Iets wat Suid-Afrikaanse Christene vergeet het

Forgetful man

Daar is baie dinge in ons land wat ‘n mens negatief kan maak:  belasting, petrolpryse, die koerant, die regering, misdaad, Zimbabwe, skole, immoraliteit, dwelms, en nog meer.  En dan is dit maklik om te kla; soveel so, dat ons vergeet om dankbaar te wees en die Here te loof.  Dit is baie maklik om te kla oor die petrolpryse, maar om nie dankbaar te wees dat ons vervoer het nie.  Ons kan maklik kla oor munisipale werkers wat nie die vullissakke verwyder nie, maar ons vergeet om te dank vir dit wat ín die swartsakke is (die lemoenskille, teesakkies, en ander rommel wat bewys dat ons kos gehad het om te eet).  Hoe gereeld dank jy die Here vir jou verlossing en vir al die gawes wat daarmee saam kom?  Moenie deur die wêreld ingesuig word, sodat jy vergeet om die Here te loof nie.  Volg eerder Dawid se voorbeeld.

1 ‘n Psalm van Dawid.  Loof die HERE, o my siel, en alles wat binne-in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die HERE, o my siel, en vergeet geeneen van sy weldade nie! 3 Wat al jou ongeregtigheid vergewe, wat al jou krankhede genees, 4 wat jou lewe verlos van die verderf, wat jou kroon met goedertierenheid en barmhartighede, 5 wat jou siel versadig met die goeie, sodat jou jeug weer nuut word soos dié van ‘n arend. 6 Die HERE doen geregtigheid en reg aan almal wat verdruk word. 7 Hy het aan Moses sy weë bekend gemaak, aan die kinders van Israel sy dade. 8 Barmhartig en genadig is die HERE, lankmoedig en groot van goedertierenheid. 9 Hy sal nie vir altyd twis en nie vir ewig die toorn behou nie. 10 Hy handel met ons nie na ons sondes en vergeld ons nie na ons ongeregtighede nie. 11 Want so hoog as die hemel is bo die aarde, so geweldig is sy goedertierenheid oor die wat Hom vrees. 12 So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons. 13 Soos ‘n vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die HERE Hom oor die wat Hom vrees. 14 Want Hy, Hy weet watter maaksel ons is, gedagtig dat ons stof is. 15 Die mens—soos die gras is sy dae; soos ‘n blom van die veld, so bloei hy. 16 As die wind daaroor gaan, is dit nie meer nie en sy plek ken hom nie meer nie. 17 Maar die goedertierenheid van die HERE is van ewigheid tot ewigheid oor die wat Hom vrees, en sy geregtigheid vir kindskinders, 18 vir die wat sy verbond hou en aan sy bevele dink om dié te doen. 19 Die HERE het sy troon in die hemel gevestig, en sy koninkryk heers oor alles. 20 Loof die HERE, sy engele, kragtige helde wat sy woord volbring, in gehoorsaamheid aan die stem van sy woord! 21 Loof die HERE, al sy leërskare, sy dienaars wat sy welbehae doen! 22 Loof die HERE, al sy werke, op al die plekke van sy heerskappy! Loof die HERE, o my siel!” (Psalm 103).

Loof die Here, O my siel (v.1-5)

Wanneer dit sleg gaan kyk sommige gelowiges in hulle probleme vas, en vergeet van die Here.  Dit is nog makliker om van Hom te vergeet wanneer dinge voorspoedig gaan.  Voordat die Israeliete in die Beloofde Land ingekom het, het die Here gesê:  “En as die HERE jou God jou inbring in die land wat Hy aan jou vaders, Abraham, Isak en Jakob, met ‘n eed beloof het om jou te gee—groot en mooi stede wat jy nie gebou het nie, en huise vol van allerhande goed wat jy nie gevul het nie, en uitgekapte reënbakke wat jy nie uitgekap, wingerde en olyfbome wat jy nie geplant het nie—en jy eet en versadig word, neem jou dan in ag dat jy die HERE nie vergeet wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het nie.” (Deuteronomium 6:10-12).  Koning Hiskia het in hierdie strik getrap.  Hy het dodelik siek geword en gevra dat die Here hom moet genees.  Die Here het sy gebed beantwoord, maar hy het hoogmoedig geword en vergeet om die Here te dank (sien 2 Kronieke 32:24-25).  Dawid het geweet dat ons maklik die Here se weldade vergeet.  Daarom wil hy die Here en sy heilige Naam met alles in hom loof:  “Loof die HERE, o my siel, en alles wat binne-in my is, sy heilige Naam!  Loof die HERE, o my siel, en vergeet geeneen van sy weldade nie!” (v.1-2).  Hy sou ‘Amen!’ gesê het op die ou Halleluja-lied:  ‘Tel jou seëninge, tel hul een vir een, en jy sal verbaas wees oor wat God verleen’ (Lied 245).

