Hoekom móét jy jou kind pak gee?

Spanking

13:24 Wie sy roede terughou, haat sy seun; maar hy wat hom liefhet, besoek hom met tugtiging.  19:18 Tugtig jou seun, want daar is hoop; maar laat dit nie in jou opkom om hom dood te maak nie.  17:6 Kindskinders is ‘n kroon vir grysaards, en vir die kinders is hulle vader ‘n eer.  20:30 Bloedige wonde suiwer die kwaad uit en slae die kamers van die binneste.  22:6 Oefen die seun volgens die eis van sy weg; dan sal hy, ook as hy oud word, daar nie van afwyk nie.  22:15 As die sotheid vassit in die hart van die seun, die tugroede sal dit daaruit verwyder.  23:13 Hou die tug nie terug van die seun nie; as jy hom met die roede slaan, sal hy nie sterwe nie. 23:14 Jy sal hom wel met die roede slaan, maar sy lewe van die doderyk red.  29:15 Die roede en die bestraffing gee wysheid; maar ‘n seun wat aan homself oorgelaat word, steek sy moeder in die skande. 29:17 Tugtig jou seun, dan sal hy jou rus gee en aan jou siel vreugde verskaf.” (Spreuke).

 

Bybelse tug wys liefde (13:24)

Ons almal ken mense wat nie glo in pakslae nie, mense wat die metodes van moderne sielkunde volg.  Ek het onlangs in ‘n populêre Suid-Afrikaanse tydskrif ‘n artikel gelees wat teen lyfstraf is.  Mense wat so glo, is verkeerd.  God se Woord laat nie plek toe vir debat oor die onderwerp nie.  Die Hebreeuse woord vir roede beteken ook stok of staf.  Dit word onder andere gebruik in 2 Samuel 7:14:  “Ek sal vir hom ‘n vader wees, en hy sal vir My ‘n seun wees; sodat as hy verkeerd handel, Ek hom sal straf met ‘n menslike roede en met slae van mensekinders.”  Ouers wat nie vir hulle kinders pak gee nie, doen dieselfde skade as ‘n ouer wat sy kind haat:  “Wie sy roede terughou, haat sy seun” (13:24a).  Tug (en dit sluit pakslae in) is ‘n betoning van liefde, omdat die ouer sy kind van die verkeerde pad af wil wegdraai:  “hy wat [sy kind] liefhet, besoek hom met tugtiging.” (13:24b).  Selfs God tugtig ons (dikwels swaarder as enige pakslae):

 

5 En julle het die vermaning heeltemal vergeet wat tot julle as seuns spreek:  My seun, ag die tugtiging van die Here nie gering nie en beswyk nie as jy deur Hom bestraf word nie; 6 want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem.  7 As julle die tugtiging verdra, behandel God julle as seuns; want watter seun is daar wat die vader nie tugtig nie? 8 Maar as julle sonder tugtiging is, wat almal deelagtig geword het, dan is julle onegte kinders en nie seuns nie. 9 Verder, ons het ons vaders na die vlees as kastyders gehad, en ons het vir hulle ontsag gehad; moet ons nie veel meer aan die Vader van die geeste onderworpe wees en lewe nie?  10 Want húlle het ons wel ‘n kort tydjie na hulle beste wete getugtig; maar Hy tot ons beswil, sodat ons sy heiligheid kan deelagtig word. 11 Nou lyk elke tugtiging of dit op die oomblik nie ‘n saak van blydskap is nie, maar van droefheid; later lewer dit egter ‘n vredevolle vrug van geregtigheid vir die wat daardeur geoefen is.” (Hebreërs 12:5-11).

 

Moenie met God stry nie.  Aanvaar eenvoudig dat sy metode beter en wyser is as die wêreld s’n.

