Die voordele van God se vergifnis

Prodigal son

9 Ontsondig my met hisop, dat ek kan rein wees; was my, dat ek witter kan wees as sneeu. 10 Laat my vreugde en blydskap hoor; laat die gebeente juig wat U verbrysel het. 11 Verberg u aangesig vir my sondes en delg uit al my ongeregtighede. 12 Skep vir my ‘n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my ‘n vaste gees. 13 Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie. 14 Gee my weer die vreugde van u heil, en ondersteun my deur ‘n gewillige gees. 15 Ek wil die oortreders u weë leer, dat die sondaars hulle tot U kan bekeer. 16 Red my van bloedskuld, o God, God van my heil! Laat my tong u geregtigheid uitjubel. 17 Here, open my lippe, dat my mond u lof kan verkondig. 18 Want U het geen lus in slagoffer nie, anders sou ek dit gee; in brandoffer het U geen behae nie. 19 Die offers van God is ‘n gebroke gees; ‘n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie! 20 Doen goed aan Sion na u welbehae; bou die mure van Jerusalem op. 21 Dan sal U ‘n welbehae hê in die offers van geregtigheid, in brandoffer en voloffer; dan sal hulle stiere offer op u altaar.” (Psalm 51).

 

Diep reiniging (v.9, 12)

Net voordat die Israeliete uit Egipte uit is, moes hulle met ‘n hisoptakkie die bloed van die eersgebore lam teen die deurkosyne smeer (Eksodus 12:22).  In die Ou Testament is hisop dikwels gebruik in reinigingsrites (Levitikus 14:4, Hebreërs 9:19).  In v.9 gebruik Dawid hisop op ‘n simboliese manier.  Hy vra eintlik dat die Here hom heeltemal sal reinig, sodat hy wit sal wees soos sneeu (v.9, cf. Jesaja 1:18).  Sy gebed vir ‘n rein hart en vaste gees (v.12) behoort hoop te gee vir gelowiges wat met versoeking stry; vir daardie gelowige wat moedeloos is omdat hy ‘n hart vol onrein gedagtes het, of omdat hy so maklik toegee aan versoeking.  Moenie moed verloor nie:  God kan vir jou ‘n rein hart skep en ‘n vaste gees gee (v.12).

 

Groot blydskap (v.10, 14)

Dawid was vreugdeloos (v.10, 14).  Die rede was heel eerste as gevolg van sy sonde.  Maar daar was ook ander oorsake wat uit sy sonde voortgespruit het:  bene wat gepyn het, ‘n swaar skuldlas, brandende swere, hartkloppings, koors, eensaamheid (sy familie en vriende het hom versaak), vyande en God wat nie sy gebede beantwoord het nie (v.10, Psalm 32, 38).  Moenie die les mis nie:  depressie (vreugdeloosheid soos in v.10, 14) is dikwels die gevolg van ons sonde en skuldgevoelens (sien ook Genesis 4:5-7).  In so ‘n geval is anti-depressante die verkeerde oplossing en bekering die regte een.  Indien jy jou bekeer sal God, die engele, ander gelowiges en jy self groot blydskap beleef (v.10, Lukas 15).  Toe jy afgedwaal het was daar ‘n tyd waarin jy onbereidgewillig en vreugdeloos gedien het – so asof dit ‘n swaar plig was.  Maar wanneer jy jou bekeer en God jou vergewe sal jy kerk toe wil gaan, die Bybel wil lees, wil bid – dit sal vir jou lekker wees.  Jy sal groot vreugde hê in die volmaakte Lam wie se bene nie gebreek was nie (vergelyk v.10 met Johannes 19:33, 36).

 

Herstelde gemeenskap (v.11, 13)

Omdat Saul ongehoorsaam was aan God (1 Samuel 15), het God hom verwerp as koning; Hy het die Gees se koninklike salwing van hom af weggeneem:  “Maar die Gees van die HERE het van Saul gewyk…” (1 Samuel 16:14).  Dawid het geweet wat met Saul gebeur het.  Net soos Saul was hý ongehoorsaam aan die Here.  Hy wou nie soos Saul verwerp word en die koninklike salwing van die Gees verloor nie:  “Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie.” (v.13).  Daarom vra hy dat God hom sal vergewe en wegkyk van sy sonde af:  “Verberg u aangesig vir my sondes en delg uit al my ongeregtighede.” (v.11).  Dit is omdat God sy gesig in oordeel weggedraai het van Jesus (vir ons sonde) dat Hy nou sy gesig van Dawid se sonde kon wegdraai (sien Matteus 27:46).