Dawid onthou vyf spesieke weldade van die Here aan hom:

  • Die Here het al sy sonde vergewe (v.3a).  Leer by hom om nie net jou sonde te bely nie, maar om die Here te dank dat Hy al jou sonde vergewe in Christus (sien 1 Johannes 1:7, 9).
  • Die Here het al sy siektes genees (v.3b).  Miskien sê jy hierdie vers is eenvoudig nie waar nie.  Onthou dat Dawid hier met homself praat en sê:  “Loof die Here o my siel…wat al jou siektes genees.”  Dawid praat nie vir almal nie, en sê ook nie dat die Here ons altyd gesond maak nie.  Onthou tog dat selfs wanneer Christene doodgaan, dit ook genesing is, want in die hemel sal ons geen meer siekte ken nie (Openbaring 21:4).
  • Die Here het hom gered van die dood en die hel (v.4a).  Die Here red ons soms van noue ontkomings met die dood.  Maar deur sy opstanding red Hy ons finaal van die dood.  Wanneer Hy weer kom sal Hy ons liggame opwek uit die graf.
  • Die Here het hom met goedertierenheid en barmhartighede gekroon (v.4b).  Hierdie gawes is ook ons s’n en word veral sigbaar in Jesus se kruisdood (v.4b).
  • Die Here het sy maag en sy siel versadig, sodat hy sterk geword het soos ‘n arend (v.5).  Hierdie vers gee veral hoop aan dié wat fisies en geestelik uitgeput voel, en nuwe krag nodig het.  “Jesaja sê:  Hy gee die vermoeide krag en vermenigvuldig sterkte vir die wat geen kragte het nie.  Die jonges word moeg en mat, en die jongmanne struikel selfs; maar die wat op die HERE wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.” (Jesaja 40:29-31).

Wees soos Dawid en onthou God se goedheid aan jou.  Om beter te onthou kan jy ‘n joernaal hou van die dinge wat die Here in jou lewe gedoen het.  Jy kan teenoor ander getuig van ‘n spesifieke werk wat die Here in jou lewe gedoen het.  Jy kan die Here daagliks dank vir sy verlossing, guns, hulp en voorsiening.  Jy kan saam met ander gelowiges bid en die Here dank.  Jy kan lofliede sing (alleen en saam met ander).  Wanneer jy die nagmaal gebruik kan jy Hom dank vir al die kosbare waarhede van die evangelie.  Kan jy dink aan nóg spesifieke weldade van Here aan jou?

Loof die Here, al sy mense (v.6-18)

Ons het meer as genoeg rede om die Here te dank (sien veral Efesiërs 1:3-14 vir die seën oor hulle wat in Christus is).  Daar is ten minste nege in hierdie verse.

[1] God red dié wat verdruk word:  “Die HERE doen geregtigheid en reg aan almal wat verdruk word.” (v.6).  Onthou maar hoe die Here vir Israel uit Egipte gered het toe hulle as slawe verdruk was (sien Eksodus 2:21-23), en hoe die Here ‘n groot liefde het vir weduwees, weeskinders, vreemdelinge, en armes:  “Jy mag ook die vreemdeling nie kwel of hom verdruk nie, want julle was vreemdelinge in Egipteland.  Julle mag geen weduwee of wees verdruk nie.  As jy hulle op enige manier verdruk, waarlik, dan sal Ek, as hulle na My roep, hulle geroep sekerlik hoor.  En my toorn sal ontvlam, en Ek sal julle met die swaard ombring, sodat julle vroue weduwees en julle kinders wese word.” (Eksodus 21:21-24).

[2] God kon ons in ons sondes gelos het.  Maar Hy het nie.  Hy het die wet gegee deur Moses, en so het Hy Homself en sy liefde geopenbaar.  Hy het sy wonderdade aan Israel gewys in Egipte, by die Rooisee, en in die woestyn (lees gerus Eksodus as jy nie die storie ken nie).  Dawid sê:  “Hy het aan Moses sy weë bekend gemaak, aan die kinders van Israel sy dade.  Barmhartig en genadig is die HERE, lankmoedig en groot van goedertierenheid.” (v.7-8, cf. Eksodus 34:6).

