Die beste gedagtes by ‘n begrafnis

Coffin in grave

1 ‘n Gebed van Moses, die man van God.  Here, U was vir ons ‘n toevlug van geslag tot geslag. 2 Voordat die berge gebore was en U die aarde en die wêreld voortgebring het, ja, van ewigheid tot ewigheid is U God. 3 U laat die mens terugkeer tot stof en sê:  Keer terug, o mensekinders! 4 Want duisend jaar is in u oë soos die dag van gister as dit verbyskiet, en soos ‘n nagwaak. 5 Weggespoel het U hulle; hulle word ‘n slaap; in die môre is hulle soos die gras wat weer uitspruit: 6 in die môre bloei dit en spruit weer uit; in die aand sny ‘n mens dit af, en dit verdor. 7 Want ons vergaan deur u toorn, en deur u grimmigheid word ons verskrik. 8 U stel ons ongeregtighede voor U, ons verborge sondes in die lig van u aangesig. 9 Want al ons dae gaan verby deur u grimmigheid, ons bring ons jare deur soos ‘n gedagte. 10 Die dae van ons jare—daarin is sewentig jaar, of as ons baie sterk is, tagtig jaar; en die uitnemendste daarvan is moeite en verdriet; want gou gaan dit verby, en ons vlieg daarheen. 11 Wie ken die sterkte van u toorn en u grimmigheid, ooreenkomstig die vrees wat aan U verskuldig is? 12 Leer ons om ons dae so te tel dat ons ‘n wyse hart mag bekom! 13 Keer terug, HERE! Tot hoe lank? En ontferm U oor u knegte. 14 Versadig ons in die môre met u goedertierenheid, sodat ons kan jubel en bly wees in al ons dae. 15 Maak ons bly na die dae waarin U ons verdruk het, na die jare waarin ons onheil gesien het. 16 Laat u werk vir u knegte sigbaar word en u heerlikheid oor hulle kinders. 17 En laat die lieflikheid van die HERE onse God oor ons wees, en bevestig die werk van ons hande oor ons, ja, die werk van ons hande, bevestig dit!” (Psalm 90).

 

In die Five & Two Pictures film, The Secrets of Jonathan Sperry, vat die ou man drie 12-jarige seuns na die begraafplaas toe.  Daar praat hy op so ‘n manier met hulle oor die dood, dat hulle koue rillings kry.  Hy leer vir hulle lesse oor die nietigheid van die lewe en die belangrikheid van voorbereiding vir die ewigheid.  In hierdie Psalm doen Moses (v.1) dieselfde.  Hy het waarskynlik die Psalm geskryf nadat ‘n hele geslag in die woestyn gesterf het (sien Numeri 14, Deuteronomium 2:14-16).  Hier is die gedagtes wat hy by hulle dood gedink het.  Jy sal goed doen om dieselfde by elke begrafnis te doen.

 

God beskut ons (v.1-2)

Wanneer ‘n film sê:  ’Twintig jaar later,’ verloop daar geen tyd vir die kyker nie.  Natuurlik het my illustrasie tekortkominge, maar in ‘n sekere sin is dit so met God:  Hy is nie in ons tyd ‘vasgevang’ nie, maar het voor die aarde en berge bestaan.  Hy is buite tyd en ewig in sy wese.  Hy is onsterflik en sal vir ewig lewe.  Daarom bid Moses:  “Voordat die berge gebore was en U die aarde en die wêreld voortgebring het, ja, van ewigheid tot ewigheid is U God.” (v.2).  Moses het waarskynlik gedink oor wat hy in Genesis 1:1 geskryf het:  “In die begin het God die hemel en die aarde geskape.”  As God in die begin reeds daar was, is dit duidelik dat Hy voor en buite tyd is.  Ander teksverse sê:  “In die voortyd het U die aarde gegrondves, en die hemele is die werk van u hande.  Húlle sal vergaan, maar U sal bly; ja, hulle almal sal soos ‘n kleed verslyt; U verwissel hulle soos ‘n kledingstuk, en hulle verdwyn.  Maar U bly dieselfde, en u jare het geen einde nie.” (102:26-28).  “Kyk, God is groot en onbegryplik vir ons; die getal van sy jare is onnaspeurlik.” (Job 36:26).

 

“Here, U was vir ons ‘n toevlug van geslag tot geslag.” (v.1).  Die volgende Psalm sê:  “Hy wat in die skuilplek van die Allerhoogste sit, sal vernag in die skaduwee van die Almagtige…Want U, HERE, is my toevlug.  Die Allerhoogste het jy jou beskutting gemaak.” (91:1, 9).  En in Deuteronomium 33:27 sê Moses:  “Die ewige God is ‘n woning, en onder—ewige arms…”  Omdat hierdie ewige God die toevlug is wat ons beskut, hoef jy nie te vrees wat met jou kinders sal gebeur wanneer jy weg is nie.  God is vir ons ‘n toevlug in Christus (Johannes 15:4); Hy sal ons beskerm van geslag tot geslag (v.1).  Die Skrif sê:  “Die Naam van die HERE is ‘n sterk toring; die regverdige hardloop daarin en word beskut.” (Spreuke 18:10).