 

‘n Gelowige kan nie die Heilige Gees verloor nie, want enigiemand wat nie die Gees van Christus het nie behoort nie aan Hom nie (Romein 8:9).  Maar dit is moontlik dat ‘n gemeente of gelowige die Heilige Gees kan bedroef en sy seën verloor (v.13, Efesiërs 4:30).  Hoe kan ‘n kerk weet dat sy die Heilige Gees bedroef het; dat sy besig is om weg te dwaal?  Hier is ‘n paar aanduidings dat ‘n kerk besig is om weg te dwaal en die Heilige Gees te bedroef:

 

  • Die kerk word wêrelds.  In plaas daarvan dat die kerk die wêreld beïnvloed, beïnvloed die wêreld haar.
  • Sy ignoreer sonde.  Dissipline het heeltemal uit die kerk uit verdwyn.
  • Sy is biddeloos.  Die gereelde gebedstye het doodgeloop of word baie sleg bygewoon.
  • Mense versaak die gemeentelike samekomste.  Die opkomste by eredienste is kommerwekkend.
  • Mense is hiper-krities en sien alles raak wat verkeerd is.
  • Gemeentelede is nie meer verwonderd oor die kruis nie.  Die nagmaal is nie meer spesiaal nie.
  • Die suiwer prediking van die Woord beweeg jou nie meer nie.
  • Die kerk het geen hart vir verlore mense nie.  Sending en evangelisasie gebeur skaars.
  • Onbelangrike dinge vervang die belangrike.  Die Woord is nie meer sentraal nie.  By vergaderings word daar meer gepraat oor administrasie en die kleur van die matte as oor die verspreiding van die evangelie.
  • Mense soek preke wat hulle sal laat goed voel en is baie ontevrede met preke oor heiligmaking, selfverloëning, sonde, die oordeel, God se Persoon, ensovoorts.
  • Daar is geen teenkanting van die vyand nie.  Hy steur hom nie aan kerke wat geen bedreiging vir hom is nie.
  • Die kerk is lou.  Die Here se dinge word halfhartig gedoen.
  • Die mense het min liefde vir God, sy Woord, mekaar en hulle medemens.
  • Die kerk het geen invloed in die samelewing nie.
  • Verdeeldheid heers.

 

‘n Kerk wat in so ‘n posisie is sal voortgaan sonder om eers te weet dat die Gees haar verlaat het (soos Simson in Rigters 16:20 en Sardis in Openbaring 3:1-3).  Indien hierdie die beskrywing van jou of my gemeente is, is daar hoop as ons diep berou en bekering toon.  God kan so ‘n kerk vergewe, sodat die gemeenskap met Hom volkome herstel word.

 

Verreikende invloed (v.15)

Jesus het vir Petrus gesê:  “Maar Ek het vir jou gebid, dat jou geloof nie ophou nie; en as jy eendag bekeerd is, moet jy jou broeders versterk.” (Lukas 22:32).  Wat Petrus gedoen het was baie sleg.  Maar God het dit vir die goeie uitgewerk, sodat Petrus ander sondaars wat geval het kon ophelp.  Net so het God Dawid se sonde en herstel gebruik om vir hom en ons te help:  “Ek wil die oortreders u weë leer, dat die sondaars hulle tot U kan bekeer.” (v.15).  Hoeveel mense is nie al gehelp deur Dawid se lering in Psalm 51 nie?  Dawid het op die verkeerde pad beland en kon nou vir ander gelowiges waarsku om nie op dieselfde pad te wandel nie.  1 Korintiërs 10:11 geld ook vir Dawid se sonde:  “Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het.”  En alhoewel 2 Korintiërs 1:4 van beproewing praat, kan ons dit toepas op Dawid se sonde en ons eie:  “[God] wat ons troos in al ons verdrukking, sodat ons die wat in allerhande verdrukking is, kan troos deur die vertroosting waarmee ons self deur God getroos word.”  God sal stukkende en sondige mense oor jou pad stuur, sodat jy jou soortgelyke ondervinding en sonde met hulle kan deel; sodat jy vir hulle kan vertel hoe die Here jou swaar getug en wonderbaarlik herstel het.  Ons moet natuurlik nie daaruit aflei dat net dié wat dieselfde sonde as jy gedoen het jou dilemma kan verstaan nie.  Jesus het nooit enige van hierdie sondes gedoen nie, en Hy verstaan ons beter as enigiemand anders.