[3] God is nie vir ewig toornig nie en bewys gou genade.  Thomas Watson het gesê dit is soos ‘n heuningby:  Die by maak van nature heuning en steek net as dit moet; God is van nature barmhartig en word net toornig wanneer dit nodig is.  Daarom dat een prediker gesê het:  “God’s wrath is not an attribute, but an expression of his justice.”  God se karakter is dus nie een van toorn nie.  Maar sy barmhartigheid is deel van sy karakter.  God se toorn is heeltemal uitgegiet op Christus toe Hy die straf vir ons sonde op Homself geneem het aan die kruis.  Daarom is daar geen meer finale toorn en oordeel oor dié wat deur geloof met Christus verenig is nie (Romeine 5:1, 8:1).  Geen wonder daar is ‘n v.9 in hierdie Psalm nie:  “Hy sal nie vir altyd twis en nie vir ewig die toorn behou nie.”

[4] God handel nie met ons volgens wat ons sonde verdien nie:  “Hy handel met ons nie na ons sondes en vergeld ons nie na ons ongeregtighede nie.” (v.10).  God het klaar met ons sonde afgereken aan die kruis.  God is nooit onregverdig nie.  Maar partykeer is Hy nie-regverdig.  Met ander woorde, partykeer gee Hy nie die straf wat ons verdien nie.  Ons kan nooit sê dat God onregverdig is om sommige te red en ander nie; om party mense uit te kies en ander nie (soos Romeine 9 leer).  As God sy geregtigheid oor ons moet uitoefen sal almal hel toe gaan, want dit is wat ons verdien.  “As U, HERE, die ongeregtighede in gedagtenis hou, Here, wie sal bestaan?  Maar by U is vergewing, dat U gevrees mag word.” (Psalm 130:4-5).  Loof die Here vir sy barmhartigheid en genade.

[5] God se liefde is onmeetbaar vir dié wat Hom vrees, en gevolglik wegdraai van hulle sonde en op Hom vertrou (natuurlik het Hy ook liefde vir die goddelose, maar sy liefde vir sy kinders is spesiaal):  “Want so hoog as die hemel is bo die aarde, so geweldig is sy goedertierenheid oor die wat Hom vrees.”  (v.11).  Paulus praat van die onmeetbare hoogte, lengte, breedte, en diepte van Christus se liefde (Efesiërs 3:18).

[6] God neem ons sonde weg voor Hom en van ons af – so ver soos die ooste van die weste af is (onthou dat oos en wes nooit ontmoet soos noord en suid nie):  “So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons.” (v.12).  Ander tekste sê:  “Hy sal Hom weer oor ons ontferm, ons ongeregtighede vertree; ja, U sal al hulle sondes in die dieptes van die see werp.” (Miga 7:19).  “…Maar nou het Hy een maal in die voleinding van die eeue verskyn om die sonde deur sy offer weg te doen.” (Hebreërs 9:26).  “en aan hulle sondes en hulle ongeregtighede sal Ek nooit meer dink nie.” (Hebreërs 10:17).  Omdat God ons sondes so ver van ons verwyder het deur die kruis, sal Hy nooit sy besluit van vergifnis herroep nie.  Dank Hom volgende keer as jy die nagmaal gebruik.

[7] God ontferm Hom oor ons soos ‘n vader hom ontferm oor sy kinders (v.13, cf. Galasiërs 4:6).  God weet dat ons swak en klein is, dat ons nie vir onsself kan voorsien of onsself kan beskerm nie.  Hy weet ons is hulpeloos.  Hy sien ons swakheid in die feit dat ons so maklik honger word, emosioneel is, uitgeput raak, siek voel, en pyn ervaar.  Al hierdie dinge onderstreep die feit dat ons van stof gemaak is en sterflik is soos gras in die woestynson:  ‘n paar dekades nadat jy gesterf het, vergeet die wêreld jy’t bestaan.  “Want Hy, Hy weet watter maaksel ons is, gedagtig dat ons stof is.  Die mens—soos die gras is sy dae; soos ‘n blom van die veld, so bloei hy.  As die wind daaroor gaan, is dit nie meer nie en sy plek ken hom nie meer nie.” (v.14-16, cf. Genesis 2:7, 3:19).  Jesus het self ‘n mens geword en verstaan uit ondervinding ons liggaamlike en emosionele swakheid (sien Hebreërs 4:15).  Daarom kan jy nooit sê Hy verstaan nie.  Jesus het Hom ontferm oor mense wat rigtingloos, honger en moeg, siek, hartseer, en verlore was (sien Matteus 9:36, 14:14, 15:32, Lukas 7:13, 15:20).  Jesus dryf nie sy skape hard nie, maar ontferm Hom oor hulle:  “Hy sal sy kudde laat wei soos ‘n herder; Hy sal die lammers in sy arm vergader en aan sy bors dra; die lammerooie sal Hy saggies lei.” (Jesaja 40:11).  Omdat Jesus die Vader kom openbaar het (Johannes 1:18, 14:9), moet ons nie die Vader as ‘n tirran beskou nie.  Hy is vol ontferming (v.13-14).