 

God oordeel ons (v.3-11)

Jy het seker al in programme gesien hoe party mummies so oud is, dat dele daarvan in ‘n stowwerige poeier verdwyn wanneer ‘n mens daaraan vat.  En dit is hoe God Adam en sy nageslag vir sonde oordeel:  “U laat die mens terugkeer tot stof en sê:  Keer terug, o mensekinders!” (v.3).  Ongetwyfeld was Genesis 3:19 in Moses se gedagtes:  “In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem.  Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.”  In die geslagte wat ná Adam gevolg het, het mense byna ‘n duisend jaar oud geword (sien Genesis 5).  Vir ons en vir Moses se geslag is ‘n duisend jaar baie lank (v.10 praat van die mens se dae as 70 of 80 jaar), maar vir God is dit soos ‘n nagwaak van drie-ure (cf. Markus 13:35) of soos gister wat verby is (v.4).  Saam met Dawid kan ons sê:  “HERE, maak my einde aan my bekend en wat die maat van my dae is; laat my weet hoe verganklik ek is.” (39:5).

 

Net soos wat ‘n vloed alles platvee doen God met ons lewens:  “Weggespoel het U hulle…” (v.5).  Ek sou nie verbaas wees as Genesis 6-8 (Noag se vloed) in Moses se gedagtes was nie.  Ons lewe is soos ‘n vae droom; soos gras in die woestyn wat groen spruit in die môre en in die aand verdor (v.5-6).  ‘n Ander Psalm sê:  “Die mens—soos die gras is sy dae; soos ‘n blom van die veld, so bloei hy.  As die wind daaroor gaan, is dit nie meer nie en sy plek ken hom nie meer nie.” (103:15-16).  As jou lewe soos gras is, is dit dwaas om te dink jy is beter as ander mense, want wat is jy nou eintlik.  En as jou lewe soos gras is, is jy dom (ja, ek het dit ‘n preek gesê) om te lewe vir nóg geld en méér besittings.  Jakobus 1:11 sê:  “Want die son gaan op met sy hitte en laat die gras verdor, en sy blom val af, en die sierlikheid van sy gedaante vergaan; so sal die ryke ook in sy weë verwelk.”  Dit is ewe dom vir ‘n Christen om oor sy basiese behoeftes te bekommer.  God gee om vir gras wat in die oggend uitspruit en vanaand verlep.  Sal Hy dan nie vir sy kinders sorg nie (Matteus 6:30)?  ‘n Laaste woord van toepassing op hierdie punt:  as jy deur geloof met Jesus verenig is, sal jou lewe nie soos gras verdor nie – jy sal vir ewig lewe (Johannes 11:25-26).

 

Hoekom bring God hierdie oordeel van die dood oor ons?  Wel, ek het eintlik reeds die antwoord gegee.  Die dood is God se toornige oordeel as gevolg van ons en Adam se sonde.  Moses onthou goed wat hy in Genesis 2:16-17 geskryf het:  “En die HERE God het aan die mens bevel gegee en gesê:  Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.”  Die Nuwe Testament sê:  “Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het…Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here.” (Romeine 5:12, 6:23).  Met hierdie waarhede in gedagte skryf Moses nou:

 

“Want ons vergaan deur u toorn, en deur u grimmigheid word ons verskrik.  U stel ons ongeregtighede voor U, ons verborge sondes in die lig van u aangesig.  Want al ons dae gaan verby deur u grimmigheid, ons bring ons jare deur soos ‘n gedagte.  Die dae van ons jare—daarin is sewentig jaar, of as ons baie sterk is, tagtig jaar; en die uitnemendste daarvan is moeite en verdriet; want gou gaan dit verby, en ons vlieg daarheen.  Wie ken die sterkte van u toorn en u grimmigheid, ooreenkomstig die vrees wat aan U verskuldig is?” (v.7-11).

 

Ons kort lewe van 70 of 80 jaar vlieg verby (v.10).  Dit is vol moeite en verdriet.  In Augustinus se woorde:  “Life begins with a cry and ends with a groan.”  Wanneer Moses praat van ons jare vol moeite en verdriet (v.9-10) onthou hy sekerlik wat hy in Genesis 3:17-18 geskryf het:  “En aan die mens het Hy gesê:  Omdat jy geluister het na die stem van jou vrou en van die boom geëet het waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie—vervloek is die aarde om jou ontwil; met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe.  Ook sal dit vir jou dorings en distels voortbring; en jy sal die plante van die veld eet.”  In ‘n preek vir kinders het J.C. Ryle gesê:  “There is a place where there is lots of crying – the world.  There is a place where there is only crying – hell.  There is a place where there is no crying – heaven.”