 

Spontane lofprysing (v.16-17)

Dawid vra dat God Hom sal red van bloedskuld (v.16, 2 Samuel 12:9).  Hy is skuldig aan moord en verdien, volgens die Ou Testamentiese wet, die doodstraf.  In die tyd van sy sonde was daar geen lof uit Dawid (die soete psalmis van Israel wat so dikwels die Here geloof het) se mond nie.  Dit is inderdaad moeilik om die Here te loof wanneer ons sondig.  En meer as dikwels is dit om híérdie rede wat mense vir lang tye wegbly van eredienste af:  hulle is besig met een of ander sonde en kan nie die Here loof nie.  As die Here jou vergewe dan sal hy ook jou lippe oopmaak, sodat jy Hom met vrymoedigheid kan loof (v.16-17).

 

Aanneemlike offers (v.18-21)

‘n Getroude vrou soek nie haar man se opofferings om vir haar te sorg, as hy met ‘n buite egtelike verhouding besig is nie.  En net so soek God nie jou offers as jy ‘n buite egtelike verhouding het met sonde nie; as jy jou nie bekeer het nie:  “Want U het geen lus in slagoffer nie, anders sou ek dit gee; in brandoffer het U geen behae nie.  Die offers van God is ‘n gebroke gees; ‘n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie!  Doen goed aan Sion na u welbehae; bou die mure van Jerusalem op.  Dan sal U ‘n welbehae hê in die offers van geregtigheid, in brandoffer en voloffer; dan sal hulle stiere offer op u altaar.” (v.18-21).  Jy kan nie God se guns wen of vergifnis koop deur jou ‘offers’ van vas, Bybellees, kerkbywoning, gebed, trane, tiendes, beloftes en luister van Christelike musiek nie.  Dit help nie dat jy vir ‘n tyd lank jou gunsteling sonde los nie.  As jy dít doen is jy net soos Israel:  “Elke keer as Hy hulle gedood het, het hulle na Hom gevra en teruggekom en God gesoek; en hulle het daaraan gedink dat God hul rots was en God, die Allerhoogste, hul verlosser.  En hulle het Hom met hul mond gevlei en Hom met hul tong belieg; maar hulle hart het nie aan Hom vasgehou nie, en hulle was nie trou in sy verbond nie.” (Psalm 78:34-37).  “Kom en laat ons terugkeer tot die HERE; want Hy het verskeur en sal ons genees, Hy het geslaan en sal ons verbind.  Hy sal ons ná twee dae lewend maak, op die derde dag ons laat opstaan, sodat ons voor sy aangesig kan lewe.  En laat ons ken—laat ons dit najaag om die HERE te ken; sy opgang is so seker soos die dagbreek, en Hy sal tot ons kom soos die reën, soos die laat reëns wat die aarde besproei.  Wat sal Ek met jou doen, o Efraim; wat sal Ek met jou doen, o Juda? aangesien julle liefde is soos ‘n môrewolk en soos ‘n dou wat vroeg weer verdwyn.” (Hosea 6:1-4).

 

Jesaja beskryf dit in baie duidelike terme:

 

