiël 1:26-28, Matteus 17:2, Openbaring 1:12-16, 4:2-3, 5:11-14.

[2] Ek is daarvan bewus dat ‘n effense verbuiging van Hebreeuse klanke kan veroorsaak dat v.9a beteken:  ‘Hy laat die eikebome skud’.  Maar ek volg eerder die teks wat sê dat die takbokke lammers kry (alhoewel hierdie gedagte volgens sommige nie regtig by die hele donderstorm beeld pas nie).