 

Wanneer 13:24 sê:  “besoek hom met tugtiging,” kan die Hebreeus ook vertaal word met:  “tugtig hom vroeg”.  Met ander woorde, reeds wanneer die kind jonk is kan jy begin om hom pak te gee.  Daar is nie ‘n vaste ouderdom nie, maar sodra die kind sy rug teen jou kan styf maak (byvoorbeeld wanneer jy sy doek ruil of ‘n speelding by hom wegvat) kan hy begin pak kry.  Dit mag selfs so vroeg wees as 8-10 maande.  Moenie die kind op sy doek slaan nie.  As hy nie pyn voel nie, help dit nie.  Hy moet genoeg pyn voel om te weet daar sal gevolge wees as hy dit weer doen.  Tog moet jy nie jou kind nie soos ‘n slaaf of ‘n dier mishandel nie (nie dat ons slawe of diere moet mishandel nie, maar ek gebruik dit by wyse van spreke).

 

Bybelse tug red van die dood (19:18, 23:13-14)

‘n Predikant met vyf kinders het my vertel dat een van sy kinders baie moeilik was.  Hulle het haar getrou liefgehad en pak gegee.  “Nou is sy een van my ‘sweetste’ kinders,” het hy gesê.  God se metode van tug gee hoop vir ouers wat ‘n moeilike kind moet grootmaak.  As dit vir jou lyk of pakslae nie werk nie:  volhard en werk vir die langtermyn.  “Tugtig jou seun, want daar is hoop” (19:18a).  Moeie tug terughou deur jou afwesigheid, ‘n onbybelse opinie, of traagheid om pak te gee nie (23:13).  Party mense dink dat pakslae ‘n kind sielkundig sal krenk of fisies sal beskadig.  Die waarheid is dat jy die kind se dood beplan en hom skade aandoen as jy hom níé pak gee nie:  “laat dit nie in jou opkom om hom dood te maak nie…Hou die tug nie terug van die seun nie; as jy hom met die roede slaan, sal hy nie sterwe nie.  Jy sal hom wel met die roede slaan, maar sy lewe van die doderyk red.” (19:18b, 23:13-14).

 

Bybelse tug maak ‘n indruk (17:6, 22:6)

Natuurlik sluit tugtiging meer in as net pak:  jy leer jou kind ‘n lewe van dissipline.  Jou voorbeeld en opvoeding maak ‘n indruk op die kind.  Soos oumas en oupas trots is op hulle kleinkinders, is jong kinders trots op hulle ouers (17:6).  Hulle na-aap hulle en wil soos hulle ouers wees.  ‘n Tydjie gelede het twee van my kinders ‘n A4 papier geneem, in die helfte gevou, en hulle eie laptop gemaak.  Hulle het langs my kom sit terwyl ek my preke voorberei, en presies gedoen wat ek doen.  Terwyl jy alles in jou kinders se lewens is, moet jy die geleentheid benut om hulle positief te beïnvloed.  Volg Jesus volheid, sodat hulle eintlik vir Christus volg as hulle jóú navolg (1 Korintiërs 11:1).  Onthou dat opvoeding ‘n proses is en tyd neem (22:6, train in die ESV).  Wees daarom geduldig.

 

“Oefen die seun volgens die eis van sy weg; dan sal hy, ook as hy oud word, daar nie van afwyk nie.” (22:6).  Dié vers is moeilik om te interpreteer.  Dit kán beteken dat jy die kind moet grootmaak volgens (God se) weg, en as hy eendag oud is sal hy nóg onthou wat reg is (cf. 2 Timoteus 3:15).  Óf dit kan beteken dat ‘n kind op sy oudag nog sal dwaal, omdat jy hom sy sin gegee het en volgens sy eie weg grootmaak het.  ‘n Laaste interpretasie is dat elke kind se aard verskil, en dat jy daarom die kind volgens sý weg moet grootmaak (nie dat jy hom sy sin moet gee nie, maar dat jy in ag moet neem dat party kinders hardkoppiger of sagmoediger is as ander).  Al hierdie interpretasies klink Bybels en daarom sal ek nie swaarde kruis met iemand wat die vers anders as ek interpreteer nie.  Ek dink ons móét onthou dat hierdie vers nie ‘n belofte vir redding is nie.  Moet dan nie teleurgesteld wees as jy jou kind reg grootmaak het, en hy nie gered word nie.  Hierdie vers (soos baie ander in Spreuke) is ‘n algemene reël van hoe dinge in die lewe werk.  Maar daar is uitsonderings.