[8] God se liefde is nie stoflik en sterflik soos ons nie – dis ewig:  “Maar die goedertierenheid van die HERE is van ewigheid tot ewigheid oor die wat Hom vrees” (v.17).  Hy het ons van ewigheid af lief en sal ons vir ewig liefhê:  “Ja, Ek het jou liefgehad met ‘n ewige liefde; daarom het Ek jou getrek met goedertierenheid.” (Jeremia 31:3).  God se ewige liefde aan ons word bewys in die feit dat Hy ons uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld; dat Hy vir ewig sy liefde aan ons gaan betoon in die hemel (sien Efesiërs 1:4-5, 2:7).

[9] God gee groot seën vir ons nageslag wat sy gebooie en verbond hou:  “Maar die goedertierenheid van die HERE is van ewigheid tot ewigheid oor die wat Hom vrees, en sy geregtigheid vir kindskinders, vir die wat sy verbond hou en aan sy bevele dink om dié te doen.” (v.17-18).  Deel van hierdie seën word gesien in die feit dat ons kinders grootword in huise waar die evangelie geleer word, waar ouers vir hulle bid, waar hulle deel kan wees van ‘n gesonde kerklewe, en waar God hulle bewaar.  Sulke kinders word deur die Here afgesonder om hierdie voorregte te geniet (cf. 1 Korintiërs 7:14).  God bewys inderdaad sy goedheid aan ons kinders tot in die duisendste geslag (Eksodus 20:6).

Loof die Here, alle skepsels (v.19-22)

Toe Jesus gebore is, het die engele Hom aanbid (Lukas 2:9-14).  Hulle het Hom gedien nadat Hy gevas het (Matteus 4:11).  In Getsemane het ‘n engel Hom bedien (Lukas 22:43).  By sy opstanding was hulle daar (Lukas 24:4).  Ook by sy hemelvaart (Handelinge 1:10).  Nou aanbid hulle Hom (Hebreërs 1:6), en wanneer Hy weer kom sal hulle Hom vergesel (Matteus 25:31).  Daar is ‘n weermag van miljoene engele (Daniël 7:10) wat Hom as die soewereine God; as die Koning van die konings aanbid en gehoorsaam:  “Die HERE het sy troon in die hemel gevestig, en sy koninkryk heers oor alles.  Loof die HERE, sy engele, kragtige helde wat sy woord volbring, in gehoorsaamheid aan die stem van sy woord!  Loof die HERE, al sy leërskare, sy dienaars wat sy welbehae doen!” (v.19-21).  Daniël 4:17 bevestig dat “die Allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens en dit gee aan wie Hy wil”.

Maar dit is nie net mense en engele wat Hom aanbid nie.  Die hele skepping doen dit:  “Loof die HERE, al sy werke, op al die plekke van sy heerskappy!” (v.22).  “En elke skepsel wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde en wat op die see is, en alles wat in hulle is, het ek hoor sê:  Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam kom toe die lof en die eer en die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid!” (Openbaring 5:13, sien ook Psalm 148).  Die heidene glo daar is ‘n god van die land, ‘n god van die see, ‘n god van die reën, ensovoorts.  Ons glo dat God oor alles heers (v.22).  Voeg, saam met Dawid, jou stem by dié van die engele en die hele skepping:  “Loof die HERE, o my siel!” (v.22).  So klink my eie beryming van die Psalm (op die wysie van Psalm 18 – ‘Ek het U hartlik lief, O Heer’):

 

Come bless the Lord with all thy frame

Bow down to bless his holy Name.

Forget not all his gifts to thee:

who saves thee from iniquity;

who heals thy body, makes thee whole;

who gives thee life, redeems thy soul;

who crowns with mercy sure thy light;

who satisfies, renews thy might.

 

The Lord is righteous, patient, kind;

With Him forgiveness we may find.

Our Father knows that we are dust,

and shows compassion deep to us.

Our days like grass do not endure,

but God’s eternal love is sure

to all who fear and keep his way,

to generations who obey.

 

The throne of God is in the sky.

He sits as King and rules on high.

Let all his creatures bless his Name,

obey his Word, and spread his fame.

Now let thy ransomed soul delight

in Christ the Lord who gave thee life,

who bought with blood and set thee free.

Bless thy great God with all in thee.