 

Wanneer jy langs ‘n doodskis of oop graf staan, wil God hê jy moet daaraan dink dat die dood ‘n vloek is.  Laat sulke gedagtes jou dryf om jou te bekeer en God te vrees:  “Wie ken die sterkte van u toorn en u grimmigheid, ooreenkomstig die vrees wat aan U verskuldig is?” (v.11).  Vir die persoon wat in Jesus glo is die dood nie meer ‘n vloek nie, maar net ‘n oorgang van hierdie lewe na die volgende (Filippense 1:21, 23).  Indien jy jou nie bekeer nie, sal God jou straf in ooreenstemming met die verskuldigde eerbied wat jy van Hom af teruggehou het (v.11).

 

God herstel ons (v.12-17)

In ‘n preek het John Piper gesê dat hy by elke begrafnis dink dat hy, sy vrou of sy kind in die kis lê.  As jy dieselfde doen sal jy wys word.  Dit sal jou leer om sonde te vermy en die min dae wat jy op aarde het, goed te benut:  “Leer ons om ons dae so te tel dat ons ‘n wyse hart mag bekom!” (v.12, cf. Efesiërs 5:16).  Elke besoek by die graf laat ons bid en verlang na die plek waar daar geen dood meer sal wees nie:  “Keer terug, HERE! Tot hoe lank?  En ontferm U oor u knegte.” (v.13).  “Waar is die wederkoms?,” vra iemand spottenderwys.  Moenie spot nie.  God vertraag die wederkoms vir mense soos jy.  Hy is geduldig en wil hê dat jy jou moet bekeer:  “Maar laat hierdie een ding julle nie ontgaan nie, geliefdes, dat een dag by die Here soos duisend jaar is en duisend jaar soos een dag.  Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.” (2 Petrus 3:8-9).

 

Jy hoef nie te wag vir die hemel om vervulling te beleef en blydskap te hê nie.  Deur sy liefde kan jy dit nou reeds hê:  “Versadig ons in die môre met u goedertierenheid, sodat ons kan jubel en bly wees in al ons dae.” (v.14).  Op grond van hierdie vers moet jy bid dat jou kinders Jesus op ‘n vroeë ouderdom – die môre [van hulle lewens] – sal leer ken.  Jy en húlle sal bly wees en baie onnodige trane spaar (v.14).  En selfs vir die moeite en trane wat daar vir die gelowige is, sal God jou vir ewig in die hemel met blydskap terugbetaal:  “Maak ons bly na [volgens] die dae waarin U ons verdruk het, na [volgens] die jare waarin ons onheil gesien het.” (v.15).  Hiér kan ons Joël se beeld toepas:  “En Ek sal julle vergoed die jare wat die treksprinkaan, die voetganger, die kaalvreter en die afknyper verslind het—my groot leërmag wat Ek teen julle gestuur het.” (Joël 2:25).  Die swaarkry wat jy op aarde beleef weeg nie op teen die heerlikheid wat kom nie.  Daarom sê Paulus:  “Want ons ligte verdrukking wat vir ‘n oomblik is, bewerk vir ons ‘n alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid.” (2 Korintiërs 4:17).

 

Aanskou die heerlike en kragtige wonders van die Jesus wat nie stof geword het in die graf nie, maar die dood oorwin het (sien 16:10).  Deur Hom sal selfs dié wat stof geword het (v.3), sy kragtige werk ervaar wanneer Hy ons liggame opwek uit die stof:  “Laat u werk vir u knegte sigbaar word en u heerlikheid oor hulle kinders…En baie van die wat in die stof van die aarde slaap, sal ontwaak, sommige tot die ewige lewe en sommige tot groot smaadheid, vir ewig afgryslik.” (v.16, Daniël 12:2).  Hierdie God is “ónse God” (v.17).  Sy guns, en nie sy toorn nie, is nou oor hulle wat in Jesus glo.  Daarom is ons werk selfs in ‘n gevalle wêreld nie meer moeite en verdriet nie, maar tot die verheerliking van Hom wat die werk van ons hande oor ons vestig:  “En laat die lieflikheid van die HERE onse God oor ons wees, en bevestig die werk van ons hande oor ons, ja, die werk van ons hande, bevestig dit!” (v.17).  In Paulus se woorde:  “Daarom, my geliefde broeders, wees standvastig, onbeweeglik, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle arbeid in die Here nie tevergeefs is nie.” (1 Korintiërs 15:58).

 

O God, our help in ages past,

our hope for years to come,

our shelter from the stormy blast,

and our eternal home.

 

Under the shadow of thy throne,

thy saints have dwelt secure;

sufficient is thine arm alone,

and our defense is sure.

 

Before the hills in order stood,

or earth received her frame,

from everlasting, Thou art God,

to endless years the same.

 

A thousand ages, in thy sight,

are like an evening gone;

short as the watch that ends the night,

before the rising sun.

 

Time, like an ever rolling stream,

bears all who breathe away;

they fly forgotten, as a dream

dies at the opening day.

 

O God, our help in ages past,

our hope for years to come;

be Thou our guide while life shall last,

and our eternal home.

–Isaac Watts (1674-1748)