“Roep uit die keel, hou nie terug nie, verhef jou stem soos ‘n basuin! En verkondig aan my volk hulle oortreding en aan die huis van Jakob hulle sondes.  Wel soek hulle My dag vir dag en het ‘n behae in die kennis van my weë!  Soos ‘n nasie wat geregtigheid doen en die reg van sy God nie verlaat nie, vra hulle My na die regverdige verordeninge; hulle het ‘n behae in die toenadering tot God.  Waarom vas ons, en U sien dit nie? Waarom kwel ons ons siel, en U weet dit nie? —Kyk, op die dag as julle vas, soek julle geleentheid om sake te doen, en julle jaag al jul arbeiders aan.  Kyk, om te twis en te kyf, vas julle, en om te slaan met misdadige vuis; julle vas nie nou om julle stem in die hoogte te laat hoor nie.  Is dít die vas wat Ek verkies, die dag as die mens sy siel gaan kwel: dat hy sy hoof buig soos ‘n biesie en sak en as uitsprei om sy bed te wees?  Noem jy dit vas en ‘n dag wat die HERE welgevallig is?  Is dít nie die vas wat Ek verkies nie: dat julle losmaak die bande van goddeloosheid, dat julle afhaal die stroppe van die juk en vry laat weggaan die verdruktes en elke juk stukkend breek?  Is dit nie dat jy jou brood breek vir hom wat honger het, en ellendiges, swerwelinge in die huis inbring nie?  As jy iemand sien wat naak is, dat jy hom klee, en jou vir jou eie vlees nie verberg nie?  Dan sal jou lig deurbreek soos die dageraad en jou genesing skielik uitspruit; en jou geregtigheid sal voor jou uit gaan, die heerlikheid van die HERE jou agterhoede wees.  Dan sal jy roep, en die HERE sal antwoord; jy sal skreeu om hulp, en Hy sal sê:  Hier is Ek!  As jy van jou verwyder die verdrukking, die uitsteek van die vinger en die leuenagtige woord, en jou siel laat uitgaan na die hongerige, en die neergeboë siel versadig; dan sal jou lig opgaan in die duisternis en jou donkerheid wees soos die middag.” (Jesaja 58:1-10).

 

God wil egte bekering hê.  Jy kan weet jou bekering is vals as dinge soos vas, kerkbywoning of trane jou einddoel word en nie ‘n middel tot ‘n doel nie (om die Here te verheerlik, beter te ken en te gehoorsaam).  Net so ervaar iemand wie se bekering nie blywend is nie, ‘n vals bekering.  Volgens Paulus kan ‘n mens ware en valse bekering só onderskei:  “Want die droefheid volgens die wil van God werk ‘n onberoulike bekering tot redding, maar die droefheid van die wêreld werk die dood.  Want kyk, juis dit, dat julle bedroef geword het volgens die wil van God—wat ‘n groot ywer het dit in julle gewerk, ja, verantwoording, verontwaardiging, vrees, verlange, ywer, bestraffing. In alles het julle bewys dat julle in die saak rein is.” (2 Korintiërs 7:10-11).  ‘n Persoon wat net jammer is omdat hy uitgevang is, of omdat die sonde hom laat sleg voel, het nie ‘n ware bekering ondergaan nie.  Die persoon wat jammer is oor sy sonde, vrees om weer op die verkeerde pad te loop, ‘n verlange het na herstelde gemeenskap met Christus, ywerig is vir sy saak, homself bestraf, verontwaardig is oor sy lelike sonde en meer verantwoordelik raak – dié persoon het hom waarlik bekeer.

 

Dít is die gebroke hart wat die Here wil hê (v.18-19) voordat Hy ons offers sal aanneem (v.20-21).  Die Skrif sê elders:  “Het die HERE behae in brandoffers en slagoffers soos in gehoorsaamheid aan die stem van die HERE?  Kyk, om gehoorsaam te wees is beter as slagoffer, om te luister beter as die vet van ramme.” (1 Samuel 15:22).  “Want Ek het ‘n behae in liefde en nie in offerande nie, en in kennis van God meer as in brandoffers.” (Hosea 6:6).  “Want so sê die Hoë en Verhewene wat in die ewigheid woon, Heilig is sy Naam:  Ek woon in die hoogte en in die heilige plek en by die verbryselde en nederige van gees, om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes.” (Jesaja 57:15).  Die rede hoekom Jesus se offer aanneemlik was, is juis omdat Hy éérs gehoorsaam, nederig en onderdanig was.  ‘n Messianse Psalm sê:  “U het geen behae in slagoffer of spysoffer nie; ore het U vir my gegrawe [oop ore om gehoorsaam te wees]; brandoffer en sondoffer het U nie geëis nie.” (Psalm 40:7).  Jou hoop moet wees in Jesus Christus en sy kruisdood.  Dán sal God jóú offer sal aanneem.  Dit is immers by die kruis waar ‘n gebroke hart en bekering sy ontstaan het.