 

Bybelse tug reinig die hart (20:30, 22:15)

Op ‘n tyd was ons moedeloos met een van ons kinders.  Ons het die kind pak gegee, maar die hardkoppigheid wou nie wyk nie.  “Wat moet ons doen?” het ek vir ‘n ouer predikant gevra.  Sonder om lank te dink het hy geantwoord:  “Slaan die kind harder.”  Ons het sy raad gevolg en binne twee dae was ons probleem opgelos.

 

Die westerse mens sê veels te gou dat pakslae kindermishandeling is.  Moenie toelaat dat die kind se pyn jou hart smelt, sodat jy ophou om pak te gee nie.  ‘n Pakslae dryf die natuurlike dwaasheid (Psalm 51:5) uit ‘n kind se hart uit:  “Bloedige wonde suiwer die kwaad uit en slae die kamers van die binneste…As die sotheid vassit in die hart van die seun, die tugroede sal dit daaruit verwyder.” (20:30, 22:15).  Pakslae kan nie ‘n kind van sy sonde red nie, maar dit wys vir die kind hoe sondig sy hart is, en dryf hom na die evangelie toe; na Jesus toe deur wie se wonde en houe daar vir ons genesing gekom het (Jesaja 53:5).  Galasiërs 3:24 illustreer wat ek nou-net gesê het:  “Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe”.  As jy jou kind reg wil tug, dan mik jy nie net om sy gedrag te verander nie, maar sy hart.  Wanneer jy jou kind pak gee, moet jy vir hom sy sondige dade én motiewe uitwys, en die hoop van die evangelie met hom deel.

 

Bybelse tug gee wysheid (29:15)

‘n Ma in Australië het by ‘n vriendin gekuier.  Haar kind het op die vriendin se banke gespring.  Die ma het saggies met haar kind gepraat:  “My kind, miskien is dit nie goed om op ander mense se banke te spring nie.  Jy kan kies of jy wil aanhou spring of ophou; jy kan ‘n goeie of ‘n slegte keuse maak.  Wat gaan jy kies?”  Die kind het afgeklim.  Die ma het gesê:  “Goeie keuse.”  Later het die ma vir die kind gevra:  “Wil jy ‘n appel of ‘n piesing hê?  Moet ek dit vir jou in vier of agt stukke sny?  Gaan jy ‘n goeie of ‘n slegte keuse maak?”  Blah blah blah.

 

Klein kinders moenie self groot besluite neem nie.  As jy ‘n kind aan homself oorlaat sal jý eendag die vrot vrugte pluk:  “…‘n seun wat aan homself oorgelaat word, steek sy moeder in die skande.” (29:15).  “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai.  Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai; maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe maai.” (Galasiërs 6:7-8).  Leer jou kind van kleins af dat hy nie selfstandig is nie, en dat hy altyd onder gesag sal wees (al gaan hy nie vir altyd onder jóú gesag wees nie).  Leer vir hom dat dit goed en veilig is om onder gesag te wees, en dat dit sleg is as hy sy eie baas wil wees.  Indien hy nie jou gesag wil aanvaar nie, moet jy hom pak gee en die regte weg leer.  Pakslae en lering moet altyd hand aan hand gaan.  Jy moenie die een sonder die ander gebruik nie:  “Die roede en die bestraffing gee wysheid” (29:15).  Gebruik die Skrif om vir jou kind te wys waar hy verkeerd gegaan het en hoe om dinge reg te stel.  As jy dít doen sal jy nie beskaam word (29:15b) wanneer mense sê:  “Daardie stoute ‘brat’ is húlle kind.” (of erger skandes as hulle ouer is).  En in ‘n kultuur waar jou familie se naam en skaamte iets beteken het (die Joodse kultuur), het dit saakgemaak.

 

Bybelse tug gee rus (29:17)

Dit is absoluut onnodig dat ouers hulle 18 en 20 jarige kinders pak gee.  As jy op ‘n vroeë ouderdom begin om jou kinders pak te gee, dit reg doen en konstant is, sal die taak afhandel wees nog voordat hulle tieners is.  Jy sal nie hoef wakker te lê oor jou tiener of student nie.  Jy sal ‘n geruste hart en vreugde hê oor jou verantwoordelike kind:  “Tugtig jou seun, dan sal hy jou rus gee en aan jou siel vreugde verskaf.” (29:17).

Advertisements